Die Augustus Dekrete

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 02 June 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans
August Decrees (by Charles Monnet, Public Domain)
Die Augustus Dekrete
Charles Monnet (Public Domain)

Die dekrete van 4 Augustus 1789 – ook bekend as die “Augustus Dekrete” – was ’n stel van 19 artikels wat tydens die Franse Revolusie (1789-1799) deur die Nasionale Wetgewende Vergadering goedgekeur is en wat feodalisme in Frankryk afgeskaf en die hoërklasse se voorreg op belastingvrystelling beëindig het. Alhoewel hierdie dekrete nouliks foutloos was, was die goedkeuring daarvan ’n beduidende prestasie van die Revolusie.

Die Nasionale Vergadering, wat tydens die Algemene Landgoed van 1789 uit die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk gevorm is, het daarna gestreef om hulle toewyding tot die volk te bewys, en die prestasies van die revolusie te veranker. In die vuur van patriotisme het adellike afgevaardigdes afstand van hulle voorregte gedoen, met ander wat so ver gegaan het as om aan te dring op die afskaffing van tiendes, sowel as op ’n nuwe regstelsel waar alle burgers gelyk voor die reg sal wees.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Alhoewel baie van die artikels nie onmiddellik in werking getree het nie, het die dekrete in hulle geheel ’n enorme impak op die vernietiging van Frankryk se onderdrukkende Ancien Régime gehad, en die weg gebaan vir toekomstige ontwikkelings in gelykheid en menseregte.

Inleiding: die skemeruur van feodalisme

Die Franse geskiedkundige François Furet (107) som die betekenis van die aand van Dinsdag 4 Augustus 1789 soos volg op:

Verwyder Advertensies

Advertisement

[Die datum] dui die oomblik aan toe ’n sosiale en regsorde, oor eeue heen gesmee, bestaande uit ’n hiërargie van afsonderlike ordes, korpse en gemeenskappe, en deur voorregte gedefinieer, op een of ander wyse verdamp het, en in die plek daarvan ’n sosiale wêreld gelaat het wat op ’n nuwe wyse as ’n versameling vry en gelyke individue onderworpe aan die universele gesag van die reg, bedink is. Trouens, die debat van 4 Augustus 1789, wat die aand gehou is, is geassosieer met ’n baie kragtige gevoel onder al die afgevaardigdes dat hulle van ’n skemering en ’n dagbreek getuie was. Maar selfs hierdie klassieke vergelyking kan nie ten volle reg laat geskied aan die emosies van die deelnemers in hierdie gevierde sessie nie, wat ’n paar uur lank gevoel het of hulle hemelse ambagsmanne was wat gehelp het om hierdie ongelooflike spektakel tot stand te bring. Hierdie skemeruur en hierdie dagbreek was hulle werk.

Die skemeruur waarna Furet verwys – naamlik die aftakeling van die oorblyfsels van feodalisme ten gunste van ’n nuwe staatsgemeenskap – was nie voor 4 Augustus op die Nasionale Wetgewende Vergadering se agenda gewees nie. Die besluit is eerder uit die vuis geneem as reaksie op die golf paniek en onrus wat ná die Bestorming van die Bastille tydens die laaste paar weke van Julie oor die platteland gestroom het. Onder die kleinboerestand, reeds kriewelrig weens ’n halwe dekade se verskriklike oeste, het gerugte die rondte begin doen van ’n komplot deur die adellikes om hulle ná die sukses van die Derde Landgoed en die skep van die Nasionale Wetgewende Vergadering, by wyse van uithongering weer tot onderhorigheid te dwing. Hierdie samesweringsteorie blyk verder bevestig te geword het deur adellikes wat ná die val die Bastille land-uit gevlug het; blykbaar was dit net ’n kwessie van tyd voordat hulle aan die spits van buitelandse leërs sou terugkeer om hulle oorheersing deur middel van mag opnuut af te dwing.

BEHALWE VIR UITHOEKIES IN SEKERE GEWESTES SOOS BOERGONDIË OF FRANCHE-COMTÉ WAAR FEODALISME STEEDS GEFLOREER HET, HET DIE LANDHEERLIKE REGIME LANKAL BEGIN VERVAL.

Hierdie gerugte, ondersteun deur die aftakeling van betroubare kommunikasie weens die revolusionêre opwinding in Parys, het daartoe gelei dat groepe kleinboere vir eie verdediging hulself bewapen en kragte gesnoer het. In ’n gebeurtenis waarna geskiedkundiges as die Groot Vrees verwys, het sommige van hierdie kleinboere châteaux aangeval wat aan landhere behoort het. Hulle het feodale rekords verbrand, onder meer die registers waarin landhere hulle verskillende landheerlike gelde aangeteken het, terwyl hulle ook die landhere self bygedam het, en hulle gedwing het om van hulle feodale voorregte afstand te doen. Kort voor lank het kleinboereopstande in die gebiede Hainault, Alsace, Boergondië en Franche-Comté uitgebreek – alles binne die bestek van drie weke. Indien niks gedoen sou geword het nie, het dit geblyk of die onrus nog meer van die koninkryk sou verswelg het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Nasionale Vergadering was besig om die Verklaring van die regte van mense en burgers (Declaration of the Rights of Man and of the Citizen), en die verhouding daarvan tot die komende grondwet, te debatteer toe hulle gedwing is om van rigting te verander om van die insurreksies werk te maak. Die Vergadering se eerste reaksie was een van verleentheid, in ag genome die feit dat die opstande ongeag die pogings van hulle nuutgeskepte burgerlike bourgeois-milisies plaasgevind het. Op die aand van 3 Augustus is daar aangekondig dat “berugte uit al die provinsies laat blyk het dat alle soorte eiendomme kriminele plundering van die ergste graad ten prooi geval het. Châteaux is orals aan die brand gesteek, kloosters vernietig, plase ontruim en agtergelaat om geplunder te word” (Furet, 108). Alhoewel die Vergadering erken het dat hulle moes optree, is onderdrukking van die opstande deur middel van geweld uitgesluit aangesien dit sou beteken het dat regmatigheid en gesag aan koninklike soldate verleen sou word (al is sommige van die opstande reeds deur soldate onderdruk). Pleks daarvan is ’n wetsontwerp opgestel wat die volgende aand bespreek sou word en wat die “sakrale waarde” van alle vorms eiendom en gelde sou herbevestig, terwyl dit ook ’n program vir die verligting van armoede sou ontwikkel.

Dit was nié die optrede van ’n Vergadering wat beoog het om feodalisme af te skaf nie. Trouens, baie van die afgevaardigdes het moontlik nie veel sin daarin gesien om dit te doen nie; behalwe vir uithoeke in sekere gewestes soos Boergondië of Franche-Comté waar feodalisme steeds gefloreer het, het die landheerlike regime lankal begin verval. Alhoewel Frankryk steeds merendeels landboukundig was, het ’n al hoe moderner wordende Europa aan die adelstand veel vinniger metodes tot rykdom as die landheerlike stelsel gebied. Met dié dat hulle nou met die opkomende bourgeois-klas om invloed en mag moes meeding, het sommige adellikes hulle tot beleggings in die nywerheid of grondontwikkeling begin wend. Tekens van feodalisme, soos die corvée – die praktyk van onbetaalde en gedwonge arbeid – was egter steeds heersend in streke waar die tradisionele landheerlike stelsel aan’t uitsterf was.

The Great Fear
Die Groot Vrees
Unknown Artist (Public Domain)

Sommige afgevaardigdes het dit as die Vergadering se patriotiese plig beskou om die land eens en vir altyd van alle vorme feodalisme te verlos. Die idee het waarskynlik ontstaan tydens ’n byeenkoms van die Breton Klub, wie se lede op 3 Augustus ná afsluiting van die Vergadering-sessie in die geheim ontmoet het om die algehele vernietiging te bespreek van alle voorregte wat aan enige sosiale klasse, provinsies, stede of korporasies behoort het. Die Breton Klub was die voorloper van die Jakobyn Klub en is deur ’n groep antirojalistiese afgevaardigdes van Bretagne gestig wat voor elke Vergadering-sessie byeengekom het om ’n gesamentlike strategie te formuleer. Teen Julie het die klub se lidmaatskap meer as 200 afgevaardigdes ingesluit. Toe die Vergadering die aand van 4 Augustus weer byeengekom het om kwessies soos armoede en die kleinboereopstande te bespreek, was die lede van die Breton Klub gereed om hulle eie agenda te laat geld.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die aand van 4 Augustus

Nadat die sessie om 20:00 geopen is, is die bespreking van die eiendomswetsontwerp spoedig ontspoor. Die man wat eerste opgestaan het om die voorregte van die hoërklasse te veroordeel, was Louis-Marie, Vicomte de Noailles wat self ’n aristokraat was wat van een van die roemrykste adelfamilies in Frankryk afgestam het. Noailles het sy toespraak begin deur aan te voer dat alhoewel die rebelse kleinboere wel misdadigers was, hulle misdade weens die onderdrukkende aard van hul landhere geregverdig was, en derhalwe moes hulle verskoon word.

Hy het geargumenteer dat die Nasionale Vergadering hulle in hul jong bestaan reeds by ’n kruispad bevind het, en het die saak uitgemaak dat die koninkryk tussen “die algehele vernietiging van die samelewing, en ’n regering wat regdeur Europa bewonder en nagevolg word” gedobber het (Schama, 438). Die Vergadering moes hulle aansprake bewys dat hulle inderdaad vir die mense gestaan het, en dit kon slegs vermag word deur stelsels van persoonlike knegskap soos die corvée amptelik af te skaf, en deur burgers toe te laat om slegs volgens hulle geldmiddele formele belastings te betaal.

Louis-Marie, Vicomte de Noailles
Louis-Marie, Vicomte de Noailles
Gilbert Stuart (Copyright)

Nadat hy sy toespraak voltooi het, is Noailles se mosie onmiddellik deur die Duc d’Aiguillon, een van die grootste grondbesitters in Frankryk, gesekondeer. Aiguillon het selfs verder as Noailles gegaan en geargumenteer dat die Vergadering slegs hulle verbintenis tot menseregte kon bewys deur die oorskot van die “feodale barbarisme” waaronder die mense steeds gebuk gegaan het, te verwyder (Schama, 438). Ná die passievolle redevoerings van hierdie twee gesiene mans het ander adellikes oor hulle voete geval en mekaar verskreeu in hulle ywer om hulle patriotisme te bewys deur van hulle voorregte afstand te doen.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die idees wat deur die opgewonde afgevaardigdes rondgeslinger is, het radikaler geraak. Een afgevaardigde het ingestem tot die algehele afskaffing van feodalisme, en hom gerig tot vernederende titels wat “van mense vereis het om soos trekdiere aan die ploeg gebind te wees” (Schama, 438). Kort daarna het iemand – tot misnoeë van die vergaderde kerklui – die afskaffing van tiendes voorgestel. Moontlik uit weerwraak hiervoor het die biskop van Chartres toe aan die hand gedoen dat die adellikes se eksklusiewe reg op wild beëindig moes word, en geargumenteer dat alle kleinboere die reg moes hê om diere dood te maak wat met hulle gewasse inmeng. Ander afgevaardigdes het gepraat van die behoefte aan gelykheid van kriminele vonnisoplegging, en ’n einde aan alle belastingvrystellings wat die adelstand geniet het.

VOORDAT DIE SESSIE UITEINDELIK OM 2:00 GEËINDIG HET, IS 19 ARTIKELS RAKENDE DIE AFSKAFFING VAN FEODALISME OPGESTEL.

Dit was, soos wat Charles-Élie de Ferrières opgemerk het, “’n oomblik van patriotiese dronkenskap” (Schama, 439). Kort voor lank was afgevaardigdes aan’t grens en het hulle mekaar omhels en patriotiese liedere gesing. Uiteraard het nie almal teenwoordig by die sessie die rigting goedgekeur wat die gesprek ingeslaan het nie. Die Marquis de Lally-Tollendal was duidelik verontrus toe hy ’n nota aan sy vriend Duc de Liancourt, voorsitter van die sessie, gestuur het wat gelees het, “Hulle’s van hul sinne beroof. Verdaag die sessie.” (Schama, 439) Toe Liancourt geweier het om dit te doen, het Lally-Tollendal opgestaan en sy bes probeer om die situasie te red. Hy het sy mede-afgevaardigdes herinner om nie die koning te vergeet nie, op wie se uitnodiging hulle in Versailles vergader was en wie dus as die “Hersteller van Franse Vryheid” verklaar moes word.

Geen wetsontwerp rakende eiendom en persoonlike veiligheid is daardie aand bespreek nie. Pleks daarvan is 19 artikels rakende die afskaffing van feodalisme opgestel voordat die sessie uiteindelik om 2:00 geëindig het. Soos wat nuus oor hierdie verwikkeling na die strate van Parys versprei het, het grootskaalse feesvieringe losgebars. Die aartsbiskop van Parys het ’n Te Deum ter ere van die gebeurtenis voorgestel, terwyl ander wou hê dat ’n nasionale fees elke jaar op 4 Augustus gehou moes word.

Die besprekings was egter nog nie afgehandel nie. Dit sou die Vergadering nog ’n week neem om oor die besonderhede van die sentrale kwessies – veral dié van die tiendes – klaar te debatteer. Daar is uiteindelik besluit dat tiendes sonder skadevergoeding afgeskaf sou word, alhoewel die Kerk steeds toegelaat sou word om dit in te vorder tot tyd en wyl die Vergadering met ’n alternatief vorendag kon kom. Op Dinsdag 11 Augustus is die finale teks gekodifiseer, met die aanvangsin wat tot in die uithoeke van Frankryk weergalm het: “Die Nasionale Vergadering vernietig die feodale regime in sy geheel.” (Furet, 110)

Die artikels

Van die 19 artikels waaruit die Augustus Dekrete bestaan het, word die belangrikstes hieronder saamgevat:

  • Artikel 1: Die feodale stelsel word geheel en al afgeskaf. Alle feodale regte en gelde, sowel as persoonlike knegskap, word sonder vergoeding afgeskaf. Alle ander soorte gelde is aflosbaar; die prys en wyse van terugkoop word deur die Nasionale Vergadering bepaal.
  • Artikel 2: Die eksklusiewe reg op fuies (die reg om voëls te laat kos soek) en duiwestallasies word afgeskaf. Duiwe sal opgesluit word gedurende tye wat deur die gemeenskappe bepaal sal word.
  • Artikel 3: Eksklusiewe jagregte word ook afgeskaf. Alle grondbesitters behou die reg om enige prooi te dood, maar slegs op grond wat hulle besit. Die koning se jagveld bly egter behoue.
  • Artikel 4: Alle landheerlike regters word sonder vergoeding afgeskaf, alhoewel die ampte met hulle pligte sal voortgaan totdat die Nasionale Vergadering op ’n nuwe regsorde besluit.
  • Artikel 5: Alle soorte tiendes word sonder skadevergoeding afgeskaf, hangende kennisgewing om die Kerk op ’n ander manier te subsidieer.
  • Artikel 7: Die praktyk om openbare ampte te verkoop, word onwettig verklaar, en die beginsel van fooilose regspleging word bevestig.
  • Artikel 9-10: Alle spesiale voorregte word afgeskaf, en elke burger moet dieselfde belasting op alles betaal.
  • Artikel 11: Alle burgers, ongeag hulle herkoms, kan enige militêre, burgerlike of kerklike amp beklee.
  • Artikel 17: Koning Louis XVI word as die Hersteller van Franse Vryheid verklaar.

The Abolition of Privileges, 4 August 1789
Die afskaffing van voorregte, 4 Augustus 1789
Jebulon (Public Domain)

Die koning reageer

Die goedkeuring van die Augustus Dekrete was koning Louis XVI se eerste toets in sy nuwe rol as patriotkoning. Nadat hy ná die val van die Bastille bes gegee het, is hy gedwing om die gesag van die Nasionale Vergadering te erken deur hulle aanstelling van Jean Sylvain Bailly en die markies de Lafayette as onderskeidelik die Paryse burgemeester en bevelvoerder van die Nasionale Garde te aanvaar. Hy het ’n Revolusie-kokarde van Bailly in ontvangs geneem voor ’n skare burgers waarvan baie die geleentheid as die koning se eie versoening met die Revolusie geïnterpreteer het.

Natuurlik was dit nie so eenvoudig nie. Die koning het op twee gedagtes gehink rakende die publisering van die Augustus Dekrete. Alhoewel hy in ’n brief aan die aartsbiskop van Arles sy tevredenheid met die Vergadering se pogings tot klasversoening te kenne gegee het, kon hy homself nie so ver bring om met die vernietiging van klasvoorregte saam te stem nie. “Ek sal nooit instem nie,” het hy geskryf, “tot die berowing van my kerklui en my adellikes … ek sal nooit my goedkeuring gee vir die dekrete wat hulle uitplunder nie, want dan sal die Franse volk my eendag van ongeregtigheid en swakheid beskuldig.” (Schama, 442)

Portrait of Louis XVI of France
Portret van Louis XVI van France
Antoine-François Callet (Public Domain)

Getrou aan sy woord, het Louis weke lank verseg om die dekrete goed te keur. Op 18 September het hy sy amptelike opmerkings, deur sy onlangs heraangestelde minister Jacques Necker opgestel, aan die Vergadering voorgelê. In hierdie opmerkings het die koning ingestem tot die beginsel om die landheerlike regte af te los maar het beswaar gemaak teen die lys regte wat die Vergadering sonder vergoeding afgeskaf het. Die koning se versuim om die dekrete heelhartig te ondersteun, het regdeur die tanende somermaande van 1789 spanning veroorsaak. Hy het eers in Oktober bes gegee, toe die Vrouemars na Versailles die koninklike gesin gedwing het om na Parys te verhuis, en hy genoop is om tot die dekrete in te stem.

Nadraai en impak

Die Augustus Dekrete was ’n monumentele stap in die rigting van die aftakeling van Frankryk se onderdrukkende Ancien Régime. Binne die verloop van ’n enkele nag is drukkende tiendes, ouderwetse feodale gelde en die voorregte van die hoërordes alles mee weggedoen; of minstens is dit hoe dit op papier voorgekom het. In werklikheid was dinge nogal morsig soos wat die Vergadering probeer uitklaar het wat presies hulle daardie Augustus-aand in die roes van opwinding bedoel het.

Uiteraard het dit tot ’n mate van verwarring en misverstand gelei. Baie van die kleinboerestand was onder die indruk dat die dekrete onmiddellik in werking sou tree, en die waarskuwing geïgnoreer dat baie van die gelde steeds betaal moes word totdat ’n nuwe stelsel geïmplementeer kon word. Baie kleinboere het geweier om dit te betaal wat hulle geskuld het en het belasting al meer vyandig gesind geraak – wat nie juis Frankryk se reeds benarde finansiële krisis gehelp het nie. Trouens, dit was eers in 1793 – vier jaar nadat die dekrete goedgekeur is – dat alle landheerlike gelde ten einde laas sonder skadevergoeding beëindig is.

Baie mense in die hoërordes het ook nie juis genoeë geneem met die afskaffing van hulle gekoesterde voorregte nie. Ontstoke adellikes het gewonder hoe ’n Vergadering wat oogluikend byeengekom het om oor belastingkwessies te stem, genoeg gesag kon inpalm om die feodale regime geheel en al tot niet te maak. Die Kerk het ook protes aangeteken teen die afskaffing van hulle tiendes. In die dae tussen 4 Augustus en die formalisering van die dekrete ’n week later was dit die onderwerp van die hewigste debatte. Dit was tydens hierdie debatte dat die idee aan die hand gedoen is dat Kerk-eiendom aan die staat behoort, wat uiteindelik tot die beslaglegging op Kerk-grond sou lei. Die tiendes is nie tot en met 1 Januarie 1791 in die praktyk afgeskaf nie, maar goedkeuring van die dekrete was die begin van die vyandigheid tussen die Kerk en die Revolusie wat later tot bittere en bloedige konflik sou lei.

In November 1789 is Frankryk se 13 parlements, oftewel hooggeregshowe, opgeskort, soos wat in die dekrete gestipuleer is. Hulle is die volgende jaar heeltemal afgeskaf. Vir ’n instelling wat nog net ’n jaar vantevore tydens die Opstand van die Hooggeregshowe as die skild van die volk teen koninklike tirannie herken is, was dit ’n groot verval in onguns; en tog was dit nog ’n steen wat uitgekap is uit die mure waaruit die Ancien Régime saamgestel was aangesien die hooggeregshowe aanhoudend as middel vir die adelstand gedien het om mag te bekom.

Paris Parlement Session in 1787
Sessie van die Paryse Hooggeregshof, 1787
J. Niquet (CC BY-SA)

In die eeue nadat die Augustus Dekrete geskep is, is hulle nalatenskap baie deur geskiedkundiges ontleed. Sommiges is nie baie deur die uitkoms daarvan beïndruk nie, en argumenteer dat die dekrete niks vermag het buiten om die reeds ontluikende status quo te erken nie. Feodalisme was op stuk van sake aan’t uitsterf in Frankryk, sodat die adellike afgevaardigdes nie juis veel opgeoffer het nie. As verweer teen hierdie siening, moet daarop gelet word watter beduidende prestasie die algehele afskaffing van feodalisme was. Al was die stelsel in elk geval besig om uit te sterf, sou dit eers in 1793 heeltemal afgeskaf word; intussen het die wet ’n fundamentele element van die Ancien Régime tot ’n val gebring, en die totstandkoming van ’n nuwe staatsgemeenskap moontlik gemaak. Die Augustus Dekrete het die weg gebaan vir die Verklaring van die regte van mense en burgers (Declaration of the Rights of Man and of the Citizen), ’n waterskeidingsdokument in die geskiedenis van menseregte. Om aan te voer dat baie van die adellikes finansieel nie baie gewaag het nie is dalk waar; maar om aan die hand te doen dat hulle bloot uit selfsug opgetree het, sal onregverdig wees. Adellikes soos Noailles, wat onder sy skoonbroer Lafayette in die Amerikaanse Revolusionêre Oorlog geveg het, was werklik passievol oor vryheid, en was waarskynlik daarvan oortuig dat hulle hul patriotiese plig verrig het.

Die Augustus Dekrete was ’n beduidende verwikkeling in die Franse Revolusie en stellig een van die Revolusie se belangrikste en blywende prestasies. Alhoewel baie van die edikte wat deur die talle daaropvolgende regerings van die Revolusie goedgekeur is, van ewe korte duur as daardie regerings self sou wees, het die Augustus Dekrete in stand gebly, en sou dit later selfs die toekomstige Burgerlike Wetboek – waarna daar meer algemeen as die Napoleontiese Wetboek verwys is – beïnvloed. Die Augustus Dekrete het die ideale van vryheid, gelykheid voor die reg en eiendom vergestalt wat fundamenteel aan die Eeu van Verligting was, en essensiële boustene van Westerse demokrasieë gevorm het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat was die Augustus Dekrete tydens die Franse Revolusie?

Die Augustus Dekrete was ’n stel van 19 artikels wat tydens die Franse Revolusie deur die Nasionale Wetgewende Vergadering goedgekeur is en wat feodalisme afgeskaf, en die voorregte van die hoërklasse beëindig het.

Wat het die Augustus Dekrete gedoen?

Die Augustus Dekrete het die oorheersing van die Derde Landgoed deur die kerklike en adelstand beëindig en sodoende alle burgers gelyk voor die reg gestel. Dit was ’n belangrike stap om Frankryk se absolute monargie aan ’n einde te bring.

Wat was die aanvangsreël van die Augustus Dekrete van 1789?

Die Augustus Dekrete se bekende aanvangsin is, “Die Nasionale Vergadering vernietig die feodale regime in sy geheel.”

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, June 02). Die Augustus Dekrete [August Decrees]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20818/die-augustus-dekrete/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Die Augustus Dekrete." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig June 02, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20818/die-augustus-dekrete/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Die Augustus Dekrete." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 02 Jun 2022. Web. 08 Aug 2022.