Die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk

Artikel

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 07 March 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans

Die samelewing van die Franse koninkryk in die tydperk van die Ancien Régime was in drie afsonderlike landgoedere, of sosiale klasse, verdeel: die kerklui, die adelstand en die gewone burgers. Hierdie klasse en die meegaande magsdinamika, met die oorsprong daarvan gewortel in die feodale drieledige sosiale ordes van die Middeleeue, was die weefsel waarin die koninkryk verwikkeld was.

The Three Orders
Die drie ordes
National Library of France (Public Domain)

Tydens die bewind van koning Louis XVI van Frankryk (r. 1774-1792) het die eerste twee landgoedere ’n aansienlike groter mate voorregte as die derde een geniet, ten spyte daarvan dat die Derde Landgoed meer as 90% van die Franse bevolking verteenwoordig het, en byna al die belasting betaal het. Die Derde Landgoed self was verdeel tussen die opkomende middelklas bekend as die “bourgeoisie”, en die toenemend verarmde werkersklas wat as die sans-culottes begin bekend staan het. Soos wat sosiale ongelykheid vererger het, sou die spanning tussen die landgoedere en die Kroon, sowel as onder mekaar, een van die beduidendste oorsake van die Franse Revolusie (1789-1799) word. Vanaf die ontmoeting van die Algemene Landgoed in Mei 1789 en daarna het die kwessie van sosiale klasse regdeur die Revolusie ’n oorheersende tema bly.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Agtergrond: die drieledige bestel

LYFEIENES WAS GEWOONLIK GEKLUISTER AAN DIE GROND WAT HULLE BEWERK HET.

Ná die finale ineenstorting van die Wes-Romeinse Ryk in 476 HJ het die daaropvolgende leemte in Europa gelei tot die opkoms van feodalisme, die hiërargiese stelsel wat op grondbesit, oftewel leengrond, as magsbron staatgemaak het. Teen die jaar 900 het landhere en hulle families, wat die grond by wyse van oorerflike eise of militêre mag bekom het, oor om en by 80% van Europa se bewerkbare grond geheers. Hierdie heersersklas landhere, wat as die adel of aristokrasie bekend gestaan het, het oor lyfeienes geheers wat die landhere se grond in ruil vir militêre beskerming bewerk het. Die lyfeienes was gewoonlik gekluister aan die grond wat hulle bewerk het. Die middeleeuse kerk het invloed op albei hierdie groepe uitgeoefen, met lede van die kerklui wat uit enige van die twee ordes gekom het. Ten minste driekwart van die biskoppe en hoër geledere van die middeleeuse kerklui het uit die adelstand gekom, terwyl die meeste van die laer gemeentekerklui uit die gesinne van kleinboere gekom het.

Hierdie drie sosiale groepe het as die “drieledige bestel” bekend gestaan en in Latyns is daar na hulle verwys as:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • Oratores (dié wat bid)
  • Bellatores (dié wat veg), en
  • Laboratores (dié wat werk).

Baie 11de- en 12de-eeuse denkers was daarvan oortuig dat dit die natuurlike hiërargie van die mensdom was: Diegene wat gebid het, het hulle bevoorregte en invloedryke plek as die beskermers van die siele van die gemeenskap verdien, terwyl diegene wat geveg het hul plek as die heersersklas verdien het deur stabiliteit en beskerming te bied. Die werkende lyfeienes het die grond van hulle landhere bewerk en hulle belasting betaal, en daardeur die finale sy van hierdie feodale driehoek van wedersydse afhanklikheid voltooi.

Cleric, Knight, and Workman Representing the Three Classes
Geestelike, ridder en arbeider wat die drie klasse verteenwoordig
Unknown Artist (Public Domain)

Hierdie drieledige bestel is nie heeltemal akkuraat nie aangesien dit nie voorsiening maak vir die ryker gewone burgers soos meesterambagsmanne en handelaars, en diegene wat in stede gewerk het nie. Soos wat hierdie buitestaandergroep met verloop van tyd uitgebrei het om finansiers, entrepreneurs, lekeberoepskundiges en prokureurs in te sluit, het die gaping tussen hierdie ryker Laboratores en dié wat steeds as lyfeienes gewerk het groter geraak, sodat ’n ondergroep van die Laboratores – die burgers, oftewel bourgeois – uiteindelik tot stand gekom het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Eerste en Tweede Landgoed: kerklui en adelstand

Teen 1789, die vooraand van die Franse Revolusie, het die drie landgoedere van die ryk steeds die weefsel van die Franse samelewing gevorm. Buiten die koning self, wat as die “eerste heer van die ryk” bekend gestaan het, was elke inwoner van Frankryk in een van hierdie drie ordes ingedeel (Doyle, 28). Volgens die Franse historikus Georges Lefebvre het nie meer as 100 000 van die 27 miljoen mense wat in 1789 in Frankryk gewoon het aan die Eerste Landgoed behoort nie, terwyl ongeveer 400 000 aan die Tweede Landgoed behoort het. Dit beteken dat ’n oorweldigende meerderheid – om en by 26,5 miljoen mense – aan die Derde Landgoed behoort het.

In die Ancien Régime van Frankryk het die Eerste Landgoed aansienlike mag en voorregte geniet. Aangesien die koning daarop aanspraak gemaak het dat sy gesag ontspruit het uit ’n hemelse reg om te heers, was die Kerk nóú verbind met die Kroon en regeringsfunksies. Die politieke en samelewingsmag van die Gallikaanse Kerk het ver deur die hele ryk gestrek. Sedert die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 is Franse inwoners outomaties as Katolieke gereken, en alle geboorte-, sterfte- en huweliksrekords is deur die gemeentepriesters bewaar. Feitlik Frankryk se hele onderrigstelsel is deur die Kerk beheer, en die Kerk het ook ’n monopolie op die verligting van armoede en die voorsiening van hospitale gehad. Verder het die Kerk die mag van sensuur behou oor enigiets wat wettig gedruk is. Katolisisme – soos wat deur die Gallikaanse Kerk van Frankryk gewaarborg is – was só belangrik dat die koning se onderdane sonder Katolieke sakramente geen wettige bestaan gehad het nie; sy kinders was na bewering buite-egtelike kinders, en het geen reg op ’n erflating gehad nie (Lefebvre, 8). Dit was eers in die jare wat die Revolusie direk vooraf gegaan het, wat die regte van Franse Protestante uiteindelik erken is.

KERKLUI WAS NIE VERPLIG OM ENIGE BELASTING AAN DIE STAAT TE BETAAL NIE.

Die Franse kerklui het hulself in ’n formidabele institusie georganiseer en ’n Algemene Vergadering geskep wat elke vyf jaar vergader het om na die belange van die Kerk om te sien. So ’n vergadering wat ’n hele landgoed verteenwoordig het, was destyds uniek aan die Eerste Landgoed, en het aan die kerklui hulle eie geregshowe besorg. Hierdie organisasievorm het die Kerk in staat gestel om elke poging deur die regering om hulle finansiële vryhede in te perk, af te weer en gevolglik was geestelikes nie verplig om enige belasting aan die staat te betaal nie. Pleks daarvan het die Kerk die Kroon roetinegewys met ’n sekere bedrag in die vorm van ’n gratis skenking begiftig, en soms geld namens die staat geleen, en hulself die rentekoste toegeëien.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Eerste Landgoed het tiendes ingevorder van hulle eie grondeiendom, wat baie omvangryk in noordelike Frankryk was. Die grond wat deur die Kerk besit is, het altesaam ongeveer een tiende van alle gebied binne die koninkryk uitgemaak. Daarbenewens was biskoppe, kloostervaders en kapittels ook die landhere van sommige dorpies, en het hulle landheerlike belastings ingevorder.

Die Tweede Landgoed was ook baie voorregte beskore. Sommige daarvan was bloot eershalwe soos die reg van die adel om ’n swaard te mag dra, terwyl ander voorregte nuttiger was, soos vrystelling van die adelstand om die basiese direkte belasting bekend as die taille te betaal. Die regverdiging van hierdie vrystelling was dat die adel se voorouers hulle lewens gewaag het om die koninkryk te verdedig waarmee hulle die sogenaamde “bloedtaks” betaal het, en daarom kon daar nie van die adel verwag word om nog geld óók te moes opdok nie. Maar anders as die kerklui was die adelstand nie van alle belasting vrygestel nie en teen die tyd van die bewind van Louis XVI (r. 1774–1792) is daar van hulle verwag om kopbelastings te betaal, asook die vingtième (of “twintigste”) belasting, met laasgenoemde wat van elke Franse onderdaan buiten kerklui vereis het om 5% van alle netto inkomste te betaal. Maar Lefebvre voer aan dat selfs hierdie belastingverpligtinge in so ’n mate deur die voorregte van die adel verwater is dat dit nie veel van ’n finansiële las gevorm het nie.

Louis XVI of France
Louis XVI van Frankryk
Joseph-Siffred Duplessis (Public Domain)

Onder die Ancien Régime het die adelstand steeds die heersersklas uitgemaak, al is van hulle invloed en mag weggevreet soos wat die Kroon gesag tydens die bewind van koning Louis XIV van Frankryk (r. 1643-1715) gesentraliseer het. In 1789 het die adelstand beheer oor een vyfde van alle gebied in die koninkryk uitgeoefen, waarop hulle al hul feodale gelde ingevorder het. Na destydse beskouing was die aristokrate vanweë hulle geboorte bedeel met ’n natuurlike reg om te heers, derhalwe het feitlik alle senior administratiewe ministers, alle senior militêre offisiere en byna die koning se hele kabinet uit aristokrate bestaan; die opvallende uitsondering was Jacques Necker (1732-1804), ’n Switserse Protestantse burger, wat nogal ’n oproer veroorsaak het toe hy as Louis XVI se minister van finansies aangewys is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

En tog het baie van hierdie heersersklas van die ou adelstand tydens die bewind van Louis XVI al verder van mag verwyder begin raak. In ’n samelewing waar mag deur nabyheid aan die koning bepaal is, het dit belangrik geraak vir diegene wat ’n hoë amp wou beklee, om ’n teenwoordigheid aan die hof in die Paleis van Versailles te handhaaf, wat nogal ’n aansienlike uitgawe behels het. Verder het die opkoms van die ryk bourgeois-klas ’n nuwe golf adel geskep soos wat ryk bourgeois eenvoudig vir hulle ampte gekoop het waardeur die houers van die amp tot die adel verhef is, en hulle hul dogters in adellike families kon laat introu. Die helfte van die adelstand was niks beter daaraan toe as die gemiddelde middelklas-bourgeois nie, en baie van hulle selfs aansienlik armer. Sommiges van die ou adelstand – wat as die “swaard-adel” bestempel is – het jaloers geraak op die nuwe ryk, administratiewe klas adellikes waarna as die “toga-adel” verwys is, en wat hulle as niks meer as verheerlikte bourgeois-burgers beskou het nie.

Om die vooruitsigte van die swaard-adel te beskerm, het die Franse regering die Ségur Ordinance in 1781 goedgekeur wat enigiemand wat nie ’n adellike afkoms vir minstens vier generasies kon terugspoor nie, verhoed het om as militêre offisier aan te sluit. Aangesien ’n militêre loopbaan ’n gewilde keuse tot prestige en aansien was, het hierdie stap verontwaardiging onder die hoër geledere van die Derde Landgoed ontketen. Terselfdertyd het die ou adel kers by die opkomende bourgeois begin opsteek sodat sommige by besighede betrokke geraak het, en aandele in industrieë gekoop het, mynkonsessies op hulle grond toegestaan het, of in eiendomme begin spekuleer het.

Die Derde Landgoed: die bourgeois- en werkersklas

Die Derde Landgoed van Bourbon Frankryk was ver verwyder van die netjies gedefinieerde term “diegene wat werk” wat die derde feodale orde beskryf het, maar was eerder ’n deurmekaar versameling wat almal van die rykste nie-adel in die koninkryk, tot die behoeftigste bedelaars ingesluit het. Dit het meer as 90% van die bevolking verteenwoordig maar die ervaring van dié in die hoër vlakke van die landgoed was gans anders van dié in die onderste vlakke. Die eerste ondergroep het die hoër- en middelklas behels wat as die bourgeoisie bekend gestaan het, terwyl die tweede ondergroep na die arbeidersklas en die werkloses verwys het. Tydens die Revolusie het hierdie laasgenoemde groep as die sans-culottes (letterlik “sonder culottes”) begin bekend staan – ’n naam wat hulle armoede te kenne gegee het aangesien slegs die adellikes en die bourgeois culottes – byderwetse kniebroeke van sy – gedra het.

Die bourgeoisie het voortdurend aangewas, sodat ongeveer 2 miljoen mense teen 1789 in hierdie kategorie geval het, meer as dubbeld die hoeveelheid as wat ’n halfeeu vantevore die geval gewees het. Hulle het ’n enorme deel van die nasionale rykdom beheer: Die meeste van die industriële en kommersiële kapitaal, byna een vyfde van alle Franse privaat rykdom, is deur die bourgeoisie besit, insgelyks ’n kwart van alle grond en ’n aansienlike gedeelte van staatseffekte. Die rykste bourgeois het ’n lewe van weelde gelewe – nie veel anders as die lewenstyl van die adelstand nie. Dit was byvoorbeeld in swang vir ’n bourgeois-gesin om die sosiale leer te bestyg om hulself in sy te klee, koffie te drink wat vanuit die Wes-Indiese Eilande ingevoer is, en om hulle huis met drukwerk en muurpapier te versier. Volgens die vakkundige William Doyle was dit hoofsaaklik bourgeois-kapitaal wat teaters in Parys en Bourdeaux gebou het, nes dit die bourgeoisie was wat koerante, kolleges en openbare biblioteke gefinansier het.

The Bourgeois Gentleman
Die bourgeois-heer
Jacques-Edmond Leman (Public Domain)

Doyle (23) skryf die opkoms van die bourgeoisie in die 18de eeu aan die skielike “buitengewone kommersiële en industriële uitbreiding” van daardie tydperk toe. Die oorsprong van bourgeois-familiefortuine het hoofsaaklik in besigheid gelê en is deur veilige beleggings soos grond verskans. Benewens Protestante en Jode, vir wie sosiale mobiliteit beperk was, het bourgeois-families selde vir langer as ’n generasie in die besigheid gebly wat hulle rykdom aan hulle besorg het, en geld wat nie in grond belê is nie, is aangewend vir hoogstaande onderrig vir hulle kinders. Met hierdie onderrig was die weg gebaan tot die beroepe, waardeur ’n handelsherkoms vergeet kon word (Doyle, 24).

Om hierdie status te kon bereik, is deur baie bourgeois-families as ’n uiteindelike doelwit beskou – ’n gemaklike sosiale sport van die middelklas waarop hulle dikwels gestagneer het. En tog het nie alle bourgeois-families daarmee genoeë geneem om met middelklasstatus tevrede te wees nie en – vir diegene wat oor die geld beskik het – was hoër ambisies inderdaad bereikbaar. Soos wat die finansiële krisis tydens die bewind van Louis XVI in al groter nood verval het, het die regering om en by 70 000 openbare ampte verkoop wat ’n totale waarde van 900 miljoen livre verteenwoordig het. Vir sommige van hierdie koopbare ampte is die bekleër daarvan tot die adelstand verhef en ander was oorerfbaar sodra hulle eers verkoop is; maar almal het die besitter se sosiale stand aansienlik laat toeneem. Deur vir bogenoemde ampte te betaal, het meer as 10 000 bourgeois hulle pad tydens die 18de eeu na die adelstand oopgekoop.

SOOS WAT DIE BOURGEOISIE RYKER GERAAK HET, HET DIE ARMES AL ARMER GERAAK.

En soos wat die bourgeoisie ryker geraak het, het die armes al armer geraak. Kleinboere het 80% van die Franse bevolking gevorm, en baie van hulle het op die platteland gewoon. Onder hierdie groep het armoede en werkloosheid hoogty gevier; selfs in die beste van tye het ’n geraamde 8 miljoen mense sonder werk gesit, en in slegte tye kon dit die lot van ’n verdere 2-3 miljoen wees. Frankryk se vinnig groeiende bevolking het beteken dat werk al skaarser geraak het. Lone het regdeur die eeu gestagneer terwyl pryse verdrievoudig het. Die ongelukkige reeks swak oeste wat Frankryk tydens die 1770’s en 1780’s geteister het, het verder bygedra tot die ekonomiese ontbering van die boere wie se finansiële sekuriteit direk aan die sukses van die oeste gekoppel was. Tot oormaat van ellende was die arbeidersklas ook nog verantwoordelik vir die meeste van die belasting gewees.

Kleinboere het na die stede gestroom op soek na werk. Teen 1789 het 600 000 mense in Parys gewoon wat aanleiding tot ’n toename in diefstal, bedelary, smokkelary en prostitusie in die stad gegee het aangesien daar nie genoeg ongeskoolde werk vir almal was nie. Baie mense het geen kans gestaan om hulle in die mark vir geskoolde ambagte te begeef nie aangesien hierdie ambagte geneig was om baie rigied georganiseer te gewees het. Werk as huishoudelike knegte was veral gesog aangesien dit gewoonlik met ’n dak oor die kop sowel as kos en klere gepaardgegaan het; die gewildheid van hierdie werke het dit egter uiters moeilik gemaak om te vind.

Die welgesteldes het neergekyk op die sans-culottes, en het die bedelary en die prostitusie van die laerklasse as ’n teken van hulle morele onsedelikheid beskou. Kloosters het minder brood aan behoeftiges uitgedeel en aangevoer dat sodanige aalmoese ledigheid aangespoor het, en hospitale en armehuise het al minder befondsing begin ontvang. In 1783 het Louis-Sébastien Mercier die toenemende gaping tussen die besitters en besitloses soos volg beskryf:

Die afstand wat die rykes van ander burgers verdeel, neem daagliks toe … haat raak al bitterder en die staat is in twee klasse verdeel: die hebsugtiges en onsensitiewes, en die morrende misnoegdes. (Doyle, 23)

Die Algemene Landgoed

Die Algemene Landgoed was ’n wetgewende en raadgewende vergadering wat uit die drie landgoedere bestaan het. Alhoewel die Landgoed geen werklike mag van sig eie gehad het nie en na willekeur deur die koning byeengeroep en verdaag kon word, het dit die landgoedere wel in staat gestel om hulle stem te laat hoor deur griewe en petisies aan die koning voor te lê, en deur die Kroon op fiskale aangeleenthede van raad te bedien. Die Algemene Landgoed is die eerste maal in 1302 deur koning Philip IV van Frankryk (r. 1285-1314) belê en is tot en met 1614 met tussenposes byeengeroep, waarna dit vir 175 jaar nie vergader het nie – ’n tydperk wat ooreengestem het met die Bourbon-konings se aandrang op absolute monargie en dat mag gesentraliseer moes word.

In die afwesigheid van die Algemene Landgoed was die landgoedere darem nie geheel en al aan die koning se genade uitgelewer nie. Die Eerste Landgoed het hulle eie vergaderings gehad wat hulle gebruik het om hulle belange te beskerm, terwyl die adelstand en die bourgeoisie op die dertien Franse hooggeregshowe (parlements) – appèlhowe wat toesig oor die provinsies gehou het – staatgemaak het. Alhoewel hierdie howe geen wetgewende mag gehad het nie, het hulle wel oor metodes beskik om wal te gooi teen koninklike mag, en dit te ondermyn. ’n Koninklike edik moes deur ’n hooggeregshof bekragtig word alvorens dit in daardie hooggeregshof se jurisdiksie van krag kon word, en hulle het ook die reg behou om beswaar te maak teen sekere edikte wat hulle as ongunstig beskou het. Die koning kon dit omseil deur ’n lit de justice uit te reik wat vereis het dat sy edikte ongeag bekragtiging deur die hooggeregshowe in werking moes tree, maar tydens die 18de eeu het hooggeregshowe hierdie mag as onregmatig verklaar, en het hulle alle funksies van die howe opgeskort wanneer ook al die koning ’n lit de justice probeer gebruik het. Die edik het dus onafdwingbaar gebly totdat een of ander kompromis tussen die Kroon en die hooggeregshof bereik kon word.

The Opening of the Estates-General
Die opening van die Algemene Landgoed
Isidore-Stanislas Helman (Public Domain)

Die hooggeregshowe was finansiële hervorming veral vyandig gesind gewees. Onder die skyn dat hulle die belastingbetaler beskerm het, het hulle ’n stokkie gesteek voor enige hervorming wat die finansiële voorregte van die adel en die ryker bourgeois sou beperk het. In 1770 het Maupeau, Franse kanselier, die hooggeregshowe heeltemal probeer uitwis ten einde ’n mate van finansiële hervorming te bewerkstellig. Dit het egter nie lank geduur nie want toe Louis XVI in 1774 koning geraak het, het hy Maupeau afgedank en mag aan die hooggeregshowe terugbesorg.

In 1788, toe Frankryk in die greep van ’n finansiële krisis verkeer het, is Louis XVI genoop om aan te kondig dat die Algemene Landgoed die volgende jaar sou vergader om belastinghervormings te bespreek. Hierdie aankondiging het baie opwinding veroorsaak, veral nadat dit bekend gemaak is dat elke landgoed deur ’n gelyke aantal afgevaardigdes verteenwoordig sou word, soos wat met die 1614-sitting die geval gewees het. Toe die Derde Landgoed weens hulle veel groter bevolking op dubbele verteenwoordiging aangedring het, is hierdie toegewing aan hulle toegestaan. Op die ou einde het dit in elk geval nie saak gemaak nie aangesien daar aangekondig is dat elke landgoed slegs een kollektiewe stem sou hê, wat beteken het dat die enkele stem van die 578 verteenwoordigers van die Derde Landgoed net soveel as dié van die ander twee landgoedere sou tel.

Dit het samesprekings van finansiële hervormings weggeskuif, sodat daar eerder op die wanbalans van mag in die samelewing gefokus is. Abbé Emmanuel-Joseph Sieyès (1748-1836) het in Januarie 1789, maande voordat die Algemene Landgoed sou vergader, ’n pamflet genaamd Wat is die Derde Landgoed? gepubliseer. In hierdie pamflet het Sieyès aan die hand gedoen dat die Derde Landgoed die enigste regmatige landgoed was aangesien dit feitlik die hele Franse bevolking behels het, en die meeste van die belasting betaal het. Die Eerste en Tweede Landgoed was dus dooiegewig, en moes afgeskaf word. Sieyès se pamflet – baie gewild in die maande wat die ontmoeting van die Algemene Landgoed voorafgegaan het – het gehelp om die gesprek te stuur in die rigting van die ongelykheid wat hoogty in Frankryk gevier het.

Die drie landgoedere van die ryk, alhoewel dit een nasie gevorm het, het in terme van voorregte en mag ruim van mekaar verskil. Hierdie uiteenlopendheid wat as die fokus van die samesprekings by die Algemene Landgoed se 1789-sitting gedien het, sou een van die belangrikste aspekte van die Franse Revolusie word.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Vrae en antwoorde

Wat was die drie landgoedere van die ryk?

Die Eerste Landgoed was die kerklui, die Tweede Landgoed was die adelstand en die Derde Landgoed was die res van die mense – ongeveer 90% van Frankryk se bevolking.

Uit wie het die Derde Landgoed bestaan?

Die Derde Landgoed het meer as 90% van die Franse bevolking verteenwoordig, en was verdeel tussen die opkomende middelklas bekend as die “bourgeoisie”, en die toenemend verarmde werkersklas wat as die “sans-culottes” begin bekend staan het.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, March 07). Die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk [The Three Estates of Pre-Revolutionary France]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1960/die-drie-landgoedere-van-prerevolusionere-frankryk/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 07, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1960/die-drie-landgoedere-van-prerevolusionere-frankryk/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 07 Mar 2022. Web. 25 Jun 2022.