Die bestorming van die Bastille

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 02 May 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans
The Storming of the Bastille (by Jean-Pierre Houël, Public Domain)
Die bestorming van die Bastille
Jean-Pierre Houël (Public Domain)

Die bestorming van die Bastille was ’n deurslaggewende oomblik in die vroeë maande van die Franse Revolusie (1789-1799) gewees. Op 14 Julie 1789 is die Bastille – ’n vesting en politieke tronk wat die drukkendheid van Frankryk se Ancien Régime gesimboliseer het – aangeval deur ’n skare wat hoofsaaklik uit sans-culottes, of die laerklasse, bestaan het. Die dag word vandag steeds as Frankryk se nasionale vakansiedag herdenk.

Die gebeurtenis was die hoogtepunt van verskillende oorsake wat saamgevloei het. Alhoewel die ontslag van die gewilde Geneefse nieadellike Jacques Necker (1732-1804) uit die ministerie van koning Louis XVI van Frankryk (r. 1774-1792) die katalisator vir die aanval was, het wanbalanse in die samelewing en finansiële swaarkry die Franse volk al jare lank onder druk geplaas. Die vermeende pogings van die koning om die werk van die Algemene Landgoed van 1789 – wat tot die vorming van die Nasionale Vergadering gelei het wat deur lede van die Derde Landgoed oorheers is – ongedaan te maak, tesame met stygende broodpryse, het paniek onder die mense van Parys gesaai, en hulle gedryf om teen simbole van koninklike mag, onder meer die immerdreigende Bastille, uit te vaar.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Terwyl die bestorming van die Bastille beduidend was omdat dit die eerste insident was waartydens die sans-culottes op grootskaal by die Revolusie ingegryp het, was dit ook een van die eerste gevalle van bloedvergieting en gepeupelbewind wat deur die revolusionêre gepleeg is in wat voorheen ’n relatiewe vreedsame en ordelike verloop van gebeure was. Die gebeurtenis het nietemin ’n vername keerpunt gekenmerk waartydens die mag van die koning ingeperk is, en die proses begin is om die monargie af te takel.

Die storm laai op

30 000 TROEPE WAS RONDOM PARYS SAAMGETREK, EN BAIE VAN HULLE WAS BUITELANDSE HUURSOLDATE WAT DEUR DIE FRANSE MONARGIE BETAAL IS.

Op die aand van 27 Junie was die lugruim bo Parys verlig met vuurwerke om die versoening van Frankryk se drie ordes in ’n enkele Nasionale Vergadering te vier. Dertien myl daarvandaan was die wolkehemel bo Versailles egter steeds triestig swygsaam. Louis XVI, erfgenaam van ’n nalatenskap van absolutisme, is genoop om die verwaandheid van die Derde Landgoed te moes verdra, wat op daardie tydstip aan die werskaf was om ’n nuwe konstitusie saam te stel wat Versailles van mag sou ontneem, en dit in die hande van die mense sou besorg. Die Vergadering, wat hulself op 9 Julie as die Nasionale Grondwetgewende Vergadering herdoop het, het opgetree asof hulle nou in beheer van sake was, en dit was iets waarin die koning hom nie kon berus nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Louis XVI het op 26 Junie ses koninklike regimente na die Paryse geweste laat oproep, en op 1 Julie het hy nog tien laat kom. Kort voor lank was daar 30 000 troepe rondom Parys gekonsentreer, waarvan baie buitelandse huursoldate was wat deur die Franse monargie betaal is. Baie mense het hierdie onheilspellende opbou van troepe as die koning se tref van teenrevolusionêre maatreëls beskou – ’n waarskuwing aan die skielik verhewe lede van die Vergadering. Dit het die Parysenaars nie ontgaan nie dat hierdie buitelandse troepe waarskynlik minder bedenkinge daaroor sou hê om op Franse burgers los te brand as wat die geval sou wees met soldate wat in Frankryk gebore is. Op 8 Julie het ’n onrustige Vergadering die koning versoek om die troepe te onttrek maar hy het geweier, en aangevoer dat die troepe se doel bloot was om orde in Parys te handhaaf, en om die verrigtinge van die Vergadering te beskerm.

Louis XVI of France
Louis XVI van Frankryk
Joseph-Siffred Duplessis (Public Domain)

Terselfdertyd het Louis teen lede van sy eie ministerie opgetree en baie sleutelfigure afgedank en hulle vervang met ministers wat die jong revolusie meer vyandig gesind was. Jacques Necker, Hoofminister en kampvegter van die Derde Landgoed, was die hoofteiken. Die konserwatiewe faksie te Versailles het Necker vir die gebreke van die Algemene Landgoed geblameer sodat die toorn van die Comte d’Artois, die koning se jongste broer, teen hom ontketen is wat na hom as ’n “buitelandse verraaier” verwys het wat gehang behoort te word (Schama, 373). Op aandrang van Artois en koningin Marie Antoinette (1755-1793) het Louis op 11 Julie vir Necker afgedank en hom gelas om die land onmiddellik te verlaat. Louis blyk die strop al nouer om die nekke van de Vergadering en hulle ondersteuners te getrek het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE ARMSTE WERKERS IS GEDWING OM TOT 80% VAN HULLE INKOMSTE NET OP BROOD TE BESTEE.

Intussen het Parys reeds in ’n staat van onrus verkeer. ’n Swak oes gevolg deur ’n vernietigende winter het beteken dat die broodprys die hoogste ooit in die 18de eeu was, en op 14 Julie die hoogste van alle tye was. Aangesien brood ’n beduidende deel van die gemiddelde Franse dieet uitgemaak het, is die armste werkers gedwing om tot 80% van hulle inkomste op slegs brood te bestee. Uiteraard het ontstoke skares begin saamtrek. Toe die semimilitêre Franse Garde op 27 Junie beveel is om een so ’n skare uitmekaar te dryf, het hulle gemuit, en toe tien van hierdie wagte vir gebrek aan dissipline in die tronk gegooi is, het 4 000 Parysenaars die tronk binnegestorm en die soldate ontset. Hierdie opstand, aangestook deur die teenwoordigheid van koninklike soldate, sou binnekort in ’n storm ontaard toe nuus van Necker se ontslag die stad bereik het.

Opstande van 12-13 Julie

Die Palais-Royal, Paryse woning van die hertog van Orléans wat die revolusie simpatiek gesind was, het ’n gunstelingplek geraak waar Paryse revolusionêre byeengekom het. Dit was hier waar die verwoede massa op 12 Julie vergader het toe tyding van Necker se afdanking en verbanning algemeen bekend geraak het. Die gemoedere het hoog geloop, met mense wat borsbeelde van Necker rondgedra het, en ander wat ’n edelgebore vrou in die openbaar aangerand het omdat sy op Necker se portret gespoeg het. Teen die middag het meer as 6 000 mense by die paleis saamgedrom, op soek na iewers waarteen hulle uiting aan hul woede kon gee.

Die 29-jarige joernalis Camille Desmoulins (1760-1794) het hulle van ’n doelwit voorsien. In die tuin van die Palais-Royal het Desmoulins op ’n tafel in die Café Foy gespring, ’n roerende toespraak gelewer waarin hy die lof van Necker besing en die bedreiging van die soldate beklemtoon het wie se knellende teenwoordigheid tot nog ’n Bartolomeüsnag kon lei. Met pistool omhoog, het Desmoulins die mense tot die aanval opgeroep, en gesê hy sal eerder sterf as om homself aan onderdanigheid te onderwerp (Schama, 382).

Verwyder Advertensies

Advertisement

Desmoulins Making a Call to Arms, 12 July 1789
Desmoulins roep die mense tot die aanval op, 12 Julie 1789
by Pierre-Gabriel Berthault (Public Domain)

Met sy toespraak het Desmoulins die kruitvat van die menigte ontsteek wat sonder versuim die strate ingevaar het. Duisende Parysenaars het hulle weg na die Champs-Élysées gebaan en sodoende koninklike beamptes die skrik op die lyf gejaag. ’n Kavallerie-eenheid, die Koninklike Duitse Regiment, is gestuur om die protesteerders van die Place Louis XV (die moderne Place de la Concorde) te verjaag, en hulle na die tuine van die Tuileries Paleis terug te dryf. Daar het Parysenaars die kavalleriste met stoele, klippe en stukke beeldhouwerk bestook terwyl die soldate die skare aangehou bestorm en verskeie mense beseer het. Toe die koninklike bevelvoerder besef het dat die mense nie gaan bes gee nie, het hy teësinnig gelas dat alle troepe na die Champ de Mars terugtrek ten einde ’n bloedbad te voorkom.

Die volgende dag, met die meeste van die stad in die hande van die massa, het die werklike onluste begin. Meer as 40 tolhekke is afgebrand, tesame met die dokumente en belastingrekords daarbinne, en die klooster Saint-Lazare is van alle kos binne-in gestroop. Omdat die mense vergelding deur die koning se soldate gevrees het, het hulle elke geweersmid en arsenaal in die stad begin plunder. Alhoewel die Hôtel de Ville, setel van die stadsregering, gemagtig het dat ’n Paryse burgermilisie (wat later na die Nasionale Garde herdoop is) vir verdediging gevorm word, het dit nie die skares gepaai nie, en op die oggend van die 14de is die arsenaal van die Invalides geplunder en meer as 30 000 muskette gebuit. Omdat hulle ammunisie geskort het, het die skare ’n plek gesoek waar hulle dit kon vind: die Bastille-vesting.

Die Bastille: simbool van tirannie

Die Bastille is in die 14de eeu gebou om Parys teen die Engelse te verdedig, en was ’n vesting in die werklike betekenis van die woord. Met agt ronde torings, twee ophaalbrûe en die mure byna 2½ m dik, het die Bastille oor die stad getoring as fisiese manifestasie van die mag van die ou regime. Die vesting is aan die begin van die 15de eeu in ’n staatstronk omskep, en die meeste van die gevangenes wat daar ingekerker was, is uitdruklik in opdrag van die koning aangehou, en toegang tot die regsproses ontsê. Die tronk was berug vir die ondergrondse selle wat deurtrek met peste was, en die gruwels wat agter die deure van die tronk se mure aangegaan het, was die onderwerp van baie hoorsê. Gedenkskrifte van voormalige aangehoudenes het gewilde leesstof geraak – genoeg om vrees in te boesem by enige Franse inwoner wat vryheid gekoester het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

En tog was die Bastille teen 1789 bloot ’n papiertier. Beamptes het onlangs samesprekings gevoer om die tronk te sluit en dit met ’n openbare forum te vervang. Alhoewel die Bastille in die verlede ’n formidabele tronk gewees het, is dit in 1789 beskou as een van die meer gewenste plekke waar hooggebore gevangenes aangehou kon word, met baie van die berugte ondergrondse selle wat lank reeds in onbruik verval het. Baie gevangenes is toegelaat om beddens, tafels en stowe te hê, en een aangehoudene – die skandalige libertynse skrywer, die markies De Sade – is die weelde van ’n volledige klerekas en ’n biblioteek met 133 volumes vergun. Op 14 Julie 1789 was daar sewe mense in aanhouding: vier vervalsers, ’n “kranksinnige” Ier, ’n jong aristokraat met afwykende gedrag wat op aandrang van sy familie opgesluit is, en ’n man wat dertig jaar vantevore saamgesweer het om Louis XV van Frankryk in ’n sluipmoordaanval om die lewe te bring.

Siege of the Bastille
Beleg van die Bastille
Claude Cholat (Public Domain)

En tog was die idéé van die Bastille belangriker as die werklikheid daarvan. Mense is steeds na willekeur gearresteer en in ’n tronk gestop, en die vesting het hierdie praktyk gesimboliseer. Alhoewel die skare van om en by 1 000 Parysenaars kwansuis hulle opwagting voor die tronk se mure gemaak het om die wapens en buskruit te buit wat daar gehou is, was dit geen toeval dat hulle ’n plek so verag soos die Bastille gekies het nie.

Bestorming van die Bastille

Bernard-René de Launay, goewerneur van die Bastille, is tussen die einste mure gebore waarvoor hy nou verantwoordelik was om te verdedig. Hy het min middele tot sy beskikking gehad waarmee hy hierdie taak moes verrig: Sy garnisoen het bestaan uit 82 invalides – veteraansoldate wat nie in die veld diens kon doen nie – sowel as 32 Switserse troepe wat as versterkings gestuur is. Daar was kanonne op die mure maar De Launay het oor net twee dae se kos beskik, en geen water nie, wat sy vermoë beperk het om ’n beleg die hoof te bied. Die beloning waarna die skare gesoek het, 250 vate buskruit, is binne bewaar.

Met die skare buite aan’t saamdrom, het drie afgevaardigdes van die Hôtel de Ville die Bastille 10-uur die oggend binnegegaan en De Launay versoek om die kanonne van die mure te verwyder en die tronk se buskruit en wapens aan die Paryse milisie te oorhandig. Die goewerneur is deur sy offisiere oortuig dat dit oneerbaar sou wees om sonder ’n direkte bevel oor te gee, en het geantwoord dat hy niks sonder uitdruklike toestemming deur Versailles kon doen nie. Nadat hierdie dooiepunt bereik is, het die afgevaardigdes die vesting verlaat om verdere instruksies vir onderhandeling van hulle meerderes te ontvang.

Intussen het die enorme en ongeduldige skare buite die mure al nader gemaal, en die buitenste binneplaas binnegedring wat deur ’n enkele muur van die binneste een geskei is waar die werklike hek van die vesting geleë was. In die muur wat die twee binneplase verbind het, was daar ’n klein ophaalbrug. ’n Halfuur nadat die Paryse afgevaardigdes weg is, het twee mans teen die muur uitgeklouter en die kettings van die ophaalbrug gebreek. Die brug het geval en ’n niksvermoedende man gedood wat daaronder gestaan het. Die skare, oortuig dat De Launay besluit het om hulle binne te laat, het in hulle honderde oor die hangbrug na binne gestroom. Krete deur die soldate om om te draai of geskiet te word, is verkeerdelik as krete van aanmoediging gehoor om nader te kom. Kort voor lank is ’n paniekbevange skoot afgetrek, gevolg deur nog salvo’s.

Ten midde van die wanorde, met verskeie revolusionêre wat reeds gesneuwel het, het mense De Launay daarvan begin beskuldig dat hy die skare in die binneplaas ingelok het om hulle makliker te kon afmaai. Die Parysenaars met wapens het na die verdedigers begin terugskiet, en waens vol mis en strooi is voor die hek aan die brand gesteek om die aanvallers van ’n rookskerm te voorsien. Die geveg het verhewig en ’n afgevaardigde wat ’n wit vlag gewaai het om ’n wapenstilstand te bepleit, is geïgnoreer.

Kort voor 3-uur die middag is die skare aangevul deur opstandige kompanies van die Franse Garde, waaronder veterane van die Amerikaanse Revolusionêre Oorlog. Onder aanvoering van Pierre-Augustin Hulin, ’n voormalige onderoffisier, het die rebelse soldate vyf kanonne nadergesleep en dit op die Bastille se hek gerig. Dít was die deurslaggewende oomblik. Toe De Launay besef het dat geen koninklike versterkings op pad was nie en dat die hek nie ’n artillerie-aanval kon weerstaan nie, het hy aangebied om voorwaardelik oor te gee, en gedreig om die vate buskruit te ontsteek en die hele vesting op te blaas indien daar nie aan sy voorwaardes voldoen is nie. Toe die skare geweier het om enige voorwaardes te aanvaar, het De Launay bes gegee. Pleks van ’n vlag vir ’n wapenstilstand is ’n wit sakdoek bo die Bastille gehys, en die tweede ophaalbrug is laat sak.

Storming of the Bastille and arrest of the Governor M. de Launay, July 14, 1789.
Bestorming van die Bastille en die inhegtenisneming van goewerneur M. de Launay, 14 Julie 1789
Unknown Artist (Public Domain)

Die volksleër het onmiddellik deur die hek gestroom, die gevangenes bevry en al die wapens en buskruit gebuit wat hulle in die hande kon kry. De Launay se Switserse soldate, wat ewe wys hulle uniforms uitgetrek het, is verkeerdelik as gevangenes aangesien, en is goed deur die skare behandel. Baie van die invalides was minder gelukkig. ’n Offisier genaamd Béquard se hand is afgekap terwyl hy die hek vir die skare oopgemaak het. Die hand, met die sleutel steeds tussen die vingers vasgeklem, is later as dié van ’n tronkbewaarder vergis en is deur die strate van Parys geparadeer. Later daardie aand is Béquard weereens verkeerd geïdentifiseer, hierdie keer as die kanonnier wat die eerste skoot geskiet het, en hy is gehang.

De Launay het ook die toorn van die skare ontgeld. Oortuig dat hy die bevel vir die slagting gegee het, het die revolusionêre hom na die Hôtel de Ville aangejaag. Onderweg is hy beledig en bespoeg, met sy gevangenemers wat elke dan en wan hulle tog onderbreek het om hom ’n loesing te gee. Met hulle aankoms by die Hôtel het sy gevangenemers verpoos om te besluit wat die uitmergelendste metodes sou wees om hom om die lewe te bring. Toe ’n fyngebaksjef genaamd Desnot aan die hand doen dat De Launay eers na binnegeneem word voordat hulle oor sy lot besluit, het De Launay, keelvol van die foltering, geknak en hulle toegesnou, “Laat my tog net sterf!” voordat hy Desnot ’n skop tussen die bene toegedien het. De Launay is onmiddellik met ’n stortvloed dolke, sabels en bajonette toegetakel, voordat die skare hom met pistoolskote vol gate geskiet het. Nadat die liggaam in ’n straatvoor geslinger is, het Desnot daarop gespring en die kop met ’n sakmes afgesny.

Toe Jacques de Fleselles, die prévôt dès marchands (rofweg gelykstaande aan ’n burgemeester) uit die Hôtel kom om te sien wat die oorsaak van die bohaai was, is hy as verraaier uitgekryt en op die plek platgeskiet. Sy kop is ook afgesny en is vinnig by dié van De Launay aan die punt van ’n piek gevoeg, wat toe deur die juigende, laggende en singende skare deur die strate van Parys geparadeer is.

Tydens die bestorming van die Bastille het 82 revolusionêre gesterf, met nog 15 wat later aan hulle wonde beswyk het. Die gebeurtenis het die eerste keer gekenmerk wat die sans-culottes van Parys ’n groot impak gehad het op die revolusie wat tot dusver merendeels ’n bourgeoisie-affêre gewees het.

Nadraai

Die bekende staaltjie verhaal dat toe Louis XVI gevra het of die aanval op die Bastille ’n opstand was, die hertog De la Rochefoucauld geantwoord het, “Nee, my heer, dis ’n revolusie.” (Schama, 420) En dit was inderdaad. Die sans-culottes het hulle sê gesê en het geweier om geïgnoreer te word. Op 15 Julie het die koning onder luide toejuiging van die Vergadering die onttrekking van troepe uit die Paryse streek aangekondig, en op die 29ste het hy Necker laat terugkom om vir ’n derde maal in sy ministerie te dien.

The Heads of Launay and Flesselles
Die koppe van De Launay en De Flesselles
Unknown Artist (Public Domain)

Op die aand van die 15de het die koning en koningin ’n skare vanaf ’n balkon in Versailles begroet. Die markies De Lafayette (1757-1834) het ’n toespraak gelewer waarmee hy die skare oortuig het dat die koning mislei is en dat hy geen kwade bedoelings gekoester het nie, en dat hy weereens sy ruimhartige self was. Lafayette is daardie selfde aand bevel van die Nasionale Garde gegee, en Jean Sylvain Bailly, orkestreerder van die tennisbaan-eed, is burgemeester van Parys gemaak.

Dit is betekenisvol dat nie een van hierdie aanstellings deur die koning – wat die volgende dag ’n rooi-en-blou Revolusie-kokarde van Bailly ontvang het – gemaak is nie. Om die koning se versoening met sy mense te simboliseer, het Lafayette later Bourbon-wit by die ontwerp van die kokarde gevoeg, waardeur die moderne Franse driekleur tot stand gekom het. Maar dit het al duideliker geraak dat Louis XVI besig was om sy mag te verloor. Die Comte d’Artois, ontsenu deur hierdie gedagte, het op 16 Julie in die middel van die nag stilletjies uit Versailles gesluip, en ’n gevolg koningsgesindes met hom saamgeneem. Artois en sy volgelinge het eers tot by die grens gevlug, en daarna die land geheel en al verlaat, en sodoende die eerste golf émigrés geraak wat Frankryk weens die Revolusie verlaat het.

Intussen is daar in Parys besluit dat die Bastille ten gronde gerig moes word, sodat dit nie weer deur koninklike troepe beset kon word nie. Met die arbeid van 1 000 werkers was die vesting teen November heeltemal gesloop. Later het Lafayette die sleutel van die Bastille as geskenk aan die president van die Verenigde State, George Washington, gegee wat dit in sy woning te Mount Vernon ten toon gestel het.

Die eerste herdenking van die bestorming van die Bastille is op 14 Julie 1790 landwyd as die Fête de la Fédération gevier, met enorme feesvieringe op die plek waar die Bastille eens gestaan het. Vandag word 14 Julie – wat as die Fête nationale francaise (Franse nasionale viering), oftewel Bastilledag in die res van die wêreld, bekend staan – op die herdenking van die bestorming gevier om hulde te bring aan die Revolusie, die eenheid van die Franse volk en die ontluiking van demokrasie in die land.

Terwyl die bestorming van die Bastille belangrik was omdat dit mag in die hande van die sans-culottes geplaas het en omdat dit een van die eerste beduidende gebeurtenisse van die Revolusie was, was dit ook opvallend omdat dit bloedvergieting by die Revolusie betrek het. Nege dae nadat die Bastille geval het, is die dood van De Launay en De Fleselles gevolg deur die soortgelyke moord op Bertier de Sauvignay, intendant van Parys, en Foulon, een van die ministers wat Necker se regering sou vervang het. Hulle koppe is bo-op pieke vasgesteek en Foulon se mond is vol gras gestop om sy oënskynlike betrokkenheid by ’n hongersnoodkomplot teen die Franse volk aan te dui. Die Revolusie blyk reeds voor die bekendstelling van die guillotine en die Skrikbewind ’n liefde vir bloed te ontwikkel het.

Die bestorming van die Bastille het dus van die opkoms van vryheid in Frankryk, sowel as van die begin van die geweld waarvoor die Franse Revolusie so berug is, blyke gegee. Weens die monumentale waarde daarvan vir die voortgang van die Revolusie, beklee die val van die Bastille ’n belangrike plek in die Westerse geskiedenis, en in die opkoms van Westerse demokrasieë.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Vrae en antwoorde

Wat was die Bastille?

Die Bastille was ’n vesting en staatstronk wat in die 14de eeu gebou is om Parys teen die Engelse te verdedig. Teen die tyd van die Franse Revolusie het dit ’n simbool van onderdrukking en tirannie geraak.

Wie was op 14 Julie 1789 die sewe gevangenes in die Bastille?

Die sewe gevangenes in die Bastille het vier vervalsers ingesluit, sowel as ’n “kranksinnige” Ier, ’n jong aristokraat met afwykende gedrag wat op aandrang van sy familie opgesluit is, asook ’n man wat eens saamgesweer het om koning Louis XV te vermoor.

Wat was die bestorming van die Bastille?

Die bestorming van die Bastille het plaasgevind toe ’n menigte woedende Franse burgers en opstandige soldate die Bastille op 14 Julie 1789 aangeval het. Die vesting het oorgegee nadat kanonne deur die revolusionêre op die vesting se hek gerig is.

Waarom het hulle die Bastille bestorm?

Stygende broodpryse, die konsentrasie van buitelandse soldate rondom Parys en teenrevolusionêre maatreëls deur die koning – soos die ontslag van Jacques Necker – het daartoe gelei dat die mense in Parys in opstand gekom het. Die menigte se soektog na wapens en buskruit het hulle na die Bastille gelei.

Waarom was die bestorming van die Bastille ’n keerpunt in die Franse geskiedenis?

Die bestorming van die Bastille dui op een van die eerste gevalle waartydens die Franse laerklasse die mag in eie hande geneem het, en dit was ook die eerste geval van bloedvergieting wat deur die Franse revolusionêre gepleeg is. Die gebeurtenis was ook beduidend in die ondergang van die monargie.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, May 02). Die bestorming van die Bastille [Storming of the Bastille]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20766/die-bestorming-van-die-bastille/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Die bestorming van die Bastille." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 02, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20766/die-bestorming-van-die-bastille/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Die bestorming van die Bastille." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 02 May 2022. Web. 05 Jul 2022.