Napoleon Bonaparte tydens die vroeë Franse Revolusie (1789-1794)

Artikel

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 14 July 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Spaans, Frans

Van al die loopbane wat tydens die chaotiese dekade van die Franse Revolusie (1789-1799) tot nuwe hoogtes uitgestyg het, was geeneen meer skouspelagtig of het enigeen meer impak as dié van Napoleon Bonaparte (1769-1821) gehad nie. Deur die Revolusie het Napoleon van ’n onmerkwaardige geboorte in ’n geringe Korsikaanse adelstand ’n pad tot roem, militêre sukses en – uiteindelik – sy rol as keiser van die Franse volk gevind.

Portrait of Napoleon Bonaparte, 1792
Portret van Napoleon Bonaparte, 1792
Henri Félix Emmanuel Philippoteaux (Public Domain)

’n Vlugtige blik op sy loopbaan is genoeg om duidelik te wys hoe verweef sy lot met die Revolusie geraak het. Sy belowende prestasie by die beleg van Toulon in 1793 het tot sy briljante bevel oor die Leër van Italië gelei, wat weer gehelp het om hom van genoeg gewildheid en invloed te voorsien om in die Staatsgreep van 18 Brumaire – die gebeurtenis wat baie vakkundiges as die einde van die Revolusie beskou – beheer van die regering oor te neem. Om hierdie weergawe van Napoleon te verstaan, is dit nodig om te kyk na die persoon wat hy aan die begin van die Revolusie gewees het: Die Napoleon van 1789 was ’n skraal, onbeholpe man wat homself nog nie eers as Frans beskou het nie – nouliks die toonbeeld van ’n swierige militêre bevelhebber of Franse patriot.

Verwyder Advertensies

Advertisement

In 1789 het die 20-jarige Napoleon Bonaparte hom inderdaad in ’n bietjie van ’n identiteitskrisis bevind, en daarna gestreef om sy ambisie van literêre roem met sy onderrig as soldaat, en sy verbintenis tot Franse revolusionêre ideale met sy Korsikaanse nasionalisme te versoen. Die vroeë Revolusie was ongetwyfeld ’n tydperk van persoonlike ontwikkeling vir die jong artillerieluitenant, waarvan die gevolg nie slegs sy eie toekoms nie, maar ook dié van die ganse Europa sou beïnvloed.

Die Korsikaan

In 1768, die jaar voor Napoleon se geboorte, het die Franse koninkryk die eiland Korsika van die Republiek van Genua gekoop, wat die vorige paar eeue van ’n afstand af daaroor geheers het. Alhoewel die Korsikane nominaal onder Genuese beheer geval het, was hulle eintlik maar daaraan gewoond gewees om hulleself te regeer. Hulle het redelik onlangs op onafhanklikheid aanspraak gemaak en in 1755 die totstandkoming van die Korsikaanse Republiek afgekondig; maar sodanige strewe tot selfbewind het met die aankoms van die Franse tot ’n einde gekom. In Napoleon se eie woorde, is hy gebore “met die afsterwe van die vaderland. Dertigduisend Fransmanne is op ons kuste uitgebraak, en het die setel van vryheid in strome bloed versuip.” (Bell, 18)

Verwyder Advertensies

Advertisement

TEN SPYTE DAARVAN DAT HY VOORDEEL UIT FRANSE BESETTING GEPUT HET, HET DIE TIENDERJARIGE NAPOLEON ’N STOERE KORSIKAANSE NASIONALIS GEBLY.

Uiteraard was daar weerstand gewees. Onder leiding van Pasquale Paoli (1725-1807) kon die Korsikane aanvanklik daarin slaag om die Franse Verkenningsmag terug te dryf wat in 1768 op hul kus voet aan wal gesit het. Hierdie sukses het egter nie voortgeduur nie aangesien die Franse die voordeel van die getalleoorwig en meer voorrade geniet het; die Franse oorwinning by die Slag van Ponte Novu in 1769 het die Korsikaanse wil om te veg, ’n nekslag toegedien. Alhoewel sporadiese guerrilla-oorlogvoering voortgeduur het, het Paoli na Brittanje gevlug, en is Korsika deur Frankryk geannekseer.

Alhoewel die nederlaag deur talle Korsikane betreur is, was daar sommiges wat by die verandering in regime gebaat het. Napoleon se vader, Carlo Buonaparte, was een van hulle. Carlo was ’n voormalige bondgenoot van Paoli maar het gekies om van die patriotiese saak afstand te doen, ten einde ’n toekoms vir sy gesin te verseker. Die kans wat hy geneem het, het die gewenste uitwerking gehad aangesien Carlo se toewyding tot die nuwe regering ingevolge Franse wetgewing aan hom die status van geringe adelstand vir sy gesin vergun het; dit het hom in staat gestel om sy oudste seuns te stuur om in Franse koninklike akademies onderrig te word. Weens sy vader se ommeswaai in lojaliteit het die tienjarige Napoleon onderrig ontvang by die militêre akademie te Brienne in die noorde van Frankryk, waar hy Frans geleer het, en in wiskunde uitgeblink het. Paoli sou egter Carlo se oënskynlike verraad nóg vergewe, nóg vergeet.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ten spyte daarvan dat die tienderjarige Napoleon voordeel uit die Franse besetting geput het, het hy ’n stoere Korsikaanse nasionalis gebly. Hy het die verbande Paoli as vryheidsvegter verafgod, en aan die drome van ’n onafhanklike Korsika vasgeklou. Sodanige gedrag, tesame met sy vreemde aksent en sy moeilik uitspreekbare naam – wat in die skoolregister as Neapoleonne Buonaparte aangeteken is – het Napoleon aanstons van sy Franse klasmaats vervreem. Hy het baie van sy tyd alleen deurgebring, en kort voor lank het hy, volgens sy skoolhoof, ’n “peinsende en swaarmoedige” geaardheid ontwikkel (Roberts, 11). Weens ’n gebrek aan metgeselle het Napoleon geselskap in boeke gevind. Hy was gek oor die digkuns en geskiedenis, alhoewel hy ook belang gestel het in die Verligting-filosowe wat destyds so gewild was. Hy was veral toegeneë tot Jean-Jacques Rousseau, moontlik as gevolg van Rousseau se eie ondersteuning van die netelige Korsikaanse omstandighede. Napoleon het baie van Rousseau se idees aangeneem, wat binnekort dieselfde idees geraak het wat die Revolusie sou aanvuur.

Napoleon at Brienne
Napoleon te Brienne
Jacques Marie Gaston Onfroy de Breville (Public Domain)

In 1786, die jaar nadat hy by die gesaghebbende École Militaire as artillerieluitenant gegradueer het, het die 16-jarige Napoleon soort van met ’n letterkundige loopbaan begin. Hy was ’n buitengewoon ambisieuse jongman maar dit blyk onwaarskynlik te gewees het dat hy, as Korsikaan van geringe adelstand, veel in die Franse leër sou bereik het. Om daarvoor te vergoed, het Napoleon eerder literêre roem nagestreef. Oor die verloop van die volgende tien jaar het hy meer as 60 essays, novelles en briewe geskryf. Sy eerste bekende essay, wat hy op 26 April 1786 geskryf het, het aan die hand gedoen dat Korsika ’n onteenseglike reg tot verset teen die Franse gehad het, terwyl ’n opvolg-essay getiteld Oor selfmoord ’n interessante mengsel van nasionalistiese trots en tienerangst was:

My medelandgenote gaan onder kettings gebuk terwyl hulle die hand soen wat hulle onderdruk … julle Franse, wat nie daarmee vir lief geneem het om ons van alles te ontroof wat ons gekoester het nie, het ook ons karakter gekorrupteer. ’n Goeie patriot behoort te sterf wanneer sy vaderland se bestaan tot ’n einde gekom het. (Roberts, 22)

Alhoewel dit aan verraad gegrens het – veral vir ’n ingeskrewe offisier in die Franse leër – het Napoleon oor die volgende paar jaar sy nasionalisme in sy skryfwerk aangehou voorstaan. Hy het maande lank onderbroke aan ’n omvattende geskiedenis van Korsika geskryf waarin hy sy landgenote met die deugsame antieke Romeine vergelyk het, terwyl hy ook ’n novelle getiteld Nuwe Korsika, neergepen het wat, in die woorde van die biograaf Andrew Roberts (31), nie veel beter as ’n grafiese “frankofobiese wraakfantasie” was nie. Hy was nie juis suksesvol om sy werk te laat publiseer nie en vir ’n wyle blyk die jong artillerieluitenant om tot sowel letterkundige as militêre vergetelheid gedoem te gewees het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

En toe, in 1789, het die verloop van die geskiedenis verskuif. Die Algemene Landgoed van 1789 het hulself as Nasionale Vergadering verklaar, en gesag uit die hande van die koning geworstel. In Julie het die gewone burgers sake in hulle eie hande geneem toe hulle die Bastille bestorm het. Die Franse Revolusie het begin.

Die revolusionêr

Ten spyte van sy verpligtinge as ’n Franse offisier, het Napoleon die Revolusie verwelkom, en dit beskou as die verwesenliking van die Verligting-ideale waarin hy begin glo het, ’n triomf van logika en rede. Hy het egter steeds sy militêre plig nagekom en agt dae ná die val van die Bastille gehelp om ’n oproerigheid uitmekaar te dryf, waartydens 33 mense gearresteer is. In Augustus is hy toestemming vergun om met siekverlof na Korsika terug te keer. In die Korsikaanse hoofstad Ajaccio is Napoleon herenig met sy broers Joseph en Lucien, waarvan laasgenoemde reeds op die ouderdom van 14 jaar ’n stoere ondersteuner van radikale Revolusionêre politiek was. Die Bonapartes het uitgesproke Revolusionêre ondersteuners in Ajaccio geword, en het die driekleurkokarde in hulle hoed gedra, en hulle briewe met die verpligte burger onderteken.

Vroeg in 1790 het die Bonapartes nog meer aangetrokke tot die Revolusionêre saak geraak toe die Nasionale Vergadering vir Korsika amptelik as ’n gebied van Frankryk verklaar het. Onderhewig aan Franse wetgewing, sou Korsikane nou deur burgerskap bevoordeel word, en om sake verder te verbeter, het die Vergadering verklaar dat Korsika voortaan slegs deur Korsikane regeer sou word. Op dieselfde tyd het hulle Paoli genooi om van sy ballingskap van 22 jaar terug te keer. Napoleon was oorstelp van vreugde, waarvan die enorme banier wat by Casa Bonaparte opgehang is, wat “Vive la Nation! Vive Paoli!” gelees het, voldoende getuig het (Roberts, 33).

Verwyder Advertensies

Advertisement

Pasquale Paoli
Pasquale Paoli
William Beechey (Public Domain)

Maar nie alle Korsikane was ingenome met hierdie verwikkelinge nie, en niemand was minder gelukkig as Napoleon se held, Pasquale Paoli, self nie. Die bejaarde vryheidsvegter het in die Vergadering se dekreet niks anders gesien nie as ’n poging deur Parys om hulle wil verder op die eiland af te dwing. In die Bonaparte-broers het hy niks anders as die kinders van ’n Franse kollaborateur gesien nie. Carlo Buonaparte was dalk dood gewees maar volgens die manier waarop sy kinders die Paryse regering gevier het, het Paoli hulle as niks beter beskou nie. Hy het geweier om Joseph se veldtog vir afgevaardigde in die Korsikaanse vergadering te ondersteun, en hy het verder aanstoot geneem deur ’n pamflet wat deur Napoleon geskryf is, wat die spot gedryf het met baie van die teruggekeerde Korsikaanse bannelinge omdat hulle ten gunste was van ’n konstitusie soortgelyk aan die Britse styl, eerder as om voorkeur te gee aan die konstitusie wat toe deur die Algemene Vergadering aan die ontwikkel was. As gevolg van hierdie pamflet het Paoli die versoek van Napoleon om die toewyding vir sy geskiedenis van Korsika te skryf, passief aggressief van die hand gewys, en selfs geweier om die manuskrip te lees, en die verskoning aangevoer dat “geskiedenis … nie tydens jeug geskryf [behoort] te word nie” (Roberts, 34). Napoleon se drome van literêre sukses is weereens in die wiele gery, hierdie keer deur sy jeugheld.

Nadat hy kortstondig na Frankryk teruggekeer het om verdere militêre diens te verrig, het Napoleon hom vroeg in 1792 weer in Korsika bevind om homself as luitenant-kolonel in die Korsikaanse Nasionale Garde verkiesbaar te stel. Dit was ’n morsige en dramatiese verkiesing, propvol omkopery en selfs tydelike ontvoerings van verkiesingsbeamptes. Paoli het Napoleon se opponent ondersteun, maar Napoleon het die steun van Antoine-Christoph Saliceti geniet wat die Nasionale Konvensie – wat die Nasionale Vergadering as Frankryk se beheerliggaam opgevolg het – op Korsika verteenwoordig het. Met die ondersteuning van Parys het Napoleon die verkiesing gewen, en die luitenant-kolonelskap bekom.

Nie lank nie nadat Napoleon in sy pos aangestel is, het Saliceti bevel gegee dat alle kloosters en nonnekloosters in Ajaccio gestroop moes word, en die opbrengs verskeep word om die tesourie van die sentrale regering in Parys te finansier. Dit is met woede deur die Katolieke burgers van Ajaccio begroet, wat op Paassondag 1792 in opstand gekom het. Napoleon is opdrag gegee om die opstand te onderdruk. Die bloedige stryd het vier dae lank geduur, waartydens een van Napoleon se luitenante reg langs hom doodgeskiet is. Tydens die verwarring het Napoleon blykbaar onsuksesvol probeer om die dorp se gefortifiseerde sitadel, wat deur Franse gewone troepe beman is, te oormeester. Paoli, wat ’n geleentheid gesien het om van die lastige kolonel ontslae te raak, het aan die Ministerie van Oorlog in Parys geskryf en Napoleon van verraad beskuldig. Gelukkig vir Napoleon het niks ooit van die affêre geword nie aangesien die ministerie ander kwellinge gehad het: Op 20 April 1792 het Frankryk oorlog teen Oostenryk en Pruise verklaar, en die Oostenrykse Nederland binnegeval.

Die Jakobyn

Ná die Paassondag-debakel kon Napoleon nie in Ajaccio bly nie, derhalwe het hy teruggekeer na Parys, in die hoop dat hy sy offisierskap in die leër kon hervat. Tydens die Demonstrasie van 20 Junie 1792, toe ’n Paryse menigte die Tuileries Paleis stormgeloop het, koning Louis XVI van Frankryk en koningin Marie Antoinette bygedam en die koning gedwing het om die rooi mus van vryheid op die paleisbalkon te dra, het Napoleon hom in die stad bevind. Alhoewel hy geen respek vir die monargie gehad het nie, het Napoleon menigtes verpes, en het gewonder waarom die koning en sy wagte sonder teenstand toegelaat het dat die menigte hulle so verneder. Volgens sy vriend Bourrienne het Napoleon blykbaar opgemerk, “Watter kranksinnigheid! Hoe kon hulle daardie gepeupel toelaat om in te kom? Waarom blaas hulle nie vier- of vyfhonderd van hulle weg met die kanonne nie? Die res sal vinnig op die vlug slaan!” (Roberts, 39)

DIE REVOLUSIE HET NAPOLEON VAN ’N DOELWIT VERSKAF.

Hy was daardie September steeds in Parys toe meer as 1 200 mense tydens die September Slagting in die stad se tronke vermoor is. Hierdie slagting, in reaksie op Pruise en Oostenryk se dreigement om Parys ten gronde te rig, is deur Napoleon verdedig wat verklaar het, “Hierdie slagting … het ’n kragtige uitwerking op die manne van die invallende leër teweeg gebring. In een oomblik het hulle gesien hoe ’n hele bevolking teen hulle in opstand kom.” (Roberts, 40) Hierdie woorde het hom al nader aan Jakobinisme gebring, ’n ideologie wat reeds ten volle deur sy broer Lucien omhels is wat onder die alias “Brutus” in die Korsikaanse kapittel van die Jakobynse Klub bekend gestaan het.

In 1793 het Napoleon ’n pamflet genaamd Le Souper de Beaucaire geskryf, ’n mededeling van ’n fiktiewe aandete in die dorpie Beaucaire. Die pamflet was in die vorm van ’n bespreking tussen Napoleon self en ’n groep misnoegde handelaars, en het aan die hand gedoen dat Frankryk in eksistensiële gevaar verkeer het, en dat die Jakobynse regering ondersteun moes word, voordat wraakgierige aristokrate die nasie kon verswelg. Die pamflet, wat Napoleon onteenseglik as ’n ware goedgesinde van die Jakobynse saak gekenmerk het, het die aandag getrek van Augustin Robespierre, jonger broer van die meer bekende Jakobynse leier, wat gereël het dat die pamflet gepubliseer word. Dit was ’n keerpunt in Napoleon se loopbaan wat aan hom kosbare konneksies besorg het.

The Supper at Beaucaire
Die aandete in Beaucaire
Jean-Jules-Antoine Lecomte du Nouÿ (Public Domain)

Hy het laat 1792 – kort nadat die Eerste Franse Republiek uitgeroep is – na Korsika teruggekeer om ’n kampvegter vir die Jakobynse saak te raak. Met sy terugkeer het hy die eiland selfs meer anti-Fransgesind gevind as toe hy dit verlaat het, aangesien baie van die inwoners deur die Revolusie se ontkersteningsbeleide en die September Slagting vervreemd geraak het. Napoleon het hom intussen ten volle aan die kant van die Revolusie geskaar. Soos wat die biograaf Roberts (41) verduidelik:

Hy het van ’n Korsikaanse nasionalis in ’n Franse revolusionêr ontluik nie soseer omdat hy ten einde laas sy geboelie op skool te bowe gekom het, of weens enigiets met sy vader te doen nie … maar bloot omdat die politiek van Frankryk en Korsika aansienlik verander het, en so ook sy plek daarbinne.

Dit was ongeveer hierdie tyd wat hy opgehou het om geskiedenis en fiksie te skryf, en aangevoer het dat hy nie langer “die eng ambisie het om ’n skrywer te raak nie” (Bell, 19). Die Revolusie het hom van ’n nuwe doelwit voorsien. In Februarie 1793, ’n maand ná die teregstelling van koning Louis XVI, is Napoleon sy eerste werklike militêre bevel gegee. Sy opdrag was om drie kleinerige Sardiniese eilande van die koninkryk Piedmont-Sardinië – wat hulle onlangs by die vinnig groeiende lys Franse vyande geskaar het – te bevry. Hy is deur Paoli gekies wat waarskynlik heimlik gehoop het dat Napoleon sou misluk want, eerder as die 10 000 man wat die Paryse Konvensie vir die sending versoek het, het Paoli vir Napoleon van ’n skamele 1 800 voorsien. Dit was nie naastenby genoeg om die taak te verrig nie en Napoleon moes noodgedwonge verslaan na Korsika terugkeer.

Teen hierdie tyd was die skeuring tussen Paoli se ondersteuners en die Konvensie onvermydelik; trouens, Paoli se lojaliteit het nader beweeg aan Groot Brittanje, sy ou gasheer tydens sy ballingskap. Selfs nou het Napoleon sy getrouheid aan sy tuisland met sy nuutgevonde identiteit as Franse revolusionêr probeer versoen. Maar toe Saliceti gelas dat Paoli weens verraad in hegtenis geneem word, het sy ondersteuners teen die Jakobynse regime in opstand gekom. Napoleon het besef dat hy ’n besluit moes neem. Hy het die Republiek gekies.

Die soldaat

Op 3 Mei 1793 is Napoleon deur ondersteuners van Paoli aangehou toe hy onderweg was om by sy broer in Bastia aan te sluit. Hy is kort daarna deur dorpenaars bevry wat Frankryk simpatiek gesind was, maar die familie se landgoed, Casa Bonaparte, is ’n paar weke later deur Paoli-ondersteuners geplunder. Nadat die Paoli-regering Ajaccio oorgeneem het, het hulle die Bonaparte-familie amptelik voëlvry verklaar. ’n Swaarhoofdige Napoleon het uiteindelik sy jeugheld afgesweer, en geskryf dat Paoli “haat en wraaksug” in sy hart gehad het (Roberts, 44). Met min opsies tot hulle beskikking, het die hele Bonaparte-familie Korsika op 11 Julie 1793 aan boord die skip Proselyte verlaat, en twee dae later by die Franse hawestad Toulon voet aan wal gesit. Teen die einde van die maand het Paoli vir koning George III van Groot Brittanje as heerser van Korsika erken. Behalwe vir ’n vlugtige aandoen in 1799 tydens die terugvaart van sy veldtog in Egipte, het Napoleon nooit weer oë op Korsika gelê nie.

Die het nie lank geneem voordat Napoleon se Jakobynse konneksies begin vrugte afwerp nie. ’n Gesamentlike leër van Britte, Spanjaarde en Napolitane het Toulon op 24 Augustus op versoek van die fédéré-rebelle beset wat daar in opstand gekom het. Weens sy vriendskap met vername Jakobynse figure soos Saliceti en Augustin Robespierre, en omdat die leër deur massa-emigrasies en teregstellings uitgedun is, is Napoleon onmiddellik die rang van majoor in die leër gegee wat gestuur is om die stad te herower. Teen Oktober was hy in bevel van al die artillerie wat by die beleg van die stad betrokke was. Sy briljante en waagmoedige optrede tydens die beleg van Toulon het die eerste hoofstuk in die Napoleontiese legende geraak; in Desember het hy ’n enorme rol in die val van die stad gespeel. Vir sy optrede is hy op 22 Desember, op slegs 24-jarige ouderdom, die rang brigadier-generaal toegeken.

Bonaparte at the Siege of Toulon
Bonaparte by die beleg van Toulon
Édouard Detaille (Public Domain)

Deur van sy nuutgevonde invloed gebruik te maak, het Napoleon vroeg in 1794 ’n plan vir die inval van Italië by die Komitee vir Openbare Veiligheid ingedien. Die plan is ondersteun deur Augustin Robespierre, onder wie se toesig die Italiaanse oorlogstoneel geplaas is, en wat gehelp het om Napoleon as die bevelvoerder van artillerie in die Leër van Italië aangestel te kry. In die hoop om meer geïntegreerd in die Jakobynse leierskap te raak, het Napoleon daardie Julie namens Robespierre op geheime sendings na Genua vertrek. Dit was die slegste moontlike tyd wat hy dit kon gedoen het. Daardie maand het die Thermidoriaanse Reaksie tot die val en teregstelling van vooraanstaande Jakobynse leiers gelei, onder meer die Robespierre-broers. Weens sy verhouding met Augustin is Napoleon op 9 Augustus in Nice in hegtenis geneem.

Indien Napoleon in Parys gewees het toe die Jakobyne uit die kussings gelig is, kon sy kop baie maklik saam met dié van sy voormalige beskermheer onder die valbyl gerol het. Pleks daarvan is hy op 20 Augustus weens ’n gebrek aan bewyse vrygelaat. Terwyl ander voormalige Jakobyne sou verkies het om ná so ’n noue ontkoming in die vergetelheid te verdwyn, was Napoleon steeds ’n man met onblusbare ambisie. Sy kordaatstukke het kort voor lank die aandag getrek van een van die nuwe Thermidoriaanse leiers, Paul Barras, wat vir Napoleon die opdrag gegee het om ’n opstand in Parys te onderdruk. Napoleon het die taak, die opstand van 13 Vendemiaire, met berekende doeltreffendheid uitgevoer – die bekende “vlagie kartets” – wat sy stand nog meer verhoog het. In Maart 1796, deels te danke aan die pogings van sy nuwe beskermheer, Barras, is Napoleon bevel van die Leër van Italië gegee. Napoleon se eerste Italiaanse veldtog was die beslissende oomblik in die Oorlog van die Eerste Koalisie, en het Napoleon ook gerig op sy trajek na die troon.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, July 14). Napoleon Bonaparte tydens die vroeë Franse Revolusie (1789-1794) [Napoleon Bonaparte During the Early French Revolution (1789-1794)]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-2036/napoleon-bonaparte-tydens-die-vroee-franse-revolus/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Napoleon Bonaparte tydens die vroeë Franse Revolusie (1789-1794)." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig July 14, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-2036/napoleon-bonaparte-tydens-die-vroee-franse-revolus/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Napoleon Bonaparte tydens die vroeë Franse Revolusie (1789-1794)." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 14 Jul 2022. Web. 07 Dec 2022.