Ancient History Encyclopedia has a new name!

We are now World History Encyclopedia to better reflect the breadth of our non-profit organization's mission. Learn More

Daaglikse lewe in antieke China

Artikel

Emily Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 27 April 2016

Oorspronklike teks in Engels: Daily Life in Ancient China

Die Chinese kultuur is vandag een van die wêreld se oudste kulture. Hierdie kultuur het meer as 6 000 jaar gelede in die Geelriviervallei begin ontwikkel en baie van daardie antieke gebruike word vandag steeds beoefen. Die Chinese het ’n samelewing ontwikkel wat gegrond was in respek vir die geeste van die aarde, ’n mens se voorouers, die gode en ander mense. Daar is geglo dat die wêreld deur geeste en godhede geregeer is en daarom moes mense optree asof hulle hul te alle tye in die teenwoordigheid van hierdie geeste bevind het.

Die daaglikse lewe in antieke China het deur die eeue heen verander maar het hierdie waardes van die aanwesigheid van die gode en iemand se voorouers in feitlik elke era weerspieël. In die prehistoriese tydperk (ca. 5000 VHJ) het mense in gehuggies in die Geelriviervallei gewoon. Dorpies soos Banpo toon bewyse van ’n matriargale samelewing, met ’n priesterklas wat deur vroue oorheers is wat geregeer het en die godsdienstige owerhede was.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die mense het in klein, ronde huisies gebly wat in die grond ingebou was, het dierevelle gedra en ’n soort animistiese geloof beoefen. Dorpies soos Banpo het eers in groter gemeenskappe ontluik en toe in stede ontwikkel. Die Xia Dinastie (2070-1600 VHJ) is die eerste regeringsvorm in China waartydens groot stede gevestig is. Die dinastie was vermoedelik merendeels mitologies totdat argeologiese bewyse ontdek is wat volgens sekere vakkundiges die bestaan daarvan bewys (alhoewel daar steeds oor hierdie bewyse gedebatteer word). Ná die Xia het die Shang Dinastie (1600-1046 VHJ) gevolg, waartydens skrif ontwikkel is en die eerste geskrewe getuienis verskyn het van hoe die lewe vir mense in antieke China daar uitgesien het.

Banpo Village, Xi'an, China
Banto Village, Xi'an, China
Ian Armstrong (CC BY-SA)

Sosiale klas, klerasie en optooiing

Sy is vermoedelik ca. 2696 VHJ uitgevind toe die godin Leizu, vrou van die oppergod Shangti, tee genuttig het en ’n kokon in haar koppie geval het. Soos die kokon uitgerafel het, het sy gesien dit is alles een rafel en daarom het sy moerbeibome geplant waarin sywurms hul webbe kon spin om sy te maak. Die adel en koninklikes was die enigste mense wat sy mag gedra het. Diegene wat die sy tot klere verwerk en selfs die handelaars wat dit verkoop het, is nie toegelaat om dit te dra nie. Die grootste deel van die Chinese bevolking het klere gedra wat van hennep gemaak is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Vroue het lang tunieke gedra wat tot by hul enkels gestrek het en om die middel vasgebind was; mans se tunieke was korter – net tot by hul knieë – en soms het hulle ’n broek met materiaalstewels of sandale gedra. In die kouer seisoene het hulle ’n baadjie gedra wat van hennep gemaak is; dit was opgestop vir ekstra hitte. As ’n teken van beskerming het Chinese vroue die prent van ’n tier op hulle kinders se klere vasgestik. Die tier is as die koning van die diere beskou en die prent daarvan sou boosheid afweer. Soms het ma's buiten die prent van ’n tier ook dié van ’n padda of ’n slang op die klere vasgestik, om meer beskerming teen gevaar te verleen.

Hierdie praktyk het na die hoër klasse versprei waar drake en tiere vir dieselfde doeleinde op syklede geborduur is. Tydens die Sui Dinastie (589-618 HJ) het die keiser verorden dat daar te veel van ’n ooreenkoms was tussen dit wat die kleinboere dra en dit wat die hoër klasse dra (alhoewel die ryk adel steeds die enigstes was wat sy kon dra), en hy het ’n wet uitgereik dat alle kleinboere óf blou óf swart klere moes dra; slegs die rykes is toegelaat om ander kleure te dra.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Iemand se sosiale klas is min of meer volgens geboorte bepaal. Indien iemand se pa ’n kleinboer was, sou hy of sy ook ’n kleinboer wees. Die sosiale skeiding tussen ’n heersersklas, die adel, handelaars (besigheidseienaars) en die werkersklaskleinboere het met die uitvind van skrif nóg dieper geword: Mense het verdeeld geraak tussen ’n hoër klas wat kon lees en ’n ongeletterde bevolking kleinboere.

Vanaf die Shang Dinastie kon mense egter hulle stand in die lewe verbeter deur die Keiserlike Eksamen te slaag en vir die regering te werk. Dit was baie moeilik om hierdie eksamen deur te kom. Nie alleen moes ’n mens geletterd wees nie maar jy moes ook nege boeke (bekend as Die Vyf Klassieke Werke en Die Vier Boeke) byna memoriseer om vrae daaroor te kon antwoord.

Die rykes en die middelklas was adel, handelaars, politici of staatsamptenare terwyl die armes kleinboere en arbeiders was. Tavernes en kroeë was gewilde uithangplekke vir mans van alle klasse maar hulle het almal hul eie soort taverne gehad; die hoër klasse het nie na die laerklaskroeë gegaan nie en die laer klas is nie in die hoërklastavernes toegelaat nie. Vakkundige Charles Benn (57) skryf:

Verwyder Advertensies

Advertisement

In Changan het Westerlinge tavernes in die stadswyke langs die suidoostelike muur van die stad bedryf wat ’n aanhang onder digters geniet het. Hulle het blonde vroue met ’n wit vel en groen oë uit Sentraal Asië in diens geneem om te sing en te dans sodat klante meer geld op bier sou spandeer. Buiten die tavernes binne Changan se mure was daar kroeë waar dorpenaars wat langs ongeveer 19 myl van die oostelike pad buite die stad gewoon het, bier aan reisigers verkoop het.

Die stedelike tavernes het die behoeftes van die middelklas bevredig en die plattelandse tavernes dié van die laer klas. Tydens die Tang Dinastie (618-907 HJ) was daar in die stad Changan ’n area in die distrik Noordgehug bekend as die Gay Kwartier wat die smaak van die rykes gevolg het. Die woord “gay” beteken hier “lighartig” en baie duur en hoëklashofdames, oftewel courtisanes, het hulle dienste hier by die kwartiere aangebied. Benn (64) skryf, “Meer, of minstens soveel as, op prys gestel vir hulle talente as onthalers by feeste as vir hul seksuele dienste, was daar ’n ooreenkoms tussen hulle en die Japannese geisjas”.

Niemand uit die laer klas kon die Gay Kwartier betree nie en indien hulle dit wel sou doen, sou hulle nie kon bekostig om enige van die huise te besoek nie. Tavernes is dikwels deur vroue bedryf maar die Gay Kwartier is deur mans behartig wat teenoor die burgemeester van die stad aanspreeklik was. Dit was die standaardreëling regdeur China waar hofdames streng onder beheer van die regering was.

In die antieke tyd was onderskeid tussen die klasse ook in haarstyle en ander persoonlike voorkeure te sien. Mans en vroue uit alle klasse het hulle hare lank gedra aangesien hare na bewering van mense se voorouers af gekom het en dit oneerbiedig was om dit te sny. In die daaglikse lewe het mense hul hare in ’n bolla opgedoen maar dit was nie veronderstel om ooit gesny te word nie. Welgestelde vroue het hulle hare gelig met fyn afgewerkte penne wat van ivoor, goud of silwer gemaak is terwyl armer vroue hulle hare gelig het deur dit te knoop of die bolla met ’n stuk tou vas te bind.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Net soos die hare, is die liggaam as ’n geskenk van iemand se voorouers beskou en mag dit nie misbruik geword het nie. Jou liggaam was nie jou eie waarmee jy kon doen soos jy goedgedink het nie; dit moes met respek behandel word. Om hierdie rede het die meeste mense neergekyk op diegene met tatoeëermerke en ook omdat die merk van die liggaam met ink met barbaarse gebruike geassosieer is. Tatoeëermerke is egter gebruik om misdadigers te brandmerk, en dié wat gebrandmerk is, moes die merk vir die res van hulle lewe met hulle saamdra. Al kon hulle die werklike merk laat af brand, het die litteken steeds daar gebly.

Chinese Hairpins
Chinese haarnaalde
The Trustees of the British Museum (Copyright)

Daar is egter rekords van ’n hele paar mense wat gekies het om hulself as kunstige uitdrukking te laat tatoeëer. Charles Benn (112-3) skryf van een man wat 5 000 eenhede kontant bestee het sodat ’n kunstenaar sy borskas en maag kon priem sodat ’n landskap – kompleet met gazebo's genestel tussen die berge – sowel as markiestente wat riviere oorspan, bome, voëls en diere daarop kon pryk. Benn skryf ook van ’n ander man wat in sy jeug ’n slang reg oor sy liggaam laat tatoeëer het. Die uitbeelding van die slang het in sy regterhand begin waar die kake van die reptiel gapend op sy duim en wysvinger geteken is. Die liggaam van die slang het om sy pols, arm en nek gekrul. Van daar het dit na sy borskas, maag, dy en skeen oorgeseil, waar dit in ’n stert geëindig het.

Maar merendeels was dit net tronkvoëls of bendelede wat tatoeëermerke gehad het. Benn noem die voorbeeld van ’n straatbende met kaalgeskeerde koppe en tatoeëermerke wat mense in Changan se mark opgedons en beroof het. Nadat hulle gearresteer is, het die burgemeester hulle in die openbaar in die stadsplein laat doodslaan; daarna het baie mense hulle tatoeëermerke laat af brand sodat hulle nie met die bende geassosieer sou word nie.

Buiten tatoeëermerke is ook liggaamsreuk met barbare en misdadigers geassosieer, en die Chinese het groot sorg geneem om hulself behoorlik met parfuum te behandel. Benn (113) skryf, “Vroue en mans het hulself met parfuum behandel. Paleisdames het reukwater so gul aangebring dat wanneer hulle op ’n uitstappie gegaan het, die lug myle ver met hul welriekendheid deurtrek was.”

Hulle het ook deodorant gedra wat van kalk, wierook, naeltjies, amberboom en pypblom gemaak was. Volgens Benn (114) is die “mengsel … in klein sakkies verpak wat onder die armholtes gehang is. Die owerhede het ook aanbeveel dat die armholtes op Nuwejaarsdag met urien gewas word.” Na bewering het bad siekte bevorder en die gebruik was om slegs een maal elke vyf dae te was. Vir slegte asem het die Chinese naeltjies gesuig en opdrag is gegee dat elkeen wat in die keiser se teenwoordigheid verskyn het, dit eers moes doen voordat die keiser aangespreek is. Die reuk van voete was nog ’n bekommernis, en dit is deur parfuum of kamfer beheer.

Die skoene van welgestelde mense was sag en is van sy gemaak, met opgekrulde tone terwyl dié van die kleinboerklas growwe stewels of sandale was wat van strooi, hennep of hout gemaak is. Binnenshuis het almal pantoffels gedra wat van strooi, henneptou of sy gemaak is. Sowel mans as vroue van die hoër klas het hulle vingernaels lank laat groei om te wys dat hulle nie moes werk nie. Hulle het diensknegte gehad wat alles vir hulle gedoen het – hulle selfs gevoer het – sodat hulle nie hulle naels sou beskadig nie. Ryk vroue het juweliersware soos oorringe, armbande, halssnoere, amulette en ringe gedra. Sommige vroue het die vlerkies van ’n groen kewer aan hulle klere vasgespeld om hulle aantrekliker vir mans te maak.

Silk & Textile Shoe from China
Silk & Tekstiel skoen uit China
The Trustees of the British Museum (Copyright)

Tydens die era bekend as die Vyf Dinasties en Tien Koninkryke (907-960 HJ) het die Chinese voetbinding begin beoefen. Dit het waarskynlik vroeër begin maar het ná die heerskappy van die keiser Li Yu (937-978 HJ) ’n gebruik geraak. Dié keiser het sy konsort Yia Niang gelas om haar voete te ombind sodat dit soos ’n sekelmaan lyk en haar dan ’n spesiale dans vir gaste by een van sy partytjies laat doen. Li Yu het ’n groot goue standbeeld van ’n lotusblom in sy tuin laat oprig, en Yia Niang se dans was ter ere van die onthulling daarvan. So pragtig was haar dans dat die ander vroue daar begeer het dat hulle voete so klein en sierlik soos Yia Niang s'n moes wees, en kort voor lank het die idee posgevat dat ’n pragtige vrou klein voete behoort te hê.

Meisies so jonk as kleuters se voete is so styf in bande ombind dat hulle tone gebreek is en onder die voet ingevou is. Meisies moes loop deur op hul eie tone te trap en was jare lank deurentyd in pyn totdat hulle daaraan gewoond geraak het. Alhoewel hierdie gebruik onder die hoër klasse begin het, het dit binnekort algemene gebruik vir alle vroue in China geword. Dit het dit uiters moeilik gemaak om in die ryslande te werk, of om enige vorm van hande-arbeid te verrig. In antieke skilderye word vroue kruipend in die ryslande uitgebeeld omdat hulle nie kon loop nie. Voetbinding het eeue lank aangehou tot dit in 1911 HJ onwettig verklaar is. Baie vroue met wie ’n onderhoud in die laat 19de en vroeë 20ste eeu oor voetbinding gevoer is, het vertel hoe hulle jare lank van die pyn gehuil het en hoe dit hulle nooit mooier laat voel het nie.

Landbou, kos en drank

Rys was China se hoofgewas. Rys het die beste in oorstroomde landerye in die suidelike deel van China gegroei; derhalwe is meer kanale gegrawe om meer landerye regdeur die land onder water te sit. Rys was so belangrik dat dit gebruik is om mense se belasting te betaal. Rys is met elke maaltyd in een of ander vorm geëet en is selfs gebrou om wyn te maak. Koring en ander graan is ook verbou maar was nooit so belangrik soos rys nie.

Die Chinese dieet was – en is steeds – grotendeels vegetaries. Die Chinese tempels en kloosters het mense geleer dat ’n gesonde dieet ’n lang lewe tot gevolg het en het vegetarisme as menslike en gesonde manier van eet beklemtoon. Die Chinese het wel vleis geëet maar net selde en iemand sou nooit ’n hoender doodmaak wat steeds eiers gelê het nie. Vis was die gewildste dis wat saam met rys en groente bedien is.

Ding
Ding
The Trustees of the British Museum (Copyright)

Kos is binne die huis in ’n driepootpot genaamd ’n ding oor ’n lae vuur gaargemaak. Die ding kon direk op die vuur geplaas word met bestanddele wat heeldag bygevoeg is sodat dit stadig gekook het en die gesin se aandete gereed sou wees wanneer hulle van die landerye af terugkeer. Welgestelde mense het diensknegte gehad wat kos vir hulle voorberei het. Dié knegte het ook die ding gebruik maar kon ook panne gebruik of kos met oonde voorberei het. Tee was die belangrikste drankie. Dit is die eerste maal in ca. 100 VHJ met gebruik van verpoeierde blare gemaak. Verskillende blare is gemeng om verskillende smake te gee, of om verskillende uitwerkings teweeg te bring. Tee is as ’n kragtige medisyne beskou maar was ook net ’n gewilde drankie wat mense geniet en waarmee hulle ontspan het. Die gewildheid van tee het tot die teekultuur in China gelei, waarvan die teeseremonie die bekendste is.

Chinese Tea Ceremony
Chinese Tee-seremonie
Oleksii Leonov (CC BY-SA)

Volgens ’n legende het ’n antieke heerser genaamd Yan Di gegaan om medisinale kruie te soek om sy mense te help. Een dag het hy ’n krui geproe wat hom vergiftig het maar terwyl hy aan't sterwe was, het water van ’n teeboom op sy tong gedrup en hom genees. Daarna het hy teebome begin aanplant en vir sy mense tee gegee. Mense het tee as groente saam met hulle maaltye genuttig, en by tempels is tee as aanvaarbare godsdienstige offerande beskou. Onder die rykes het teetuine gewild begin raak. Dit het gelei tot die ontstaan van die teeseremonie – ’n omvattende ritueel van respek waartydens mense saam tee geniet. Die persoon wat die tee voorberei, bring deur middel van die voorbereiding en aanbieding hulde aan sy of haar gaste, en die gaste toon respek deur behoorlik deel te neem.

Tuislewe, speletjies en sport

Die teeseremonie is in iemand se huis of tuin gehou waar gaste verwelkom is. Net soos vandag, was die huis die middelpunt van die gesin se lewe. Vroue het na die huis omgesien terwyl mans buite die huis werksaam was. Vroue, mans en kinders van die kleinboerklas het almal op die landerye gewerk. Soos enigiets anders, het Chinese huise verskil na gelang van iemand se sosiale klas en hoeveel geld die persoon gehad het. Kleinboere het in hutte gewoon terwyl handelaars en ander middelklasmense in huise gewoon het wat van hout gemaak is en rondom ’n reghoekige binnehof gebou is waar ’n tuin aangeplant kon word. Die tuin was gewoonlik ’n grens rondom ’n patio met bome en bosse daarbinne.

Binne die huis was slaapkwartiere, ’n kombuis en ’n woonvertrek (soms baie groot) wat ’n eetsaal en vermaaklikheidsarea was. Gesinne het binne die woonvertrek geëet en gesels en na musiek geluister, of in die teenwoordigheid van hulle troetelkat gelees. Katte was die gewildste troeteldier in antieke China, en byna elke huis het een gehad. Daar is egter geen Jaar van die Kat in die Chinese diereriem nie. Volgens oorlewering is dit omdat, toe al die diere deelgeneem het aan die groot wedloop om te sien wie vir die diereriem gekies sou word, die rot die kat skrikgemaak het. Die kat het in die rivier geval en is deur die water meegesleur, en dit is waarom katte rotte sedertdien haat. Honde is eerder weens sekuriteitsdoeleindes en as ’n bron van kos aangehou alhoewel daar wel getuienis is dat die antieke Chinese met hulle honde as troeteldiere gespeel het.

Die vertel van stories was ’n gewilde tydverdryf en Chinese literatuur is propvol volksverhale en spookstories wat byna altyd ’n morele les bevat. Diere word dikwels in hierdie verhale uitgebeeld, met die vark waarskynlik die prominentste. Varke was hoog aangeskryf in antieke China en om selfs net een te besit, is as teken van sukses beskou; hoe meer varke iemand besit het, hoe ryker was die persoon. So belangrik was varke dat die piktogram vir die Chinese woord vir “tuiste” ’n dak met ’n vark daaronder is (Benn, 71).

Mense het ook speletjies soos mahjongg, go (’n tipe Chinese skaak) of dambord gespeel. Die Chinese het ook skopbal, voetbal (soos dit enige plek in die wêreld buiten Amerika gedefinieer word), stoei en boogskiet geniet. Weens die geloof in die soort spook bekend as die Shui Gui – die gees van ’n persoon wat verdrink het en gewag het om iemand anders te verdrink ten einde vrygestel te word – was swem nie ’n gewilde sport in China nie. Die Chinese het wel swem beoefen maar dit was nie ’n gewilde tydverdryf nie.

Chinese Board Game
Chinese bordspel
The Trustees of the British Museum (Copyright)

In elke huis was daar ’n altaar vir die gesin se voorouers, die plaaslike Tudi Gong en die gode wat die gesin aangehang het. In die kombuis was daar altyd die papierafbeelding van die kombuisgod wat as Zao Shen bekend gestaan het. Zao Shen was waarskynlik die huis se belangrikste god aangesien dit sy werk was om ’n ogie oor die gesin te hou en hulle veilig te hou maar ook om by die ander gode verslag te doen oor hulle daaglikse doen en late. Hy was soos ’n spioentjie in die huis vir die ander gode, maar hy het ook diegene beskerm op wie hy gespioeneer het.

Een keer ’n maand het Zao Shen die huis verlaat om by die ander gode te rapporteer hoe die mense vaar; gedurende hierdie tyd was die gesin baie versigtig om niks te doen wat bose geeste by die huis kon innooi nie aangesien hulle geen beskerming gehad het nie. Een maal ’n jaar, op Oujaarsaand, het Zao Shen weggegaan om sy volledige verslag aan Shangti en die ander gode in die hemelryk voor te lê. Kos en drank is dan vir sy afbeelding aangebied en sy mond is met heuning gesmeer sodat hy net ’n goeie woordjie sou doen wanneer hy die hemelryk bereik.

Hierdie papierafbeelding is dan verbrand om hom weg te help, vuurwerke is aan die brand gesteek om hom aan te jaag en slegs die beste verslag te doen oor hoe die gesin hulle gedra het. Die volgende dag, Nuwejaarsdag, het die mees geëerde vrou van die huis ’n nuwe afbeelding van Zao Shen gemaak en dit bo die stoof geplaas sodat dit vir die volgende jaar oor die gesin kon waak.

Geloof

Die Chinese geloof het in die prehistoriese tydperk begin toe mense ’n tipe animisme beoefen het. Hierdie praktyk het in die aanbidding van voorouers ontwikkel, en later tot die totstandkoming van gode en godinne gelei wat natuurlike magte gepersonifieer het. Die Tudi Gong was aardgeeste wat ’n mens ten alle tye moes eer en respekteer. Dit was die geeste van ’n sekere plek; soms was dit die gees van ’n vername persoon wat op ’n stadium daar gewoon het wat diegene geseën het wat húlle eer, en diegene vervloek het wat dit nié doen nie. Verering van die aardgeeste was waarskynlik die oudste vorm van geloof maar die aanbidding van voorouers het kort daarna, of moontlik selfs daarvoor, begin.

Mense wat gesterf het, het na bewering saam met die gode gewoon en het ’n magtige invloed op die wêreld van die lewendes uitgeoefen. Die beoefening van waarsêery het tydens die Shang Dinastie gewild geraak toe mense mistici besoek het wat die toekoms deur middel van orakelbeentjies kon voorspel. Die geloof dat diegene wat sterf, aanhou lewe het, het ook gelei tot ’n geloof in spoke.

Spoke was – en is steeds – ’n baie belangrike konsep in die Chinese kultuur. Die Spookfees word steeds elke jaar in China gehou. Met hierdie fees berei mense spesiale maaltye vir die afgestorwenes voor, brand wierook om die spoke genoeë te verskaf of om bose geeste weg te dryf, en maak selfs hul winkels toe sodat die spoke in vrede kan rondsnuffel, sonder om deur die lewendes gepla te word. Tombeveedag word tydens die Qingming Fees (op 4 of 5 April) gehou en dit is ’n baie ou gebruik. Tydens Qingming besoek ’n mens die grafte van jou familielede en toon jy behoorlik respek aan hulle deur die graf te versorg en geskenke, onder andere kos, daar te laat. Indien ’n mens die grafte van jou voorouers verwaarloos, loop jy die risiko dat hulle by jou sal kom spook.

Oracle bone
Oracle been
The Trustees of the British Museum (Copyright)

Die land van die hiernamaals waarheen siele gegaan het (of as spoke verhoed is om na te gaan), sowel as die hemel en die aarde het onder die gesag gestaan van gode en godinne wat deur die mense aanbid is. ’n Baie gewilde godin was Xi Wang Mu, die Koninginmoeder van die Weste, godin van onsterflikheid wat in ’n groot goue paleis in die Kumlunberge gewoon het. Sy het ’n perskeboord van onsterflikheid gehad waarin sy gaan wandel het. Mense het amulette van die koninginmoeder gedra en altare vir haar gebou om as waardig beskou te word van haar beskerming en die lang lewe waarmee sy volgelinge beloon het.

Shangti was die oppergod van die skepping, die reg en geregtigheid. Hy het ook as die Geel Keiser bekend gestaan en het vermoedelik vir die mense kultuur en taal gegee. Cai Shen was die god van gesondheid wat diegene wat hulle gedra het met ’n gelukkige lewe beloon het, terwyl die Menshen die gode van vreedsame slaap was wat oor mense gewaak het, en bose geeste en slegte drome afgeweer het.

Sommige van hierdie gode en godinne is op altare en in tempels aanbid en aan ander is slegs deur middel van gelukbringertjies en armbande, of standbeelde en muurbehangsels erkenning gegee. Die Menshen word byvoorbeeld steeds op albei kante van deuropeninge geverf as beskerming teen spoke en bose geeste. Lei Shen, god van donderweer en Dian Mu, godin van weerlig, was gevrees terwyl gereelde gebede verhef is na Zhong Kui, die god van genesing; hy is waarskynlik net soveel soos Cai Shen aanbid.

Onder die gewildste godhede was Guanyin, godin van genade en deernis wat almal gehelp het en die beskermgodin van seevaarders geraak het, sowel as Niu Lang en Zhi Nu, god en godin van liefde wat een van die gewildste feeste in China, die Sewende Nag van die Sewende Maan (ook die Dubbel Sewende Fees) geïnspireer het waartydens vroue amptelik vir bedrewenheid in die weefkuns en naaldwerk gebid het maar wat nieamptelik ’n romantiese nag vir bemindes was. Mense het na die sterre gestaar en die storie vertel van Niu Lang (die ster Altaïr) en Zhi Nu (die ster Vega) wat die heeljaar lank deur die Melkweg geskei word behalwe op daardie een nag. Sterrekundiges en astroloë het almal die sterre as ’n uitdrukking van die vergestalting van godhede beskou. Sterrekundiges was altyd mans terwyl astroloë mans óf vroue kon wees.

Onderrig en gesondheidsorg

In antieke China het slegs mans onderrig ontvang; dit is die rede waarom sterrekundiges, wat hoogs geleerd was, altyd mans was. Van meisies is daar verwag om tuis te bly en te leer hoe om huisvrouens en moeders te wees. In hulle jongdae het jong seuns ook by die huis gebly en hulle ma met buitemuurse werk gehelp en slegs jongmanne in hulle tienerjare, en slegs dié van die hoër klasse, het skool bygewoon.

Confucius het jongmanne die beginsels begin leer van hoe hulle die beste persoon moontlik kon wees waartoe hulle in staat was, en dit het die standaard van basiese Chinese onderrig gevestig. Daar is van almal verwag om Confucius se Vyf Deugde uit die kop uit te ken. Dit was Li (maniere) wat as die belangrikste beskou is; Ren (welwillendheid); Xin (getrouheid); Yi (eerlikheid) en Zhi (om die verskil tussen reg en verkeerd te ken, oftewel morele kennis).

In die begindae van skole het leerders op houtstokke geskryf, en later op houtboekrolle wat aan mekaar vasgebind was. In 105 VHJ is papier uitgevind en tydens die Tang Dinastie (618-907 HJ) het die proses van houtblokdrukwerk mense in staat gestel om papierboeke grootskaals te vervaardig, wat toe in skole gebruik is. Die boeke wat vereiste leeswerk was, was die tekste wat as die Die Vyf Klassieke Werke en Die Vier Boeke bekend gestaan het: die I-Ching, die Classics of Poetry (klassieke werke oor die digkuns), die Classics of Rites (klassieke werke oor die sakramente), die Classics of History (klassieke werke van die geskiedenis), die Spring and Autumn Annals (annale van die lente en die herfs), die Analects of Confucius (keuruittreksels uit die werke van Confucius), die Works of Mencius (werke van Mencius), die Doctrine of the Mean (doktrine van die middeweg) en die Great Book of Learning (groot boek oor leer). Die meeste hiervan is op die werk van Confucius gebaseer.

DAAR IS VAN ALMAL VERWAG OM CONFUCIUS SE VYF DEUGDE UIT DIE KOP TE KEN. DIT WAS LI (MANIERE), REN (WELWILLENDHEID), XIN (GETROUHEID), YI (EERLIKHEID) EN ZHI (OM DIE VERSKIL TUSSEN REG EN VERKEERD TE KEN, D.W.S. MORELE KENNIS).

Aangesien net mans geleer is om te lees en te skryf en ’n mens geletterd moes wees om mediese tekste te kon lees, was alle dokters mans teen die tyd van die Tang Dinastie. Kruiedokters in plattelandse gebiede kon wel vroue wees maar die mediese beroep is deur mans oorheers. Die meeste dokters was priesters of het ’n agtergrond in godsdienstige praktyke gehad.

Voor die Tang Dinastie was dokters basies sjamane wat siektes deur middel van kruiemiddels en beswerings genees het. Hulle het geglo dat ongesteldheid deur bose geeste of spoke veroorsaak is. Nadat Boeddhisme sy opwagting in China gemaak het, het Boeddhis-priesters instellings bekend as Velde van Deernis behartig wat sowel hospitale, klinieke, weeshuise, tehuise vir bejaardes en beradingsentrums was. Dit is gewoonlik vanuit ’n klooster bestuur, of het aan een gegrens.

Die tweede keiser van die Tang Dinastie, Taizong (626-649 HJ) het mediese skole gestig en die mediese beroep by die lys beroepe gevoeg wat ’n mens benodig het om die Keiserlike Eksamen te kon deurkom. Hierdie dokters was meer sekulêr as die vroeëre sjamane en ’n hoë gedragstandaard is aan hulle gestel.

’n Lang en gesonde lewe is hoog op prys gestel deur die Chinese. Priesters, monnike, sjamane en sekulêre dokters het almal dieet as die belangrikste aspek van ’n persoon se gesondheid beklemtoon. ’n Vegetariese dieet is as die gesondste beskou, sowel as die menslikste aangesien ’n mens nie diere doodgemaak het om jou self te onderhou nie. Mense het wel vleis geëet en dikwels diere (veral varke) aan die gode en geeste geoffer maar dokters, veral sekulêre geneeshere, het mense ontmoedig om dit te doen.

Die heersende oortuiging tydens die Tang Dinastie was dat ’n lang en harmonieuse lewe van balans slegs behaal kon word deur onthouding van vleisgeregte en deur te leef van die gawes van die landbou wat die gode aan mense gegee het. Dankbaar vir hierdie en al die ander gawes, het die Chinese aan hulle gode hulde gebring, en om die lewe te vier, het hulle die hele jaar lank ’n aantal feeste gehou.

Feeste

Daar was nasionale feeste, wat almal gevier het, sowel as plaaslike en streeksfeeste. ’n Plaaslike fees kon iets wees soos die verjaardagviering van een of ander bekende persoon wat goeie dade vir die dorp verrig het, of dié van ’n digter of kunstenaar. Plaaslike en streeksfeeste kon ook gehou word om hulde aan die Tudi Gong te bring. Taoïstiese feeste is gehou om ’n gehuggie, dorp of stad van bose geeste te reinig, om die rustelose dooies te sus of om die voorouers te eer en hul seëninge te vra.

Nuwejaarsdag was die belangrikste nasionale feesdag, en dit is tussen die 1ste en die 15de dag van die eerste maanmaand gehou. Klappers en vuurwerke is afgeskiet om die nuwe jaar welkom te heet en om Zao Shen se reis na die hemelryk te versnel. Hierdie vuurwerke het ook die doel gedien om bose geeste te verjaag. Die klappers is van gedroogde bamboes gemaak wat vroeg die oggend in die vuur gegooi is en kliphard geknal het wanneer dit gebrand het. Elke huis het klappers en – indien hulle dit kon bekostig – vuurwerke geskiet maar elke munisipaliteit het een of ander soort vuurwerkvertoning gehad.

Nuwejaarsdag het mense veroorloof om varke, hoenders, en skape grootskaals te slag om die vrugbaarheid van die land vir die komende jaar te verseker. Die ritueel van die Shen Dzu (“heilige vark”) is jaarliks op Nuwejaarsdag gehou. Daartydens is varke wat so vet moontlik gevoer is vir die swaarste gewig by ’n kompetisie ingeskryf; die wenner is aan die plaaslike godheid geoffer, met die res wat kort daarna in sy spore gevolg het.

Regeringsamptenare het ’n 7-dagvakansie gekry; winkels het toegemaak of het net vir beperkte ure sake gedoen. Die fokus van die fees het op danksegging vir die afgelope jaar geval en om voorsiening vir die nuwe een te maak. Hierdie voorsiening het beskerming teen bose geeste en spoke beklemtoon. Geslagte hoender- en skaapvelle is as offerandes aan die buitekant van huise gehang, wierook is gebrand en ’n spesiale bier genaamd “Spoke Doodmaak en Herlewing van Siele” is gebrou. Die drink van hierdie bier in groot hoeveelhede het na bewering iemand beskerm teen siektes wat deur bose geeste of rustelose spoke veroorsaak is.

Die Lanternfees is op die 15de dag van die eerste maanmaand gehou om die Nuwejaarsvieringe af te sluit. Dit was ’n fees van lig om hulde aan die volmaan te bring. Tydens die fees het mense liglanterns op damme, mere of strome laat dryf, na die volmaan gekyk, speletjies gespeel, gedans en fees gevier. Na gelang van hulle status het sommige mense groot uitstallings vir die viering opgerig. Charles Benn (151) skryf:

Patrisiërs het mekaar oortref deur die spoggerigste lamp te voorsien. ’n Aristokratiese dame van die middel agtste eeu het ’n lampboom met ’n paar honderd takke gehad wat sewe-en-twintig meter hoog was. Wanneer sy dit tydens die Lanternfees aangesteek het, was dit myle ver sigbaar. Dit kon egter nie meeding met dié van keiser Ruizong nie. In 713 HJ het hy ’n lanternwiel van 66 meter hoog buite ’n hek van Changan laat oprig. Die apparaat was bedek met goudlakens en sygaas, en met goud en jade versier. Wanneer die wiel se 50 000 oliekelkies aan die brand gesteek is, het die helderheid daarvan soos bloeisels op 'n boom in volle bot gestraal.

Indien ’n mens dit kon bekostig, is geen koste ontsien om die Lanternfees te vier nie. ’n Goeie fees het voorspoed vir die komende jaar beteken.

Lantern Festival
Lantaarn Festival
gill_penney (CC BY)

Daar was ook die Reinigingsfees wat op die derde dag van die derde maan plaasgevind het toe mense bose geeste weggedryf het deur ongelooflike hoeveelhede bier te drink. Die hele dag is aan buitensporige eet en drink gewy. Die Qingming Fees is in April gehou om die voorvaders te eer, en die Vyfde Dag van die Vyfde Maan Fees (die Draakbootfees) is in Julie gehou ter ere van ’n agbare staatsman wat ’n waardige dood bo ’n lewe van oneer gekies het. Die Honger Spoke Fees in Augustus gee erkenning aan die geestelike dimensie van lewe en bring hulde aan diegene wat reeds heengegaan het.

Die Sewende Nag van die Sewende Maan Fees het die god en godin van liefde vereer, en die Middelherfs Fees het hulde aan die maan gebring. Die Laaste Dag van die Twaalfde Maan Fees was die ritueel waartydens Zao Shen op Nuwejaarsdag op sy pad na die gode gestuur is en stem ooreen met baie hedendaagse Nuwejaarsdagpartytjies. Mense het die Spoke Doodmaak en Herlewing van Siele-bier begin drink, feeste gevier en vuurwerke afgeskiet. Feeste het mense in kontak met hulle verlede gehou, hulle in hul kulturele waardes gewortel en was ’n baie belangrike aspek van die lewe van mense in antieke China. Deesdae word baie van hierdie selfde vieringe elke jaar gehou. Die betrokke rituele dateer terug na honderde of selfs duisende jare en word steeds op ’n baie soortgelyke of presies dieselfde manier gehou.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Emily Mark
Emily Mark studied history and philosophy at Tianjin University, China and English at SUNY New Paltz, NY. She has published historical essays and poetry. Her travel writing debuts in Timeless Travels Magazine.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, E. (2016, April 27). Daaglikse lewe in antieke China [Daily Life in Ancient China]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-890/daaglikse-lewe-in-antieke-china/

Chicago-styl

Mark, Emily. "Daaglikse lewe in antieke China." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 27, 2016. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-890/daaglikse-lewe-in-antieke-china/.

MLA-styl

Mark, Emily. "Daaglikse lewe in antieke China." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 27 Apr 2016. Web. 13 Apr 2021.