Die Spartakus-opstand

Artikel

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 04 March 2016
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans

Die opstand van die gladiator Spartakus in 73-71 VHJ blý die suksesvolste slaweopstand in die geskiedenis van Rome. Die rebellie staan as die Derde Slaweopstand bekend en was die laaste van die drie groot slaweopstande wat deur Rome onderdruk is. Die storie van Spartakus is tot op hede al deur geskiedkundiges, romanskrywers en filmvervaardigers vertel en ’n baie gewilde televisiereeks geniet groot aanhang maar bewondering vir die held van die Derde Slaweopstand is niks nuuts nie. Karl Marx (volume 41, 265) het een maal in ’n brief aan Engels opgemerk dat Spartakus onder die grootste, indien nie dié grootste nie, helde van die antieke wêreld was en het hom as voorbeeld voorgehou om nagestreef te word. Stanley Kubrick se 1960-film gegrond op die roman deur Howard Fast het hom as vryheidsvegter uitgebeeld wat sy mense teen die onderdrukkende stelsel van Romeinse verknegting aangevoer het, en elke uitbeelding van die rebellegladiator ná Kubrick se film het in ’n mindere of meerdere mate in daardie voetspore gevolg.

Detail, Roman Slaves Relief Slab
Detail: reliëfklip van Romeinse slawe
Jun (CC BY-SA)

Die werklike Spartakus was egter nóg ’n proto-Marxistiese proletariese revolusionêr, nóg ’n volksheld wat vir die vryheid van sy mense geveg het; hy was eenvoudig ’n man wat genoeg van die Romeinse slawestelsel ontbeer het en een dag besluit het dat hy dit nie meer gaan duld nie. Die Spartakus-opstand het as’t ware as ’n frats begin: Volgens die historikus Plutargos (ca. 45-120 HJ) was die oorspronklike plan van die gladiators bloot om te ontsnap. Maar toe die plan eers op die lappe gekom het, het hulle geen keuse gehad nie as om vir hulle vryheid te veg of om teregstelling in die gesig te staar.

Verwyder Advertensies

Advertisement

SPARTAKUS SE OPSTAND HET AS’T WARE AS ’N FRATS BEGIN: VOLGENS DIE HISTORIKUS PLUTARGOS WAS DIE OORSPRONKLIKE PLAN VAN DIE GLADIATORS BLOOT OM AAN HUL SLAWERNY TE ONTSNAP.

Die werklike motivering agter Spartakus se opstand doen egter geensins afbreuk aan sy prestasies nie. Vanaf die 18de eeu het hierdie motiverings weliswaar irrelevant geraak in Frankryk toe die gladiator tot die ikoniese status as vyand van onderdrukking en kampvegter vir vryheid verhef is. Die haglike omstandighede van die lewe van ’n slaaf in antieke Rome is sedertdien al met dié van enige groep vergelyk wat onder onderdrukking gebuk gaan, en Spartakus is die mees herkenbare held van die Oudheid om as simbool daarvan te dien. Maar in 73 VHJ blyk hy geen motivering buiten sy eie vryheid te gehad het nie, sowel as om weg te kom van die vergelding wat hy van sy meesters te wagte kon wees.

Slawerny in antieke Rome

Hierdie vergelding sou vinnig toegedien word indien sy ontsnapplan aan die lig gekom het. Slawerny het wydverspreid in antieke Rome voorgekom en die Romeine het ’n groot vrees gekoester dat hulle laagste arbeiderklas in opstand sou kom. Historikus Mark Cartwright het die volgende hieroor te sê:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Slawerny was ’n immerteenwoordige kenmerk van die Romeinse wêreld. Slawe het in huishoudings, die landbou, myne, vervaardigingswerkswinkels, die konstruksiebedryf en ’n wye reeks dienste binne die stad gedien. So veel as ’n derde van die bevolking in Italië, of 1 uit 5 van die bevolking regdeur die Romeinse Ryk, was slawe, en dit is op hierdie grondslag van dwangarbeid wat die hele bousel van die Romeinse staat en samelewing geskoei was.

Rome se ekonomie het hoofsaaklik op die landbou en oorlog staatgemaak: Die landbou het die bevolking onderhou terwyl militêre veldtogte die nodige fondse gegenereer het wat vir verskeie ander behoeftes benodig is. Die soldate wat in hierdie veldtogte gebruik is, was boere wat vir al langer en langer tydperke in die leër moes bly soos Rome deur die verowering van al meer gebiede al verder uitgebrei het. Hulle plase het dikwels bankrot gespeel en die grond is dan gekoop deur die rykes wat slawe gebruik het om dit te bewerk.

Die historikus Appianus (ca. 95-165 HJ) skryf: “Die welgesteldes het oorreding of mag gebruik om eiendom aanliggend tot hul eie, of enige ander kleinhoewes wat aan arme mense behoort het, te koop of daarop beslag te lê, sodat hulle massiewe landgoedere pleks van kleiner plase bedryf het. Op hierdie landgoedere het hulle van die diens van slawe en skaapwagters gebruik gemaak ten einde te vermy dat vry manne van hulle grond opgekommandeer word om in die leër te gaan diens doen; voorts het hulle ook ’n groot wins uit hierdie vorm van eienaarskap gemaak aangesien die slawe baie kinders gehad het en geensins verplig was om militêre diensplig te verrig nie. ” (Civil Wars, 1.7) Cartwright merk op dat hierdie slawe uit ‘n verskillende aantal bronne afkomstig was:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Buiten die enorme hoeveelheid slawe wat as krygsgevangenes geneem is (bv. 75 000 in net die Eerste Puniese Oorlog) is slawe ook bekom deur middel van seerowery, handel, struikrowery en natuurlik as die nakomelinge van slawe aangesien ’n kind wat vir ’n slawemoeder gebore is (vernae) outomaties ’n slaaf geword het, ongeag wie die vader was. Slawemarkte het gefloreer en die een op Delos wat voortdurend deur die Silisiese seerowers bevoorraad is, was moontlik een van die berugstes. Slawemarkte het egter in die meeste groot dorpe bestaan en dit was hier in ’n openbare plein waar slawe geparadeer is met tekens om hul nek waarop hulle deugde aan voornemende kopers geadverteer is.

Roman Auriga (Gladiator Slave)
Romeinse Auriga (gladiatorslaaf)
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Slawe is regdeur Rome vir ’n rits take aangewend – van landerye bewerk tot huiswerk, asook lees-, skryf- en musiekonderrig vir kinders sowel as onderrig in ander kunste, en as persoonlike lyfbediendes en enige ander werksposisie wat hulle kon vul. Hulle was geheel en al aan die genade van hulle meester oorgelaat. Die Romeinse skrywer Seneca die Jongere (4 VHJ-65 HJ) beskryf aan sy vriend Lucilius die lot van ’n huisslaaf, en doen voorspraak vir die beter behandeling van slawe, en hy stel dit duidelik hoe selfs die geringste geluid of handeling aan die kant van slaaf deur die meester se giere en geite voorgeskryf is. Hier beskryf hy hoe ’n slaaf sy meester met aandete bedien:

Die meester eet meer as wat hy kan inhou; sy onbeteuelde hebsug vul sy geswolle maag wat die funksie van die maag verleer het, en die vertering van al hierdie kos verg meer omstand as die inneem daarvan. Maar die ongelukkige slawe mag nie ’n lip vir soveel as ’n enkele woord verroer nie. Enige gebrom word deur ’n roede gestriem; nie eers onwillekeurige geluide – ’n hoes, ’n nies, ’n kug – word deur ’n raps ontsien nie. Indien ’n woord die stilte versteur, is die straf gedug. Honger en stom, staan hulle die heelnag deur.

(Nardo, 51)

Seneca gaan verder en gee ’n gedetailleerde beskrywing van die mishandeling waaronder slawe gebuk gegaan het sowel as die verwaandheid van hul meesters wat deur hulle wreedheid tot die ontstaan van die uitdrukking “Soveel slawe, soveel vyande” aanleiding gegee het. Hy vra dat Lucilius onthou dat “die man wat jy ‘slaaf’ noem, uit dieselfde saad ontspruit het, dieselfde daglig geniet, asemhaal soos wat jy asemhaal, lewe soos jy lewe, sterwe soos jy sterwe”, en tog word hierdie mense as mínder as mense behandel:

Ons mishandel hulle soos wat iemand pakdiere misbruik, nie eers soos wat jy mense sal mishandel nie. Wanneer ons aan tafel terugleun, vee een slaaf die spuug op, ’n ander hurk om die oorskiet van die besopenes op te tel. Een sny die duur wildsvleis en skei die porsies met die behendige hale van ’n geoefende hand – ongelukkige man, om enkel alleen te leef om ’n wildevoël netjies te kan opkerf. ’n Ander een het die opdrag om ’n ogie oor die gaste te hou; hy staan daar, arme skepsel, en kyk om te sien wie se vleiery en wie se oordadigheid van keelgat of tong vir hom ’n uitnodiging vir die volgende dag sal verseker. Voeg daarby die spyseniers met hul verfynde kundigheid van hulle meester se palet: Hulle weet watter geure hom sal prikkel, watter tafelversierings in sy smaak sal val, watter nuwigheid moontlik sy eetlus weer sal wek indien hy olik voel, na watter lekkerny hy op ’n bepaalde dag sal smag. Saam met slawe soos hierdie sal die meester tog nooit kan eet nie; hy sou dit as ’n belediging vir sy waardigheid beskou om saam met sy eie slaaf by die tafel aan te sit. Die hemel behoede!

(Nardo, 51)

Die slegte behandeling van slawe het so wydverspreid voorgekom dat dit as natuurlik aanvaar is. ’n Mens moes die slaaf se wilskrag as individu breek ten einde ’n gewillige dienskneg te hê wat aan die verwagtinge van ’n slaaf in die Romeinse samelewing sou voldoen. Gratis arbeid het meer ontspanning en wins beteken vir diegene wat slawe besit het maar daardie slawe was slegs winsgewend indien hulle onderdanig was en sonder twyfel of aarseling gedoen het wat hulle beveel is om te doen. Die feit dat die slawebevolking so groot was, getuig van die Romeinse vermoë om hierdie tipe beheer te handhaaf oor dié wat hulle verkneg het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Dit moet egter vermeld word dat nie alle slawe sleg behandel is nie. In Seneca se selfde brief skryf hy van slawe wat goed deur hulle meesters behandel is en wat hulle lewe sou gee om die huis, eiendom en lewe van daardie meester te beskerm. Twee bekende filosowe was slawe – Diogenes van Sinope (ca. 404-323 VHJ) in Griekeland en Epiktetos (ca. 50-130 HJ) in Rome – en albei is soos lede van die gesin behandel. Aan Diogenes is volkome beheer oor die opvoeding van die seuns van die huis gegee en Epiktetos se meester het hom gestuur om stoïese filosofie te gaan studeer. Dit was egter opvallende uitsonderings op die algemene reël en die meeste slawe moes ’n harde lewe ontbeer met slegs ’n skraal hoop om ooit hulle vryheid te wen, en het ingevolge wetgewing geen regte geniet nie.

Retiarius Gladiator Mosaic
Mosaïek van retiarius-gladiator
Carole Raddato (CC BY-SA)

Mettertyd was daar meer slawe in Rome as vry burgers. Die werkloosheidsyfer het skerp gestyg soos meer en meer slawe gebruik is vir werke wat Romeinse burgers altyd gedoen het, en die platteland rondom die stad Rome het toenemend ’n ruim netwerk slawekolonies geraak wat op groot plantasies van die uiters welgesteldes gewoon het. Die slawe wat nie in ’n huishoudelike of landboukundige werk aangestel is nie, is in die arena as gladiators gebruik. En as die lewe van die huisslawe taai was, was dié van gladiators aansienlik erger. Die gladiator was ’n slaaf wie se enkele doel was om vir die vermaak van die Romeinse skares te veg. Gladiators was gewoonlik mans (alhoewel daar wel ’n paar vroue was) en kon hulle vryheid deur buitengewone kordaatstukke wen maar meestal het hulle as slaaf in die arena geleef en gesterf. Slawe is gewoonlik op grond van hulle kragtige liggaamsbou gekies wat in die toeskouers se smaak sou val; een van hierdie slawe was Spartakus.

Vroeë lewe en verslawing

Spartakus was ’n Trasiër, geboortig uit die geweste noord van Masedonië wat deur sowel die Grieke as die Romeine as onbeskaafd en barbaars beskou is. Spartakus word egter deur Plutargos as “meer Grieks as Trasies” beskryf, en hy merk op dat Spartakus besonders intelligent en uiters gekultiveerd was. Oor sy jeug en hoe hy ’n slaaf in Rome geword het, is niks bekend. Die primêre bronne oor Spartakus se opstand is die geskiedkundiges Appianus, Florus (ca. 130 HJ) en Plutargos wat elkeen die besonderhede uit vroeëre werke oor die opstand deur Salustius (ca. 86-35 VHJ) en Livius (59 VHJ-17 HJ) – waarvan albei werke nou net fragmentêr bestaan – gekies het wat as die geskikste beskou is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

FLORUS VOER AAN SPARTAKUS WAS ’N ROMEINSE HUURSOLDAAT IN DIE LEGIOENE WAT VIR DESERSIE EN ROOF OPGESLUIT IS.

Volgens Appianus was Spartakus ’n Trasiër wat eens op ’n tyd teen die Romeine geveg het en, nadat hy gevange geneem en verkoop is, ’n gladiator geword het (Civil Wars, I.116). Florus voer aan Spartakus was ’n Romeinse huursoldaat wat vir desersie en roof opgesluit is voordat hy “weens sy krag” as gladiator gekies is. Plutargos gee ’n soortgelyke weergawe van Spartakus as huursoldaat vir Rome maar hy voeg by dat hy sáám met sy vrou gevange geneem is nadat hy gedros het. Sy vrou word as profetes van haar volk beskryf wat tydens die opstand saam met Spartakus ontsnap en daarna saam met sy leër gereis het, en waarskynlik in die finale skermutseling met Rome saam met hom gesterf het.

Spartakus se opstand

Maar hoe hy ook al gevange geneem is, en weens watter rede ook al, sy militêre opleiding en liggaamsbou het van hom die perfekte kandidaat vir die arena gemaak. Spartakus word deur al die antieke bronne as lank en buitengewoon sterk beskryf. Hy is deur ’n afrigter genaamd Lentulus Batiatus gekoop en na ’n opleidingskamp vir gladiators in Kapua, suid van Rome, gestuur. Hierdie opleidingskampe het dikwels op die brutale behandeling van slawe staatgemaak om hulle vir die spele in die arena voor te berei, en hierdie dissipline – nes dié wat op alle slawe toegepas is – was bedoel om die wil van die individue af te takel en hulle inskiklik te maak.

Roman Gladiator Mosaic
Mosaïek van Romeinse gladiator
Carole Raddato (CC BY-SA)

In 73 VHJ het Spartakus en ’n paar ander mededaders ’n plan bedink om uit die kamp te ontsnap en noordwaarts na vryheid anderkant die Appenyne te vlug. Hierdie plan het meer as 200 ander slawe ingesluit, en met so baie betrokke is dit geen verrassing dat iets daarvan aan die owerhede uitgelek het nie. Spartakus het geweet hulle sal gemartel word voordat hulle om die lewe gebring word en derhalwe het hy 78 van sy medeslawe in ’n opstand aangevoer. Hulle het die kombuis geplunder en hulleself met messe en spitte bewapen en toe hulle instrukteurs en gevangenemers vermoor. Toe hulle eers vry was, het hulle nog wapens in die pakkamers en ’n transportwa gevind en toe van die opleidingskamp na die nabygeleë platteland gevlug waar hulle êrens teen die hange van die berg Vesuvius gebivakkeer het. Daar het hulle vir Spartakus, Oinomaus en Kriksos as hulle leiers gekies.

Rome se eerste reaksie

Alhoewel die slawe drie leiers gekies het, voer elke antieke bron aan dat Spartakus aanstons die opperbevelhebber geraak het. Appianus skryf, “Met die gladiators Oinomaus en Kriksos as sy ondergeskiktes het hy die nabygeleë areas geplunder en aangesien hy die buit in gelyke maat verdeel het, het sy leër vinnig gegroei.” Tyding van die opstand het vinnig versprei en baie van die slawe regdeur die land het hulle huis agtergelaat en by die rebelle aangesluit. Die Romeinse Senaat het dit alles meer as ’n beslommernis as ’n bedreiging beskou en het ’n mag van hoofsaaklik onopgeleide soldate onder leiding van die generaal Gaius Claudius Glaber gestuur om met die probleem af te reken.

Glaber en die Senaat blyk te gedink het dat ’n groep wegloperslawe maklik verslaan sou word aangesien daar geen manier was waarop hulle enigiets van militêre taktieke of oorlogvoering kon weet nie. Spartakus het hulle egter verras. Glaber het die slawe in hulle kamp teen die hang van die berg omsingel en hulle vasgepen en hom voorberei om hulle uit te honger totdat hulle oorgee. Die berg was egter oortrek met slingerplante en Spartakus het sy manne beveel om lere daaruit te vleg waarmee hulle in staat was om met 'n area af te klouter waaroor Glaber nie begaan was nie aangesien hy dit as onbegaanbaar beskou het; Spartakus het Glaber van agter af aangeval en hom verslaan en die kamp vir wapens geplunder.

Spartacus 1960 Film Poster
Plakkaat van die 1960-film ‘Spartacus’
William Reynold Brown (Public Domain)

Daarna is ’n tweede mag teen die slawe gestuur onder aanvoering van Publius Varinus wat gekies het om sy magte te verdeel, moontlik omdat hy gehoop het om sy vyand vas te knel en hulle te vermorsel. Wát sy plan ook al was, die mislukking daarvan was skouspelagtig: Varinus se leër is verslaan en uitmekaar gejaag. Spartakus se oorwinning was só volkome dat Varinus selfs die perd verloor het waarop hy die slagveld betree het. Ná hierdie twee oorwinnings het selfs meer slawe die huis van hulle meester verlaat en by die opstand aangesluit.

Rome se tweede reaksie

Die Romeinse Senaat het besef dat hulle Spartakus ernstig onderskat het en het hulle beroep op die konsuls Publikola en Klodianus om magte te lei teen Spartakus wat nou oor ’n leër van 70 000 voormalige slawe bevel gevoer het. Spartakus het nou die platteland beheer met nuwe rekrute wat hulle byna daagliks om sy saak geskaar het. Livius merk op hoe Spartakus se leër die stede Nola, Nuceria, Turii en Metapontum op vernietigende wyse te gronde gerig het. Daar was nou geen twyfel nie dat hy ’n beduidende gevaar vir Rome was. Maar Spartakus het geen voorneme gehad om teen Rome op te ruk nie en het sy leër noordwaarts uit Italië gelei om die Appenyne oor te steek en sy volgelinge in staat te stel om tuiswaarts terug te keer. Sy mag was egter te groot om as enkele eenheid te beweeg sodat hy dit in twee verdeel en sy onderbevelvoerder Kriksos in bevel van die een deel geplaas het.

Onder leiding van Publikola het die Romeine vir Kriksos se mag aangeval terwyl Klodianus op Spartakus se kontingent toegeslaan het. Kriksos se mag is met swaar verliese teruggeja maar Spartakus het Klodianus verslaan en Publikola toe van die slagveld verdryf. Kriksos het in die veldslag gesneuwel en Spartakus het hulde aan hom gebring deur – volgens Appianus – 300 Romeinse gevangenes op te offer. Daarna het hy die oorblywende Romeinse gevangenes gebruik om sy eie gladiatorspele te hou. Florus skryf hoe Spartakus die Romeine gedwing het om by die lykstapels van sy gevalle offisiere teen mekaar te veg “asof hy begeer het om al die oneer van sy verlede uit te wis deur, pleks van ’n gladiator, eerder ’n aanbieder van gladiatorspele te geraak het”. Daarna het hy al die waens en voorrade verbrand wat hy nie kon gebruik nie, en met sy infanteriemag 120 000 sterk en ’n onbekende aantal kavalleriste het hy na Rome opgetrek.

Spartakus se nederlaag

Daar is geen rekord van waarom Spartakus van sy plan afstand gedoen het om sy mag na vryheid te lei deur Italië te verlaat nie maar wat ook al die rede is, die immergroeiende leër voormalige slawe het nou suidwaarts opgeruk. Twee leërs is gestuur om Spartakus te stuit en hy het albei verslaan. Appianus skryf, “Die oorlog het nou reeds drie jaar lank geduur en was nou ’n groot bron van kommer vir die Romeine, alhoewel hulle aan die begin daarvoor gelag het, en dit as onbeduidend beskou is omdat dit teen gladiators was.” Publikola en Klodianus is deur die Senaat van hulle amp onthef en ’n nuwe opperbevelhebber, Markus Licinius Krassus, is opgeroep. Heel eerste het hy die legioene by wyse van desimasie gestraf waarvolgens die soldate lootjies getrek het en elke tiende man doodgemaak is.

Marcus Licinius Crassus, Louvre
Markus Licinius Krassus, Louvre
Carole Raddato (CC BY-SA)

Krassus wou ’n vinnige einde aan die oorlog bring en volgens Appianus het hy die idee in sy manskappe ingeboesem dat hy meer gevrees moes word as ’n nederlaag aan die hand van die vyand. By Bruttium in die verre suide van Italië het Krassus teen Spartakus ten velde getrek. Spartakus se plan was om saam met die Silisiese seerowers te werk om die Romeins-besette eiland Sicilië oor te neem en dit ’n vrye nasie vir sy volgelinge te maak. Die seerowers was veronderstel om hom aan die kus van Bruttium te ontmoet maar hulle het nooit opgedaag nie. Krassus het sy leër van 32 000 soldate vinnig laat beweeg en ’n muur laat bou wat Spartakus daaragter vasgepen het.

Krassus was vol selfvertroue om te wag dat sy opponent iets doen aangesien Spartakus, met die see agter hom en die muur voor hom, nêrens gehad het om te gaan nie. Spartakus het probeer uitbreek maar is met die verlies van 6 000 van sy manne teruggedryf. Volgens Florus het Spartakus daarna probeer ontsnap deur vlotte bestaande uit balke en kuipe wat met toue saamgeflans is, op die snelvloeiende water van die seestraat te water te laat maar hy het misluk. Sowel Appianus as Plutargos voer aan dat Spartakus hom op daardie stadium tot guerillataktieke gewend het. Appianus skryf hoe Spartakus sy beleëraars met talle afsonderlike operasies geteister het, en ’n Romeinse gevangene in niemandsland gekruisig het om aan sy eie troepe te demonstreer watter lot op hulle wag indien hulle verslaan sou word. Op sy beurt het Krassus aangehou wag en verhongering en desperaatheid ingespan om sy troepe se werk vir hulle te doen.

KRASSUS HET SY AANVALLE VERSKERP TEN EINDE SPARTAKUS TE VERSLAAN VOORDAT POMPEJUS SY OPWAGTING KON MAAK OM DIE GLORIE VIR HOMSELF IN TE PALM.

Die Romeinse Senaat het egter gevoel dat Krassus nie vinnig genoeg te werk gaan nie en hulle het die bekende generaal Pompejus, veroweraar van Spanje, laat kom. Krassus het nou sy aanvalle verskerp ten einde Spartakus te verslaan voordat Pompejus kon arriveer om die glorie vir homself in te palm. Spartakus het ’n geleentheid gesien om verdeeldheid onder die Romeinse generaals te saai voordat Pompejus sy opwagting maak en het versoek om voorwaardes met Krassus te onderhandel, maar hy is geweier.

Toe Spartakus sien dat daar geen hoop was nie, het hy sy manne bymekaargemaak en, volgens Plutargos, toe sy perd na hom gebring is, het hy sy swaard getrek en die dier om die lewe gebring, en gesê dat die vyand oorgenoeg goeie perde het wat syne sou wees indien hy wen, en as hy verloor, sou hy glad nie ’n perd nodig hê nie. Vir ’n laaste keer het hy sy leër in die geveg in gelei en, skryf Plutargos, reguit op Krassus self afgepyl en deur die gedrang van wapens en gewonde manne gestorm en, alhoewel hy Krassus nie bereik het nie, het hy twee centurio’s van kant gemaak wat hom gelyktydig te lyf gegaan het. Laastens, toe sy eie manne op die vlug geslaan het, het hy self, omring deur vyande, stand gehou en vegtend gesneuwel. Appianus skryf dat Spartakus ’n spieswond in die bobeen toegedien is en dat hy op een knie neergesak het, sy skild voor hom opgehou en sy aanvallers afgeweer het totdat hy en ’n groot aantal volgelinge omsingel is, en geval het; en Florus merk op dat Spartakus, soos wat dit ’n generaal betaam, dapper vegtend in die voorste linie geval het. Appianus en Plutargos meld albei dat sy liggaam nooit geïdentifiseer is nie.

Alhoewel Krassus die een was wat Spartakus op die slagveld verslaan het, het die roem vir die oorwinning aan Pompejus gegaan. Pompejus het gearriveer nes die veldslag ten einde geloop het en sy troepe het met die voortvlugtige slawe slaags geraak wat die wyk geneem het. Plutargos skryf dat Pompejus in sy verslag aan die Senaat kon meld dat, alhoewel Krassus beslis die slawe in ’n oop veldslag oorwin het, was dit hy, Pompejus, wat self die oorlog wortel en tak uitgeroei het deur enigiemand te elimineer wat moontlik die stryd kon voortsit. Die 6 000 oorlewendes van Spartakus se leër is toe al langs die Appiese Weg van Rome tot by Kapua gekruisig en hulle liggame jare lank daar gelos om as waarskuwing vir enige toekomstige insurreksies te dien.

Spartacus
Spartakus
Carole Raddato (CC BY-SA)

Nalatenskap

Alhoewel die vroeë Romeinse geskiedkundiges hom as ’n gevaarlike rebel en misdadiger beskou het, toon al hulle mededelings ’n teësinnige – en soms rondborstige – respek vir die gladiatorgeneraal. ’n Oorlog teen slawe is as ’n skande beskou en die feit dat Spartakus die konflik so suksesvol vir so lank uitgerek het, het die Romeinse trots dwars in die krop gesteek. Vir sy seges in Spanje en – byna as nagedagte – vir die beëindiging van die Derde Slaweopstand, is Pompejus met ’n triomf beloon terwyl Krassus vir al sy pogings ’n ovasie, ’n voetparade met veel minder aansien en niks van die skouspel wat met die triomf gepaardgaan nie, ontvang het.

Nietemin getuig die toon van die narratiewe – veral dié van Plutargos se mededeling – onmiskenbaar van bewondering wanneer die skrywers al Spartakus se oorwinnings noem, en veral wanneer hulle na sy dood verwys. Hierdie narratiewe het latere kunstenaars geïnspireer om Spartakus as vryheidsvegter uit te beeld wat teen die oormag van Rome baklei het om slawerny te beëindig, alhoewel geen van die antieke mededelings hierdie gevolgtrekking steun nie. Spartakus word in elke weergawe duidelik uitgebeeld as ’n gladiator wat sy eie vryheid begeer het, en op die ou end die leier van ’n slaweopstand geword het. Sy moderne status as vryheidsvegter en kultusheld het eers veel later ontwikkel maar is in die geskiedenisnarratiewe van hierdie Romeinse skrywers gewortel.

Die konsep van Spartakus as die edele rebel wat om vryheid veg, kan teruggespoor word na ’n Franse tragedie, Spartacus, wat in 1760 deur Bernard-Joseph Saurin geskryf en deur Plutargos se weergawe geïnspireer is. Saurin het die onderdrukkende omstandighede van antieke Rome met dié van sy eie tyd in 18de-eeuse Frankryk probeer vergelyk. Historikus Maria Wyke (36) verduidelik hoe, in die middel 18de eeu,

[Spartakus] in die Wes-Europese literatuur, historiografie, politieke retoriek en visuele kuns as ’n geïdealiseerde strydvegter van sowel die onderdruktes as die verknegtes begin verhef is. Van hierdie tydperk af is die uitbeelding van die antieke slaweopstand en die gladiator Spartakus diepliggend gedryf deur die politieke belange van die hede.

Saurin se uiters gewilde verhoogstuk isin 1792 ná die Franse Revolusie weer in die lewe geroep, en standbeelde van Spartakus het so vroeg as 1830 in Frankryk begin verskyn. In 1874 het sy storie die belangstelling van die Italiaanse romansier Raffaello Giovagnoli geprikkel wat in sy geskiedkundige roman Spartacus ’n vergelyking tref tussen die antieke Trasiese gladiator en die nasionalistiese generaal Giuseppe Garibaldi wat Italië in die 1860’s verenig het. Spartakus is ook al met Toussaint L’Overture (1743-1803), leier van die Haïtiese Revolusie teen Franse heerskappy, vergelyk.

Die gewilde begrip van Spartakus as onbaatsugtige held het in die 20ste eeu deur die werke van ander skrywers, onder andere Bertholt Brecht, toegeneem totdat die romansier Howard Fast in 1951 sy geskiedkundige roman Spartacus geskryf het wat in 1960 vir die gelyknamige Stanley Kubrick-film gebruik is. Kubrick se film is deur die draaiboekskrywer Dalton Trumbo geskryf wat van kommunisme beskuldig en op die Hollywood-swartlys geplaas is. Die bekende toneel aan die einde van die film waar die rebelle uitroep, “I am Spartacus!” om hulle leier te beskerm, is deur kritici vertolk as Trumbo se beroep op solidariteit as verset teen die onderdrukking van McCarthyisme (Gaylean, 1).

Soos wat enigeen vertroud met die vroeëre werke sal herken, het Fast se roman en Trumbo se draaiboek as die bloudruk vir sowel die 2004-TV-film Spartacus en die TV-reeks (2010-2013) op Starz Network gedien. Sedert die vrystelling van Kubrick se film in 1960 is Spartakus ruimer as ooit vantevore as inspirerende figuur vir enige onbillik gemarginaliseerde groep in die samelewing, hetsy weens rassisme, seksisme of homofobie, bewonder. Die individu wat vingeralleen teen die onderdrukkende mag van die meerderheid opstaan, die rebel wat die onregverdige stelsel wette en vooroordele die stryd aansê – dít is die Spartakus wat ’n saak kan inspireer; nie ’n Trasiese slaaf wat net na sy eie vryheid gehunker het nie. Vakkundige Erich Gruen skryf:

Daar is geen aanduiding dat [Spartakus] deur ideologiese belange gemotiveer is om die sosiale struktuur omver te werp nie. Die bronne stel dit onomwonde dat Spartakus onderneem het om sy magte uit Italië na vryheid te lei, eerder as om die Romeinse samelewing te hervorm of om te keer. Maar wat Spartakus vermag het, is niks minder formidabel nie. Die waagmoed, volhardingsvermoë en bekwaamheid van die Trasiese gladiator wat Romeinse magte op ’n afstand gehou en ’n handvol volgelinge tot ’n kontingent van 120 000 man uitgebrei het, kan net bewondering ontlok.

(Historical Background, 3)

Of hy nou sy opstand in 73 VHJ begin het om slawerny in Rome te beëindig en sy mense te bevry, maak nie meer saak nie; al wat saak maak, is dit wat hy later begin simboliseer het. Die ware Spartakus – wié hy ook al was – is deur die held Spartakus vervang want ’n held is wat mense nodig gehad het, en steeds aanhou benodig. Soos wat die afgelope 200 jaar die geval was, sal die storie van die held Spartakus, simbolies van die individu wat ondanks alles veg vir geregtigheid en die vryheid van sy mense, mense nog eeue lank aanhou inspireer.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2016, March 04). Die Spartakus-opstand [The Spartacus Revolt]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-871/die-spartakus-opstand/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Die Spartakus-opstand." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 04, 2016. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-871/die-spartakus-opstand/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Die Spartakus-opstand." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 04 Mar 2016. Web. 18 Aug 2022.