Spartakus

Definisie

Donald L. Wasson
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 14 August 2014
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Portugees, Serwies, Spaans, Turkse
X
Print Article
Spartacus 1960 Film Poster (by William Reynold Brown, Public Domain)
Plakkaat van die 1960-film ‘Spartacus’
William Reynold Brown (Public Domain)

Regdeur die geskiedenis, sowel in die antieke as in die moderne tyd, het diegene wat in kettings gekluister was, geveg om hulself van hulle onderdrukkers te bevry. Soos wat met die meeste beskawings – Assiries, Grieks en selfs Amerikaans – die geval was, is slawe in antieke Rome nie as burgers beskou nie maar as eiendom wat die res van die samelewing van sowel geskoolde as ongeskoolde arbeid voorsien het. Uiteraard het slaweopstande, hetsy in Rome of elders, ’n gevaar vir alle burgers ingehou en alhoewel die meeste van hierdie insurreksies vinnig onder beheer gebring is, het een opstand in die eerste eeu VHJ genoeg kommer vir die Romeinse Senaat veroorsaak dat hulle hul uiteindelik op twee van hul vernaamste generaals beroep het om dit te onderdruk. Oor die verloop van twee jaar het hierdie “klein” rebellie onder leiding van ’n voormalige gladiator ontaard in wat later as die Derde Slaweopstand bekend sou staan. Hierdie man se naam was Spartakus.

Alhoewel nie veel oor sy vroeë lewe bekend is nie, was Spartakus oorspronklik van Trasië, ’n gebied noord-oos van Masedonië, en kon hy moontlik ’n Romeinse soldaat gewees het. Die historikus Plutargos het hom as intelligent en ’n man van kultuur beskryf – “meer Grieks as Trasies”. Hóé dit gebeur het dat hy eers ’n soldaat was en toe – saam met sy vrou – gevange geneem is en ’n gladiator geword het, is onbekend maar weens sy uitsonderlike liggaamsbou en krag het hy die aandag van ’n afrigter genaamd Lentulus Batiatus getrek en is hy na ’n opleidingskamp vir gladiators in Kapua, ’n stad suid van Rome, gestuur. Die lewe in so ’n opleidingskamp vir gladiators was wreed en hárd. Derhalwe het hy en 78 van sy medeslawe in 73 VHJ met die gebruik van kombuismesse in opstand gekom. Nadat hulle ontsnap het, het hulle ’n klein karavaan waens teëgekom wat wapens vervoer het. Hulle het dit in beslag geneem en na die nabygeleë berg Vesuvius gevlug. Binnekort het plaaslike skaap- en veewagters en slawe by hom aangesluit sodat sy klein leër tot meer as 70 000 aangewas het. Om te oorleef, het hulle regdeur sentrale Italië begin plunder. In sy Life of Marcus Licinius Crassus verwys Plutargos na hulle ontsnapping:

Verwyder advertensies
Advertensie

Tweehonderd van hulle het ’n plan begin smee om te ontsnap maar toe hulle komplot ontdek is, het diegene wat betyds daarvan bewus geword het om hulle meester te kon voorspring, agt-en-sewentig altesaam, by ’n kok se winkel kapmesse en spitte bekom en hulle weg deur die stad gebaan, en onderweg het hulle op verskeie waens afgekom wat gladiatorwapens na ’n ander stad vervoer het, en hulle het daarop beslag gelê en hulself bewapen.

SPARTAKUS SE OORWINNING OOR TWEE ROMEINSE LEËRS HET DIE ROMEINSE SENAAT HEWIG VERONTRUS.

Alhoewel hy aansienlike vroeëre suksesse behaal het, en selfs die leërs van twee praetore sowel as dié van die goewerneur van Gallië suid van die Alpe verslaan en op hulle wapentuig beslag gelê het, het Spartakus besef dat Rome uiteindelik sou wen en daarom was hy voornemens om noordwaarts na die Alpe en huiswaarts koers te kies. In 72 VHJ het hy sy magte in twee kontingente verdeel. Die helfte van hulle – die Galliërs en die Germane – het saam met medegladiator Kriksos gegaan terwyl die res – hoofsaaklik Trasiërs – saam met Spartakus gegaan het. Alhoewel hy beoog het om na Trasië terug te keer, het baie van sy volgelinge geweier om Italië te verlaat en het hulle hul eerder suidwaarts na die suide van die land gewend. Plutargos skryf:

Hy het sy leër in die rigting van die Alpe laat opruk met die doel voor oë dat elke man na sy eie huis sal terugkeer sodra hulle dit oorgesteek het, sommiges na Trasië, sommiges na Gallië. Maar hulle, vol selfvertroue in hulle getalle en aangehits deur hulle sukses, het versuim om aan hom gehoorsaam te wees en het gegaan en verwoesting in Italië gesaai; sodat die Senaat nou nie slegs deur die vernedering en die vuigheid, van sowel die vyand as die opstand, ontstig was nie maar hulle het die saak nou ook as ’n kwessie van verontrusting en met moontlik gevaarlike gevolge beskou.

Marcus Licinius Crassus Bust
Borsbeeld van Markus Licinius Krassus
Diagram Lajard (Public Domain)

Alhoewel Spartakus vinnig enige planne laat vaar het om Rome aan te val, het sy sukses teen die leërs van twee konsuls die Senaat genoeg ontstem dat hulle hul beroep het op ’n voormalige volgeling van Sulla – Markus Licinius Krassus – om met ’n leër teen Spartakus ten velde te trek. Met die hoop om sy magte aan te vul, het die beleërde Spartakus nou Silisiese seerowers gehuur om hom na Sicilië te neem. Ongelukkig het hy nie die eiland gehaal nie alhoewel sy geld dit wel gemaak het. Krassus het die rebelse slawe by Bruttium vasgekeer waar 6 000 van die rebelle doodgemaak is. Spartakus kon egter daarin slaag om deur te breek – al was dit net met ’n derde van sy mag – en het weereens ontsnap, waarna hy suidwaarts beweeg en in die proses twee van Krassus se luitenante verslaan het.

Verwyder advertensies
Advertensie

Hy is uiteindelik by Lukanië vasgepen en verslaan en om die lewe gebring, alhoewel sy liggaam nooit gevind is nie. Oor Spartakus se laaste oomblikke merk Plutargos op:

… deur talle vlieënde wapens en gewonde manne het hy sy weg na Krassus self gebaan en alhoewel hy hom nie bereik het nie, kon hy wel twee centurio's van kant maak wat hom tegelykertyd aangeval het. Ten einde laas, nadat sy kamerade op die vlug geslaan het, het hy alleen staande gebly, omring deur sy vyande, en het homself steeds verdedig toe hy neergevel is.

Meer as 6 000 van die rebelle wat gevange geneem is, is gekruisig en hulle liggame al langs die Appiese Weg van Kapua tot by Rome tentoongestel.

Verwyder advertensies
Advertensie

Krassus het gehoop dat hy die oorhand oor Spartakus kon kry voordat Pompejus van Spanje af terugkeer maar ongelukkig het Pompejus betyds opgedaag om 5 000 van Spartakus se volgelinge te verslaan sodat hy die meeste van die glorie vir homself ingepalm het. Toe hulle in 70 VHJ albei vir ’n konsulskap verkies is, het ’n groot konflik ontstaan. Plutargos skryf:

Krassus was redelik gelukkig gewees en sy rol as goeie generaal het boekdele van sy karakter gespreek, en tog het baie van die krediet van die optrede aan Pompejus gegaan. Want hy het baie van die vlugtelinge teëgekom en hulle afgemaai, en aan die Senaat geskryf dat Krassus inderdaad die slawe in ’n vaste veldslag oorwin maar dit was hy, Pompejus, wat ’n einde aan die oorlog gebring het.

Die oorlog en Spartakus se rol daarin het ’n blywende uitwerking gehad. Nadat Julius Caesar lewenslank diktator geraak het, het hy die rebellie onthou en vasbeslote geraak om nog een te voorkom. Deur ’n string wette het hy beoog om Romeinse afhanklikheid van slawe te verminder deur die huur van vry arbeiders aan te moedig. Die geskiedenis huldig uiteenlopende menings rakende Spartakus: Vir sommiges is hy ’n held en woordvoerder vir die verknegtes terwyl ander hom as ’n wrede en meedoënlose rebel beskou. Hoe hy ook al gesien word, hy word daarvoor onthou dat hy die mees gevierde rebellie in die geskiedenis van antieke Rome aangevoer het.

Verwyder advertensies
Advertensie

Bibliografie

World History Encyclopedia is 'n Amazon-medewerker en verdien 'n kommissie op kwalifiserende boekaankope.

Oor die vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die skrywer

Donald L. Wasson
Donald has taught Ancient, Medieval and U.S. History at Lincoln College (Normal, Illinois)and has always been and will always be a student of history, ever since learning about Alexander the Great. He is eager to pass knowledge on to his students.

Noem hierdie werk

APA Styl

Wasson, D. L. (2014, August 14). Spartakus [Spartacus]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal van https://www.worldhistory.org/trans/af/1-882/spartakus/

Chicago-styl

Wasson, Donald L.. "Spartakus." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig August 14, 2014. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-882/spartakus/.

MLA styl

Wasson, Donald L.. "Spartakus." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 14 Aug 2014. Web. 07 Oct 2024.