Gilbert du Motier, die markies De Lafayette

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 15 December 2021
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans
Marie Joseph Paul Yves Roch Gilbert Motier, Marquis De Lafayette (by Charles Wilson Peale, Public Domain)
Marie Joseph Paul Yves Roch Gilbert du Motier, die markies De Lafayette
Charles Wilson Peale (Public Domain)

Marie-Joseph Paul Yves Roch Gilbert du Motier, die markies De La Fayette (1757-1834) – in die Verenigde Status meer algemeen bekend as bloot Lafayette – was ’n Franse aristokraat, militêre offisier en politikus. Hy was ’n vername figuur in sowel die Amerikaanse as Franse Revolusie, en het die toekoms van albei lande gehelp vorm.

Op die ouderdom van 18 jaar het hy Frankryk teen die uitdruklike bevel van die koning verlaat om in die Amerikaanse Oorlog vir Onafhanklikheid (1775-1783) teen die Britte te gaan veg. Daar het hy vinnig opgang deur die geledere gemaak en een van Washington se mees vertroude generaals geword, en was tydens deurslaggewende veldtogte soos Yorktown in bevel van Amerikaanse magte.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ná sy terugkeer na Frankryk het sy ywer vir republikeinse ideale hom genoop om ’n belangrike figuur in sowel die Franse Revolusie (1789-1799) as die Julie Revolusie van 1830 te raak. Hy was instrumenteel in die opstel van die Verklaring van die regte van mense en van burgers (Declaration of the Rights of Man and of the Citizen) in Frankryk – gebaseer op die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring – en het Frankryk tydens een van die land se moeilikste tydperke op koers gehelp hou. Sy betrokkenheid by die revolusies in sowel die Verenigde State as Frankryk het aan hom die bynaam Héros des Deux Mondes (die Held van die Twee Wêrelde) besorg.

Vroeë jare

Lafayette is op 6 September 1757 aan die Château de Chavaniac, ’n somber, vestingagtige landgoed in Auvergne, ongeveer 500 km suid van Parys, gebore. Die redelik militêre ontwerp van die familie se château was ’n perfekte weerspieëling van die La Fayette-familie se militêre tradisie, wat tot en met die stigting van die familie deur ene Pons Motier – aan wie die leengrond Villa Faya omstreeks die jaar 1000 toegeken is – teruggedateer het. ’n Lafayette het in 1250 tydens die Sesde Kruistog onder Louis IX van Frankryk (r. 1226-1270) diens gedoen en het na bewering beslag op die doringkroon gelê. In 1428 het Gilbert III de La Fayette, maarskalk van Frankryk, tydens die legendariese beleg van Orleans skouer aan skouer met Jeanne d’Arc gery. Die mees onlangse kryger voor Lafayette se eie tyd was sy vader wat op 27-jarige ouderdom as grenadierkolonel in die Sewejarige Oorlog diens gedoen het waartydens hy in 1759 in ’n Britse bombardement by die Slag van Minden gesneuwel het. Die afsterwe van die ouer Lafayette het sy seun van twee jaar oud met die titel markies gelaat.

Verwyder Advertensies

Advertisement

TOE LAFAYETTE BY DIE COLLÈGE DU PLESSIS INGESKRYF WAS, IS HY AAN VERLIGTING-IDEES BLOOTGESTEL WAT SY PASSIE VIR VRYHEID SOVEEL TE MEER LAAT TOENEEM HET.

Met die aanhoor van sodanige verhale van glorie het Lafayette uiteraard begin hunker na avonture van sy eie. Later, in ’n beskrywing van sy kinderjare, vertel hy hoe homself as ’n soort Vercingetorix beskou het wat die berge van Auverge verdedig het, en sou later skryf dat hy niks meer van sy kinderjare onthou as sy vurige hunkering na verhale van glorie, en sy planne om die wêreld te bereis in sy soeke na beroemdheid nie (Unger, 7). Hy het ook ’n ander eienskap ontwikkel wat ewe belangrik in sy loopbaan sou wees: ’n liefde vir die gewone burger en vryheid. Sedert ’n jong ouderdom het hy ’n geneentheid tot die kleinboere rondom Auvergne ontwikkel wat tot sy familie toegewyd was aangesien Lafayette se tante hulle toegelaat het om in die familie se woud te jag, en hulle met die oorskot kos begiftig het wat haar eie gesin nie gebruik het nie. Toe Lafayette by die gesaghebbende militêre skool, die Collège du Plessis, ingeskryf was, is hy aan Verligting-idees blootgestel wat sy passie vir vryheid soveel te meer laat toeneem het.

In 1770, terwyl Lafayette in Parys as ’n kadet in die toonaangewende Swart Musketiers was, het sy moeder en ouma binne weke van mekaar tot sterwe gekom, wat aan hom ’n jaarlikse inkomste van 120 000 livre besorg het. Hierdie nuutgevonde rykdom, tesame met sy hoë status as ’n kadet in die Swart Musketiers wat saam met koning Louis XV van Frankryk se eie kleinseuns perdry geoefen het, het van hom een van die mees gesogte vrygeselle in Parys gemaak. Om hierdie redes het hy die aandag getrek van die duc D’Ayen, ’n invloedryke edelman van die bekende De Noailles-familie. D’Ayen was oortuig dat die 14-jarige Lafayette perfek by sy 12-jarige dogter Adrienne sou pas, en hy het huweliksreëlings begin tref, en persoonlike belangstelling daarby ontwikkel om Lafayette se onderrig voort te sit. Lafayette en Adrienne is in 1774 amptelik getroud, met die huwelikskontrak wat deur sowel koning Louis XV (r. 1715-1774) as die dauphin, wat minder as ’n maand later as koning Louis XVI van Frankryk (r. 1774-1792) gekroon sou word, onderteken is. Met die vooruitsig daarvan om sy skoonseun se loopbaan te bevorder, het D’Ayen vir Lafayette by die elite-eenheid, die Noailles Dragonders, laat inskryf.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hermione Frigate
Die fregat Hermione
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Revolusie in Amerika

Nadat Groot-Brittanje se 13 Amerikaanse kolonies hulle onafhanklikheid verklaar het, het die jong Verenigde State geweet dat hulle buitelandse hulp benodig het indien hulle enige hoop sou staan om ’n oorlog teen een van die wêreld se voorste moondhede te wen. As deel van hulle pogings het Amerikaanse diplomate in Parys Franse offisiere begin werf om in ruil vir die opleiding van Amerikaanse soldate, aktes van kommissie in die Kontinentale Leër te aanvaar. Lafayette het die geleentheid aangegryp maar die Britte het die plan straks ontdek en daarmee gedreig om Frankryk in ’n staat van oorlog te beskou, sou die offisiere toegelaat word om na Amerika te vertrek. Die regering van Louis XVI het ’n dekree uitgereik wat alle Franse offisiere op straf van gevangesetting verbied het om hulle na Amerika te begeef. Lafayette, wie se status as musketier en wie se noue verbintenis aan die Franse hof te Versailles hom as ’n persoon van spesiale belang laat uitstaan het, is uitdruklik in die koning se dekree genoem.

Lafayette is na Londen gestuur waar hy met belangrike Britse beamptes, onder meer koning George III (r. 1760-1820), vergader het. Hy was egter steeds voornemens om na Amerika te gaan en met die begeerte om die ongeregtighede van die vorige oorlog reg te stel, om die Engelse te beveg en hom tot die hulp van die Amerikaners te haas (Auricchio, 13), het die 19-jarige markies – sonder om ’n woord aan sy familie te rep ten einde nie agterdog te wek nie – aan boord die skip Victoire uit Frankryk geglip. Ná ’n veeleisende reis oor die Atlantiese Oseaan het hy in Junie 1777 in Charleston voet aan wal gesit en sy weg na Philadelphia gebaan om sy eerste beloofde akte van kommissie te ontvang. Die Kontinentale Kongres was egter teësinnig aangesien daar ’n onverwagse toestroming van buitelandse offisiere was waarvan baie werklike ervaring ontbreek, en baie min Engels gepraat het. Alhoewel Lafayette self nog nie aan ’n enkele veldslag deelgeneem het nie, kon hy daarin slaag om die Kongres met sy entoesiasme en sy status as Vrymesselaar om te haal, en is die rang generaal-majoor aan hom toegeken.

The First Meeting of Washington and Lafayette
Die eerste ontmoeting tussen Lafayette en Washington
Currier & Ives (Public Domain)

Lafayette en George Washington (1732-1799), opperbevelvoerder van die Kontinentale Leër, het mekaar die eerste maal in Philadelphia ontmoet. Lafayette was uit die staanspoor ingenome met Washington se handelswyse en het in die Virginia-aristokraat die deug herken van die Romeinse republikeinse helde waarvoor hy so ontsag gekoester het. Toe Washington die jong Fransman vir die eerste maal die kamp van die Amerikaanse leër gewys het, het die generaal sy verleentheid te kenne gegee oor hoe sy eie gebrekkige mag moes voorkom vir ’n offisier wat reguit uit die Franse leër af gekom het. Lafayette het geantwoord, “Ek het hierheen gekom om te leer, nie te onderrig nie.” (Unger, 41) Die twee mans het vinnig ’n band gevorm, en in Washington het Lafayette ’n lewenslange vriend en vaderfiguur gevind.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Lafayette se eerste ondervinding van ’n geveg was op 11 September 1777 by die Slag van Brandywine Kreek waar hy in die linkerkuit gewond is terwyl hy probeer het om vlugtende Amerikaanse soldate weer byeen te monster. Dit het hom minder as twee maande geneem om te herstel alvorens hy na die slagveld teruggekeer en by Gloucester 300 soldate na ’n sege oor ’n Hessiese oormag aangevoer het. Hy het geweldig getrou aan Washington gebly en by Valley Forge nie die generaal se sy verlaat nie totdat hy beveel is om ’n inval van Kanada te loods – ’n bevel wat hy verseg het om te aanvaar mits hy onder Washington se gesag kon optree. Alhoewel die beplande inval nooit verwesenlik het nie, kon Lafayette in die winter van 1777 daarin slaag om in die noorde van die deelstaat New York met die ses nasies van die Irokese te vergader, en selfs die Oneidas oor te haal om hulle aan die kant van die Amerikaners te skaar. Die Oneidas was so beïndruk met die Fransman dat hulle die naam Kayewla, oftewel “angswekkende ruiter” aan hom toegeken het.

Soos die Amerikaanse Revolusionêre Oorlog voortgesleep het, het Lafayette in al belangriker rolle gedien, en divisies by beslissende veldslae soos Monmouth Geregshof en Newport aangevoer. Hy het ’n gewilde figuur in die Verenigde State geraak, en vinnig vriende met baie soldate, lede van die Kongres en stigters gemaak. Terug in Frankryk is verhale van sy heldhaftigheid ruim versprei en hy is as’t ware tot die status van gevierde persoon verhef, veral nadat Frankryk in 1778 amptelik aan die kant van Amerika by die oorlog betrokke geraak het.

Terwyl hy 1779 in Frankryk deurgebring het, het Lafayette die Franse magte gehelp organiseer wat na Amerika gestuur sou word, en ook ’n gedurfde inval van Brittanje self beplan, wat op die ou einde nooit plaasgevind het nie. In 1781 het Lafayette ’n leër in Virginia aangevoer terwyl hy kat-en-muis met ’n Britse leër onder aanvoering van lord Cornwallis (1738-1805) gespeel het. Lafayette het Cornwallis in die handelshawe Yorktown vasgekeer, en daarin geslaag om hom vas te pen totdat Washington oorland kon opdaag terwyl ’n Franse vloot die hawe van die see af geblokkeer het. Cornwallis het op 19 Oktober oorgegee, en dit was een van die laaste beslissende konflikte van die oorlog. Ingevolge die Verdrag van Parys is die onafhanklikheid van die Verenigde State erken, en Lafayette het na Frankryk teruggekeer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Revolusie in Frankryk

LAFAYETTE HET HOM DAARVOOR BEYWER OM HEGTER FRANS-AMERIKAANSE BANDE TE SMEE, VOORSPRAAK VIR DIE REGTE VAN FRANSE PROTESTANTE GEMAAK, EN TEN GUNSTE VAN DIE AFSKAFFING VAN SLAWERNY GEARGUMENTEER.

Nadat hy in Auvergne met sy vrou en drie kinders herenig is, het Lafayette hom daarvoor beywer om hegter Frans-Amerikaanse bande te bewerkstellig, voorspraak vir die regte van Franse Protestante gemaak en ten gunste van die afskaffing van slawerny geargumenteer. Intussen het Frankryk tydens die 1780’s al meer in ’n staat van chaos ontaard, en ’n finansiële krisis, grootskaalse werkloosheid en wydverspreide hongersnood in die gesig gestaar. Nasionale onrus het tot en met 1789 aangehou vererger tot Louis XVI gedwing is om vir die eerste keer in 175 jaar die Algemene Landgoed byeen te roep.

Die Algemene Landgoed was ’n wetgewende en raadgewende vergadering wat uit die drie verskillende landgoedere, of klasse, Franse onderdane bestaan het: die kerklui, die adelstand en die gewone burgers. Elke landgoed het net een stem gekry en daarom kon die eerste twee landgoedere, wat net 10% van die bevolking verteenwoordig en dikwels saamgestem het, altyd die derde landgoed, wat die ander 90% verteenwoordig het, oorstem. Om dit teë te werk, het Lafayette voorgestel dat ’n nasionale vergadering eerder byeengeroep word, waar elke individu ’n enkele stem sou hê; maar hierdie voorstel is aanvanklik ten sterkste afgekeur.

Die Algemene Landgoed het op 5 Mei 1789 in Versailles vergader, met Lafayette wat as ’n verteenwoordiger van die Tweede Landgoed gekies is. Alhoewel belasting veronderstel was om die oorspronklike onderwerp van bespreking te gewees het, het die samesprekings vinnig ontaard in argumente rakende die landgoedere se samestelling, en spesifiek oor die magswanbalans. Ná meer as ’n maand se beraadslaging, met die koningsgesindes wat nie daarin kon slaag om die bespreking terug na belastings te stuur nie, het die Derde Landgoed – met ’n bietjie hulp van individuele lede van die ander landgoedere – hulself as Nasionale Vergadering verklaar.

The Opening of the Estates-General
Die opening van die Algemene Landgoed
Isidore-Stanislas Helman (Public Domain)

Hulle het die ander landgoedere genooi om by hulle aan te sluit maar het dit duidelik gestel dat hulle met óf sonder hulle beoog het om ’n nasionale beleid toe te pas. Die ontstoke koningsgesindes se reaksie hierop was om soldate te gebruik om te verhoed dat lede van die Nasionale Vergadering – onder meer Lafayette – toegang tot Versailles verkry, en het sodoende daartoe aanleiding gegee dat die lede ’n eed op die tennisbane afgelê het om nié uitmekaar te gaan totdat ’n grondwet daargestel kon word nie.

Lafayette het hierdie verwikkeling as ’n geleentheid aangegryp om sy geliefde Amerikaanse ideale in sy geboorteland te vestig, en het met sy vriend Thomas Jefferson (1743-1826) vergader en saam het hulle die eerste konsepdokument opgestel van wat later die Verklaring van die regte van mense en burgers (Declaration of the Rights of Man and Citizen) sou raak. Die verklaring het die natuurlike regte geproklameer wat alledaags aan Verligting-ideale was, onder meer die idee dat alle mense vry en gelyk gebore word, en dat alle mense die onvervreembare reg op vryheid, eiendom, veiligheid en weerstand teen onderdrukking het. Maar net soos Lafayette besig was om die konsepdokument af te rond, het dinge in Parys aangehou eskaleer. Op 14 Julie – die einste dag waarop die Nasionale Vergadering vergader het om die verklaring as aanhef tot hulle nuwe grondwet te oorweeg – is die Bastille bestorm.

Die volgende dag, terwyl hulle chaos en wanorde in die gesig gestaar het, het die Nasionale Vergadering bevel oor die nuutgevormde Nasionale Garde aan Lafayette toegeken, en hom die taak opgelê om orde in die stad te handhaaf. Lafayette het sy nuwe rol ernstig opgeneem en die manne onder sy bevel tot die beste van sy vermoë opgelei. Hy het hulle met kokardes uitgerus wat die rooi en blou van die revolusie met Bourbon-wit gekombineer het, en sodoende gehoop om die Garde se verbintenis tot sowel die mense as die kroon te demonstreer. Hierdie simbool het later die driekleur van Frankryk geraak.

Terselfdertyd as wat hy op straatmisdaad toegeslaan het, het hy druk op die Nasionale Vergadering uitgeoefen om die regering in ’n konstitusionele monargie te herorganiseer, wat Louis XVI in staat sou stel om die troon te behou terwyl republikeinse beginsels aan Frankryk bekendgestel word. Hierdie middeweg het vir Lafayette baie vyande besorg: Koningsgesindes het hom as ’n gevaarlike revolusionêr beskou wat die monargie omver probeer werp het, terwyl radikale soos die Jakobyne gevoel het dat hy nie ver genoeg gegaan het om die mense te help nie. Vir Lafayette was die handhawing van wet en orde die belangrikste saak, en in 1790 het hy die Fête de la Fédération – ’n enorme vakansiefees ter ere van die Revolusie – gehelp organiseer. Op die Champ de Mars het Lafayette ’n skare van 350 000 Parysenaars voorgegaan in ’n eed wat trou aan die nasie, die reg en die koning gesweer het. Dit was moontlik die kruin van Lafayette se gewildheid, ’n tyd toe sy houvas op die stad hom genoop het om aan ’n vriend te skryf, “Ek heers in Parys.” (Auricchio, 193)

Oath of La Fayette at the Fête de la Fédération, 14 July 1790
La Fayette se eed by die Fête de la Fédération, 14 Julie 1790
Anonymous Painter from Paris (CC BY-SA)

Op 20 Junie 1791 het Louis XVI en sy gesin uit hulle tuisgevangenskap te Tuilieres ontsnap. Alhoewel hulle deur die Nasionale Garde aangekeer en deur Lafayette self terug vergesel is, het die insident baie mense agterdogtig jeens die markies gemaak aangesien dit tydens sý manskappe se wag was wat die koninklike gesin ontsnap het. Die Jakobynse leier Maximilien Robespierre (1758-1794) het selfs so ver gegaan as om hom ’n verraaier van die volk te noem. Lafayette se reputasie is op 17 Julie nog ’n knou toegedien toe soldate onder sy bevel op ’n betoging teen die monargie by die Champ de Mars losgebrand het wat die lewe van verskeie Franse burgers geëis het. Ná die bloedbad het ’n skare sy huis aangeval en Adrienne leed probeer aandoen maar sy kon daarin slaag om te ontsnap. Nadat ’n grondwet bekragtig is, het Lafayette in Oktober van sy bevel afstand gedoen.

Teen 1792 het revolusionêre vurigheid Frankryk tot oorlog met Oostenryk en Pruise meegesleur. Lafayette is bevel gegee oor een van die nuwe leërs wat op die been gebring is, maar hy het sy nuwe posisie weldra met groot omsigtigheid bejeën. Die Jakobynse mag was aan die toeneem en baie van Revolusionêre Frankryk se nuwe soldate was onopgeleide Jakobyne wat hulle hoër offisiere gehaat het. Lafayette se wantroue in die Jakobyne het daartoe aanleiding gegee dat Robespierre hom weereens ’n verraaier voor ’n menigte genoem het wat aanstons ’n beeld van hom verbrand het. Lafayette het na Oostenrykse Nederland gevlug in die hoop dat hy van daar na die Verenigde State kon vaar. Hy is egter deur Oostenrykse soldate aangekeer en onder arres geplaas. Die monarge van Oostenryk en Pruise het hom as ’n gevaarlike revolusionêr beskou wat gevange gehou moes word totdat ’n herstelde Franse koning die oordeel oor hom kon vel, en derhalwe is hy na die tronk te Olmütz oorgeplaas waar hy die res van die Franse Revolusie deurgebring het. Ná vyf jaar se gevangenskap is sy vrylating in September 1797 deur Napoleon Bonaparte (1769-1821) beding en het hy ten einde laas na Frankryk teruggekeer.

Later jare

Ná sy vrylating het Lafayette die volgende paar dekades by sy huis La Grange uit die openbare oog deurgebring. Alhoewel sy seun, George Washington Lafayette, vlugtig diens in Napoleon se leër gedoen het, het Lafayette self die keiser met afkeur bejeën en vir die duur van Napoleon se bewind sowel as die Bourbon Restourasie wat gevolg het, nie veel van ’n rol in nasionale aangeleenthede gespeel nie. In 1824 is Lafayette deur president James Monroe (1758-1831) genooi om ’n groot toer van die Verenigde State te onderneem om die land se 50ste verjaardag te herdenk. Hy het die uitnodiging aanvaar en elkeen van die 24 deelstate besoek, en oral waar hy gegaan het, is hy met groot fanfare en heldeverering ontvang.

Met sy terugkeer na Frankryk het hy Parys weer in oproer gevind. Die nuwe koning, Charles X (r. 1824-1830), was voornemens om weer ’n absolute monargie in te stel en het talle beperkings op burgerlike vryhede ingestel. In Julie 1830 het ’n nuwe revolusie deur Parys geswiep, en die 73-jarige Lafayette is as bevelvoerder van ’n herstelde Nasionale Garde aangewys. Nadat Charles afstand van die troon gedoen het, het Lafayette sy steun aan Louis-Philippe (r. 1830-1848) toegesê as die volgende koning. Terwyl hy op ’n balkon gestaan het, het Lafayette ’n driekleurvlag aan die nuwe koning oorhandig, en hom ten laste gelê om die nuwe grondwet te handhaaf.

Lafayette is op 20 Mei 1834 op 76-jarige leeftyd oorlede. Hy is langs sy vrou in Picpus-begraafplaas begrawe, met grond van Bunker Heuwel wat oor sy graf gestrooi is.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2021, December 15). Gilbert du Motier, die markies De Lafayette [Gilbert du Motier, Marquis de Lafayette]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20324/gilbert-du-motier-die-markies-de-lafayette/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Gilbert du Motier, die markies De Lafayette." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig December 15, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20324/gilbert-du-motier-die-markies-de-lafayette/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Gilbert du Motier, die markies De Lafayette." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 15 Dec 2021. Web. 03 Oct 2022.