Verklaring van die regte van mense en burgers

Artikel

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 08 June 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Portugees, Spaans

Die Verklaring van die regte van mense en burgers (Declaration of the Rights of Man and of the Citizen [Frans: Declaration des Droits de l’Homme et du Citoyen]) is ’n menseregtedokument wat in die vroeë stadium van die Franse Revolusie (1789-1799) aangeneem is. Die Verklaring is deur die beginsels van die Eeu van Verligting geïnspireer, het uit 17 artikels bestaan en het as inleiding tot die Franse Grondwet van 1791 gedien.

Declaration of the Rights of Man and of the Citizen, 1789
Die Verklaring van die Regte van Mense en Burgers
Jean-Jacques-François Le Barbier (Public Domain)

Die dokument is oorspronklik deur Gilbert du Motier, die markies de Lafayette (1757-1834) opgestel en was gebaseer op konsepte soos Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) se teorie oor algemene wil, die deling van magte en die idee dat alle mense onderhorig aan universele en natuurlike menseregte is. Die Verklaring, wat die eerste maal in Augustus 1789 aangeneem is, het as bevestiging van die kernwaardes van die Franse Revolusie gedien, en het in sowel Europa as regoor die wêreld ’n enorme impak op die ontwikkeling van vryheid en demokrasie gehad.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Alhoewel die Verklaring aanvanklik as ’n bykans gewyde dokument beskou is, sou dit tydens die Revolusie ’n paar keer gewysig word – eers om by die Grondwet van 1793 te pas, en weereens vir die Grondwet van 1795 (jaar III van die Franse Republikeinse Kalender). Die oorspronklike 1789-weergawe bly geskiedkundig egter die beduidendste en is as inleiding by die grondwet van sowel die Vierde Franse Republiek (1946-1958) as die huidige Vyfde Franse Republiek (1958 tot die hede) ingesluit.

Oorsprong

Die somer van 1789 was ’n hoopvolle tyd vir Frankryk. Die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk het versoen in een Nasionale Wetgewende Vergadering wat die boeie van feodalisme gedemonteer het, en met die Augustus Dekrete die adelstand en die kerklui hul voorregte ontneem het. Die menigte het hulle eie stem laat hoor toe hulle op 14 Julie die Bastille bestorm het, en die hardkoppige koning Louis XVI (r. 1774-1792) gedwing het om teësinnig – en tydelik – hom by die Revolusie neer te lê. Met die bloeddeurdrenkte maande van die Skrikbewind (1793-1794) steeds jare in die toekoms, was die somer van 1789 getuie van ’n vreedsame en ordelike Revolusie, waarin versoening met die koning steeds haalbaar voorgekom het, en die uitbreek van die Franse Revolusionêre Oorloë nog nie ’n uitgemaakte saak was nie. Vir baie Franse het hierdie somer die belofte ingehou dat ’n beter lewe net om die draai geluier het.

Verwyder Advertensies
Advertisement
DIE VERKLARING WAS BEDOEL GEWEES OM BLOOT VOORLOPIG TE WEES, OM GEWYSIG TE WORD SOOS WAT DIE VERGADERING DIE REIS AANgePAK het OM ’N NUWE GRONDWET TE BEDINK.

Dit was ten midde van hierdie optimistiese atmosfeer wat die Vergadering die Verklaring van die regte van mense en burgers op 26 Augustus 1789 goedgekeur het. Die dokument, insluitend ’n inleidende teks en sewentien artikels, was bedoel om bloot voorlopig te wees, om soos nodig gewysig te word soos wat die Vergadering die moeisame taak aangepak het om ’n nuwe grondwet te bedink. Toe die grondwet egter twee jaar later gefinaliseer is, het niemand wysigings aan die Verklaring gedurf voorstel nie. Teen daardie tyd was dit basies reeds ’n gewyde geskrif.

Die Franse Verklaring, met sy oorsprong in Verligting-ideale, het inspirasie geput uit die onlangse Amerikaanse Revolusie, wat baie al te idealistiese afgevaardigdes van die Vergadering beskou het as die vernaamste suksesstorie van vryheid wat oor tirannie seëvier. Derhalwe is dit nouliks ’n verrassing dat Lafayette – ’n kampvegter vir Amerikaanse vryhede wat nou daarna gestreef het om daardie vryhede aan sy eie landgenote bekend te stel – die oorspronklike skrywer van die Verklaring was. Met die uitgesproke ondersteuning van ander Franse veterane van die Amerikaanse Revolusionêre Oorlog (1775-1783) het Lafayette op 11 Julie, ’n skamele drie dae voor die val van die Bastille, eers die behoefte aan ’n bevestiging van burgers se natuurlike regte aan die Vergadering voorgestel. Die bestorming van die Bastille, wat die Revolusie versterk en aan Lafayette, as bevelvoerder van die Nasionale Garde, self ’n posisie van gesag besorg het, kon nouliks as ’n beter mandaat blyk te gewees het vir hom om met sy werk voort te gaan.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Lafayette het ten nouste saamgewerk met sy persoonlike vriend Thomas Jefferson (1743-1824), wat toe as die Verenigde State se ambassadeur in Frankryk diens gedoen het. Alhoewel Jefferson die Vergadering se aanbod om hulle in ’n formele hoedanigheid te adviseer van die hand gewys het – met pligte teenoor sy eie land as verduideliking – het hy seker gemaak dat hy elke konsepdokument wat Lafayette aan hom gestuur het, deurgelees het, en wysigings gemaak en dinge uitgewys wat hy gereken het in ag geneem moes word. Uiteraard het die gevolglike Franse Verklaring nóú met Amerikaanse voorbeelde ooreengestem, veral die Virginia Verklaring van Regte en die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring, wat albei deur Jefferson geskryf is. Soos wat historikus Ian Davidson opmerk, stem die Franse en die Amerikaanse verklarings nie net ooreen ten opsigte van hulle steun aan die natuurlike regte van mense nie, maar ook as oorlogsverklaring en manifes teen tirannie: die Onafhanklikheidsverklaring was ’n oorlogsverklaring teen koning George III van Groot-Brittanje (r. 1760-1820), terwyl die Franse Regte van mense ’n oorlogsverklaring teen die Ancien Régime was.

Daar was wel diegene wat die Franse Verklaring gekritiseer het. Sommiges binne die Vergadering was nie ten gunste van Lafayette se navolging van die Amerikaanse ervaring nie, en het uitgelig dat die twee situasies heeltemal verskil het: Die Verenigde State was ’n nuwe nasie wat besig was om van die begin af vir hulle ’n afsonderlike identiteit te skep nadat hulle die juk van hulle koloniale heersers afgewerp het. Daarenteen was Frankryk ’n aloue volk wat al langer as ’n duisend jaar deur konings geregeer is. Eerder as om ’n splinternuwe regering te vorm, het Frankryk die uitdaging in die gesig gestaar om ’n nuwe staatsgemeenskap binne die perke van ’n bestaande regering te skep, en om die koning se teenwoordigheid te inkorporeer by enige verklaring van regte wat dit goedkeur. Soos wat die Comte de La Blanche die vergelyking so kru beskryf het: “Ons moenie vergeet nie dat die Franse nie ’n volk is wat maar onlangs vanuit die dieptes van die woud getree het om ’n oorspronklike genootskap te vorm nie.” (Schama, 443)

Marie Joseph Paul Yves Roch Gilbert Motier, Marquis De Lafayette
Marie Joseph Paul Yves Roch Gilbert du Motier, die markies De Lafayette
Charles Wilson Peale (Public Domain)

Dit het tot die debat binne die Vergadering gelei van presies hoe ’n voltooide weergawe van die Verklaring daar moet uitsien. Afgevaardigdes in die Monarchiens (monargale faksie) het geargumenteer dat die Vergadering met net soveel vurigheid op die regte van die koning moes fokus as wat hulle hul op die regte van die burger toegespits het. Vir die Monarchiens was dit van die uiterste belang dat die koning Frankryk se hoogste uitvoerende mag moes bly, met die reg op ’n absolute veto op enige besluit wat die Vergadering geneem het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

In skreiende teenstelling hiermee was die antirojalistiese afgevaardigdes, waarvan sommiges oortuig was dat hulle ’n plig gehad het om selfs verder as die Amerikaners te gaan. Onder hulle was abbé Emmanuel-Joseph Sieyès (1748-1836) die voorbok, wie se seminale pamflet Wat is die Derde Landgoed? aansienlik tot die stigting van die Vergadering bygedra het. Sieyès het die Amerikaners gekritiseer dat hulle visie te beperk was, en dat hulle aan ou konsepte van mag en gesag vasgeklou het, en hy het bygedra tot verdere konsepdokumente wat in nouer ooreenstemming was met sy doelwit van ’n “volk wat hulle volle soewereiniteit hervat” (Furet & Ouzof, 821).

Die debat oor die Verklaring het op 1 Augustus in die Vergadering begin, is op die 4de onderbreek terwyl die afgevaardigdes hulle aandag op die aftakeling van feodalisme toegespits het, en is op die 12de hervat. ’n Komitee is toe aangestel om deur die verskillende voorstelle te gaan wat deur afgevaardigdes ingedien is. Die voorstelle is toe tot 17 artikels ingekort wat op 26 Augustus deur die Vergadering aanvaar is, en wat ná voltooiing van die die komende grondwet as inleiding daarby geheg sou word.

Artikels

Die Verklaring het met sy eie inleiding begin waarmee die eienskappe van ’n mens se reg as onvervreembaar, natuurlik en gewy beskryf is. Dit het die Vergadering se vroeëre vernietiging van feodalisme en die voorregte van die adel weerspieël, asook die inperking van die monargie en die beklemtoning van die regte van alle burgers om by wyse van metodes soos vryheid van spraak en uitdrukking aan die demokratiese proses deel te neem. Die Verklaring het die teorie van algemene wil omhels wat deur die Verligting-filosoof Rousseau aan die hand gedoen is, wat te kenne gegee het dat die staat die wil van die burgers verteenwoordig het, en dat wette nie regmatig sonder die volk se toestemming afgedwing kon word nie.

Verwyder Advertensies
Advertisement
DIE FRANSE ARTIKELS SÊ NIKS OOR DIE OORTREDINGE VAN KONING LOUIS XVI EN OF DAAR ENIGSINS ’N KONING MOES WEES NIE.

Die artikels bevat ook ander Verligting-idees, soos die deling van magte waarop baron de Montesquieu (1689-1755) aangedring het, asook die idee dat die individu teen arbitrêre gevangesetting beskerm moes word – ’n konsep van Voltaire (1694-1778) wat weerklink het. Die invloed van die fisiokrate, ’n ekonomiese denkrigting wat grond as die bron van welvaart beskou het, het ook oorwegend in die Verklaring se klem op die belangrikheid van eiendom voorgekom.

Veelseggend genoeg, en in kontras met die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring, het die Franse artikels glad nie die oortredinge van koning Louis XVI genoem nie, en trouens niks daaroor gesê of daar enigsins ’n koning moes wees nie. Die artikels het egter wel die idee gebied van ’n populêre soewereiniteit as plaasvervanger vir die konsep van ’n koning se hemelse reg om te heers.

Hieronder volg die 17 artikels (vertaling deur Yale Regsfakulteit se Avalon Projek):

  1. Mense word vry en met gelyke regte gebore, en bly sodanig. Sosiale onderskeid mag slegs op algemene beswil gegrond word.
  2. Die doel van alle politiese omgang is die behoud van die natuurlike en onvervreembare regte van mense. Hierdie regte is vryheid, eiendom, sekuriteit en weerstand teen onderdrukking.
  3. Die beginsel van alle soewereiniteit berus essensieel in die volk. Geen liggaam of individu mag enige mag uitoefen wat nie direk uit die volk spruit nie.
  4. Vryheid bestaan in die vrymag om alles te doen wat niemand anders leed besorg nie; derhalwe het die uitoefening van die natuurlike regte van mense geen perk nie buiten dié wat aan die ander lede van die samelewing die genot van dieselfde regte verseker. Hierdie perke kan slegs deur die wet bepaal word.
  5. Die wet kan slegs sodanige optrede verbied wat die samelewing tot nadeel strek. Niks mag verhinder word wat nie deur die wet verbied word nie, en niemand mag gedwing word om iets te doen waarvoor die wet nie voorsiening maak nie.
  6. Die wet is die uiting van die algemene wil. Alle burgers het die reg om persoonlik, of by wyse van hulle verteenwoordiger, aan die daarstelling daarvan deel te neem. Dit moet dieselfde vir almal wees, hetsy of dit beskerm of bestraf. Alle burgers, synde gelyk in die oë van die wet, is volgens hulle vaardighede, en sonder onderskeid buiten op grond van hulle deugde en talente, ewe geskik vir alle ampte en alle openbare posisies en betrekkinge.
  7. Geen persoon sal aangekla, gearresteer of opgesluit word nie, buiten vir sodanige gevalle en ooreenkomstig die vorme wat deur die wet voorgeskryf word. Enigeen wat enige arbitrêre bevel versoek, deurstuur, uitvoer of veroorsaak dat dit uitgevoer word, sal gestraf word. Maar alle burgers wat kragtens die wet gedagvaar of gearresteer word, sal hulle sonder vertraging daaraan onderwerp, aangesien verset ’n oortreding uitmaak.
  8. Die wet sal slegs vir sodanige strawwe voorsiening maak wat streng en ooglopend noodsaaklik is, en niemand sal straf verduur behalwe wanneer dit kragtens ’n wet toegedien word wat voor die pleeg van die misdaad goedgekeur en geproklameer is nie.
  9. Aangesien alle mense as onskuldig beskou word totdat hulle skuldig verklaar is, sal – indien arrestasie as onontbeerlik beskou word – alle hardhandigheid wat nie noodsaaklik is om ’n persoon in bewaring te neem nie, fel deur die wet bedwing word.
  10. Niemand sal vanweë sy of haar mening, onder meer sy of haar godsdienstige beskouing, verontrus word nie, met dien verstande dat die manifestering daarvan nie die openbare orde versteur wat deur die wet daargestel is nie.
  11. Die vrye mededeling van idees en menings is een van die kosbaarste regte van die mens. Elke burger mag dienooreenkomstig met vryheid praat, skryf en druk maar sal vir sodanige misbruike van hierdie vryheid aanspreeklik wees soos wat dit deur die wet gedefinieer word.
  12. Die beveiliging van die regte van mense en van burgers verg openbare militêre magte. Derhalwe word hierdie magte vir die beswil van almal daargestel, en nie vir die persoonlike voordeel van diegene aan wie hulle toevertrou sal word nie.
  13. ’n Algemene bydrae is noodsaaklik vir die onderhoud van die openbare magte, en vir die koste van administrasie. Dit moet gelyk onder alle burgers, in verhouding tot hulle geldmiddele, verdeel word.
  14. Alle burgers, hetsy persoonlik of by wyse van hulle verteenwoordiger, het die reg om te besluit op die noodsaaklikheid van die openbare bydrae; om dit vrylik te vergun; om te weet waarvoor dit aangewend word; en om die verhouding, die assesseringsmetode en die invorderingsmetode en duur van die belastings vas te stel.
  15. Die samelewing het die reg om van alle openbare agente rekenskap van hulle administrasie te vereis.
  16. ’n Samelewing waarin nakoming van die wet nie verseker word nie, en die verdeling van magte nie gedefinieer word nie, het geen grondwet nie.
  17. Aangesien eiendom ’n onskendbare en gewyde reg is, sal niemand daarvan ontneem word nie behalwe waar openbare noodsaaklikheid, wetlik bepaal, dit duidelik vereis, en dan slegs op voorwaarde dat die eienaar voorheen en billik vergoed is.

Die Verklaring met betrekking tot vroue en slawerny

Die Verklaring was beslis ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis van menseregte, en was van groter omvang as die meeste soortgelyke dokumente wat dit voorafgegaan het. En tog het die regte wat dit behels het glad nie almal ingesluit nie. Tydens die opstel daarvan is aktiewe burgerskap slegs toegestaan aan manlike besitters van eiendom ouer as 25 jaar wat hulle belasting betaal het en nie as diensknegte gedefinieer kon word nie. Dit het rofweg op 4,3 miljoen Franse uit ’n bevolking van ongeveer 27 miljoen neergekom. Vroue, slawe en buitelanders is daardeur by die demokratiese proses uitgesluit.

Met die atmosfeer van revolusionêre verandering wat reeds in die lug gehang het, het dit nie lank geneem nie voordat hierdie status quo aangeveg is. Kort ná die Vrouemars na Versailles in Oktober is ’n petisie aan die Nasionale Vergadering gestuur wat ’n dekreet voorgestel het wat die gelykheid van vroue proklameer. Die skrywers van die petisie het hulle woede te kenne gegee oor die Verklaring se skynheiligheid wat die voorregte van die hoërklasse tot niet gemaak het terwyl dit die voorregte van die manlike geslag gehandhaaf het. Die petisie, wat ook ’n beroep op die afskaffing van slawerny gedoen het, het gemeld dat alhoewel die Vergadering die “ware gelykheid van regte uitgevors het”, hulle sodanige regte “steeds van die fraaiste en die mees interessante helfte van julle weerhou het!” (Die vrouepetisie aan die Nasionale Vergadering).

Olympe de Gouges
Olympe de Gouges
Alexander Kucharsky (CC BY-SA)

Die petisie is nie goed ontvang nie. Alhoewel sommige afgevaardigdes simpatiek was, het ander aangevoer dat hierdie vroue bloot aan histerie gely het weens die spanning verbonde aan die vinnig veranderende samelewing. Woede en frustrasie dat vroueregte nie in oorweging gebring is nie, het die dramaturg Olympe de Gouges (1748-1793) genoop om in September 1791 die Verklaring van die regte van vroue en vroueburgers neer te pen. Met hierdie direkte repliek op die Regte van mense het De Gouges gepoog om die versuim van die Revolusie te onthul om die belofte van gelykheid gestand te doen. In wat as feitlik ’n parodie van die oorspronklike beskryf is, het De Gouges die oorspronklike Verklaring punt vir punt nagevolg en die Vergadering se skynheiligheid deur middel van sarkasme beklemtoon. Alhoewel De Gouges se werk tot haar teregstelling in 1793 gelei het, het die Verklaring van die regte van vroue die publiek se aandag op feministebelange gefokus.

Ongeag die pogings van Jacques-Pierre Brissot (1754-1793), wat met sy afskaffingsklub Les Amis de Noirs lank reeds voorspraak vir die afskaffing van slawerny gemaak het, het die Regte van mense nie daarin geslaag nie. Alhoewel die Verklaring nie van slawerny melding gemaak het nie, het die beginsels daarin vervat baie verslaafde mense in die Franse kolonie Saint-Domingue (hedendaagse Haïti) geïnspireer om teen hulle meesters in opstand te kom. Hierdie slawe-opstande het die Haïtiese Revolusie (1791-1804) geraak. Die Jakobyne het later in 1794 die beoefening van slawerny afgeskaf, alhoewel dit in 1802 kortstondig deur Napoleon Bonaparte (1769-1821) voor die onafhanklikheidswording van Haïti in 1804 weer ingestel is.

Ten slotte

Ongeag die tekortkominge daarvan was die Verklaring van die regte van mense en burgers een van die beduidendste en blywendste prestasies van die Franse Revolusie. “So ver as wat dit die geskiedenis aangaan,” skryf Ian Davidson, “is daar slegs een verklaring van menseregte van enige belang voor dié van die Verenigde Nasies in 1948, en dit is die Franse Verklaring van 1789.” Alhoewel hierdie stelling beslis debatteerbaar is, is die monumentele impak van die Regte van mense op die Franse en wêreldgeskiedenis beslis nie.

Dit was egter nie altyd ’n uitgemaakte saak dat die Verklaring sou stand hou nie. Koning Louis XVI het geweier om daartoe in te stem, totdat die Vrouemars na Versailles in Oktober 1789 hom genoop het om bes te gee. Alhoewel die Vergadering die Verklaring as té gewy beskou het om dit vir die Grondwet van 1791 te wysig, het die veranderende behoeftes van die Revolusie daartoe gelei dat die Jakobyne – in hulle hoop om selfs verder in die naam van demokrasie te gaan – ’n nuwe weergawe opgestel het om by hulle 1793-Grondwet te pas. Hierdie weergawe is egter nooit geïmplementeer nie en ’n derde weergawe van die Verklaring is in 1795 as ’n regsgesinde reaksie op die Skrikbewind voltooi. Die Verklaring is in al die vorme daarvan grotendeels deur Napoleon en die herstelde Bourbons geïgnoreer, totdat die Revolusie van 1830 dit met Franse grondwette aangehou kombineer het.

Elemente van die Verklaring is in die huidige Grondwet van 1958 te bespeur wat in opdrag van generaal Charles de Gaulle (1890-1970) vir die Vyfde Franse Republiek daargestel is. Die nalatenskap van die Verklaring – oorspronklik as ’n bevestiging van die kernbeginsels van die Revolusie van 1789 bedoel – hou dus tot vandag stand.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat is die hoofkonsep van die Verklaring van die Regte van Mense en Burgers?

Die Verklaring het gedien ter bevestiging van die kernbeginsels van die Franse Revolusie, onder meer die stelling, “Mense word vry en met gelyke regte gebore, en bly sodanig.”

Wat is die betekenis van die Verklaring van die Regte van Mense en Burgers?

Die Verklaring van die Regte van Mense en Burgers was een van die belangrikste menseregteverklarings, en een van die blywendste prestasies van die Franse Revolusie.

Wat het die Verklaring van die Regte van Mense en Burgers geïnspireer?

Die Verklaring is deur onlangse Amerikaanse voorbeelde van destyds, soos Thomas Jefferson se Onafhanklikheidsverklaring, sowel as deur Verligtingseeu-filosowe soos Rousseau, Montesquieu en Voltaire geïnspireer.

Wie is die skrywer van die Verklaring van die Regte van Mense en Burgers?

Die Verklaring van die Regte van Mense en Burgers is oorspronklik deur die markies De Lafayette, in oorlegpleging met Thomas Jefferson, geskryf. Latere weergawes is deur die abbé Sieyès opgestel, en die Verklaring is twee maal heeltemal hersien, eers in 1793 en toe weer in 1795.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, June 08). Verklaring van die regte van mense en burgers [Declaration of the Rights of Man and of the Citizen]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-2012/verklaring-van-die-regte-van-mense-en-burgers/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Verklaring van die regte van mense en burgers." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig June 08, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-2012/verklaring-van-die-regte-van-mense-en-burgers/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Verklaring van die regte van mense en burgers." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 08 Jun 2022. Web. 24 Apr 2024.