Die Vrouemars na Versailles

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 28 June 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Italiaanse, Portugees, Spaans
Women's March on Versailles, 5 October 1789 (by National Library of France, Public Domain)
Die Vrouemars na Versailles, 5 Oktober 1789
National Library of France (Public Domain)

Die Vrouemars na Versailles, ook bekend as die Oktober Mars of Oktober Dae, was ’n beslissende oomblik in die vroeë maande van die Franse Revolusie (1789-1799). ’n Menigte Paryse markvroue het op 5 Oktober 1789 na Versailles opgeruk, en op hervormings aangedring. Hulle het die paleis beleër en koning Louis XVI van Frankryk (r. (1774-1792) gedwing om saam met hulle na Parys terug te keer.

Die mars, wat in die Paryse markte begin het as ’n reaksie op voedselskaarste en teenrevolusionêre optredes deur die koning se soldate, het die koning van baie van sy oorblywende onafhanklikheid en gesag ontneem. Die gebeurtenis was beduidend in dié sin dat dit die doodslag toegedien het vir Frankryk se stelsel van absolute monargie waarna daar later as die Ancien Régime verwys sou word, en dat dit Frankryk se kortstondige tydperk van ’n konstitusionele monargie ingelui het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die sterwensnood van die monargie

Met die somer van 1789 aan die taan, was Frankryk se Ancien Régime se dae getel. Die Derde Landgoed (die nieadellikes) het met verbysterende spoed die gesag van koning Louis XVI af weggerokkel, en die Nasionale Vergadering uit die Algemene Landgoed van 1789 gevorm, met die doel om vir Frankryk ’n nuwe grondwet te gee. Sedertdien het die Bestorming van die Bastille nog meer mag in die hande van die revolusionêre besorg wat dit gebruik het om met die Augustus Dekrete eers feodalisme en die voorregte van die hoërklasse af te skaf, voordat hulle mense se gelyke natuurlike regte met die Verklaring van die regte van mense en burgers erken het. Soos wat die Vergadering aan die grondwet gewerk het, het hulle in die koninklike stad Versailles die boustene van die Franse monargie aangehou aftakel. Wat eens die absolutistiese speelterrein van die Sonkoning Louis XIV van Frankryk (r. 1643-1715) gewees het, was nou die middelpunt van die Revolusie.

ALHOEWEL LOUIS XVI BESLIS NIE VIR DIE ROL VAN ABSOLUTE MONARG GESKIK WAS NIE, WAS HY VASBESLOTE OM DIE INSTELLING TE BEHOU.

Alhoewel Louis XVI beslis nie vir die rol van absolute monarg geskik was nie, was hy nietemin vasbeslote om die instelling behoue te laat bly. Om daardie rede het hy verseg om aan die Augustus Dekrete en die Regte van mense in te gee, sodat dit ’n twispunt tussen hom en die Vergadering geraak het. Terselfdertyd wou Louis ’n absolute vetoreg behou het, wat hom in staat sou stel om die finale sê te hê oor enige beleid wat die Vergadering wou goedkeur. Dit is deur die Monarchiens (monargale faksie) binne die Vergadering ondersteun wat geglo het dat Frankryk ’n sterk koning met gesentraliseerde gesag benodig het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Hierteen was die antirojalistiese afgevaardigdes sterk gekant. Sommige van hulle, soos die steeds oninvloedryke Maximilien Robespierre (1758-1794), het geglo dat die koning onderdanig aan die wil van die mense moes wees, en dus nie ’n vetoreg veroorloof moes word nie. Van die afgevaardigdes het egter hulle steun vir ’n derde opsie, naamlik die opskortende veto, begin lug wat die koning in staat sou stel om die Vergadering se optrede vir ’n maksimum van twee wetgewende vergaderings, of vier jaar, te vertraag. Louis se hoofminister, Jacques Necker (1732-1804), het aangedui dat hierdie opsie vir die koning aanvaarbaar sou wees, en het selfs daarop gesinspeel dat die koning die Augustus Dekrete sou bekragtig. Die vergadering het die moontlikheid van ’n kompromis bespeur en het op 11 September 673-325 ten gunste van ’n opskortende veto gestem.

August Decrees
Die Augustus Dekrete
Charles Monnet (Public Domain)

Maar diegene wat ’n kompromis te wagte was, het hulle misgis. In sy amptelike opmerkings oor die onderwerp het die koning, alhoewel hy die algemene gees van die dekrete goedgekeur het, hulle inhoud – soos die aftakeling van feodalisme – met afkeur bejeën. Pleks daarvan om die dokumente te bekragtig, het dit vir baie voorgekom of die koning van voornemens was om sy nuut goedgekeurde veto-mag téén hulle te gebruik. Dit het woede ontketen. Robespierre het in een van sy vroeëre toesprake gemeld,

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die koning se antwoord is nie slegs vernietigend vir enige grondwet nie, maar selfs vir enige nasionale reg om ’n grondwet te hê. Enigeen wat ’n voorwaarde aan die grondwet kan voorskryf … stel sy wil bo die regte van die volk. (Davidson, 44)

Dertien myl van Versailles af was die stad Parys hewig ontsteld deur die nuus. Die hoë prys van brood het aanleiding gegee tot samesweringsteorieë dat die adelstand doelbewus besig was om die mense te laat verhonger, sodat spanning ’n kookpunt bereik het. Baie mense het die koning se reaksie op die Dekrete en die Regte van mense as ’n bedreiging vir die Revolusie self beskou. In sy invloedryke koerant L’Ami du Peuple het die joernalis Jean-Paul Marat die idee van die koning se vetoreg aangeval, en sy lesers gewaarsku dat hulle “niks van [aristokrate] buiten knegskap, armoede en wanhoop” te wagte kon wees nie (Schama, 459).

Die Vergadering het hulle president, Jean-Joseph Mounier, terug na die koning gestuur om hom te smeek om die dokumente te heroorweeg, en om die kosvoorraad aan Parys te vermeerder. Ná ontvangs van die versoek het Louis ’n paar dae lank geswyg, asof hy sy aangenome rol as burgerkoning oordink het. Toe, op 23 September, het hy die Koninklike Vlaamse Regiment na Versailles ontbied. Hy het absolutisme gekies en daarmee die doodsvonnis van sy monargie onderteken.

Die banket

Anders as die vorige keer in Julie toe Louis XVI troepe na die Paryse kom ontbied het, het hy nie bedoel dat die Vlaamse Regiment as ’n bedreiging moes dien nie. Die koning was eerder bekommerd dat nog ’n opstand soos die Bestorming van die Bastille sou plaasvind, en sy doel met die regiment was om Versailles se verdediging te versterk. Die aankoms van die regiment op 1 Oktober het hom egter meer skade berokken as wat dit hom goed gedoen het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Nuus van die banket wat die koninklike lyfwagte gehou het om die Vlaamse Regiment te verwelkom, het soos ’n veldbrand deur die strate van Parys versprei. Alhoewel dit algemene praktyk was dat ’n militêre eenheid wat in garnisoen gelê het, hulle aflossingsmag met ’n fees verwelkom, is die bedrywighede by Versailles deur ontstoke joernaliste soos Marat as ’n “vraatsugtige orgie” beskryf, met die verorbering van oordadige hoeveelhede kos ’n belediging vir die Parysenaars wat honger gely het. Dit was hier waar koningin Marie Antoinette (1755-1793) na bewering op die gewone burgers se verhongering gereageer het deur op te merk, “Laat hulle koek eet,” alhoewel daar geen rekord bestaan dat sy dit in werklikheid gesê het nie.

Marie Antoinette and her Children
Marie Antoinette en haar kinders
Élisabeth Vigée Le Brun (Public Domain)

Nog meer verregaande as die vraatsugtigheid was die banket se gebrek aan respek vir die Revolusie. Volgens Paryse koerante het die soldate talle heildronke op die koninklike familie ingestel, en al dronker geraak hoe later die nag dit geraak het. Koninklike howelinge het uiteindelik swart-en-wit kokardes – swart vir die koningin, wit vir die koning – begin uitdeel. Dit was op hierdie tydstip dat iemand die driekleur-kokarde, simbool van die Revolusie, op die grond gegooi en uitgebasuin het, “Weg met die bont kokarde!” (Schama, 460). Die banketgaste, onder meer die koningin met die vierjarige dauphin op haar skouers gelig, het toe die driekleur vertrap.

Hierdie nuus was ’n allerverskriklike voorteken vir die mense van Parys, wat gevoel het dat hulle houvas op revolusionêre vooruitgang redelik yl was. Reeds rasend oor die hoë prys van brood, was die nuus oor die verliederlike koninklike banket net een te veel. Op die aand van 4 Oktober het ’n vrou ’n toespraak in die mark afgesteek, en haar mede-poissardes (vis-, of markvroue) aangehits om na Versailles op te ruk. Die volgende dag is hierdie onderneming bewaarheid.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Wraak van die markvroue

Vroeg die oggend van 5 Oktober het ’n jong vrou deur die strate van oostelike Parys gemarsjeer terwyl sy trom geslaan het. Algaande het ander poissardes uit ander buurte by haar aangesluit, met sommige van hulle wat tuisgemaakte wapens soos knuppels en messe gedra het. Soos wat die prosessie sig weg na die Hôtel de Ville – Parys se stadsaal – gebaan het, het hulle die Kerk van Sint Marguerite beset en die kerkklokke gelui om hulle mede-Parysenaars tot aksie op te roep. Teen die tyd wat hulle die Hôtel bereik het, was daar tot 7 000 van hulle, al singpratend, “Wanneer kry ons brood? Wanneer kry ons brood?”

Die skare is deur eenhede van die Nasionale Garde onder bevel van ene majoor Hermigny gekonfronteer. Nadat sy troepe dit duidelik gestel het dat hulle nie die skare sal verhoed om die Hôtel te plunder nie, het Hermigny versterkings en die teenwoordigheid van die Nasionale Garde se bevelvoerder, Gilbert du Motier, die markies De Lafayette (1757-1834) versoek. Intussen het die skare die Hôtel geplunder en honderde wapens en twee kanonne gebuit.

Portrait of Lafayette, as Commander of the National Guard
Portret van Lafayette, as bevelvoerder van die Nasionale Garde
Jean-Baptiste Weyler (Public Domain)

Die skare is deur Stanislas Maillard omgepraat om nie die Hôtel af te brand en die beamptes op te hang nie toe hy belowe het om hulle na die hekke van Versailles self te lei om by die koning op brood aan te dring. Die menigte poissardes het ingestem om hom te volg en ten midde van ’n hewige reënbui het hulle na Versailles opgeruk, en hulle kanonne agter hulle aangesleep terwyl hulle uitroep hulle is op pad na “le bon papa”, koning Louis.

Lank nadat die menigte vort is, het Lafayette by die Hôtel opgedaag. Teen daardie tyd was daar erge wreweligheid onder sy manskappe wat die menigte na Versailles wou volg. Baie onder die Nasionale Garde het vroeër aan die Franse Garde behoort en het dit as hulle plig beskou om die koning te beskerm, en om die koninklike wagte te straf wat die revolusionêre kokarde met minagting behandel het.

Lafayette was senuweeagtig daaroor om die Nasionale Garde na Versailles aan te voer. In die eerste plek wou hy nie Parys onbewaak gelaat het nie, en tweedens het hy besef dat om die Nasionale Garde na Versailles te lei, daaraan gelykstaande sou wees om ’n leër tot op die koning se voorstoep te neem. Sy manskappe het dit nietemin duidelik gestel dat hulle na Versailles gaan opruk – met of sonder sy leierskap. Lafayette het ’n koerier vooruit gestuur om die koning en die Vergadering te verwittig dat hy in aantog was, en in die gietende reën het hy toe teësinnig sy posisie aan die voortou van die kolonne van 15 000 man ingeneem. Maar voordat die Nasionale Garde selfs die buitewyke van Parys verlaat het, was die menigte poissardes reeds in Versailles.

Beleg van Versailles

Die skare, uitgeput ná ses uur se mars in die reën, is hoflik deur plaaslike magistrate begroet, wat vir hulle wyn aangebied het. Hulle is verbied om die paleisgrond te betree wat deur die Vlaamse Regiment, ondersteun deur Switserse Wagte, bewaak is, alhoewel hulle toegang vergun is tot die saal waar die Vergadering altyd byeengekom het. Honderde uitgeputte en reëndeurweekte poissardes het op die bankies in die saal neergesyg en hulle modderige knuppels en messe op regsdokumente laat rus.

As vermeende leier van die menigte is Maillard deur die afgevaardigdes genooi om die rede vir die opmars na Versailles te stel. “Die aristokrate wil ons van honger laat omkom,” het hy geantwoord, voordat hy daarop aanspraak gemaak het dat ’n meulenaar met 200 livres omgekoop is om nie brood te bak nie (Schama, 463). Krete deur ontstoke afgevaardigdes om die naam van die meulenaar te gee, is deur die vroue doodgeskreeu wat verklaar het dat hulle gekom het om hulle reg uit te oefen om afgevaardigdes te herroep, soos wat die filosoof Rousseau benadruk het. Die vroue het omgekrap begin raak en vir die aartsbiskop van Parys slagspreuke teen die Kerk begin toesnou. Toe ’n priester sy hand aangebied het om ’n vrou te groet, het sy dit weggeklap en geskreeu, “Ek’s nie gemaak om die poot van ’n brak te soen nie!” (Schama, 465). Dit was slegs betoë deur afgevaardigdes soos Robespierre, wat solidariteit met die menigte se lot betuig het, wat die skare tot bedaring gebring is, en toe die gemoedere eers gekalmeer is, het die Vergadering se president, Mounier, belowe om ’n afvaardiging te neem om die koning te sien.

National Assembly, 5 October 1789
Nasionale Vergadering, 5 Oktober 1789
Alexandre Dubelle (Public Domain)

Louis XVI, wat gaan jag het, het sopas na die paleis teruggekeer. Hy het ’n afvaardiging van ses vroue, wat deur die menigte verkies is, ontmoet. Die spreekspersoon van die afvaardiging was Pierette Chabry, ’n sewentienjarige meisie wat weens haar hoflike manier van praat en haar “deugsame voorkoms” gekies is (Schama, 465). Maar Chabry is waarskynlik deur senuweeagtigheid in die teenwoordigheid van die koning oorweldig, en het aan sy voete flougeval. Louis het vinnig opgetree, en gelas dat vlugsout gebring word, en het Chabry opgehelp – ’n daad van vaderlike ruimhartigheid wat die gemoed van die skare deels vermurwe het. Nadat hy Chabry opgehelp het, het Louis die afvaardiging belowe hy sal beveel dat kos uit die koninklike pakhuise in Parys afgelewer word, en dat daar nog onderweg sou wees. Alhoewel dit sommige van die optoggangers tevrede gestel het, soos Maillard wat na Parys teruggekeer het, het die meeste ander nie hiermee genoeë geneem nie.

Dit was ongeveer hierdie tyd, om 18:00, dat Lafayette se koerier by die Vergadering opgedaag het met die nuus dat ’n leër besig was om na Versailles op te ruk. Onseker hoe om die oorblywende optoggangers en die Nasionale Garde tevrede te stel, het Louis met sy ministers vergader om sy moontlikhede te bespreek. Hy het besluit om nié te vlug nie maar eerder om bes te gee en ten einde laas sowel die Augustus Dekrete as die Verklaring van die regte van mense en burgers te bekragtig. Hy het gehoop dat dít – wat vir hom ’n enorme toegewing was – genoeg sou wees om die mense tevrede te stel, en hom in staat sou stel om in Versailles aan te bly. Lafayette se manskappe blyk egter ander planne te gehad het.

Lafayette maak sy opwagting

Net ná middernag het die Nasionale Garde ses man langs mekaar Versailles binnegemarsjeer; “hulle getalle was so groot dat dit hulle selfs met die looppas ’n uur geneem het om verby te beweeg” (Schama, 465). Baie onder hulle geledere, veral diegene wat gesweer het om die koning te beskerm, het reeds besluit om die koninklike familie saam met hulle na Parys te neem, en hulle uit die kloue van die onpatriotiese lyfwagte te bevry. Die koninklike wagte, wat moontlik besef het dat hulle in gevaar verkeer het, het na hulle poste binne die paleisgrond teruggetrek.

LAFAYETTE HET EERSTE DIE NASIONALE VERGADERING TOEGESPREEK, EN BELOWE DAT HY GEEN NEWEBEDOELINGS GEKOESTER HET NIE, EN SLEGS GEKOM HET OM DIE KONING SE VEILIGHEID TE VERSEKER.

Lafayette het eers die Nasionale Vergadering toegespreek en hulle belowe dat hy geen newebedoelings gekoester het nie, en slegs gekom het om die koning se veiligheid te waarborg. Hy het hulle verseker dat die vrede herstel sou word indien die Vlaamse Regiment weggestuur word, en indien die koning nóg ’n simpatieke gebaar teenoor die revolusionêre kokarde sou openbaar. Hy het hom toe van die Vergadering verskoon en het hom alleen na die koninklike woonkwartier begeef. Terwyl hy die Vergadering verlaat het, is hy vurig deur verskeie howelinge aangespreek wat agterna geskreeu het, “Daar gaan nog ’n Cromwell!” (Davidson, 47). Hierop het Lafayette na bewering geantwoord, “Cromwell sou nie ongewapen opgedaag het nie.” In ’n moontlike poging om weg te doen met die idee van homself as aspirantdiktator, het Lafayette die koning gegroet deur flambojant neer te buig en te verklaar, “Ek het gekom om aan die voete van U Majesteit te sterf!” (Schama, 466).

Ná hierdie dramatiese oordadigheid het Lafayette met die koning beraadslaag en hom vertel dat dit veiliger sou wees indien hy die Nasionale Garde terug na Parys vergesel. Louis het die generaal belowe dat hy dit met sy gesin sou bespreek, en hom in die oggend sou antwoord. Uitgeput, het Lafayette na die Vergadering teruggekeer om aan hulle verslag te doen, voordat hy hom gewend het tot die huis wat deur sy oupa besit is, en op ’n bank aan die slaap geraak het.

Na Parys

Om 5:30 die volgende oggend, 6 Oktober, het ’n gewapende groep mense die paleisgrond binnegesluip en in die Cour de Marbre by die koninklike woonkwartier ingebreek. ’n Wag sou later daarop aanspraak maak dat hierdie aanvallers agter die koningin aan was en geskreeu het dat hulle “haar hart wou uitskeur … haar kop wou afsny, en haar lewer in vet wou smoor” (Schama, 467). ’n Verblufte wag het ’n skoot op die skare afgevuur voordat hulle hom oorrompel en doodgemaak het. ’n Tweede wag het daarin geslaag om die koningin betyds te waarsku, voordat hy ook vermoor is. Marie Antoinette het kaalvoet uit haar kamer gestorm en vir iemand geskreeu om haar kinders te red terwyl sy na hulle gehardloop en soek het, terwyl die skare, gierend vir haar dood, deur die paleis geswerm het.

Voordat die menigte die koninklike familie enige leed kon besorg, is hulle gestuit deur lede van die Nasionale Garde, onder bevel van Lazare Hoche (1768-1797), wat later ’n held van die Franse Revolusionêre Oorloë sou raak. Hoche se manne het die koninklike familie weg van gevaar begelei terwyl die skare die koppe van die twee vermoorde wagte op pieke geparadeer het.

Lafayette is ontwaak, en het hom tot die hulp van die koninklike gesin gehaas. Die feit dat hy regdeur hierdie gewelddadige episode geslaap het, sou later sy voorheen gevierde reputasie skend aangesien Paryse koerante later spottend na hom as “Generaal Morpheus” – met verwysing na die Griekse god van slaap – sou verwys. Ná sy aankoms by die paleis het Lafayette eers die spanning tussen die Nasionale Garde en die koninklike wagte ontlont voordat hy hom tot die koning en koningin gekeer het. Hy het vir hulle gesê dat hulle die menigte van die balkon af moes groet – ’n voorstel wat die koningin, wat nie lank vantevore nie amper deur hulle vermoor is, hewig ontstel het. Met gerusstellende woorde van die generaal het die koningin, langs die koning en haar kinders, na buite op die balkon getree. Die skare se reaksie was louwarm totdat Lafayette, immer die windmaker, ’n driekleur-kokarde aan die hoed van ’n koninklike lyfwag vasgesteek het, voordat hy laag gebuig en ’n soen op Marie Antoinette se hand geplaas het.

Lafayette and Marie Antoinette
Lafayette en Marie Antoinette
Unknown Artist (Public Domain)

Hierdie vertoning het die gewenste uitwerking gehad, en die skare het wild hande geklap, en geroep, “Na Parys!” Louis blyk geen sê meer in die saak te gehad het nie. Hy het hom aan sy lot oorgegee, en aangekondig, “My vriende, saam met my vrou en my kinders sal ek na Parys gaan … dit is aan die liefde van my goeie en getroue onderdane aan wie ek alles toevertrou wat ek die kosbaarste ag!” (Davidson, 47).

Drie uur later het ’n enorme prosessie vanuit Versailles vertrek; Lafayette het hulle op 60 000 geskat. Lede van die Nasionale Garde het die skaar bestaande uit die koninklike gesin en howelinge, lede van Necker se ministerie en afgevaardigdes van die Nasionale Vergadering, begelei. Onder die agterhoede was ’n karavaan waens gevul met meel en brood, waarlangs vroue aangestap en gejuig en gesing het dat hulle die “bakker, die bakker se vrou en die bakker se knaap na Parys toe bring”. Dit was natuurlik ’n verwysing na die koning, na wie dikwels as die “eerste bakker van die koninkryk” verwys is.

Met hulle aankoms in Parys is die sleutel tot die stad aan die koning oorhandig, en die koninklike gesin is geneem na die Tuileries Paleis, waar hulle voortaan sou bly. Die Vergadering het hulle in ’n verlate ryskool ’n entjie met die straat van die Tuileries af, ingerig. Daar het hulle geproklameer dat Louis XVI nie meer die deftige titel Koning van Frankryk en Navarre – wat hom as absolute monarg aangedui het wat by die grasie Gods geheers het – sou beklee nie; van toe af sou hy bloot as Louis XVI, koning van die Franse, bekend staan.

Alhoewel Frankryk nie tot en met die voltooiing van die grondwet in 1791 ’n konstitusionele monargie sou word nie, het die Ancien Régime vir alle doeleindes daardie dag, 6 Oktober 1789, tot ’n val gekom. Die paleis te Versailles is simbolies genoeg reeds met planke toegespyker, die hekke met massiewe ysterslotte gesluit, en wagte geplaas om plunderaars te ontmoedig. Soos wat historikus Simon Schama tereg uitwys: “Versailles is toe reeds in ’n museum omskep”(470).

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat was die Vrouemars na Versailles?

Die Vrouemars na Versailles het plaasgevind toe ’n menigte van meer as 7 000 Parysenaars, aangevoer deur markvroue, op 5 Oktober 1789 opgeruk het na die koninklike stad Versailles en brood en politieke hervormings van die konings geëis het.

Wat het aanleiding gegee tot die Vrouemars na Versailles?

Die mars is veroorsaak deur hoë broodpryse, die koning se versuim om tot belangrike revolusionêre hervormings in te stem, sowel as ’n koninklike banket wat by Versailles gehou is, waartydens soldate die driekleur-kokarde – simbool van die Revolusie – vertrap het.

Wat was die implikasie van die Vrouemars na Versailles?

Die mars na Versailles het koning Louis XVI van sy oorblywende onafhanklikheid ontneem, en daarmee Frankryk se absolute monargie beëindig en die nuwe – dog kortstondige – tydperk van ’n konstitusionele monargie ingelui.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, June 28). Die Vrouemars na Versailles [Women's March on Versailles]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20893/die-vrouemars-na-versailles/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Die Vrouemars na Versailles." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig June 28, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20893/die-vrouemars-na-versailles/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Die Vrouemars na Versailles." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 28 Jun 2022. Web. 24 Apr 2024.