Franse betrokkenheid by die Amerikaanse Revolusie

Artikel

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 04 March 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans

Die betrokkenheid van Frankryk by die Amerikaanse Oorlog vir Onafhanklikheid (1775-1783) was nie slegs beduidend in die verloop van die oorlog self nie maar ook as kritieke oomblik vir Frankryk. Alhoewel Franse ingryping in die oorlog deurslaggewend was om die gety van die konflik in die guns van die Amerikaners te laat draai, het die skuld wat daarweens aangegaan is, tot die latere Franse Revolusie (1789-1799) bygedra.

Siege of Yorktown (1781)
Die beleg van Yorktown (1781)
Auguste Couder (Public Domain)

Spanning tussen Frankryk en Groot Brittanje het al eeue lank bestaan en is net vererger deur die Franse se onlangse beskamende nederlaag in die Sewejarige Oorlog (1756-1763). ’n Opkoms in pro-Amerikaanse sentimente gekombineer met ’n nostalgie vir die vername helde van die Franse geskiedenis het bygedra tot die Franse publiek se hunkering na oorlog, terwyl die regering van koning Louis XVI (r. 1774-1792) die oorlog as die ideale geleentheid beskou het om van die prestige en mag te herwin wat Frankryk ná die oorlog teen Engeland verloor het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die oorwinning van Frankryk en hulle Amerikaanse bondgenote, gekonsolideer deur die ondertekening van die Verdrag van Parys in 1783, het Frankryk weereens as vername militêre mag bevestig, en die onafhanklikheid van die Verenigde State ingelui. Maar Frankryk se betrokkenheid het die land se finansies ’n groot knou toegedien – ’n penarie waarvoor hulle regering nie met ’n oplossing vorendag kon kom nie. Probleme wat weens hierdie skuld opgeduik het, tesame met voortgesette staatsbesteding, was van die onmiddellike oorsake van die Franse Revolusie en die omverwerping van Frankryk se Ancien Régime.

Patriotte en politiek

Die beëindiging van die Sewejarige Oorlog in 1763 het verreikende ramifikasies gehad, waarvan die rimpelings die res van die 18de eeu en weliswaar die verloop van wêreldgeskiedenis sou beïnvloed. Een van hierdie uitwerkings kon gesien word in die ophoop van skuld wat tydens die oorlog deur die Britse regering aangegaan is om die konflik te kon wen. Om hierdie skuld te delg, het die Britse Parlement tydens die res van die 1760’s en die vroeë 1770’s ’n aantal verskillende belastings van hulle dertien Amerikaanse kolonies gehef. Deel van die Parlement se rasionaal vir hierdie belastings was dat die oorlog ter verdediging van hierdie kolonies begin is, wat derhalwe moes bydra om vir die uitkoms daarvan te help betaal. Weerstand onder die Amerikaanse bevolking – veral die grondbesittersklas – was ’n wesenlike bydraende faktor tot die uitbreking van die Amerikaanse Oorlog vir Onafhanklikheid in 1775.

Verwyder Advertensies
Advertisement
DIE VREDE VAN 1763 HET FRANKRYK VAN BAIE VAN HULLE NOORD-AMERIKAANSE KOLONIALE BESITTINGS ONTNEEM, WAARVAN KANADA DIE AANSIENLIKSTE WAS.

’n Tweede uitwerking van die Sewejarige Oorlog kon in Frankryk, die oorwonne nasie, gesien word. Die vrede van 1763 het Frankryk van baie van hulle Noord-Amerikaanse koloniale besittings ontneem, waarvan die kolonie Kanada die aansienlikste was. Om Kanada aan Brittanje af te gestaan het, was nie soseer ’n verlies nie aangesien die kolonie die afgelope paar jaar ietwat van ’n finansiële las geraak het; maar die skade aan Frankryk se status en prestige as vername moondheid was wel ’n probleem. Die Sewejarige Oorlog was maar die mees onlangse konflik in ’n string oorloë tussen Frankryk en Brittanje in ’n tydperk wat al die pad tot 1689 teruggestrek het – ’n reeks konflikte waarna sommige moderne geskiedkundiges as die Tweede Honderdjarige Oorlog (1689-1815) verwys. As sodanig was Frankryk se nederlaag aan die hand van Brittanje veral beskamend, en baie Franse beamptes het aanstons vir ’n verskoning begin soek om hulle op Brittanje te wreek.

Met Louis XVI (1754-1793) se bestyging van die Franse troon in 1774, blyk hierdie verskoning net op die horison te gewink het. Die spanning tussen Brittanje en die dertien kolonies het teen hierdie tyd amper kookpunt bereik, en baie van Louis se ministers wou hulle aandeel aan die komende aksie hê. Toe die uitbreking van vyandelikhede in 1776 daartoe gelei het dat die kolonies hulle onafhanklikheid verklaar, het die Comte de Vergennes (1719-1787), Frankryk se Minister van Buitelandse Sake, gemeld dat die “noodlot hierdie oomblik vir die vernedering van Engeland bestier het”, en hy het hom daarvoor beywer om die nuwe koning, onervare en slegs 22 jaar oud, te oortuig om in te gryp (Doyle, 66).

Verwyder Advertensies
Advertisement

Alhoewel die argument daarvoor uitgemaak kan word dat die strydlustige neigings van manne soos Vergennes uit ’n onbewoë, berekende strewe na mag gespruit het, kan dieselfde nie vir die Franse volksmenigte gesê word nie, waarvan baie werklik die doelwitte van die Amerikaanse Revolusie ondersteun, en wraak teen Brittanje gekoester het. Baie mense in Franse aristokratiese kringe het Amerika reeds deur ’n geromantiseerde lens besigtig, en dit as ’n hernude samelewing beskou, verwyder van die sinisme en broosheid van die Ou Wêreld; en met die nedersetters van die kolonies bedeel met die veel bewonderde eienskappe onskuld en vryheid. Die verbintenis tot lewe, vryheid en die nastrewe van geluk verkondig deur Thomas Jefferson (1743-1826) in die Onafhanklikheidsverklaring het getuig van soortgelyke ideale van die Verligting wat in Frankryk so gewild geraak het.

Amerikaanse leiers soos George Washington (1732-1799) het baie bewondering onder die Franse geniet maar niemand was waarskynlik so gevierd soos Amerika se ambassadeur in Frankryk, Benjamin Franklin 1706-1790) nie. Om hom te bedien van die Franse stereotipe dat die Nuwe Wêreld ’n plek van vryheid en onskuld was, het Franklin ’n beskeie bruin jas na hofoudiënsies aangetrek, en ’n bewerhoed begin dra. Bewus van die hunkering na wetenskaplike geleerdheid onder die Franse elite, het Franklin sy reputasie as wetenskaplike gees benuttig, en binnekort is sy joernaal, Poor Richard’s Almanack, in Frans vertaal. Franklin se beeld as die verligte, geleerde en pretensielose Amerikaner het vir die Franse publiek presies gegee wat hulle wou hê. Op die kruin van sy beroemdheid kon hy nouliks sy tuiste in Parys verlaat sonder dat vererende aanhangers om hom saamgepak het, en sy gelykenis wat op poppe, snuifdosies en inkpotte verskyn het, was ’n tyd lank meer herkenbaar as dié van die koning.

Benjamin Franklin Drawing Electricity From the Sky
Benjamin Franklin ontgin elektrisiteit uit die lug
Benjamin West (Public Domain)

Soos die Oorlog vir Onafhanklikheid ’n aanvang geneem het, het die Franse hulle ondersteuning begin toon by wyse van graverings wat Amerikaanse oorwinnings oor die Britte herdenk het, terwyl sosiale vlinders – as teken van solidariteit met die kolonies – ’n beheptheid met die syfer 13 ontwikkel het: Hulle het in groepe van 13 ontmoet, met elke individu wat ’n embleem van een van die 13 kolonies gedra het, voordat hulle 13 heildronke op ’n Amerikaanse oorwinning gedrink het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Gewilde ondersteuning in Frankryk vir die oorlog het gespruit uit ’n herlewing van die Franse se eie patriotisme. Baie van die Franse het die nederlaag in 1763 gehanteer deur nostalgies terug te blik na helde uit die Franse geskiedenis. Figure soos Henry IV (r. 1589-1610) en Jeanne d'Arc (1412-1431) was gunstelinge, tesame met meer onlangse helde soos die markies de Montcalm (1712-1759) wat sy lewe in die stryd teen die gehate Britte opgeoffer het. Volgens Simon Schama (32) het die publikasie van ’n geskiedkundige keurbundel, die Portraits des Grands Homes Illustres de la France, wat sodanige figure herdenk het, “’n nuwe, uitsluitlik Franse panteon helde” geskep. Toenemende patriotisme en antiBritse sentimente kon ook op die verhoog waargeneem word; die dramaturg Pierre de Belloy se 1765-toneelstuk Die beleg van Calais het Franse martelaars uitgebeeld wat hulle lewe voor die wraak van die Britse invallers opoffer. Hierdie toneelstuk met die Engelse as die booswigte in die rolverdeling was uiters gewild, en het 19 000 toeskouers met die eerste speelvak gelok.

Ongeag hierdie vurige aandrang op aksie deur sowel Franse ministers soos Vergennes en die algemene publiek, was daar steeds diegene wat ingryping as ’n slegte idee beskou het. Anne-Robert Jacques Turgot, die Franse kontroleur-generaal, was bewus van die skuldlas wat Frankryk se vorige oorloë veroorsaak het en het voorspel dat Frankryk nie nog ’n oorlog finansieel kon hanteer nie. Turgot het in 1776 Vergennes se beplande betrokkenheid in Amerika sterk veroordeel, en gewaarsku dat so ’n oorlog enige hoop op finansiële hervorming permanent sou vermorsel, en voorspel dat “die eerste geweerskoot … die staat in bankrotskap [sou] dompel” (Doyle, 66). Turgot se redelik profetiese waarskuwings het op dowe ore geval, en hy is in Mei 1776 van sy pos onthef.

Bystand aan die Amerikaners

In 1776 het die beheerliggaam van die 13 kolonies – die Kontinentale Kongres – die Connecticut-prokureur Silas Deane na Parys gestuur, belas met die taak om vir Franse ondersteuning te gaan onderhandel. Deane het met Vergennes vergader en hom meegedeel dat die Amerikaners teoreties gesproke oor genoeg mannekrag beskik het om die Britte te klop, maar dat hulle wapens, ammunisie en geld benodig het. Vergennes het dit as ’n relatiewe goedkoop manier beskou om die Britte te beveg, en het ’n privaat handelsmaatskappy gestig om in die geheim uniforms, ammunisie en Franse wapens wat van die Sewejarige Oorlog oorgebly het, aan die Amerikaners te lewer, in ruil vir Amerikaanse produkte soos tabak, katoen en walvisolie.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Charles Gravier, count of Vergennes
Charles Gravier, graaf van Vergennes
Antoine-François Callet (Public Domain)

Toe die Amerikaners onder George Washington terugslae by die Slag van Long Island ervaar het, het die Kontinentale Kongres besef dat hierdie hulp onvoldoende was, en hulle het Deane na Vergennes teruggestuur om vir ’n meer substansiële Franse bondgenootskap te beding. Vergennes was nie in staat om homself tot totale oorlog met Brittanje te verbind nie, en het derhalwe ingestem om Franse offisiere te stuur om Amerikaners op te lei, en in ruil daarvoor sou hierdie offisiere hoë posisies in die Kontinentale Leër gegee word, en sou ’n Franse generalissimo vir Washington as hoof van die leër vervang. Die man wat Vergennes vir sodanige pos in gedagte gehad het, was ene Victor-Francois, tweede graaf De Broglie, wat gelas is om ’n lys name van offisiere op te stel wat hy ter oorweging vir diens in die Kontinentale leër aan Deane moes voorlê. Een van die offisiere wat deur De Broglie by Deane aanbeveel is, was ’n jong, ambisieuse aristokraat genaamd Gilbert du Motier, die markies De Lafayette (1757-1834).

Vergennes se klandestiene plan om die Amerikaners te help, is aanvanklik deur Louis XVI teengestaan wat, met Turgot se waarskuwing steeds vars in die geheue, steeds teësinnig was om ’n oorlog met Brittanje te ontketen. Vergennes het egter geargumenteer dit was Frankryk se plig om Brittanje ten alle koste te verslaan, en het die koning herinner

Engeland is die natuurlike vyand van Frankryk … Die onveranderlike en mees gesogte doelwit in haar politieke strewe was nog altyd, indien nie die vernietiging van Frankryk nie, minstens haar omverwerping, haar vernedering, haar ondergang … Alle middele om die mag en die grootheid van Engeland te verminder … is geregverdig, legitiem en selfs nodig.

(Unger, 19)

Die koning is deur sy minister se woorde oorreed en het van besluit verander en die skema goedgekeur; maar Vergennes se plan is terstond gefnuik nadat dit deur Britse agente ontdek is. Toe Brittanje dreig met oorlog indien die Franse offisiere toegelaat word om na Amerika te vaar, het Louis XVI toegegee. Ten spyte van die koning se daaropvolgende dekree wat enige Franse offisier op straf van gevangesetting verbied het om hom na die Amerikas te begeef, het Lafayette aan boord die skip Victoire uit Frankryk geglip. Ná sy aankoms in die kolonies is die rang van generaal-majoor in die Kontinentale Leër aan Lafayette toegeken; deur sy kordaatstukke op die slagveld het hy bekendheid verwerf, en een van Washington se staatmakers geraak. Ander Franse offisiere het sy voorbeeld gevolg maar Vergennes se plan om Washington met De Broglie te vervang, is ten einde laas nooit verwesenlik nie aangesien Washington sy gewildheid vinnig herwin het.

Marie Joseph Paul Yves Roch Gilbert Motier, Marquis De Lafayette
Marie Joseph Paul Yves Roch Gilbert du Motier, die markies De Lafayette
Charles Wilson Peale (Public Domain)

Lafayette se heldedade, die publiek se hunkering na oorlog en die oorredingsvermoë van manne soos Franklin en Vergennes het Louis weldra ten gunste van oorlog omgehaal. Toe tyding van die Amerikaners se verstommende oorwinning by die Slag van Saratoga in 1777 ontvang is, het ’n hernude entoesiasme vir die Amerikaanse Revolusie in Frankryk opgewel, en Louis het uiteindelik vir Vergennes toestemming gegee om ’n militêre bondgenootskap met die Amerikaners te beding.

Die Bourbon Oorlog

Nadat hy ten einde laas sy doel bereik het om Frankryk in die Amerikaanse Oorlog te verwikkel, het Vergennes tot aksie oorgegaan. Op 6 Februarie het Frankryk die onafhanklikheid van die Verenigde State erken, en ’n verbondsverdrag met hulle gesluit. Vergennes het ’n bondgenootskap met die Spaanse Bourbons en die Nederlandse Republiek bewerk en deur Brittanje as die aggressor uit te beeld, het hy verklaar dat hierdie nuwe koalisie slegs ter behoud van die Amerikaners se onafhanklikheid ingegryp het. Teen Maart het Frankryk en Brittanje amptelik in oorlog verkeer. Alhoewel dit deel van die Amerikaanse Oorlog vir Onafhanklikheid uitgemaak het, staan die spesifieke konflik tussen Brittanje en Frankryk gedurende hierdie tydperk ook as die Anglo-Franse Oorlog van 1778, of as die Bourbon Oorlog bekend.

DIE OORGAWE VAN HIERDIE BRITSE LEËR IN OKTOBER 1781 WAS DIE BESLISSENDE OOMBLIK WAT DIE OORLOG IN NOORD-AMERIKA EFFEKTIEF BEËINDIG HET.

Die vroeë jare van Frankryk se betrokkenheid by die oorlog was onsuksesvol. ’n Vloot onder bevel van Comte d’Estaing het in die somer van 1778 aan die kus van Brits-beheerde New York gearriveer maar kon nie daarin slaag om die hawe binne te vaar en die stad aan te val nie. Daarna het D’Estaing na Newport, Rhode Island gevaar, in die hoop om kragte met die Amerikaners saam te snoer, en die stad te oormeester. Weens die kombinasie van gure weer en die gebrek aan samewerking tussen Franse en Amerikaanse soldate, het die aanval misluk. D’Estaing het die volgende jaar teruggekeer en hierdie keer teen Brits-beheerde Savannah, Georgia opgeruk. Ná ’n onsuksesvolle skeepsbombardement het D’Estaing ’n grondaanval geloods wat ook afgeslaan is. Daardie selfde jaar is die beplande inval van die Britse hoofeiland – wat 30 000 man onder aanvoering van Lafayette behels het wat deur ’n armada Spaanse skepe oor die Engelse Kanaal vervoer moes word – gekortwiek deur ’n uitbreking van die pokke onder die Spaanse bemannings, stormagtige weer asook ’n Britse flottielje wat gevaar het om die Kanaal te bewaak.

Die situasie het in 1780 drasties verander toe 6 000 Franse soldate onder aanvoering van die Comte de Rochambeau in Rhode Island aan wal gegaan het. Anders as D’Estaing, wat weens sy adelstand geweier het om bevele van die Amerikaners te vat, het Rochambeau sy aristokratiese gevoelens ter syde gestel, en hom by generaal Washington se bevel neergelê. Nadat ’n Amerikaanse leër onder bevel van Lafayette ’n groter Britse leër by die hawedorp Yorktown vasgepen het, het Washington en Rochambeau saamgewerk om hulle voordeel uit te buit: Terwyl Washington oorland beweeg het om Lafayette te versterk, het die Franse vloot die Britte ter see afgesny. Die oorgawe van hierdie Britse leër in Oktober 1781 was die beslissende oomblik wat die oorlog in Noord-Amerika effektief beëindig het.

Die Noord-Amerikaanse oorlogstoneel blyk egter slegs een van baie te gewees het aangesien die toetrede van Frankryk, Spanje en Nederland die oorlog tot ’n globale skaal verruim het. Op 24 Junie 1779 het die gekombineerde Bourbon-leërs van Frankryk en Spanje die Britte by Gibraltar beleër. Die beleg sou duur tot lank nadat die Noord-Amerikaanse oorlogstoneel by Yorktown beslis is, met die finale grootskaalse aanval op Gibraltar wat eers in September 1782 plaasgevind het. Die beleg is eers in Februarie 1783 opgehef.

The Sortie Made by the Garrison at Gibraltar
Die uitval van die garnisoen te Gibraltar
John Trumbull (Copyright)

Die oorlog het ook na die Karibiese See en Indië uitgebrei waar die twee groot moondhede steeds kolonies gehad het. Ná die oorwinning by Yorktown het die Franse vloot Dominica, Grenada, Sint Vincent en Tobago in die Wes-Indiese Eilande verower voordat hulle in April 1782 oplaas deur ’n Britse vloot by die Slag van die Saintes gestuit is. Hierdie seeslag is as Brittanje se grootste oorwinning oor die Franse tydens die oorlog beskou. In Indië het die konflik tussen Brittanje en Frankryk daartoe gelei dat Brittanje op Frankryk se bondgenoot, die koninkryk van Mysore, toegeslaan het, wat sodoende in 1778 die Tweede Anglo-Mysore Oorlog ontketen het. Die beleg van Cuddalore wat in Julie 1783 begin het, was een van die laaste aksies van die oorlog en het eers geëindig toe voorlopige vredesamesprekings aangekondig is.

Soos wat die konflik in verskillende dele van die wêreld voortgesleep het, het die behoefte aan nog fondse van kritieke belang geraak. Die onus het op Jacques Necker (1732-1804), ’n Geneefse bankier wat in 1776 as Louis XVI se direkteur van die tesourie benoem is, geval om hierdie fondse te bekom. Necker was vasberade om nie belastings te vermeerder nie en het eerder Frankryk se ingryping in die oorlog by wyse van lenings gefinansier. Tussen 1777 en sy bedanking in 1781 het Necker altesaam 520 miljoen livre in lenings ingegaar, en selfs meer skuld op ’n staat gelaai wat reeds ’n oorvloed daarvan gehad het. Ná sy bedanking het sy opvolger, Joly de Fleury, verplig gevoel om die belastings te vermeerder, en het hy nog 232 miljoen livre ingesamel. Teen die einde van die oorlog in 1783 het Frankryk meer as 1,6 miljard livre bestee om die Britte te beveg.

Nadraai

Ingevolge die Vrede van Parys van 1783 is niks van die grond wat Frankryk in die 1763-vrede verloor het aan hulle terugbesorg nie. Alle gebiede wat in die Oorlog vir Onafhanklikheid verower is, is aan die oorspronklike eienaars teruggegee, behalwe Tobago en ’n deel van die Senegalrivier-gebied, wat Frankryk gehou het. Spanje het Florida en Minorka herwin, alhoewel Gibraltar onder Britse beheer gebly het. Die onafhanklikheid van die Verenigde State is natuurlik erken, en hulle het amptelik ’n nasie geraak.

Dit kom daarop neer dat Frankryk klaarblyklik alles bereik het wat hulle beoog het. Hulle het Brittanje in die verleentheid gestel en hulle van die dertien kolonies ontneem, en terselfdertyd hul eie status as formidabele moondheid herwin. Koning Louis XVI, beïndruk met die prestasies van die Franse vloot tydens die oorlog, het die militêre hawe te Cherbourg aangehou finansier wat teoreties gesproke ’n basis vir ’n toekomstige inval van Brittanje kon bied. Dit was ’n duur onderneming wat op die ou einde baie min opbrengs sou lewer.

Louis XVI of France
Louis XVI van Frankryk
Joseph-Siffred Duplessis (Public Domain)

Wat Frankryk self betref: Die nalatenskap van hulle ingryping in die Amerikaanse Revolusionêre Oorlog was een van enorme skuld. Necker se beleid om nie belastings te vermeerder nie het hom moontlik onder die publiek bemind gemaak, maar dit het niks gedoen om die staat se finansiële las te verlig nie. Trouens, Necker het so ver gegaan as om in Februarie 1781 rekenskap van Frankryk se finansiële stand – bekend as die Compte rendu au roi (verslag aan die koning) – te publiseer waarin hy gerapporteer het dat gewone inkomste die uitgawes met meer as 10 miljoen livre oorskry het. Necker se verslag het egter nie die buitengewone rekeninge, waarin die werklike koste van die oorlog vervat was, ingesluit nie. Indien hierdie syfers wel gepubliseer is, sou dit Frankryk se aansienlike tekort uitgebeeld het.

Die Amerikaanse Revolusie het sigself in die gees van lede van die Franse publiek verder bemind gemaak. Baie van die Franse het die revolusie steeds as die manifestasie van Verligting-ideale beskou. Patriotisme in Frankryk was reeds voor die Amerikaanse Revolusie aan’t toeneem, maar die sukses van sodanige onderneming het as bewys gedien dat verandering inderdaad moontlik was.

Sonder Franse ondersteuning is dit te betwyfel of die Amerikaners die oorhand teen die Britte sou gekry het. En tog was die oorlog se impak op Frankryk feitlik geheel en al negatief: Ongeag daarvan dat Frankryk ’n bietjie prestige en glorie herwin het, kon hulle nie daarin slaag om Brittanje naastenby soveel te verswak as wat hulle wou nie en boonop het hulle hul skuld met meer as 1 miljard livre groter gemaak as wat dit vroeër gewees het. Die oorlog en die besteding wat daarmee gepaardgegaan het, sou later die finale spyker in die doodskis van die Franse monargie indryf; minder as ses jaar nadat die Vrede van Parys onderteken is, het die voortgesette afwaartse wenteling van die Franse finansies tot die begin van die Franse Revolusie gelei.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, March 04). Franse betrokkenheid by die Amerikaanse Revolusie [French Involvement in the American Revolution]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1955/franse-betrokkenheid-by-die-amerikaanse-revolusie/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Franse betrokkenheid by die Amerikaanse Revolusie." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 04, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1955/franse-betrokkenheid-by-die-amerikaanse-revolusie/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Franse betrokkenheid by die Amerikaanse Revolusie." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 04 Mar 2022. Web. 24 Apr 2024.