Die Honderdjarige Oorlog

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 17 March 2020

Oorspronklike teks in Engels: Hundred Years' War

Joan of Arc in Orleans (by Jean-Jacques Sherrer, Public Domain)
Jeanne d'Arc in Orléans
Jean-Jacques Sherrer (Public Domain)

Die Honderdjarige Oorlog (1337-1453) was ’n afwisselende konflik tussen Engeland en Frankryk wat 116 jaar geduur het. Dit het hoofsaaklik begin omdat koning Edward III (r. 1327-1377) en Philip VI (r. 1328-1350) ’n dispuut oor feodale regte in Gascogne tot ’n stryd om die Frans kroon laat eskaleer het. Die Franse het uiteindelik gewen en behalwe vir Calais het hulle beheer oor die hele Frankryk verkry.

Aan die begin het die Engelse groot seges met onder meer die Slag van Crécy (1346) en die Slag van Poitiers (1356) behaal, maar toe het Charles V van Frankryk (r. 1364-1380) algaande die grond begin terugwen wat sedert die begin van die oorlog afgestaan is. Ná ’n tydperk van vrede toe Richard II van Engeland (r. 1377-1399) met die dogter van Charles VI van Frankryk (r. 1380-1422) getroud is, het die oorlog opnuut opgevlam met die Slag van Agincourt (1415) wat deur Henry V van Engeland (r. 1413-1422) gewen is. Henry is benoem om die opvolger tot die Franse troon te wees maar sy vroeë dood en die onbekwame bewind van Henry VI van Engeland (r. 1422-61 & 1470-71) het daartoe gelei dat Charles VII van Frankryk (r. 1422-1461) weer die inisiatief geneem het. Met die hulp van figure soos Jeanne d’Arc (1412-1431) het die Franse belangrike veldslae by Formigny (1450) en Castillon (1453) gewen om die finale oorwinning te behaal.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Oorlog en vrede

Die Honderdjarige Oorlog was ’n konflik tussen die monarge van Frankryk en Engeland. Met die aanvang in 1337 en die einde eers in 1453, het die oorlog 116 jaar geduur; daar is egter nie deurentyd geveg nie en hierdie tydperk sluit lang periodes van vrede in. Die naam wat ons vandag vir die oorlog gebruik, is eers in die 19de eeu geskep en in gebruik geneem. Vir die doel van die bestudering daarvan en om die belangrike tydperke van vrede tussen die twee lande te weerspieël, word die Honderdjarige Oorlog tradisioneel in drie fases verdeel:

  • die Edwardiaanse oorlog (1337-1360) na aanleiding van Edward III van Engeland;
  • die Karolynse oorlog (1369-1389) na aanleiding van Charles V van Frankryk; en
  • die Lancaster-oorlog (1415-1453) na aanleiding van die koningshuis van Engeland, die Lancasters.

Oorsake van die oorlog

Die oorsake van die Honderdjarige Oorlog is so ingewikkeld soos wat die konflik self later sou raak. Boonop het motiverings verander soos die verskillende monarge op die verhoog verskyn en verdwyn het. Die hoofoorsake kan as sodanig gelys word:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • die inbeslagneming van die Engels-besette Gascogne (Aquitanië, suidwestelike Frankryk) deur Philip VI van Frankryk;
  • die aanspraak van die Engelse koning Edward III om deur sy moeder die regmatige koning van Frankryk te wees;
  • Edward III se ekspedisie om gebiede in Frankryk met mag oor te neem, internasionale handel te beskerm, en buit en landgoedere vir sy adel te plunder;
  • die ambisie van Charles V van Frankryk om die Engelse uit Frankryk se feodale gebiede te verwyder;
  • die kranksinnige verval van Charles VI van Frankryk en die verlammende binnegevegte onder die Franse adel;
  • die ambisie van Henry V van Engeland om regmatigheid aan sy heerskappy in Engeland te verleen en homself deur middel van verowering die koning van Frankryk te maak;
  • die vasberadenheid van die Dauphin, toekomstige koning Charles VII van Frankryk (r. 1422-1461), om sy geboortereg te herwin en die ganse Frankryk te verenig.

Coat of Arms of Edward III
Familiewapen van Edward III
Rs-nourse (CC BY-SA)

Die Edwardiaanse oorlog (1337-1360)

Deur sy moeder Isabella was Edward III in staat om ’n sterk aanspraak op die Franse kroon te maak. Op papier het Edward beslis ’n punt gehad maar of hierdie aanspraak ernstig of bloot ’n verskoning was om Frankryk binne te val, is debatteerbaar. Die huidige Franse koning was Philip VI van Frankryk wat sy neef Charles IV van Frankryk (r. 1322-1328) opgevolg het al was Edward – Charles se nefie en die oudste oorlewende kleinseun van Philip IV van Frankryk (r. 1285-1314) – met Charles se afsterwe dié se naaste manlike familielid. Die Engelse koning het nie op daardie stadium sy aanspraak probeer afdwing nie aangesien hy ’n minderjarige was en die Franse adel, wat die legitimiteit van oorerwing deur die vroulike lyn met ’n greintjie sout opgeneem het, het natuurlik ’n Fransman as heerser verkies. Maar teen die middel 1330's het Edward sy strategie verander. Moontlik was hy ontstig deur die tegniese punt dat ingevolge die reëls van middeleeuse feodalisme, die Engelse koning – as hertog van Gascogne – in werklikheid ’n leenman van die Franse koning was. Gascogne was ’n voordelige handelsvennoot van Engeland, met wol en graan wat uitgevoer en wyn wat ingevoer is. Toe die Franse koning in 1337 Gascogne vir die Franse kroon geannekseer en die suidkus van Engeland die jaar daarna geplunder het – ’n aanval waartydens Southampton onder andere ten gronde gerig is – is Edward die ideale verskoning gebied om ’n oorlog te begin.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE FRANSE, MET GEEN ANTWOORD NIE VIR DIE KOMBINASIE VAN ENGELSE BOOGSKUTTERS EN RIDDERS WAT TE VOET GEVEG HET, HET ’n GROOT NEDERLAAG BY DIE SLAG VAN CRÉCY GELY.

Edward het die bal aan die rol gesit deur tydens ’n seremonie in Gent in 1340 homself as die koning van Frankryk te verklaar. Daarbenewens het die koning sy nuut gevierendeelde familiewapen – die drie leeus van die Plantagenets – ten toon gestel met die goue fleur-de-lis van Frankryk nou daarby ingesluit. Die Lae lande was belangrike handelsvennote van Engeland terwyl ander bondgenote mededingers van Philip VI soos Charles II, koning van Navarra (r. 1349-1387) en die Gascogniese grawe van Armagnac ingesluit het.

Een van die eerste groot aksies van die oorlog was in Junie 1340 toe ’n Franse invalsvloot by Sluys in die Scheldt-riviermonding (Lae Lande) deur ’n Engelse vloot gesink is. Dit is in 1345 opgevolg deur die inneem van Gascogne en die inval van Normandië waartydens die strategie van chevauchées toegepas is. Tydens chevauchées is vrees by die plaaslike bevolking ingeboesem deur oeste te verbrand, kuddes te buit en algemene plundery toe te laat in die hoop dat die Franse koning tot ’n openlike geveg uitgelok sal word. Die strategie het gewerk en die Franse, nie in staat om ’n antwoord te vind vir die kombinasie van Engelse boogskutters en ridders wat te voet geveg het nie, het in Augustus 1346 ’n groot nederlaag by die Slag van Crécy gely. Maar Philip was glad nie oorwonne nie en het ewe slim ’n beroep op sy Skotse bondgenote gedoen om noordelike Engeland binne te val in die hoop dat dit Edward sou noodsaak om uit Frankryk te onttrek. David II van Skotland (r. 1329-1371) het gehoor gegee en Engeland in Oktober 1346 ingeval maar is op 17 Oktober deur ’n Engelse leër by die Slag van Neville's Cross verslaan. As ekstra bonus is koning David gevange geneem en eers in 1357 as deel van die Verdrag van Berwick vrygelaat ingevolge waarvan die Skotte ’n losprys betaal het en daar op ’n 10-jaarwapenstilstand tussen die twee lande ooreengekom is.

Battle of Crecy, 1346 CE
Slag van Crécy, 1346
Unknown Artist (Public Domain)

Calais is in 1347 ingeneem maar die opwagting van die Swart Dood-plaag in Europa het die vyandelikhede onderbreek. Die volgende groot oorwinning in September 1356 was ook ’n Engelse een – weereens teen ’n veel groter Franse leër – by die Slag van Poitiers. Hier is die Engelse leër deur Edward se vaardige seun, Edward die Swart Prins (1330-1376) aangevoer. Die verslaande koning John II van Frankryk (r. 1350-1364) is by Poitiers gevange geneem en is vier jaar lank aangehou. In 1360 is die Verdrag van Brétigny tussen Engeland en Frankryk onderteken ingevolge waarvan Edward se aanspraak op 25% van Frankryk (hoofsaaklik in die noorde en suidweste) erken is in ruil vir Edward se afstanddoening van sy aanspraak op die Franse kroon.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Karolynse oorlog (1369-1389)

Die Vrede van Brétigny het in 1369 geëindig toe die nuwe Franse koning, Charles V van Frankryk, ook bekend as Charles die Wyse (r. 1364-1380), in alle erns begin verhaal het wat sy voorgangers verloor het. Charles het dit gedoen deur openlike veldslae te vermy, hom op teistering toe te spits en wanneer dit benodig is, op die veiligheid van sy kastele staat te maak. Charles se vloot was ook meerderwaardig teenoor dié van die Engelse en hy was in staat om gereeld plundertogte op die suidkus van Engeland te loods. In 1372 is die grootste deel van Aquitanië ingepalm, ’n Engelse vloot is in dieselfde jaar aan die kus van La Rochelle verslaan en teen 1375 was Calais en ’n strook van Gascogne die enigste grond in Frankryk wat steeds aan die Engelse kroon behoort het.

In 1389 is ’n wapenstilstand weereens verklaar en verhoudinge het verder verbeter toe Richard II van Engeland op 12 Maart 1396 met Isabella, die dogter van Charles VI van Frankryk, getroud is. Die huwelik het ’n wapenstilstand van twee dekades tussen die twee lande tot stand gebring. Onder die volgende Engelse koning, Henry IV (r. 1399-1413), was die kroon gans te besig met opstande in Engeland en Wallis om veel in Frankryk uit te rig.

Die Lancaster-oorlog (1415-1453)

Henry V was selfs meer ambisieus as wat Edward III gewees het, en hy het die volgende beduidende skuif in hierdie tronespel gemaak. Nie alleen wou hy Franse gebiede plunder nie maar hy wou dit permanent oorneem en ’n ryk vorm. Vir die Engelse koning was oorlog ook ’n nuttige instrument om legitimiteit aan sy bewind te verleen, siende dat hy die kroon van sy vader Henry IV geërf het nadat dié die troon wederregtelik bekom het deur Richard II te vermoor. Henry V het baie gebaat by die kranksinnige verval van Charles VI van Frankryk, sowel as die daaropvolgende verdeling onder die Franse adel tussen die Armagnacs en die Boergondiërs oor wie die koning en Frankryk kon beheer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

IN 1420 IS HENRY V VAN ENGELAND AS DIE RYKSBESTUURDER EN TROONOPVOLGER VAN CHARLES VI VAN FRANKRYK BENOEM.

In 1415 het Henry Normandië binnegeval, die belangrike hawe Harfleur ingeneem, en dit op 25 Oktober met ’n reusagtige oorwinning met die Slag van Agincourt opgevolg. Caen is in 1417 ingeneem en teen 1419 kon Henry daarin slaag om die hele Normandië, insluitend die hoofstad Rouen, te oormeester. Hierdie oorwinnings, maar hoofsaaklik Agincourt – waar die meeste van die Franse adel afgemaai is – het Henry in ’n nasionale held omskep, en in Mei 1420 het hy die Franse gedwing om ’n vredesverdrag met baie vrygewige voorwaardes, die Verdrag van Troyes, te onderteken. Die Engelse koning is as die ryksbestuurder en troonopvolger van Charles VI benoem en, om die nuwe bondgenootskap te sementeer, is Henry met Charles se dogter, Catherine van Valois ( 1401-ca. 1437) getroud. Dit was die hoogtepunt van die Engelse sukses in die oorlog. ’n Voorwaarde van die ooreenkoms was dat Henry moes belowe dat hy teen die Boergondiërs se geswore vyand – die nou onterfde Dauphin Charles, Charles VI se bloederfgenaam – moes aanhou baklei, wat dus die Honderdjarige Oorlog vir nóg ’n rondte konflik laat voortduur het.

In Maart 1421 het die Engelse die Slag van Baugé verloor en Henry se eie broer, Thomas, die hertog van Clarence, het gesneuwel. Henry het na Frankryk vertrek om die oorlog persoonlik voort te sit en op 11 Mei 1422 het hy Meaux ná ’n beleg van agt maande oorgeneem. Henry het nooit die kans gekry om die koning van Frankryk te word nie aangesien hy op 31 Augustus 1422 by Bois de Vincennes in Frankryk onverwags aan disenterie oorlede is. Henry se babaseun het die volgende koning, Henry VI, geword maar nóg sy ryksbestuurders nóg hy toe hy volwassenheid bereik het, kon ’n grootskaalse Franse herlewing stuit wat die heldedade van Jeanne d’Arc ingesluit het.

Henry V of England
Henry V van Engeland
Unknown Artist (Public Domain)

Jeanne d’Arc, ’n boeremeisie geïnspireer deur hemelse visies, het in 1429 op dramatiese wyse gehelp om Orléans van ’n Britse beleg te ontset. Dit het die begin van ’n Franse herlewing gekenmerk aangesien die Dauphin, nou koning Charles VII van Frankryk, die inisiatief in die oorlog geneem het. 1429 was ook die jaar wat die Franse by die Slag van Patay (18 Junie) geseëvier het toe Engelse boogskutters doeltreffend deur Franse kavallerie omsingel is. Henry VI het aangehou om sy familie se aanspraak op die Franse troon te probeer afdwing. Hy is uiteindelik in Desember 1431 in die Notre-Dame de Paris-katedraal gekroon maar dit was ’n voorwendsel sonder enige wesenlike substansie. Vir Engeland het die oorlog nou eerder een van verdediging as van aanval geword. Sir John Talbot (1384-1453), die vername middeleeuse ridder wat as die “Engelse Achilles” bekend gestaan het, het te danke aan sy aggressiewe taktieke en verrassingsaanvalle oorwinnings behaal en sowel Engelse-besette Parys as Rouen suksesvol verdedig. Maar Frankryk was nou te ryk aan mannekrag en hulpbronne om vir baie lank gestuit te word. Deurslaggewend was die Engelse se verlies aan hulle Boergondiese bondgenote in 1435 toe laasgenoemde se leier, Philip die Goeie van Boergondië, ingevolge die Verdrag van Arras kragte met Charles VII saamgesnoer het, en die Franse burgeroorlog sodoende beëindig is. In 1435 is Dieppe ingeneem, in 1436 het Parys weer terug in Franse hande beland en in 1440 is ook Harfleur teruggeneem.

HANDEL HET SWAAR GEBUK GEGAAN EN DIE KLEINBOERE MOES EINDELOOS AAN BELASTINGS OPDOK OM VIR DIE OORLOG TE BETAAL WAT TOT VERSKEIE OPSTANDE GELEI HET.

Op 22 April 1445 was sowel die huwelik van Henry met Margaret van Anjou (sterf 1482), niggie van Charles VII, en die prysgee van Maine ’n aanduiding van die Engelse se duidelike teësinnigheid om met die oorlog teen Frankryk voort te gaan. Daarenteen was Charles VII uiters vasberade en vanaf 1449 het hy dele van Normandië begin terugvat; in 1450 het hy die Slag van Formigny gewen, Bordeaux in 1451 geblokkeer en Gascogne in 1452 ingeneem. Teen die einde van die oorlog in Julie 1453 en met die Franse oorwinning by die Slag van Castillon, het die Engelse kroon slegs Calais beheer. Deur ’n gemengde strategie van verowering en huweliksbondgenootskappe het die Franse kroon voortgegaan om streke soos Boergondië, Provence en Bretagne saam in een nasiestaat te verenig wat ryker en magtiger as ooit vantevore was. Intussen het Engeland in bankrotskap en burgeroorlog verstrengel geraak. Henry het verskeie aanvalle kranksinnigheid ontbeer, en sy swak heerskappy het uiteindelik droewig tot ’n einde gekom toe hy in Mei 1471 in die Londense Toring vermoor is.

Gevolge van die oorlog

Die Honderdjarige Oorlog het baie gevolge gehad, sowel onmiddellik as langdurig. Eerstens was daar diegene wat in die stryd gesterf het, en die burgerlikes wat tussen veldslae deur plunderende soldate om die lewe gebring of beroof is. Baie van die Franse edelmanne het in die konflik omgekom, en die land is gedestabiliseer soos die oorblywendes om mag meegeding het. In Engeland het die teendeel gegeld soos konings al meer adel geskep het sodat hulle belas kon word om die oorlog te finansier. Dit was egter nie genoeg nie en Engeland het op die ou einde op die rand van bankrotskap gewankel weens die ontsaglike koste daarvan om leërs in ’n ander land in die veld te stoot. Alhoewel die Engelse ’n paar groot oorwinnings behaal het, het hulle aan die einde van die konflik geen gebied in Frankryk buiten Calais gehad nie. Handel het swaar daaronder gebuk gegaan en die kleinboere moes eindeloos aan belasting opdok om vir die oorlog te betaal wat tot verskeie opstande soos die Kleinboerrebellie van 1381 gelei het. Met dié dat konings belastinggeld wat vir die Pous in Rome bedoel is vir hulleself gehou het om vir hulle leërs te betaal, het selfs die middeleeuse kerk swaargekry, sodat die kerke in Engeland en Frankryk ’n meer “nasionale” karakter van hul eie aangeneem het.

Joan of Arc Statue, Beaugency
Standbeeld van Jeanne d'Arc, Beaugency
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

In Engeland het die verloor van die oorlog veroorsaak dat baie edelmanne hul monarg en sy reg om te heers, bevraagteken het. Dit, en die onvermydelike jag vir swartskape vir die debakel in Frankryk, het uiteindelik tot die dinastiese dispute gelei wat vandag as die “Wars of the Roses” (Oorloë van die Rose) (1455-1487) bekend staan.

Militêre tegnologie het tydens hierdie periode ontwikkel, veral die gebruik van doeltreffender buskruitwapens en die versterking en aanpassing van kastele en gefortifiseerde dorpe om teen hierdie bedreiging weerstand te bied. Daarbenewens het Charles VII teen die einde van die oorlog Frankryk se eerste permanente koninklike leër in die lewe geroep.

Van die meer positiewe gevolge was die sentralisering van die regering, ’n toename in burokratiese doeltreffendheid en ’n meer gereguleerde belastingstelsel. Die Engelse Parlement, wat moes vergader om elke nuwe koninklike belasting goed te keur, het ’n liggaam met ’n sterk identiteit van sig eie geraak wat later sou deug om die magte van alleenheersers in toom te hou. Daar was ook ’n meer professionele diplomasie tussen Europese nasies. Boonop is helde geskep en in liedere, middeleeuse literatuur en kunsfigure herdenk, byvoorbeeld Jeanne d’Arc en Henry V wat in hulle onderskeie lande tot vandag toe as die mees vooraanstaande voorbeelde van nasieskap voorgehou word. Laastens het so ’n lang konflik teen ’n duidelik identifiseerbare vyand daartoe gelei dat die bevolking van albei die lande ’n baie groter sin vir samehorigheid tot ’n enkele nasie gesmee het. Die wedywering tussen hierdie twee aangrensende lande duur vandag steeds voort maar deesdae word dit gelukkig meestal binne die perke van internasionale sportgeleenthede uitgedruk.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2020, March 17). Die Honderdjarige Oorlog [Hundred Years' War]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18721/die-honderdjarige-oorlog/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Honderdjarige Oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 17, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18721/die-honderdjarige-oorlog/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Honderdjarige Oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 17 Mar 2020. Web. 17 Oct 2021.