Middeleeuse ridder

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$900 / $3000

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 07 November 2018

Oorspronklike teks in Engels: Medieval Knight

Medieval Knight (by pxhere, Public Domain)
Middeleeuse Ridder
pxhere (Public Domain)

Ridders was die mees gevreesde en besbeskermde krygers op die middeleeuse slagveld, terwyl hulle weg van die slagveld af van die mees fatsoenlik geklede en besgemanierde lede van die samelewing was. Om egter hierdie verhewe status te kon bereik, het meer en meer van 'n uitdaging geraak soos die Middeleeue aangestap het. Vereistes het 'n aristokratiese afkoms, opleiding sedert kindsbeen, geld vir wapens, perde en wapendraers, sowel as 'n kennis van die reëls van ridderlikheid ingesluit. 'n Aantreklike voorkoms, netjiese klere, 'n treffende familiewapen en die vermoë om poësie en liedere te kan resiteer, was opsionele maar uiters begeerlike bykomstighede indien 'n mens die absolute kruin van hierdie elite van die middeleeuse samelewing wou bereik.

Hoe om 'n ridder te word

Die proses om 'n ridder te raak, het van kleins af begin. Die tipiese beginpunt vir 'n jong knaap van 7 tot 10 jaar oud was om 'n edelknaap te raak wanneer hy geleer het om in diens van 'n werklike ridder perde te hanteer, te jag en skynwapens te gebruik. Vanaf die ouderdom van 14 jaar was die volgende stap om 'n wapendraer te raak wat meer verantwoordelikheid as 'n edelknaap gehad het, geleer het om werklike wapens te gebruik en met onderrig begin het, veral die bestudering van ridderlikheid. Wapendraers het ridders in sowel vredestyd as oorlogstyd bygestaan deur hulle ekstra lanse of skild vas te hou, hulle wapenrusting skoon te maak en om te sien na die verskeie perde wat elke ridder besit het. Indien alles goed verloop het, is ridderskap aan die jongman – nou ongeveer 18 jaar oud – toegeken deur middel van 'n seremoniële daad bekend as 'n “ridderslag”.

Verwyder Advertensies

Advertisement

'N NUWE RIDDER SE SWAARD IS VIR HOM TERUGGEGEE – GESEËN DEUR 'N PRIESTER – MET DIE VOORBEHOUD DAT HY ALTYD DIE ARMES EN DIE SWAKKES SOU BESKERM.

Vir 'n ridderslag moes 'n aanstonse ridder goed gebad het en deurnag 'n kerkwaak gehou het. Op die dag van die seremonie is die wapendraer deur twee ridders in 'n wit tuniek en wit gordel geklee om reinheid te simboliseer, swart of bruin kouse wat die aarde verteenwoordig het waarheen hy eendag sou terugkeer, en 'n skarlaken mantel vir die bloed wat hy nou gewillig was om vir sy baron, soewerein en kerk te vergiet. Sy swaard is vir hom teruggegee – nou deur 'n priester geseën – met die voorbehoud dat hy altyd die armes en die swakkes sou beskerm. Die lem het twee snykante gehad – die een het geregtigheid verteenwoordig, die ander getrouheid en ridderlikheid.

Die ridder wat die eer toegeken het, kon dan 'n spoor vir die wapendraer aansit, of die swaard en die gordel aan hom hang, en hom 'n kus op die wang gee. Die wapendraer is dan tot ridder geslaan met 'n eenvoudige tik op die skouers of nek van die hand of die swaard, of selfs 'n harde hou (colée of akkolade). Hierdie hou is bedoel om die laaste een te wees wat hy ooit sonder vergelding moes aanvaar en om hom te herinner aan sy verpligtinge en morele plig om nié die man wat die hou toegedien het, 'n oneer aan te doen nie. Volgende is hy sy perd gegee, en dan sy skild en banier waarop sy familiewapen moontlik uitgebeeld was. Die seremonie is met 'n groot fees afgerond.

Verwyder Advertensies

Advertisement

John II Knighting Squires
John II Knighting Squires
Unknown Artist (Public Domain)

Vroeë ridders kon uit enige agtergrond kom; al wat nodig was, was moed en strewe. Baie vroeë ridders is hulle titel deur 'n landheer of monarg op die slagveld gegee (dikwels simbolies in die vorm van spore, vandaar die uitdrukking “jou spore verdien”); dit het gewoonlik gebeur nadat besonderse onverskrokkenheid en gedugtheid tydens die stryd teen die vyand aan die dag gelê is. Teen die 13de eeu HJ was die meeste ridders egter die seun van 'n ridder soos die klas probeer het om hul eksklusiwiteit in die samelewing te behou.

Wapens en wapenrusting

'n Ridder moes daarin bedrewe wees om perd te ry terwyl hy 'n lang, driehoekige skild van leer en hout, sowel as 'n houtlans 2,4-3 m (8-10 vt.) lank vashou, en daarom moes hy oefen om sy strydros deur middel van net sy knieë en voete te stuur. Hy moes in staat wees om vir 'n volgehoue tydperk te kan veg met 'n swaar swaard waarvan die lem tot 1 m (40 dm.) lank kon wees, en moes fiks genoeg wees om flink te kan beweeg terwyl hy swaar wapenrusting van metaal dra. Bekwaamheid met bykomende wapens soos 'n dolk, strydbyl, knots, boog en kruisboog kon ook nuttig wees.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Vanaf die 9de eeu HJ was die harnas van 'n ridder gemaliede pantser wat uit onderling gehegte ysterringetjies bestaan het. 'n Kapmantel, broek, handskoene en skoene kon alles met malies gepantser word en buiten die gesig kon dit dus die hele liggaam van die ridder bedek. 'n Volledige malieharnas kon tot 13,5 kg (30 pd.) weeg. Oor die harnas is 'n moulose oorkleed gedra sodat die ridder sy familie se vaandel of wapen ten toon kon stel.

Sir William Wallace
Sir William Wallace
Kjetil Bjørnsrud (CC BY-SA)

Plaatpantser het in die 14de eeu HJ algemener geraak en het beter beskerming teen pyle en swaardhoue gebied. Die plate kon alle dele van die liggaam beskerm, en dit het in verskillende vorms en ontwerpe gekom, met die stukke wat deur middel van rygbande, leerbande, skarniere, gespes of semisirkulêre klinknaels aanmekaar gehou is. 'n Volledige wapenrusting het 20-25 kg (45-55 pd.) geweeg – minder as die toerusting wat 'n moderne infanteris dra; 'n ridder wat van sy perd af geval het, was dus nie heeltemal hulpeloos of nie in staat om te beweeg nie. Buitendien het ridders dikwels malie- en plaatwapenrusting gemeng en hul eie beskerming volgens voorkeur gekies, met borsplate en beenskutte die algemeenste stukke wat gedra is.

Die kop is deur 'n helm beskerm. Eenvoudige spitshelms is eers gedra en toe is 'n neusskut of gesigbedekking bygevoeg, en teen die 13de eeu HJ is die ten volle omhulde helm gebruik, met verdere ontwerpsaanpassings soos 'n uitstaanneusstuk vir beter ventilasie of 'n keëlvormige bokant om houe beter te deflekteer. Met die gesig wat verbloem is, kon 'n helm verpersoonlik word om die draer daarvan te identifiseer: Dekoratiewe patrone kon deur middel van geponsde ventilasiegate aangebring word; baie helms is geverf en die pluime van eksotiese voëls kon teen die bokant aangeheg word. Daar was selfs 'n gier vir driedimensionele figure op die kruin van die helm wat enigiets van takbokhorings tot drake kon verteenwoordig.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die uiters belangrike perde wat van ridders die ekwivalent van moderne tenks op die middeleeuse slagveld gemaak het, het ook besondere beskerming geniet. Die eenvoudigste opsie was 'n materiaalmondering wat die dier se kop en ore kon omhul, en wat nóg 'n nuttige skilderdoek vir heraldiese vertoon gebied het. Beter beskerming is gebied deur 'n gemaliede tweestukharnas (een vir voor met die ander stuk wat agter die saal gehang is), 'n opgestopte helm, 'n plaatkopbedekking of 'n gepantserde plaat van metaal of gekookte leer om die bors te beskerm.

SOMMIGE RIDDERS HET AS ONAFHANKLIKE HUURSOLDATE OPGETREE EN, VIR DIE MEER AVONTUURLUSTIGE EN VROME VAN AARD, WAS DAAR ALTYD DIE GELEENTHEID WAT DIE KRUISTOGTE GEBIED HET.

Om hierdie wapens doeltreffend te gebruik en daaraan gewoond te raak om die gewig van die metaalharnas te dra, was dit 'n goeie idee vir 'n ridder om 'n bietjie te oefen voordat hy voor die uitdaging van werklike oorlogvoering te staan kom. Daar was spesifieke toestelle vir opleiding, soos die steekpaal – 'n roterende arm met 'n skild aan die een kant en 'n gewig aan die ander. 'n Ruiter moes die skild tref en aanhou ry om te verhoed dat hy deur die gewig in die rug getref word soos die paal omswaai. Nog 'n toestel was 'n opgehangde ring wat met die punt van 'n lans verwyder moes word. Om jou perd op 'n harde galop te ry en met jou swaard na 'n houtpaal te kap, was nog 'n algemene opleidingstegniek. Al hierdie vaardighede het die ridder gehelp om sy primêre funksie te vervul as lyfwag van die adel, as lid van die garnisoen wat 'n kasteel bewaak, óf op die slagveld as die elite-element van 'n middeleeuse leër. Sommige ridders het as onafhanklike huursoldate opgetree en, vir die meer avontuurlustige en vrome van aard, was daar altyd die geleentheid gebied deur die kruistogte wat die gereelde Europese sekulêre oorloë van die Middeleeue onderbreek het. Vir die werklik toegewyde Christenridder was daar ook die opsie om by 'n militêre orde soos die Hospitaalridders of die Tempelridders aan te sluit waar 'n mens baie soos 'n monnik geleef het maar minstens toegang tot die beste opleiding en wapens van alle middeleeuse ridders gehad het.

Ridderspele en toernooie

Wanneer ridders nie op aktiewe militêre diens was nie, kon hulle hul wapenvernuf en perdryvaardighede slyp deur aan toernooie deel te neem. Hierdie kompetisies het twee formate behels – óf 'n mêlée wat 'n skyn-kavalleriegeveg was waartydens ridders mekaar vir 'n losprys gevange moes neem, of die ridderspel waartydens 'n enkele ridder gewapen met 'n lans op 'n opponent afgestorm het wat soortgelyk gewapen was. Die ridders het hulself met 'n skild en volledige wapenrusting beskerm wat dikwels spesiaal vir die ridderspele gemodifiseer is sodat die gesig en arms beter beskerm was alhoewel dit ten koste van beweeglikheid geskied het. In 'n area wat as die “strydperk” bekend gestaan het en 100-200 m (110-220 jt.) lank was, het die ridders op harde galop op mekaar afgestorm met die doel om die opponent uit die saal te lig. Om die risiko van beserings te minimeer (maar dit beslis nie te elimineer nie), is wapens aangepas, byvoorbeeld om 'n driepuntkop aan die punt van 'n lans te heg om sodoende die impak te verminder. Swaarde is ook stomper gemaak.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Jousting Re-enactment
Jousting Re-enactment
National Jousting Association (CC BY-SA)

Daar was selfs geleentheid vir die ridders om hulself vir die hele affêre in kostuums uit te dos, gewoonlik as ridders van die Ronde Tafel of karakters uit die antieke mitologie. Met dié dat daar dames van die plaaslike aristokrasie teenwoordig was, was toernooie ook 'n geleentheid om 'n bietjie ridderlikheid te vertoon. Toernooie het sulke toonaangewende geleenthede met pryse vir die wenners geraak dat ridders in alle erns daarvoor begin oefen het. Toernooireekse het ontstaan en baie ridders het as't ware professionele toernooispelers geword.

Klere

Ridders was onder die mees toegewyde van alle middeleeuse modevolgelinge; trouens, ander beroepe soos die geestelike stand is dikwels berispe omdat hulle hulself so spoggerig soos die ridders laat probeer lyk het. Alhoewel klere tussen die klasse nie te veel verskil het nie, was diegene wat dit kon bekostig geneig om materiaal van hoër gehalte te dra wat baie beter gepas het. Tunieke (lank, kort, opgestop, mouloos of met lang moue), kouse, mantels, handskoene en hoede van alle vorms en groottes is alles gedra. Sodanig was die waarde van klere in die Middeleeue dat dit dikwels as deel van iemand se belasbare eiendom beskou is. Daarbenewens was dit nogal 'n statussimbool, met sekere materiaal wat ingevolge die wet tot aristokrate beperk was.

Die algemeenste materiaal was wol maar sy, brokaat, kameelhaar en pelse het 'n ridder in staat gestel om 'n modestelling te maak. Helder kleure soos karmosyn, blou, geel, groen en pers was die gunstelinge. Individualiteit is uitgedruk in al die bykomstighede wat by die basiese klere van die dag gevoeg kon word, soos metaalartikels, goue en silwer stikwerk, knope, juwele, glasedelstene, vere en fyn borduurkuns. Gordelgespes en borsspelde waarmee 'n mantel by die skouer vasgesteek is, was veral 'n gewilde manier om met 'n bietjie glansgoed te spog. Met flambojante smaak en sowel die middele tot sy beskikking as die reg om die volledige reeks van die middeleeuse klerekas te mag dra, is 'n ridder maklik bespeur wanneer hy met die straat af gestap het.

Medieval Falconry
Middeleeuse Falkonrie
Unknown Artist (Public Domain)

Vryetydsaktiwiteite

Die algemeenste aktiwiteit waaraan ridders hul vrye tyd bestee het, was jag. Aanjaers en hondemeesters het honde aan leibande gebruik om die diere in die plaaslike woud of 'n beskermde hertekamp te besluip. Wanneer hulle gereed was, is 'n horing geblaas om die wegspring aan te dui, en dan het die adel saam met 'n trop jaghonde gery om diere soos herte, varkbere, wolwe, vosse en hase op te spoor en agterna te jaag. Sodra 'n dier eers in 'n hoek gedryf is, is 'n edelman die geleentheid gegee om die dier met sy lans of boog te dood.

Valkejag was nog 'n gewilde aktiwiteit. Sonder vuurwapens was 'n valk die enigste manier waarop voëls wat buite skootafstand van 'n boogskutter gevlieg het, gevang kon word. Maar vir die adel was die sport bedeel met 'n mistieke en mitologiese aard wat die doelmatigheid daarvan oortref het om net 'n paar voëls vir die tafel te vang. Gewilde voëls was onder andere die giervalk, swerfvalk, singvalk en sperwer, en hulle tipiese prooi was bosvoëls maar veral kraanvoëls en eende.

As deel van die kode van middeleeuse ridderlikheid is daar nie net van ridders verwag om met poësie vertroud te wees nie maar ook om in staat te wees om dit te kan skryf en voor te dra. Boeke, of eintlik gebinde verlugte manuskripte was egter beskikbaar oor allerhande onderwerpe buiten poësie. Daar was boeke oor ridderlikheid, tafelmaniere, jag, stories uit antieke Griekeland, die legendes van koning Arthur, en biografieë van bekende ridders soos Richard I van Engeland (r. 1189-1199 HJ) en sir William Marshal (ca. 1146-1219 HJ). Laastens was daar speletjies soos backgammon, skaak en dobbelstene, wat moontlik weddery kon behels – alles nuttig om die ure te verwyl tydens daardie lang kasteelbeleërings wat so kenmerkend aan middeleeuse oorlogvoering was.

Tomb of Sir William Marshal
Graf van Sir William-maarskalk
Michel Wal (CC BY-SA)

Ridderlikheid

Daar is van 'n ridder verwag om te alle tye ridderlik te wees. Die hoër range van die middeleeuse samelewing was deurtrek met die etiese, godsdienstige en sosiale kode van ridderlikheid, en dit is soveel belangriker gemaak deur 'n eindelose stroom romantiese literatuur wat die deugde van ridderlike gedrag besing het. Ten einde 'n goeie reputasie te handhaaf en guns by diegene aan bewind te wen, moes 'n ridder fundamentele ridderlike eienskappe soos moed, militêre vaardigheid, eer, getrouheid, 'n sin vir geregtigheid, goeie maniere en vrygewigheid aan die dag lê – veral teenoor diegene wat minder bevoorreg as hyself was. Indien 'n ridder hierdie dinge nié gedoen het nie en – selfs erger – indien hy hom aan die teenoorgestelde skuldig gemaak het, kon hy sy status as ridder verloor, en kon sy reputasie, en dié van sy familie, vir ewig beswadder word. In so 'n geval is 'n ridder wat hom skandelik gedra het sy spore ontneem, sy wapenrusting is verbrysel en sy familiewapen is óf verwyder óf een of ander skromelike simbool is daarna daaraan toegeken, óf dit is bloot onderstebo uitgebeeld.

Die dood

Wanneer 'n ridder die einde van sy strydbare jare bereik het, was dit nie ongewoon om by 'n militêre orde aan te sluit en so 'n aangename plekkie in een van hulle begraafplase of selfs kerke te verseker nie. Sir William Marshal het juis van so 'n strategie gebruik gemaak en, ter elfder ure as Tempelridder ingehuldig, is hy in Tempelkerk in Londen ter aarde bestel waar sy beeltenis steeds rus. Die beeltenis van ridders was 'n algemene manier om gedagtenis te verseker. Gewoonlik 'n uitbeelding in volledige wapenrusting en met 'n skild, kan hierdie klipsneewerk steeds in baie kerke regoor Europa gesien word, en dit voorsien geskiedkundiges van 'n uiters waardevolle rekord van middeleeuse wapens en wapenrusting maar herinner ook aan die eerbied wat ridders in die Middeleeue geniet het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2018, November 07). Middeleeuse ridder [Medieval Knight]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17044/middeleeuse-ridder/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Middeleeuse ridder." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig November 07, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17044/middeleeuse-ridder/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Middeleeuse ridder." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 07 Nov 2018. Web. 27 Nov 2021.