Die Algemene Landgoed van 1789

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 25 April 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans
Opening Session of the General Assembly, 5 May 1789 (by Auguste Couder, Public Domain)
Openingsessie van die Algemene Vergadering, 5 Mei 1789
Auguste Couder (Public Domain)

Die Algemene Landgoed van 1789 was ’n ontmoeting tussen die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk: die kerklui, adelstand en gewone burgers. Die Algemene Landgoed is deur koning Louis XVI van Frankryk (r. 1774-1792) byeengeroep om oplossings vir finansiële krisisse en krisisse in die samelewing te vind, maar het geëindig met die Derde Landgoed wat van die koninklike gesag weggebreek en ’n Nasionale Vergadering gevorm het. Dit word oor die algemeen as die aanvang van die Franse Revolusie (1789-1799) beskou.

Die Algemene Landgoed is in 1302 as raadgewende liggaam tot koning Philip IV van Frankryk (1285-1314) gestig, en is tradisioneel oor fiskale beleid geraadpleeg, en het ook petisies en griewe van die landgoedere aan die koning voorgelê. Alhoewel die Landgoed geen wetgewende mag van sy eie gehad het nie, het die liggaam se gesag uit die rol daarvan as stem van die mense gespruit. Maar die Algemene Landgoed was nie ’n sittende liggaam nie, en is net met tussenposes deur die koning byeengeroep. Soos wat die Franse konings mag begin sentraliseer en beleide van absolute monargie begin nastreef het, is die Algemene Landgoed al minder byeengeroep, en ná die ontmoeting van 1614 het dit eers 175 jaar later, in 1789, weer gebeur.

Verwyder Advertensies
Advertisement

In die stormagtige jare wat die Franse Revolusie voorafgegaan het, is die Algemene Landgoed as noodsaaklik beskou om die wanbalanse binne die Franse samelewing reg te stel, veral waar dit met die Derde Landgoed te doen gehad het. Soos wat sake in die 1780’s vererger en tot konflik tussen die monargie en die landgoedere gelei het, het Louis XVI uiteindelik geen keuse gehad nie as om ’n Algemene Landgoed byeen te roep, en sodoende die lot van sy eie monargie en van Frankryk self te verseël.

Agtergrond: Die koninkryk verbrokkel

DIE KRISIS WAS DIE GEVOLG VAN DEKADES SE OORDADIGE BESTEDING DEUR DIE MONARGIE, VERAL IN DIE VORM VAN DUUR MILITÊRE ONDERNEMINGS.

Teen die lente van 1789 was die rafels waaruit Frankryk se Ancien Régime geweef was, vinnig aan’t lostorring. ’n Finansiële krisis wat reeds jare lank aan die broei was, het in Augustus 1788 ten einde laas die kantelpunt bereik toe die Franse tesourie leeg verklaar is. Die krisis was die gevolg van dekades se oordadige besteding deur die monargie, veral in die vorm van duur militêre ondernemings soos die Franse betrokkenheid by die Amerikaanse Revolusie. Onsamehangende belastingstelsels wat van provinsie tot provinsie gewissel het, het tot die koninkryk se finansiële ellende bygedra – ’n situasie wat vererger is deur die eerste twee ordes van die samelewing – die kerklui en die adel – se vrystelling van belasting. Die meeste van die koninkryk se belastinglas het gerus op die skouers van die derde orde – die gewone burgers – wat 90-98% van die bevolking uitgemaak, en die armste lede van die samelewing ingesluit het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Pogings tot finansiële hervorming deur koning Louis XVI se ministers het herhaaldelik misluk. Die Vergadering van Hooggeplaastes van 1787, wat daarop gemik was om ’n reeks radikale hervormings outomaties goed te keur waarvan die doel was om die staat van bankrotskap te red, het geboemerang toe die vergadering se lede verklaar het dat slegs ’n Algemene Landgoed die gesag gehad het om oor fiskale aangeleenthede te beslis. Die Paryse Hooggeregshof, die hoogste geregshof in die land, het met die beslissing saamgestem en het geweier om die koning se hervormings te registreer, ten spyte daarvan dat hulle vroeër daarop aanspraak gemaak het om verantwoordelikheid te aanvaar om finansiële sake in die afwesigheid van Algemene Landgoed te behartig.

Dit het tot ’n twis tussen die koninklike gesag en dié van die hooggeregshowe, oftewel parlements – die Opstand van die Hooggeregshowe – gelei waartydens die 13 hooggeregshowe van Frankryk die ondersteuning van die mense gewen het deur voorspraak te maak vir ’n Algemene Landgoed, en hulle teen tiranniese misbruik van koninklike mag, onder meer arbitrêre arrestasies, te verset. Hierdie opstand het eers in Augustus 1788 tot ’n einde gekom toe die koning se hoofminister bedank het en deur Jacques Necker (1732-1804), die gewilde Geneefse bankier en die koning se eertydse minister van finansies, vervang is. Necker het ’n sitting van die Algemene Landgoed vir 1789 belowe en het die mag aan die geliefde hooggeregshowe terugbesorg.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Portrait of Jacques Necker
Portret van Jacques Necker
Joseph Duplessis (Public Domain)

Necker se aanstelling het tot die tesourie se redding gekom aangesien sy belofte van ’n Algemene Landgoed genoeg vertroue by krediteure ingeboesem het om nuwe lenings aan te gaan ten einde die koninkryk kop bo water te laat hou. Maar Frankryk was steeds hoog in die nood gewees. Die Opstand van die Hooggeregshowe het landwye onluste en oproer tot gevolg gehad wat deur ’n reeks ongelukkige weersomstandighede vererger is. In Julie 1788 het ’n fratssomerhaelstorm baie van die oeste in die Paryse kom verwoes. Dit is deur ’n droogte gevolg wat die langste en hardste winter voorafgegaan het waarvan Frankryk in 80 jaar getuie gewees het. Swaer sneeuneerslae het tot diep in April 1789 byna elke tweede dag voorgekom. Bevrore riviere en geïmmobiliseerde meule het tot ’n verlies aan vervaardiging gelei wat weer werkloosheid tot gevolg gehad het op ’n tydstip toe broodpryse die hoogte ingeskiet het.

Onder normale omstandighede sou gemiddelde stedelike werkers ongeveer die helfte van hulle inkomste op brood gespandeer het maar in die lente van 1789 het die meer welgesteldes twee derdes van hul lone net aan brood bestee, terwyl diegene wat die slegste daaraan toe was, tot nege tiendes van hulle inkomste daarvoor moes opdok. Volgens die hertog van Dorset het die ellende van die armes tydens die winter van 1789 alle beskrywing oortref (Doyle, 87). Vir baie was die komende Algemene Landgoed die enigste hoop op verandering.

Verkiesings en griewe

Die vraag wat almal op die hart gelê het in die maande wat die sitting van die Algemene Landgoed voorafgegaan het, was hoe die Vergadering daar sou uitsien nadat dit 175 jaar lank nie byeengeroep is nie. In September 1788 het die Paryse Hooggeregshof, wat toe onlangs weer ingestel is, verklaar dat die samestelling van die Algemene Landgoed dieselfde moes wees as toe dit laas vergader het. Hierdie besluit blyk ’n ongewilde een te gewees het wat byna oornag veroorsaak het dat die hooggeregshowe se gewildheid drasties getaan het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Hierdie idee is weens twee redes met intense afkeur bejeën. In 1614 is ’n gelyke aantal verteenwoordigers aan elke landgoed toegewys, en is die idee geïgnoreer dat die meeste Franse inwoners deel van die Derde Landgoed was. Verder is elke landgoed in 1614 net een stem gegun, wat beteken het dat die hoër landgoedere elke keer die derde een kon oorstem. Vir baie mense was dit onaanvaarbaar om hierdie struktuur in 1789 te volg.

Ná hierdie ongunstige reaksie het ’n tweede Vergadering van Hooggeplaastes in November byeengekom om die verdubbeling van die Derde Landgoed se verteenwoordiging te bespreek. Alhoewel die hooggeplaastes teen hierdie voorstel gestem het, is hulle besluit deur Necker verwerp wat wou hê dat die komende ontmoeting so glad moontlik moes verloop. Derhalwe is die Derde Landgoed ’n verteenwoordiging van 578 gemagtigdes toegeken, teenoor die 303 vir die kerklui en die 282 vir die adelstand.

The Three Orders
Die drie ordes
National Library of France (Public Domain)

Die gemagtigdes is deur ’n kiesproses gekies wat in Februarie 1789 begin het en op sommige plekke tot diep in Junie geduur het. Kiesafdelings is uit die middeleeuse bailliage-ampsgebiede saamgestel, met geringe aanpassings wat gemaak is om vir ’n growwe ooreenkoms tussen grootte en bevolking voorsiening te maak. Elkeen van hierdie kiesafdelings het ’n afsonderlike stemvergadering vir elke orde gehad, en van elke kiesafdeling is daar verwag om twee gemagtigdes van die geestelike stand (kerklui), twee van die adelstand en vier van die Derde Landgoed op te lewer. Tesame met hierdie verkiesings was elke kiesafdeling ook verplig om ’n lys griewe, oftewel cahiers, saam te stel om die samesprekings van die Algemene Landgoed te rig.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Uiteraard was daar tekortkominge aan hierdie proses – veral volgens moderne standaarde. Slegs manlike belastingbetalers ouer as 25 kon stem. Verder het die proses om cahiers op die laer vlakke van die samelewing te begin saamstel, en dit later te hersien, beteken dat die belange van die armste kleinboere merendeels nie by die finale weergawe van die lyste griewe ingesluit is nie. Diegene van die Derde Landgoed wat verkies is, was grotendeels ryker bourgeois – geskoolde mans of diegene wat ’n luilekker lewe geniet het – waarvan twee derdes uit ’n regsagtergrond gekom het. Die rede hiervoor was omdat daar van gekose verteenwoordigers verwag is om tydens die sitting van die Algemene Landgoed te Versailles vir hulle eie uitgawes te betaal, en ook omdat armer werkers, waarvan baie gesinne gehad het vir wie hulle moes voorsien, dit eenvoudig nie kon bekostig om hulle werk te onderbreek om ’n veldtog te voer om verkies te word nie. Geen kleinboer of ambagsman het verder as die eerste ronde van die verkiesings gevorder nie.

DIE VERKIESINGS EN DIE OPSTEL VAN DIE CAHIERS WAS DESTYDS MONUMENTALE DEMOKRATIESE PRESTASIES GEWEES.

Nietemin was die verkiesings en die opstel van die cahiers destyds monumentale demokratiese prestasies gewees. Vakkundige William Doyle (97) skryf dat die verkiesings van 1789 tot en met daardie tydstip die mees demokratiese skouspel was wat nog ooit in die geskiedenis van Europa gesien is, en niks vergelykbaar daarmee het eers voor diep in die volgende eeu weer plaasgevind nie. Meer as ses miljoen mense het aan die kiesproses deelgeneem, en meer as 25 000 cahiers is opgestel, waarvan baie die voorregte van die hoër landgoedere openlik afgekeur, die magsmisbruik binne die Ancien Régime beklae, en ’n beroep op ’n nuwe konstitusie gedoen het. Terwyl baie mense verwag het dat die Algemene Landgoed tot ’n oordrag van mag aan die mense sou lei, het die meeste iets soortgelyks aan Brittanje se Glorierevolusie van 1688 in die vooruitsig gestel, waar die Franse koning mag sou deel met ’n liggaam wat met Brittanje se parlement ooreengestem het. Op hierdie vroeë stadium was daar min mense wat op die radikale stap aangedring het om ’n republiek te vorm.

Soos wat die verkiesings gevorder het, is pamflette in die strate van vername stede versprei waarin uiteengesit is wat die Derde Landgoed by Versailles moes probeer vermag. Die bekendste en invloedrykste hiervan was getitel Wat is die Derde Landgoed? wat deur die abbé Emmanuel-Joseph Sieyès (1748-1836) geskryf is. Op grond daarvan dat die Derde Landgoed uit die oorweldigende meerderheid van Frankryk se bevolking van 27 miljoen mense bestaan het, het Sieyès aan die hand gedoen dat hierdie landgoed op sig eie die hele nasie behels het. Aangesien die bevoorregte hoër landgoedere baie min tot belasting of die bevolking bygedra het, was hulle bloot dooiegewig; in sy pamflet het Sieyès hulle met ’n kwaadaardige siekte vergelyk wat op die liggaam van ’n siek man teer, en dit folter (Schama, 304). Weens Sieyès se werk is hy as verteenwoordiger van die Derde Landgoed verkies, sodat hy sy eie geestelike orde verlaat het.

Tydens al hierdie gebeure het die spanning regdeur Frankryk opgebou soos wat die laer klasse honger gely het. Op 28 April het dinge kookpunt bereik toe ’n paar duisend oproeriges op die huis en fabriek van Jean-Baptiste Reveillon, ’n vervaardiger van muurpapier, toegesak het. Alhoewel Reveillon daarvoor bekend was dat hy sy werknemers goed betaal het, is hy verkeerd aangehaal dat hy voorspraak vir laer lone gemaak het. Met krete van “Weg met die rykes!” het die oproeriges Reveillon se eiendomme geplunder. Soldate is ingestuur en daar is op die skare geskiet. Skattings van ongevalle wissel baie maar minstens 25 mense is dood alhoewel gerugte selfs die ronde gedoen het van tot 900 wat omgekom het. Hierdie daad van bloedvergieting het dae voor die Algemene Landgoed plaasgevind, en het tot die gespanne atmosfeer van die vergadering bygedra.

Die Algemene Landgoed vergader

Op 5 Mei het die Algemene Landgoed ten midde van ’n algemene vreugdebetoon vergader. Alhoewel die landgoedere wel vir die openingseremonies hulle bymekaar bevind het, het die Derde Landgoed uit die staanspoor besef dat hulle geïsoleer was. Buiten dat hulle 3 uur moes wag om voor die koning te kon buig – baie langer as die ander – is die Derde Landgoed ook ten opsigte van drag uitgesonder. Aan elke landgoed is ’n kostuum ooreenkomstig tradisie toegewys: Terwyl die Eerste Landgoed in hulle ampsgewaad uitgedos was en die Tweede Landgoed pluimhoede, syklere en ’n swaard aan die heup gedra het, is die Derde Landgoed net toegelaat om in somber swart aan te trek, asof hulle ’n begrafnis bygewoon het.

Die koning het die Algemene Landgoed met ’n konvensionele dog vervelige toespraak geopen, waarna hy gevolg is deur die Bewaarder van Seëls wie se toespraak ewe konvensioneel maar geheel en al onhoorbaar was. Jacques Necker se stem het halfpad deur sy 3-uurlange toespraak ingegee, sodat iemand anders dit vir hom moes voltooi. Necker se toespraak het baie verteenwoordigers van die Derde Landgoed teleurgestel met dié dat dit hoofsaaklik gefokus het op die finansiële probleme wat die land in die gesig gestaar het, en hy skaars melding gemaak het van die sosiale kwessies wat die meeste mense geglo het die werklike fokus van die Algemene Landgoed moes wees. Nadat Necker se toespraak klaar gelees is, is die sitting vir die dag afgesluit, sonder dat enigiets bespreek of vermag is.

The Opening of the Estates-General
Die opening van die Algemene Landgoed
Isidore-Stanislas Helman (Public Domain)

Die volgende dag is elke landgoed die taak opgelê om die uitslae van hulle eie verkiesings te bevestig. Dit was egter ’n probleem. Indien dit aan elke landgoed oorgelaat sou word om hulle verkiesings afsonderlik van die ander te bevestig, kon dit net so maklik daartoe lei dat die landgoedere ook afsonderlik stem. Vir die Derde Landgoed was dit onaanvaarbaar omdat hulle geweet het dat so ’n formaat tot gevolg sou hê dat hulle met elke kwessie oorstem sou word. Derhalwe het die Derde Landgoed volstrek geweier om hulle verkiesings te bevestig, of met enige verrigtinge voort te gaan, solank as wat hulle steeds van die ander landgoedere geïsoleer was.

Die adelstand, wat gevoel het die Derde Landgoed maak ’n berg van ’n molshoop, het geen ag op laasgenoemde se belange geslaan nie en ten gunste van afsonderlike bevestiging gestem. Die kerklui, waarvan die meerderheid verteenwoordigers gemeentepriesters was wat die gewone burgers simpatiek gesind was, het egter verdeeld oor die kwessie gebly. Kort voor lank het die Derde Landgoed, wat hulself nou die “Burgerstand” genoem het, sake verder gevoer deur aan te dring dat stemme volgens kop – pleks van landgoed – getel moes word. Weereens het die adelstand geweier om sodanige voorwaardes te aanvaar. Voordat enige formele samesprekings selfs ’n aanvang kon neem, blyk die Algemene Landgoed vas te geval het.

Op 26 Mei het ’n gefrustreerde Louis XVI ingegryp en die landgoedere se dadeloosheid veroordeel en daarop aangedring dat hulle vinnig ’n oplossing vind. Maar die dood van die sieklike sewejarige Dauphin op 4 Junie het die koning se aandag weggesleur en sy ministerie effektief lamgelê. Met die koning se aandag afgelei en die adellikes wat geweier het om tot ’n skikking te kom, het die Derde Landgoed dit ernstig begin oorweeg om hulself in ’n nasionale vergadering te herorganiseer, en op hulle eie aan te gaan.

Portrait of Louis XVI of France
Portret van Louis XVI van France
Antoine-François Callet (Public Domain)

Op 11 Junie het Sieyès ’n voorstel tot stemming gebring om die ander landgoedere formeel te nooi om hulle by die Burgerstand te skaar om ’n nasionale vergadering te vorm. Nadat die Burgerstand teen die volgende dag geen reaksie ontvang het nie, het hulle voortgegaan om appèl te hou. Dít was ’n beduidende stap, en een waarna daar geen terugkeer kon wees nie aangesien die Derde Landgoed daardeur nie net die gesag van hulle medelandgoedere misken het nie, maar ook omdat hulle die mag sonder toestemming van die koning in hul eie hande geneem het. Aangesien die Derde Landgoed die enigste landgoed was wat toeskouers toegelaat het, het tyding van hierdie verwikkeling vinnig na Parys en verder versprei.

Op 13 Junie het drie gemeentepriesters hulle orde verlaat en by die Derde Landgoed aangesluit, met nog 16 ander wat in die volgende paar dae hulle voorbeeld gevolg het. Synde hierdie nuwe liggaam uit meer as bloot afgevaardigdes van die Derde Landgoed bestaan het, was daar ’n behoefte aan ’n nuwe naam, en op 17 Junie is daar op die titel “Nasionale Vergadering” besluit. In die opwinding van die oomblik het die Vergadering eenparig ooreengestem dat alle bestaande belasting onwettig was, maar dat dit tydelik goedgekeur sou word totdat daar op ’n nuwe stelsel ooreengekom kon word. Die sterrekundige Jean Sylvain Bailly (1736-1793) is dieselfde dag as president van die Vergadering verkies. Hierdie handelinge was ’n direkte uitdaging aan die koninklike gesag en het op 19 Junie nog dringender geraak toe die Eerste Landgoed formeel gestem het om hulle by die Nasionale Vergadering aan te sluit.

Eed op die tennisbaan

Hierdie verwikkelinge het die koning se ministers die skrik op die lyf gejaag, en hulle het geredekawel wat hulle te doen staan. Necker, wat oortuig was dat versoening met die Derde Landgoed moes geskied, het voorgestel dat Louis XVI ’n koninklike sessie hou om sy gesag te herstel. Die koning het tot hierdie plan ingestem en besluit om die sessie op 23 Junie te hou. Niemand het egter die moeite gedoen om die afgevaardigdes oor die besluit in te lig nie, en toe hulle op 20 Junie hul opwagting by die saal maak waar die sitting veronderstel was om gehou te word, het hulle die saal gesluit en onder bewaking van soldate gevind. Omdat hulle nie oor die koninklike sessie ingelig is nie, het die afgevaardigdes hierdie optrede verkeerdelik as ’n daad van tirannie teenoor hulle vertolk. Die Nasionale Vergadering het geweier om uitmekaar te gaan en het op die koninklike tennisbaan byeengekom waar elke lid ’n eed afgelê het dat hulle nie uiteen sou gaan totdat ’n nuwe konstitusie daargestel kon word nie.

The Tennis Court Oath
Die eed op die tennisbaan
Jacques-Louis David (Public Domain)

Alhoewel Necker hom daarvoor beywer het om die afgevaardigdes gerus te stel dat geen aanstoot bedoel was nie, het vyandigheid reeds die kop uitgesteek. Met die koninklike sessie van 23 Junie het die koning sy mag probeer herstel deur aan te kondig dat al die besluite wat die Vergadering op 17 Junie gemaak het van nul en gener waarde was. Hy het toegegee dat geen toekomstige belasting sonder toestemming van die Algemene Landgoed gehef sou word nie, en dat hy die praktyk van arbitrêre gevangesetting sou beëindig en lyfeienskap sou afskaf. Die koning het ook voorgestel dat die Tweede Landgoed hulle voorregte moes prysgee, alhoewel hy hulle nie gebied het om dit te doen nie.

Alhoewel hierdie beloftes moontlik ’n maand vantevore voldoende sou gewees het om die Derde Landgoed tot bedaring te bring, was dit nou gans te laat. Toe Louis XVI hulle teësinnigheid sien, het hy hulle aan sy mag herinner, en hulle daarop gewys dat niks wat die landgoedere gedoen het, sonder sy goedkeuring geldig was nie; en hy het elke landgoed gelas om na hulle afsonderlike kwartiere terug te keer. Die Derde Landgoed het geweier om hierdie bevel te gehoorsaam en een van die leiers, Honoré-Gabriel Riqueti, comte de Mirabeau, het trots verklaar, “Ons is hier op die aandrang van die volk, en kan slegs met die mag van bajonette gedwing word om te gaan.” (Davidson, 21)

Die bravade van die Derde Landgoed het ’n impak gemaak. Daardie nag het hordes mense by die paleis ingebars en Necker en die afgevaardigdes van die Derde Landgoed toegejuig terwyl hulle diegene getart het wat die Vergadering teengestaan het. Soldate het geen weerstand teen die skares gebied nie en het slegs ingegryp toe twee aartsbiskoppe op die rand was om gehang te word. Die volgende dag het 48 adellikes hulle by die Nasionale Vergadering geskaar. Dit blyk die skrif op die muur te gewees het en op 27 Junie het die koning toegegee en die bittereinders van die Eerste en die Tweede Landgoed beveel om hulle by die Vergadering aan te sluit. Met hierdie bevel was die omvorming van die Algemene Landgoed in die Nasionale Vergadering afgehandel. ’n Nuwe orde het in Frankryk verrys en daarmee saam ’n revolusie.

Nadraai en impak

Die Vergadering het hulle beloftes nagekom en vinnig aan die werk gespring om ’n nuwe konstitusie op te stel maar die koning het nie daarmee vir lief geneem om in die tussentyd net op sy louere te sit nie. Nader aan die einde van Junie en teen die begin van Julie was daar ’n enorme toename in militêre troepe in die Paryse kom, met 30 000 troepe wat teen 1 Julie in die geweste in garnisoen gelê het.

Toe die Vergadering ’n voorstel tot stemming gebring het wat die koning versoek het om die soldate te onttrek, het hy geweier en aangevoer dat hulle net daar was om orde te handhaaf. Terselfdertyd het Louis XVI verskeie van sy ministers afgedank en vervang, en op 11 Julie het hy sy mees verregaande daad gepleeg toe Necker afgedank en beveel is om die land onmiddellik te verlaat. Hierdie faktore, tesame met die stygende broodpryse, het daartoe bygedra dat die Bastille op 14 Julie bestorm is.

Die Algemene Landgoed word deur baie geskiedkundiges as die eerste gebeurtenis van die Franse Revolusie beskou. Tydens die sitting daarvan het die Derde Landgoed gesag van sowel die Kroon as hulle medelandgoedere wederregtelik toegeëien, en hul reg laat geld om wette te maak en ’n nuwe konstitusie te skep. Dit was ’n relatiewe ordelike en vreedsame oorgang van mag – ’n ander soort revolusie van die chaos en bloedvergieting wat binnekort sou volg.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat was die Algemene Landgoed en wie was die lede daarvan?

Die Algemene Landgoed was ’n ontmoeting tussen die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk: die kerklui, adelstand en gewone burgers.

Wat was die rol van die Algemene Landgoed?

Die Algemene Landgoed is tradisioneel oor fiskale beleid geraadpleeg, en het ook petisies en griewe van die landgoedere aan die koning voorgelê.

Wat het tydens die Algemene Landgoed van 1789 gebeur?

Die Algemene Landgoed van 1789 word deur baie geskiedkundiges as die eerste gebeurtenis van die Franse Revolusie beskou. Tydens die sitting daarvan het die Derde Landgoed gesag van sowel die Kroon as hulle medelandgoedere wederregtelik toegeëien, en hul reg laat geld om wette te maak en ’n nuwe konstitusie te skep.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, April 25). Die Algemene Landgoed van 1789 [Estates-General of 1789]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20730/die-algemene-landgoed-van-1789/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Die Algemene Landgoed van 1789." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 25, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20730/die-algemene-landgoed-van-1789/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Die Algemene Landgoed van 1789." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 25 Apr 2022. Web. 15 Apr 2024.