Die Slag van Agincourt

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 02 March 2020
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans
X
Henry V at Agincourt (by Harry Payne, Public Domain)
Henry V by Agincourt
Harry Payne (Public Domain)

Met die Slag van Agincourt op 25 Oktober 1415 het Henry V van Engeland (r. 1413-1422) ’n oorweldigend groter Franse leër tydens die Honderdjarige Oorlog (1337-1453) verslaan. Die Engelse het te danke aan die beter langboog, hulle veldposisie en dissipline geseëvier, terwyl die Franse weens hulle afhanklikheid van swaar kavallerie in ongunstige terrein en die swak dissipline van hulle bevelvoerders die onderspit gedelf het.

Die uitslag van die veldslag het daartoe gelei dat Henry makliker beheer van Normandië kon oorneem, en toe na Parys kon opruk. Voorts het Henry ingevolge die Verdrag van Troyes van 1420 sy doelwit bereik en is hy ryksbestuurder én erfgenaam van die Franse koning Charles VI (r. (1380-1422) benoem. Te danke aan sy seges en ’n bietjie literêre bystand van figure soos William Shakespeare (1564-1616) het Henry ’n blywende nasionale held geraak, en Agincourt bly een van die mees gevierde veldslae in die Engelse geskiedenis wat in kuns, literatuur en liedere herdenk word.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die Honderdjarige Oorlog

Die Honderdjarige Oorlog tussen Engeland en Frankryk het begin toe Edward III van Engeland (r. 1327-1377) probeer het om sy aanspraak op die Franse kroon met mag te konsolideer. Edward se moeder, Isabella, was die dogter van Philip IV van Frankryk (r. 1285-1314) maar geboortereg en diplomasie was nie genoeg gewees om die Franse konings te oortuig om die kroon te oorhandig nie. Toe die oorlog uiteindelik uitgebreek het, het die Engelse nie op hulle laat wag nie: In 1340 het hulle eerstens ’n Franse vloot te Sluys in die Lae Lande vernietig, en dit met twee groot oorwinnings op die slagveld opgevolg, naamlik Crécy in 1346 en Poitiers in 1356. In albei het die vernietigende Engelse langboog ’n hewige Franse getalleoorwig oormeester. By Poitiers kon Edward III se seun, Edward die Swart Prins (1330-1376) daarin slaag om koning John II van Frankryk (r. 1350-1364) gevange te neem. Dit het tot die Verdrag van Brétigny gelei ingevolge waarvan Edward III sy aanspraak op die Franse troon prysgegee het maar waarvolgens hy as die nuwe opperheer van ’n kwart van Frankryk erken is.

DIE TYD WAS GELEË VIR HENRY V OM SY REG AS REGMATIGE KONING VAN FRANKRYK AF TE DWING.

Ná ’n tydperk van vrede vanaf 1360 het die Honderdjarige Oorlog weereens opgevlam soos wat Charles V van Frankryk – ook bekend as Charles die Wyse (r. 1364-1380) – veel vaardiger as sy voorgangers blyk te gewees het soos wat hy die gebied wat die Engelse ingeneem het, begin terugrakel het. Charles het grootskaalse veldslae vermy – wat die Engelse in elk geval nie meer kon bekostig om by betrokke te raak nie – en teen 1375 was Calais en ’n nou strook van Gascogne die enigste grond in Frankryk wat steeds aan die Engelse kroon behoort het. Tydens die bewind van Richard II van Engeland (r. 1377-1399) was daar merendeels vrede tussen die twee nasies maar toe Henry V in 1413 die troon bestyg het, het die oorlog weer in alle erns vlam gevat.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Henry V of England
Henry V van Engeland
Unknown Artist (Public Domain)

Henry V se ambisie

Met Franse seerowers wat amok in die Engelse Kanaal gesaai het en die moontlikheid van grond en buit indien ’n wankelende Frankryk ingeval word, was die meerderheid Engelse baronne en die Parlement gretig vir aksie. Henry het ook die finansiële steun van die Kerk geniet nadat hy in 1414 die Lollard-kettery hokgeslaan het. Die Engelse koning het nog ’n voordeel geniet: Die kranksinnige verval van Charles VI van Frankryk het tot ’n twis onder die Franse adelstand gelei sodat die land in chaotiese faksies verdeel is, hoofsaaklik die Boergondiërs en die Armagnacs. Die tyd was reg vir Henry om sy aanspraak om die regmatige koning van Frankryk te wees met mag af te dwing; beduidend genoeg, het die koninklike familiewapen steeds die drie leeus van Engeland en die fleur-de-lis van Frankryk uitgebeeld. Dit was nou die tyd om daardie aanspraak te verwesenlik.

ALBEI KANTE BY AGINCOURT HET OOR SWAAR KAVALLERIE RIDDERS SOWEL AS INFANTERIE BESKIK; MAAR DIT WAS DIE ENGELSE LANGBOOG WAT WEEREENS DIE DEURSLAGGEWENDE FAKTOR SOU WEES.

Henry het sy bedoeling duidelik ten toon gestel toe hy middel Augustus Normandië binnegeval het met ’n leër van ongeveer 10 000 man wat deur bykans al die baronne van ’n buitengewoon eensgesinde Engeland verskaf is. Henry het sy leër persoonlik aangevoer en is deur sy twee broers, die hertog van Clarence en die hertog van Gloucester, bygestaan. Ná ’n uitmergelende beleg van vyf weke het die Engelse die hawe van Harfleur oorgeneem. Met die winter net om die draai en sy mag reeds uitgedun tot 6 000-7 000 weens die geveg by Harfleur wat langer geduur het as wat verwag is, sowel as ’n verwoestende vlaag disenterie, het Henry besluit om na Engels-besette Calais terug te trek en daar te hergroepeer. Henry het Harfleur op 8 Oktober 1415 verlaat en sy weg kuslangs gebaan totdat hy verplig was om sy leër ver binnelands te lei om die Somme-rivier te kan oorsteek. Die Franse het brûe vernietig, ander onder swaar bewaking geplaas en die platteland afgebrand om die invallers noodsaaklike voorrade te ontneem. Naby Voyennes het Henry op 19 Oktober uiteindelik ’n vlak drif gevind om die rivier oor te steek. Dit was onderweg terug na die noordkus wat ’n groot Franse mag die invallers onderskep het wat toe, ironies genoeg, eintlik besig was om huiswaarts te keer.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Troepe en wapens

Albei kante by Agincourt het infanterie en swaar kavallerie bestaande uit middeleeuse ridders gehad maar dit was die Engelse langboog – steeds die vernietigendste wapen op die middeleeuse slagveld – wat weereens die beslissendste faktor sou wees. Hierdie langboë was 1,5-1,8 m lank gewees en is oor die algemeen van taksishout gemaak en met ’n hennepstring besnaar. Die pyle, wat gepantserde wapenrusting kon deurdring, was ongeveer 83 cm lank en is van essen- en eikehout gemaak om hulle swaarder te maak. ’n Bedrewe boogskutter kon teen ’n tempo van vyftien pyle per minuut skiet, of een elke vier sekondes. Die Franse het wel ’n klein kontingent boogskutters gehad maar het steeds kruisboogskutters verkies wat aansienlik minder opleiding as boogskutters geverg het maar wat slegs een pyl vir elke vyf van die langboog kon skiet. Engelse boogskutters is gewoonlik op die flanke opgestel van waar hulle die vyand se perde makliker kon tref, waarvan gewoonlik net die koppe en borste deur pantser beskerm is.

Knights in Armour, 15th century CE
Ridders in wapenrusting, 15de eeu
Brad (CC BY)

Ten opsigte van die kavallerie by Agincourt het die beter toegeruste krygsmanne (wat die rang van ridder kon beklee het, maar nie noodwendig nie) plaatwapenrusting gedra, of verstewigde materiaal, of leer versterk met metaalstroke. Hulle wapens van voorkeur was die lans, swaard en hellebaard. Krygsmanne kon die veldslag te perd begin en later afklim, of reg van die begin af te voet geveg het. Gewone infanterie, wat normaalweg in reserwe gehou is totdat die kavallerie of onberede ridders slaags geraak het, het min pantserdrag, indien enigsins, gehad en was toegerus met wapens soos pieke, lanse, byle en gemodifiseerde landbougereedskap. Daar was ’n paar kanonne by Agincourt wat toe nog ’n relatief nuwe en onbetroubare wapen was. Die Engelse het niks gehad nie (al het hulle wel kanonne tydens die beleg van Harfleur gebruik het) terwyl die Franse waarskynlik slegs ’n paar kleineres gehad het wat met die hand vasgehou is.

Vergeleke met Crécy en Poitiers was daar by Agincourt ’n aansienlik groter verhouding boogskutters in die Engelse leër – ten minste drie boogskutters vir elke krygsman. Bekende boogskutterkompanies, elkeen ongeveer 500 man sterk, was afkomstig uit Lancashire, Cheshire en Wallis. By Agincourt is hierdie uiters belangrike boogskutters deur die hoogs ervare sir Thomas Erpingham (geb. 1357)aangevoer. Daar moet ook kennis geneem word dat die hoë verhouding boogskutters nie bloot ’n kwessie van Henry se keuse in wapens was nie. ’n Boogskutter se daaglikse loon was slegs die helfte van dié van ander krygsmanne, en Henry het slegs genoeg kontant vir ’n paar maande se geveg in die veld gehad; hy het gehoop dat buit die tekort sal dek en hom in staat sou stel om sy veldtog te verleng.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die veldslag

Henry was slegs 28 jaar oud maar tydens die bewind van sy vader, Henry IV (r. 1399-1413), het hy homself in die eerste dekade van die 1400’s reeds as ’n bekwame militêre leier in veldslae teen Engelse en Walliese rebelle onderskei. Die koning was nou gereed vir sy grootste toets maar die Franse het nie op hulle louere gesit sedert Henry voet aan wal in Normandië gesit het nie. Die Konstabel van Frankryk, Charles d’Albret, het ’n leër van ongeveer 20 000 man (sommige geskiedkundiges voer aan die getal was selfs so hoog as 36 000) gemonster om die vyandelike leër van 6 000-7 000 man (of 9 000, indien die hoër syfer aanvaar word) die stryd aan te sê. Die ervare D’Albret en Boucicault, Maarskalk van Frankryk, was dit eens dat die beste strategie sou wees om die vyand te omsingel en deur uithongering tot oorgawe te dwing. Voorrade was inderdaad Henry se grootse probleem. Maar in die hoop om die Engelse eenvoudig met ’n getalleoorwig te oorweldig, het die jonger en voortvarende Franse edelliede egter vir D’Albret en Boucicault oorstem en gekies vir ’n veel gevaarliker frontaanval. Die twee leërs het op Sint Crispin Dag, 25 Oktober 1415, naby die dorpie Agincourt (Frans: Azincourt), ongeveer 75 km suid van Calais, teen mekaar te staan gekom. Die weergawes van vier ooggetuies – twee van elke kant – het behoue gebly, wat beteken dat besonderhede van Agincourt beter bekend as by die meeste ander middeleeuse veldslae is.

Agincourt Battle Lines
Agincourt-slagordes
Andrei Nacu (Public Domain)

Soos wat die geval by die twee groot veldslae was wat die Engelse voorheen tydens die Honderdjarige Oorlog by Crécy en Poitiers gewen het, het die Franse die noodlottige fout gemaak om die invallers toe te laat om hulle eie verdedigingstelling te kies. Hierdie fout was moontlik omdat die Franse bevelvoerders die grootte van die Engelse leër onderskat het. Henry het sy troepe opgestel in ’n natuurlike laagte met beskermende woude op die flanke. Die Franse is dus genoop om in ’n beperkte area aan te val; weshalwe het Henry reeds hulle oorweldigende numeriese voordeel in ’n mate geneutraliseer. Die Engelse troepe is opgestel met boogskutters in die voorste geledere en op albei flanke, en beskerm deur 1,8 m-lange skerpgemaakte pale wat teen ’n hoek in die grond ingedryf is.

Die Franse gevegsplan, in ’n dokument ontdek wat tot vandag behoue gebly het, was blykbaar om boogskutters en kruisboogskutters effens voor en aan die kant van die hoofmag te hê wat bestaan het uit krygsmanne in die middel, en gewone infanterie aan elke kant. Die twee groot flanke bestaande uit swaar kavallerie en ondersteuningstroepe moes by die hoofmag van die Franse leër aansluit en voorwaarts opruk, met een flank wat die regterflank van die vyand aanval, en die ander een wat die Engelse van agter af aanval. Maar soos wat so dikwels in oorlogvoering die geval is, het die plan nie eers naby daaraan gekom om met die werklike verwikkelinge van die dag ooreen te stem nie.

Verwyder Advertensies
Advertisement

In sy toneelstuk Henry V (1599) verleen William Shakespeare op verbeeldingryke wyse hierdie treffende reëls aan die koning om sy leër op te sweep kort voordat die geveg aangeknoop word:

En vanaf hierdie dag tot wêreldseind

sal Crispin Crispian nooit passeer

sonder dat ons daarmee onthou sal word,

ons handjievol, ons gelukkiges, ons broederleër.

Want hy wat vandag sy bloed saam my stort

sal my broeder wees; dog nooit so laag,

sy stand hierdie dag verhef.

En edelhere in Engeland nou in hul bed

sal hulself vervloek beskou dat hulle hier nie was,

en hul manlikheid gering ag terwyl enigeen praat

wat saam ons geveg het op Sint Crispin Dag.

(Bedryf 4, toneel 3)

Die slagveld was in ’n betreurenswaardige toestand vir perde, met die onlangs geploegde lande en oornagse reën wat die area in ’n see modder vir albei kante omskep het. Die Engelse se wapenrusting was ligter as dié van hulle Franse eweknieë, en in hierdie gevegskondisies blyk dit baie voordelig te gewees het. Die Franse was nie so gretig om die noute te betree waar Henry sy troepe opgestel het nie, sodat hy hulle ’n bietjie vorentoe laat beweeg het, na ’n effens meer blootgestelde posisie, om die vyand uit te lok om te stormjaag. Volgens beskrywings het die boogskutters hulle skerpgemaakte pale met hulle saamgeneem.

Die Franse boogskutters en kruisboogskutters het hulle eerste salvo’s geskiet, waarna die kavallerie gestorm het; maar hierdie eenhede se getalle was uitgedun aangesien baie adellikes die linies tydens die lang oponthoud voor die aanvang van die geveg verlaat het. Boonop kon die twee kavallerievleuels nie die Engelse van die flank of van agter aanval nie aangesien albei kante nou deur bome beskerm was. Van die ridders wat wel aangeval het, is baie uit die saal gelig deur die kragtige Engelse pyle waarmee hulle vanuit talle oorde bestook is; of hulle wapenrusting is daardeur deurboor. Die Franse aanval is teruggedryf teen hulle eie infanterie wat vorentoe opgeruk het terwyl ’n tweede golf kavallerie ná die eerste een gevolg het, hoofsaaklik aan die flanke om sodoende hulle eie troepe te vermy.

Met die deurgang van soveel perde en manne is die terrein welhaas in ’n moddermoeras omskep, terwyl liggame opgehoop het om die noute nog verder te blokkeer. Tydens die volgende fase van die veldslag het krygsmanne aan albei kante te voet slaags geraak, met die Engelse boogskutters wat nou hulle swaarde, byle en slaghamers gebruik het soos wat die slagveld nog meer deur modder belemmer is, en chaos gedy het. Daar was nou so baie lyke en gewondes dat die kans goed was dat indien ’n ridder in wapenrusting daar geval het, hy in die massa wriemelende mense en perde sou versmoor het. Teen hierdie tyd het die meeste van die derde en agterste Franse eenhede die slagveld verlaat. Ondanks alles het Henry V sy manne na ’n brutale oorwinning aangevoer.

Die Franse verliese was verbysterend: ongeveer 7 000 man (weereens, hoër skattings reken tot soveel as 13 000). Aan die Engelse kant het moontlik 500 gesneuwel (of minder as 1 000, in elk geval, volgens sommige geskiedkundiges). Een rede vir die hoë sterftesyfer onder die Franse was omdat Henry naby die einde van die veldslag beveel het dat die gevangenes tereggestel word nadat hy tyding ontvang het van ’n vyandelike kontingent wat die Engelse leërtros agteraan aangeval het, en dat ’n gedeelte van die derde strydmag Franse troepe steeds gewillig blyk te gewees het om aan te hou veg. Die koning het moontlik gevrees dat die geveg opnuut kon begin, en derhalwe wou hy nie hê dat sy manne lastig geval moes word deur gevangenes wat self die geveg weer kon opneem nie. Die gevolg was ’n koudbloedige slagting waarvoor Franse geskiedkundiges Henry sedertdien nooit vergewe het nie. Dit was beslis ’n beskamende voorbeeld van hoe die reëls van middeleeuse galanterie nie altyd in die hitte van die stryd nagekom is nie.

Treaty of Troyes, 1420 CE
Verdrag van Troyes, 1420
French National Archives (Public Domain)

Onder die gevallenes by Agincourt was die meeste van die Franse adelstand, onder meer drie hertoë, ses grawe, 90 baronne, die Konstabel van Frankryk, die Admiraal van Frankryk en byna 2 000 ridders. Die uitdunning van die Franse adelstand het beteken dat daar beperkte weerstand teen Henry se volgende skuiwe sou wees ten opsigte van groot leërs wat op die slagveld slaags raak. Die koning het sy troepe weereens van vooraf gelei en oorwin, al is hy ’n harde hou teen sy helm toegedien (wat nou oor sy graftombe in Westminster Abdy hang) en sy goue gevegskroon vermorsel is. Daar was ook ’n paar vername Engelse ongevalle in die veldslag, soos Edward Plantagenet, 2de hertog van York wat die Engelse voordekking dapper aangevoer het, en die jong Michael de la Pole, graaf van Suffolk.

Nadraai

Die oorwinning by Agincourt het van Henry ’n nasionale held gemaak in ’n land wat nou eers soos een nasie begin voel het. Toe hy in November 1415 na Londen teruggekeer het, was die manjifieke verwelkomingsprosessie getuie van die koning se heldestatus. Die prosessie het Henry as ’n werklik groot Engelse monarg besing, en het kore, meisies met tamboeryne en baniere wat hom as die koning van Frankryk verklaar, ingesluit. Die deurtog deur die hoofstad het honderde gevange Franse adellikes ingesluit wat toe nog die bykomende eentonige verleentheid van ’n dankseggingsdiens in St. Paulus Katedraal moes deurmaak. Die roemrykste gevangene was Charles, hertog van Orléans, nefie van Charles VI, wat uiteindelik in die Londense Toring opgesluit is vir die begin van sy 25 jaar se gevangesetting in Engeland. Ander bekende gevangenes het John, hertog van Bourbon ingesluit; sowel as Charles van Artois, graaf van Eu; Louis, graaf van Vendôme; Arthur, graaf van Richemont, en die maarskalk, Boucicault, wat die Franse voordekking aangevoer het, en wat tot en met sy dood vier jaar later in Yorkshire opgesluit is.

Terwyl die Franse voortaan alle uitdruklike melding van die Slag van Agincourt naarstig vermy het, en daarna slegs as “die vervloekte dag” verwys het, het Henry oor die volgende vyf jaar deur middel van ’n reeks beleëringe Normandië oormeester, en toe na Parys opgeruk. Trouens, die Engelse koning was so suksesvol gewees dat hy as ryksbestuurder, én as erfgenaam van Charles VI benoem is. Die ooreenkoms is in Mei 1420 in die Verdrag van Troyes onderteken en geseël. Om die nuwe bondgenootskap te onderskraag, is Henry op 2 Junie 1420 met Charles se dogter, Catherine van Valois (1401 - ca. 1437) in Troyes Katedraal getroud.

Al die glans van hierdie Engelse trots en vertoon het skielik tot ’n einde gekom toe Henry V in 1422 onverwags gesterf het, waarskynlik weens disenterie. Maar die bordjies was reeds besig om verhang te word en met die opwagting van Jeanne d’Arc (1412-1431) in 1429 het ’n Franse herlewing posgevat soos koning Charles VII van Frankryk (r. 1422-1461) die inisiatief geneem het. Tydens die swak heerskappy van Henry VI van Engeland (r. 1422-61 & 1470-71) is die Engelse finaal oorwin soos wat hulle teen die einde van die oorlog in 1453 alle Franse gebiede buiten Calais verloor het, en daarna het Engeland in die bekrompe dinastiese twiste verval wat ons vandag die Rose-oorlog noem (1455-1487).

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2020, March 02). Die Slag van Agincourt [Battle of Agincourt]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18776/die-slag-van-agincourt/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Agincourt." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 02, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18776/die-slag-van-agincourt/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Agincourt." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 02 Mar 2020. Web. 20 May 2024.