Die Groot Vrees

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 17 May 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans
The Great Fear (by Unknown Artist, Public Domain)
Die Groot Vrees
Unknown Artist (Public Domain)

Die Groot Vrees (Frans: la Grande Peur) was ’n golf paniek wat in laat Julie en vroeg Augustus 1789 die Franse platteland deurtrek het. Uit angs vir komplotte deur aristokrate om die ontluikende Franse Revolusie (1789-1799) te ondermyn, het die kleinboere en stedelinge gemobiliseer en herewonings aangeval. Die onrus het daartoe bygedra dat die Augustus Dekrete goedgekeur is wat feodalisme in Frankryk afgeskaf het.

Die Groot Vrees en die gepaardgaande onluste het omtrent net drie weke geduur, maar het die weg gebaan vir die belangrikste verwikkelinge van die Revolusie. Die Franse historikus Georges Lefebvre doen aan die hand dat van die belangrikste oorsake van die Groot Vrees die ineenstorting van kommunikasie weens onrus in Parys was, asook oplaaiende spanning wat deur die voedseltekort en wydverspreide werkloosheid veroorsaak is, sowel as die vrees van gewelddadige vergelding deur die adelstand en buitelandse magte wat beoog het om die mense te ondermyn. Ander geskiedkundiges het al aangevoer dat die kleinboere se verbruik van moederkoring (ergot), ’n hallusinogeniese fungus, ’n moontlike oorsaak kon gewees het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Honger en wanhoop

Lefebvre (6) begin sy boek The Great Fear of 1789 (1932), wat steeds as die seminale werk oor die onderwerp beskou word, met ’n aanhaling van die Franse kritikus Hippolyte Taine: “Die mense is soos ’n man wat monddiep in ’n dam water loop: Die geringste insinking in die grond, die geringste rimpeling, laat hom sy vastrapplek verloor – hy sink en stik.” Taine se aanhaling illustreer baie goed die onsekere posisie van die Franse laerklasse in die Ancien Régime. Selfs onder die beste omstandighede kon een swak oes ’n ramp vir sowel die boere as die industriële werkers beteken het.

TEEN 1789 HET DIE ARMSTE MENSE TOT 80% VAN HULLE INKOMSTE NET OP BROOD BESTEE.

Sedert die laat 1760’s het oeste al onsekerder geraak, en opbrengste het drasties gefluktueer. Die Laki-uitbarsting in Ysland van 1783 het deels daartoe bygedra dat oeste in Frankryk landwyd al meer verswak het totdat dit in 1788 ’n laagtepunt bereik het toe somerhaelstorms baie gewasse uitgewis het, en die daaropvolgende droogte in Augustus baie van die res vernietig het. Dit het beteken dat broodpryse vir stedelike werkers die hoogte ingeskiet het, en teen 1789 het die armste mense tot 80% van hulle inkomste net vir brood opgedok.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Daar was ook ’n skerp styging in werkloosheid, met 8-11 miljoen mense – ongeveer ’n derde van die bevolking – wat óf werkloos was, óf ander vorms van steun ontbreek het. Frankryk se vinnig groeiende bevolking, wat sedert 1770 met 2-3 miljoen toegeneem het, het verdere druk op hulpbronne geplaas. In een van hulle cahiers of griewe wat vóór die Algemene Landgoed van 1789 saamgestel is, het die dorpelinge van La Caure die bevolkingsprobleem bondig beskryf deur te noem, “ons aantal kinders dompel ons in wanhoop” (Lefebvre, 9). Alhoewel baie mense na die stede gestroom het op soek na werk, was daar ook talle wat hulle tot die platteland gewend het, desperaat om werk op ’n plaas te vind. Maar teen die laat 18de eeu was baie plase van kleinboere nouliks groot genoeg om selfs ’n enkele gesin te onderhou. Weens die gebruik dat grond tydens vererwing gelykop tussen seuns verdeel is, is baie boere met piepklein en dikwels onvrugbare lappies grond gelaat. Dit het daartoe gelei dat baie kleinboere sonder grond werk gaan soek het op groot plaaslandgoedere wat deur die adelstand besit is. Aangesien sulke groot landgoedere slegs tydens die oesseisoen werk kon voorsien, het die arbeiders tydens die res van die jaar in toestande van onophoudelike armoede swaargekry.

Baie van die mense sonder grond en sonder werk wat na die platteland gestroom het, kon nie daarin slaag om werk te kry nie, sodat sommiges genoop is om te begin bedel. Hierdie dakloses het dikwels in groepe rondgeswerf, en vir broodkorsies en ’n slaapplek vir die nag gevra. Alhoewel sommige boere hierdie swerwers simpatiek gesind was, het baie ander hulle met agterdog, of eenvoudig vrees, bejeën. Gerugte het die ronde begin doen dat bendes deugniete heinings platgeslaan of boere se vrugtebome aan die brand gesteek het nadat hulle hulp geweier is, terwyl ander rondlopers na bewering deur koringlande geswerm en onryp koringgerwe afgesny het en sodoende nog ’n jaar se oes in gevaar gestel het. Sommige boere het aan nabygeleë dorpe geskryf en versoek dat soldate gestuur word om die lande te beskerm, terwyl ander die kerk geblameer het omdat daar nie na die behoeftiges omgesien is met die geld wat van tiendes ingevorder is nie.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Alms to the Poor
Aalmoese aan die armes
Martin Drolling (Public Domain)

Soutsmokkelaars het die chaos op die platteland uitgebuit deur van plaas tot plaas te reis, en boere geïntimideer en geterroriseer om hulle sluikgoedere te koop. Hierdie smokkelaars is dikwels gevolg deur die gabelous, die gehate belastinggaarders wat deur die Franse regering gekontrakteer was. Die gabelous was dikwels self nie veel beter as skurke nie, en het soms boere wat daarvan verdink is dat hulle swartmarksout gekoop het, gekarnuffel en beroof, en hulle selfs in die tronk laat stop. Soos wat dorpe intussen in die wanorde van broodrelle ontaard het, het dorpenaars hulle ook tot die plase gewend waar hulle die boere gedwing het om goedere aan hulle te verkoop.

Die lamlegging van koninklike gesag ná die opkoms van die Nasionale Vergadering en die bestorming van die Bastille het beteken dat boere nie op die polisie of soldate kon staatmaak nie. In die lente en somer van 1789 het baie boere hulself begin bewapen en na elkander begin kyk vir beskerming. Teen Julie het die boere kragte saamgesnoer om hulle dorpies te beskerm, met sommiges wat selfs weke lank by paaie of brûe op wag gestaan het. Baie van die rapportering van geweld het egter bloot uit gerugte gespruit. Soos wat betroubare nuus uit Parys weens die revolusionêre opwinding daar al minder gereeld ontvang is, het gerugte op die platteland toegeneem; een so ’n storie het verhaal hoe die inwoners van Lyon honderde struikrowers, onder meer Savoyard-roofbendes en ontsnapte galeislawe, moes afweer. Nog ’n storie het gelei dat ’n Britse eskader oorlogskepe in die Kanaal rondgedwaal het in afwagting van struikrowers om die hawestad Le Havre binne te val en die hekke vir hulle oop te gooi. Soos wat hierdie gerugte die spanning laat oplaai het, het baie mense gesoek vir ’n meer tasbare vyand wat hulle kon blameer, en so ’n vyand in die kerklui en aristokrasie gevind.

Sameswerings en misnoegdes

Mense in Frankryk het lank reeds landwyd aantygings teen die bevoorregte klasse gemaak dat hulle teen die laerklasse saamgesweer het. Die samesweringsteorie wat as die Pacte de Famine bekend gestaan het en tot so ver as die Meeloorlog – ’n groot opstand oor brood wat in 1775 deur die omstreke van Parys geswiep het – het nou begin veld wen. Ondersteuners van hierdie teorie was daarvan oortuig dat die swak oeste en voedseltekorte wat Frankryk geteister het, deur die adelstand georkestreer is ten einde die mense makliker te onderwerp en te beheer. Na bewering het hulle dit vermag deur kos in hulle kloosters en in hulle landheerlike kastele op te gaar. Of koning Louis XVI (r. 1774-1792) by die sameswering betrokke was al dan nie was ’n punt waaroor daar verdeeldheid was: Sommige mense het geglo dat hy ’n ruimhartige koning was wat deur sy agterbakse ministers bedrieg en mislei is, terwyl ander gereken het hy was die meesterbrein agter die hele komplot.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Bewyse van een of ander soort komplot deur die hoërklasse blyk in die vroeë somer van 1789 kop uit te gesteek het soos wat die verrigtinge van die Algemene Landgoed in die guns van die Derde Landgoed, wat op 17 Junie ’n Nasionale Vergadering geproklameer het, begin draai het. Teen 1 Julie het die koning 30 000 soldate, waarvan baie buitelanders was, na die omstreke van Parys ontbied, en op die 11de het hy sy hoofminister, Jacques Necker – deur baie as een van die belangrikste kampvegters van die mense beskou – ontslaan. Hierdie handelinge het soos teenrevolusionêre maatreëls voorgekom, geneem om die Nasionale Vergadering te fnuik, en die Revolusie in die kiem te smoor. Onluste in Parys het op 14 Julie tot die bestorming van die Bastille gelei en hoewel die koning die troepe onttrek en Necker weer aangestel het, was die sade van wantroue gesaai.

The Storming of the Bastille
Die bestorming van die Bastille
Jean-Pierre Houël (Public Domain)

Op 16 Julie het die Comte d’Artois, die koning se jongste broer en een van die mees uitgesproke teenstanders van die Revolusie, met ’n groot gevolg familielede en ondersteuners uit Versailles gevlug. Dit was onbekend waarheen hy gegaan het; sommige mense het geglo dat hy na Spanje gevlug het, ander was oortuig na Turin. Maar dit is alom geglo dat Artois aanstons in bevel van ’n groot buitelandse leër na Frankryk sal terugkeer. Daar was op stuk van sake geen gebrek aan vyande van die Revolusie wat sou skroom om hom van een te voorsien nie. Die koninkryke Spanje, Napels en Sicilië is almal deur die Bourbons beheer, terwyl die Heilige Romeinse Keiser die broer van koningin Marie Antoinette (1755-1793) was.

Reg oor Frankryk het dorpe hulself begin bewapen deur defensiewe milisies op te roep, en hulle daartoe verbind om die Nasionale Vergadering teen enige bedreiging, uitheems of inheems, te verdedig. In Montpellier is elke man van gevegsouderdom buiten priesters en monnike gelas om hulle voor te berei om die wapen op te neem, terwyl die dorpie Orgelet in die Jura aan Versailles geskryf het en beloof het om “hulle vrede, hulle besittings, alles tot en met die laaste druppel bloed op te offer” (Lefebvre, 81) ten einde die Vergadering te verdedig.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Ná Artois se vlugtog het die woede teen die adelstand net toegeneem. Op 16 Julie het inwoners van Le Havre verhoed dat besendings graan en meel na Parys versend word, uit vrees dat dit gebruik sal word om koninklike troepe te voed. Op dieselfde dag het ’n burgermilisie in Dijon die château en arsenale oorgeneem, die militêre goewerneur opgesluit, en alle adellikes en kerklui tot hulle wonings beperk. Lede van die ministerie wat bedoel was om Necker se regering te vervang, is lastig geval, toegesluit of in sommige gevalle wreedaardig vermoor: In Parys is gras in die mond van een minister, Foulon, se afgekapte kop gestop om te dui op sy vermeende betrokkenheid by die hongersnoodkomplot.

Soos wat paranoia in baie dorpe posgevat het, het dit verpligtend geraak om die kokarde van die Revolusie te dra, met dié nieadellikes wat as vyandelik tot die saak van die mense beskou is, wat verbied is om dit te dra. Om en by hierdie tyd het dit algemeen geraak om vir ’n nuwe persoon wat iemand ontmoet het, te vra, “Is jy vir die Derde Landgoed?” (Lefebvre, 88) Alhoewel die Groot Vrees in die Franse dorpe veld gewen het, was dit op die platteland, waar die teiken nie individuele adellikes nie, maar eerder die feodale stelsel self was, waar dit ’n hoogtepunt bereik het.

Paniek en opstand

Kleinboere op die platteland, reeds kriewelrig vanweë die gerugte van gewelddadige struikrowers, het die gebeure in Parys fyn dopgehou. Die gebeure van 14 Julie en die daaropvolgende bewapening van dorpsgemeenskappe het net hulle vermoede bevestig dat daar inderdaad ’n sameswering deur die aristokrasie teen hulle was. En baie van hierdie kleinboere het selfs meer rede as die dorpenaars gehad om te glo dat hulle in gevaar verkeer het. As boere het baie van hulle feodale gelde aan plaaslike landhere, of seigneurs, betaal en het hulle die aard van hul landheer goed genoeg geken om te weet dat hulle nooit hul voorregte sonder meer sou prysgee nie. Voorts het dié kleinboere met ’n kennis van geskiedenis begryp dat die meeste vorige opstande teen feodale landhere in bloedvergieting ontaard het. Dit was met hierdie standpunt wat die kleinboere besef het dat hulle in gevaar verkeer het toe die Algemene Landgoed byeengeroep is.

BENDES GEWAPENDE KLEINBOERE HET LEENHEERLIKE LANDGOEDERE BINNEGEDRING, EN BY SKURE INGEBREEK EN OP GOEDERE BESLAG GELÊ WAT HULLE AS LANDHEERLIKE GELDE BETAAL HET.

Derhalwe was dit bloot natuurlik dat hulle hul woede na die landhere sou keer wat selfs tydens hierdie tydperk van hongersnood en finansiële moeilikheid “immer hul bloed aan’t uitsuig was” (Furet, 75). Die kantelpunt is op 19 Julie bereik, toe ’n ontploffing die Château de Quincey, tuiste van een van die meer gehate landhere in die Franche-Comté-streek, vernietig het, en vyf mense gedood en verskeie ander beseer het. Alhoewel die ontploffing waarskynlik ’n ongeluk was wat deur ’n besope dineegas veroorsaak is wat met ’n brandende fakkel te naby aan ’n kruitvat gesteier het, het dit die kleinboere nietemin verskrik wat oortuig was dat die adellikes dit as verskoning sou gebruik om op hulle toe te slaan.

Onmiddellik ná die ontploffing te Quincey het die kleinboere van Franche-Comté in opstand gekom. Bendes gewapende kleinboere het leenheerlike landgoedere binnegedring, en by skure ingebreek en op goedere beslag gelê wat hulle vroeër as landheerlike gelde betaal het. Argiewe wat rekords van feodale verpligtinge bevat het, is geplunder en in ligte laaie gelaat, en ander simbole van feodalisme soos wynperse en meule wat deur adellikes besit is, is ook aangeval. In sommige gevalle is die châteaux self binnegedring en geplunder. Indien die plaaslike landheer tydens die aanval tuis was, is hy moontlik deur die kleinboere bygedam wat hom sou dwing om van sy feodale voorregte afstand te doen. Abdye en kloosters is ook geplunder op soek na opgegaarde ware, en hele gemeentes het saamgestaan en geweier om hulle tiendes te betaal.

Die Franche-Comté-opstande is uiteindelik deur afdelings kavallerie onder beheer gekry maar die Groot Vrees het reeds veroorsaak dat soortgelyke opstande landwyd uitgebreek het, vernaamlik in die streke Hainault, Alsace, Normandië en die Mâconnais. In die laaste weke van Julie 1789 het bendes kleinboere adellikes geteister en hulle landgoedere geplunder. Koetse is in riviere gestoot en adellikes is versondig, verneder en in sommige gevalle te lyf gegaan. Ten spyte hiervan is die algemene konsensus dat die plattelandse opstande tydens die Groot Vrees relatief onbloedig was, en dat moorde maar seldsaam gepleeg is. ’n Paar châteaux is tot op die grond afgebrand, soos wat die geval was met ’n landgoed wat deur die Talleyrand-familie besit is, maar ook sulke gevalle was raar.

Baie van die kleinboere het daarop aanspraak gemaak dat hulle namens die koning – wat onlangs ’n Revolusie-kokarde in ontvangs geneem het, en deur sommige mense as gunstig tot die Revolusie beskou is – opgetree het. In die Mâconnais het ’n beampte beweer dat hy ’n brief in die koning se naam gesien het wat alle mense in die land gemagtig het om die châteaux in die Mâconnais te betree om hul eiendomsbewyse op te eis, en indien hulle geweier word, dat hulle mag buit, afbrand en plunder; hulle sou nie gestraf word nie (Lefebvre, 96). Op 21 Julie het inwoners van Strasbourg en Cherbourg geweier om die markprys vir brood te betaal, en aangevoer dat die koning bedoel het dat daar in gelyke maat vir al sy onderdane voorsiening gemaak moes word. Net soos wat leenheerlike landgoedere in die platteland beroof is, is ook die dorpshuise aangeval van diegene wat na bewering die wil van die koning probeer dwarsboom het.

Soos wat die naam te kenne gee, was die Groot Vrees ’n tydperk van massahisterie. Aangesien die chaos van die Revolusie tot kommunikasiegapings gelei het, was dit moeilik om te peil watter nuus waar en watter nuus vals was. Gerugte het die ronde gedoen van Britse en Duitse huursoldate wat die platteland aan die brand gesteek het, terwyl getuies gesweer het dat hulle Artois van Spanje af in bevel van ’n leër van 50 000 man gesien terugkeer het. Die rowers wat kwansuis die verwoesting gesaai het, was glo agente wat deur die Britse premier William die Jongere betaal is, terwyl die Engelse reisiger Arthur Young deur Fransmanne – wat hy geglo het “andersins heel intelligent” was – vertel is dat koningin Marie Antoinette beplan het om die koning te vergiftig en hom te vervang met Artois, wat volgens hoorsê haar minnaar was (Schama, 436).

The Comte d'Artois, Later Charles X of France
Die Comte d’Artois, later Charles X van Frankryk
Henri-Pierre Danloux (Public Domain)

Die gesig van rook wat deur die kleinboere se strooptogte op adellikes se eiendomme veroorsaak is, het ander kleinboere oortuig dat hulle deur rowers aangeval word, sodat reedsbestaande vrese nog verder aangevul is. Die vakkundige Simon Schama (432) vertel ’n staaltjie van nie minder nie as 3 000 mans in suidelike Champagne wat hulself bewapen het om ’n bende rowers te verdryf, net om by nader ondersoek te ontdek dat wat hulle van ’n afstand af as gevaarlike booswigte beskou het, niks meer as ’n trop beeste was nie.

Einde van die Groot Vrees, en nalatenskap

Teen die begin van Augustus het die Nasionale Vergadering besluit dat dit nie in hulle beste belang was dat bendes paniekbevange kleinboere die platteland deurswerf nie. Om die vrede in die provinsies te herstel, het die Vicomte de Noailles die radikale idee aan die hand gedoen dat die voorregte van die adellikes afgeskaf moes word. Hierdie idee het daartoe gelei dat die Augustus Dekrete op die aand van 4 Augustus aanvaar is, waarmee feodalisme in Frankryk weggedoen is, en die Gallikaanse Kerk se reg om tiendes in te vorder, opgehef is. Die Augustus Dekrete was monumentaal en, tesame met die Verklaring van die regte van mense en burgers (Declaration of the Rights of Man and of the Citizen) wat kort daarna gevolg het, was dit van die belangrikste prestasies van die hele Revolusie. Die dekrete het blykbaar ook die platteland tot bedaring gebring: So skielik as wat die Groot Vrees begin het, het dit teen 6 Augustus weggesterf.

Alhoewel die meeste kleinboere wat aan die opstande deelgeneem het huiswaarts teruggekeer het, is baie óf tydens die oproerigheid, óf op een of ander tydstip kort daarna gearresteer. In die meeste plekke waar die opstande spontaan doodgeloop het, is net ’n paar mense gevonnis. Maar in gebiede soos Alsace, Hainault en Franche-Comté, waar die onluste deur militêre mag beëindig is, is baie kleinboere gehang of gevonnis om diens as galeislawe te doen.

Die Groot Vrees was op die ou einde van die dag ’n raaiselagtige oomblik in die geskiedenis van die Franse Revolusie waarvan die vreemde aard geskiedkundiges al geruime tyd verbyster. Alhoewel opstande van kleinboere nouliks ’n unieke verskynsel was, was die Groot Vrees uitsonderlik weens die omvang en die kortstondigheid daarvan; die oproerigheid het skaars drie weke geduur, maar het groot dele van Franse dorpe en die platteland behels. Dit het feitlik geheel en al berus op gerugte of oordrewe stories, sodat bendes swerwende bedelaars in nood, in skrikaanjaende rowers in die diens van buitelandse moondhede omskep is. Indien sodanige groepe buiters wel bestaan het, was hulle beslis nie baie groot of soveel van ’n bedreiging om die paniek te regverdig wat ingetree het nie; en tog het die paniek wat deur ’n merendeels verbeelde bedreiging veroorsaak is, tot die afskaffing van een van die oudste instellings in Frankryk gelei.

Die saad van wantroue wat deur die Groot Vrees gesaai is, het baie langer as die gebeurtenis self geduur. Weens die vernietiging van hulle voorregte het sommige adellikes en kerklui nog meer verbitterd teenoor die Revolusie geraak. En intussen, alhoewel die onrus op die platteland beëindig is, het die algemene vrees gebly. Honger was steeds heersend, en die bedreiging van buitelandse inmenging by die Revolusie het immer oor die land gehang. Laasgenoemde vrese is natuurlik later bewaarheid toe Frankryk, met die verloop van die Franse Revolusie-oorloë (1792-1802), met die meeste van die res van Europa in oorlog verkeer het.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat was die Groot Vrees van 1789?

Die Groot Vrees van 1789 was ’n tydperk van onrus aan die begin van die Franse Revolusie in die Franse dorpe en platteland wat ongeveer drie weke in Julie en Augustus geduur het.

Wat het tydens die Groot Vrees van 1789 gebeur?

Tydens die Groot Vrees van 1789 het Franse kleinboere die huise van feodale landhere aangeval en hulle gedwing om van hulle feodale voorregte afstand te doen.

Van watter belang was die Groot Vrees van 1789?

Die Groot Vrees was gewigtig omdat dit tot die Augustus Dekrete – wat met feodalisme in Frankryk weggedoen het – sowel as die “Verklaring van die regte van mense en burgers” gelei het. Dit was twee van die belangrikste prestasies van die Franse Revolusie.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, May 17). Die Groot Vrees [Great Fear]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20800/die-groot-vrees/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Die Groot Vrees." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 17, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20800/die-groot-vrees/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Die Groot Vrees." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 17 May 2022. Web. 23 Apr 2024.