Opstand van die Hooggeregshowe

Definisie

Harrison W. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 14 April 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Spaans, Frans
Paris Parlement Session in 1787 (by J. Niquet, CC BY-SA)
Sessie van die Paryse Hooggeregshof, 1787
J. Niquet (CC BY-SA)

Die Opstand van die Hooggeregshowe van 1787-1788 was die hoogtepunt van ’n magstryd tussen die koninklike gesag van koning Louis XVI van Frankryk (r. 1774-1792) en die Paryse Hooggeregshof, die invloedrykste van Frankryk se dertien hooggeregshowe, oftewel parlements. Die hooggeregshof se verset teen die koning se finansiële hervormings het die koning gedwing om ’n vergadering van die Algemene Landgoed te belê.

Frankryk se finansiële krisis, gewortel in dekades se oordadige besteding sowel as ’n onsamehangende belastingstelsel, het die koning genoop om in 1787 hom tot die hooggeregshowe te wend met sy hervormings aangesien hulle op die gesag aanspraak gemaak het om enige koninklike edik te kon registreer. Hierdie howe, met ’n geskiedenis van weerstand teen die Franse monargie wat tot en met die Fronde Opstand (1648-1653) teruggedateer het, het egter kapsie gemaak en aangevoer dat slegs ’n Algemene Landgoed sodanige maatreëls kon goedkeur. Die magtwis wat hierdeur ontketen is, het ’n stryd teen die beginsel van absolutisme geword wat plaasgevind het terwyl Franse finansies, wat reeds ’n kritieke punt bereik het, al hoe meer verswak het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Opstand van die Hooggeregshowe, oftewel parlements, was ’n belangrike botsing tussen die koning en die landgoedere van Frankryk in die aanloop tot die Franse Revolusie (1789-1799). Aangesien die belangrikste van die koning se hervormings nooit verwesenlik is nie, het Frankryk bankrot gespeel sodat die vergadering van die Algemene Landgoed in 1789, sowel as die aanvang van die Franse Revolusie, bespoedig is.

Agtergrond: mag van die hooggeregshowe

Frankryk se 13 hooggeregshowe was die hoogste geregshowe in die koninkryk, waarvan die gesag net ondergeskik aan die koning self was. Hulle het ruim in grootte van jurisdiksie verskil, met die grootste en invloedrykste – die Paryse Hooggeregshof – wat bevoegdheid oor ’n derde van die koninkryk geniet het. Die regters van die hooggeregshowe, waarvan daar minstens 12 aan ’n hof was, was meestal aristokraties alhoewel ’n beduidende deel ryk bourgeoisie was wat hulle amp gekoop en in die proses veredel geraak het. Hierdie ondergroep administratiewe aristokrate het as die “toga-adel” begin bekend staan. Ten spyte daarvan dat die hooggeregshowe merendeels uit lede van die Tweede Landgoed bestaan het, het hulle daarop aanspraak gemaak dat hulle in die afwesigheid van ’n Algemene Landgoed al drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk verteenwoordig het. Aangesien die Algemene Landgoed – ’n verteenwoordigende liggaam bestaande uit al drie landgoedere wat na willekeur deur die koning byeengeroep kon word – nie sedert 1614 vergader het nie, het die hooggeregshowe die gesag daarvan as hulle eie aanvaar.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE HOOGGEREGSHOWE HET OP DIE REG AANSPRAAK GEMAAK OM ENIGE NUWE WETTE OF EDIK WAT DIE KONING WOU GOEDKEUR, ONDER DIE LOEP TE NEEM, EN HET SODOENDE DIE GESAG BEHOU OM ENIGE EDIK AF TE KEUR.

Die hooggeregshowe het die koning se gesag in toom gehou en hulle eie gesag by wyse van hulle mag op registrasie uitgeoefen. Alhoewel hulle oor geen wetgewende magte van hulle eie beskik het nie, het die hooggeregshowe daarop aanspraak gemaak om enige nuwe wette of edik wat die koning wou goedkeur, nougeset onder die loep te neem of te registreer, sodat hulle die gesag behou het om enige edik wat hulle nie geval het nie, af te keur. Wanneer die hooggeregshowe geweier het om ’n edik te registreer, het hulle ’n remonstransie, of geskrewe verduideliking, van hulle besware teen die beleid gepubliseer. As absolutistiese monarg het die koning die reg behou om sy edikte sonder toestemming van die hooggeregshowe te registreer. Hy kon dit doen deur ’n lit de justice uit te reik wat vereis het dat hy ’n hooggeregshofsessie bywoon waartydens hy ’n registrasie kon afdwing.

Soos wat die hooggeregshowe se mag toegeneem het, het hulle die wettigheid van die lits de justice begin bevraagteken en soms sulke gedwonge registrasies onwettig verklaar, in welke geval die hooggeregshof tydelik op las van ’n lettre de cachet – ’n bevelskrif wat verseker het dat die koning se wens uitgevoer word – uit hulle magsetel onthef is. Teen die tyd van Louis XVI is die wettigheid van sowel die lits de justice as die lettres de cachet ruim bevraagteken.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Sedert die mislukte Fronde Opstand teen Louis XIV (r. 1643-1715) het die hooggeregshowe ’n lang tradisie van verset teen die koninklike gesag, veral ten opsigte van fiskale aangeleenthede, gehandhaaf. Tydens die laaste jare van Louis XV (r. 1715-1774) se bewind was dit vir hulle so maklik om koninklike edikte te blokkeer dat die koning nouliks iets gedoen kon kry. Met sy kanselier René de Maupeou aan die spits daarvan, het Louis XV se regering die Paryse Hooggeregshof in 1771 ontbind en daarvan werk gemaak om ’n hele nuwe stelsel hooggeregshowe te skep wat meer inskiklik teenoor sy politieke agenda sou wees. Al hierdie werk is egter ongedaan gemaak toe ’n jong en ontvanklike Louis XVI die troon in 1774 bestyg het, en Maupeou afgedank en die mag van die hooggeregshowe heringestel het – ’n besluit wat hy ongetwyfeld later sou berou.

A Lit de Justice at the Parlement of Paris, 1715
’n Lit de Justice by die Paryse Hooggeregshof, 1715
Louis-Michel Dumesnil (Public Domain)

Loménie de Brienne vs. die “leeus van die hooggeregshof”

Soos wat die koninkryk van Frankryk op die rand van algehele bankrotskap gewankel het, het Charles Alexandre de Calonne, Louis XVI se nuutste kontroleur-generaal, met ’n lys finansiële hervormings vorendag gekom wat hy gehoop het die tesourie kon red. Dit was rondom ’n grondwaardebelasting gesentreer wat op elke grondeienaar in Frankryk van toepassing sou wees en daarmee was Calonne voornemens dat sy hervormings die belastingvrygestelde voorregte van die twee hoërlandgoedere (die kerklui en die adel) moes omseil. Maar eerder as om sy voorgestelde edikte direk aan die hooggeregshowe – berug vir hulle wederstrewigheid – voor te lê, het Calonne hom op die Vergadering van Hooggeplaastes van 1787 beroep met die verwagting dat ’n vergaderde raad van die invloedrykste mans in Frankryk sy hervormings outomaties sou goedkeur.

Sy plan het geboemerang toe die hooggeplaastes verseg het om oor enigiets saam te stem, en verklaar het dat slegs ’n Algemene Landgoed oor die gesag beskik het om sodanige omvattende finansiële hervormings uit te reik. Calonne is op 8 April 1787 afgedank en vervang deur Étienne Loménie de Brienne (1727-1794), die 60-jarige aartsbiskop van Toulouse en noue bondgenoot van die koningin, wat met die titel Hoofminister van Frankryk beklee is. Brienne het besef dat die Vergadering niks nader aan ’n nuttige oplossing gekom het nie en het dit op 25 Mei ontbind, en besluit om eerder sy geluk voor die hooggeregshowe te beproef.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Aanvanklik het dit voorgekom of hy moontlik daarin sou slaag om die wa deur die drif te trek. Hy het in Mei en Junie 1787 sy edikte voorgelê aan die Paryse Hooggeregshof wat sommige van sy geringe hervormings met min teenstand goedgekeur het, onder meer ontlasting van die graanhandel, die afskaffing van interne doeanebeperkings, en die skep van provinsiale vergaderings om oor aspekte van belasting toesig te hou. Tesame met Calonne se grondwaardebelasting het Brienne ook ’n nuwe seëlbelasting van sy eie voorgestel wat bedink is om die inkomste uit die grondbelasting aan te vul. So ambisieus soos wat dit ook al blyk te gewees het, is Brienne deur ouer lede van die hooggeregshof gerusgestel dat hy ’n mate van samewerking te wagte kon wees.

Étienne Charles de Loménie de Brienne
Étienne Charles de Loménie de Brienne
Unknown Artist (Public Domain)

Hierdie sentiment is duidelik nie deur al die magistrate gedeel nie. Ten midde van ’n gevoel dat hierdie noue samewerking met die Kroon ’n versaking van die trotse tradisie van opstand van die hooggeregshowe was, is ’n opposisiegroep blitsig gevorm onder leiding van Jean-Jacques Duval d’Eprémesnil wat vroeër sy wens uitgespreek het dat hy graag ’n gede-Bourboniseerde Frankryk wou sien. Baie van d’Eprémesnil se volgelinge het daarna gehunker dat ’n versterkte hooggeregshof ’n meer wetgewende rol moes aanneem terwyl ander geglo het dat ’n Algemene Landgoed onmiddellik moes vergader aangesien hulle dit as die eerste stap tot ’n nuwe Frankryk beskou het. Alhoewel Brienne gehoop het dat lede van die hooggeregshof hulle politieke verskille tydelik ter syde sou stel om die volk te red, blyk die “leeus van die hooggeregshof” ongeneë tot genade te gewees het (Schama, 262). Die hooggeregshof het op 2 Julie Brienne se seëlbelasting geheel en al verwerp en twee weke later was dit dieselfde geval met die seminale grondwaardebelasting.

In hulle remonstransie het lede van die hooggeregshof die slotsom van die Vergadering van Hooggeplaastes herhaal en daarop aangedring dat slegs ’n Algemene Landgoed die gesag rakende finansiële aangeleenthede gehad het, en dat die hooggeregshof geensins belastingedikte kon registreer nie al het hulle – in die sarkastiese woorde van Thomas Carlyle (75) – dit die afgelope paar eeue per ongeluk gedoen. Die besluit het gewildheid verwerf en is deur baie as ’n poging deur die hooggeregshof beskou om weerstand teen die tirannie van Frankryk se absolutistiese monargie te bied. Groot skares het buite hooggeregshofvergaderings begin saamtrek om hulle ondersteuning te toon terwyl die hooggeregshof se besluit landwyd groot byval onder salonne in hoë sosiale kringe en politieke klubs gevind het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hierdie veragting het uiteindelik die verbeelding van die koning aangegryp wat die afgelope paar maande ná die onverwagte verset deur die hooggeplaastes nukkerig getob en in selfbejammering geswelg het. Louis XVI het op 6 Augustus opdrag vir ’n lit de justice gegee en ’n vergadering in die groot vertrek van die Palais de Justice belê. Die vertrek was daardie warm somersdag stampvol met honderde magistrate en hooggeplaaste beamptes toe die openingsprosedures deur die klank van ’n gesnork onderbreek is. Louis XVI blyk aan die slaap te geraak het.

Portrait of Louis XVI of France
Portret van Louis XVI van France
Antoine-François Callet (Public Domain)

Ten spyte van die koning se blaps het sy ministers die doel van die lit de justice vervul en gelas dat die res van die edikte, ongeag die hooggeregshof se toestemming, geregistreer word. D’Eprémesnil het die volgende dag verklaar dat hierdie gedwonge registrasie van edikte onwettig, en dus van nul en gener waarde was – ’n aankondiging wat die hooggeregshof met ’n groot remonstransie geformaliseer het, en vermeld het dat die konstitusionele beginsel van die Franse monargie was dat toestemming vir belastings gegee moes word deur diegene wat die las daarvan moes dra. Op 10 Augustus het die hooggeregshof hulle teenaanval verskerp deur ’n strafgeding aanhangig te maak teen Calonne wat op hierdie stadium sy ballingskap in Brittanje begin het.

Die verset teen koninklike gesag was een te veel vir die koning. Hy het op 15 Augustus gereageer deur die Paryse Hooggeregshof ingevolge ’n lettre de cachet na die stad Troyes te verban, en het Switserse Wagte na die Palais de Justice gestuur om seker te maak dat die bevel uitgevoer word. Omdat hy geweet het dat dit ’n ongewilde dekree sou wees, het die koning gebied dat soldate strooptogte op drukkers uitvoer, joernale toegemaak word en dat enige politieke klub wat daarvan verdink is dat hulle teenstand gekoester het, gesluit word.

’n Kompromis word bereik

Die verbanning van die hooggeregshof het massaprotesoptredes in Parys tot gevolg gehad. Die gedwonge registrasie van die edikte in die laerhowe, waarna die koning se broers omgesien het, is deur ’n gejou en gesis begroet, en sommige mense het selfs skoor met die prinse se lyfwagte gesoek. In hierdie gespanne atmosfeer wou sommige van die koning se ministers vir Maupeou nadoen en die mag van die hooggeregshowe eens en vir altyd ’n nekslag toedien. Brienne, oortuig dat die verbanne hooggeregshof tyd sou gehad het om te kalmeer en tot hulle sinne te kom, was egter ten gunste van onderhandeling.

Om die spanning te verlig, het Brienne ’n kompromis voorgestel: Hy sou sy ongewilde seëlbelasting en die grondwaardebelasting herroep en dit met ’n hernude vingtième (twintigste) belasting vervang wat vyf jaar lank ingevorder sou word, en waarvan die adelstand kwytgeskel sou wees. Dit was nodig om bankrotskap te voorkom. In ruil daarvoor het Brienne voorgestel dat ’n Algemene Landgoed in 1792 aan die einde van die vyfjaartydperk byeengeroep word. Hierdie voorstel is deur die hooggeregshof as aanvaarbaar beskou wat in September toegelaat is om na Parys terug te keer. ’n Koninklike sessie is op 19 November by die Palais de Justice gehou om hierdie bepalings te bespreek.

DIE KONING HET DIE ONMIDDELLIKE REGISTRASIE VAN DIE VOORGESTELDE EDIKTE GELAS, EN SODOENDE ALLE BESPREKINGS GESMOOR EN EFFEKTIEF ’N LIT DE JUSTICE IMPROMPTU UITGEREIK.

Die byeenkoms se atmosfeer was gespanne en magistrate is deur die teenwoordigheid van militêre wagte verontrus; boonop het d’Eprèmesnil in ’n vurige argument met die die Comte d’Artois, die koning se jongste broer, betrokke geraak oor koetsparkering. Brienne het die sessie met ’n vertoning van welwillendheid begin deur te versoek dat burgerregte uiteindelik aan Franse Protestante toegeken word – ’n idee wat met algemene goedkeuring begroet is. Hy het toe die werklike sake van die dag aan die magistrate voorgelê en sy nuwe belastingplan aangekondig, asook sy voorstel om 420 miljoen livre tydens die vyf jaar wat die voorgestelde Algemene Landgoed sou voorafgaan, te leen ten einde die Kroon se huidige kostes betyds te kon delg.

Vir die volgende agt uur blyk verrigtinge goed te verloop het soos wat magistrate hulle mening gelug het. Selfs d’Eprémesnil het sy steun teësinnig aan die nuwe lenings toegesê, alhoewel hy eerder wou hê dat die Algemene Landgoed in 1789 pleks van 1792 moes vergader. Die koning – moontlik geïrriteer deur die bespreking van die Algemene Landgoed en vasbeslote om ’n stemming te voorkom – het van hom laat hoor en die onmiddellike registrasie van die voorgestelde edikte gelas, en sodoende alle besprekings gesmoor, en effektief ’n lit de justice impromptu uitgereik.

Sy dekree is met verbysterde stilswye begroet, wat ten einde laas uit die onwaarskynlikste oord onderbreek is. Die man wat opgestaan het om die koning se misbruik van gesag te trotseer, was niemand anders nie as Louis Philippe II, hertog van Orléans (1747-1793), die koning se neef en hoof van die jonger seun se Orléans-tak van die koninklike familie. Orléans, wat later tydens die Revolusie van sy adellike titels afstand sou doen en die naam Philippe Égalité sou aanneem, het sy neef se gedwonge registrasie as onwettig verklaar.

Onverhoeds betrap, het die koning geantwoord, “Die registrasie is wettig want ek het die mening van elkeen aangehoor.” Hierdie non sequitur is deur ’n onbeholpe grap gevolg waarin hy Orléans sarkasties toegesnou het, “Ek gee in elk geval nie om nie. Jy’s natuurlik die meester.” (Schama, 268) Louis XVI en sy broers het daarna summier uitgestorm by die sessie, wat nog vir 3 uur vergader het terwyl lede die koning se registrasie formeel afgekeur het, met Orléans wat ’n duidelik voorafvoorbereide teks geresiteer het wat die onwettigheid van die prosedure bevestig het.

Die Kroon slaan terug

Die volgende dag het ’n vernederde Louis XVI gelas dat Orléans na sy landgoed verban moes word – ’n propaganda-oorwinning vir laasgenoemde wat die geleentheid aangegryp het om homself as ’n martelaar vir die saak van vryheid voor te hou. Teen die lente van 1787 het dit duidelik geraak dat die insident van 19 November enige hoop op samewerking tussen die koning en die hooggeregshof ’n finale nekslag toegedien het. Op 11 April het die Paryse Hooggeregshof aangekondig dat “die wil van die koning nie genoeg [was] om wette te maak nie”, en op 3 Mei het hulle verklaar dat ’n Algemene Landgoed ’n voorvereiste vir toekomstige belastings was en dat lettres de cachet en ander arbitrêre arrestasies onwettig was (Schama, 268).

Die Kroon het op die ontkenning van absolutistiese gesag gereageer deur hard toe te slaan. Die bevel is op 6 Mei uitgereik om d’Eprémesnil en Goislard, ’n ander opposisieleier, te arresteer. Die twee mans het skuiling by die hooggeregshof gaan soek wat 11 uur lank volstrek geweier het om hulle uit te lewer, en aangekondig het dat die koning hulle almal sou moes arresteer. Die weerstand het egter gou verbrokkel toe die koning soldate ingestuur en d’Eprémesnil en Goislard hulself oorgegee het ten einde geweld te voorkom.

Intussen het die koning se ministers verskeie geregtelike hervormings begin opstel om die hooggeregshowe se magte wederregtelik toe te eien. Sewe-en-veertig ondergeskikte howe moes na die status grand bailliages opgegradeer word en sou die regsfunksies van die hooggeregshowe aanvaar terwyl ’n nuwe voltallige hof geskep sou word om die registrasiepligte van die hooggeregshowe te aanvaar. Die voltallige hof sou die rol van die hoogste hof in die koninkryk aanneem, met die lede daarvan wat direk deur die koning aangestel word. Hierdie hervormings het beteken dat die hooggeregshowe effektief niks meer as verheerlikte arbitrasiehowe sou wees nie, slegs beperk tot sake waarby die adelstand betrokke was, sowel as siviele sake wat 20 000 livres of meer behels het. Indien hierdie nuwe regstelsel van krag sou word, sou meer mag van die adelstand gestroop en terug in die hande van die koning geplaas word.

Hierdie dekree is deur ’n landwye opskudding begroet. In Parys het laerhowe geweier om nuwe wette te registreer terwyl die regbank verseg het om met die nuwe regstruktuur saam te werk. In die provinsies het sommige hooggeregshowe die nuwe stelsel geïgnoreer en met hulle werk probeer voortgaan, waarop hulle deur lettres de cachet uit hulle magsetels onthef is. Toe die goewerneur van Dauphiné probeer toesien het dat sy provinsie se hooggeregshof verban word, het onluste op 7 Junie in Grenoble uitgebreek waartydens soldate aangeval is deur projektiele wat van die dakke af geslinger is. Die insident sou later as die Dag van die Teëls bekend staan. Op 29 Junie het oproeriges in Pau die geslote deure van hulle hooggeregshof afgebreek, en hulle magistrate heringestel. Afgevaardigdes wat van Bretagne na Versailles gestuur is om die koning se ministers as misdadigers aan die kaak te stel, is onderweg gearresteer en in die Bastille opgesluit.

The Day of the Tiles
Dag van die Teëls
Alexandre Debelle (CC BY-SA)

Nóg druk is op Brienne gestapel toe die vergadering van kerklui – sy eie landgoed – hulle by die protesterende adelstand geskaar het in hulle veroordeling van die Kroon se optrede. Terwyl die landgoedere met die Kroon gekibbel het, het die metaforiese skip met Frankryk se finansies aangehou sink. Op 13 Julie het ’n fratssomerhaelstorm baie van die oeste in die Paryse kom vernietig wat beteken het dat die kleinboere sou sukkel om aan die belastingvereistes van 1789 te voldoen. Selfs meer beduidend, is Brienne in Augustus, teen die agtergrond van landwye protesoptredes, ingelig dat die tesourie ten einde laas dolleeg was. In ’n desperate poging om nuwe lewe in die land se krediet te blaas, het Brienne ’n spesifieke datum vir die vergadering van die Algemene Landgoed aangekondig, en dit vir 1 Mei 1789 geskeduleer. Maar dit was veels te laat … die skip het reeds vergaan. Op 16 Augustus het die tesourie alle betalings amptelik opgeskort: Die staat was bankrot.

Terwyl paniek die markte beetgepak het, het Brienne die enigste ding gedoen wat hy kon. In samewerking met die koningin het hy voorspraak gemaak vir die terugkeer van die gewilde minister van finansies, Jacques Necker – ’n daad wat die opbouende chaos tydelik gelenig het. Brienne het op 25 Augustus bedank, die dag waarna Necker ingestem het om die pos te aanvaar. Die Algemene Landgoed het in Mei 1789 vergader, en die lot van die land was verseël.

Impak

Alhoewel hooggeregshowe reeds sedert ten minste die bewind van Louis XIV ’n doring in die vlees van Franse konings was, was hulle opstand in 1787 anders. Nie eers Frankryk se finansiële krisis, so eksistensieel as wat dit was, kon die koning en die hooggeregshof versoen nie. Dit was deels weens ’n hardnekkige Louis XVI wat desperaat aan die laaste oorblyfsels van absolute mag vasgeklou het, asook die identiteit wat die hooggeregshof sigself toegeëien het as kampvegter van die landgoedere, en die beskermheer van antieke voorregte van die adel.

Soos wat die koning en die hooggeregshof getwis het, het die situasie vererger, sodat die gebeure wat die begin van die Revolusie ontketen het, aangevuur is. Daar is ’n mate van ironie daaraan verbonde dat nóg die monargie nóg die hooggeregshowe die komende Revolusie sou oorleef. Voorts het die feit dat hulle hulself as kampvegters van die volk verklaar het, nóg d’Eprémesnil nóg Orléans tydens die Skrikbewind van die guillotine gered, terwyl Brienne gif sou drink om dieselfde lot vry te spring. Aangesien die Opstand van die Hooggeregshowe bloot die doel gedien het om Frankryk se reeds slegte omstandighede te vererger, het die historikus Simon Schama (287) beslis ’n punt beet wanneer hy na die episode as die “selfmoord van die ou regime” verwys.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat was die Opstand van Hooggeregshowe?

Die Opstand van die Hooggeregshowe van 1787-1788 was die hoogtepunt van ’n magstryd tussen die koninklike gesag van koning Louis XVI van Frankryk (r. 1774-1792) en die Paryse Hooggeregshof, die invloedrykste van Frankryk se dertien hooggeregshowe.

Hoe het die Opstand van die Hooggeregshowe tot die Franse Revolusie bygedra?

Die finansiële hervormings wat benodig is om Frankryk van bankrotskap te red, is nooit verwesenlik nie en die hooggeregshowe en die koning se onvermoë om te versoen, het die vergadering van die Algemene Landgoed in 1789, sowel as die aanvang van die Franse Revolusie, bespoedig.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Harrison W. Mark
Harrison Mark is ’n gegradueerde van SUNY Oswego, waar hy Geskiedenis en Politieke Wetenskap gestudeer het.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, H. W. (2022, April 14). Opstand van die Hooggeregshowe [Revolt of the Parlements]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20709/opstand-van-die-hooggeregshowe/

Chicago-styl

Mark, Harrison W.. "Opstand van die Hooggeregshowe." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 14, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20709/opstand-van-die-hooggeregshowe/.

MLA-styl

Mark, Harrison W.. "Opstand van die Hooggeregshowe." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 14 Apr 2022. Web. 01 Dec 2022.