Robert Bruce

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 16 December 2020
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Albanes, Frans
Bust of Robert the Bruce (by Otter, CC BY-SA)
Borsbeeld van Robert Bruce
Otter (CC BY-SA)

Robert I van Skotland, beter bekend as Robert Bruce, het van 1306 tot 1329 HJ as koning van Skotland geheers. Hy het John Balliol (r. 1292-1296 HJ) opgevolg maar eers ná ’n stormagtige dekade van kantewisseling en ’n militêre wipplankryery teen Engelse leërs aangevoer deur Edward I van Engeland (r. 1272-1307 HJ), sowel as dié van mededingende Skotse baronne. ’n Grootse oorwinning in 1314 HJ oor die Engelse by Bannockburn het Robert se aanspraak gegrondves om die regmatige koning van Skotland te wees, en sy vaardige diplomasie het teweeg gebring dat sowel die Pous as Edward III van Engeland (r. 1327-1377 HJ) erkenning aan Skotland se volle onafhanklikheid gegee het. Robert Bruce word lankal as ’n nasionale held en een van Skotland se vernaamste monarge óóit beskou. Hy is deur sy seun David II van Skotland (r. 1329-1371 HJ) opgevolg.

Vroeë jare

Robert (VIII) Bruce is op 11 Julie 1274 HJ te Turnberry Kasteel in Ayrshire, Skotland gebore. Sy vader was Robert (VII) Bruce (1304 HJ gesterf) en sy moeder was Marjorie, gravin van Carrick. Die Bruce-familie is al sedert die 1120's HJ landhere van Annandale en hulle het aanspraak gemaak op afkoms van graaf David, jonger broer van William I van Skotland (r. 1165-1214 HJ). Robert het ’n deel van sy jeug in óf die Buite-Hebride óf Ulster deurgebring. Aangesien die familie landgoedere en eiendom in Engeland besit het, het hy ook tyd in Carlisle Kasteel en Londen deurgebring. In 1292 HJ het Robert die graafskap van Carrick geërf.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Robert is in ongeveer 1295 HJ met Isabel van Mar (ca. 1296 HJ gesterf), dogter van Donald, graaf van Mar, getroud, en in 1302 HJ is hy met Elizabeth de Burgh (1327 HJ gesterf), die dogter van Richard de Burgh, graaf van Ulster, getroud. By Isabel het Robert ’n dogter, Marjorie (ca. 1295 HJ gebore) verwek en hy en Elizabeth het twee dogters – Matilda en Margaret – en twee seuns – David (1324 HJ gebore) en John – gehad. John en David was moontlik ’n tweeling maar John is as kind oorlede.

Die Groot Saak

DIE BRUCES HET NIE EDWARD I SE BESLUIT AANVAAR OM JOHN BALLIOL OP DIE SKOTSE TROON TE PLAAS NIE.

Toe Alexander III van Skotland (r. 1249-1286 HJ) in 1286 HJ tot sterwe gekom het en sy enigste erfgenaam sy kleindogter was wat in 1290 HJ self gesterf het, is Skotland in ’n politieke krisis gedompel. Die koninklike huis van Engeland en Skotland was deur verskeie huwelike verbind maar Edward I van Engeland het verder gegaan en die Skotse koning as sy leenman beskou. Tydens ’n proses bekend as die Groot Saak (the Great Cause) het Edward as arbiter opgetree tussen ’n menigte kandidate wat as opvolgers vir die Skotse troon meegeding het. In November 1292 HJ het die Engelse koning vir John Balliol gekies. Balliol se hoofmededinger was Robert (VI) Bruce (1210 HJ gebore), die grootvader van sy meer bekende naamgenoot en toekomstige koning. Die Bruces het nie Edward se besluit aanvaar nie en het met hul aanspraak op die troon volhard. Balliol het gewen omdat hy ’n nader afstammeling van graaf David en – nóg belangriker vir Edward I – ’n meer verengelsde en swakker kandidaat was wat beteken het hy kon makliker gemanipuleer word.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Robert I of Scotland & Isabel of Mar
Robert I van Skotland & Isabel van Mar
Unknown Artist (Public Domain)

John Balliol se heerskappy het op stuk van sake net vier jaar geduur soos die Skotse adel moeg geraak het van sy ondoeltreffende weerstand teen die heerssugtige Edward en die toename in belasting wat gehef is om vir die Engelse koning se oorlog teen Frankryk te betaal. In laat 1295 HJ het ’n regentskapsraad bestaande uit 12 ontevrede edelliede – moontlik heeltemal onafhanklik van John – ’n nuwe regering gestig. Hierdie raad, en dus Skotland, het in Februarie 1296 HJ ’n formele bondgenootskap met Philip IV van Frankryk (r. 1285-1314 HJ) aangeknoop – die eerste skuif in wat as die “Auld Alliance” (ou alliansie) bekend sou staan. In April 1296 HJ het koning John sy leenmanstrou aan Edward I afgesweer. Die Bruces het nie hierdie rebellie teen Edward I se opperheerskappy ondersteun nie, en Robert het hom selfs by die Engelse magte geskaar wat Skotland in 1296 HJ aangeval het. Edward se onwrikbare reaksie op die Auld Alliance was om Skotland herhaaldelik aan te val. By Berwick is duisende onskuldige mense afgemaai, Edward het die hoof- Skotse kastele oorgeneem en op 27 April 1296 HJ het hy by die Slag van Dunbar die Skotse leër ’n nederlaag toegedien. Drie Engelse baronne is benoem om oor Skotland te heers wat in werklikheid ’n provinsie van Engeland geraak het. John Balliol is van sy titel gestroop en in die Londense Toring opgesluit.

Oorlog vir Onafhanklikheid

Ongelukkig vir Edward was die onderdrukking van Skotland blykbaar moeiliker as wat hy verwag het. Rebellies het byna onmiddellik opgeskiet, waarvan die suksesvolste die opstand onder leiding van William Wallace (ca. 1270-1305 HJ) en sir Andrew Moray van Bothwell was. In September 1297 HJ het die rebelle ’n bekende oorwinning by die Slag van Stirlingbrug behaal. ’n Heersende raad is gestig wat uit Wallace, John Comyn en biskop Lamberton bestaan het maar die Bruces het nie hierdie groep gesteun nie, veral omdat die Comyns ondersteuners van die mededingende Balliols was. Op hierdie stadium blyk die Bruces nóg Wallace nóg Edward I te onderskraag het; hulle het eerder hulle tyd afgewag om te sien wat die uitkoms sou wees van hierdie eerste fase van wat later as die Eerste Oorlog vir Onafhanklikheid bekend sou staan. Teen 1298 HJ was Robert Bruce egter duidelik aan die Skotse kant en was hy betrokke by die aanval op Ayr Kasteel wat deur die Engelse beset was. Maar in 1302 HJ het Robert se huwelik met Elizabeth, dogter van ’n bondgenoot van Edward I, tesame met die vrylating van John Balliol uit die Londense Toring daartoe gelei dat Robert hom weereens by die Engelse geskaar het om te voorkom dat Balliol se Skotse bondgenote daarin kon slaag om die voormalige koning weer terug op die troon te plaas.

Verwyder Advertensies
Advertisement

King Edward I of England
Koning Edward I van Engeland
National Portrait Gallery (CC BY-NC-ND)

Edward het op die nederlaag by Stirlingbrug gereageer deur sy leër persoonlik aan te voer en in Julie 1298 HJ ’n oorwinning met die Slag van Falkirk te behaal waartydens 20 000 Skotte gesneuwel het. Daarna het Edward nog leërs gestuur en in 1305 HJ is Wallace aangekeer en in Londen as ’n verraaier tereggestel. Wallace het nietemin ’n nasionale held geraak sowel as ’n voorbeeld wat ander kon volg – veral Robert Bruce wat teen 1305 HJ ernstige misnoeë begin kry het rakende sy steun aan die Engelse Kroon. Dit het nou hoogs onwaarskynlik begin lyk dat Edward I ooit vir Robert koning van Skotland sou maak. Tydens die volgende jaar het Robert – waarskynlik in die geheim – algaande daarvan werk gemaak om bondgenote onder sleutel- Skotse baronne te werf.

ROBERT HET ALLES OP DIE SPEL GEPLAAS EN IN MAART 1306 HJ HOMSELF AS KONING VAN SKOTLAND VERKLAAR.

Teen Februarie 1306 HJ het die Skotte hulle om hul nuwe kopstuk, Robert Bruce geskaar wat John Balliol as ’n marionet van Edward I verwerp het. Op 10 Februarie het Robert of sy volgelinge John Comyn, sy hoofmededinger in die aanspraak op die troon, vermoor deur hom in die Greyfriars-kerk in Dumfries dood te steek. Met die besliste ondersteuning van die noordelike Skotse baronne en die twyfelagtige ondersteuning van ander, het Robert alles op die spel geplaas en homself koning verklaar. Robert is op 25 Maart 1306 HJ by Scone Abdy ingehuldig. Maar die koning se posisie was bra onseker. Twee nederlae het gevolg: een op 19 Junie by Methven teen ’n Engelse leër, en een op 11 Julie by Dalry teen ’n Skotse leër onder bevel van John MacDougall van Argyll. Robert is verplig om na Rathlin Eiland aan die kus van Ierland te vlug. Die Engelse, nie in staat om hul hande op die koning te lê nie, het die tweede beste ding gedoen en op die koning se familie jag gemaak. Drie van Robert se broers is tereggestel en sy suster Mary is in ’n ysterhok aangehou wat van die muur van Roxburgh Kasteel gehang is. Vier jaar lank is sy aan hierdie lot onderwerp. Robert se vrou Elizabeth is tot ’n herehuis te Burstwick beperk.

Battle of Bannockburn, 1314 CE
Slag van Bannockburn, 1314 HJ
Andrei nacu (Public Domain)

Toe Edward I in Julie 1307 HJ gesterf het, is hy deur sy seun Edward II van Engeland (r. 1307-1327 HJ) opgevolg. Die nuwe koning het die politieke en militêre talente van sy vader ontbreek, en hy was belas met sy eie koninkryk wat besig was om in politieke anargie te versink sodat ’n burgeroorlog ten einde laas uitgebreek het. Hierdie verwikkelinge het Skotland ’n bietjie ruimte gegun om asem te haal. Robert kon daarin slaag om na Skotland terug te keer waar hy en sy broer Edward ’n volgehoue guerilla-oorlog teen Engelse troepe en Balliol-ondersteuners geveg het. Teen middel 1308 HJ het Robert die Comyns totaal verslaan, hulle sleutelkastele oorgeneem en ten gronde gerig, en besit van Aberdeen geneem. In die herfs van 1309 HJ is ook die MacDougalls by die Slag van Branderpas oortuigend verslaan. Robert het nou ’n wapenstilstand gebied aan alle Skotte wat gewillig was om hom te volg. Gevolglik het ’n parlement by St. Andrews in Maart 1309 HJ verklaar dat die mense van Skotland vir Robert Bruce as hulle koning aanvaar. Insgelyks het ’n afvaardiging van Frankryk verklaar dat Robert die regmatige koning van Skotland was. Maar verskeie sleutelkastele was steeds onder beheer van die Engelse, onder meer Berwick, Roxburgh, Edinburgh en Stirling. Met verloop van die volgende vier jaar het Robert te werk gegaan om die kastele terug te wen, en het dikwels die aanvalle persoonlik aangevoer.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Bannockburn en onafhanklikheid

Edward II se beheptheid met sy eie interne probleme het beteken dat Robert die Engels-besette kastele een ná die ander kon inpalm, en dit vernietig om te verhoed dat dit weer deur die vyand benut word. Hy het blykbaar ook na hartelus gereelde en winsgewende strooptogte in noordelike Engeland uitgevoer. Ná ’n onsuksesvolle aanval in 1311 HJ was dit eers in 1314 HJ dat Edward ’n leër na Skotland gelei het; die motivering hiervoor was die beleg van Stirling Kasteel, wat deur die Engelse beset was. Edward se mag het die Skotte onder aanvoering van Robert Bruce in getal verreweg oortref (15-20 000 teen 10 000 man) maar hierdie voordeel en die beweeglikheid van Edward se 2 000 swaar kavallerie is genegeer deur Robert se keuse van ’n nou, drassige drif naby die dorpie Bannockburn as sy keuse van die gevegsterrein. Toe die twee leërs mekaar op 23-4 Junie die stryd aangesê het, het Edward sy boogskutters teëgehou tot dit te laat was; die terrein en die Skotse piekeniers opgestel in aggressiewe en mobiele krimpvarkformasie (schiltroms) het die res gedoen. In ’n rampspoedige nederlaag het ongeveer 200 Engelse ridders gesneuwel; die Engelse koning het nouliks met sy lewe daarvan afgekom. Tydens die veldslag het Robert sowel sy leierskapvaardigheid as dapperheid in die stryd ten toon gestel; hy het die uitdaging deur Henry de Bohun tot ’n tweegeveg aanvaar en met ’n magtige haal van sy strydbyl sy opponent se kop in twee gekloof. Ná die veldslag het Stirling Kasteel oorgegee en die agtergelate Engelse kamp het ’n allemintige hoeveelheid oorlogsbuit opgelewer.

The Declaration of Arbroath
Die Verklaring van Arbroath
Unknown Artist (Public Domain)

Skotland het hulle onafhanklikheid effektief weer afgedwing. Robert het die vrylating van koningin Elizabeth en prinses Marjorie beding. Hy het ook beslag gelê op die grond van die Skotse adel wat Edward ondersteun het en daarmee het hy ruim hulpbronne bekom om sy volgelinge te beloon, en hulle voortgesette getrouheid te verseker. Langtermyngevolge van hierdie beleid was die skep van families in sekere streke wat byna té magtig was, die skep van vyande onder afstammelinge van die onterfdes, en die verarming van die Kroon self – ’n verwikkeling wat belasting genoodsaak het bloot om die lewenskoste van die monarg te dek. Maar vir die oomblik het Robert die kruin van die golf gery. Berwick is in 1318 HJ ingeneem en die Skotse koning het voortgegaan met strooptogte in noordelike Engeland, en in 1319 HJ het hy byna York verower.

Buitelandse beleid en erkenning

Ná 1314 HJ was Robert veilig genoeg in sy eie koninkryk om selfs die verowering van buitelandse gebiede te oorweeg. In ’n veldtog wat oor drie winters gestrek het, het die Skotse koning Ulster ingepalm en in 1316 HJ het hy sy broer Edward (ca. 1276 HJ gebore) as die koning van Ierland opgestel. Die Skotse leër is deur die plaaslike bevolking bygestaan wat maar te bereidwillig was om van die Engelse baronne daar ontslae te raak. Maar Edward Bruce was toe net so ongewild en in 1318 HJ het hy in die stryd gesterf. Die Skotte is genoodsaak om Carrickfergus Kasteel prys te gee en uit Ierland te onttrek.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Op 6 April 1320 HJ is ’n brief aan die Pous gestuur waarin versoek word dat Robert se ekskommunikasie en Skotland se afsondering – albei toegepas omdat Robert in 1317 HJ geweier het om ’n wapenstilstand met Engeland te onderteken – teruggetrek word. Daar word dikwels na die inhoud van die brief as die “Verklaring van Arbroath” verwys waarin vrymoedig verklaar word dat Skotland ’n vry en onafhanklike koninkryk is, en dat die Engelse Kroon hoegenaamd geen regte daar het nie. Hierdie indrukwekkende dokument, met die seëls van agt grawe en 38 baronne gefestoeneer, bestaan vandag steeds.

Dunfermline Abbey
Dunfermline Abdy
Cocoloco29 (CC BY-SA)

Intussen was daar ’n handvol Skotse baronne wat hulle steeds teen Robert geskaar het en in 1320 HJ is ’n mislukte sluipmoordpoging genadeloos gewreek. In 1322 HJ is ’n futlose Engelse inval afgeweer. In 1323 HJ het Skotland en Engeland op ’n wapenstilstand van 13 jaar ooreengekom, en in 1326 HJ het die Verdrag van Corbeil formeel ’n bondgenootskap van wedersydse bystand tussen Skotland en Frankryk daargestel. (Dit het ’n klousule ingesluit ingevolge waarvan ’n Franse aanval teen Engeland vir Skotland verplig het om ook hulle suidelike buurman aan te val.) Skotland se onafhanklikheid en Robert se reg op die kroon is in 1328 HJ in die Verdrag van Edinburgh/Northampton deur die Engelse Kroon erken. Die verdrag is geseël met Robert wat £20 000 oorhandig het, sowel as die verlowing van Robert se seun David aan Joan (1321 HJ gebore), die suster van die nuwe koning van Engeland, Edward III. Die kersie op die koek was die Pous se besluit in 1329 HJ om Skotse monarge toe te laat om tydens hulle kroning amptelik ’n kroon en heilige salwing te ontvang. Nou was die koninkryk van Skotland vir die eerste keer op gelyke voet met ander Europese monargieë.

Afsterwe en opvolgers

Robert Bruce is op 7 Junie 1329 HJ by sy herehuis te Cardross in Dumbartonshire oorlede. Die koning was vir twee jaar siek gewees, met middeleeuse kroniekskrywers wat sy aandoening as melaatsheid beskryf. Robert is by Dunfermline Abdy ter aarde bestel. Hy wou egter lank reeds op ’n kruistog na die Heilige Land gegaan het en, omdat hy dit nooit vermag het nie, het hy sir James Douglas versoek om sy hart daarheen te neem. Douglas het in ’n veldslag in Spanje gesterf maar volgens legende is Robert se gebalsemde hart na Skotland teruggeneem en te Melrose Abdy begrawe.

Robert is deur sy seun opgevolg wat David II van Skotland geraak het. Die nuwe koning was net vyf jaar oud en derhalwe het ’n geleentheid vir teenstanders van die Bruce-familie sigself voorgedoen om die mag oor te neem. Edward Balliol (ca. 1283-1367 HJ), seun van koning John Balliol, het die ondersteuning van Edward III van Engeland gehad, en in 1332 HJ is David onttroon. Balliol is koning gemaak maar ná nóg ’n rondte tronedans was David II teen die einde van 1336 HJ terug op die troon; hy het tot 1371 HJ oor Skotland geheers.

Intussen het Robert Bruce se reputasie al groter geword soos sy gewildheid onder middeleeuse kroniekskrywers toegeneem het; hy het ook die onderwerp geraak van ’n gevierde gedig, “The Bruce”, wat in opdrag van die koning se kleinseun, Robert II van Skotland (r. 1371-1390 HJ) geskryf is. ’n Eeu later het James III van Skotland (r. 1460-1488 HJ) die swaard van Robert Bruce vir ’n veldslag aangegord, en so het dit met die verloop van die eeue aangegaan soos Robert die vergestalting van goeie koningskap en ’n nasionale held geword het. Die koning het meer onlangs weereens die belangstelling geprikkel deurdat ’n rekonstruksie van sy gesig opgebou is van ’n skedel wat by Dunfermline Abdy ontdek is, sowel as die voortgesette kwessie van Skotse parlementêre onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2020, December 16). Robert Bruce [Robert the Bruce]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18574/robert-bruce/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Robert Bruce." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig December 16, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18574/robert-bruce/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Robert Bruce." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 16 Dec 2020. Web. 19 Apr 2024.