William Wallace

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 19 April 2021
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Serwies, Albanese
Sir William Wallace (by Kjetil Bjørnsrud, CC BY-SA)
Sir William Wallace
Kjetil Bjørnsrud (CC BY-SA)

Sir William Wallace (ca. 1270-1305) was ’n Skotse ridder en nasionale held wat vir sy land se onafhanklikheid teen Engeland geveg het. Hy is daarvoor beroemd dat hy in September 1297 by Stirlingbrug die Skotte teen ’n oormag van die Engelse leër na oorwinning gelei het.

Die Engelse koning, Edward I (r. 1272-1307) was vasbeslote om wraak te neem en Skotland te verower maar sy oorwinning teen Wallace by Falkirk in 1298 kon die Skotte nie finaal oormeester nie. Wallace is in Glasgow gevange geneem en in 1305 in Londen vir hoogverraad verhoor. Wallace is onvermydelik skuldig bevind en is die ergste moontlike vonnis opgelê: om gehang, gesleep en gevierendeel te word. Daarna het William Wallace ’n martelaar geraak, die opper- heldhaftige patriot, en die onderwerp van tallose legendes, ballades en gedigte. Alhoewel hy nie geleef het om dit te sien nie, het Skotland wel onder die bewind van Robert Bruce (r. 1306-1329) onafhanklikheid verwerf.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Vroeë jare

William Wallace is ca. 1270 in ’n grondbesittersfamilie in die suidweste van Skotland gebore. Sy vader, ’n ridder en lid van die kleinadel, was ’n leenman van James Stewart, die 5de opperhofmeester van Skotland. Volgens oorlewering is Wallace in Elderslie naby Paisley in Renfrewshire, of Elderslie in Ayrshire gebore. In latere middeleeuse bronne is Wallace tradisioneel as ’n nieadellike burger – of in postume biografieë selfs as dief of voëlvryverklaarde – uitgebeeld maar dit is waarskynlik omdat Skotse skrywers hom as ’n “man van die volk” en Engelse skrywers hom as ’n veragtelike vyand wou voorstel. Tegnies gesproke was Wallace ’n voëlvryverklaarde in die oë van die Engelse aangesien sy familie nie die Ragman-rolle onderteken het nie. Die rolle was ’n lys wat in die somer van 1296 saamgestel is van al die Skotse pagters wat trou aan die Engelse Kroon gesweer het. So ver ons weet, het William Wallace nooit getrou nie en het hy geen kinders gehad nie.

Edward I en die Groot Saak

WILLIAM WALLACE SE EERSTE AANVAL VAN BELANG WAS IN MEI 1297 OP LANARK TOE DIE ENGELSE SHERIFF GEDOOD IS.

Edward I van Engeland, bekend vir sy opvlieëndheid en selfvertroue, se lengte van 1,9 m – ’n buitengewoon indrukwekkende lengte vir die era – het aan hom die bynaam Longshanks (“langbeen”) besorg. Die Engelse koning was reeds ’n geharde veteraan van vele oorlogsveldtogte. Hy het aan die Negende Kruistog (1271-1272) deelgeneem, die Engelse rebellebaronne help verslaan wat teen sy vader saamgesweer het, en in Wallis het hy hom op die slagveld onderskei. Nou het Edward sy oog na Skotland gekeer. ’n Voorspel tot die militêre optrede was Edward se besluit in 1287 om alle Jode uit sy koninkryk te begin verdryf en beslag op hulle eiendom te lê wat ’n aansienlike hupstoot vir sy krygskas was. Teen die einde van 1290 het ’n gulde geleentheid sigself vir die Engelse koning voorgedoen – ’n opvolgingskrisis in Skotland.

Verwyder Advertensies

Advertisement

King Edward I of England
Koning Edward I van Engeland
National Portrait Gallery (CC BY-NC-ND)

Edward is genooi om te bereg wie die troonopvolger van Alexander III van Skotland (r. 1249-1286) moes wees. Alexander het kinderloos gesterf en daarom was sy kleindogter Margaret (ook bekend as die Meisie van Noorweë – 1283 gebore) die volgende beste keuse gewees. Maar Margaret het in September 1290 tydens haar reis na Skotland tragies gesterf sodat die koninklike huis van Canmore tot ’n einde gekom het, en nou was die Skotse adel aan't stoei vir die troon. Toe hulle nie tot ’n besluit kon kom nie is Edward gevra om die beste kandidaat te kies maar in November 1292 het die Engelse koning bloot iemand gekies wat as sy marionetteheerser in Skotland kon optree: John Balliol (r. 1292-1296). Maar Balliol se bewind was so swak en ondoeltreffend dat edellui hulle as alternatief begin skaar het om die Bruce-familie, destyds onder leiding van Robert Bruce (1210 gebore), oupa van sy beroemder naamgenoot.

DIE BALLADE THE ACTS AND DEEDS OF SIR WILLIAM WALLACE, KNIGHT OF ELDERSLIE WAS DIE INSPIRASIE VIR DIE 1995-FILM BRAVEHEART.

Rebellie was aan die broei en dit was nie slegs weens die onbevoegdheid van John Balliol nie maar ook omdat Edward die Skotte swaar belas het om te betaal vir sy militêre veldtogte in Frankryk waar Gascogne ernstig bedreig is. In 1295 is Edward se ambisie ’n groot slag toegedien toe Skotland formeel ’n bondgenootskap met Frankryk aangegaan het – die eerste skuif in wat later as die Auld Alliance (ou alliansie) bekend sou staan – en Balliol genoeg selfvertroue bymekaar kon skraap om van sy leenmanstrou aan Edward afstand te doen. Die mededingende Bruce-familie het nóg die rebellie nóg Balliol se verwerping van trou aan die Engelse koning ondersteun.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Om sy greep op Skotland te herwin, het Edward persoonlik in 1296 ’n leër na Berwick aangevoer waar hy volgens die 14de-eeuse kroniekskrywer Walter van Guisborough 11 060 van die dorp se inwoners afgemaai het. Edward het die ondersteuning van die Bruces gehad en by die Slag van Dunbar in April 1296 is Balliol verslaan. Die Skotse koning het oorgegee, sy kroon is van hom weggeneem en hy is in die Londense Toring opgesluit. Drie Engelse baronne is gekies om oor Skotland te heers en Edward het selfs die Scone-klip – ook bekend as die Klip van die Lotsbestemming, en simbolies van die Skotse monargie – gesteel en dit weggevoer na Westminster Abdy. Die Skotse monargie het prakties tot ’n einde gekom, of ten minste is dit hoe Edward dit gesien het. Dit was in hierdie chaotiese atmosfeer van oorlog, rebellie en ’n leë troon wat William die eerste keer sy opwagting gemaak het.

Sir William Wallace
Sir William Wallace
The British Museum (Copyright)

Vroeë veldtogte

Wallace se eerste noemenswaardige militêre aksie was in Mei 1297 toe hy Lanark, Skotland met ’n plunderbende van ongeveer 30 man aangeval het. In latere legendes sou dit vertel word dat hierdie strooptog in weerwraak geskied het vir ’n aanval op Wallace se geliefde Marion en die moord deur Engelse soldate van ’n groep Skotse edelliede. William Heselrig, die Engelse sheriff by Lanark, is in die aanval doodgemaak. Nog suksesvolle aanvalle op Scone en verskeie Engelse garnisoene tussen die Forth- en Tay-rivier het gevolg voordat Wallace en sy manne na die veiligheid van die Hooglande teruggeval het.

Die Slag van Stirlingbrug

William Wallace se grootste sege was toe hy op 11 September 1297 ’n Engelse leër van die slagveld verdryf het by die Slag van Stirlingbrug naby Stirling in sentrale Skotland. Die Engelse leër, wat minstens 300 swaar kavalleriste ingesluit het, is deur John de Warenne, graaf van Surrey, aangevoer en was aansienlik groter as die Skotse mag. Die Skotte is gelei deur Wallace en sir Andrew Moray van Bothwell (ook bekend as Andrew Murray) wat aan die spits van ’n afsonderlike rebellie in die noorde van Skotland gestaan het. In die gewone onderhandelings wat die veldslag voorafgegaan het, het Wallace volgens oorlewering vrymoedig aan die Engelse verteenwoordigers gestel:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Gaan terug en sê vir julle mense dat ons nie ten behoewe van vrede gekom het nie; maar dat ons gereed is om te veg, om onsself te wreek en ons koninkryk te bevry!

(Jones, 345)

Wallace het die nou oorgang oor die brug oor die Forth-rivier gebruik wat die vyandelike leër se vordering belemmer het, en toe die geïsoleerde Engelse voorhoede die duskantse oewer bereik het, het hy toegeslaan. Toe die voorhoede gedwing is om oor die brug terug te val, het die struktuur onder die gewig van die soldate ineengestort sodat baie verdrink het toe hulle deur die gewig van hulle pantserdrag in die water afgesleur is. In alternatiewe weergawes van die veldslag word die brug óf doelbewus deur die Skotte vernietig, óf deur die Engelse om te verhoed dat die Skotte hulle aan die oorkant van die rivier agternasit. Wat ook al die besonderhede is, die uitslag was onteenseglik: ’n verpletterende oorwinning vir die Skotte. Meer as 100 Engelse ridders het in die veldslag gesneuwel, onder meer sir Hugh de Cressingham, Edward se tesourier in Skotland, wat op Stirling-brug aan stukke gekap is. Volgens legende is Cressingham se vel gebruik om kiltsakkies (sporrans) en swaardgordels te maak wat deur die oorwinnaars gedra is.

Battle of Stirling Bridge
Die Slag van Stirlingbrug
Unknown Artist (Public Domain)

Daarna het Wallace plundertogte in die noorde van Engeland gelei en Northumberland en Cumberland aangeval, en Alnwick- en Carlisle-kasteel beleër. So vol selfvertroue was hy oor sy beheer van sy koninkryk dat hy en Moray in 1297 briewe aan handelaars in Lübeck en Hamburg geskryf het om hulle te verseker dat dit veilig was om internasionale handel met Skotland te hervat. Wallace is in Maart 1298 tot ridder geslaan – waarskynlik deur Robert Bruce, graaf van Carrick en die toekomstige Skotse koning. Daarbenewens is Wallace die “Waakheer” van die Skotse regering, en opperbevelvoerder van die land se leërs gemaak. Al hierdie eerbewyse lewer goeie getuie daarvan dat Wallace nie ’n gewone burger was nie maar ’n man met uitstekende konneksies binne die gevestigde Skotse adel.

Die Slag van Falkirk

In 1298 het Edward I persoonlik ’n leër oor die grens aangevoer. Wallace het die heeltyd al dieper noord teruggetrek en ’n direkte konfrontasie vermy en eerder die beleid van ’n verskroeide aarde ingespan om Edward se leër al dieper in Skotland in te lok waar sy gebrek aan voorrade in ’n ernstige logistieke probleem sou ontaard het. Die twee leërs het uiteindelik op 22 Julie 1298 by die Slag van Falkirk slaags geraak. Edward se leër het oor groot kontingente van die uiters gevreesde langboogskutters en Engelse kavallerie beskik. Hulle het die Skotse speervegters wat in hulle bekende slagorde van vier skildtroepe (schiltroms – ’n afdeling soldate saamgepak soos ’n ystervark maar kwistig met lang spiese pleks van kort ystervarkpenne) voor Callendarwoud opgestel was, wild op die vlug gejaag. Edward het sy vyand aan twee kante aangeval en veroorsaak dat die klein Skotse kavalleriemag paniekbevange teruggeval het, waarop boogskutters en kruisboogskutters die skildtroepe met akkurate en dodelike vuur uitmekaar laat spat het. Ongeveer 20 000 Skotte het gesneuwel, teenoor 2 000 aan die Engelse kant. Beduidend genoeg, het die meeste van die Skotse adel oorleef om op ’n ander dag te veg. Wallace kon ook daarin slaag om van die oorwinnaars te ontsnap maar die smaad van die nederlaag het hom genoop om uit sy rol as Waakheer oor Skotland te bedank.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Heersende Raad

Die gebeure van die volgende paar jaar is swak gedokumenteer. Aangesien die troon leeg was, is ’n heersende raad gestig wat uit Wallace, John Comyn en die destydse biskop Lamberton bestaan het. Robert Bruce was aanvanklik nié met hierdie raad gediend nie. ’n Deel van die probleem was dat die Bruces reeds vir geruime tyd meegeding het met die Comyns wat eerder die Balliols ondersteun het. Aan die ander kant het Bruce nou ook nie Edward ten volle ondersteun nie en hy blyk sy tyd af te gewag het om beter te sien wat die resultaat sou wees van wat later as die Eerste Oorlog van Onafhanklikheid bekend sou staan. Ná Falkirk en Wallace se bedanking as Waakheer het die Heersende Raad onder leiding gestaan van die Bruces en Comyns wat tydelik hulle verskille in der minne geskik het.

Bust of Robert the Bruce
Borsbeeld van Robert Bruce
Otter (CC BY-SA)

Met tye het Robert Bruce hom ten volle aan die Skotse kant geskaar en hy was byvoorbeeld betrokke by die aanval op Ayr Kasteel wat deur die Engelse beset was. Maar in 1302 het Robert se huwelik met Elizabeth, dogter van ’n bondgenoot van Edward I, tesame met die vrylating van John Balliol uit die Londense Toring daartoe gelei dat Robert hom weereens by die Engelse geskaar het om te voorkom dat Balliol se Skotse bondgenote daarin kon slaag om die voormalige koning weer terug op die troon te plaas. Bruce het self sy oog op die troon gehad.

Edward het in 1300, 1301 en 1303 nóg leërs na Skotland gestuur en Stirling Kasteel in die proses herower sodat die situasie in Skotland en wie oor die land sou heers so ingewikkeld soos altyd was. Ná die beslommernis by Falkirk het die Skotse adel enige direkte konfrontasie met die Engelse leërs naarstig vermy. Maar Edward die Engelse krygskoning het die einde van sy lang en aktiewe lewe genader en Skotland kon bekostig om hulle tyd af te wag.

Wallace het intussen uit die openbare oog verdwyn en alhoewel hy ’n voëlvryverklaarde was, kon hy tot en met 1305 daarin slag om gevangeneming te ontwyk. In sommige weergawes van die verhaal het hy hierdie tydperk as guerrillavegter deurgebring wat in die Hooglande gevestig was terwyl ander bronne aanvoer dat hy op die skip van die seerower Richard Longoville na Frankryk gevlug het. Dit is moontlik dat Wallace na Franse finansiële en militêre ondersteuning gaan soek het om die geveg om onafhanklikheid voort te sit. ’n Selfs onwaarskynliker vertelsel lui dat die Skotse held hom na Rome begeef het waar hy ’n pleidooi tot die Pous gerig het om hom in sy stryd teen die Engelse te help.

Gevangeneming en teregstelling

Wallace is uiteindelik op 5 Augustus 1305 in Glasgow aangekeer – te wyte aan verraaiers wat hulle as vriende voorgedoen het, volgens sekere middeleeuse kroniekskrywers. Die mees gesoekte man in Skotland is na Londen weggevoer om in Westminster Hal as verraaier van die Kroon vervolg te word. Na bewering is Wallace gedwing om ’n “kroon” van eikeblare te dra wat veronderstel was om sy lae stand as voëlvryverklaarde uit te beeld. Wallace is formeel daarvan aangekla dat hy Skotland se affiliasie met Engeland se vyand, Frankryk bevorder het, daarvan beskuldig dat hy tydens sy strooptogte in die noorde van Engeland onskuldige mans, vrouens en kinders, insluitend kerklui, om die lewe gebring het, en hy is daarvan aangekla dat hy leërs teen die Engelse Kroon aangevoer het.

William Wallace Statue, Aberdeen
Standbeeld van William Wallace, Aberdeen
Axis12002 (Public Domain)

Die Skotsman het die aanklagtes teen hom verwerp en verklaar dat hy slegs teenoor sy eie koning, die onttroonde John Balliol, enige lojaliteit verskuldig was. Voorspelbaar genoeg is hy aan verraad skuldig bevind en op 23 Augustus is hy met die gruwelikste doodsvonnis tereggestel wat ’n Engelse hof kon opdis: om gehang, gesleep en gevierendeel te word. Eerstens is al Wallace klere van sy lyf gestroop en hy is aan sy enkels agter ’n perd aan deur die strate van Londen gesleep. By Smithfield is hy gehang maar net voordat die dood kon intree, is die strop van sy nek verwyder. Hy's op ’n folterbank uitgestrek, sy ingewande uit sy liggaam geryg, waarna hy onthoof en sy liggaam in vier kwarte opgekap is. Wallace se kop is ten aanskouing van die publiek op Londenbrug tentoongestel om as waarskuwing vir ander te dien, en die ander vier dele van sy liggaam is gestuur na Aberdeen, Berwick, Newcastle en Stirling – die ligging van sy grootste sege – ten einde daar in die openbaar vertoon te word.

Robert Bruce het intussen ernstige bedenkinge rakende sy steun aan die Engelse Kroon gehad. Dit het hoogs onwaarskynlik gelyk dat Edward ooit vir Robert koning van Skotland sou maak. Tydens die volgende jaar het Robert, waarskynlik merendeels in die geheim, algaande daarvan werk gemaak om bondgenote onder sleutel- Skotse baronne te werf, en uiteindelik was hy in staat om in Maart 1306 homself as koning te verklaar. (Hy sou tot 1329 heers.) Gelukkig vir Robert en die Skotte was Edward se troonopvolger, sy seun Edward II (r. 1307-1327), militêr ongeskik. Nadat Robert in Junie 1314 ’n groot oorwinning by Bannockburn behaal het, was hy in staat om die Engelse invallers stelselmatig en een kasteel op ’n slag uit Skotland te verdryf.

Nalatenskap

William Wallace was weg maar lank nie vergete nie en te danke aan epiese en hoogs geromantiseerde ballades soos The Acts and Deeds of Sir William Wallace, Knight of Elderslie, ca. 1470 deur óf Harry die Minnesanger, óf Blinde Harry geskryf, het sy legende aangehou groei. Dit is hierdie kleurryke ballade waarop die 1995-film Braveheart gebaseer is. Voorts is ’n belangrike geskiedenis van Wallace se lewe, History of William Wallace, in die 16de eeu geskryf, en in die 1860's is ’n Gotiese monument by Stirling opgerig om Wallace se prestasies te gedenk. Die toring staan steeds en is ’n indrukwekkende 67 m hoog. Laastens is ’n netjiese standbeeld van William Wallace en Robert Bruce – tot vandag toe twee van die vernaamste krygshelde van die Skotse geskiedenis – weerskante van die poorthuis van Edinburgh Kasteel opgerig, vandag steeds die simboliese hart van die koninkryk waarvoor hulle so hart geveg het om dit uit die beheer van buitelandse hande te hou.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2021, April 19). William Wallace [William Wallace]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16984/william-wallace/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "William Wallace." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 19, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16984/william-wallace/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "William Wallace." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 19 Apr 2021. Web. 27 Nov 2022.