Antieke Skotland

Vertaling Fondsinsameling

Ons visie: Gratis geskiedenisonderwys vir almal in die wêreld, in elke taal. Dit is inderdaad 'n verhewe doel, maar dit sal ons nie keer om daaraan te werk nie. Om daar te kom, moet ons vertaal... baie! Skenk asseblief vandag en help ons om 'n werklike globale impak te maak. Baie dankie!
$2107 / $3000

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 17 October 2012

Oorspronklike teks in Engels: Ancient Scotland

Scottish Highlands (by Moyan Brenn, CC BY-NC-SA)
Skotse Hoogland
Moyan Brenn (CC BY-NC-SA)

Skotland is 'n land wat vandag die noordelike deel van Groot-Brittanje beslaan en sluit die Hebride- en Orkney-eilande in. Die naam is afgelei van die Romeinse woord Scotti wat verwys na 'n Ierse stam wat die streek binnegeval en die koninkryk Dál Riada gestig het. Die aanspraak is egter ook al gemaak dat die land vernoem is na Scota, dogter van 'n Egiptiese Farao, wat met die Kelt Erimon, seun van Mil getroud is en in die land gaan woon het wat later Skotland sou heet.

Daarvoor het die land noord van die Hadrianusmuur aan die Romeine as “Kaledonië” en in Skotse Gaelies as “Alba” bekend gestaan. Die presiese betekenis van hierdie name en die etimologie daarvan bly 'n onderwerp van bespreking, alhoewel 'klipperige land' as waarskynlike kandidaat vir Kaledonië aan die hand gedoen is, en 'wit' die direkte vertaling van Alba is. Alhoewel dit duidelik is dat Alba op 'n tyd in die verre verlede na Groot-Brittanje in sy geheel verwys het, word die teorie betwis dat dit op die wit kranse van Dover betrekking het. Die vroeë Skotte het na die koninkryk van die Pikte as “Alba” verwys maar dié koninkryk was natuurlik in die noorde van Skotland, en nêrens naby Dover van Brittanje nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Vroeë bewoning deur mense

Die geskiedenis van antieke Skotland word vertel deur die regop klippe, antieke nedersettings en begraafplekke wat gebou is deur diegene wat in die streek woonagtig was. Voor die koms van die Romeine in 79/80 HJ bestaan geen geskrewe geskiedenis van die mense wat later as die Skotte bekend sou staan nie. Teen daardie tyd was die land reeds vir duisende jare bewoon gewees. Die argeoloog John Mercer het in die 1960's HJ vasgestel dat die klipsirkels wat by Lussawoud en die Mesolitiese nedersetting An Garn – albei op die eiland Jura in die Binne-Hebride – gevind is, die oudste klipstrukture in Skotland is. Dit dateer terug tot en met 7000 VHJ, met seisoenale vestiging in die gebied wat minstens tot 10500 VHJ terugstrek.

Nietemin is daar antieke liggings op die eiland Rum, verder noord, wat tot 7700 VHJ teruggevoer kan word, en die bekende terrein by Crammond naby Edinburgh dateer terug tot 8400 VHJ. Verdere bewyse getuig van Mesolitiese nedersettings (sommige seisoenaal) wat op nabygeleë Oronsay, by Kintyre, Luce Baai en verder aan in Fife gevind is, en die Paleolitiese terrein by Howburn Plaas in Biggar – alhoewel dit vir seker 'n seisoenale kamp was – dateer terug tot en met 12000 VHJ.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE GEBRUIK VAN KLIP MET DIE BOU VAN BEGRAAFPLEKKE HET UITGELOOP OP DIE KONSTRUKSIE VAN TERREINE WAAR REUSEMONOLIETE OPGERIG IS, WAT SINSPEEL OP 'N RITUELE GEBRUIK EN 'N ASTRONOMIESE INSTELLING.

Die Howburn Plaas-terrein dra die oudste getuienis uit die Laat Bo-Paleolitiese Tydperk van menslike besetting. Argeologiese bewyse doen aan die hand dat die digbegroeide woude van die streek aanvanklik vir die nedersetters onherbergsaam voorgekom het. Uit bewyse wat in puinhope (antieke rommelhope) gevind is, wil dit voorkom of nedersetters van vroeg af van visvang gelewe het maar dit toe verder van die kus af gewaag het om wild te jag. Getuienis van hulle jagbedrywighede spruit uit gewei- en beenoorskot wat by liggings soos Jura en Oronsay gevind is. Die Howburn Plaas-terrein dui op 'n seisoenale jagkamp wat herhaaldelik deur groot geselskappe besoek is maar nooit in 'n permanente gemeenskap ontwikkel het nie.

Mesolitiese terreine strek vanaf Orkney in die noorde tot onder by die Binne-Hebride. Teen 6000 VHJ het die inwoners bene en gewei as gereedskap gebruik. Die ring-en-koppiemerke wat op klippe by die An Carn-terrein, sowel as op ander uitgekerf is, getuig daarvan dat dit deur sodanige implemente gemaak is. Vuursteen was ook hierdie tyd in gebruik gewees. Dit word algemeen aanvaar dat die Mesolitiese mense nomadiese jagters en vissers was aangesien geen bewyse van permanente nedersettings al ontdek is nie; verder dui baie tekens op die nomadiese leefstyl, byvoorbeeld puinhope naby areas wat vir kampterreine skoongemaak is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Neolitiese Tydperk

Die Neolitiese inwoners het meer permanente nedersettings gebou waarvan een die bekende klipdorpie Skara Brae (ca. 3100 VHJ) is, sowel as die groter kompleks bekend as die Kaap van Brodgar (Ness of Brodgar) (ca. 3500 VHJ). Skara Brae is eers in 1850 HJ ontdek nadat 'n storm die sand weggewaai het waaronder die strukture bedek was, en is as die indrukwekkendste terrein uit die Neolitiese Tydperk beskou totdat uitgrawings in 2003 HJ by die Kaap van Brodgar begin het. Laasgenoemde beslaan 6,2 akker (2,5 ha) en uitgrawings word steeds daar gedoen.

Vanaf ongeveer 4000 VHJ het die Neolitiese mense die voorbeeld van die vroeëre Paleolitiese inwoners begin volg, en hulle huise en plase teen die kus gebou en uitgelê. Nietemin moet die huidige ligging van terreine naby die see nie vertolk word dat alle sodanige dorpies oorspronklik teen die kus gebou is nie aangesien gronderosie in ag geneem moet word; geologiese sowel as argeologiese bewyse doen aan die hand dat hierdie terreine verder na die binneland was as wat vandag die geval is.

Skara Brae, Orkney
Skara Brae, Orkney
Yellow Book (CC BY-NC-SA)

Daar is al aangevoer dat die Neolitiese mense Skotland deur middel van die see bereik het, waarskynlik van Skandinawië af. Die terrein by Kruin van Howar (Knap of Howar) op die eiland Papa Westray, Orkney was 3700-2800 VHJ bewoon en word as die oudste kliphuis in noordelike Europa beskou. Die afgeleë ligging daarvan op die kus van die eiland steun lankal die aanspraak dat Neolitiese mense van die see af gekom het om hulle op die kus te kom vestig maar, soos by ander sodanige terreine, was die opstal by Kruin van Howar oorspronklik verder binnelands. Na aanleiding van plekname en argeologiese stawing het vroeëre inwoners van Orkney byna vir seker van Skandinawië af gekom.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hierdie mense het hulle gemeenskappe gebou uit watter materiaal ook al byderhand was; derhalwe word klipkonstruksies soos die Kaap van Brodgar en Skara Brae in die noorde aangetref terwyl timmerhout vir geboue in die suide – waar hout meer volop was – gebruik is. 'n Voorbeeld van laasgenoemde is die Balbridie-houtsaal van Aberdeenshire. Die een aspek van hulle nedersettings wat regdeur die land konsekwent gebly het, is die konstruksie van begraafplekke wat uit klip gebou is. Klipstapels, grafheuwels, ganggrafte, geruimde tombes en grafhope, alles deur middel van die stapelklipmetode gebou – waarvolgens klippe knus teen mekaar geplaas is, sonder die gebruik van mortel – is regdeur Skotland ontdek.

Knap of Howar
Knap van Howar
Treesiepopsicles (CC BY-NC-SA)

Die gebruik van klip met die bou van begraafplekke het klaarblyklik 'n vaardigheid in sulke werk ontwikkel wat uitgeloop het op die konstruksie van terreine soos die Ring van Brodgar en die regop klippe by Stenness, albei in Orkney en naby die Kaap van Brodgar geleë, waar reusagtige monoliete opgerig is. Die terreine dui op 'n rituele gebruik, en 'n astronomiese instelling is duidelik; maar waaruit die rituele bestaan het, bly 'n geheim. Die konstruksie van sodanige terreine het daartoe gelei dat sommige geleerdes hierdie tydperk (3100-2500 VHJ) die “Megalitiese Tydperk” noem om dit van die vroeë Neolitikum te onderskei.

Die terreine bestaan uit 'n groot, ronde sloot wat die regop monoliete omring, met 'n buitenste sirkel houtstutpale wat moontlik 'n dak kon gesteun, of moontlik bloot gedien het om 'n soort “geestelike” klas wat die ritusse uitgevoer het, af te sonder van die algemene bevolking wat buite vergader het. Alle sodanige teorieë is gegrond op stutpaalgate wat met gereelde intervalle by die terreine aangetref word, sowel as organiese materiaal wat teruggevoer kan word na dieselfde tydperk as toe die klippe opgerig is. Enkele monoliete met die ring-en-koppiemerke daarop is al regdeur Skotland gevind, en is veral volop in die Aberdeenshire-streek.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Bronstydperk

Teen ongeveer 2500 VHJ het immigrante bekend as die Bekermense op die ooskus van Skotland begin aanland. “Bekermense” is die moderne etiket toegeken aan diegene wat die vervaardiging van erdewerk ontwikkel het, hoofsaaklik bekers waaruit heuningbier gedrink is. Voor 2500 VHJ is daar geen getuienis van erdewerk wat op hierdie besondere manier gebruik is nie. Voorts het die Bekermense die gebruik om die dooies saam met kos, drank en ander items wat in die hiernamaals benodig sou word, ruim beoefen – 'n gebruik wat die Neolitiese mense nie gevolg het nie – wat die teorie van 'n massamigrasie van Europa af verder staaf, eerder as 'n inheemse ontwikkeling van keramiekkuns.

Die volgende migreringsinvloed het die sogenaamde Bronstydperk (ca. 2000 VHJ) opgelewer aangesien brons vanaf Ierland, waar 'n oorvloed koper en tin 'n vroeë ontwikkeling in metaalwerk voortgebring het, aan Skotland bekend gestel is. Teen die Middel Bronstydperk (1400-900 VHJ) het gesofistikeerde tegnieke vir die giet van gereedskap en wapens in sandgietvorms wydverspreid voorgekom en terselfdertyd is die gebruik van klip vir die bou van huise deur timmerhout vervang. Houthuise het die landskap oorheers en die mense het hul dooies in grafte eerder as onder klipstapels begrawe.

Teen die Laat Bronstydperk (900-400 VHJ) het ambagsmanne pragtige metaalwerkartikels vervaardig soos die armbande, amulette, swaarde en dolke wat so algemeen in illustrasies en romanses van antieke Skotland uitgebeeld word. Handel het gedurende hierdie tyd gefloreer, veral met Skandinawië, Ierland (bekend as “Hibernië”) en die stamme in die suide in wat die Romeine “Britannië” genoem het.

Die Keltiese migrasie

In ongeveer 900 VHJ het die Keltiese migrasie vanaf Europa begin. Wie presies die Kelte was, word al eeue lank gedebatteer maar vermoedelik het hulle uit die Hallstatt- en La Tène-kultuur van sentrale Europa ontstaan, 'n gemene taal gedeel, en was hulle bedrewe in metaalwerk. Professor Sharron Gunn skryf,

Die meeste mense herken die kronkelende kurwes op spieëls, skilde en swaarde wat daarvoor bekend is dat dit deur Keltiese vakmanne geskep is. Sedert die 18de eeu HJ glo baie mense dat die Kelte hul ontstaan in Oostenryk en Switserland het, en dat hulle taal en kultuur met die uitvoer van hul ystertegnologie noord-, oos-, suid- en weswaarts versprei het. Daar is vermoed dat die metaalwerk van die Hallstatt- en later die La Tène-Ystertydperk die kenmerk van 'n Keltiese volk was. Maar nuwe navorsing het aan die lig gebring dat die Keltiese tale en spesifiek Gaelies moontlik in Iberië kon ontstaan het. (Celtic Guide, 9)

Die eerste bekende gebruik van die woord “Kelte” om hierdie mense te beskryf, kom van die Griekse aardrykskundige Hecateus van Milete in 517 VHJ se aanspraak dat die mense van die streek rondom hedendaagse Marseille as “Keltoi” bekend gestaan het.

Die Kelte het Ierland algaande gekoloniseer en toe na Skotland aanbeweeg. Van die feit dat hulle migrasie nie altyd vreedsaam was nie, getuig terreine soos Traprain Law, waar getuienis dui op 'n veldslag waartydens die fortifikasie van hout en klip teen so 'n hoë temperatuur gebrand het dat die klippe versmelt het. Houthuise en -dorpies het nou kwesbaar geraak vir die fakkels van die invallers en gemeenskappe het kragte saamgesnoer agter klipomheinings wat mettertyd in forte omskep is.

Die Kelte het ysterwerk in Skotland bekend gestel en so die Ystertydperk ingehuldig sodat brons as voorkeurmetaal versaak is. Potte, bekers, gereedskap en wapens van yster uit hierdie tydperk is in oorvloed gevind en dikwels is dit oënskynlik in aller yl begrawe, moontlik om dit teen 'n aanval op die dorpie te beskerm.

Gegrond op geskrifte uit ongeveer die 4de eeu VHJ, wil dit voorkom of die Kelte hulself Cruithne (die geverfdes) genoem het aangesien hulle hul gesig en liggaam dikwels gekleur het. In die Britoniese dialek van Kelties het hulle hulself Pruithne genoem wat met verloop van tyd Breatan en toe Briton geword het. Toe die Romeine baie jare later die noorde van Brittanje binnegeruk het, het hulle die boorlinge wat hulle daar teëgekom het Picti (geverf) genoem en sodoende die mense wat later as die Pikte bekend sou staan, van die Britons (Britte) onderskei. Die Kelte het hul eie gebruike en kultuur regdeur Skotland gevestig, en so die clan as familiestruktuur – onder leiding van 'n enkele opperhoof – ingestel, sowel as 'n klasstruktuur wat krygers bo-aan geplaas het, barde en handelaars in die middel en vakmanne, boere en slawe onder.

Klasstruktuur en nedersettings

Hierdie nuwe klasstruktuur en die konflik tussen clans oor grond het tot 'n nuwe ontwikkeling in die konstruksie van huise en dorpies gelei. Die crannog was 'n houtstruktuur wat op 'n mensgeskape eiland in 'n meer gebou is, en deur middel van 'n nou en maklik verdedigbare loopvlak aan die oewer verbind is. Baie van die skiereilande wat vandag in die lochs in Skotland gesien kan word, was eens crannogs en kan geïdentifiseer word aan die versigtige klipkonstruksie van die verhewe loopvlakke. Ander strukture was die brochs (van die Noorse borg vir “fort”), heuwelforte, duns, ondergrondse kamers of gange (souterrains), en wielhuise.

Brochs was torings wat van klip gebou is wat so hoog as 40 vt. (12 m) hoog kon staan. Die bekendste een is Mousa Broch in Shetland. Hulle is op dieselfde manier as Neolitiese huise gebou: stapelklipkonstruksie in 'n sirkulêre krommingontwerp met hol mure en 'n hooftrap wat van die grondverdieping opwentel na die hoër vlakke. Brochs het nie vensters gehad nie, en die enkele ingang blyk in baie gevalle bewaak te gewees het aangesien 'n vertrekkie dikwels aan die binnekant van die ingang geleë is, vermoedelik vir hierdie doel. Die plafonne is blykbaar laag gebou ten einde 'n besoeker te verhoed om heeltemal orent te kom, en sodoende in 'n gedwonge posisie van nederigheid te bly.

Crannog, Loch Tay, Scotland
Crannog, Loch Tay, Skotland
Val Vanet (CC BY-SA)

Die duns was eenvoudig klipforte wat teen heuwelhellings opgerig is, terwyl souterrains ondergrondse wonings was waartoe toegang deur middel van 'n kliptrap in die aarde verkry is. Souterrains was oor die algemeen onstabiel en die meeste daarvan het ineengestort en is verlaat. Die wielhuis (so genoem weens die wielvormige ontwerp daarvan) staan ook bekend as 'n gebeukte rondehuis, en weens die uitvoerige ontwerp en die oënskynlik klein woonruimte word daar baie gedebatteer of hulle individuele tuistes of een of ander soort tempel was.

Die bekendste hiervan is die Grimsay-wielhuis in Uists. Uit klip en dikwels teen 'n heuwelhang, of ín een in gebou, het die wielhuis, net soos die broch, net een ingang gehad en is dit blykbaar met verdediging as prioriteit gebou (alhoewel, soos baie geleerdes deur die jare daarop gewys het, kon 'n vyand enigeen van die wielhuise deur middel van 'n beleg of rook oorgeneem het). Met die aankoms van Rome was hierdie geboue die vernaamste woonplekke van die mense.

Die Romeinse inval

Rome se eerste inval van Brittanje was in 55 en 54 VHJ deur Julius Caesar maar het in 43 VHJ effektief onder keiser Claudius begin. In 79/80 HJ het Julius Agricola, Romeinse goewerneur oor Brittanje, Skotland binnegeval en teen 82 HJ het hy opgeruk na 'n lyn tussen die Clyde- en Forthrivier. Nadat hy fortifikasies gevestig het, het hy noordelike Skotland in 83 HJ ingeruk en is by Mons Graupius deur die Piktiese leier Calgacus die stryd aangesê.

Die historikus Tacitus het die veldslag in 98 HJ in sy werk Agricola aangeteken en sodoende die eerste persoon geraak wat Skotse geskiedenis op skrif gestel het. Agricola se 9de Legioen van 11 000 man het Calgacus se leër van 30 000 verslaan en met 10 000 Pikte wat in die stryd gesterf het, het Agricola hom op 'n groot oorwinning geroem. Nietemin kon die Romeine nie beheer oor die streek handhaaf nie en hulle het in 122 HJ teruggetrek na 'n posisie tussen die Solway- en Tynerivier – 'n lyn wat uiteindelik deur die Hadrianusmuur gemerk sou word.

In 139 HJ het die Romeine Skotland weereens binnegeval en weer tussen die Clyde- en Forthrivier stelling ingeneem. In 142 HJ het hulle die Antonynse Muur gebou en fortifikasies daarlangs opgerig. Maar teen 170 HJ het die streek te veel moeilikheid opgelewer sodat hulle weer suid tot agter die Hadrianusmuur teruggetrek het. Alhoewel die keiser Septimus Severus in 208 HJ nog 'n inval sou loods, was sy poging om die mense van Skotland te verpletter niks suksesvoller as die vorige veldtogte nie; in 212 HJ het Rome uiteindelik heeltemal uit die noordelike streek, en in 410 HJ geheel en al uit Brittanje onttrek.

Hadrian's Wall Gate
Poort van Hadrianus se muur
phault (CC BY)

Voor en ná Rome se onttrekking het die Scotti-stam uit Ierland 'n inval van Skotland begin loods en uiteindelik die koninkryk Dál Riada gestig wat vanaf Noord-Ierland tot bo in die Buite-Hebride en die oostelike kant van Skotland gestrek, en Argyll ingesluit het. Die historikus Bede voer aan dat die naam Dál Riada (vandag algemeen gebruik as “Dalriada”) 'Reuda se deel' beteken aangesien Dál 'deel' of 'porsie' beteken, en Riada 'n persoonsnaam is. Die koninkryk Dál Riada het die lande wat suidelike Skotland behels in ongeveer 500 HJ verower en sy kruin onder heerskappy van die koning Áedán mac Gabráin bereik wat van 574 HJ tot 608 HJ geheers het.

Ná die bewind van mac Gabráin is die koninkryk deur Viking-strooptogte oorrompel, en ondertrouery het 'n bevolking van gemengde Ierse, Piktiese en Viking-afkoms geskep. Onder 'n reeks konings wat hul outonomie behou het, het die Pikte die noordelike deel van Skotland aangehou regeer. Die Pikte en die Skotte is eers onder die bewind van Constantin, seun van Fergus (780-820 HJ) verenig; hy was die eerste monarg van die Skotte wat “Opperkoning” oor Skotland genoem is. Maar die bekendste koning om die septer oor hierdie koninkryk te swaai, was Kenneth MacAlpin (r. 843-858 HJ) wat die Skotte van Dál Riada verder met die Pikte van die noorde verenig het om die eerste koning van Skotland te word, en 'n bloedlyn daargestel het waarvolgens latere Skotse monarge hul regmatigheid sou staaf.

Dat daar 'n geskiedkundige figuur genaamd Kenneth MacAlpin was, is ongetwyfeld maar oor die eeue heen is sy storie baie aangedik sodat hy vandag as half legendaries beskou word. Tussen die tyd van die Romeinse invalle in Skotland en MacAlpin se bewind as die eerste koning het Christendom met Ierland langs sy opwagting in Skotland gemaak deur die evangeliese werk van Ninian (later St. Ninian). Volgens Bede was Ninian die eerste sendeling wat in 397 HJ in die land aangeland het om Christendom tydens die heerskappy van die Piktiese koning Drest I (r. 406-451 HJ) onder die Pikte te vestig.

Ninian se werk is later in ca. 563 HJ voltooi deur St. Columba wat, volgens legendes en sy biograaf, baie verstommende werke verrig het wat die Pikte oortuig het om hulle tradisionele oortuiginge te versaak en Christendom as hul nuwe geloof te aanvaar. Onder hierdie werke word gereken die oorwinning wat hy behaal het oor 'n monster wat vanuit die Ness Rivier verrys het om die plaaslike inwoners te verslind – dit is die eerste geskrewe melding wat gemaak word van die kreatuur wat later as die Loch Ness-monster bekend sou staan. Die opkoms van Christendom het met 'n toename in geletterdheid onder die kerklui gepaardgegaan, en weldra het die eerste geskrewe rekords van die geskiedenis van Skotland te voorskyn begin kom.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2012, October 17). Antieke Skotland [Ancient Scotland]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-103/antieke-skotland/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Antieke Skotland." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig October 17, 2012. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-103/antieke-skotland/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Antieke Skotland." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 17 Oct 2012. Web. 09 Dec 2021.