Hadrianus se muur

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$890 / $3000

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 15 November 2012

Oorspronklike teks in Engels: Hadrian's Wall

Hadrian's Wall (by zoonabar, CC BY)
Hadrianus se muur
zoonabar (CC BY)

Hadrianus se muur (in die Oudheid as die Vallum Hadriani of die Vallum Aelian bekend) is ’n defensiewe grenswerk in noordelike Brittanje wat uit 122 HJ dateer. Die muur het ’n afstand van 120 km van kus tot kus gestrek. Alhoewel dit algemeen aanvaar word dat die muur gebou is om die grenslyn tussen Brittanje en Skotland aan te dui, is dit nie die geval nie; niemand weet wat die werklike motivering agter die konstruksie van die muur was nie maar dit was nié om die grens tussen twee lande aan te toon nie.

Alhoewel die muur wel die noordelike grens van die Romeinse Ryk in Brittanje op daardie tydstip aangedui het, wissel teorieë oor die doel van so ’n massiewe bouprojek – van ’n poging om immigrasie te beperk tot die beheer van smokkelhandel, en om die inheemse volke noord van die muur in bedwang te hou. Die muur is tot in die vroeë 5de eeu HJ gebruik, toe dit prysgegee en agtergelaat is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Doel

Weens die lengte van die muur en die plasing van fortifikasies daarlangs is die militêre doeltreffendheid van die muur deur die jare al deur baie vakkundiges bevraagteken. Die argument is dat, indien die muur wel as ’n defensiewe verskansing gebou is, dit anders en elders gebou sou gewees het. Hieroor skryf professor Scarre en Fagan:

Argeoloë en geskiedkundiges debatteer al lankal daaroor of Hadrianus se muur ’n doeltreffende militêre verskansing was … Maar wat ook al die militêre doeltreffendheid daarvan was, dit was duidelik ’n geweldige simbool van Romeinse militêre mag. Hadrianus se biograaf merk op dat die keiser die muur gebou het om die Romeine van die barbare te skei. Op dieselfde manier het die Chinese die Groot Muur gebou om China van die barbaarse volke van die steppe in die noorde te skei. Buiten enige militêre funksie, het albei fisiese grense in die oë van die bouers daarvan ook gedeug om die konseptuele skeiding tussen beskaafde en niebeskaafde volke tuis te dryf. Albei mure het deel van die ideologie van ’n ryk gevorm. (Ancient Civilizations, 313)

DERHALWE BLYK DIE BEWERING DAT HADRIANUS SE MUUR GEBOU IS OM DIE VOLKE VAN DIE NOORDE OP EEN OF ANDER MANIER TERUG TE HOU OF TE BEHEER, NIE SO WAARSKYNLIK TE WEES AS DAT DIT AS MAGSVERTOON OPGERIG IS NIE.

Dit blyk die beste verduideliking van die motief onderliggend aan die konstruksie van Hadrianus se muur te wees. Die Romeine het sedert hulle verowering van Brittanje met insurreksies in die streek te kampe gehad. Alhoewel Rome se eerste kontak met Brittanje tydens Julius Caesar se ekspedisies in 55/54 VHJ daar was, het Rome nie tot en met die jaar 43 VHJ onder keiser Claudius (r. 41-54 HJ) met enige sistematiese verowerings van die gebied begin nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Boudicca van die Iceni se opstand in 60/61 HJ het daartoe gelei dat baie Romeinse burgers afgemaai en vername stede (onder andere, Londinium – moderne Londen) vernietig is, en volgens die geskiedkundige Tacitus (56-117 HJ) het dit vir die Romeine die barbaarse weë van die Britte gedemonstreer.

Boudicca se magte is in 61 HJ deur generaal Gaius Suetonius Paulinus by die Slag van Watlingstraat verslaan. By die Slag van Mons Grappius, in die geweste wat nou as Skotland bekend staan, het die Romeinse generaal Gnaeus Julius Agricola in 83 HJ ’n beslissende oorwinning oor die Kaledoniërs onder aanvoering van Calgacus behaal. Albei hierdie veldslae, sowel as die insurreksie wat in 119 HJ deur die Romeinse goewerneur en generaal Quintus Pompeius Falco in die noorde onderdruk is, bied voldoende bewys dat die Romeine beslis opgewasse was om die inheemse volke van Brittanje in toom te hou.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Derhalwe blyk die bewering dat Hadrianus se muur gebou is om die volke van die noorde op een of ander manier terug te hou of te beheer, nie so waarskynlik te wees as dat dit as magsvertoon opgerig is nie. Hadrianus se buitelandse beleid was deurlopend “vrede deur mag” en die muur sou ’n indrukwekkende tentoonstelling van daardie beginsel gewees het. Op dieselfde manier wat Julius Caesar in 55 VHJ sy bekende brug oor die Ryn gebou het om eenvoudig te demonstreer dat hy, en dus Rome, enige plek kon gaan en enigiets kon vermag, het Hadrianus moontlik sy muur vir dieselfde doel laat bou.

Hadrian's Wall Gate
Poort van Hadrianus se muur
phault (CC BY)

Oorsprong en konstruksie

Hadrianus (gebore Publius Aelius Hadrianus, (l. 76-138 HJ, r. 117-138 HJ) was onder die mees praktiese keisers in die geskiedenis van die Romeinse Ryk. Tydens sy bewind het Hadrianus byna elke provinsie van die ryk besoek, en die persele wat hy vir sy projekte wou gebruik persoonlik geïnspekteer en goedgekeur. Hy het in 122 HJ na Brittanje gereis waar goewerneur Falco in die noorde sy gasheer was en saam met wie hy deur die geweste van die muur sou gereis het waarvan die konstruksie moontlik reeds begin het.

Hadrianus se bouprojekte, veral dié in Griekeland, is legendaries en sy voorliefde vir ambisieuse monumente word in sy gelyknamige muur vergestalt. Die werk is in die ooste met klip begin (anders as ander fortifikasies wat met hout begin is), en het weswaarts oor ongelyke terrein gevorder om ’n indrukwekkende weerspieëling van die mag van Rome te skep.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Oorspronklik was die muur oos van die Irthingrivier 3 m wyd en 6 m hoog, alles van klip gebou, en 6 m wyd en 3,5 m hoog wes van die rivier, gebou uit klip en turfgrond, en het dit 120 km oor die breedte van die land gestrek. Arbeid van die Romeinse legioene wat in Brittanje gestasioneer was, is gebruik sodat hierdie ambisieuse bouprojek binne ses jaar voltooi is. Planne vir die konstruksie van die muur was reeds voor Hadrianus se besoek aan Brittanje in 122 HJ gereed en konstruksie het moontlik begin vóór die datum wat tradisioneel vir die aanvanklike werk aan die muur toegeken word – moontlik so vroeg soos 118 HJ.

Defensiewe fortifikasies

Daar was 14 tot 17 fortifikasies al langs die lengte van die muur, sowel as ’n vallum (’n sloot wat doelbewus uit aardwerk opgerig is) wat ewewydig aan die muur geloop het. Die vallum was 6 m wyd by 3 m diep en is aan weerskante begrens deur groot hope grond wat dig saamgepers is. Dit is hierdie samestelling van die terrein wat aanleiding gegee het tot die tradisionele interpretasie van die muur as ’n defensiewe fortifikasie wat gebou is om aanvalle vanuit die noorde af te weer. Hierdie fortifikasies was met Romeinse troepe beman en daar is vasgestel dat hierdie soldate by skermutselings met die boorlinge van die grensgebied betrokke was. Vakkundige Nigel Rodgers (177) merk op dat

[o]ngeveer 15 000 hulptroepe met die muur langs of in die omgewing ontplooi is. Die meeste is nie daarlangs versprei nie maar in kampe van 500 of 1 000 man gekonsentreer – soortgelyk aan ’n opstal of plaaswerf – van waar hulle uitgeruk het om indringers vas te vat. Die muur was nie ’n digte, ondeurdringbare grenswerk nie maar die doel daarvan was eerder om verkeer te beheer en die plaaslike bevolking te beïndruk. Forte soos Hoë Rochester, 48 km noord, het as voorpos diens gedoen terwyl versterkings van die legioenvesting by York in die suide ontbied kon word.

Hadrian's Wall Milecastle 37
Mylfort 37, Hadrianus se muur
Carole Raddato (CC BY-SA)

Daar was dus duidelik ’n defensiewe aspek aan die muur maar dit blyk steeds nie die primêre doel daarvan te gewees het nie. Trouens, die vallum wil nie eers voorkom of dit vir defensiewe doeleindes gebou is nie. Vakkundiges Lesley en Roy A. Adkins (98) noem dat die vallum “waarskynlik as ’n grensmerker gedien het om burgerlikes weg te hou”. Hierdie aanspraak strook met die toenemende vakkundige konsensus dat die muur eintlik as ’n simboliese gebaar – ’n dramatiese verklaring van Rome se mag – bedink is, eerder as ’n verdedigingslinie of ’n manier om onwettige immigrasie ernstig hok te slaan.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hadrianus en Antoninus se muur

Soos wat blyk uit die vallum se afwisseling van bestaande ruïnes en die duidelike aanduiding van verhewe loopweë wat beurtelings oor die sloot aangebring is en met gevestigde fortifikasieliggings ooreenstem, is die vallum gebou nadat die muur en forte opgerig is. Toe Antoninus se muur in ca. 142 HJ verder noord deur keiser Antoninus Pius gebou is, wil dit voorkom of die vallum gedeeltelik opgevul is om makliker deurgang te verseker. Antoninus se muur is verder noord in die hedendaagse Skotland, tussen die Forth- en Clyde-riviermonding gebou nadat Hadrianus se muur as voorpos ontruim en agtergelaat is.

Die Antonynse muur is moontlik weens dieselfde rede as Hadrianus se muur gebou maar het waarskynlik ’n meer pragmatiese rol as sy voorganger gespeel. Hadrianus se muur was vermoedelik bepleister en oorgekalk sodat dit ’n glansende baken van Rome se mag sou wees, sigbaar vanaf ’n aansienlike afstand. Die Antonynse muur sinspeel nóg op dieselfde grootsheid nóg – ten spyte van die vele fortifikasies daarlangs – op dieselfde bedoeling in ontwerp en konstruksie.

Keiser Markus Aurelius (r. 161-180 HJ) het tydens sy bewind die Romeinse legioene van die Antonynse muur na Hadrianus se muur laat terugtrek en die garnisoene gefortifiseer in sy poging om die grense van die Ryk te behou. Hadrianus se groot monument tot die mag van Rome het tot 410 HJ as indrukwekkende bekragtiging voortbestaan toe die Romeinse legioene Brittanje verlaat het. Volgens argeologiese bevindings het bedrywighede in die omgewing van die muur voortgeduur maar ná 410 HJ is daar geen aanduiding by enige van die twee mure, of deur Brittanje oor die algemeen, van ’n gedissiplineerde Romeinse teenwoordigheid nie.

Ten slotte

Ná die Romeinse onttrekking is groot dele van die muur vir persoonlike bouprojekte deur die plaaslike inwoners weggedra maar dit wil voorkom of die bouvalle van die muur deur die Britse magte gebruik is wat dit beset het. In die 6de en 7de eeu HJ is klippe van die muur so ver weg as die koninkryk van Northumbria gebruik, en sommiges kan in die Monkwearmouth-Jarrow Abdy gesien word. In die eeue wat gevolg het, is die muur verder vir ander projekte afgetakel. Groot dele is verwyder om plaveisel te verskaf vir die Britse troepe wat in 1745 HJ noordwaarts opgeruk het om die Jakobitiese opstand te gaan onderdruk.

Was dit nie vir die ywer van een man, die oudheidkundige John Clayton (1792-1890 HJ), wat in 1834 HJ grond rondom die muur begin koop het in ’n poging om dit te behou nie, kon Hadrianus se muur dalk al geheel en al verdwyn het. Clayton se uitgrawings en entoesiasme vir die perseel het dit wat van Hadrianus se muur oorbly, ongeskonde gehou en in 1987 HJ is dit deur UNESCO as wêrelderfenisgebied verklaar. Vandag is dit onder die sorg van die Engelse erfeniskommissie en word dit merendeels versorg deur vrywilligers wat die ongelooflike geskiedkundige betekenis daarvan erken.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2012, November 15). Hadrianus se muur [Hadrian's Wall]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11580/hadrianus-se-muur/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Hadrianus se muur." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig November 15, 2012. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11580/hadrianus-se-muur/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Hadrianus se muur." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 15 Nov 2012. Web. 26 Nov 2021.