Hadrianus se reise

Artikel

Carole Raddato
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 10 December 2021
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans
X

Geen ander Romeinse keiser het soveel soos Hadrianus (r. 117-138 HJ) gereis nie, en hierdie “rustelose” keiser het meer tyd aan reis as in Rome bestee, met die helfte van sy bewind van 21 jaar aan inspeksies van die provinsies gewy. Sy reise het hom moontlik van die politieke middele voorsien om die Romeinse Ryk te verenig maar hy is dalk ook persoonlik deur sy onblusbare nuuskierigheid, filhellenisme en sy liefde vir reis gemotiveer.

The Travels of Hadrian and the Roman Empire c. 125 CE
Hadrianus se reise deur die Romeinse Ryk, ca. 125 HJ
Simeon Netchev (CC BY-NC-SA)

Herinneringe aan Hadrianus is onlosmaaklik gekoppel aan sy lang administratiewe reise regdeur die ryk. Die skrywer van die Historia Augusta vertel ons dat die keiser so dol oor reis was dat hy homself graag persoonlik wou inlig oor alles wat hy van alle dele van die wêreld gelees het (HA Hadr. 17.8). Die Christenskrywer Tertullianus (155-210) verwys na Hadrianus as “omnium curiositatum explorator” (Apology 5.7), ’n ontdekker van alle merkwaardighede. Cassius Dio (ca. 164 tot ca. 229/235) skryf: “Hy het alles persoonlik beskou en ondersoek.” (69.9.2)

Verwyder Advertensies
Advertensie

Hadrianus se reise het egter nie bloot voortgevloei uit ’n hedonistiese swerflus nie. Hy was ’n vaardige administrateur en ’n bevoegde militêre bevelvoerder. Sy reise was deel van ’n wêreldwye beleid wat daarop gemik was om die westelike en spesifiek die oostelike provinsies te inspekteer, en om plaaslike gemeenskappe deur middel van skenkings te ondersteun. Hadrianus word moontlik as passievolle intellektueel met ’n onversadigbare nuuskierigheid en honger na ontdekking uitgebeeld, maar hy was ook ’n man wat vasberade was om sy provinsies te herinner wie in beheer was.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Die reisende keiser

HADRIANUS SE BEWIND IS GEKENMERK DEUR ’N RITS LANG TOGTE WAARTYDENS HY BYKANS ELKE PROVINSIE VAN SY RYK BESOEK HET.

Hadrianus se bewind word deur ’n rits lang toere gekenmerk waartydens hy bykans elke provinsie van sy ryk besoek het. Kontemporêre vakkundiges het al baie aandag daaraan gewy om presies te bepaal waarheen Hadrianus gegaan het en om die reisplanne van sy drie vername togte te probeer bepaal, en te danke aan bewyse gelewer deur skrywers van die Oudheid, inskripsies, munte en papirusgeskrifte is dit nou moontlik.

Hadrianus se eerste omvattende reis word dikwels vergeet aangesien dit heel aan die begin van sy bewind plaasgevind het – tussen sy troonsbestyging in Augustus 117 en sy aankoms in Rome in Julie 118. Hadrianus het tyd in die Siriese hoofstad deurgebring en ’n nuwe militêre en diplomatiese orde gevestig wat die onttrekking van troepe uit Trajanus (r. 987-117) se nuut verowerde provinsies oorkant die Eufraat behels het, sowel as om Mesopotamië en Armenië aan hul vasalkonings terug te besorg. Ten tye van Trajanus se afsterwe was die Romeinse Ryk op sy heel grootste. Die nuwe keiser was besig om die grense in die ooste te beveilig waar die verowerde gebiede moeilik was om te hou en te verdedig.

Verwyder Advertensies
Advertensie

[image14936]

Hadrianus het deur die een provinsie ná die ander gereis, die verskillende streke en stede besoek, en by al die garnisoene en forte aangedoen. Sommiges van hierdie het hy na gunstiger liggings verskuif, sommiges het hy mee weggedoen en hy het ook ’n paar nuwes gevestig.

Cassius Dio 69.9.1

Hy het Antiochië in die herfs verlaat maar het nie reguit na Rome teruggekeer nie. Pleks daarvan het hy na die Donaugrens gereis vir vredesonderhandelinge met die koning van die Roxolani, ’n Sarmatiese stam wat ’n offensief geloods en die limes (grenslyn) aangeval het. Volgens die Historia Augusta het Hadrianus met Illyricum langs na Rome teruggekeer en in hierdie buitengewone geval is dit danksy epigrafiese bronne moontlik om sy gang vir ’n paar dae na te spoor. Van 12 tot 18 Oktober was Hadrianus op die Via Tauri tussen Silisië en Kappadosië, en vanaf laat Oktober tot 11 November het hy hom op die pad van Ankara na Juliopolis in Bithinië bevind.

Gate of Hadrian,  Antalya
Hadrianus se poort, Antalja
Carole Raddato (CC BY-NC-SA)

Tussen 121 en 125 het Hadrianus na Romeinse Gallië en deur die noordwestelike provinsies in Germanië en Romeinse Brittanje gereis; hier het hy ’n paar maande lank nuwe grense vir die ryk vasgestel. In 123 het hy hom in Tarraco (hedendaagse Tarragona) in noordelike Spanje bevind en daarna het hy in reaksie op tyding van gevaar ooswaarts na die Siriese hoofstad gereis en ’n vreedsame skikking met die Parthiese koning bereik. In 123-124 het Hadrianus deur verskillende dele van Klein-Asië rondgetoer. Hy het toe na Athene teruggekeer waar hy ’n ambisieuse bouprogram befonds en Delphi besoek het, en te Eleusis by die Eleusiniese misterieë ingewy is. ’n Paar jaar later het die keiser in 128 na die Afrikaprovinsies gevaar en daarna weer ooswaarts koers gekry. Hy het na Griekeland teruggekeer en met ’n reis na Palmyra het hy sy skrede na die oostelike grens gewend. In 130 het hy onderweg na Egipte deur Judea en Arabië gereis. In 132 het ’n reis na Judea gevolg toe hy die Bar-Kochba-opstand onder beheer moes bring.

Hadrian Arriving in Palmyra
Hadrianus arriveer in Palmyra
Ancient History Magazine / Karwansaray Publishers (Copyright)

Hadrianus het weens sy natuurlike nuuskierigheid en ’n onwrikbare toegeneentheid tot die Ooste gereis maar sy tydperke van lang afwesigheid in Rome was deel van ’n wêreldwye beleid wat daarop gerig was om die enorme ryk te verenig en te stabiliseer, en ook om sy keiserlike gesag te konsolideer. Deur die provinsies te inspekteer, plaaslike gemeenskappe te ondersteun en ’n regstreekse skakel tussen die keiser en sy onderdane te skep, het Hadrianus aangedui dat hy ’n man van vrede was en dat hy voorspoed kon waarborg.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Die uitdagings van reis

Reis was nie ongewoon in die Romeinse tydperk nie en het hoofsaaklik met óf militêre óf kommersiële bedrywighede verband gehou. Vóór Hadrianus het krygerkeisers soos Augustus (r. 27-14 VHJ) en Trajanus hulle ryk vir verdere verowerings besoek. Teen die tyd dat Hadrianus aan bewind gekom het, het hy reeds na ’n groot deel van die Romeinse wêreld gereis. Die vroeë loopbaan van baie senators het militêre diensplig buite Italië en gewoonlik die bestuur van ’n provinsie behels. Hadrianus het op 19-jarige ouderdom as militêre tribuun by die legioen aangesluit, en is na die garnisoen van Pannonië se legioene gestuur. Hy het nog twee tribunate beklee – in Oescus in hedendaagse Bulgarye, en toe in Mogontiacum (Mainz, Duitsland).

Later het Hadrianus vir die meeste van die militêre veldtogte onder aanvoering van Trajanus saam met die legioene van die Daciese Oorloë diens verrig. In 106-108 het hy as provinsiale goewerneur na Pannonië teruggekeer. In 112 is hy na Athene en het hy tyd as eponieme argon, die hoogste magistraat in Athene, daar deurgebring. Aan die einde van 113 het Hadrianus vir Trajanus ooswaarts op ’n noodlottige ekspedisie teen Parthië gevolg. Hy het goewerneur van Sirië geraak en sy hoofkwartier in Antiochië gevestig waar hy in Augustus 117, ná Trajanus se dood in Silisië (suidelike Turkye) die bewind in hande geneem het.

Arch of Hadrian, Tyre
Hadrianus se boog, Tirus
Carole Raddato (CC BY-NC-SA)

Die doeltreffende kommunikasiestelsel en die gesofistikeerde vervoernetwerk bestaande uit pad-, see- en rivierroetes het hierdie togte moontlik gemaak. Die vehiculatio (soms ook cursus publicus genoem) – die keiserlike vervoerstelsel deur Augustus gestig – het ook ’n noodsaaklike rol vervul om staatskommunikasie en reis op die hoofverkeersweë van die ryk te beveilig. Inligting, goedere en dienste kon met die hoofpaaie langs vervoer word, en ’n stelsel met stopplekke teen gereelde intervalle (mansiones) het tydens die Romeinse keiserlike tydperk ontwikkel. Nog ’n stelsel bestaande uit tussenstasies, die mutationes, het voertuie en diere bedien. Hulle het ongeveer elke 19 km (12 myl) op die Romeinse paaie voorgekom en oornagverblyf, stalle en verversings voorsien. Onderhoud van hierdie keiserlike posdiens was egter buitengewoon veeleisend en ’n verantwoordelikheid waarmee die plaaslike gemeenskappe gewoonlik belas is. Hadrianus was besorg oor die doeltreffende werking van die vehiculatio en het die stelsel herorganiseer en volle keiserlike beheer oorgeneem, en sodoende provinsiale verantwoordelikhede afgeskaf.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Roman Road in Ambrussum, a Roadside Town in Gaul
Romeinse pad in Ambrussum, ’n dorpie langs die pad in Gallië
Carole Raddato (CC BY-NC-SA)

Hadrianus het by talle plekke op hierdie roete aangedoen en die enigste oorgeblewe reisplan van sy togte tussen Silisië en Kappadosië onthul dat hy teen ’n redelike pas van ongeveer 37 km per dag gereis het, vergeleke met die gewone spoed van die vehiculatio van gemiddeld 45 km per dag. Cassius Dio (69.9.3) meld dat Hadrianus ter alle tye geloop of ter perd gereis het, nie een keer tydens hierdie tydperk sy voet in óf ’n strydwa óf ’n vierwielvoertuig gesit het nie, en dat hy, selfs in gure weer, altyd kaalkop geloop het. Aurelius Victor (ca. 320 tot ca. 390) voeg by dat hy te voet die rondte in al die provinsies gedoen het en die begeleidende gevolg agter hom gelaat het (Epitome de Caesaribus 14.4-5).

[Hadrianus] het nie net na ysige lande gereis nie maar ook na ander lande in suidelike liggings, ten einde die provinsies te beveilig wat anderkant die Eufraat- en Donaurivier lê, en wat deur Trajanus vir die Romeinse Ryk geannekseer is.

Fronto, Principia Historiae 11

Denarius Commemorating Hadrian's Return to Rome in 118 CE
Denarius wat Hadrianus se terugkeer na Rome in 118 gedenk
Carole Raddato (CC BY-NC-SA)

Aansienlike voorbereiding en bemeestering van logistiek was kritiek om die sukses van Hadrianus se besoeke aan die provinsies te waarborg. Verskuiwing van die keiserlike hof het grootskaalse logistieke ondersteuning behels. Hadrianus se reisgevolg kon soveel as 5 000 individue insluit, onder meer sy vrou en haar personeel, keiserlike sekretarisse, persoonlike vriende en raadgewers, beamptes, diensknegte, wagte, argitekte en ambagslui, maar ook geletterde manne en vroue. Dit was die Romeinse regering aan die beweeg, ’n kolossale reisende hof wat ’n swaar tol geëis het van die hulpbronne van die gebied waardeur dit reis.

Dokumentêre bronne toon aan dat omvattende voorbereidings baie maande voor die tyd begin tref moes word. ’n Papirusgeskrif getuig daarvan dat voor Hadrianus se aankoms in Egipte in 130, die stad Oxyrhynchus ruimskoots kosvoorraad opgegaar het, insluitend 372 suipvarkies en 2 000 skape, sowel as dadels, gars, olywe en olyfolie. Hadrianus is deur ’n groot groep petisionarisse gevolg in die hoop dat hulle hul penarie aan hom kon stel. Een bekende staaltjie word deur Cassius Dio verhaal: ’n Vrou het Hadrianus met ’n versoek genader. Eers sê hy vir haar hy's te besig maar sy antwoord, “Hou dan op keiser wees!”, waarna hy omdraai en haar te woord staan. Dio vertel ons ook hoe Hadrianus daarvan gehou het om as gewone burger rond te reis en as soldaat te lewe, en persoonlik by die opleiding van sy manne betrokke geraak het.

Na die westelike provinsies (121-123 HJ)

HADRIANUS SE MOTIVERING VIR SY BESOEK AAN GERMANIË WAS OM DIE MILITÊRE INSTALLASIES TUSSEN DIE RYN EN DIE DONAU TE INSPEKTEER, EN ’N NUWE GRENS VIR DIE RYK OP TE RIG.

Hadrianus het minder as drie jaar in Rome deurgebring voordat hy op ’n ambisieuse toer van die provinsies vertrek het. Hy het sy skrede noordwaarts na die Germaanse streke gewend en deur Gallië gereis. Hadrianus het waarskynlik by Massilië (Marseille) geland en met die Rhônerivier op gevaar na Lugdunum (Lyon), voordat hy verder na Mogontiacum, hoofstad van Germania superior, gereis het waar hy moontlik oorwinter het. Hadrianus se motivering vir sy besoek aan Germanië was om die militêre installasies tussen die Ryn en die Donau te inspekteer en vir die ryk ’n nuwe grens – die sogenaamde Hoër Germaans-Retiese Perke – op te rig. Die limiet van die ryk moes deur ’n ononderbroke houtpalissade gemerk word wat van die Main- tot by die Neckarrivier gestrek het. Hadrianus het die legioene se standplaas besoek en saam met die troepe gewoon, hulle basiese militêre dieet gedeel en soos ’n Romeinse legioensoldaat in die buitelug geëet. Hy was ook daaroor besorg om die soldate fiks en aktief te hou en het daarop aangedring dat strawwe opleidingsprogramme ingestel word om dissipline onder die soldate opnuut aan te wakker. Tydens sy verblyf in Germanië het Hadrianus ook die provinsies Retië en Noricum besoek.

The Journey of Hadrian 121-125 CE
Hadrianus se reis, 121-125
Simeon Netchev (CC BY-NC-SA)

Hadrianus en sy gevolg het toe na Brittanje vertrek om die grensstelsel regoor die noorde van Engeland te beveilig. Die keiser het op ’n opstand van die Keltiese Brigantes gereageer wat vroeër aan die begin van sy bewind uitgebreek en die leër aansienlike verliese toegedien het. Besonderhede van Hadrianus se doen en late in die provinsie is ontsettend vaag aangesien ons oor geen rekord beskik van waarheen hy gegaan het nie. Die enigste verwysing in antieke literatuur na Hadrianus se muur en sy optrede in Brittanje kom uit die Historia Augusta. Die skrywer vertel ons dat Hadrianus baie dinge reggestel het en die eerste een was om ’n muur, 80 myl lank, van see tot see te bou om die barbare van die Romeine te skei (HA Hadr. 11.2). Die muur het oor die breedte van Brittanje, van Wallsend aan die oewer van die Tynerivier in die ooste tot by Bowness-on-Solway in die weste gestrek, met verdere verdedigingswerke langs die kus van Cumberland.

Hadrian's Wall, Milecastle 39
Hadrianus se muur, Milecastle 39
Carole Raddato (CC BY-SA)

Hadrianus se muur is noord van die bestaande linie forte en ander militêre installasies gebou, met bewaakte poorte elke 1,5 km en uitkyktorings elke 500 m. Veertien forte is uiteindelik by die muur gevoeg wat elkeen deur 500-1 000 hulptroepe beman is, met ’n aardwerk na die suide wat as die vallum bekend gestaan het. Hierdie groot fortifikasie was egter nie net bedoel om as beskerming teen ’n noordelike vyand te dien nie. Dit het ook die doeltreffende kontrolering van enige verkeer, mense sowel as goedere, moontlik gemaak. Net soos in Germanië, het Hadrianus waarskynlik die legioene in Brittanje geïnspekteer en op gereelde maneuvers aangedring om dissipline te handhaaf.

Met sy terugkeer na die kontinent in laat 122, het Hadrianus deur Gallië gereis om Spanje te bereik. Hy het die winter in Tarraco (Tarragona) deurgebring en het ’n reis na die enkele legioenbasis in Spanje, te Legio (León), onderneem. Tydens sy verblyf hier het tyding hom bereik dat die Parthiese koning met oorlog gedreig het, en Hadrianus het ooswaarts gevaar.

Eerste reis na die Ooste (123-125 HJ)

Teen Junie 123 was Hadrianus en sy gevolg terug in Antiochië, waar sy bewind destyds ’n aanvang geneem het. Die Historia Augusta vertel ons dat hy op die Eufraatrivier ’n spitsberaad met die Parthiese koning gehou het. Hadrianus blyk weereens die dispuut by wyse van diplomasie op te gelos het. Van Antiochië af is hy vort om die Kappadosiese grens te inspekteer en van daar het hy weswaarts met die Pontiese kus langs koers gekies, deur Galasië tot in Bithinië. Dit was op hierdie tydstip wat Hadrianus vir Antinous (ca. 110-130) ontmoet het wat vir die volgende sewe jaar sy onafskeidbare metgesel geraak het. Hy het 123/4 in Nicodemia deurgebring en in die lente vertrek om ’n besoek aan Nicea af te lê, waarna ’n reeks stede in die provinsie Asië, onder meer Cyzicus, Iliu, Pergamon, Smirna en Efese, gevolg het. Hy het ook in Misië gaan jag en ’n nuwe dorp, Hadrianutherae (Hadrianus se jag) gestig op die plek waar hy ’n suksesvolle beerjag gehad het.

Temple of Hadrian at Ephesus
Hadrianus se tempel te Efese
Carole Raddato (CC BY-SA)

In die herfs van 124 het Hadrianus sy oostelike reise beëindig deur die winter van 124/5 in Athene deur te bring. Van Athene af het hy op ’n vlugtige toer van die Peloponnesus vertrek en onder andere die stede Argos en Sparta besoek. Daarna is hy na Delphi waar hy die orakel geraadpleeg het. Onderweg terug na Rome het Hadrianus na Sicilië gevaar waar hy tot op die kruin van die berg Etna geklim het om die sonsopkoms te aanskou.

Hadrianus in noordelike Afrika (128 HJ)

Hadrianus was steeds besorg oor militêre sake en het in die laat lente van 128 op ’n kort reis na Noord-Afrika vertrek. Sy aankoms in Kartago het saamgeval met die eerste reën ná vyf jaar se droogte. Die stad is tydelik na Hadrianopolis herdoop en op bevel van Hadrianus is ’n nuwe akwaduk gebou. Daarna het hy na die binneland vertrek om die legioenvesting by Lambaesis in Numidië (hedendaagse Algerië) te besoek. Tydens sy verblyf van ses dae het die legioen ’n vertoning van militêre oefeninge gelewer. Ná die vertoning het Hadrianus op 1 Julie ’n toespraak voor die versamelde soldate gelewer om hulle vir hul vaardighede te prys, met uittreksels uit sy toespraak wat op ’n gefragmenteerde inskripsie behoue gebly het. Op 7 Julie het hy ’n hulpkohort by Zaraï geïnspekteer waarna hy na ’n onbekende bestemming vertrek het om ’n ander kohort te besoek; daarna het hy teruggevaar na Rome.

Portrait of Hadrian found in Athens
Portret van Hadrianus wat in Athene gevind is
Carole Raddato (CC BY-SA)

Tweede besoek aan die Ooste (128-134 HJ)

Hadrianus was nie net oor militêre aangeleenthede begaan nie en met sy finale ekskursie het hy, byna nes ’n toeris, ’n toer van die ryk geniet terwyl hy ook inspeksie gedoen en sy verhouding met die plaaslike bevolking gekultiveer het. Die laaste reis na die Ooste het ses jaar geduur. Die keiser het laat 128 na Athene gevaar en die winter in Griekeland deurgebring. Hy is weereens deur sy vrou Sabina sowel as ’n groot groep metgeselle vergesel. Die volgende lente het hy van Eleusis na Efese gevaar en ruimskoots deur Klein-Asië gereis. Talle Griekse stede het beweldadiging in die vorm van geboue of selfs stigtings weens Hadrianus se besoeke aangeteken. Nadat hy die winter van 129/130 in Antiochië verwyl het, het Hadrianus ’n besoek aan Palmyra in die Siriese woestyn afgelê.

The travels of Hadrian 128-134 CE
Hadrianus se reise, 128-134
Simeon Netchev (CC BY-NC-SA)

Van Sirië af het Hadrianus met Fenesië en Judea langs na Egipte gereis. Hy het eers die tombe van Pompejus die Grote (106-48 VHJ) besoek en toe aanbeweeg na Alexandrië. Hier het Hadrianus die tempel van Serapsis laat opknap en die Mouseion besoek. Volgende het die geselskap op ’n bootvaart met die Nyl af vertrek. Onderweg het hy waarskynlik by die piramides van Giza aangedoen maar op 24 Oktober het ’n verskriklike ongeluk plaasgevind toe Antinous in die Nyl verdrink. Hadrianus het binne ’n week besluit om ’n nuwe stad, Antinoöpolis, te bou waar sy minnaar gesterf het, en die jongman is as god verklaar. Ten spyte van die tragedie het die toergeselskap hulle vaart met die Nyl af voortgesit en die kolossale standbeelde van Farao Amenhotep III (ca. 1386-1353 VHJ) – die sogenaamde singende kolossusse van Memnon – besoek.

Colossi of Memnon, Luxor
Kolossusse van Memnon, Luxor
Przemyslaw (CC BY-SA)

Nadat hy die winter van 130/131 in Alexandrië deurgebring het, het Hadrianus na Athene teruggekeer waar hy verder tot beweldadiging bygedra het, en die Tempel van Olimpiese Zeus ingewy het. In die laat lente of vroeë somer van 132 is tyding van ’n opstand in Judea ontvang sodat hy na die provinsie teruggekeer het om die situasie onder beheer te kry. Die keiser se finale terugkeer na Rome is epigrafies op 5 Mei 134 gesertifiseer. Hadrianus het toe ernstig siek geword en hom na die strandoord Baiae aan die Baai van Napels onttrek waar hy op 10 Julie 138 oorlede is.

Temple of Olympian Zeus, Athens
Tempel van Olimpiese Zeus, Athene
Carole Raddato (CC BY-NC-SA)

Publius Annius Florus, ’n Romeinse geskiedkundige en digter wat Hadrianus bevriend het, het een maal ’n kort gedig geskryf wat die draak met Hadrianus se reise gesteek het.

Ek wil nie ’n Caesar wees nie,

tussen die Britte wandel nie,

tussen die […] skuil nie,

en die Skithiese winters verduur nie.

HA Hadr. 16.3

Hadrianus se antwoord het sy sin vir humor mooi ten toon gestel:

Ek wil nie ’n Florus wees nie,

tussen die tavernes wandel nie,

in die koel winkels skuil nie,

en die ronde, vet insekte verduur nie.

HA Hadr. 16.4

Volgens Hadrianus was reis en doeltreffende staatsbestuur nou aan mekaar verwant. Hy het besef dat oorlewing van die ryk van Rome en die lojaliteit van die provinsies afgehang het. Hierdie visionêre benadering het tot ’n relatief vreedsame en voorspoedige tydperk gelei wat deur baie as die goue eeu van die Romeinse Ryk beskou word.

Hierdie artikel is oorspronklik in uitgawe 31 van Ancient History Magazine gepubliseer.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Bibliografie

World History Encyclopedia is 'n Amazon-medewerker en verdien 'n kommissie op kwalifiserende boekaankope.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Carole Raddato
Carole onderhou die gewilde fotoblog oor die antieke geskiedenis, “Following Hadrian”, waar sy in die voetspore van keiser Hadrianus die wêreld deurreis.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Raddato, C. (2021, December 10). Hadrianus se reise [Hadrian's Travels]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1892/hadrianus-se-reise/

Chicago-styl

Raddato, Carole. "Hadrianus se reise." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig December 10, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1892/hadrianus-se-reise/.

MLA-styl

Raddato, Carole. "Hadrianus se reise." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 10 Dec 2021. Web. 21 Jun 2024.