Die Slag van Salamis

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 05 May 2013
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Griekse, Frans, Spaans, Portugees
Battle of Salamis, 480 BCE (by Dept. of History, US Military Academy, CC BY-SA)
Slag van Salamis, 480 VHJ
Dept. of History, US Military Academy (CC BY-SA)

Die Slag van Salamis was ’n seeslag wat in September 480 VHJ tussen Griekse en Persiese magte in die Saroniese Golf, Griekeland plaasgevind het. Die Grieke het onlangs die Slag van Thermopylae verloor en die seeslag by Artemision – albei slae in Augustus 480 VHJ – het onbeslis geëindig, en koning Xerxes I (r. 486-465 VHJ) en sy Persiese leër was besig om amok te maak en verwoesting te saai. By Salamis, een van die grootste en mees betekenisvolle militêre oorwinnings in die Oudheid, het die Grieke geseëvier. Deur ’n getalleoorwig deur middel van gedurfde taktieke en loutere vasberadenheid te oorkom, het die geallieerde Griekse magte ’n vryheid gewen wat ’n tydperk van kunstige en kulturele ondernemingsgees moontlik gemaak het wat die wêreld nog nooit vantevore aanskou het nie en wat vir millennia die grondslag van die Westerse kultuur sou vorm.

Konteks: Die Persiese Oorloë

ONGEVEER 30 GRIEKSE POLISSE HET HULLE VOORBEREI OM TERUG TE VEG EN DIE SLAG VAN SALAMIS SOU VIR XERXES WYS DAT GRIEKELAND NOG LANK NIE OORWONNE WAS NIE.

Teen die eerste jare van die 5de eeu VHJ was die Persiese Achameniese Ryk onder die bewind van Darius I (r. 522-486 VHJ) besig om na kontinentale Europa uit te brei en het hulle reeds vir Thracië en Macedonië onder die juk gebring. Die volgende doelwit was om die groep potensieel lastige rebellestate op die westelike grens van die ryk eens en vir altyd te oorrompel. In 490 VHJ het Griekse magte onder leiding van Athene die Persiërs by die Slag van Marathon die stryd aangesê, en die invallers verslaan. Onder die Grieke sou die veldslag ’n mitiese status verwerf, maar in werklikheid was dit bloot die openingsouverture van ’n lang oorlog met verskeie ander veldslae wat die vernaamste bedrywe daarvan sou vorm. Xerxes het in 486 VHJ koning geraak en hy het eers Siklade ingeval, en toe die Griekse vasteland ná die simboliese maar onsuksesvolle verset ’n deur ’n Griekse mag by Thermopylae in Augustus 480 VHJ. By die onbesliste seeslag te Artemision (ook in Augustus 480 VHJ) het die Grieke die getalleoorwig van die Persiese vloot afgeweer maar was hulle verplig om by Salamis te hergroepeer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Griekeland was dus blootgelê vir die invallers en die Persiese magte het verwoesting onder die Griekse polisse (poleis) of stadstate gesaai en selfs Athene geplunder. Ongeveer 30 Griekse polisse het hulle egter voorberei om terug te veg en die Slag van Salamis het vir Xerxes gewys dat Griekeland, of ’n groot deel daarvan in elk geval, nog lank nie oorwonne was nie.

Die Persiese vloot

Die enorme Persiese Ryk het van die Donau tot by Egipte en van Ionië tot by Baktrië gestrek, en Xerxes kon hom beroep op ontsaglik baie hulpbronne om ’n tamaai invalsmag bymekaar te maak. Ariabignes, seun van Darius, het die Ioniese, Kariese, Achaimeense en Egiptiese vloot aangevoer terwyl Kubernis, koning van Xanthos, bevel oor die Lisiese vloot van 50 skepe gevoer het, en die Doriese vloot van 30 skepe onder bevel van Artemisia, tiran van Halikarnassos, gestaan het. Ander bekende bevelvoerders het Prexaspes, Megabazus en Achaimenes ingesluit. Tegnies gesproke was die Persiërs, en veral die Fenisiërs, beter seevaarders maar aangesien die vloot uit alle dele van die ryk bestaan het, was hulle motivering en kommunikasie waarskynlik minder as dié van hulle teenstanders wat almal dieselfde taal gepraat het, en wat nie slegs vir hul eie oorlewing nie, maar ook vir dié van hulle familie en hul lewenswyse, geveg het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ancient Naval Battle
Antieke seeslag
The Creative Assembly (Copyright)

Die presiese aantal skepe in die Persiese vloot is nie bekend nie. Herodotus verskaf in sy Histories (440-430 VHJ) presiese lyste maar dié word algemeen as oordrewe en onbetroubaar aanvaar. Boonop is sy lys vir die Persiese vloot wat oorspronklik na Griekse waters gevaar het, maar teen die tyd wat Salamis plaasgevind het, sou baie skepe agtergelaat gewees het om hawens en voorraadroetes te bewaak of – in storms (veral by Magnesia) en in die Slag van Artemision – verlore gegaan het. Nietemin, hieronder is sy getalle vir trireme (oorlogskepe met drie rye roeispane). Let op die bydrae van verowerde of pro-Persiese Griekse stede.

  • Fenisies 300
  • Egipties 200
  • Sipries 150
  • Silisies 100
  • Ionies 100
  • Hellespont 100
  • Karies 70
  • Aolies 60
  • Lisies 50
  • Pamfilies 30
  • Dories 30
  • Siklasies 17

Dit wil wel voorkom of ’n alternatiewe bron – Aiskulos, die skrywer van Griekse tragedies – wel Herodotus se getalle staaf wanneer hy in sy Persae (472 VHJ) meld dat die Persiese vloot uit 1 207 skepe teenoor die 310 van die Grieke bestaan het. In ag genome die verlies aan skepe wat hierbo beskryf word, word daar geskat dat die Grieke by Salamis ongeveer 500 trireme die hoof gebied het, maar daar bestaan geen vakkundige konsensus oor selfs ’n benaderde syfer nie. Daar sou ook baie kleiner skepe gewees het, byvoorbeeld penteconters (met 50 roeispane) en triaconters (met 30 roeispane) maar Herodotus se syfer van 3 000 blyk heeltemal oordrewe te wees.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Griekse vloot

’n KRYGSRAAD VAN 17 BEVELVOERDERS VAN ELKEEN VAN DIE BYDRAENDE KONTINGENTE HET OOR DIE GRIEKE SE STRATEGIE EN TAKTIEKE BESLUIT.

Die geallieerde Griekse vloot is deur die Spartaan Eurubiades aangevoer wat ’n verrassende keuse was aangesien Athene die groot seemag was en verreweg die meeste skepe voorsien het. Verder was die ander senior bevelvoerders Temistokles van Athene en Adeimantus van Korinte, maar oor die praktiese strategie en taktieke is deur ’n krygsraad van 17 bevelvoerders van elkeen van die bydraende kontingente besluit. Maar dit is Temistokles, die briljante vlootbevelvoerder met 20 jaar se ervaring en vars van die sukses by Artemision teen ’n enorme getalleoorwig, wat allerweë as meesterbrein van die Griekse oorwinning – en die besluit om hulle posisie by Salamis te behou pleks daarvan om na die ismus te Korinte terug te val – gekrediteer word.

Herodotus se syfers is weereens inkonsekwent, en sy groottotaal van 380 trireme waaruit die Griekse vloot bestaan het, is 15 meer as die som van die individuele bydraes van die verskillende state.

  • Athene 200
  • Korinte 40
  • Aigina 30
  • Megara 20
  • Sparta 16
  • Sikuon 15
  • Epidauros 10
  • Eretrië 7
  • Ambracië 7
  • Troizen 5
  • Naxos 4
  • Hermione 3
  • Leukas 3
  • Stira 2
  • Keos 2
  • Kuthnos 1

Die syfer vir sommige state is verdag in hulle ooreenkoms met dié wat voor die Slag van Artemision gegee is deurdat daar aan die hand gedoen word dat hulle in daardie konflik feitlik geen verliese gely het nie, of dat vaartuie uiters vinnig vervang is. Aiskulos noem ’n totaal van 310 skepe en Tukidides 400. Samevattend kan ons net sê dat dit voorkom of die Persiese vloot die Griekse een ruim in getalle oortref het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die trireem

Albei kante het van baie soortgelyke skepe gebruik gemaak – trireme (triērēis), dit wil sê houtoorlogskepe van 40-50 ton en tot 40 m lank. Die trireem was lig, vaartbelyn en maneuvreerbaar en is tydens ’n geveg deur 170 roeiers aangedryf wat in drie rye aan elke kant van die skip verdeel was. Ontwerp om maklik te versnel en te rem, sigsagswys te maneuvreer en 360° in net twee skeepslengtes te draai, kon vaardige seemanskap die beste voordeel uit die vaartuig put en die hoofstrategie van destydse seeoorlogvoering benut wat behels het om die skip met mag teen die vyandelike vaartuig in te dryf, en die bronsrammei aan die voorstewe van die skip ten volle te benut. Trireme het ook ’n klein afdeling soldate gehad, minstens 10 hopliete en 4 boogskutters. Persiese skepe het oor die algemeen meer soldate bevat – 14 stryders en 30 Mede gewapen met boog, spies en swaard. Hierdie aanvullende troepe het tot hul reg gekom wanneer daar op handgemeenafstand met die vyand slaags geraak is, en ingeval ’n vyandelike vaartuig aangeklamp is.

Greek Trireme [Illustration]
Griekse trireem (illustrasie)
MatthiasKabel & Sting (GNU FDL)

Trireme se swakheid het daarin gelê dat hulle slegs in relatief kalm water met golwe laer as 1 m doeltreffend gebruik kon word, anders sou die water deur die roeipoorte stroom en die skip onder water sit. Hulle moes ook naby die kus bly aangesien hulle elke aand op die strand laat loop moes word om te voorkom dat die ligte hout met water deurweek raak wat die spoedwerksverrigting van die vaartuig aansienlik sou belemmer. Boonop was daar baie min ruimte aan boord vir lewensmiddele en geen plek om te slaap nie sodat die bemanning geen keuse gelaat is as om elke aand aan land te gaan nie. Voor die seeslag is die Griekse skepe by verskeie baaie, van Kinosoura tot by Paloukia op die eiland Salamis, op die strand laat loop. Dit was ook hier waar baie van die ontruimde bevolking van Athene en Attika hulle bevind het. Intussen was die Persiërs te Faleron Baai, minder as 10 km oorkant die Saroniese Golf en naby die verowerde Peiraius, geposisioneer.

Strategieë

BEVELVOERDERS HET VAN VOOR AF GELEI EN ELKEEN SOU HOM OP SY EIE SKIP IN DIE HITTE VAN DIE STRYD BEVIND HET.

Bevelvoerders het van voor af gelei en elkeen sou hom op sy eie skip in die hitte van die stryd bevind het. Vanuit hierdie posisie kon maneuvers deur middel van vlae en trompette aan ander skepe in die vloot gesein word. Maar sodra ’n seeslag ten volle aan die gang was, het dit gewoonlik ’n kwessie geraak van ’n enkele skip teen ’n enkele opponent, eerder as presies gekoördineerde maneuvers.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Daar was twee hoofstrategieë wat die meer ervare bevelhebbers sou toegepas het voordat die opponerende vlote ten volle by die gevegshandeling betrokke raak. Die eerste was om óm die vyandelike lyn te vaar (periplous) en die tweede was om deur gapings in die vyandelike lyn te bars en hulle van hul agterste flank af aan te val (diekplous). Albei strategieë was ontwerp om jou so te posisioneer dat jy jou skip teen die swakste punt van die vyandelike vaartuig – teen die kant of van dwars agter – kan in drýf. Die doelwit was om ’n gat in die vyandelike skip te slaan of genoeg van hulle roeispane te breek om die skip sodoende buite geveg te stel. Om te verhoed dat hulle eie roeispane beskadig word, is dit by bemannings ingehamer om die roeispane binne ’n kwessie van sekondes in te trek – gewoonlik net aan die een kant van die skip, terwyl die ander kant die momentum van die vaartuig gehandhaaf het. As verdediging teen hierdie twee taktieke sou ’n vaardige bevelvoerder seker gemaak het dat een van sy flanke na vlak water of die kus gekeer was en verseker het dat sy bemannings doeltreffend opgelei is om geslote orde te handhaaf. In oop water kon die skepe in ’n defensiewe sirkel of ’n boog (praktieser met groter vlote) opgestel word, met die skeepsboë wat na buite wys (kyklos).

Die seeslag

Tussen antieke bronne is die werklike besonderhede van die seeslag vaag en dikwels teenstrydig. Indien die elemente waaroor die algemeenste ooreengestem word egter as verwysing gebruik word, was die oorloop van twee Ioniese skepe na die Griekse vloot die eerste aksie van die slag. Temistokles, wat moontlik boodskappe na die vlote van die pro-Persiese Griekse state gestuur het, het gehoop daar sou meer sodanige gevalle wees maar dit het nie gebeur nie. Een van die skepe wat oorgeloop het, was van Tenos en het die Grieke ingelig dat die Persiërs besig was om in die seestrate byeen te trek, en sodoende die Griekse vloot in te hok. In die hoop om die Grieke te verras, het die Persiërs hulle stelling oornag ingeneem maar in ag genome die kort afstande en die geluid van die roeiers is dit onwaarskynlik dat hierdie strategie suksesvol was. Daar is ook die moontlikheid dat Temistokles boodskappe aan Xerxes gestuur het waarmee hy laat deurskemer het dat die brose Griekse bondgenootskap aan die verbrokkel was en dat die vloot op die punt gestaan het om terug te trek.

Trireme Hull with Bronze Ram
Trireemromp met bronsrammei
Magnus Manske (CC BY-SA)

Die twee vlote het waarskynlik in ’n skuins ooswes-as hulself teenoor mekaar in lyn gebring, met die Persiërs naby aan die kontinentale kus en met ’n vriendelike kus agter albei vlote. Weens Xerxes se plasing van ’n kontingent boogskutters op die oorkantste kus van die vasteland sou die Grieke dit beslis vermy het om naby die kontinentale kus te kom. Op die westelike flank het die Atheners die Fenisiërs die hoof gebied, en die Spartane het teenoor die Ioniërs te staan gekom. Op die Persiërs se linkerflank was die Kariërs en die Doriërs. Agter die hoof- Griekse lyn is die Aigina-kontingent en sommige van die Atheense skepe in reserwe gehou. Die Korintiërs was aan die westekant van die slaglyne geposisioneer om die deurgang na Eleusis te beskerm terwyl die pro-Persiese Sipriote, Silisiërs en die Hellesponters in die suide die uitgang na Peiraius bewaak het. Volgens Diodorus Sikulus het Xerxes sy Egiptiese vloot gestuur om die seestrate tussen Salamis en Megara te versper en slaags te raak met enige Griekse skepe wat van die hoofvloot wegbreek.

Vanuit sy bevelspos sou Xerxes in die vroeë môre nie ’n vloot gesien het op die punt om die aftog te blaas nie, maar eerder die Grieke wat twee skepe diep in ’n geboë front van 3 km lank geposisioneer was, hulle lyn van moontlik 130 vaartuie opgestel teenoor die Persiese hooffront van 150 skepe wat drie skepe diep gelê het. Die Persiërs het vorentoe beweeg en is al digter op mekaar gedruk soos hulle hulself in lyn met die vyand se nouer front georiënteer het. Die Grieke het hulle posisie behou en die Persiërs in ’n al nouer wordende ruimte ingelok. Skepe het teen mekaar begin bots en in die nou ruimte sou hulle gesukkel het om van mekaar los te worstel. Toe het die gewapende soldate aan boord hulself laat geld, met hopliete en boogskutters wat basies dieselfde aan dek geveg het soos wat in ’n landslag die geval was. Met nóg Persiese skepe wat van agter af voorwaarts inpers en die Korintiërs wat van die kant af by die slag aansluit, moes daar ’n absolute chaos ontstaan het van gebroke skepe en spartelende drenkelinge – veral onder die Persiërs wat nie na ’n kus kon onttrek en waarvan die meeste waarskynlik nie kon swem nie.

Met meer maneuvreringsruimte was die Griekse skepe in staat om af te reken met die digsaamgepakte Persiese vaartuie wie se lyne nou verskeie skepe diep gelê het en gevolglik nie kon terugval nie. Teen die namiddag was die Griekse oorwinning ’n uitgemaakte saak en het die oorblywende Persiese skepe die aftog na Klein-Asië geblaas. Die finale fase van die slag was om die Griekse mag hopliete op Salamis na die vasteland oor te plaas waarna hulle korte mette van die Persiese landmagte gemaak het.

Die kriptiese orakel van Apollo by Delphi blyk weereens korrek te gewees het: “Slegs ’n houtmuur sal julle veilig kan hou.” Soos by Artemision het die houtskepe van die gekombineerde Griekse vloot – vir ’n tweede keer – die Persiese opmars afgeslaan.

Battle of Salamis, 480 BCE
Slag van Salamis, 480 VHJ
Ancient Warfare Magazine / Karwansaray Publishers (Copyright)

Die nadraai

Ná afloop van die slag het Xerxes huiswaarts gekeer na sy paleis te Susa en die inval aan die begaafde generaal Mardonius oorgelaat. Ongeag die nederlaag het die Persiërs nog ’n sterk posisie gehandhaaf: Hulle het steeds die grootste deel van Griekeland beheer en hulle groot landleër was ongeskonde. Ná ’n reeks politieke onderhandelinge het dit duidelik geraak dat die Persiërs nie deur middel van diplomasie ’n oorwinning op land sou behaal nie en in Augustus 479 VHJ het die twee opponerende leërs mekaar by die Slag van Plataia die stryd aangesê. Die Grieke het die grootste hoplieteleër óóit te velde laat trek en die veldslag gewen wat ten einde laas Xerxes se ambisies in Griekeland eens en vir altyd gestuit het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2013, May 05). Die Slag van Salamis [Battle of Salamis]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-337/die-slag-van-salamis/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Salamis." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 05, 2013. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-337/die-slag-van-salamis/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Salamis." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 05 May 2013. Web. 21 May 2022.