Die Slag van Platea

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 11 May 2013
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Griekse, Frans, Portugees
Plataea 479 BCE (by MinisterForBadTimes, CC BY-SA)
Platea, 479 VHJ
MinisterForBadTimes (CC BY-SA)

Die Slag van Plataea was ’n veldslag wat in 479 VHJ tussen Grieke en Persiërs naby die klein dorpie Platea in Beotië plaasgevind het. Ná hulle see-oorwinning by die Slag van Salamis in September 480 VHJ teen dieselfde vyand, het die Grieke weereens getriomfeer oor ’n invalsmag wat deur die Persiese heerser Xerxes (r. 486-465 VHJ) gestuur is – hierdie keer te danke aan hulle hoplietekrygers. Die oorwinning het die voortgesette onafhanklikheid van die Griekse stadstate verseker en ’n verstommende ryk tydperk van kunstige en kulture ondernemingsgees moontlik gemaak wat die kulturele grondslag vir alle toekomstige Westerse beskawings sou lê.

Konteks: Die Persiese Oorloë

Teen die eerste jare van die 5de eeu VHJ was Persië, onder die bewind van Darius I (r. 522-486 VHJ) besig om na kontinentale Europa uit te brei en het hulle reeds vir Thracië en Macedonië onder die juk gebring. Die volgende doelwit was om die groep potensieel lastige rebellestate op die westelike grens van die Achameniese Ryk eens en vir altyd te oorrompel. In 490 VHJ het Griekse magte onder leiding van Athene die Persiërs by die Slag van Marathon die stryd aangesê, en die invallers verslaan. Onder die Grieke sou die veldslag ’n mitiese status verwerf, maar in werklikheid was dit bloot die openingsouverture van ’n lang oorlog met verskeie ander veldslae wat die vernaamste bedrywe daarvan sou vorm. Xerxes het in 486 VHJ koning geraak en hy het eers Siklade ingeval, en toe die Griekse vasteland ná ’n oorwinning oor die simboliese maar onsuksesvolle verset ’n deur ’n Griekse mag by Thermopylae in Augustus 480 VHJ. Dieselfde tyd as wat Thermopylae plaasgevind het, het ’n seeslag by Artemision onbeslis geëindig toe die Grieke die getalleoorwig van die Persiese vloot afgeweer het, waarna hulle verplig was om by Salamis te hergroepeer. In September 480 VHJ het die Grieke onder strategiese aanvoering van die briljante generaal Temistokles die Persiërs in die engtes van die seestrate tussen Salamis en die vasteland ingelok en hulle ’n verpletterende nederlaag toegedien.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIT HET DUIDELIK GERAAK DAT DIE PERSIËRS NIE DEUR MIDDEL VAN DIPLOMASIE ’N OORWINNING SOU BEHAAL NIE, EN DAT SLEGS OORLOG DIE KWESSIE SOU BESLEG.

Ná die nederlaag van sy armada en die afsluiting van die veldtogseisoen het Xerxes huiswaarts gekeer na sy paleis te Susa, en die begaafde generaal Mardonios in beheer van die inval gelaat. Ongeag die nederlaag te see het die Persiërs steeds ’n sterk posisie gehandhaaf: Hulle het nog die grootste deel van Griekeland beheer en hulle enorme leër was ongeskonde. Moontlik het Xerxes gehoop dat die brose Griekse bondgenootskap tussen eeue-oue mededingers soos Athene en Sparta sou verbrokkel indien die gepaste diplomatieke toenadering gesoek word maar ná ’n reeks politieke onderhandelinge het dit duidelik geraak dat die Persiërs nie deur middel van diplomasie ’n oorwinning sou behaal nie en dat slegs oorlog die kwessie sou besleg.

Die Persiese leër te Platea

Die enorme Persiese Ryk het van die Donau tot by Egipte en van Ionië tot by Baktrië gestrek, en Xerxes kon hom beroep op ontsaglik baie hulpbronne om sy tamaai invalsmag bymekaar te maak. Algehele bevel is nou oorgeneem deur Mardonios, skoonseun en aangetroude susterskind van Darius en nefie van Xerxes, en aan sy sy was Artabazus (nefie van Darius) wat die Parthiese en Khorasmiese kontingente aangevoer het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ons getalle vir die soldate betrokke by die veldslag kom hoofsaaklik van Herodotus wat in sy Histories ’n weergawe van Platea gee maar die absolute akkuraatheid van sy beramings word onder vakkundiges betwis. Volgens Herodotus het die Persiërs 350 000 troepe in die veld gestoot, teenoor die Griekse magte van 108 200. Die syfer vir die Persiërs is moontlik oordryf om hulle as ’n meer formidabele opponent uit te beeld en moontlik het hulle in werklikheid ’n soortgelyke aantal stryders as die Grieke ontplooi. Maar selfs met ’n konserwatiewer skatting het die veldslag steeds ongeveer 200 000 krygslui behels, die grootste waarvan Griekeland nog ooit getuie was en ’n syfer vergelykbaar met Waterloo en Gettysburg.

Persian Archers
Persiese boogskutters
mshamma (CC BY)

Die Persiese mag was ingedeel in eenhede bestaande uit die verskillende nasionaliteite maar ongelukkig spesifiseer Herodotus nie die sterkte van elkeen nie. Die volgende is egter benaderde beramings:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • Persiërs (die beste troepe): 40 000
  • Mede: 20 000
  • Baktriërs, Indiërs en Sakiërs: 20 000
  • Pro-Persiese Grieke: 50 000

Totaal: 130 000

Al hierdie groepe het kavallerie verskaf wat op ’n gesamentlike mag van waarskynlik 5 000 ruiters neergekom het.

Die Griekse leër te Platea

Die Griekse leër is aangevoer deur Pausanias, nefie van koning Leonidas wat by Thermopylae gesneuwel het, en ryksbestuurder vir die jong koning Pleistargos, Leonidas se seun. Sekondêre bevelvoerders het die twee Atheense generaals Aristeides en Xantippos, vader van Perikles, ingesluit.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Volgens Herodotus was die Griekse hoplietemagte soos volg ingedeel:

  • Athene: 8 000
  • Korinthe: 5 000
  • Lakedaimon: 5 000
  • Sparta: 5 000
  • Megara: 3 000
  • Sikuon: 3 000
  • Tegea: 1 500
  • Phlius: 1 000
  • Troizen: 1 000
  • Anaktorion/Leukas: 800
  • Epidauros: 800
  • Orgomenos: 600
  • Platea: 600
  • Aigina: 500
  • Ambrasië: 500
  • Eretrië/Stira: 600
  • Khalkis: 400
  • Mukene/Tiryns: 400
  • Hermione: 300
  • Potidea: 300
  • Lepreon: 200
  • Pale: 200
  • Tespis: ongespesifiseer

Totaal: 38 700

Die Grieke het geen kavallerie by Platea gehad nie en slegs die Atheners het ’n kontingent boogskutters gehad. Herodotus verskaf ook syfers vir Griekse magte wat nié hopliete was nie en dit is (ewe gerieflik) presies dieselfde as die aantal hopliete wat elke stad verskaf het. Die uitsondering is Sparta wat benewens hulle 5 000 hopliete ook ongeveer 35 000 helote gelewer het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Greek Hoplites Fighting
Griekse hopliete aan't veg
Jan van der Crabben (CC BY-NC-SA)

Wapens en strategieë

Die Persiërs was ongetwyfeld vol selfvertroue dat hulle suksesvol sou wees. Hulle leër was massaal, daar was potensiële verdeling onder die Grieke en die terugslag by Marathon was die enigste struikelblok in die lang opmars landoorwinnings wat hulle die vorige 50 jaar geniet het.

Die twee teenoormekaarstaande leërs het basies die twee benaderings tot klassieke oorlogvoering verteenwoordig: Die Persiërs het voorkeur gegee aan langafstandaanvalle by wyse van boogskutters wat dan met ’n kavallerie-stormloop opgevolg is, terwyl Griekse oorlogvoering ten gunste was van swaargepantserde hopliete gerangskik in ’n digsaamgepakte formasie minstens agt man diep – ’n falanks – met elke man wat ’n swaar ronde skild gedra en met ’n spies en swaard met die vyand handgemeen geraak het. Die Persiese infanterie het ’n ligte vlegwerkskild gedra en was met ’n lang dolk of strydbyl, ’n kort spies en saamgestelde boog bewapen. Die Persiese magte het ook die Onsterflikes ingesluit – ’n elitemag wat met spiese bewapen en waarskynlik beter gepantser was – sowel as ’n kontingent goedgewapende Egiptiese seesoldate en ’n paar duisend hopliete van geallieerde Griekse state, veral die Tebane. Die Persiese kavallerie was, nes die voetsoldate, bewapen met ’n boog en twee bykomende werpspiese om te gooi of mee te steek. Die kavallerie, wat gewoonlik op die flanke van die hoofgeveg bedrywig was, is gebruik om vyandelike infanterie op te ruim nadat hulle deur herhaalde salvo's pyle deur die boogskutters in wanorde gedompel is. Alhoewel die Persiërs in vorige kragmetings met die Grieke tydens die onlangse Ioniese opstand die oorhand gekry het, het Thermopylae bewys dat georganiseerde Griekse hopliete ’n harde militêre neut kan wees om te kraak.

Greek Phalanx
Griekse falanks
CA (Copyright)

Nog ’n belangrike aspek was die feit dat hoewel die Persiese taktiek om die vyand teen ’n hoë tempo met enorme hoeveelhede pyle te bestook ’n indrukwekkende gesig ten aanskoue moes gewees het, het die ligte gewig van die pyle beteken dat hulle merendeels ondoeltreffend teen die bronsgepantserde hopliete was tensy die pyle op kort afstand en na onbeskermde liggaamsdele geskiet is. Binne handgemeenafstand het die langer spiese, swaarder swaarde, beter pantser en rigiede dissipline van die falanksformasie beteken dat die Griekse hopliete al die voordele op gebroke terrein sou geniet. Die Persiërs sou die vyand na goeie, plat terrein moes lok om hulle kavallerievoordeel en die groter mate van beweeglikheid van hulle ligter gepantserde troepe te optimeer.

Die veldslag – fase 1

In die lente van 479 VHJ het die Persiese vloot by Samos hergroepeer terwyl Mardonios in Junie sy winterkwartiere in Thessalië verlaat en Attika weereens binnegeval het voordat hy teruggetrek het om ’n linie in Beotië, noord van die Asopus-rivier te beset, waar hy ’n groot gefortifiseerde kamp opgerig het.

Die Griekse vloot het intussen by Aigina hergroepeer en toe gevaar om by Delos pos te hou terwyl die leër gemobiliseer word. In Julie het die Spartaanse leër in die rigting van Platea beweeg en te Eleusis by die ander Griekse kontingente aangesluit voordat almal stelling ingeneem en aan die voet van die lae heuwels van Kitairon ’n 7 km-lange front oorkant die Persiërs, 3-4 km weg, gevorm het.

Mardonios het die Persiërs op die regterflank geplaas en in die senter was die Mede sowel as die Baktriërs, Indiërs en die Sakiese groepe. Op die linkerflank was die pro-Persiese Grieke, met kavalleriemagte effens na agter geplaas, een afdeling op elke flank. Die Griekse front het bestaan uit die Spartane, Tegeane en Tespiërs op die regterflank en die Atheners, Megariërs en Plateërs op die linkerflank, met die res in die middel. Met almal in posisie, het die gewag begin. Ná ’n dooiepunt van twee dae waartydens elke kant geklou het aan die terrein wat die geskikste vir hulle vegtaktiek was – die Persiërs op die vlakte en die Grieke in die gebroke terrein naby die heuwels – het Mardonios uiteindelik sy kavallerie ingestuur en veral die Megariërs en Atheners aangeval. In die skermutseling blyk slegs die teenwoordigheid van die Atheense boogskutters die Grieke in staat te gestel het om hulle lyn vas te hou. Die Persiese bevelvoerder is gedood wat ’n groot hupstoot vir Griekse moreel was.

Spartan Warriors
Spartaanse krygers
The Creative Assembly (Copyright)

Fase 2

Die Grieke het toe noordwes na net suid van die rivier op die Pirgosrant opgeruk waar ’n beter watervoorraad beskikbaar was, maar hierdie skuif het geen reaksie van Mardonios ontlok nie. Vir nog ’n week of wat het albei kante hulle posisie vasgehou, elkeen weereens teësinnig om hul voordelige terrein prys te gee. Dit is moontlik ook ’n aanduiding dat die twee magte goed teen mekaar opgewasse was en dat geen bevelvoerder die ander mag prontuit die stryd wou aansê nie. Mardonios het wel sy kavallerie op ’n sending rondom die Griekse magte se regterflank gestuur en daar het hulle ’n groot voorraadkolonne teëgekom. Die Persiërs het die swakbewapende Grieke afgemaai en die voorrade verbrand. Dit was ’n groot logistieke terugslag vir die Grieke aangesien hulle gesukkel het om ’n voldoende hoeveelheid kos en water aan so baie troepe in die veld te verskaf, veral omdat die rivier weens die Persiese boogskutters buite perke was.

Nog twee dae het verloop voordat Mardonios ten einde laas sy kavallerie ’n volle frontaanval teen die Griekse linies laat loods het. Die invallers het groot amok onder die Grieke gesaai en kon selfs daarin slaag om die Gargafia-fontein – die Grieke se hoofwaterbron – te bederf en te blokkeer. Dit is hoogs waarskynlik dat die Persiese kavallerie nou ook besig was om die vyandelike agterhoede lastig te val en hulle voorraadlyne afgesny het.

Fase 3

Ten einde sy flanke en agterhoede te beskerm en in ’n poging om ’n waterbron te bereik, het Pausanias die Griekse senter nou in die donker tot by die voet van die Kitairon-heuwel, net voor Platea, laat terugtrek. Ná ’n effense vertraging wat óf veroorsaak is deur verwarring óf onenigheid oor die besluit om terug te trek, het die Griekse regterflank die senter gevolg terwyl die linkerflank hulle stelling behou en sodoende geïsoleer geraak het. Toe die linkerflank ook terugtrek, is hulle vanuit alle oorde deur die pro-Persiese hopliete aangeval terwyl die linkerkantse Persiese flank kort op hulle hakke die rivier oorgesteek het. Teen hierdie tydstip het die kavallerie teruggetrek, waarskynlik om hulself met nuwe pyle te bewapen.

DIE MEERDERWAARDIGE WAPENS EN PANTSER VAN DIE GRIEKSE HOPLIETE BLYK UITEINDELIK DEURSLAGGEWEND TE GEWEES HET.

Net toe die Persiërs die oorhand blyk te kry, het die Griekse regterflank bestaande uit Spartane en Tegeane egter ’n teenaanval geloods. Toe die Griekse linkerflank met hulle verenig, is die Persiërs – hul beweging aan bande gelê deur hul eie senter wat van agter af indryf, met gebrek aan ’n gedissiplineerde formasie en hul verdediging onvoldoende agter ’n verskansing vlegwerkskilde – wild op die vlug gejaag. Van selfs groter belang was die klip wat deur die Spartaan Arimnestos gegooi is en vir Mardonios gevel het. Die meerderwaardige wapens en pantser van die hopliete blyk uiteindelik deurslaggewend te gewees het. Die oorskot van die Persiërs is in ’n mate van wanorde teruggedwing oor die rivier, en al wat verhoed het dat hulle aftog in ’n ramp ontaard, was die dekking wat deur die Thebaanse kavallerie verskaf is en wat hulle in staat gestel het om hul gefortifiseerde kamp weer te beset. Onder druk van die Atheners is die pro-Persiese Griekse hopliete op die regterflank ook gedwing om terug te val, en hulle het agter die mure van die nabygeleë Thebes stelling ingeneem.

Die Griekse senter, ongetwyfeld geïnspireer deur die Spartane se sukses, het nou tot die stryd toegetree maar sonder streng dissipline in hulle formasie, en hulle is deur die pro-Persiese kavallerie omvleuel en het erg onder hulle deurgeloop. Intussen het die Atheners, Spartane en die Tegeane hulle nou by die Persiese kamp bevind wat hulle toe uiteindelik bestorm en swaar verliese onder die invallers veroorsaak het. Die Grieke het hulle toe tot Thebes gewend wat aangeval en geplunder is. Die sege is behaal en die Persiese invalsplanne was aan flarde.

Die nadraai

Ná afloop van die gewone rituele wat op ’n veldslag gevolg het – teraardebestellings, die plunder van oorlogsbuit en oprigting van trofeë – was die Grieke nog lank nie klaar nie. By die Slag van Mukale in Ionië wat min of meer dieselfde tyd plaasgevind het, het die Griekse vloot onder aanvoering van Leotugides ’n leër aan land gesit wat die Persiese garnisoen daar uitgewis en die bevelvoerder Tigranes om die lewe gebring het. Die Ioniese state is weer as lede van die Helleense Bondgenootskap beëdig en die Deliese Volkebond is gestig. Voorts is Khersonesos wat die Swartsee, sowel as Bisantium wat die Bosporus beheer het, albei weer verower. Die Grieke het ’n klinkklare boodskap luid aan Xerxes gestuur dat Griekeland haarself nié sal toelaat om deur buitelandse heerskappy onder die juk gebring word nie. Moontlik was dit onvermydelik dat oorloë in die komende dekades sou voortduur en dat die Griekse state by die langdurige en verderflike Peloponnesiese Oorloë betrokke sou raak maar seges by Marathon, Salamis en nou Platea het die oorlewing van Griekeland verseker en die geleentheid daargestel vir die Griekse kultuur en kunstige voortreflikheid om te floreer, en die grondslag te vorm waarin alle Westerse kulture millennia lank gesetel sou wees.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Bibliografie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2013, May 11). Die Slag van Platea [Battle of Plataea]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11465/die-slag-van-platea/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Platea." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 11, 2013. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11465/die-slag-van-platea/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Platea." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 11 May 2013. Web. 18 Aug 2022.