Die Slag van Hastings

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 11 January 2019

Oorspronklike teks in Engels: Battle of Hastings

Battle of Hastings, Bayeux Tapestry (by Unknown Artist, Public Domain)
Die Slag van Hastings – Bayeux-muurbehangsel
Unknown Artist (Public Domain)

Met die Slag van Hastings op 14 Oktober 1066 in die suidooste van Engeland is die Angel-Saksiese koning Harold II (r. Jan.-Okt. 1066) deur die Normandiese invalsmag onder aanvoering van William, hertog van Normandië (vanaf 1035 geheers) verslaan. Ná ’n dag se hewige geveg was die Normandiese kavallerie eenvoudig net een te veel vir die Angel-Saksiese infanterie.

William het daarop aanspraak gemaak dat die troon van Engeland deur Harold se voorganger, Edward die Belyer (r. 1042-1066) aan hom belowe is, en hy het Engeland ingeval om die koninkryk wat hy as regmatig syne beskou het met mag oor te neem. Volgens oorlewering het Harold tydens die veldslag gesneuwel; ’n pyl het sy oog deurboor, waarna hy aan stukke gekap is toe hy val. Die oorwinnaar is op Kersdag van dieselfde jaar as die koning van Engeland gekroon en oor die volgende vyf jaar sou sy verowering van Engeland aan hom die titel “William die Veroweraar” besorg. Hastings het ’n einde aan 500 jaar se Angel-Saksiese heerskappy gebring, en oor die volgende paar dekades is tallose politieke, godsdienstige en kulturele veranderinge ingelui soos die Normandiese elite hulself regdeur hulle nuwe koninkryk gevestig het deur kastele op te rig, en deur innovasies soos die Oordeelsdag-boek (Domesday Book).

Verwyder Advertensies

Advertisement

Harold Godwinson

In 1066, die betekenisvolle jaar wat die Engelse geskiedenis sal verander, het Harold Godwinson so pas koning van Engeland geraak. Formeel bekend as die graaf van Wessex, is Harold ná die dood van Edward die Belyer, wat geen erfgenaam nagelaat het nie, op 6 Januarie gekroon. Harold het die troon onder onduidelike omstandighede bekom alhoewel Edward op sy sterfbed persoonlik vir Harold as sy opvolger benoem het. Harold was die vernaamste militêre leier in die koninkryk, en het sy reputasie tydens sy suksesvolle veldtogte in Wallis in 1063-4 verwerf.

William, hertog van Normandië

Intussen het William, die hertog van Normandië, ander planne aan die oorkant van die Engelse Kanaal gehad. William het daarop aanspraak gemaak dat Edward in werklikheid reeds in 1051 die troon aan hóm beloof het. Die Normandiër het ook aangevoer dat Edward se aanbod óf tydens ’n besoek deur Harold in 1064 herhaal is, óf – te danke daaraan dat die Normandiër die vrysetting van Harold bewerkstellig het nadat laasgenoemde deur graaf Guy van Ponthieu gevange geneem is – dat die Engelsman vir William belowe het dat hy William se leenman sal wees en nie sy aanspraak op die troon sal verhinder nie. Dit is die Normandiese siening van die gebeure wat tot die verwikkelinge in 1066 aanleiding gegee het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

WAT OOK AL WILLIAM SE SELFREGVERDIGING WAS, HY WAS DAAROP INGESTEL OM ENGELAND IN TE VAL EN IN DIE SOMER VAN 1066 HET HY OMVATTEND VOORBEREIDINGS BEGIN TREF.

Die Angel-Saksiese bronne het ’n alternatiewe weergawe; eintlik drie scenario’s: Harold se reis na Normandië het nooit plaasgevind nie of indien dit wel gebeur het, was dit weens weersomstandighede waaroor hulle geen beheer gehad het nie; of hy het bloot na Normandië gereis om oor die vrylating van ’n paar Angel-Saksiese gevangenes te onderhandel. Laastens het die Engelse daarby volstaan dat al was die Normandiërs reg, dat Harold wel ’n belofte van leenmanskap aan William gemaak het, dit ongeldig was aangesien dit tydens gevangenskap gedoen is. Die moderne geleerde konsensus is dat William se aanspraak op die troon maar ’n geringe een was maar, soos wat dikwels die geval in die geskiedenis is, het sulke fyner punte soos ’n belofte en ’n eed van getrouheid baie min beteken vergeleke met ’n oorwinning op die slagveld. Wat ook al William se selfregverdiging was, hy was daarop ingestel om Engeland in te val en in die somer van 1066 het hy omvattend voorbereidings getref om dit te doen.

Norman Invasion Fleet, Bayeux Tapestry
Normandiese invalsvloot – Bayeux-muurbehangsel
Unknown Artist (Copyright, fair use)

Harald Hardrada en Tostig

Asof die storie van 1066 nie reeds ingewikkeld genoeg was nie, was daar ’n derde rolspeler in die dodelike spel met die Engelse koninkryk as prys. Koning Harald Hardrada, ook bekend as Harald III van Noorweë (r. 1046-1066) het net so ’n twyfelagtige aanspraak op Harold Godwinson se kroon as William gehad maar soos die Normandiese hertog het hy geweet dat ’n sterk leër meer as genoeg sal opmaak vir enige oppervlakkige wettige regte.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hardrada is bygestaan deur Tostig, die graaf van Northumbria – broer en groot opponent van Harold II. Tostig se knellende bewind het in 1065 ’n ernstige opstand in Northumbria tot gevolg gehad sodat hy van sy titel gestroop en na Vlaandere verban is waar hy geen skade kon aanrig nie. Tostig het nie met sy behandeling verlief geneem nie en sy skepe het die suidelike en oostelike kus van Engeland geteister. Tostig het eers na Skotland ontsnap en toe sy weg uiteindelik na Noorweë gebaan, waar hy Hardrada as die gerei gesien het om die troon van sy broer weg te worstel.

Hardrada het ’n invalsvloot van ongeveer 300 skepe gemonster, alhoewel sommige mense reken dit was soveel as 500. Sy leër het uit om en by 12 000 krygers bestaan. Hardrada het op 8 September op die noordoostelike kus van Engeland naby die mond van die Tynerivier geland waar ’n klein vloot van moontlik 12 skepe onder aanvoering van Tostig by hom aangesluit het. Van daar het die twee vlote suidwaarts geseil en uiteindelik by Ricall, 16 km ver van die sleutelstad York, voet aan land gesit. Die bedreiging vir Harold Godwinson was voor die hand liggend maar met die inval wat saamgeval het met William se planne om in die suide in te val, het die kroon van die Angel-Saksiese koning nou in werklike gevaar verkeer.

Fulfordpoort en Stamfordbrug

Die eerste van die drie groot veldslae van 1066 het by Fulfordpoort, ’n onsekere ligging naby York, plaasgevind. Daar het ’n Angel-Saksiese leër onder bevel van Eadwine, graaf van Mercië, en Morcar, graaf van Northumbria, op 20 September met Hardrada se leër slaags geraak. Die Noorse koning het geseëvier maar Harold was reeds na die noorde onderweg met ’n tweede leër wat sy elitemag van 3 000 huscarls, oftewel professionele geharnaste troepe, ingesluit het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Battle of Stamford Bridge by Arbo
Slag van Stamfordbrug deur Arbo
Peter Nicolai Arbo (Public Domain)

Harold se leër het op 25 September Hardrada se mag by Stamfordbrug, ’n uitgestrekte grasland êrens oos van die Derwentrivier die stryd aangesê. Hardrada se manskappe is onkant betrap aangesien hulle verwag het dat die vrylating van gyselaars van York beding sal word nadat York die vorige dag oorgegee het. Gevolglik het hulle ná hul seëviering ná Fulfordpoort hul harnasse in die kamp agtergelaat – ’n nalatigheid wat hulle beslis tydens die geveg benadeel het. Die geveg was binne ’n dag verby, met sowel Hardrada as Tostig dood. Vir Harold was die veldslag ’n algehele oorwinning en die Angel-Saksiese Kroniek meld dat daar slegs genoeg oorlewendes van die invalsleër was om 24 skepe vol te maak wat onder bevel van Hardrada se seun, Olaf, terug huis toe gevaar het. Harold het met een van die twee mededingers om sy kroon afgereken maar dit was die gevaarliker een van die twee teen wie hy nou in die suide te velde moes trek.

Invallers en verdedigers

William het die hele somer lank ’n vloot naby Saint-Valéry-sur-Somme op die noordelike kus van Frankryk versamel. ’n Kontemporêre Normandiese bron reken die totale aantal skepe was 776 maar dit is waarskynlik ’n oordrywing. Die Normandiese krygers is deur die belofte van buit en grond in die verowerde gebied aangevuur maar hulle is tydens die voorbereidingstydperk in die somer ook deur William betaal. Die totale grootte van die mag is onbekend maar die meeste geskiedkundiges skat dit op ongeveer 5 000-8 000, waaronder 1 000-2 000 ruiters.

ALHOEWEL HAROLD SE OPMARS NA EN OORWINNING BY STAMFORDBRUG GEWIGTIG WAS, WAS DIT NET DIE EERSTE BEDRYF IN ’N TRAGEDIE VAN TWEE BEDRYWE VIR DIE ENGELSE KONING.

Harold het kennis gedra van die komende Normandiese inval en het voorbereidings getref om dit die hoof te bied maar hy het gesukkel om sy eie mag bymekaar te hou. Die Engelse was reeds vir langer as drie maande in die veld gewees en met oestyd moes die manskappe na hulle plase terugkeer waar almal benodig is om te verseker dat daar voldoende graanprodukte vir die volgende jaar sou wees. Slegte weer het William se planne vertraag – of dalk was hy net uitgeslape en het hy vir sy opponente gewag om uiteen te gaan – en Harold het in die eerste week van September na Londen teruggekeer. Toe kom tyding van Hardrada se inval in die noorde en die nederlaag by Fulfordpoort. Harold se opmars na en oorwinning by Stamfordbrug, alhoewel dit gewigtig was, was net die eerste bedryf in ’n tweebedryftragedie vir die Engelse koning.

Verwyder Advertensies

Advertisement

William en sy invalsleër het op 28 September 1066 by Pevensey in Sussex, suidelike Engeland geland waar daar ’n goeie hawe en boonop die voordeel van ’n ou Romeinse fort was; nadat William die ou vesting weer gefortifiseer het, het dit ’n bietjie beskerming vir die leër se kamp gebied. Die Normandiërs sou nie gewonder het waar Harold hom bevind nie aangesien hulle reeds oor Hardrada se inval in die noorde ingelig is. Wat William nié kon geweet het nie was watter koning die Slag van Stamfordbrug gewen het, en wie sy opponent sou wees. Toe kom nuus van Harold se sege en dat hy suidwaarts aan't mars was. Harold het op 6 Oktober in Londen aangekom en sy leër gemonster en het op die 13de by Caldebec Kop, 13 km noord van Hastings, byeengetrek.

Harold se mag het sy elite-huscarls ingesluit, sowel as die opgekommandeerde troepe of fyrd – swakker opgeleide soldate wat deur elke distrik van die koninkryk voorsien is. Sommige bronne wat – na gelang van die skrywer se lojaliteit – óf die nederlaag óf die oorwinning wil verklaar, voer aan dat die Angel-Saksiese mag kleiner as dié van die Normandiërs was aangesien Harold nie tyd gehad het om troepe uit al die distrikte byeen te trek nie. Maar teenstrydig daarmee doen ander skrywers aan die hand dat Harold se leër die groter een van die twee was. In ag genome die onsekerheid van die uitslag van die stryd tot reg aan die einde, is dit egter waarskynlik dat die twee magte min of meer ewe groot was. Middeleeuse skrywers kritiseer Harold deurlopend dat hy sy mag te gou gemobiliseer het, alhoewel William hom moontlik doelbewus uitgelok het om dit te doen deur sy bevel om die geweste aan die suidoostelike kus – Harold se persoonlike landgoedere – meedoënloos te plunder.

Die veldslag

Die twee leërs het mekaar op 14 Oktober 1066 die stryd aangesê met William se mag wat eerste opgeruk het om Harold se kamp vroeg die oggend te bereik. Harold se leër, dalk ’n bietjie verras deur die Normandiërs se eerste skuif, het stelling teen ’n lae helling – ’n “hamerkoprant” – ingeneem wat aan weerskante deur ’n woud, en aan die voorkant deur ’n stroom en moerasagtige grond beskerm is. William se mag het suid van die rant in drie infanteriedivisies stelling ingeneem (van links af): Bretagners, Normandiërs en Franse, almal met ’n linie boogskutters en ’n aantal kruisboogskutters vooraan en die kavallerie wat agter in reserwe gehou is.

Harold se krygers was tipies met ’n swaard, groot byl en lang spies bewapen, met die beter toegerustes – en die voorste geledere – in ’n gemaliede harnas geklee. ’n Spitshelm met ’n neusskut en ’n ronde of vlieërvormige skild het verdere beskerming gebied. Daar sou ’n paar afdelings projektielwerpers gewees het wat die vyand met werpspiese, kliphamers, knuppels, slingervelle en pyle bestook het voordat die ander krygers as ’n eenheid vorentoe beweeg het, hulle skilde naby mekaar om ’n skildmuur te vorm. Die volgende fase sou meer chaoties gewees het, met klein vegtende groepe en tweestryde wat die slagveld oorheers het. ’n Algemene taktiek was om soldate in pare te gebruik, met een wat albei hande gebruik om die vyand met ’n breëlembyl by te dam, terwyl ’n ander soldaat bewapen met swaard en skild hom beskerm aangesien hy nie ’n skild kon dra nie. In teenstelling daarmee was die Normandiërs ten gunste van hulle kavallerie met geharnaste ruiters wat in geslote geledere gestormja het met die lans onder die arm vasgeknyp om verwoesting onder die vyand se infanterieformasies te saai. Die Normandiërs het ook sowel boogskutters as kruisboogskutters gehad – iets waaraan die Angel-Saksiese leër waarskynlik ontbeer het, of minstens aan ’n beduidende aantal daarvan gebrek gely het.

William the Conqueror, Bayeux Tapestry
William die Veroweraar – Bayeux-muurbehangsel
Myrabella (Public Domain)

Die Normandiërs het eers met ’n spervuur pyle losgetrek, waarna die Angel-Saksers die vyandelike infanterie met klipbyle gepeper het terwyl laasgenoemde teen die rant op probeer klouter. Die Normandiese kavallerie is toe ingestuur maar is deur die terrein en die helling belemmer sodat ook hulle deur die Saksiese skildmuur afgeslaan is. Tydens een dramatiese oomblik het ’n kreet onder die Normandiërs verrys dat William neergevel is. Dit kon die einde van die stryd bepaal het aangesien baie middeleeuse leërs al van die slagveld gevlug het sodra hulle bevelvoerder gesneuwel het. Maar William was ongedeerd en hy het sy visier gelig en tussen sy manskappe deurgery om te wys dat hy steeds leef, en in bevel van die situasie was.

’n Aantal Angel-Saksers, aangespoor deur die terugval van die Normandiese kavallerie, het teen die helling af agter hulle aangestorm maar toe hulle die laer terrein bereik en hulle formasie versaak het, is hulle afgemaai deur die Normandiese ruitery wat omgekeer en teruggestormjaag het. Toe William die sukses hiervan sien, het hy beveel dat sy ruitery nog twee skynaanvalle teen die rant op loods en dan terugval, en in albei gevalle is die vyand uitgelok om die ruiters agterna te sit, waarop die ruiters elke keer ’n suksesvolle teenaanval op platter terrein geloods het wat meer geskik vir die perde was.

Die dood van koning Harold

Die geveg het nou reeds verskeie ure gewoed – ’n buitengewoon lang tyd vir ’n middeleeuse veldslag. Maar die oorwig van die Normandiese kavallerie teen die Angel-Saksiese infanterie was algaande besig om die oorwinning te behaal en nou dat die geledere van die Angel-Saksers uitgedun is, was daar nie genoeg van hulle om die rant te verdedig nie. Dit was op hierdie stadium wat die uitgedunde aantal besopgeleide troepe, die huscarls – ná die Slag van Stamfordbrug – beslis ’n deurslaggewende rol moes gespeel het. In ’n finale kavallerie-stormaanval is Harold en ander Saksiese leiers, onder meer die koning se broers Gurth en Leofwine, gedood. Harold se dood is – volgens oorlewering, ten minste – deur die toedoen van ’n pyl wat hom in die oog getref het waarna hy deur ’n kavalleriestormloop onderstebo gestamp en toe deur Normandiese swaarde aan stukke gekap is terwyl hy plat op die grond gelê het. Die oorblywende Angel-Saksers het met ’n moedige agterhoedegeveg volhard terwyl hulle na ’n nabygeleë heuwel, die Malfosse, teruggeval het maar hulle is uiteindelik uitgewis, en die algehele oorwinning het aan William behoort.

Death of Harold, Bayeux Tapestry
Die dood van Harold – Bayeux-muurbehangsel
Myrabella (Public Domain)

Die Normandiese graaf het later ’n abdy, bekend as Battle Abbey (Veldslag Abdy) op die terrein van die veldslag gebou as huldeblyk vir sy sukses; die bouval van die ruïne staan vandag nog daar. Die lot van Harold se liggaam is onbekend alhoewel sy oorskot volgens ’n 12de-eeuse tradisie opgegrawe is waar dit naby die slagveld begrawe was, en toe na Waltham Abdy verskuif is. Latere ondersoek van die graftombe het egter gewys dat dit leeg is. Daar was ook ’n legende dat Harold die veldslag oorleef het en eers op ’n ryp ouderdom oorlede is maar sodanige stories en die misterie van die gevalle koning se grafplek is waarskynlik presies wat William wou gehad het: Daar sou geen begrafnis vir die koning wees nie, en geen martelaarsgraf waarom die rebelle kon saamtrek nie.

Nadraai

William die Veroweraar, soos wat hy later bekend sou staan, is op Kersdag van dieselfde jaar te Westminster Abdy as William I, koning van Engeland gekroon, en sodoende het 500 jaar se Saksiese heerskappy tot ’n einde gekom. William moes egter vir nog vyf jaar worstel – en veldslae teen rebelle in die noorde van Engeland wen en oral Normandiese burgheuwel-en-binneplaaskastele bou – voordat hy sy nuwe koninkryk geheel en al onder beheer gehad het.

Een van die groot rekords van die Slag van Hastings is die Bayeux-muurbehangsel. Dit is tussen 1067 en 1079 gemaak, is ongeveer 68 meter lank en 50 cm hoog en beeld baie aspekte van die Normandiese verowering, en die gebeurtenisse wat daartoe aanleiding gegee het, uit. Dit is ’n stuk propaganda wat William se aanspraak op die Engelse troon versterk en wat byvoorbeeld die Slag van Stamfordbrug uitlaat, maar die uitbeelding op die muurbehangsel (eerder borduurwerk as ’n tapisserie) is nietemin treffend, veral van die Slag van Hastings en die dood van Harold.

Die ondergang van die Angel-Saksers en die Vikings in die veldslae van 1066 het ’n nuwe era in die geskiedenis van noordelike Europa, en veral Engeland, ingelui. Die Normandiërs het die Angel-Saksiese elite vervang, die kerk is soortgelyk geherstruktureer en baie nouer bande met die Europese vasteland, veral Frankryk, is gesmee – iets wat die volgende paar eeue geweldig betrekking op die geskiedenis van die twee lande sou hê.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2019, January 11). Die Slag van Hastings [Battle of Hastings]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17034/die-slag-van-hastings/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Hastings." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig January 11, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17034/die-slag-van-hastings/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Slag van Hastings." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 11 Jan 2019. Web. 18 Oct 2021.