Die Trojaanse Oorlog

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 22 March 2018
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Griekse, Italiaanse, Portugees, Spaans, Turkse
Trojan Horse (by Mark Cartwright, CC BY-NC-SA)
Die Trojaanse perd
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Die Trojaanse Oorlog is êrens in die Bronstydperk tussen die Grieke en die verdedigers van die stad Troje in Anatolië geveg. Die storie gryp reeds millennia lank mense se verbeelding aan maar ’n konflik tussen die Mukeners en die Hittiete kon wel plaasgevind het, al is die uitbeelding daarvan in epiese literatuur soos Homerus se Iliade waarskynlik vir seker meer mite as werklikheid.

Tot vandag toe nog definieer en help die Trojaanse Oorlog vorm aan die manier waarop antieke Griekse kultuur beskou word. Die storie van gode en heldhaftige krygers is moontlik een van die rykste enkele oorlewende bronne uit die Oudheid en bied insae in die oorlogvoering, geloof, gebruike en ingesteldheid van die antieke Grieke.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Paris en Helena

Die hoofbron vir ons kennis van die Trojaanse Oorlog is Homerus se Iliade (een of ander tyd in die 8ste eeu VHJ geskryf) waarin hy 52 dae tydens die finale jaar van die konflik verhaal wat tien jaar geduur het. Die Grieke reken die oorlog het in ongeveer die 13de eeu VHJ plaasgevind. Die oorlog was egter ook die onderwerp van ’n lang mondelinge tradisie vóór Homerus se werk en dít, gekombineer met ander bronne soos die fragmentêre Epiese siklus-gedigte, gee vir ons ’n vollediger geheelbeeld van wat presies die Grieke as die Trojaanse Oorlog beskou het.

Volgens Griekse tradisie het die Trojaanse Oorlog begin as ’n manier waardeur Zeus die immer toenemende bevolking van die mensdom wou uitdun en, op ’n praktieser vlak, as ’n ekspedisie om Helena, vrou van Menelaos – koning van Sparta en broer van Agamemnon – terug te wen. Helena is deur die Trojaanse prins Paris (ook bekend as Alexandros) ontvoer nadat hy haar geneem het as sy prys omdat hy by die troue van Peleus en Tetis vir Aphrodite as die pragtigste godin in ’n kompetisie met Athene en Hera gekies het. Menelaos en die Grieke wou haar terughê en wou hulle wreek op die Trojaanse vermetelheid.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die Griekse leër

Die koalisie van die Griekse magte (of Argeïers, soos wat Homerus dikwels na hulle verwys) is deur koning Agamemnon van Muneke aangevoer. Onder die stede of streke wat deur die magte verteenwoordig is, was Beotië, Fokia, Euboia, Athene, Argos, Korinthe, Arkadië, Sparta, Kefalonië, Kreta, Rodos, Magnesië en die Siklade. Presies hoeveel troepe hierdie gekombineerde magte behels het, is onduidelik, maar Homerus verwys na ’n leër van tienduisende of, meer digterlik gestel, “soveel [manne] soos die blare en blomme wat in die lentetyd verskyn”.

Verwyder Advertensies
Advertisement
DIE GODE HET HULLE GUNSTELINGE GEHAD ONDER DIE MANNE WAT ONDER OP DIE VLAKTE VAN TROJE GEVEG HET EN HET HULLE DIKWELS BESKERM DEUR SPIESE TE LAAT WEGSKRAM.

Onder die Griekse krygers was buitengewone spesiale helde, leiers wat die beste vegters was en die meeste dapperheid op die slagveld vertoon het. Dikwels het hulle ook ’n goddelike moeder of vader gehad terwyl die ander ouer sterflik was, sodat ’n genealogiese skakel tussen die gode en gewone mense geskep is. Van die belangrikstes was Achilles, Odusseus, Ajaks, Diomedes, Patroklos, Antilogos, Menesteus en Idomeneus.

Die Grieke is deur verskeie van die Olimpiese gode van die Griekse geloof bygestaan. In Homerus se weergawe van die oorlog het Athene, Poseidon, Hera, Hefaistos, Hermes en Tetis almal óf direk óf indirek hulp aan die Grieke verleen. Die gode het hulle gunstelinge gehad onder die manne wat onder op die vlakte van Troje geveg het en het hulle dikwels beskerm deur spiese te laat wegskram, en hulle selfs in die hitte van die stryd weggevoer om hulle elders, ver van gevaar af, neer te sit.

Die Trojaanse leër

Die Trojaanse leër wat die vooraanstaande stad Troje onder leiding van hulle koning Priamos verdedig het, het bystand van ’n lang lys bondgenote gehad. Dit het Kariërs, Halisones, Kaukone, Kikone, Lisiërs, Maioniërs, Misiërs, Paioniërs, Paflagoniërs, Pelasgers, Frigiërs en Thraciërs ingesluit.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Achilles & Penthesileia
Achilles en Pentesileia
Marie-Lan Nguyen (CC BY)

Die Trojane het hulle eie semigoddelike helde gehad, onder meer Hektor (seun van Priamos), Eneas, Sarpedon, Glaukos, Forkus, Pouludamas en Resos. Die Trojane het ook hulp van die gode ontvang en tydens die veldslag is hulle bygestaan deur Apollo, Aphrodite, Ares en Leto.

Belangrikste skermutselings

Die meeste van die Trojaanse Oorlog was in werklikheid ’n uitgerekte beleg en die stad kon daarin slaag om die invallers vir so lank af te weer hoofsaaklik omdat hulle fortifikasies so manjifiek was. Trouens, in Griekse mitologie is die mure van Troje na bewering deur Poseidon en Apollo gebou nadat hulle weens ’n daad van oneerbiedigheid deur Zeus gedwing is om die Trojaanse koning Laomedon een jaar lank te dien. Veldslae is wel buite die stad geveg en alhoewel strydwaens soms deur die leërs gebruik is, was dit gewoonlik manne bewapen met spies en swaard en beskerm deur ’n skild, helm en pantser vir die borskas en bene wat met mekaar slaags geraak het. Oorlog is deur die verloop van die jare heen en weer oor die vlaktes van Troje gevoer maar die werklike opwindende gevegte blyk vir die finale jaar van die beleg gereserveer te gewees het en die volgende is van die hoogtepunte daarvan.

Paris teen Menelaos

Menelaos het keelvol geraak van onbesliste veldslae en het Paris tot ’n tweegeveg uitgedaag om die kwessie van die oorlog te skik. Nadat Paris hiertoe ingestem het, het die twee krygers lootjies getrek om te sien wie die eerste geleentheid gaan hê om sy spies te gooi. Paris het die loot gewen en het sy eerste spies gewerp maar dié het skadeloos in Menelaos se skild vasgesteek. Daarna het die Griekse koning sý wapen met allemintige krag gegooi sodat die spies regdeur Paris se skild geboor en deur sy pantser gedring het. As Paris nie op die laaste nippertjie gewankel het nie, sou hy op slag dood gewees het. Menelaos was egter nie klaar nie en het met sy swaard die Trojaanse prins ’n allervreeslike hou op sy helm toegedien. Die swaard het aan stukke gebreek wat in die stof gespat het. Menelaos het Paris met sy kaalhande aan die helm beetgekry en hom van die strydveld af begin sleep. Paris het gewurg aan die gespeband van die helm om sy keel en hy is net gered deur die ingryping van Aphrodite wat die leerband van die helm gebreek het, die prins met ’n digte mis bedek en hom na die veiligheid van sy geparfumeerde slaapkamer weggevoer het.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Achilles and Ajax By Exekias
Achilles en Ajaks, deur Exekias
Dan Diffendale (CC BY-NC-SA)

Hektor teen Ajaks

Die ontmoeting tussen die twee groot helde was soortgelyk aan dié tussen Menelaos en Paris. Elkeen het sy spies gegooi, maar sonder sukses. Daarna het Hektor ’n groot klip na die Griek geslinger, maar Ajaks het die klip met sy skild weggekap. Hierop het Ajaks gereageer deur ’n selfs groter klip terug te werp wat Hektor se skild vermorsel het. Albei het hulle swaard getrek en nader aan mekaar beweeg vir ’n stryd om lewe en dood maar elkeen is deur sy kamerade gestop wat aangedring het op ’n einde aan die geveg aangesien dit besig was om donker te word. Die twee krygers het die erekode gehuldig waarvoor die goeie ou dae so bekend was en selfs op vriendskaplike terme vir mekaar totsiens gesê deur vir mekaar geskenke te gee. Hektor het vir Ajaks ’n swaard met ’n silwer hef gegee en Ajaks vir Hektor ’n luisterryke pers gordel.

MET DIE BYSTAND VAN APOLLO HET ’N BEGEESTERDE HEKTOR, IN SY ROEMRYKSTE UUR, DIE GRIEKE WEEREENS NA HULLE SKEPE TERUGGEDRYF.

Aanval op die Griekse skepe

Ná ’n dag se hewige geveg het Hektor die Trojane aangevoer in ’n aanval op die mure van die Grieke se kamp. Hulle het deur die hekke gebreek en die Grieke paniekbevange na hulle skepe laat terugvlug. Aangesien Zeus se aandag tydelik deur die betowering van Hera afgelei was, het Poseidon ingegryp om die Grieke aan te spoor wat met hernude ywer ’n teenaanval geloods en die Trojane gedwing het om terug te val. Maar die verloop van die stryd het weereens van rigting verander en, met die bystand van Apollo het ’n begeesterde Hektor, in sy roemrykste uur, die Grieke weereens na hulle skepe teruggedryf waar Hektor dit aan die brand probeer steek het.

Patroklos sneuwel

Die onoorwinlike Achilles was eenvoudig die beste kryger in Griekeland, of trouens enige ander plek vir wat dit werd is. Maar tot die Grieke se groot ergernis het hy dikmond aan die grootste deel van die oorlog se finale fase nie deelgeneem nie. Agamemnon het op sy vroulike oorlogsbuit Breseïs beslag gelê en gevolglik het die held verseg om te veg. Aanvanklik het dit nie gelyk of Agamemnon baie gepla was dat hy sy temperamentele gelukbringer verloor het nie maar soos die Trojane die oorhand in die oorlog begin kry het, het dit begin lyk of Achilles benodig sou word indien die Argeïers ’n kans sou staan om die uitgerekte konflik te wen. Gevolglik het ’n toenemend desperate Agamemnon ’n beroep op Achilles gedoen en hom enorme rykdom belowe as hy net weer by die geveg sou aansluit. Achilles het die aanbod van die hand gewys maar toe die Griekse kamp aangeval word, het Patroklos ’n pleidooi aan sy vriend en mentor Achilles gerig om weer te begin veg en toe Achilles steeds weier, het Patroklos toestemming gevra om Achilles se pantser te dra en die Mirmidone self aan te voer. Toe Achilles sien dat een van die Griekse skepe reeds in ligte laaie was, het hy sy toestemming teësinnig gegee maar Patroklos gewaarsku dat hy die Trojane net uit die kamp uit moet verdryf en hulle nie na die mure van Troje moet agternasit nie.

Ambrosian Iliad
Ambrosiaanse Iliade
Unknown (Public Domain)

Patroklos het die Griekse terugvegpoging gelei, die Trojane is teruggedryf en hy het selfs daarin geslaag om die groot Trojaanse held Sarpedon dood te maak. In die roes van die sukses het die jong held toe Achilles se raad in die wind geslaan en die geveg in die rigting van Troje gevoer. Op hierdie tydstip het die grote Apollo namens die Trojane ingegryp en die helm en pantser van Patroklos ’n fel hou toegedien wat sy spies versplinter en sy skild van sy arm af geslaan het. Derhalwe blootgestel en weerloos, is Patroklos deur Euforbos se lem deurboor waarna Hektor nader getree en met ’n genadelose steek van sy spies die doodslag toegedien het.

Achilles se nuwe pantserdrag

Toe Achilles verneem het van sy goeie vriend Patroklos se dood, was hy oorstelp van smart en woede en hy het gesweer om die allervreeslikste wraak op die Trojane, en Hektor in die besonder, te neem. Ná ’n gepaste roubedryf het Achilles ten einde laas besluit om weereens tot die stryd toe te tree. Dit was ’n besluit wat die lot van Troje sou verseël.

LUISTERRYK IN SY GLIMMENDE PANTSER EN STEEDS BRIESEND VAN WOEDE, IS DIT GEEN VERRASSING NIE DAT ACHILLES DIE TROJANE WILD VOOR HOM OP DIE VLUG LAAT SLAAN HET.

Voordat Achilles egter weer ten stryde kon trek, het hy nuwe pantserdrag benodig, en dit is voorsien deur sy goddelike moeder Tetis wat Hefaistos, meesterambagsman van Olimpus, vir hom die manjifiekste stel pantser laat maak het wat nog ooit gesien is. Deur van brons, tin, silwer en goud gebruik te maak, het die god ’n massiewe skild gefatsoeneer wat ’n magdom aardse tonele en al die konstellasies uitgebeeld het. Insgelyks het hy vir die held ’n glansende helm met ’n goue kruin gemaak. Luisterryk in sy glimmende pantser en steeds briesend van woede, is dit geen verrassing nie dat Achilles die Trojane op die vlug laat slaan het wat paniekbevange na die veiligheid van hulle stadsmure gevlug het.

Hektor teen Achilles

Hektor het alleen buite die mure gebly staan maar toe hy sien hoe Achilles soos ’n besetene te kere gaan, het selfs sý moed hom begeef en het hy op die vlug geslaan om veiligheid op te soek. Maar Achilles het hom agternagesit en die Trojaanse prins drie maal om die stadsmure gejaag, en toe hy Hektor uiteindelik ingehaal het, het hy sy keel wreed met die lem van sy spies deurboor. Achilles het die sierlike pantser van die liggaam afgestroop en die gevalle Hektor aan sy enkels aan die strydwa gebind, en ten aanskouing van Priamos wat op die borswering van die stad gestaan het, het hy die liggaam teruggesleep na die Griekse kamp. Dit was ’n skokkende, oneerbare daad en het teen al die reëls van antieke oorlogvoering ingedruis.

Achilles Fighting Hektor
Achilles veg teen Hektor
Trustees of the British Museum (Copyright)

Met die dood van Patroklos gewreek, het Achilles omgesien na die begrafnisspele ter ere van sy gevalle vriend. Intussen het Priamos homself vermom en die Griekse kamp binnegeglip en Achilles gesmeek om die liggaam van sy seun terug te besorg sodat hy behoorlik begrawe kon word. Alhoewel hy aanvanklik teësinnig was, het Achilles uiteindelik ag geslaan op die emosionele pleidooie van die ou man, en die liggaam terugbesorg. Hier eindig die Iliade maar op die verloop van die oorlog het daar nog ’n paar wendings van die noodlot gewag.

Die Trojaanse perd en oorwinning

Die oorlog het nog verskeie opwindende episodes behels, onder meer Achilles se geveg met die Ethiopiese koning Memnon en die Amasone Pentesileia – wat albei die Trojane kom help het – en hoe hy hulle doodgemaak het. Na bewering het Achilles selfs op die pragtige Amasone verlief geraak op die einste oomblik wat hy haar met sy spies om die lewe gebring het. Achilles het self ook sy lot tegemoet gegaan en is gedood deur ’n pyl in die enkel – sy enigste kwesbare plek – wat deur Paris geskiet en deur Apollo gelei is. Odusseus en Ajaks het gekibbel oor die gevalle held se manjifieke pantserdrag en Ajaks het dol geraak van teleurstelling toe hy die prys kwyt is. Nadat hy ’n trop skape afgemaai het wat hy onder die indruk was Grieke gewees het, het hy in ’n morsige en doellose selfdood hom met sy eie swaard deurboor. Filoktetes het Achilles gewreek deur Paris noodlottig met Hercules se legendariese boog te skiet. En laastens kon Odusseus daarin slaag om die stad vermom binne te glip en die sakrale Palladion-standbeeld van Athene te steel.

TROJE IS GEPLUNDER EN DIE BEVOLKING AFGEMAAI OF VERSLAAF.

Die finale en beslissende aksie was egter die idee van die houtperd. Odusseus is deur Athene geïnspireer en het die plan bedink om ’n groep soldate binne die mure van Troje in te smokkel. Die Grieke het eerste in die sonsondergang weggevaar en ’n geheimsinnige offerande aan die Trojane agtergelaat – ’n reusagtige houtperd waarin ’n groep krygers skuilgehou het. Net om seker te maak dat die Trojane wel die perd inneem na die stad toe, is Sinon gekies om agter te bly en een of ander wolhaarstorie te vertel van die Grieke wat moed opgegee en ’n oulike geskenk agtergelaat het. Die Trojane het inderdaad die perd na binne die stadsmure gesleep en terwyl hulle ewe besope hul sogenaamde oorwinning met ’n fuiwery gevier het, het die groepie soldate uit die perd geklouter, die stadspoorte oopgegooi vir die Griekse leër wat intussen teruggekeer het, en die stad is geplunder en die bevolking afgemaai of as slawe weggevoer. Helena is na Argos teruggeneem en van al die Trojaanse helde het net Eneas ontsnap om uiteindelik in Italië te gaan nesskop.

Maar daar was ’n prys aan die oorwinning wat behaal is. As gevolg van hulle genadelose verwoesting van die stad en die inwoners en, selfs erger, die buitensporige heiligskendende dade soos die verkragting van Kassandra, het die gode die Grieke gestraf deur storms te stuur wat hulle skepe laat vergaan het; dié Grieke wat daarin kon slaag om uiteindelik terug te keer, moes ’n uitgerekte en moeilike terugvaart ontbeer. En selfs sommige van die Grieke wat dit wel terug na hulle tuisland gemaak het, het daar teëspoed en onheil in die gesig gestaar.

The Trojan Horse
Die Trojaanse perd
Tetraktyas (CC BY-SA)

Die Trojaanse Oorlog: kuns en literatuur

Troje en die Trojaanse Oorlog het ’n stapelmite van die Klassieke Griekse en Romeinse literatuur geword en daar word baie in werke daarna verwys, onder meer Aisgulos se Agamemnon, Euripides se Trojaanse vroue en Vergilius se Enid. Kunstenaars het ook hulle betowering met die Trojaanse Oorlog in beeldhoukuns en die versierings in pottebakkerskuns uitgebeeld. Tonele van die oordeel oor Paris, Achilles se geveg teen Hektor, Achilles en Ajaks wat met dobbelstene speel en Ajaks wat homself met sy eie swaard deurboor, is net ’n paar van die magdom tonele uit die storie wat deur die eeue herhaaldelik in kuns uitdrukking gevind het. Die belangrikste van alles is miskien dat die Trojaanse Oorlog die struweling van die Grieke teen buitelandse moondhede verteenwoordig, en dit vertel stories van ’n tyd toe mense beter, bekwamer en eerbaarder was.

Troje in argeologie

Baie geleerde debatte is reeds daaroor gevoer of die mitiese Troje werklik bestaan het en indien wel, of dit dieselfde stad is as die argeologiese terrein in Anatolië waar ’n stad ontdek is wat tydens duisende jare se bewoning gefloreer het. Dit word egter nou byna universeel aanvaar dat die argeologiese uitgrawings wel die stad van Homerus se Iliade onthul het.

Van die verskeie stede wat bo-op mekaar gebou is, is Troje VI (ca. 1750-1300 VHJ) die waarskynlikste kandidaat vir die beleërde stad van Homerus se Trojaanse Oorlog. Skouspelagtige fortifikasiemure met verskeie torings pas beslis by die Homeriese beskrywing van “sterkgeboude Troje”. Die benedestad dek ’n indrukwekkende 270 000 vierkante meter beskerm deur ’n omringende grag uit klip gekap wat ’n grootse stad soos die Troje van oorlewering aan die hand doen.

Troje VI is gedeeltelik vernietig maar buiten bewyse van ’n brand kan die presiese oorsaak daarvan nie bepaal word nie. Fassinerend genoeg, is brons pylpunte sowel as spiespunte en slingervelle op die terrein gevind met sommige daarvan selfs in die fortifikasiemure ingepriem, wat op een of ander soort konflik dui. Die datums hiervan (ca. 1250 VHJ) en die vernietiging van die stad stem ooreen met Herodotus se datums vir die Trojaanse Oorlog. Konflikte tussen die Mukeense en Hittitiese beskawing deur die eeue heen is uiters waarskynlik, met koloniale uitbreiding en beheer van die winsgewende handelsroetes die hoofmotiverings. Dit is egter onwaarskynlik dat sodanige konflikte op die skaal van Homerus se oorlog sou plaasgevind het, maar hulle kon wel kollektief die oorsprong van die epiese verhaal van die Trojaanse Oorlog gewees het wat mense eeue lank al fassineer.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2018, March 22). Die Trojaanse Oorlog [Trojan War]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-10357/die-trojaanse-oorlog/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Trojaanse Oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 22, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-10357/die-trojaanse-oorlog/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Trojaanse Oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 22 Mar 2018. Web. 19 Apr 2024.