Jeanne d'Arc

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 28 March 2019
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Hongaars, Italiaanse, Poolse, Portugees, Russiese, Spaans
X
Print Article
Joan of Arc by John Everett Millais (by John Everett Millais, Public Domain)
Jeanne d'Arc deur John Everett Millais
John Everett Millais (Public Domain)

Jeanne d'Arc (ca. 1412-1431) was ’n middeleeuse landbewoner wat daarop aanspraak gemaak het dat sy visies van God ontvang het, en sodoende die gety van die Honderdjarige Oorlog ten gunste van ’n Franse oorwinning laat keer het. Sy is bekend vir haar marteldood omdat sy by haar aanspraak op goddelike inspirasie volstaan het, en is later daarvoor as sint gekanoniseer.

Sy is in Domrémy, Frankryk as die dogter van ’n kleinboer gebore. Op 13-jarige ouderdom het sy ’n openbaring ontvang terwyl sy in haar vader se tuin gestaan het, dat sy die Franse tot ’n sege oor die Engelse moet lei en moet verseker dat Charles, die dauphin, (Charles VII van Frankryk, r. 1422-1461), by die tradisionele ligging te Rheims gekroon word.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Jeanne het in 1429 daarin geslaag om Orléans te ontset en Charles is ná die Loire-veldtog in Julie dieselfde jaar in Rheims gekroon. Jeanne is in 1430 deur die Engelse se Boergondiese bondgenote gevange geneem en aan hulle verkoop. Die Engelse kon nie ’n vrou vervolg wat daarop aanspraak maak dat sy God dien nie maar kon nie eers ’n sweempie daarvan toelaat dat sy die waarheid praat nie aangesien dit sou beteken het dat God aan die Franse se kant van die oorlog was. Hulle het haar uiteindelik as teruggevalle ketter skuldig verklaar en haar in Mei 1431 op die brandstapel verbrand.

Die verhoor van Jeanne d'Arc is so vroeg as 1452 hersien en ongeldig verklaar, en Jeanne is in 1456 vrygespreek en as ’n marteling verklaar. Sy is later gekanoniseer en is vandag een van Frankryk se beskermsints.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Die Honderdjarige Oorlog

Die Honderdjarige Oorlog (1337-1453) was ’n konflik tussen Engeland en Frankryk oor die regmatige opvolging tot die Franse troon. William die Veroweraar het in 1066 die Normandiese verowering van Engeland gelei en tydens sy bewind oor Engeland van 1066-1087 ’n Franse monargie gevestig. Die latere konings van Engeland het steeds landgoedere en belange in Frankryk gehad. Van tyd tot tyd het hulle deur een of ander gebaar op hul regte probeer staan en in die proses die beleide of wense van die Franse koning verontagsaam. Derhalwe het die monargie in Frankryk hulle daarvoor beywer om Engeland se mag in hulle land te minimeer terwyl die Engelse daarna gestreef het om die mag wat hulle reeds daar gehad het, te vermeerder.

In 1328 het Charles IV van Frankryk (r. 1322-1328) gesterf en geen manlike erfgenaam agtergelaat nie. Charles se suster, Isabella van Frankryk, het die Franse troon vir haar seun, Edward III van Engeland (r. 1327-1377) opgeëis maar haar eis is ontken aangesien sy ’n vrou was en vroue nie toegelaat is om so ’n aanspraak te maak nie. Die troon het na Charles se neef, Philip VI (r. 1328-1350) gegaan, en die antagonistiese verhouding tussen hierdie twee monarge – Philip en Edward – het in 1337 uiteindelik die oorlog ontketen.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Die oorlog was nie een lang, voortgesette konflik nie maar ’n reeks militêre veldtogte wat hoofsaaklik op Franse grond geveg is en uit vyandelikhede, gevolg deur ’n wapenstilstand, en dan verdere skermutselings bestaan het. Vir maklike bestudering van die oorlog het moderne vakkundiges die geskiedenis daarvan in drie tydperke opgedeel; Jeanne d'Arc verskyn in die finale tydperk wat as die Lancaster-oorlog (1415-1453) bekendstaan, so genoem na Huis Lancaster, die destydse heersershuis van Engeland.

The Route of Joan of Arc & The Hundred Years' War c. 1429
Die roete van Jeanne d'Arc en die Honderdjarige Oorlog, ca. 1429
Simeon Netchev (CC BY-NC-ND)

Die Lancaster-oorlog het met die verstommende oorwinning deur Henry V van Engeland (r. 1413-1422) by Agincourt begin waar hy ’n Franse mag verslaan het wat ’n geweldige getalleoorwig gehad het. Regdeur die Honderdjarige Oorlog het Engelse oorwinnings dié van die Franse verreweg oortref en in hierdie laaste fase van die oorlog het dit ná Agincourt voorgekom of hierdie patroon gehandhaaf sal word. Henry V is ingevolge die bepalings van die Ooreenkoms van Troyes (1420) met Catherine van Valois, dogter van die huidige Franse koning, Charles VI (r. 1380-1422), getroud en kon nou op die troon van Frankryk aanspraak maak. Charles VI het egter ’n manlike erfgenaam, die dauphin Charles, gehad wat op sy reg op die troon aangedring het en daarin geslaag het om steun vir sy eis te monster.

Engelse oorwinnings het voortgeduur terwyl Charles se ondersteuners geworstel het om die Engelse uit Frankryk te verdryf en sy bewind te legitimeer deur hom by Rheims as koning te kroon – ’n stad wat toe onder beheer van die Engelse se Boergondiese bondgenote was. Dit was net in die omtrek van die stad Chinon wat die dauphin Charles enige mag gehad het, en elke keer wat hulle ten velde getrek het, is hulle verslaan. Dit was gedurende hierdie tydperk wat Jeanne d'Arc op die toneel verskyn het en Charles se lotsbestemming, sowel as dié van Frankryk, omgekeer het.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vroeë lewe en visioene

Jeanne is in die dorpie Domrémy vir Isabelle Romee (1377-1458) en Jacques d'Arc (1380-1440) gebore. Sy het twee ouer broers – Jacques (wat soms as Jacquemin aangedui word) en Jean – gehad, asook ’n jonger broer en suster, Pierre en Catherine. Jacques d’Arc was ’n boer en die kinders sou almal daardie nering aangeleer het terwyl hulle grootgeword het.

Met haar latere verhoor, waarvan die rekords die hoofbron van inligting oor Jeanne se lewe is, het sy aangevoer dat sy een dag in 1425 op 13-jarige ouderdom ’n visioen van God ontvang het. Sint Catherine, Sint Michael en Sint Margaret het in haar vader se tuin aan haar verskyn en aan haar instruksies gegee om die Engelse uit Frankryk te verdryf en toe te sien dat die dauphin by Rheims gekroon word.

JEANNE KON VERTEL VAN ’n FRANSE NEDERLAAG WAT MET DIE BELEG VAN ORLÉANS VERBAND HOU VOORDAT ENIGEEN DAARVAN KON WEET, EN DAARDEUR HET SY HAAR GODDELIKE MAG GEDEMONSTREER.

Jeanne blyk nooit te getwyfel het dat haar visioen werklik ’n boodskap van God was nie, en tog sou drie jaar verloop sedert sy in staat was om haar sending te begin. Dit is moontlik dat haar gesin haar teëgehou het of dalk het sy nie geweet hoe sy veronderstel was om te werk te gaan nie; maar dit is alles blote spekulasie aangesien geen rekord oor Jeanne se lewe van ca. 1425 tot 1428 bestaan nie.

Verwyder Advertensies
Advertensie

In 1428 het sy by die kantoor van Robert de Baudricourt (ca. 1400-1454), kaptein van die garnisoen te Vaucouleurs, ’n nabygeleë dorp, verskyn en versoek om na die dauphin geneem te word. De Baudricourt het haar versoek minstens twee maal afgelag voordat sy hom van die erns van haar sending oortuig het.

Volgens een weergawe van die gebeure het Jeanne vroeg in 1429 na die kaptein se kantoor teruggekeer en kon sy hom vertel van ’n Franse nederlaag wat met Orléans verband hou voordat enigiemand daarvan kon weet, waardeur sy hom van haar goddelike mag oortuig het. Volgens die ander weergawe het Jeanne hom in die verleentheid gestel deur hom vurig in die openbaar aan te spreek oor sy gebrek aan geloof en sy versuim om te glo dat God haar gestuur het om Frankryk te bevry. Watter een ook al waar is, Robert de Baudricourt en ’n paar van sy manne het Jeanne na Chinon begelei om die dauphin te ontmoet.

Ontmoeting met die dauphin, en Orléans

Charles VII is van Jeanne se besoek verwittig en het besluit om haar te toets deur soos een van sy howelinge aan te trek en een van hulle soos hy te laat aantrek; indien Jeanne werklik deur God gestuur is, sou sy die ware dauphin uitken. Toe Jeanne die vertrek betree waar die dauphin en sy howelinge vergader was, het sy reguit na Charles gegaan en hom as die dauphin aangespreek; en toe hy protes aanteken en haar nog meer om die bos probeer lei, het sy stand gehou. Later het sy hom na bewering in die geheim van haar legitimiteit oortuig deur vir hom goed te vertel wat hy net vir God in sy gebede gesê het.

Maar die dauphin moes steeds seker maak dat Jeanne nie ’n heks was wat hom probeer betower het nie en daarom het hy haar deur kerklui van Poitiers vir ortodoksie en suiwerheid laat ondersoek. Sy is as ortodokse Christen van aansien verklaar en het haarself weer voor die dauphin as die antwoord op sy probleme by Orléans aangebied.

Profesieë het jare lank al die ronde in Frankryk gedoen dat ’n jongvrou in wapenrusting uit die streek Lorraine na vore sal tree om die land te red, en nou het Jeanne daardie profesie bewaarheid deur in volle oorlogsmondering saam met die leër na Orléans te reis. Alhoewel sy tot dusver niks met die oorlog te doen gehad het en nie by ’n enkele militêre skermutseling betrokke gewees het nie, het die profesie sigself so heg aan haar gebind dat sy as heldin in die stad verwelkom is. Die stad is op so ’n manier deur die Engelse beleër dat toegang tot die stad van tyd tot tyd moontlik was deur gapings wat toegemaak kon word wanneer dit nodig was. Jeanne en haar mag kon daarin slaag om die stad deur een van hierdie gapings op die Loire-rivier ’n paar myl oos van Orléans binne te gaan.

Joan of Arc
Jeanne d'Arc
Yann Caradec (CC BY-NC-SA)

Op hierdie stadium was die beleëring van Orléans reeds vyf maande aan die gang, en die Franse kon met geen manier vorendag kom om dit op te hef nie. Vakkundiges debatteer vandag nog oor die betekenis van Jeanne d'Arc se rol in die ontsetting van die stad en redeneer dat weens nuwe taktieke wat in Mei 1429 gebruik is en wat nooit vantevore probeer is nie, asook die verdedigers se ontvanklikheid vir nuwe moontlikhede, Jeanne se teenwoordigheid in Orléans moontlik nie so ’n groot impak gehad het as waarop die legende aandring nie.

Die argument is egter misleidend want daar kan geargumenteer word, en is al, dat Jeanne se aankoms in Orléans – oënskynlik die bewaarwording van die profesie – die verandering in taktiek en die eensklapse geloof in ’n moontlike oorwinning geïnspireer het. Orléans was ’n sleutelstad en van geweldige taktiese en simboliese belang vir albei kante in die konflik. Indien die stad geval het, sou die Franse waarskynlik die oorlog verloor het.

Jeanne het haar rol as heldin onmiddellik aangegryp deur die inwoners van Orléans persoonlik te groet en daagliks met hulle om te gaan om hulle aan te moedig en te inspireer, en kos en voorrade af te lewer. Die manne in beheer van die stad se verdediging het haar gereeld weg van die krygsraad af probeer hou maar sy kon nie omgepraat word nie en indien sy nie kon deelneem nie, kon sy ten minste na die verrigtinge luister.

Jeanne het herhaaldelik ’n beroep vir direkte optrede teen sleutelpunte in die Engelse linie gedoen en is geïgnoreer maar sy het geduldig volhard om handelswyses voor te stel, en het tussen die mense rondbeweeg en hulle aangehou aanmoedig en opbeur. Sy het die troepe gemonster en hulle in ’n suksesvolle aanval op die Engelse posisie Sint Loup aangevoer en die volgende dag, ondersteun deur ’n milisie van die stadsbewoners wat op haar inspirasie gereageer het, het sy aan nog ’n skermutseling deelgeneem wat verder tot die opheffing van die beleg bygedra het. Tydens hierdie skermutselings is Jeanne in die borskas gewond maar het deurgedruk en haar vaandel hoog gehou en ander daardeur aangevuur om verder te veg. Die beleg van Orléans is nege dae ná haar aankoms opgehef.

Ander skermutselings en gevangeneming

Jeanne het haar onmiddellik toegespits op ’n veldtog wat die weg vir Charles VII sou baan om by Rheims gekroon te word maar het verset en aanhoudende besware teëgekom. Rheims was diep in Engels-besette gebied en onder beheer van die Engelse se Boergondiese bondgenote, en Jeanne se plan om eenvoudig daarheen op te ruk – beskerm deur God's genade en mag – en die plek oor te neem, het vir die bevelvoerders van die Franse magte na ’n naïewe en onmoontlike voorstel geklink. Die heersende wysheid van die dag het dit duidelik gestel dat vroue sekere take gehad het wat God hulle gegee het terwyl mans ander verantwoordelikhede van veel groter belang gehad het, en daarom is vroue se raad oor mans se affêres eenvoudig geïgnoreer. Nie slegs was Jeanne ’n vrou nie maar ook ’n tienervrou met geen militêre ervaring of professionele leierskapopleiding nie.

Nietemin kon sy daarin slaag om die leërleiding te oortuig om tot haar voorstel in te stem aangesien haar oorwinning by Orléans rekrute van regoor die land laat instroom het om by die Loire-veldtog van 1429 aan te sluit. Hierdie inisiatief het tot Franse seges van Jargeau tot Meung en Beaugency gelei, en het in Junie se oorwinning by Patay ’n hoogtepunt bereik – alles deur Jeanne geïnspireer, al was sy nie by elkeen van hulle in ’n bevelsposisie nie. Die Loire-veldtog het die streek geleidelik skoongevee in die opmars na Rheims. Die Franse was so suksesvol dat die Boergondiërs van Rheims die stad oorgegee en die stadspoorte sonder teëstribbeling oopgegooi het sodat Charles VII in ooreenstemming met tradisie, en met Jeanne d'Arc aan sy sy, in Julie 1429 in die Rheims-katedraal as koning van Frankryk gekroon is.

Statue of Joan of Arc
Standbeeld van Jeanne d'Arc
James Shin (CC BY-NC-SA)

Die vername Franse middeleeuse skrywer Christine de Pizan (l. 1364-ca. 1430) het vir Jeanne die gedig “Ditié de Jehanne d'Arc” (Verhaal van Jeanne d'Arc) geskryf ter viering van die ontsetting van Orléans – die eerste literêre werk wat ter ere van Jeanne geskryf is, en die enigste een in haar leeftyd – en moes verheug gewees het toe die koning gekroon is. Rekords van die tyd doen ’n ligte luim oral onder die Franse aan die hand aangesien dit voorgekom het of die bordjies uiteindelik verhang is en dat Frankryk ’n kans gestaan het om die eindelose oorlog te wen wat teen hierdie tyd al amper ’n eeu voortgeduur het. Die Franse hoop het egter vervaag toe Jeanne in 1430 deur die Boergondiërs gevange geneem en aan haar Engelse vyande verkoop is.

Verhoor en teregstelling

Jeanne is in die Engels-beheerde stad Rouen aangehou waar haar verhoor vir kettery plaasgevind het. Na regte moes sy in ’n kerktronk aangehou word waar vroue veronderstel was om haar te versorg en te bewaak maar is toe eerder in ’n sekulêre tronk aangehou waar sy konstant deur manswagte geteister en gedreig is. Die verhoor was van die begin af ’n klug waaraan ’n aantal geestelikes geweier het om deel te neem totdat hulle lewe deur die Engelse owerhede bedreig is. Diegene wat op die ou einde wel ingestem het om deel te neem, was niks gelukkig daarmee nie.

Indien Jeanne wel die waarheid gepraat het, was die Engelse verkeerd in die oë van God vir hul voortsetting van die oorlog, en was die Engelse kerklui verkeerd om dit te ondersteun. Jeanne móés skuldig bevind word, en tog was die bewyse onbetwisbaar dat God haar seges gerig het. Met geen ervaring in leierskap of militêre aangeleenthede nie, het Jeanne haarself as uitsonderlike strateeg bewys, en elke skermutseling gewen waaraan sy deelgeneem het. Die regters was daarvan bewus dat sy vir ortodoksie en suiwerheid ondersoek is, en dat sy as goeie Christen en maagd bevind is. Ten einde haar skuldig te bevind, moes die tribunaal haar mislei om te beken dat sy oor haar visioene gelieg het en dat sy aan kettery skuldig was.

Jeanne is in ’n militêre tronk aangehou, selfs in haar sel geboei en deur haar wagte mishandel, en is weggelei om deur die mees gesofistikeerde regsgeleerdes van haar tyd ondervra te word. Volgens die transkripsies van haar verhoor het sy haarself op bekwame wyse verdedig, veral die oomblik toe die regters haar met ’n slenter probeer vang het deur haar te vra of sy glo dat sy in ’n genadestaat verkeer. Aangesien die kerk daarop aanspraak gemaak het dat ’n mens nie kan weet of jy jou in ’n genadestaat bevind nie, sou Jeanne ’n ketter wees indien sy “ja” antwoord; en indien sy “nee” antwoord, sou sy haar skuld bely dat sy nié onder God se genade verkeer nie, sodat haar visioene ongeldig verklaar sou word. Jeanne het hulle lokval ontwyk deur eenvoudig te antwoord, “Indien ek nie is nie, mag God my daar plaas, en indien ek is, mag God my daar hou.”

Gedreig met ’n vuurdood, het Jeanne haar aanspraak teruggetrek dat sy deur God opdrag gegee is om Frankryk te bevry; maar haar visioene het na haar teruggekeer en haar veroordeel dat sy haar lewe ten koste van die waarheid probeer red. Jeanne het haar terugtrekking herroep en is ingevolge kerkwetgewing as ketter tot die dood veroordeel. Sy is op 30 Mei 1430 in Rouen op die brandstapel verbrand en het regdeur haar teregstelling Jesus se naam aangeroep. Om seker te maak dat sy dood is, het die hof opdrag gegee dat haar lyk nog twee maal verbrand word, en dat haar as in die Seine-rivier gegooi word.

Ten slotte

Charles VII, vir wie Jeanne haar lewe gegee het, blyk om in byna elke aspek ’n merendeels onwaardige monarg te gewees het. Hy word oor die algemeen as swak van wil en onbelangstellend beskou – veral in die jare wat Jeanne se betrokkenheid met hom voorafgegaan het – en dit word algemeen aanvaar dat die prestasies van sy 38-jarige bewind deur ander geïnspireer en aangemoedig is, en nouliks die lewe werd was wat vir sy opgang tot mag betaal is. Pogings is aangewend om Jeanne te bevry maar nie een daarvan is deur Charles georganiseer of gemagtig nie.

Frankryk het in 1453 die Honderdjarige Oorlog gewen en, alhoewel daar deur die jare boeke verskyn het wat die teendeel voorstaan, was dit eerder weens die inspirasie wat Jeanne verskaf het as dié van enige innovering van Franse militêre taktiek. Selfs ’n vlugtige opname van die geskiedenis van die Honderdjarige Oorlog vóór Jeanne se betrokkenheid laat geen twyfel nie dat die Franse konsekwent meer skermutselings verloor as gewen het; en die soort suksesvolle taktieke wat daardie patroon verander het, het ná die oorwinning by Orléans verskyn.

Coat of Arms of Joan of Arc
Familiewapen van Jeanne d'Arc
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Kort ná Jeanne se dood het haar broers Pierre en Jean ’n vrou, Jeanne des Armoises, “aangeneem” en haar by die publiek as Jeanne d’Arc voorgedoen, en aangevoer dat sy op die laaste nippertjie van haar gevangenemers ontsnap het. Die drie het ses jaar lank ’n goeie bestaan uit hierdie bedrogspul gemaak totdat tyding van Jeanne se “oorlewing” by Rouen die ore van Charles VII bereik het wat haar na hom ontbied het. Toe die valse “Jeanne” nie aan Charles die geheime kon meedeel wat sy hom in 1429 vertel het nie, het die bedrog aan die lig gekom. Daar was egter geen regsgevolge nie en die drie broers – wat ná Orléans in 1429 saam met elke lid van Jeanne se gesin tot die adelstand verhef is – het aangehou floreer, en Jeanne des Armoises het ’n goeie huwelik gedoen.

Dit is algemeen aanvaar dat Jeanne se vader kort ná sy dogter se teregstelling van hartseer gesterf het maar rekords dui aan dat hy tot en met 1440 gelewe het. Jeanne se moeder het aangehou om ’n versoekskrif by die owerhede in te dien dat die skuldigbevinding ter syde gestel moet word, en in 1456 het dit uiteindelik plaasgevind. Jeanne se skuldigbevinding is ongeldig verklaar en sy is as marteling vir die Franse saak verklaar. Alhoewel hedendaagse vakkundiges haar visioene – hoofsaaklik as geestesongesteldheid – probeer wegredeneer het, kon niemand daarin slaag nie. Jeanne d'Arc inspireer vandag steeds mense soos wat sy in haar eie tyd gedoen het, en word as een van die beskermsinte vereer van die land wat sy gehelp red het.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2019, March 28). Jeanne d'Arc [Joan of Arc]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16982/jeanne-darc/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Jeanne d'Arc." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 28, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16982/jeanne-darc/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Jeanne d'Arc." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 28 Mar 2019. Web. 07 Oct 2024.