Die Slawe

Definisie

Cristian Violatti
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 10 September 2014
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Poolse, Serwies, Turkse
X
Print Article
Bishop Absalon topples the god Svantevit at Arkona (by Laurits Tuxen, CC BY-NC-SA)
Biskop Absalon werp die god Svantevit te Arkona omver.
Laurits Tuxen (CC BY-NC-SA)

Die term “Slawe” verwys na ’n etniese groep mense wat oor die lang termyn kultureel aaneengeskakel is en wat ’n stel verwante tale bekend as die Slawiese tale – wat almal aan die Indo-Europese taalfamilie behoort – praat. Redelik min is oor die Slawe bekend voordat daar in Bisantynse rekords van die 6de eeu HJ van hulle melding gemaak word, en die meeste wat ons vóór daardie tyd van hulle weet, is hoofsaaklik van argeologiese en taalkundige studies afgelei. Die Bisantynse skrywers verwys na die Slawe as “Sklaveni”.

Die oorsprong van die Slawe

Die Slawe is die mins gedokumenteerde groep van die sogenaamde barbaarse vyande van Rome tydens die laat Oudheid, derhalwe bestaan daar geen vakkundige konsensus rakende hulle oorsprong nie. Outeurs wat oor die Slawe geskryf het, stem nie ooreen nie: Sommige sê die Slawe was nomades en ander voer aan dat hulle in permanente nedersettings geleë in woude en moerasse gewoon het; volgens sommige mededelings het hulle onder die heerskappy van ’n koning geleef terwyl ander te kenne gee dat hulle ’n vorm van demokrasie omhels het. Benewens hierdie teenstrydighede moet ons in gedagte hou dat die meeste van hierdie uitsprake bedeeld is met die vooroordeel van die Romeine wat alle volke van die barbaredom as primitief, onbeskaaf en gewelddadig beskou het.

Verwyder Advertensies
Advertensie
OP GROND VAN ARGEOLOGIESE BEWYSE WEET ONS DAT PROTO-SLAWIESE MENSE REEDS TEEN 1500 VHJ VAN POLE TOT BELARUS AKTIEF WAS.

Sommige skrywers het die oorsprong van die Slawe na omstreeks die 1ste eeu HJ se inheemse Ystertydperk-stamme in die valleie van die Oder- en Vistularivier (in hedendaagse Pole en Tsjeggië) teruggespoor. Maar dit is alles nog debatteerbaar. Volgens argeologiese bewyse weet ons dat proto-Slawiese mense reeds teen 1500 VHJ aktief was in ’n gebied wat rofweg van westelike Pole tot die Dnieperrivier in Belarus gestrek het. Eerder as om ’n middelpunt van die oorsprong van die Slawiese kultuur te hê, blyk dit redeliker te wees om ’n ruimer gebied te oorweeg waarbinne ’n gemene kulturele eienskap deur die inwoners daarvan gedeel is.

Taalkundige bewyse doen aan die hand dat die Slawe se gebied op een of ander stadium aan die begin van hulle bestaan tot in die westelike omgewing van Rusland en die suidelike Russiese steppe gestrek het, waar hulle in kontak met Irannees-sprekende groepe gekom het. Hierdie afleiding is gegrond op Slawiese tale wat ’n treffende aantal woorde met die Irannese tale deel, wat slegs deur verspreiding van Irannees in Slawies verduidelik kan word. Lateraan, soos hulle weswaarts getrek het, het hulle in kontak met Germaanse stamme gekom en het hulle weereens verskeie bykomende terme aan Germaanse tale ontleen. ’n Poolse denker genaamd Józef Rostafiński het interessant genoeg opgemerk dat die woorde beuk, lork en taksus in alle Slawiese tale aan uitheemse tale ontleen is wat te kenne gee dat hierdie bome tydens die vroeë tyd van die Slawe se bestaan aan hulle onbekend was – ’n waarneming wat gebruik kan word om te bepaal wáár die Slawiese kultuur ontstaan het.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Slawiese mitologie

Ons het baie min materiaal oor die Slawiese mitologie; skrif is nie tot en met die 9de en 10de eeu HJ, tydens die proses van verchristeliking, aan die Slawiese kultuur bekend gestel nie.

Een belangrike god van die Slawe was Perun, verwant aan die Baltiese god Perkuno. Nes die Noorse god Thor, was Perun ’n god van donderweer en is hy deur sommige Slawe as die oppergod beskou – soortgelyk aan Thor wat deur sommige Germaanse volke as die belangrikste god beskou is. Die manlike god van jeug en die lente, genaamd Jarilo (of Iarilo) en sy vroulike eweknie Lada, die godin van liefde, is ook hoog in die Slawiese panteon geag. Sowel Jarilo as Lada was gode wat elke jaar gesterf het en weer uit die dood opgewek is, en Jarilo in die besonder kon moontlik ’n verbintenis met vrugbaarheidsmotiewe gehad het. Jarilo het ’n belangrike rol tydens die opkoms van die Christendom gehad aangesien hy ’n paar kenmerke met Jesus Christus gedeel het.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Verskeie veelkoppige gode was ook by die Slawiese mitologie ingesluit, byvoorbeeld Svantovit (of Svantevit), die god van oorlog, wat vier koppe – twee manlik en twee vroulik – gehad het; Porevit met vyf koppe wat die somer verteenwoordig het; Rujevit, met sewe gesigte, die inkarnasie van die herfs; en Triglav wat drie koppe vertoon het, en gelyktydig na die lug, die aarde en die onderwêreld gekyk het.

Die Slawe tydens die latere Romeinse Ryk

In die middel van die 5de eeu HJ het ’n politieke vakuum weens die val van die Hunneryk ’n impak op die hele Balkan-geweste gehad. Attila se veldtogte het groot gebiede suid van die Donau ongeskik vir ’n heenkome en derhalwe leeg gelaat. Die grense van die Romeinse Ryk wat aan die Balkan gegrens het, is moeilik bewaak soos nuwe groepe die verwoeste streek binnegetrek het. Onder hierdie nuwe groepe was die Slawe.

Tussen 531 en 534 HJ het Romeinse magte by ’n reeks militêre veldtogte teen die Slawe en ander groepe betrokke geraak. Tydens die 550’s het die Slawe na Thessalonika aangeruk en die geweste van die Hebrusrivier en die Thraciese kus betrek en verskeie gefortifiseerde nedersettings ten gronde gerig en – volgens Romeinse bronne – vroue en kinders verslaaf en die volwasse mans doodgemaak. Hulle kon egter nie hul teiken bereik nie: Thessalonika is weens die teenwoordigheid van ’n Romeinse leër onder aanvoering van Germanus van rampspoed gered. Later het die Slawe kragte met die Aware saamgesnoer om Griekeland, Thracië en Thessalië te oorrompel.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Die Romeine het ’n verdrag met die Aware gesluit ingevolge waarvan laasgenoemde ’n jaarlikse betaling van 100 000 goue solidi ontvang het in ruil daarvoor om die Romeinse grense onaangeraak te laat. Daarteenoor het die Slawe geen deel aan die ooreenkoms gehad nie en in 585 het hulle na Konstantinopel opgeruk maar is deur die Romeinse verdediging verdryf. Die Slawe het ander nedersettings aangehou aanval, en het uiteindelik die eerste permanente Slawiese nedersettings in Griekeland gevestig.

Rome het vroeg in die 600’s ’n veldtog teen die Slawe georganiseer maar dit het geen positiewe resultate opgelewer nie. Die Slawe en die Aware het weereens kragte saamgesnoer en in 626 ’n enorme mag gevorm en, ondersteun deur die Bulgare, het hulle Konstantinopel beleër. Die barbarekoalisie het amper hulle doel bereik maar die Romeine kon daarin slaag om die aanval af te weer. Ná hierdie gebeurtenis het die bondgenootskap tussen die Slawe en die Aware tot ’n einde gekom. Die Slawiese besetting van Griekeland het tot die 9de eeu geduur, toe die Bisantyne hulle ten einde laas uitgedryf het. Teen daardie tyd het die Slawe ’n stewige teenwoordigheid in die Balkan en ander streke in sentrale en oostelike Europa gehad.

Kulturele uiteenvloeiing van die Slawe

Vroeg in die Middeleeue het die Slawe ’n groot gebied bewoon wat die ontluiking van verskeie ander onafhanklike Slawiese state ontlok het. Vanaf die 10de eeu het die Slawe ’n proses van geleidelike kulturele uiteenvloeiing ondergaan wat ’n stel nou verwante maar wedersyds onverstaanbare tale opgelewer het wat as deel van die Slawiese tak van die Indo-Europese taalfamilie geklassifiseer word.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vandag word daar steeds ’n groot aantal Slawiese tale gepraat, onder meer Bulgaars, Tsjeggies, Kroaties, Pools, Serwies, Slowaaks, Russies, sowel as vele ander wat van sentrale en oostelike Europa tot onder in Rusland strek.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Cristian Violatti
Cristian is ’n openbare spreker en onafhanklike skrywer met ’n hegte passie vir die menslike verlede. Hy put sy inspirasie uit die ryk lesse van die geskiedenis, en sy doelwit is om idees te stimuleer en om die intellektuele nuuskierigheid van sy gehoor te stimuleer.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Violatti, C. (2014, September 10). Die Slawe [Slavs]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-13215/die-slawe/

Chicago-styl

Violatti, Cristian. "Die Slawe." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig September 10, 2014. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-13215/die-slawe/.

MLA-styl

Violatti, Cristian. "Die Slawe." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 10 Sep 2014. Web. 08 Oct 2024.