Die Khotyn-vesting

Definisie

Artem Vynohradov
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 01 February 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Spaans, Turkse, Frans, Duits, Portugees
Khotyn Fortress (by Zysko Serhii, CC BY-SA)
Die Khotyn-vesting
Zysko Serhii (CC BY-SA)

Die Khotyn-vesting is ’n fortifikasiekompleks wat op die heuwelagtige regteroewer van die Dniester-rivier in Khotyn, Oekraïne geleë is. Dit bestaan uit ’n 13de-eeuse vesting en ’n 18de-eeuse bolwerk wat dit omring. Dit is een van die oudste behoue fortifikasies in Oostelike Europa.

Die middeleeuse vesting

Daar is geen inligting in geskrewe bronne oor die konstruksiedatum van die eerste fortifikasies by die terrein nie maar argeologiese opgrawings in die 1960’s het die oorblyfsels van ’n vroeë gefortifiseerde struktuur onthul. Die eerste kasteel het houtmure en grondwalle gehad, en dit is moontlik in die vroeë 11de eeu deur die Groot Prins van Kiëf, Vladimir die Grote (ca. 958-1015) gebou wat die geweste min of meer daardie tyd verower het en die rivierkruising wou beheer om toegang tot ’n belangrike handelsroete te bekom.

Verwyder Advertensies

Advertisement

IN DIE MIDDEL VAN DIE 13DE EEU HET DANIËL I VAN GALICIË DIE VESTING VERSTERK DEUR DIE HOUTFORTIFIKASIES MET KLIP TE VERVANG.

In 1199 het die stad en die vesting deel van die Galicies-Wolhiniese vorstedom geraak wat die vesting op die oewer van die Dniester – destyds die grens van die vorstedom – gebruik het om die grens te verdedig. In die middel van die 13de eeu het Daniël I van Galicië (1201-1264), koning van Roetenië (voorheen Galicië-Wolhinië), die vesting versterk deur die houtfortifikasies met klip te vervang.

Tydens die ekonomiese krisis van die 14de eeu in Europa was Genua op soek na nuwe inkomstebronne. Die Swart See-kom, wat die Dniester insluit, was so ’n bron aangesien hierdie omgewing oor ’n oorvloed landboukundige hulpbronne beskik het. Derhalwe het die Genuese teen die eerste helfte van die 14de eeu ’n handelsnetwerk regoor die Donau, die Dniester, die See van Azof en die Krim geskep. Weens die swakheid van die koninkryk van Roetenië in die vroeë 14de eeu was die Genuese in staat om die Dniester-handelsroete oor te neem, en die Khotyn-vesting het ’n afgeleë buitepos geraak wat die handelsnetwerk beskerm het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Met die stigting van die Moldawiese vorstedom in die middel 14de eeu onder die heerskappy van Dragoș die Stigter (1353 gesterf), leenman van die koninkryk van Hongarye, het al die fortifikasies en handelsposte aan die Dniester, onder meer Khotyn, onder die bewind van Moldawië gekom. Die vesting is in die 15de eeu aansienlik herbou, en het die woonplek van die plaaslike goewerneur geword.

Europe Before the Fall of Constantinople, c. 1450
Europa voor die val van Konstantinopel, ca. 1450
Simeon Netchev (CC BY-NC-SA)

In die tweede helfte van die 15de eeu wou die Ottomaanse Ryk vir Suidelike Bessarabië verower maar hulle was besorg oor die strategiese ligging van die Moldawiese vorstedom. Toe Moldawië in 1473 weier om hulle jaarlikse tribuut aan die Ottomaanse Ryk te betaal, het Mehmed II die Veroweraar (r. 1451-1481) in 1474 vir Moldawië binnegeval. In 1476 het sy leër Khotyn bereik maar die vesting blyk onneembaar te gewees het, en die beleg was onsuksesvol.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Ottomaanse tydperk

Aan die begin van die 16de eeu het die Moldawiese vorstedom ’n leenstaat van die Ottomaanse Ryk geword, en die vesting is deur die janitsaar-garnisoen van die streek beset. In die 1530’s het Petru Rareș (ca. 1483-1546), prins van Moldawië, ’n poging aangewend om Pokuttya, ’n streek noordwes van Khotyn, te verower en het sodoende ’n oorlog met die koninkryk van Pole begin. Die Poolse leër was egter baie sterker en in 1538 het hulle Khotyn beleër en die vesting oorgeneem. Tydens die beleg is ’n groot gedeelte van die muur tussen die noordelike en suidelike toring opgeblaas, en ’n deel van die paleis naby die oostelike muur, die poort asook die ystersmid se toring is vernietig. Die kasteel is van 1540 tot 1544 herbou en uitgebrei: Die mure en die ystersmid se toring is gerestoureer, en die nuwe poort is gebou. Die Pole het die vesting tot en met 1617 beheer toe die Vrede van Busza onderteken is en die vesting onder die bewind van Ottomaanse Moldawië gekom het.

In 1620 het die spanning tussen die Pools-Litause Gemenebes en die Ottomaanse Ryk ’n hoogtepunt bereik. Die Tartare en die Kosakke, onderskeidelik onderhorig aan die Turkse sultan en die Poolse koning, het deurentyd in konflik verkeer, met die Tartare wat die suidelike gebiede van die Gemenebes geplunder het om slawe weg te voer, en die Kosakke wat Ottoman-dorpe en -handelspunte aangeval het, en selfs Istanbul bedreig het. Pole het ook met die binnelandse sake van Moldawië ingemeng en gevolglik het sultan Osman II (r. 1618-1622) in 1621 ’n mag van byna 160 000 soldate gemonster en ’n inval geloods. Die leër van die Pools-Litause Gemenebes en hulle Kosak-bondgenote was ongeveer 50 000-60 000 troepe sterk gewees. Die leërs het mekaar voor die mure van Khotyn die stryd aangesê en die veldslag het met ’n Pools-Litause oorwinning geëindig. Die Vredesverdrag van Khotyn het die Dniester as die Gemenebes-Ottomaanse grens erken maar die Khotyn-vesting het onder Ottomaanse bewind gebly.

Battle of Khotyn (1621)
Die Slag van Khotyn (1621)
Józef Brandt (Public Domain)

In 1673 het die Pools-Litause leër onder aanvoering van Jan III Sobieski (1629-1696) weereens voor die militêre mag van die Ottomaanse Ryk te staan gekom. Die Gemenebes het geseëvier en hulle kon selfs daarin slaag om die vesting oor te neem, al was dit kortstondig. Daarna het die Ottomans besluit om die kasteel te sloop maar die plaaslike goewerneur het nie die taak voltooi nie, sodat die kasteel behoue gebly het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE NUWE KOMPLEKS VAN 30 HEKTAAR KON IN VREDESTYD ’N GARNISOEN VAN 20 000 TROEPE MET VOORRADE EN AMMUNISIE HUISVES, EN TOT 60 000 TYDENS VYANDELIKHEDE.

Aan die begin van die 18de eeu was die Ottomaanse Ryk baie bekommerd oor die toenemende mag van Rusland se tsareryk. Hulle het gevrees dat die Russe eers die Pools-Litause Gemenebes sou aanval, en daarna Ottomaanse Moldawië waar ’n groot deel van die bevolking Ortodokse Christene was. Daarbenewens wou die Turke die gebied herower wat hulle ná die Verdrag van Konstantinopel in 1700 aan Rusland afgestaan het. In 1710 het die Ottomaanse Ryk oorlog teen die Russiese tsareryk verklaar en ’n jaar later het Peter die Grote (1672-1725) die Pruth-rivier-veldtog begin en Moldawië ingeval. Die veldtog was onsuksesvol vir die Russe gewees, en hulle moes ’n nuwe vredesverdrag met die Ottomaanse Ryk onderteken.

Die Turke het al die fortifikasies langs die Dniester versterk wat deel van die noordelike grens uitgemaak het. Die Khotyn-vesting is aansienlik herbou, met ’n nuwe bastionvesting wat daarom opgerig is. Die nuutgeboude vesting het sewe bastions en vyf gefortifiseerde poorte gehad. Die buitekant van die torings is met ’n klipmuur versterk, waarvoor ’n grag gegrawe is. Die ou burgvesting is deur middel van ’n muur aan die hele fortifikasiestelsel verbind. Die nuwe kompleks van 30 hektaar kon in vredestyd ’n garnisoen van 20 000 troepe met voorrade en ammunisie huisves, en tot 60 000 tydens vyandelikhede. Die burgvesting het die rol van ’n arsenaal vervul.

Ruins of the Bastion of the Khotyn Fortress
Bouval van die bastion van die Khotyn-vesting
Artem Vynohradov (CC BY-SA)

Latere geskiedenis

Die vesting het tydens die 18de eeu dikwels van eienaar verwissel. Tydens die Russies-Turkse Oorlog van 1735-1739 het Russiese troepe die Turkse leër by Stavuchany (1739) naby Khotyn verslaan, waarna die vesting se Ottomaanse garnisoen sonder weerstand oorgegee het. Ná die ondertekening van die Vredesverdrag van Belgrado later daardie selfde jaar het die Ottomaanse garnisoen teruggekeer. In 1769 het die Russiese leër tydens die Russies-Turkse Oorlog van 1768-1774 die Ottomaanse Turke op die oewer van die Dniester die stryd aangesê. Die Turke is verslaan en die Khotyn-garnisoen het onttrek. Die Verdrag van Küçük Kaynarca (1774) het egter nie die Dniester-grens gewysig nie, sodat die vesting weereens onder Ottomaanse bewind beland het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

In 1787 het die Ottomaanse Ryk ’n poging aangewend om die gebied wat hulle tydens die vorige oorloë aan Rusland afgestaan het, terug te wen. Oostenryk het aan die kant van die Russe by die oorlog betrokke geraak, en die Russies-Oostenrykse leër het die Khotyn-vesting omsingel en beleër. Die vesting het oorgegee maar ook die Verdrag van Jassy het nié die Dniester-grens verander nie, sodat ’n Ottomaanse garnisoen wéér beheer van die vesting oorgeneem het.

Map of the Khotyn Fortress
Kaart van die Khotyn-vesting
Unknown Author (Public Domain)

In 1806 het Russiese troepe die Dniester oorgesteek en Moldawië binnegedring en sodoende die Russies-Turkse Oorlog van 1806-1812 begin. Die bevelhebber van Khotyn het die vesting sonder weerstand aan die Russe uitgelewer. Khotyn het ten einde laas in 1812 ingevolge die Vredesverdrag van Boekarest amptelik deel van die Russiese Ryk geraak. Daarna het die vesting sy strategiese belang verloor; dit het die hoofkwartier en hospitaal van die Modlin-infanterieregiment, in Khotyn gestasioneer, geraak. Deesdae is die kompleks ’n geskiedkundige bewaargebied – die vesting is tot sy 18de-eeuse toestand gerestoureer, en is ’n gewilde toeristebestemming.

Die kasteel se verdedigingstrukture

Ná dosyne rekonstruksies en fyner afwerkings het die kasteel ’n redelike magtige verdedigingstelsel gevorm. Ten einde die kasteel teen artillerievuur te beskerm aangesien dit in in die middel van ’n kom geleë is, verrys die mure tot ’n hoogte van byna 40 m bo die grond. Die noordelike en westelike muur word deur ’n stroom begrens en teen die suidelike muur loop daar ’n grag.

Khotyn Stronghold from the North
Die Khotyn-vesting vanuit die noorde
Vian (CC BY-SA)

Die mure is met vyf torings gefortifiseer wat die kasteel in staat gestel het om die omliggende heuwels met artillerievuur te dek.

  • Toring van die suidelike ingang – Die toring is in die vroeë 18de eeu gebou, is 20 m hoog en die mure is 3-4 m dik. Die ingang tot die vesting was aanvanklik in die basis van die toring geleë maar dit is in die 19de eeu herbou, met houtbrûe aangevul, en die ingang is na die huidige vlak verskuif.
  • Smidstoring (suidwes) – Die huidige toring, wat in die 18de eeu gebou is, is ’n rekonstruksie van ’n 15de-eeuse toring. Die toring is byna 29 m hoog, met mure 2 m dik en dit huisves die kasteel se smeltoond.
  • Kommandantstoring (weste) – Die toring is in die 15de eeu gebou en was direk aan die kommandant se paleis verbind. Die toring is 62,5 m hoog en die mure 2 m dik. Die boonste vloer van die toring is met skietgate vir artillerievuur toegerus.
  • Oostelike toring – Die toring is in die middel 15de eeu gebou. Dit is 55 m hoog. Binne die toring is ’n soliede stuk muur van 6 m dik, derhalwe is die enigste manier om by die skietgatvlak uit te kom, deur middel van die kasteelmure.
  • Noordelike toring – Die toring is in die middel 15de eeu gebou en dit was die burgtoring van die kasteel. Dit het vier vlakke skietgate wat vir artillerie- en musketvuur aangewend is. Die mure van die toring is 68 m hoog en 2 m dik.

Binnehof van die kasteel

Die binnehof word deur die kommandant se huis in twee helftes verdeel. Daar word na die noordelike deel – die oudste deel van die kasteel – as die Hertog se Werf of die Kommandant se Werf verwys, terwyl die suidelike deel van die vesting as die Werf van Krygers bekend staan.

Courtyard of the Khotyn Stronghold
Binnehof van die Khotyn-vesting
Artem Vynohradov (CC BY-SA)

Die meeste geboue is in die suidelike deel geleë:

  • Die kommandantswoning – Die 15de-eeuse tweeverdiepinghuis is van wit klipblokke en rooi bakstene gebou. Binne-in is die paleis in residensiële en verdedigingsseksies verdeel. Die paleis het ook portale en wit kliprame gehad maar die meeste van hierdie elemente het in die 19de en 20ste eeu verlore gegaan.
  • Barakke – Die tweeverdiepingwoonkwartiere van die vesting se garnisoen is in die 15de eeu langs die oostelike mure gebou. Deur die geskiedenis is dit herhaaldelik herbou en tans huisves dit ’n museum van die vesting.
  • Kasteel se put – Die put is in die middel van die binnehof geleë, is 50 m diep en dateer uit die 15de eeu.
  • Kasteel se kapel – Die konstruksiedatum is onbekend maar dit is waarskynlik tussen die 13de en 15de eeu in die Romaanse en Gotiese argitektoniese styl gebou. Dit is verskeie keer herbou, in die Ottomaanse tydperk in ’n moskee omskep en in die vroeë 19de eeu in ’n Ortodokse kerk ombou.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Bibliografie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Artem Vynohradov
My naam is Artem. Ek is ’n Oekraïense student en ’n geskiedenis-entoesias. My belangstellings sluit ekonomie, geskiedenis, geografie, internasionale betrekkinge, argitektuur, stedelike lewenswyse en linguistiek in.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Vynohradov, A. (2022, February 01). Die Khotyn-vesting [Khotyn Fortress]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20269/die-khotyn-vesting/

Chicago-styl

Vynohradov, Artem. "Die Khotyn-vesting." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig February 01, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20269/die-khotyn-vesting/.

MLA-styl

Vynohradov, Artem. "Die Khotyn-vesting." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 01 Feb 2022. Web. 25 Jun 2022.