Kersfees deur die eeue

Artikel

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 07 December 2021
X

Vir meer as twee millennia word allerlei gebruike en tradisies met die Kersseisoen geassosieer, waarvan sommiges selfs die Christenfees self voorafgaan. Van die gee van geskenke tot die weidse maaltyd aan die Kerstafel, spoor hierdie artikel die geskiedenis van die feesvieringe vanaf die Romeinse tyd tot die Victoriaanse era na, toe ons moderne begrip van de feesseisoen in sowel daad as literatuur stewig gevestig is. Alhoewel baie van die tradisies wat hier beskryf word universeel in alle Christenlande is – veral tot en met die einde van die Middeleeue – stel ons die Christentradisies hier merendeels in terme van die Angel-Saksiese ervaring voor.

Silent Night by Viggo Johansen
Stille Nag deur Viggo Johansen
Viggo Johansen (Public Domain)

Oorsprong: Saturnalieë

Verskeie van die tradisies wat vandag met Kersfees geassosieer word, het inderdaad ’n baie lang geskiedenis, en dateer selfs terug na vóór die vier van Kersfees. Die vroeë Christendom wou hulle van heidense praktyke distansieer en daarom het latere Romeinse keisers antieke gewyde vergaderplekke gesluit, rituele verbied en sportspele beëindig wat eens op ’n tyd heidense gode vereer het. Dit was egter nie so maklik om die gewoontes van gewone mense te verander nie. Die heidense fees Saturnalieë was buitengewoon gewild gewees, en die tradisies daarvan wat reeds ’n duisend jaar lank bestaan het, is in baie gevalle eenvoudig na die nuwe Kersfees oorgedra.

Verwyder Advertensies

Advertisement

WINTERLOOF WAS BESKIKBAAR EN GROENIGHEID IS VERSAMEL OM DIE TUISTE MET GIERLANDES TE VERSIER.

Saturnalieë was ’n weeklange Romeinse fees wat van 17 tot 23 Desember gehou is en wat hulde aan Saturnus, god van landbou, gebring het en waarbinne die wintersonstilstand – nóg ’n belangrike gebeurtenis in die heidense kalender – netjies omvat is. Die feit dat dit die joligste van alle Romeinse feesdae was, het waarskynlik gespruit uit Saturnus se rol as heerser toe die wêreld in ’n goue tydperk van geluk en vooruitgang gekoester het. Die fees, wat na die 5de eeu VHJ terugdateer, is deur Catullus, die Romeinse digter uit die 1ste eeu VHJ, as die “beste van tye” beskryf.

Saturnalieë het behels dat familie en vriende met geskenke soos kerse, munte en kos begiftig is. Minder formele klere is gedra, speletjies is gespeel, feeste geniet en daar was selfs rolwisselpartytjies. Sosiale beperkings is ’n bietjie verslap en bedrywighede soos dobbelary en openbare dronkenskap is met minder afkeur bejeën. Dit klink alles nogal redelik bekend, of hoe? Mettertyd is die fees na later in Desember verskuif en nes Athene se Parthenon met ’n kerk en kloktoring binne die kolomme daarvan vir lief moes neem, is ook Saturnalieë algaande op een of ander wyse in ’n Kersfeesviering omvorm.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Preparing the Yule Log
Voorbereiding van die Joelblok
or Robert Alexander Hillingford (Public Domain)

’n Middeleeuse Kersfees

Tydens die middeleeuse tydperk (500 tot 1500) het die feesvieringe van krag tot krag gegaan. Dit was die langste feestydperk van die jaar – gewoonlik die volle twaalf dae van Kersfees. Vanaf Oukersaand (24 Desember) tot die Twaalfde Dag, oftewel Driekoningedag (6 Januarie) het mense, hoofsaaklik weens die verposing in landboukundige bedrywighede in die middel van die winter, ’n welverdiende blaaskans geniet.

Voorbereidings vir Kersfeesvieringe het in die huise van sowel die armes as die rykes begin. Winterloof was beskikbaar en groenigheid is versamel om die huis met gierlandes te versier. Huls, eiloof en mistel was lank reeds die Kelte bewonder gewees en is met vrugbaarheid en die beskerming teen bose geeste geassosieer. ’n Reusagtige dubbele ring mistel het gewoonlik ’n ereplek in die woonkamer beklee. Die verbintenis met vrugbaarheid verduidelik dan ook die tradisie wat ontwikkel het dat paartjies onder die mistel soen, en ’n helder wit bessie met elke piksoen afpluk. Nog ’n belangrike kenmerk van ’n huis tydens Kersfees – en nog ’n skakel met heidense praktyke – was die Joelblok. Hierdie enorme stuk boomstomp is in die vuurherd geplaas en vir die ganse twaalf dae van die feestydperk aan die brand gehou.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die punt van Kersfees was natuurlik om die geboorte van Jesus Christus te vier. Daar is van almal verwag om kerk by te woon; trouens, in sommige tydperke was dit verpligtend. Plaaslike kerke het ’n werklike poging aangewend om ’n diens te bied wat waardig van die geleentheid was. Kerse is aangesteek, en glinsterende vergulde altaarstukke is oopgemaak – baie net vir hierdie spesiale dag. Die koor het gesing en het ekstra liedere, sowel as dinamiese dialoë bygevoeg wat as “trope” (troping) bekendgestaan het. Uit hierdie aktiwiteit het die tradisie ontstaan om individuele sprekers of akteurs te gebruik om tonele uit die geboorte van Christus op te voer. Met die verloop van tyd is die Kersverhaal in ’n teateropvoering met kostuums en selfs lewendige diere omskep.

The Three Magi
Die drie wysemanne
Nina Aldin Thune (CC BY-SA)

Ter herinnering aan die drie wysemanne se geskenke van goud, wierook en mirre toe hulle die baba Jesus in Bethlehem besoek het, is geskenke vir vriende en familie gegee. Vir die welgesteldes was mooi klere en juweliersware die norm, en onder die minder gegoedes is die verwagting vir beter kos as gewoonlik, ’n bondel vuurmaakhout of eenvoudige houtspeelgoed soos klimtolle en poppe gekoester. Enersyds is daar dikwels van lyfeienes verwag om hulle landheer met ekstra brood en eiers of moontlik ’n hoender vir Kersfees te begiftig, en andersyds het die landadel wel geskenke gegee vir sommige van hulle vry diensnemers, wat moontlik bonus klere of wintervoorraad ontvang het. Op die 1ste Januarie is daar wéér geskenke uitgedeel. Hierdie geskenke het as “eerste geskenke” bekendgestaan en was na bewering ’n aanduiding van wat ’n persoon se lot in die komende jaar sou wees. Nog ’n voorteken vir die toekoms was wié iemand se eerste gas van die jaar was. Op Nuwejaarsdag het mense mekaar se huise besoek en vir hierdie bedrywigheid, wat as “eerste besoeker van die nuwe jaar” bekendgestaan het, is dit die wenslikste beskou indien die gas manlik met donker hare was, en platvoete gehad het.

Net soos nou het kos ook in die Middeleeue ’n groot deel van die genot van Kersfees uitgemaak. Die rykes moes die reeds indrukwekkende tafels van hulle herewonings oortref, en gaste van vleis soos gebraaide pou, swaan of die kop van ’n wildevark voorsien, sowel as lekkernye soos salm en oesters. Nageregte het baie soos vandag se feesgeregte daar uitgesien: neute, lemoene, koek, vrugtevla, vye en dadels. En vir iets te drinke was daar versoete of gekruide wyn, sider en bier. Die groot Kersmaal was oor die algemeen ’n vroeë middagete. Die tafeldoek is ná elke gang gewissel en vermaak het musiek, akrobate, hofnarre en opvoerings ingesluit wat deur dolende jongleurs aangebied is. Dat partytjies orals handuit kon ruk, word van getuig deur rekords van wagte wat betaal is om seker te maak dat eiendom nie tydens die 12-daefeestyd beskadig is nie, veral by die groot partytjies wat op die aand van 6 Januarie – bekend as Twaalfde Nag – gehou is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE GEE VAN GESKENKE OM AAN DIE WYSEMANNE SE GESKENKE AAN JESUS TE HERINNER, HET VOORTGEDUUR; INSGELYKS DIE IDEE DAT HIERDIE TYDPERK VAN DIE JAAR EEN WAS WANNEER DADE VAN WELWILLENDHEID NAGESTREEF MOES WORD.

Die armes het vermaak van ’n nederiger aard geniet, soos kaartspeel en dobbelsteengooi, vreugdeliedere sing, die speel van musiekinstrumente, bordspeletjies, die vertel van volksverhale, en deur tradisionele partytjiespeletjies te geniet. ’n Voorbeeld van laasgenoemde was om een persoon toe te laat om die “koning van die fees” te wees indien hy of sy ’n boontjie in die spesiale brood of koek vind – al die ander partytjiegangers moes dan die “koning” naboots. Dit was ’n rolwisselspeletjie wat Saturnalieë se soortgelyke “Heer van Wanregeer” nagemaak het. Kerke en gildes het tydens die feestydperk gratis openbare vermaak verskaf, byvoorbeeld poppekaste, pantomimes en kleurvolle vertonings. Daar was ook die gemaskerde momspelers, oftewel professionele vermaaklikheidskunstenaars wat huise besoek het en vir ’n fooitjie of ietsie verfrissends opgetree het. Nóg ’n middeleeuse tradisie wat vandag nog in ons Kersfees voortduur, is om diegene te help wat minder bevoorreg as onsself is. Oorskietkos van die groot maaltyd in die herehuis is dikwels aan die armes geskenk, en party gelukkige individue, byvoorbeeld twee van die heer se lyfeienes, is moontlik selfs na die maaltyd self genooi.

’n Elizabethaanse Kersfees

Soos die Middeleeue ten einde begin loop het, het die dominante rol van die middeleeuse kerk in mense se lewe ’n bietjie getaan. Bywoning van sekere kerkdienste het wetlik verpligtend gebly maar die Hervorming en die afkeur daarvan van afbeeldings en vertonings in kerke het die glans van Kersdienste effens laat verflou. Tydens die Elizabethaanse tydperk (1558-1603) was “heilige dae” steeds die hoofbron van openbare feesdae (die term holiday het nou vir die eerste keer in gebruik gekom) maar meer sekulêre aktiwiteite is ook as gewilde tradisies gevestig. Adventstyd was byvoorbeeld ’n vastyd voor Kersfees gewees wat op Sint Andrew Dag, 30 November, begin het. Maar nou het dit eerder ’n aftelling na die Kersvakansie geword, wat steeds twaalf dae lank was. Baie meer kinders as in die Middeleeue het nou skool bygewoon, en hulle is die twee weke af gegee.

Lady Gathering Mistletoe
Vrou wat mistel versamel
Welcomeimages.org (CC BY)

Die gee van geskenke het voortgeduur, sowel as die idee dat dit ’n tyd van die jaar was wanneer dade van welwillendheid nagestreef moes word. Die tradisie was steeds sterk gevestig om geskenke op die 1ste Januarie te gee, en Elizabeth I van Engeland was geen uitsondering nie, en sy het gereeld juwele, uitspattige rokke en veerwaaiers van haar howelinge ontvang. Armer mense het dikwels borsspelde, handskoene en vrugte op hierdie dag gegee.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die kos was moontlik die deel waarna die meeste uitgesien is; trouens, die Kersmaal was nou so uitspattig dat die bakker van die huis meer tyd ter voorbereiding daarvoor geverg het. Om hierdie rede het die vakansie gewoonlik laat die middag op die dag voor Kersfees, 24 Desember, begin. Teen hierdie tyd was die 25ste as die belangrikste dag van die vakansie gevestig in terme van privaat feestelikhede en partytjies, wat dié oortref het wat vroeër op Twaalfde Nag gehou is.

In huise versier met kerse en immergroen lower het feeste báie vleis en seekos ingesluit aangesien dit steeds tydens ander tye van die jaar ’n rariteit op die tafel was. Pasteie, gekruide vrugtekoeke, neute en sult (gepekelde varkvleis) was veral gewild, sowel as wassail, ’n tipe gekruide bier wat gewoonlik op begeleiding van liedjies uit ’n bruin kom gedrink is. Die gewildheid van speletjies – veral kaarte – en vermaak het soos voorheen aangegaan. Reëls van sosiale omgang is ook verslap, soos wat die meeste mense teen hierdie tyd te wagte was. Deur geslagsrolle om te ruil, vakleerlinge toe te laat om die oorhand oor hulle meester te kry en deur twee burgers toe te laat om as “koning en koningin van die fees” op te tree, is daar vir baie joligheid gesorg en geleenthede is geskep vir mense om aan hulle spitsvondigheid uiting te gee. Die twee “monarge” is tipies gekies omdat hulle onderskeidelik ’n boontjie en ’n ertjie binne ’n gekruide koek gevind het.

Christmas Partiers under the Mistletoe
Kersgangers onder die mistel
Xavier Sager (Public Domain)

Verder het Kersfees ook die geleentheid gebied om te reis en die koninkryk se besienswaardighede te besigtig. Openbare paaie was beperk en om te perd en perdekar te reis, was ’n langsame en ongemaklike onderneming; nietemin kon kloekmoediges attraksies aanskou soos Francis Drake se skip Golden Hind in Londen wat die eerste Engelse omvaring van die aardbol van 1577 tot 1580 voltooi het. In die Tudor-tydperk was die glinstering van die Kroonjuwele in die Londense Toring nóg ’n gewilde aanskoulikheid.

Tydens die Engelse Hervorming het die náám Krismis onder skoot gekom toe die verwysing na die Katolieke mis as onwenslik binne die Anglikaanse Kerk beskou is. Kersfees self is ernstig bedreig deur die Puriteine, daardie Christen-ekstremiste wat verkies het om op Kersdag te vas. Gelukkig vir almal is die besluit om die vier van Kersfees wetlik te kanselleer, in 1660 omgekeer. Die vakansiedag was terug en is nou as die belangrikste vakansiedag van die jaar daargestel en in hierdie opsig het dit vir baie mense die vier van Paasfees vervang.

’n Victoriaanse Kersfees

Die volgende sprong vorentoe in hoe Kersfees gevier is, het tydens die bewind van koningin Victoria van 1837 tot 1901 gekom, ’n tydperk wat getuie was van ’n aantal beduidende nuwe tradisies wat sedertdien ’n blywende deel van die vakansieseisoen geraak het. Die Victoriane het baie nostalgie vir die opgewekte Kersverrigtinge van die middeleeuse tydperk gekoester. Net soos baie mense vandag die Kersfeesvieringe van die Victoriaanse tydperk verromantiseer, het skrywers soos sir Walter Scott (1771-1832) die lof van Kersfeesvieringe vanmelewe se dae besing. Die vakansiedag het in werklikheid ’n strewe daarna geraak om die ontwykende mite van ’n vorige goue eeu vas te vang – ’n strewe wat op baie maniere vandag voortduur. Die Victoriane het beslis seker gemaak dat middeleeuse elemente soos ’n kerkdiens op Kersoggend, lekker smul, speletjies, geskenke en pantomimes aangehou het om hul status as noodsaaklike aktiwiteite van die feesseisoen te handhaaf.

The Jovial Christmas Polka
Die vrolike Kerspolka
Alfred Concanen (Public Domain)

Koningin Victoria se wederhelf was Albert van Saxe-Coburg en Gotha, die prinsgemaal (l. 1819-61) en hy het die tradisie van die Kersboom in Brittanje gevestig wat in sy tuisland so gewild was. Alhoewel hy nie die eerste koninklike was om ’n Kersboom in Engeland te hê nie, het prins Albert nietemin van 1841 af ’n blywende tradisie begin, met die idee wat haas landwyd van dorpsplein tot woonvertrek versprei is deur gewilde geïllustreerde tydskrifte wat die privaat feestelikhede van die koninklike familie onthul het. Mistel het ’n belangrike deel van versierings gebly maar die boom het dit uiteindelik as die huis se middelpunt van belangstelling tydens Kersfees vervang. Die jong denneboom is met kerse en presentjies (speelgoed, lekkergoed, gelukbringertjies en versuikerde vrugte) versier wat aan die takke gehang is en wat bestem is om aan die gaste uitgedeel te word wie se naamkaartjie moontlik aan die geskenk geheg is.

Kersliedere en liedjies is op Oukersaand om die gesinsklavier, of buite mense se huise deur groepies Kerssangers gesing, met ’n glas pons of ’n warm pastei as laasgenoemde se beloning. Die eerste boek met Kersliedere dateer eintlik tot en met 1521 terug maar dit was die Victoriane wat hierdie tradisie wyd en syd versprei het, en langvergete kersliedjies opgerakel en ook hul eie by nuut gepubliseerde sangbundels gevoeg het.

Victorian Christmas Card
Victoriaanse Kerskaartjie
Minnesota Historical Society (CC BY-SA)

’n Doeltreffender posstelsel en die bekendstelling van die Penny Black-seël in 1840 het beteken dat korrespondensie toegeneem het, en ’n tradisie het ontstaan om aan vriende en ver-af familie ’n Kerskaartjie te stuur – ’n gebruik wat in 1843 eerste in Engeland bekendgestel is. Hierdie kaartjies het in alle vorms en groottes gekom en is gelitografeer en met die hand gekleur, en het dikwels met linte en kant gespog. Allerlei onderwerpe is op die kaartjies uitgebeeld maar sneeutonele was een tema wat herhaaldelik voorgekom het – ’n weerspieëling van die reeks strawwe winters waaronder Engeland tydens die 1830's en 1840's gebuk gegaan het. Daarna het ’n wit Kersfees al seldsamer geraak maar teen daardie tyd was die toneel reeds in mense se verbeeldings gewortel.

’n Enorme reeks geskenke was beskikbaar van winkels wat hulle vensters met loofwerk versier het om besluitelose inkopiegangers te verlok, en baie winkels het katalogusse gestuur aan diegene wat nie ’n persoonlike besoek kon aflê nie. Pleks daarvan dat dit tuis gemaak is, was massageproduseerde speelgoed nou beskikbaar, en dikwels is dit vanaf sentra soos Duitsland en Nederland ingevoer. Speelgoed is nie meer bloot uit hout gemaak nie, maar het artikels van vindingryke vernuf geraak. Miniatuurmeganismes het poppe laat loop en treine laat aankruie. Geskenke is nou hoofsaaklik op Kersdag of Oukersaand uitgedeel. Die 26ste Desember het in Brittanje as Tweede Kersdag, of Welwillendheidsdag (Boxing Day) begin bekendstaan aangesien dit die dag was waarop werkgewers tradisioneel ’n boks geskenke en oorskietkos vir hulle diensknegte en werkers gegee het.

Scrooge & the Ghost of Christmas Present
Scrooge en die Spook van Kersfees Vandag
John Leech (Public Domain)

Natuurlik is Kersfeesvader die grootste gewer van geskenke tydens Kersfees. Die vrolike figuur met die lang wit baard wat op Oukersaand ’n besoek aan huise aflê om geskenke vir soet kinders te bring, het sy oorsprong in die 4de-eeuse Sint Nikolaas, biskop van Myra in Anatolië wat hom daarin verheug het om geskenke, onder meer sakke goud, uit te deel. Aangesien een ontvanger haar goud deur die skoorsteen ontvang en dit in ’n kous beland het, het die bekende manier van geskenke aflewer, posgevat. Op 6 Desember word daar hulde aan Sint Nikolaas gebring en in baie lande is dit vandag steeds die dag waarop kinders hulle kouse of pantoffels ophang. Kersfeesvader is nie nét deur Sint Nikolaas geïnspireer nie maar hy inkorporeer ook elemente van die “gees van Kersfees” van oorlewering wat sy meer opgeruimde en begeesterde kant verklaar – ’n eienskap waarop kinders hulle hoopvol beroep deur op Oukersaand een of ander alkoholiese drankie vir hom buite te los. Die vrolike geskenkgewende figuur het baie gedaantes, van Christkind (Duitsland) tot Santa Claus (Amerika). Dit was die Amerikaanse weergawe van die boeppens-oom in die rooi pak – wat ± 1850 sy verskyning gemaak het – wat blykbaar in die gewilde verbeelding met die louere weggestap het oor presies wié die beste geskenke bring.

Daar was ’n algemene styging in lewenstandaard – alhoewel nie vir almal nie – en dit het beteken dat ’n spesiale soort vleis nou vir die Kersmaal benodig was. In die noorde van Engeland was gebraaide beesvleis gewild gewees, en gans in die suide maar soos die eeu aangestap het, het kalkoen na vore getree om die middelpunt van belangstelling op vele etenstafels te raak. Selfs minder gegoede gesinne kon ’n groot voël vir Kersfees geniet indien hulle by skemas soos The Goose Club aangesluit en weekliks geld in ’n rekening inbetaal het om die voël met Kersfees te hê, wat dan by ’n bakker gebraai is. Weerskante van die voël was daar sop, oesters, lamsvleis, portjellie, vrugte, neute en watter ander lekkernye ’n gesin ook al vir hierdie grootste maaltyd van die jaar kon bekostig.

Die maaltyd is afgesluit met ’n gestoomde Kersnagereg wat dikwels “vrugtestoompoeding” genoem is, na aanleiding van die hoofbestanddeel (wat reeds teen die Victoriaanse tydperk met korinte en rosyntjies vervang is). ’n Silwermuntstuk soos ’n driepenniemunt is binne die nagereg geplaas – ’n herinnering aan die middeleeuse tradisie van die boontjie in die koek. Die bolvormige nagereg is met ’n takkie huls versier en met rum of brandewyn bedek sodat dit aan die brand gesteek, bedien kon word. Dit het so ’n verwagte deel van Kersfees geraak dat selfs matrose, vuurtoringopsieners en poolreisigers een saamgeneem het om dit op die belangrike dag te eet. Vleispasteie was gewild, en hoewel dit destyds uit ’n mengsel van vleis en vrugte bestaan het, is daar in die moderne weergawe met die vleis weggedoen. Die gekruide vrugtekoek van die Elizabethane het die tradisionele versierde vrugtekoek geraak wat ná die hoofmaaltyd of vir aandete geëet is, moontlik saam met ’n bietjie kaas en ’n glasie port.

Traditional British Christmas Food
Tradisionele Britse Kersfeeskos
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Die tafel is versier met kraakbeskuitjies en papierrolle wat twee mense met ’n knal oopgetrek het en wat speelgoed, gelukbringertjies, silhoeëtportrette, lekkergoed, papierhoedens en kenspreuke bevat het. Die tydsberekening het ook verander, met sommige gesinne wat aangegaan het om ’n Kersmiddagete te nuttig, alhoewel moontlik later as die gewone een, terwyl ander ’n Kersaandete geëet het. Ná die maaltyd is daar gedans, gesing, voordrag gelewer, dalk was daar ’n bietjie goëlkuns deur ’n gas, of ’n paar towerlanternplaatjies. Daar was ook speletjies, soos lettergreepraaisel, blindemol, soek die pantoffel of snap dragon (rosyntjies uitsoek in ’n bak waarin brandewyn aan die brand gesteek is).

Al hierdie Victoriaanse Kersaktiwiteite is deur skrywers van die era vasgevang, gevier en vir die toekoms behou, en niemand het dit suksesvoller as Charles Dickens (1812-1870) gedoen nie. Dickens se verhaal oor die feesgety, A Christmas Carol, met die storie oor die gierigaard Ebenezer Scrooge wat tot inkeer kom, het sedert die publikasie daarvan in 1843 self ’n stapelelement van Kersfees geraak.

Die tradisies het natuurlik aangehou groei, met toevoegsels soos Roedolf die Rooineustakbok, kinders wat Sinterklaas in die plaaslike inkopiesentrum ontmoet, en Adventskalenders wat uit sjokolade gemaak is. Deesdae het elektriese liggies dalk die kerse op die boom vervang, kerke is nie heeltemal so vol as wat vantevore die geval was nie, die Joelblok bestaan gewoonlik uit sjokolade en baie van die kaartjies het elektronies geraak; maar die tradisies waaraan deur die eeue geklou is om Kersdag elke jaar te vier, gaan elke jaar voort om ons te bekoor en te inspireer soos wat hulle al só lank doen.

Middernag breek aan. In die stilte van die Kersnag hoor jy dit soos met geen ander tyd nie. Die grootse dag het tot ’n einde gekom. As jy jou in die vreemde bevind, sal jou eie eensaamheid jou ontnugter. Jy sal verstaan hoe Kersfees werklikwaar die fees van die tuiste is.

Christmas London, G. R. Sims

(Miall, 149)

Hierdie artikel is opgedra aan die skrywer se wyle moeder Ruth Cartwright wat, vrolik doenig voor haar stoof, seker gemaak het dat elke Kersfees geseënd was, en met feesgeregte geskitter het.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2021, December 07). Kersfees deur die eeue [Christmas Through the Ages]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1893/kersfees-deur-die-eeue/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Kersfees deur die eeue." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig December 07, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1893/kersfees-deur-die-eeue/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Kersfees deur die eeue." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 07 Dec 2021. Web. 14 Aug 2022.