’n Middeleeuse Kersfees

Vertaling Fondsinsameling

Ons visie: Gratis geskiedenisonderwys vir almal in die wêreld, in elke taal. Dit is inderdaad 'n verhewe doel, maar dit sal ons nie keer om daaraan te werk nie. Om daar te kom, moet ons vertaal... baie! Skenk asseblief vandag en help ons om 'n werklike globale impak te maak. Baie dankie!
$1109 / $3000

Artikel

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 01 December 2018

Oorspronklike teks in Engels: A Medieval Christmas

Kersfees was een van die hoogtepunte van die middeleeuse kalender, nie slegs vir die rykes nie maar ook vir die boerestand. Vir die langste reeks feesdae van die jaar – gewoonlik die volle twaalf dae van Kersfees – het mense ophou werk, is huise versier en het 'n Joelblok in die vuurherd gebrand. Geskenke is uitgeruil, kleurryke kerkdienste is geniet en vrolike feeste is genuttig waar daar beter kos en meer daarvan was as met enige ander tyd van die jaar. Daar was ook 'n oorvloed liedere, gedans, pantomimes en speletjies. Vir baie mense, nes vandag, was dit die beste van tye.

Traditional Holly Wreath
Tradisionele Holly krans
Ali Edwards (CC BY-ND)

Die Europese middeleeuse kalender het nie aan feesdae ontbreek nie: Elke seisoen het sy eie spesiale Kersviering gehad wat dikwels op ouer heidense tradisies gegrond was. Middeleeuse feesdae was 'n kans om 'n welverdiende blaaskans te neem van die gewone daaglikse geswoeg en om te sosialiseer by familiemaaltye waar die gewone eentonige spyskaart van die armes vervang is deur skaarshede soos vleis en vis, en die tafels van die rykes met eksotiese disse soos gebraaide pou opgetooi was. Kersfees was verreweg die langste reeks feesdae van die jaar en het van die nag van Oukersaand, 24 Desember, tot die twaalfde dag, oftewel Driekoningedag op 6 Januarie geduur. In Europa was die middel van die winter 'n tyd van die jaar gekenmerk deur 'n stilstand in landboubedrywighede en gevolglik is baie kleinboere deur hulle landheer toegelaat om die ganse twee weke af te vat. Die seisoen het ook die gee van geskenke en die versier van huise met gierlandes en kranse gemaak uit winterloof behels. Soos in een beskrywing van Londen deur William Fitzstephen in die 12de eeu HJ aangeteken is:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Elkeen se huis, en ook elke gemeentekerk, was verfraai met huls, eiloof, lourierblare en wat ook al die seisoen van die jaar veroorloof het om groen te wees.

(aangehaal in Gies, 100)

Huls, met die glansende donker blare en helder, rooi bessies word reeds sedert die Oudheid as die ideale winterversiering beskou. Antieke Keltiese druïdes het dit as sakraal beskou, en in staat om bose geeste af te weer terwyl die Romeine dit as 'n geskenk gebruik het om agting en welwillendheid te toon. Mistel is nog 'n langgebruikte versiering wat mense van ouds af gereken het 'n draer van vrugbaarheid was, sowel as 'n beskermer van oeste en iets wat hekse weghou. Lank voordat die Kersboom in die 19de eeu HJ die middelpunt van belangstelling geraak het, was 'n dubbele ring mistel die spil van baie huise se versierings waaronder paartjies kon soen, en die juweelagtige bessies met elke piksoen verwyder.

Die kerk tydens Kersfees

DIE TRADISIONELE DIENSTE VIR BELANGRIKE CHRISTENVFEESDAE HET MET VERLOOP VAN TYD AL BREEDVOERIGER GERAAK EN KERSFEES WAS GEEN UITSONDERING NIE.

In die uiters gelowige gemeenskappe van die Middeleeue was die kerk natuurlik 'n fokuspunt vir Kersvieringe en dienste is goed deur alle klasse bygewoon. Die tradisionele dienste vir belangrike Christenfeesdae het met verloop van tyd al breedvoeriger geraak en Kersfees was geen uitsondering nie. Een ontwikkeling van ongeveer die 9de eeu HJ af was die gebruik van trope (troping) wat die byvoeg van ekstra dialoog en liedere by 'n diens behels het. 'n Voorbeeld daarvan in die Kersviering was 'n uitbreiding op die vraag wat kore gesing het, Quem quaertitis in praesepe? (“Na wie soek julle in die krip?”). Een helfte van die koor sou die lyn sing, en dan die ander helfte. Dit het uiteindelik tot 'n dramatisering gelei wat van individuele sprekers en akteurs gebruik gemaak het, wat weer die opvoer van Kersspele tot gevolg gehad het, met die wyse manne en koning Herodus in 'n prominente rol. Nog 'n opvoering wat tydens die feesseisoen in kerkdienste gewild geraak het, was The Prophets, waarin 'n priester 'n dialoog met verskeie profete soos Jeremia, Daniël en Moses voer, en koorknape in kostuums opgetooi is om rolle soos 'n donkie of duiwel te speel.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Medieval Manuscript Illustration of the Nativity
Middeleeuse Manuscript Illustrasie van die Geboorte
Unknown Artist (Public Domain)

Die Fees van die Onskuldige Kinders op 28 Desember was die herdenking van koning Herodus se mislukte poging om die baba Jesus te vermoor deur sy bevel dat alle kinders in Bethlehem jonger as twee jaar om die lewe gebring word. So bisar soos dit moontlik klink – gegewe die erns van die situasie – het die kerk op hierdie dag 'n bietjie tradisionele feestelike rolwisseling veroorloof, met koorknape wat die plek van die biskop en ander hoër lui van die geestelike stand inneem om dienste te behartig en selfs om 'n fakkelverligte prosessie te lei. Viering van die Fees van die Besnydenis, wat op 1 Januarie gehou is, was selfs nóg vreemder, wat moontlik die fees se ander naam – Fees van Dwase – verduidelik. Minder belangrike lede van die geestelike stand het hulle klere binnestebuite gedra en 'n esel die kerk in gelei waar hulle met hul aankoms by die altaar wierook gebrand het wat van ou skoene gemaak is, wors geëet en wyn gedrink het, en die klanke van 'n donkie nageboots het.

Indien die plaaslike geestelikes nie na hulle naaste landheer se kasteel uitgenooi is nie, het hulle die geleentheid tuis met 'n heerlike maaltyd vol seldsaamhede gevier. Lewerik, eend en salm of 'n boklammetjie kon op die spyskaart verskyn, en ons weet dat een kloostervader van Ramsey Abdy in Engeland vir elke Kersmaal vir hom 'n wildevark uitgehou het. Selfs monnike is tydens Kersfees 'n bietjie bederf. Die dieet van dié in middeleeuse kloosters was in elk geval goed maar Kersfeestelikhede het meer vleis en vis as gewoonlik ingesluit. Ons weet ook dat by kloosters soos Cluny Abdy in Frankryk het die monnike 'n nuwe kleed ontvang en het hulle met Kersfees een van hul twee baddens per jaar geniet (meer is nie toegelaat nie).

Verwyder Advertensies

Advertisement

Kersfees in 'n herewoning

Onder die grondbesittende aristokrasie, gemaklik in hul kastele en herewonings, is geskenke soos mooi klere en juweliersware wat die seisoen gedra kon word, op 25 Desember uitgeruil. Op die 1ste Januarie was daar nog 'n ronde van geskenke uitdeel. Bekend as “eerste geskenke” is daar aan hulle gedink as 'n voorteken van 'n persoon se lot vir die jaar wat kom. Baie soos vandag, was die ware vreugde van Kersfees vir baie mense die kos wat beskikbaar was.

Medieval Dinner Table
Middeleeuse eettafel
Mary Harrsch (CC BY-NC-SA)

Gewoonlik in die heersersaal van 'n kasteel of herewoning gehou, was die milieu vir die aristokrasie se Kersmaal ewe gepas met hoë plafonne van houtbalke en minstens een knetterende vuur. Feestelike gierlandes van huls, eiloof en ander seisoenale groenigheid het die saal nóg indrukwekkender laat vertoon. Die tafels is gedek met die gewone messe, lepels en 'n dik stuk eendagoue plat brood ('n broodbord of manchet) wat as bord vir die vleis gebruik is. Eters is ook getrakteer op die weelde van die tafeldoek wat ná elke gereg gewissel is. Twee eters het 'n bak gedeel waarin hande gewas is (alles behalwe vloeistowwe is met die vingers geëet), nog 'n bak vir soppe en bredies, en 'n klein bakkie vir die sout.

'N SPESIALE KERSGEREG WAT DIE KOKKE VOORBEREI HET OM GASTE SE ASEM WEG TE SLAAN, HET DIE KOP VAN 'N WILDEVARK OP 'N GROOT PLAT BORD INGESLUIT, OF 'N SWAAN WAT IN SY VERE GEBRAAI IS.

Bedien as vroeë middagete, was die eerste gereg gewoonlik 'n sop, boeljon of flouerige bredie met 'n bietjie vleis op die bodem. Die tweede gereg kon dalk 'n groentebredie (porray) van preie en uie wees. Die rykes was gelukkig genoeg om op gewone dae vleis as hul volgende gereg te hê – byvoorbeeld konyn, haas en hoender – maar tydens Kersfees is meer uitgesoekte geregte met vleisdelikatesses, vis (byvoorbeeld salm, haring en forel) en seekos (soos palings, oesters en krap) vir die gaste voorgesit. Vleis is op 'n spit oor 'n oop vuur gebraai. Buiten bees- en skaapboud was daar kalfsvleis, wildsvleis, gans, kapoen, suipvarkie, eend, kiewiet, lewerik en kraanvoël, om maar net 'n paar te noem. 'n Spesiale Kersgereg wat die kokke voorberei het om gaste se asem weg te slaan, het die kop van 'n wildevark op 'n groot plat bord ingesluit, of 'n swaan of pou wat in sy vere gebraai is. Souse het meer geur by baie geregte gevoeg en, met broodkrummels verdik, het dit wyn of asyn, en kruie en speserye bevat.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Nagereg het uit dik vrugtevla, terte, neute, kaas en weeldevrugte soos lemoene, vye en dadels bestaan. Daar was ook entremets – verskillende versierde peuselgoedjies met suiker en heuning geglaseer – wat met Kersfees en ander feeste voor die nagereg bedien is. Vir iets te drinke was daar rooi- en witwyn (uit 'n kelk wat 'n mens met jou eetgenoot gedeel het) wat weens die kort rakleeftyd jonk gedrink is. Wyn is dikwels met water gemeng of met heuning of suiker versoet. Alternatiewe was sider en bier alhoewel laasgenoemde – van graangewasse gemaak en met gis gefermenteer – as die drank van die laer klasse beskou is. Bier wat deur middel van hop gebrou word, sou eers in die laat Middeleeue verskyn. Nagereg kon saam met 'n kruik gekruide wyn bedien word. Terwyl al hierdie feesvieringe in die heersersaal aan die gang was, het die knegte in 'n kasteel nie vergete gebly nie, en tradisioneel het hulle met Kersfees beter kos soos ganse en henne ontvang. Laastens, is die oorskietkos aan die armes uitgedeel wat buite gewag het.

Preparing the Yule Log
Voorbereiding van die Yule Log
or Robert Alexander Hillingford (Public Domain)

'n Paar verrassende gaste kon dalk aan die herewoning se etenstafel aansit soos lyfeienes op die kasteel se landgoed met Kersfees dit wel 'n bietjie uitgekap het wanneer hulle, volgens tradisie, op Kersdag vir 'n maaltyd na die herewoning genooi is. Op sommige landgoedere was die uitnodigings beperk tot net twee gelukkige ontvangers; tradisioneel was dit een van die armste en een van die rykste kleinboere wat dan elk twee vriende kon saamnooi. Ongelukkig moes die meeste kleinboere wat na die landheer se woonplek uitgenooi is, hul eie borde en vuurmaakhout saambring, en natuurlik is al die kos in elk geval deur hulleself geproduseer. Maar hulle het gratis bier gekry en ten minste was dit 'n geleentheid om te sien hoe die ander helfte leef, en om verligting vir die triestigheid van die plattelandse winter te verskaf.

'n Kleinboer se Kersfees

Kleinboere se Kersfees was uiteraard minder spoggerig as dié wat in die plaaslike herewoning of kasteel geniet is en vir hulle het die seisoen nie goed begin nie. Van lyfeienes, deur die jaar reeds aan allerlei vreemde tariewe onderworpe, is daar verwag om met Kersfees 'n “geskenk” van ekstra brood, eiers en miskien selfs 'n kosbare haan of 'n paar henne vir die landheer te gee. In teenstelling daarmee het vry arbeiders op die landgoed, veral die meer belangrikes soos die landgoed se herder, vark- en beeswagter op hul beurt geskenke van die landheer ontvang – gewoonlik 'n bonus in die vorm van kos, drank, klere en vuurmaakhout. Hierdie tradisie van huishoudelike bediendes wat geskenke op 26 Desember ontvang, het tot in later eeue voortbestaan, derhalwe die naam van die dag in Brittanje: Boxing Day (Tweede Kersdag). Kinders se geskenke van hulle nederige ouers het eenvoudige speelgoed ingesluit soos draaitolle, fluitjies, stelte, albasters, poppe en figure wat uit hout gekerf of van klei gemaak is.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Kleinboere sou hulle huise baie soos die aristokrate versier het, met groenigheid soos huls wat geredelik beskikbaar was vir diegene wat daarvoor gesoek het. 'n Ou, moontlik heidense tradisie het voortgeduur, naamlik die brand van 'n Joelblok. Eintlik 'n groterige stuk boomstomp, is dit op Oukersaand in huise van alle soorte aan die brand gesteek en vir die twaalf dae van Kersfees aan die brand gehou. Vir die spesiale maaltye van die feesdae het kleinboere daardie seldsame delikatesse, vleis – gewoonlik gekook – geëet, hulself met kaas en eiers bederf, gebak geëet en bier gedrink. Van laasgenoemde was daar oorgenoeg, die brousel wat gewoonlik deur kleinboervroue gemaak is.

Die 1ste Januarie was belangrik aangesien mense op beter geluk in die komende jaar gewag het. 'n Bygeloof het ontwikkel, soos die geskenke wat ryk mense op hierdie dag uitgeruil het, dat dit uiters belangrik was wie die eerste persoon was wat jou huis op Nuwejaarsdag besoek. Dit is first-footing (eerste besoeker van die nuwe jaar) genoem, en sekere eienskappe aan hierdie eerste besoeker is as wenslik beskou: 'n man met 'n donker kompleksie, moontlik met ligte hare en – die beste van alles – plat voete.

Medieval Jester
Middeleeuse Nar
Jacob Cornelisz van Oostsanen (?) (Public Domain)

Kersvermaak

Allerhande vorms van vermaak is tydens die Kersseisoen aangebied. Die drink van alkohol was die gewildste van alles en die algemene gebruik van landhere om spesiale wagte te betaal om hul landgoed in geval van oproerigheid te bewaak, getuig daarvan dat vrolikheid maklik handuit kon ruk. Volgens 'n rekord van 'n landgoed naby St. Paulus-katedraal in Londen is wagte vanaf Kersdag tot en met Driekoningeaand aangestel, en is hierdie manne met “'n goeie vuur in die saal, een witbrood, een gaar vis en 'n gelling bier (per dag)” vergoed (aangehaal in Gies, 208). Al was dit redelik algemeen om sulke groot hoeveelhede bier te drink en al was die bier maar aan die flou kant, is dit 'n wonder dat, met vier en 'n half liter bier per wag, hulle self nie rumoerig geraak het nie.

Meer beskaafde feestelike vermaak het monnike ingesluit wat rondgegaan en toneelstukke in privaat wonings opgevoer het wat sleutelepisodes uit die Bybel uitgebeeld het, veral seisoenale onderwerpe soos die kindermoord deur Herodus. Insgelyks het middeleeuse gildes in stede kleurvolle vertonings vir die publiek aangebied, met waens wat deur die strate gegaan het met mense daarop wat soos karakters uit die Bybel se Kersverhaal aangetrek was. Troepe gemaskerde pantomimekunstenaars bekend as “momspelers” het ook deur die strate beweeg, vergesel deur groepe musikante. Soms tot soveel as 100 feesvierders, was hulle in uitheemse kostuums as landhere, kardinale en ridders geklee, en het hulle sommer die vryheid geneem om by mense se huise in te gaan om te dans en met dobbelstene te speel. Met kos en drank as vergoeding vir hul vermaak, het momspelers dikwels kort toneelstukke met tonele van bekende legendes soos St. George en die draak opgevoer.

Daar was speletjies soos kaarte en dobbelstene (wat 'n bietjie dobbel ingesluit het) en bordspeletjies soos skaak, dambord, backgammon en meulespel. Tradisionele speletjies het “koning van die boontjie” ingesluit, wat 'n persoon wat 'n versteekte boontjie in 'n brood of spesiale koek vind, toegelaat het om “koning” of “koningin” van die fees te wees. Daardie geëerde persoon het dan die reg gehad om koning te kraai oor almal, wat dikwels alles moes naboots wat die “koning” of “koningin” aan tafel doen. Die speletjie is tradisioneel op Driekoningeaand gespeel en was 'n voorbeeld van die tydbeproefde rolwisseling-uitbundigheid wat na Rome se heidense Desemberfees Saturnalieë terug dateer.

Medieval Children Snowballing
Middeleeuse Kinders Sneeuballing
Unknown Artist (Public Domain)

Ná Kersmaaltye is daar nog wyn of bier gedrink, liedjies is gesing – onder meer vreugdeliedere – en groepe het op die musiek van musikale pype, fluite, luite en tromme gedans. Professionele akrobate en jongleurs (liedjiesangers) het hul kunsies verrig en gevatte versies voorgedra. Volksverhale is vertel, elke jaar 'n bietjie aangedik en oorvertel, poppekas is gehou en mense het huisspeletjies gespeel, waarvan vandag steeds bestaan, soos blindemol en ablou (of hasie-hasie). Nog 'n speletjie het behels dat iemand by die partytjie as 'n heilige aantrek terwyl die res van die mense vir hom of haar 'n offerande bring (waarskynlik 'n amuserende een) wat hulle moes doen sonder om te glimlag en terwyl hulle die manewales van die heilige weerstaan of anders het hulleself die heilige geword. Nog 'n speletjie was Die Koning Wat Nie Jok Nie waartydens die “koning van die fees” 'n vraag kon stel aan enige gas wat, indien die vraag getrou aan die waarheid beantwoord is, hy of sy dan weer 'n vraag kon stel. Sodanige speletjies was natuurlik 'n geleentheid om jou vernuf en jou vaardigheid met woordspeling ten toon te stel, om 'n vriend in die verleentheid te bring of om 'n geliefde se neigings te probeer peil.

Vir die meer energiekes was daar meer fisiese pret wat behendigheid vereis het met boogskiet, stoei, rolbalspel, hokkie en middeleeuse voetbal waar die doel was om die bal by 'n voorafbepaalde bestemming te kry en wat min, indien enige reëls gehad het. In die winter was dit ook nogal 'n gewilde aktiwiteit om op bevrore mere te gaan gly. As alternatief kon die brawes die skeenbene van 'n perd aan hul voete vasbind en met 'n stok vir aandrywing probeer ysskaats.

Die einde van die feesdae

Terugkeer na die gewone werkslewe ná die lang feestyd moes nogal 'n skok gewees het maar selfs dan het kleinboere die verrigtinge in 'n feestelike speletjie omskep deur byvoorbeeld die eerste Maandag ná Driekoningedag – bekend as “Ploegmaandag” – 'n ploegresies met sonsopkoms te hou. Op 7 Januarie, ook bekend as St. Spinstok Dag (Saint Distaff's Day), was daar nog 'n tradisie, moontlik weereens om die las van die terugkeer na die daaglikse geswoeg 'n bietjie ligter te maak. Dié dag was “'n dag vir feesviering, 'n geleentheid vir 'wanorde', vir 'koddige skermutselings tussen die geslagte' waartydens mans vroue se vlas aan die brand gesteek het en vroue seker gemaak het dat mans papnat raak” (Leyser, 225).

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2018, December 01). ’n Middeleeuse Kersfees [A Medieval Christmas]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1288/n-middeleeuse-kersfees/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "’n Middeleeuse Kersfees." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig December 01, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1288/n-middeleeuse-kersfees/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "’n Middeleeuse Kersfees." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 01 Dec 2018. Web. 01 Dec 2021.