Belegoorlogvoering in middeleeuse Europa

Artikel

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 24 May 2018
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Portugees

Beleëringstaktieke was 'n beslissende deel van middeleeuse oorlogvoering, veral vanaf die 11de eeu HJ toe kastele meer wydverspreid in Europa begin voorkom het en beleërings vaste veldslae in getalle oortref het. Kastele en gefortifiseerde stede het beskerming vir sowel die plaaslike bevolking as die gewapende magte gebied, en het 'n verskeidenheid defensiewe kenmerke gehad wat, op hulle beurt, innovasie in wapens, die tegnologie van beleëringswerktuie en strategieë teweeg gebring het. Vanaf die 12de tot die 15de eeu HJ het middeleeuse oorlogvoering as't ware 'n kwessie geraak van “wen die beleg en jy wen die oorlog”, veral wanneer teikens administratiewe sentrums was of in 'n posisie van besondere strategiese belang geleë was.

Verdedigingswerke van kastele en stede

Vroeë kastele in Frankryk en Brittanje het tydens die 11de eeu HJ die ontwerp van die burgheuwel-en-binneplaaskasteel aangeneem. Dit het die volgende behels: 'n Houttoring is op 'n natuurlike of kunsmatige bult of heuwel opgerig met 'n meegaande ommuurde binneplaas teen die basis, en die hele struktuur is omring deur 'n sloot of grag (wat droog of met water gevul kon wees). Soos hierdie kastele algaande met klip ombou is – wat hulle aansienlik meer vuurbestand gemaak het – of soos heeltemal nuwe kastele gebou is en die idee van hulle nuttigheid versprei het, so het hulle defensiewe ontwerpe ook verbeter.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Medieval Siege
Middeleeuse beleg
Unknown Artist (Public Domain)

Die besondere swakpunt van enige defensiewe fortifikasie was die hooftoegangspoort, maar dit is mettertyd deur 'n toring aan weerskante beskerm, met bykomende veiligheidsmaatreëls soos 'n ophaalbrug, valpoort en “moorgate” (gate bo die poort waardeur projektiele en brandende vloeistof afgewerp kon word). Die beroemde Koningspoort van Caernarvon Kasteel in Wallis het twee ophaalbrûe, ses valpoorte en vyf deure gehad. Die poort kon moontlik ook bykomende beskerming geniet van 'n buitewerk – 'n kort stuk gefortifiseerde muur wat daarvoor gebou is. Stadspoorte was sulke substansiële strukture dat baie daarvan, van York tot by Florence, vandag nog reg oor Europa staande gebly het.

OM NÓG 'N LINIE VAN VERDEDIGING TE VERSKAF, IS 'N TWEEDE BINNESTE MUUR VANAF DIE LAAT 12DE EEU HJ BY DIE KASTEELONTWERPE IN VERAL BRITTANJE, FRANKRYK EN SPANJE GEVOEG.

Die buitemure van 'n kasteel (en soms selfs kleiner stede) is deur 'n grag (droog of nat) beskerm en waar moontlik, is die kasteel of stad op 'n verhewenheid in die terrein gebou. In die Lae Lande, waar dit dikwels nie moontlik was nie, is die grag uiters breed gemaak. Torings is met gereelde intervalle in mure gebou om 'n meer verpletterende vuur deur boogskutters moontlik te maak, en die konstruksie van houtskutwerk wat bo die muur uitsteek, was vir dieselfde doel. Verdere aanpassings in die ontwerp het torings ingesluit wat uitgebou is sodat die verdedigers terugwaarts na die muur kon skiet indien die vyand besig was om dit te bestyg. Uiteindelik is dit ontdek dat ronde torings beter as vierkantige torings was aangesien dit die hoeke se blindevuur-kol geëlimineer het en dit stabieler gemaak het. Dit het ook vyandelike sappeurs of ondermyners se taak bemoeilik om die toring teen die basis af te takel, aangesien hoeke makliker was om met 'n pik by te dam. 'n Beskermende bedekking van klip ('n keermuur) is teen die basis van mure en torings aangebring om die vyand te belemmer in hul pogings om die muur of toring te bestyg, om ondermyning te bemoeilik en om voorwerpe wat afgegooi word teen 'n onvoorspelbare trajek in die vyandelike geledere in te laat skram.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Om nóg 'n linie van verdediging te verskaf, is 'n tweede binneste muur vanaf die laat 12de eeu HJ by kasteelontwerpe in veral Brittanje, Frankryk en Spanje gevoeg. Met 'n eie gefortifiseerde poorthuis het hierdie tweede muur basies die beslommernis om die kasteel te verower, verdubbel, en aangesien dit hoër as die buitemuur was, kon dit gebruik word om projektiele daaroor te skiet, of die muur self te bestook indien daardeur gebreek is. Al kon die aanvallers daarin geslaag om verby die twee mure te kom, was daar die finale vesting, die burgtoring – 'n groot toring met 'n klein ingang op die eerste verdieping (d.w.s. bo die grondverdieping) wat deur sy eie voorburg beskerm is. Teen die laat 14de eeu HJ het burgtorings ouderwets geraak en is hulle merendeels vervang deur groter torings wat ín die mure self ingebou is; in Spanje en Duitsland het burgtorings egter steeds gewild gebly onder kasteelargitekte. Die Kasteel van Angers in Frankryk wat uit die 13de eeu HJ dateer, is 'n goeie voorbeeld van 'n argitek wat al sy vertroue in ronde torings in die ringmuur geplaas het.

Angers Castle
Angers -kasteel
Marc Ryckaert (CC BY-SA)

Laastens was daar die verdedigers self wat die hoof gebied moes word. Kastele en gefortifiseerde stede het die plaaslike omgewing beheer en was gewoonlik die permanente tuiste van 'n mag ridders wat huursoldate of milisie kon wees, of 'n plaaslike landheer op 'n rotasiegrondslag gedien het. Hierdie swaar geharnasde ruiters kon enige tyd uitry en die aanvallers aanval. Soms het hulle 'n verrassingsaanval geloods deur 'n goedversteekte uitvalshek te gebruik, soos wat tydens Frederik II se beleg van Parma in 1247-8 HJ gebeur het. Trouens, die blote teenwoordigheid van so 'n mag het beteken dat 'n invaller nie eenvoudig 'n kasteel of stad kon omseil of ignoreer nie, aangesien hy en sy voorraadlinies die risiko geloop het om later in die veldtog deur hulle aangeval te word.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Veilig agter die mure was boogskutters en kruisboogskutters wat pyle deur die nou venstergleuwe kon skiet. Die verdedigers het ook katapulte gehad waarmee hulle die beleëraars met groot rotsblokke kon bestook en hulle beleëringswerktuie en eie katapulte kon beskadig. Die Bisantyne het hul geheime wapen genaamd “Griekse vuur” gehad – 'n hoogs ontvlambare vloeistof wat onder druk uit 'n pyp geskiet is. Alhoewel dit blykbaar grotendeels tot seeoorlogvoering beperk was, is dit moeilik om te dink dat dit nooit in oorlog op land gebruik is nie, en Richard I het daarin geslaag om die formule in die hande te kry en het dit met groot welslae gebruik toe hy van die Derde Kruistog (1189-1192 HJ) teruggekeer het. Wanneer al die konvensionele wapens opgeraak het, het die verdedigers hulle toevlug geneem tot wat ook al hulle op die aanvallers kon afgooi, soos brandende olie, vlammende stompe, ysterpenne en klippe.

Medieval Army Approaching a City Under Siege
Middeleeuse leër nader 'n stad onder beleg
Mohawk Games (Copyright)

Openingsaanval

Gekonfronteer deur hierdie geniale verdedigingswerke, moes die aanvallers versigtig oorweeg wat die beste manier was om 'n kasteel of stad te beleër. Die eenvoudigste metode was om die teiken te omsingel en die verdedigers se kosvoorraad en versterkings af te sny, en om dan te wag dat dors- en hongernood hulle dwing om oor te gee. Dit was ook wys om enige omliggende landbougrond en dorpies aan die brand te steek, net ingeval die verdedigers daarin kon slaag om voorrade in te smokkel. Natuurlik kon dit met 'n groot kasteel of stad etlike maande duur voor dit die gewenste uitwerking het. Die verdedigers het waarskynlik hulle eie watervoorraad gehad, het kosware opgegaar en kon in 'n noodgeval altyd hul toevlug tot die drink van wyn, bier of selfs perdebloed neem. Kastele soos dié in Wallis wat deur Edward I (1272-1307 HJ) gebou is, was spesifiek teen die see geleë sodat hulle voorrade onder beleg aangevul kon word, behalwe indien die aanvallers 'n seemag sowel as 'n landleër gehad het.

BELEËRINGS WAS DUUR EN MANSKAPPE IS MOONTLIK VIR 'N VASGESTELDE TYDPERK (GEWOONLIK 40 DAE) IN DIENS GENEEM; TYD WAS DUS OOK 'N FAKTOR WAT IN AG GENEEM MOES WORD.

Die verdedigers kon selfs geheime tonnels hê wat 'n bietjie beweging moontlik gemaak het sodat mense en goedere die beleëraars buite in hul kamp kon omseil. Indien 'n hele stad aangeval moes word, was omsingeling dalk onmoontlik, in ag genome die grootte van die mag wat benodig was om dit heeltemal te omsluit. Dit het nie sommige ambisieuse bevelvoerders gekeer nie, soos die aanval op Antiochië tydens die Eerste Kruistog (1095-1099 HJ) toe die aanvallers hul eie kastele gebou het om hulle teen uitvalle uit die stad te beskerm. Trouens, die bou van 'n beleëringskasteel om 'n ander kasteel aan te val, was nie 'n ongewone strategie in die Middeleeue nie. 'n Kasteel is soms reg voor 'n poort opgerig om enige beweging te blokkeer terwyl die res van die invallende leër elders gaan veg het. In die meeste gevalle was dit beslis raadsaam om jou eie kamp met die minimum voorsorg van 'n palissade en sloot te beskerm.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Natuurlik was die beste moontlike resultaat dat die verdedigers onmiddellik oorgee. Beleërings was duur en manskappe is moontlik vir 'n vasgestelde tydperk in diens geneem (byvoorbeeld 40 dae in Engelse leërs); tyd was dus ook 'n faktor wat in ag geneem moes word. Daarbenewens was die veldtogseisoen gewoonlik tot die lente en somer beperk, en hoe langer die aanvallers in hulle eie kamp ingehok was, hoe waarskynliker was dit dat hulle deur 'n verligtingsmag aangeval sou word, en hoe meer vatbaar was hulle vir siektes of om self weens gebrek aan voorraad in 'n vyandelike gebied uit te honger. Maar die blote grootte van 'n aanvallende leër kon moontlik help om 'n vinnige resultaat te bewerkstellig; insgelyks die reputasie van die bevelvoerder indien dié persoonlik op die toneel verskyn het – Henry I van Engeland (1100-1135 HJ) en Jeanne d'Arc (1412-1431 HJ) was twee leiers wat daarvoor bekend is dat hulle hierdie uitwerking met verskeie geleenthede gehad het.

Motte and Bailey Castle, Bayeux Tapestry
Motte- en Bailey-kasteel, Bayeux Tapisserie
Myrabella (Public Domain)

Indien die verdedigers vasberade gebly het, was die eerste stap om 'n waarskuwing deur middel van 'n boodskapper te stuur. In die riddertyd tydens die hoogtepunt van die Middeleeue (1000-1250 HJ) sou nievegtende inwoners moontlik toegelaat word om te vlug, maar dit was byvoorbeeld nie die geval toe die Kruistogte geveg is nie. Indien die bepalings van oorgawe verwerp is, kon dit moontlik die geleentheid wees om 'n paar terreurtaktieke toe te pas. Dit was 'n algemene taktiek om met 'n katapult boodskappers se afgekapte koppe (soms selfs die einste boodskapper) of dié van ander gevangenes oor die verdedigers se muur te slinger. Dit het die verdedigers ook herinner aan die gevolge daaraan verbonde om met die stryd te volhard. Nog 'n strategie was die dreigement om iemand na aan die eienaar van die kasteel buite die mure op te hang – soos wat in 1139 HJ gebeur het toe koning Stephen gedreig het om Roger le Poer te hang, wie se ma in beheer van die kasteel van Devizes was.

Stormramme

'n Aktiewer benadering as permanente omsingeling was om 'n spesifieke deel van die defensiewe mure te probeer vernietig. Poorte was vir lank 'n swakpunt gewees maar soos hulle meer gefortifiseer geraak het, het poorte as't ware een van die sterkste dele van 'n kasteel of stad geword. Maar 'n deur was per slot van rekening steeds 'n deur en die versoeking was groot vir baie aanvallers om vuur of 'n stormram te probeer gebruik om deur die poort te breek. As alternatief kon die stormram op 'n deel van die muur gefokus word.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Stormramme het sedert die Oudheid nie baie verander nie en het gewoonlik uit 'n groot stomp of stuk hout met 'n skerpgemaakte metaalbeslaande punt bestaan. Die stormram kon eenvoudig deur 'n groep mans gedra of op wiele gemonteer word, of dit kon van 'n raamwerk af gehang word om dit met kragtiger swaaislae teen die teiken in te dryf. Beskerming teen projektiele is gebied deur die stormram onder 'n hout-en-ysterdak te beskut. Die verdedigers kon die ram met bengelende kettings, toue en hake probeer omkeer. Stormramme kon teen mure gebruik word maar nog doeltreffender was massiewe bore wat met toue gedraai is. Nog 'n nuttige toestel was 'n balk met 'n haak aan die punt wat gebruik kon word om 'n opgehysde ophaalbrug af te dwing.

Artillerie

Artillerietuie is reeds sedert die Oudheid gebruik en soos oorlogvoering tydens die hoogtepunt van die Middeleeue versprei het, het hulle tydens beleërings weer na vore getree, en ontwerpe van antieke Rome en Griekeland het saamgesmelt met nuwe idees van die Bisantynse Ryk en die Arabiese wêreld. Een aanvalstrategie was om mure met massiewe rotsblokke te bestook deur middel van katapulte (of mangonelle, wat die wringkrag van gedraaide toue gebruik het en op antieke ontwerpe gebaseer was) en trebuchets (wat 'n teenwig gebruik het en vir die eerste keer in die 12de eeu HJ in Italië gesien is). Albei soorte het 'n enkele arm met 'n slinger of houer daaraan geheg gehad wat 'n groot rotsblok wat enigiets van 50 tot 250 kg geweeg het, na die vyand kon lanseer. Vlammende projektiele wat met pik bedek is, kon die houtgeboue van 'n stad of dié binne 'n kasteel se binneplaas aan die brand steek. Van die projektiele wat deur katapulte geskiet is, was houers gemaak van hout, terracotta of glas wat 'n vlambare vloeistof soos dierevet bevat het en wat ontwerp is om soos brandbomme met impak aan stukke te spat. Nog 'n artillerietoestel was die ballista, 'n baie groot kruisboog wat dik houtpyle of swaar ysterpyle baie akkuraat geskiet het. Ballistas kon nie juis gebruik word om klip te deurdring nie, en dit is meestal deur verdedigers aangewend aangesien dit die voordeel van groter kompaktheid as die katapult gehad het; derhalwe kon drie op een vloer van 'n toring inpas.

Medieval Trebuchet
Middeleeuse Trebuchet
Unknown Artist (Public Domain)

Meer verbeeldingryke wapens het vlieërs ingesluit wat gebruik is om brandbomme oor die mure te laat sweef en wat dan afgeskiet is. In die 15de eeu HJ is selfs swawelgas gebruik om die verdedigers uit hulle skuilplek te dryf – Pous Alexander VI is tydens die beleg van Ostie in 1498 HJ van sodanige taktiek beskuldig. Natuurlik het die verdedigers hul eie weergawes van projektiele gehad en hulle kon vuurwarm kole, fakkels, kokende water of verhitte sand op die aanvallers onder hulle afgooi. Daarbenewens kon hulle hul strukture teen vuur beskerm deur dit met onbrandbare materiaal soos klei, kalk, turf of asyn te bedek.

Die vroegste uitbeelding van buskruitartillerie is 'n Engelse manuskrip van 1326 HJ wat 'n kanon op 'n houtskraag aandui, gereed om 'n metaalpyl te skiet. Sulke vroeë vuurwapens – soms bekend as bombardes – was gewoonlik dodeliker vir die mense wat dit hanteer het; sodanig was die gebrek aan kennis en ontwerperskundigheid van die middeleeuse tydperk op hierdie gebied. James II van Skotland het byvoorbeeld in 1460 HJ gesterf weens 'n kanon wat tydens die beleg van Roxburgh ontplof het. Kleiner vuurwapens wat tot 15 kg geweeg het, is vanaf die 14de eeu HJ gebruik, en het balletjies, pyle of loodkoeëls geskiet. Mure is dikker en hoër gemaak as 'n reaksie op die aankoms van kanonne. Verdedigers kon natuurlik hul eie kanonne hê, sodat vensters in baie vestings ooreenkomstig aangepas is. Toe batterye groot kanonne wat balle van meer as 100 kg kon skiet in die 15de eeu HJ gebruik is, het die dae van statiese belegoorlogvoering effektief op 'n einde geloop.

Ondermyning

Indien die fortifikasie se mure besonders dik en imponerend voorgekom het, was daar 'n alternatiewe strategie as om dit met projektiele tot rommel te vermorsel, en dit was om dit van onder af aan te val. Die eenvoudigste metode was om die klippe met gereedskap uit te kap terwyl beskerming vir hierdie sappeurs deur middel van houtskilde, mure en bedekte gangetjies of slote gebied is. Ondermyning was meer gesofistikeerd en het behels dat tonnels onder die fortifikasies gegrawe is en brande daarin gestig word sodat die mure onder hul eie gewig in duie stort. Natuurlik was dit nie moontlik indien die kasteel op 'n fondament van soliede klip gebou was nie. Ongelukkig vir die aanvallers kon die verdedigers teenmyne grawe wat dié van die vyand onderskep, en hulle kon dan brande stook en die beleëraars uitrook en/of hulle kon die tonnels doelbewus ineen laat stort. 'n Bekende geval van ondermyning is die aanval in 1215 HJ op Rochester Kasteel, Engeland toe 'n hoek van die burgtoring inmekaar getuimel het nadat die myners hout en varkvet gebruik het om 'n reusevuur in hulle tonnel te stig.

Siege of Lisbon, 1147 CE
Beleg van Lissabon, 1147 nC
Roque Gameiro (Public Domain)

Belegtorings

'n Volskaalse aanval op 'n seksie van die muur op een of ander stadium het eenvoudig die gebruik van stormlere en belegtorings behels. Die vyand kon deur middel van artillerie sag gemaak word maar dit was byna onvermydelik dat daar – op bloedige en chaotiese wyse – man teen man slaags geraak sou word. Belegtorings het die aanvallers in staat gestel om naby 'n muur of toring te kom en dit moontlik te bestyg, of dit minstens te beskadig. Van hout gebou en ter plaatse aanmekaar getimmer, het hulle hul eie wiele gehad sodat hulle deur middel van mannekrag of osse teen 'n muur geposisioneer kon word. Hierdie massiewe strukture, wat dikwels name soos die “Kat” of die “Beer” gegee is, moes 'n allemintige sielkundige impak gehad het. Maar eers moes 'n deel van die kasteel of stad se grag opgevul of oorbrug word – soms deur middel van voorafvervaardigde opslaanbrûe – en dan kon die toring tot binne raakafstand van die mure oorgerol word. Modifikasies het die volgende ingesluit: 'n laer uitsteekplatform wat sappeurs beskerm het terwyl hulle die muur aftakel; 'n hangende stormram; of 'n hysraamarm en hok wat 'n aantal manskappe oor die muur kon laat sak. Die beleëraars het dekvuur van hul eie boogskutters gekry wat deur reghoekige houtskilde (pavises) of groter skerms (mantlets) beskut is, sowel as hulle katapulte wat die vyand besig gehou het.

BELEGTORINGS BY DIE AANVAL OP LISSABON IN 1147 HJ WAS HOËR AS 24 M (80 VT.).

Soos die torings hoër as die verdedigers se muur geraak het, kon die boogskutters binne die toring op die mure afskiet, en die vyand van die mure verdryf voordat die soldate in die toring oor die toring se eie ophaalbrug storm. Torings by die beleg van Lissabon in 1147 HJ was byvoorbeeld hoër as 24 m (80 vt.). Die verdedigers het alles in hul vermoë gedoen om weerstand teen die torings te bied. Hulle kon byvoorbeeld brandende pyle na die toring skiet maar 'n toring kon met waterdeurdrenkte dierepelse of metaalplate bedek wees om so 'n strategie te fnuik. Nog 'n metode was om slote voor die muur met los grond op te vul sodat dit inmekaar sou sak wanneer 'n belegtoring nader beweeg; soms het verdedigers selfs hul eie belegtoring gebou om dié van die vyand beter te kan aanval.

Skelmstreke

Alhoewel ridderlikheid 'n hoog aangeskrewe ideaal was, was daar baie verneukery tydens middeleeuse oorlogvoering. Vervalste briewe kon byvoorbeeld na 'n kasteel se bevelvoerder gestuur word onder die valse voorwendsel dat dit van sy soewerein is en hom beveel om oor te gee. 'n Klein aantal manskappe kon hulself vermom en toegang tot die kasteel verkry. Soms het 'n prominente ridder 'n kasteel of stad om die bos gelei wat nie besef het dat hy kante verwissel het nie. Daar was selfs gevalle wat diplomatieke prosedures blatant oorboord gegooi is, soos die afmaai van 'n leier terwyl hy vredesbepalings op die borswering bespreek. Ridderlikheid is ook mee weggedoen wanneer die stryd te lank voortgeduur het, soos toe Henry V dooie diere in die putte van Rouen, Frankryk laat gooi het tydens sy beleg van 1418-19 HJ. Katapulte kon dieremis en lyke na die vyand slinger met die hoop om siektes onder hulle te versprei. Laastens is spioene in albei kampe gebruik om swakpunte van die verdediging uit te snuffel, of om uit te vind wanneer presies die aanvallers aandete nuttig en dus kwesbaar vir 'n strooptog was.

Nadraai

Indien 'n kasteel of stad verower is, was dit algemene praktyk om te plunder, buit, verbrand, verkrag en te moor. Begenadiging van verdedigers wat nie oorgegee het toe hulle aan die begin van die verrigtinge die kans gehad het om dit te doen nie, was die uitsondering, nie die reël nie. Daar is egter verwag dat kerke en lede van godsdienstige ordes ongedeerd gelaat word. Vreemd genoeg, kon soldate moontlik beter behandel word as nievegtende burgers aangesien dit aanvaar is dat hulle bloot hul werk as krygslui gedoen het. Selfs wanneer 'n bevelvoerder toegeeflik wóú wees, soos Willem die Veroweraar ná die inname van Dover in 1066 HJ, het sy eie manskappe in die opwinding dikwels sy bevele geïgnoreer. Dit is moontlik te verstane aangesien die buit ná die tyd een van die hoofaansporings was om te veg, en nie alle soldate was reg om te wag totdat hulle bevelvoerder sy deel eerste opgeëis het nie. Maar sekere slagtings het doelbewus geskied om 'n ferm boodskap na die vyand tydens 'n oorlog van groter omvang te stuur, soos die bloedbad wat Edward III ná die val van Caen in 1346 HJ gelas het. Indien 'n kasteel natuurlik in 'n strategies belangrike posisie was, was dit voordelig vir die nuwe eienaars om dit in stand te hou om hul eie regime te verdedig; derhalwe is baie kastele herstel en weer gebruik, soms selfs verdedig teen 'n teenbeleg, wanneer die hele proses oor begin het, met die rolle omgekeer.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2018, May 24). Belegoorlogvoering in middeleeuse Europa [Siege Warfare in Medieval Europe]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1230/belegoorlogvoering-in-middeleeuse-europa/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Belegoorlogvoering in middeleeuse Europa." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 24, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1230/belegoorlogvoering-in-middeleeuse-europa/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Belegoorlogvoering in middeleeuse Europa." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 24 May 2018. Web. 19 Apr 2024.