Artillerie in middeleeuse Europa

Vertaling Fondsinsameling

Ons visie: Gratis geskiedenisonderwys vir almal in die wêreld, in elke taal. Dit is inderdaad 'n verhewe doel, maar dit sal ons nie keer om daaraan te werk nie. Om daar te kom, moet ons vertaal... baie! Skenk asseblief vandag en help ons om 'n werklike globale impak te maak. Baie dankie!
$1752 / $3000

Artikel

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 28 May 2018

Oorspronklike teks in Engels: Artillery in Medieval Europe

Artillerie-wapentuig in middeleeuse Europa sluit die gemonteerde kruisboog (ballista) en enkelarm-wringkragkatapult (mangonel) in, albei soortgelyk aan antieke Romeinse krygstuig. Soos leërs verder weg ten stryde getrek het, veral in die Bisantynse Ryk en teen die Arabiese kalifate, het nuwe idees vanuit China en Indië oor die lengte en breedte van Eurasië en na Wes-Europa versprei. Die trebuchet maak in die laat 12de eeu HJ sy verskyning, en is soortgelyk aan die katapult maar gebruik 'n teenwig om projektiele verder en met groter akkuraatheid te werp. Deur sowel aanvallers as verdedigers gebruik tydens belegoorlogvoering, saai artilleriebatterye verwoesting onder mense en fortifikasies. Kanonne word vanaf die 13de eeu HJ in gebruik geneem, en alhoewel uiters gevaarlik om te hanteer, en merendeels ondoeltreffend weens die gebrek aan akkuraatheid, verbeter die tegnologie dramaties teen die 15de eeu HJ. Projektiele van alle groottes wat met buskruit aangedryf word, raak die norm en beëindig ten einde laas die ridder en boogskutter se lang dominansie oor die middeleeuse slagveld.

Medieval Trebuchet
Middeleeuse Trebuchet
Quistnix (CC BY-SA)

Oorsprong en ontwikkeling

Artillerie is regdeur die Oudheid met groot welslae gebruik, met die Romeine wat die kruin van perfeksie bereik het en 'n groot verskeidenheid gesofistikeerde en doeltreffende projektiellanseerders aangewend het. Die val van die Romeinse Ryk in die weste en die fragmentering van Europa in kleiner koninkryke beteken dat vanaf die 5de tot die 11de eeu HJ minder heersers spesifieke artillerie-eenhede in hulle leër benodig óf kan bekostig om dit in stand te hou. Om hierdie rede bly kundigheid oor artillerie in Europa hoofsaaklik voortbestaan weens boeke in die vroeë middeleeuse tydperk, maar dit raak nooit heeltemal verlore nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Soos wat internasionale oorlogvoering vanaf die tweede helfte van die 11de eeu HJ versprei en die bou van kastele met die Normandiërs in Frankryk en Brittanje begin floreer, raak belegoorlogvoering die algemeenste vorm van konflik. Dit is hier waar artillerie die meeste benodig word, veral soos wat die ontwerp van defensiewe fortifikasies meer gesofistikeerd raak; met klip nou die algemene konstruksiemateriaal raak stede en kastele uiters harde neute om te kraak. Hou ook in gedagte dat verdedigers hulself met artilleriewapentuig kan toerus en alhoewel hulle deur beperkte ruimte en beweeglikheid benadeel word, is hulle krygstuig beter beskerm as dié van die aanvallers en kan dit vanaf 'n hoër hoogte vuur.

ARTILLERIE WORD GEBRUIK OM MURE EN TORINGS MET GROOT ROTSBLOKKE TE BESTOOK, MET DIE DOEL OM 'N DEEL VAN DIE VERDEDIGING IN DUIE TE LAAT STORT, OF 'N BRES DAARIN TE SKIET.

Die enorme koste van materiaal, konstruksie en vervoer van groter krygstuig vir oorlogvoering beteken dit word eintlik net deur monarge en die rykste van edellui gebruik; trouens, koninklike kastele monopoliseer dikwels die konstruksie van sodanige wapens. Artilleriestukke en die klipammunisie is so swaar en log dat dit waar moontlik gewoonlik per boot vervoer word, en waar nie met waens. Noodgedwonge word die meeste artilleriewapentuig dus ter plaatse aanmekaargesit deur materiaal te gebruik wat elders verkry en bewerk is. Om genoeg ammunisie te vind, is glad nie die maklikste deel van die proses nie aangesien die krygstuie elke dag honderde groot rotsblokke kan afvuur, en die vorm en grootte van die ammunisie moet eenvormig wees om konsekwente, akkurate vuur te verseker.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Strategieë

Artillerie word gebruik om mure en torings met groot rotsblokke te bestook met die doel om 'n deel van die verdediging in duie te laat stort of 'n bres daarin te skiet om die voetsoldate in staat te stel om die beleërde mag binne die mure aan te val. Die toestelle wat die algemeenste gebruik word, werk met 'n enkelswaai-arm; dit is waarom daar dikwels daarna as “balkskiettuie” (beam-sling machines) verwys word. Rotsblokke is die algemeenste ammunisie maar alternatiewe sluit vlammende projektiele in wat bedek is met pik, of houers gemaak van hout, terracotta of glas wat 'n vlambare vloeistof soos dierevet bevat en wat ontwerp is om soos brandbomme met impak aan stukke te spat. Die doel van hierdie toestelle is om die houtgeboue van 'n stad of die geboue binne 'n kasteel se ringmuur aan die brand te steek. Verdedigers kan hulle strukture probeer beskerm deur dit met onbrandbare materiaal soos klei, kalk, turf of asyn te bedek.

Siege of Lisbon, 1147 CE
Beleg van Lissabon, 1147 CE
Roque Gameiro (Public Domain)

Artillerie word in batterye teen 'n teiken opgestel, en hulle operateurs werk in skofte sodat die teiken aanhoudend gebombardeer kan word. Byvoorbeeld, by die beleg van Lissabon in 1147 HJ slaag Engelse kruisvaarders daarin om 5 000 rotse binne 10 uur te vuur, alhoewel dit buitengewoon is. Moderne rekonstruksie-eksperimente het getoon dat balkskiettuie 'n rotsblok wat tot 60 kg (130 pd.) weeg 'n afstand van 85-133 m (100-145 jt.) ver kan slinger. Afstand en die hoek waarteen gevuur word, kan albei verbeter word deur 'n krygstuig op 'n heuwel of selfs 'n toring staan te maak, soos wat gebeur tydens konflikte in Italiaanse stede, waar middeleeuse villas dikwels hul eie toring het. Tydens die beleg van Milaan in 1158 HJ monteer die Heilige Romeinse Keiser Frederik Barbarossa (r. 1155-1190 HJ) 'n krygstuig op 'n ou Romeinse gewelf, alhoewel dit as blootgestelde teiken uiteindelik deur die verdedigers se eie artillerievuur flenters geskiet word.

Verwyder Advertensies

Advertisement

In 'n tipiese beleg is die skootafstand van artillerie nie so groot nie en dit verduidelik moontlik waarom artillerietuie in middeleeuse illustrasies gewoonlik baie naby aan 'n verdedigingsmuur uitgebeeld word, en waarom diegene wat dit hanteer gewoonlik 'n vorm van beskerming benodig. Boogskutters en kruisboogskutters kan met groot akkuraatheid skiet en artillerie-operateurs maklik plattrek. Indien die verdedigers hul eie artillerie het, kan dit gebruik word om die aanvallers se krygstuig te teiken. Houtmure aan die voorkant van die krygstuig bied 'n mate van beskerming vir die operateurs maar 'n direkte rotsbloktreffer kan 'n katapult maklik buite werking stel.

Buiten die fisiese skade wat dit kan aanrig, moet die blote sig van 'n battery artillerie wat ten aanskoue van die verdedigers opgerig word 'n skrikwekkende ervaring vir diegene onder beleg wees. Buiten die brute krag van swaar voorwerpe na die vyand lanseer, is daar ook ander strategieë. Henry V van Engeland (r. 1413-1422 HJ) is daarvoor bekend dat hy tydens sy beleg van Rouen, Frankryk in 1418-19 dooie diere in die putte van die stad gegooi het om sodoende die watervoorraad te besmet. Katapulte kan dieremis en lyke na die vyand slinger met die hoop om siektes onder hulle te versprei. In die 15de eeu HJ word selfs swawelgas gebruik om die verdedigers uit hulle skuilplek te dryf – Pous Alexander VI (r. 1492-1503 HJ) word van sodanige taktiek beskuldig tydens die beleg van Ostie in 1498 HJ.

Die ballista

Die ballista is 'n baie groot kruisboog wat op sy eie skraag gemonteer is, 'n ontwerp wat doeltreffend deur antieke Romeinse leërs gebruik is. Die wapen skiet dik hout- of swaer ysterpyle met groot akkuraatheid. Ysterpylkoppe wat in Avignon, Frankryk en Hasenburg Kasteel in Switserland ontdek is, wissel van 100 tot 170 gram (3,5-6 ons). Die boog wissel in grootte van een tot twee meter in lengte (40-80 duim) en die snaar word deur middel van 'n wenas gespan. Die krag van die tuig beteken dat 'n goed gemikte missiel deur twee of meer mans kan klief. Tydens die Vikings se beleg van Parys in 885-6 HJ beskryf een ooggetuie 'n trio ongelukkige Dene wat met een pyl deurboor is, as voëls ingeryg op 'n spit en reg om gebraai te word.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Medieval Ballista
Middeleeuse Ballista
Wolfgang Sauber (CC BY-SA)

'n Bedrewe ballistaskut kan onbesonne individue op die borswering plattrek wat daartoe lei dat houtluike by fortifikasiemure aangebring word vir ekstra beskerming. Maar ballistas kan nie juis gebruik word om klip te deurdring nie, en met die voordeel van groter kompaktheid word dit meestal deur verdedigers gebruik. Drie ballistas kan op een vloer van 'n toring inpas, en met drie vloere per toring kan 'n aansienlike salvo pyle op die vyand neergegiet word. 'n Kragtiger weergawe van die ballista is die espringal, wat twee afsonderlike boogarms het wat met opgewende toue gespan word en wat groot pyle met metaalbeslaande punte van tot 1,4 kg (3 pd.) of selfs klippe kan skiet. Dodelik akkuraat met hulle gesofistikeerde snellermeganismes, is hulle ideaal om swak punte soos hekke te bewaak.

Die mangonel

Katapulte of “mangonelle” soos hulle soms genoem word (alhoewel die presiese terminologie van middeleeuse artillerie verwarrend is, met geen eenstemmigheid – toe of nou – oor watter naam vir watter krygstuig gebruik moet word nie), is gegrond op antieke ontwerpe en word vanaf die 11de eeu HJ algemeen gebruik soos wat Europese koninkryke al meer in kontak kom met die Bisantynse Ryk, die Islamitiese leërs soos hulle Spanje betree, en die Aware van Eurasië. Die Islamitiese leërs en die Aware het kontak met sowel Indië as China. Die Chinese word gekrediteer met die uitvind van die mangonel tussen die 5de en 3de eeu HJ. Die Romeinse weergawe, bekend as 'n “onager”, is soortgelyk maar gebruik die ingewande van diere pleks van tou om wringkrag te verskaf.

MANGONELLE LANSEER ROTSBLOKKE NA DIE MEER KWESBARE KANTELE (BORSWERING) VAN 'N MUUR OF DIE SOLDATE WAT DAARAGTER STAAN.

Daar word baie gedebatteer oor presies hoe die Europese weergawe van die mangonel ontwikkel het, en verskillende leërs het waarskynlik elkeen hul eie besonderse weergawe van die ontwerp. Die standaardkonstruksie, gegrond op middeleeuse illustrasies en beskrywings in manuskripte, behels 'n enkele arm met 'n beesleerslinger of -houer wat deur middel van die spanning van 'n inmekaargedraaide tou afgevuur word. Die tou word deur 'n paar mans (of vroue in een aangetekende beleg) afwaarts getrek en die arm sodoende reggemaak om terug te skiet. Daar is verskeie dele van staal, brons en yster maar dit is nie bekend presies hoe of waar dit gebruik word nie. Mangonelle kan 'n rotsblok na die vyand slinger maar oor die algemeen nie een swaar genoeg om 'n muur te vernietig nie. Hulle teiken is eerder die meer kwesbare kantele (borswering) van 'n muur of die soldate wat daaragter staan. Daar is 'n paar rekords van klein weergawes wat op 'n belegtoring gemonteer word, of op skepe wanneer hawefortifikasies aangeval word.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die trebuchet

Trebuchets is 'n ware middeleeuse uitvindsel en word die eerste keer in die 12de eeu HJ in Italië gesien. Dit word in die 13de eeu HJ algemener gebruik wanneer dit in Engeland, Duitsland en Frankryk aangeteken word. Die oorsprong van die trebuchet is waarskynlik die Midde-Ooste maar die verwarrende terminologie van kroniekskrywers verhoed moderne geskiedkundiges om die presiese herkoms daarvan uit te pluis. Die eerste besliste melding van 'n Europese trebuchet geskied in 'n kroniek wat die beleg in 1199 HJ van Castelnuovo Bocca d'Adda naby Cremona, Italië beskryf.

Medieval Trebuchet
Middeleeuse Trebuchet
Unknown Artist (Public Domain)

Die trebuchet gebruik 'n teenwig van klip of metaalplaatwerk (eerder as die wringkrag van 'n tou soos by die mangonel) om 'n enkele arm te laat skiet en 'n swaar rotsblok na die vyand te slinger. Die arm, geheg aan 'n metaalas en besmeer met dierevet, word styf gedraai met 'n wenas. Weens die gebrek aan oorblyfsels en die dikwels vergesogte tekeninge van middeleeuse geskiedkundiges met geen of geringe kennis van ingenieurswese, is dit moeilik om presiese ontwerpe te herkonstrueer. Daar is 'n paar beskrywings wat oorleef. Een daarvan is 'n trebuchet wat deur Simon de Montfort tydens die beleg van Toulouse, Frankryk in 1218 HJ gebruik is. Die krygstuig het 'n arm van 12 m (13 jt.) en 'n teenwig van 2,6 ton (2 200 pd.)

Aangesien trebuchets swaarder klippe as mangonelle kan lanseer en dit teen 'n groter trajek skiet, loop alle vestingmure buiten die heel dikstes nou die risiko om deur trebuchets vermorsel te word. Dis geen wonder nie dat baie leërs hulle krygstuie name soos “die Bul” of “Malvoisin” (slegte buurman) gee. Teen die 14de eeu HJ word trebuchets selfs groter en beter, en word dit toegerus met 'n teenwig van 4,5 tot 13,5 ton (9 900-29 750 pd.) wat 'n klip kan slinger wat enigiets van 45 tot 90 kg (100-200 pd.) weeg. Die skootafstand is waarskynlik ongeveer 275 m (300 jt.). Die loutere grootte van hierdie monsters en hulle komplekse meganisme word aangedui deur 'n rekord van Edward I van Engeland (r. 1272-1307 HJ) se trebuchet by die beleg van Stirling, Skotland in 1304 HJ waarvolgens dit 54 timmermanne drie maande neem om aanmekaar te slaan. Natuurlik gebruik die verdedigers van stede en kastele ook hierdie krygstuig, gewoonlik op torings wat dikwels hoër gemaak is om die skootafstand te verleng. Dieselfde klippe wat die vyand geskiet het, word sommer na hulle terug geslinger.

Medieval Trebuchet
Middeleeuse Trebuchet
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Die kanon

Buskruit is waarskynlik in antieke China uitgevind en kom Europa vermoedelik binne deur middel van handelsroetes soos die Chinese Syroete, maar die potensiaal daarvan as middel om 'n projektiel teen groot snelheid en oor 'n groot afstand te dryf, vat lank om pos te vat. Twee bronskanonne word uiteindelik in 1326 HJ in Florence gegiet, en die Toring van Londen het in 1338 HJ sy eie kanonne. Die vroegste beskrywing van buskruitartillerie is 'n Engelse manuskrip van 1326 HJ wat 'n kanon op 'n houtskraag aandui, gereed om 'n metaalpyl te skiet. Die eerste aangetekende Europese veldslag waar kanonne gebruik word, is die Slag van Crécy in 1346 HJ, toe dit 'n Engelse leër help om 'n groter Franse en Genuese leër te verslaan.

BEPERKINGS MET DIE WYDVERSPREIDE GEBRUIK VAN KANONNE IS DIE KOSTE VAN VERVAARDIGING EN OM 'N VOLDOENDE HOEVEELHEID BUSKRUIT TE BEKOM.

Sodanige vroeë kanonne, soms bekend as “bombardes”, word eers van brons of koper gemaak, en toe, vanaf ongeveer 1370 HJ, van ysterstroke wat in silinders gegiet word. Hulle skiet óf balletjies óf pyle wat uit hout gemaak is en met 'n kop van yster (garrots). Sodanig is die gebrek aan kennis en ontwerperskundigheid van die middeleeuse tydperk op hierdie gebied dat vroeër weergawes van die kanon gewoonlik dodeliker is vir diegene wat dit hanteer as vir die teiken. Jakobus II van Skotland (r. 1437-1460 HJ) sterf byvoorbeeld weens 'n kanon wat in 1460 HJ tydens die beleg van Roxburgh ontplof. Ander beperkings op die wydverspreide gebruik van kanonne is eenvoudig die koste van vervaardiging, die verkryging van 'n voldoende voorraad buskruit, en om manne te vind met die vaardigheid om dit akkuraat te skiet, en om die logge goed te skuif na waar dit tydens 'n veldslag benodig word. Kleiner kanonne kan op waens gemonteer word maar met dié dat verhewe onderstelle met wiele eers vanaf die 15de eeu HJ algemeen gebruik begin word, is groter kanonne te groot om maklik rond te skuif. Een van die grootste kanonne wat vervaardig word, is die Mons Meg wat in 1449 HJ gemaak word, weereens vir Jakobus II van Skotland – duidelik 'n tragiese aanhanger van die wapen. Die kanon kan klipballe van 48 cm (19 duim) in omtrek en wat 180 kg (400 pd.) weeg oor 'n afstand van ongeveer 250 m (275 jt.) skiet. Hierdie reuseysterkanon word deesdae in Edinburgh Kasteel uitgestal.

The Siege of Constantinople
Die Beleg van Konstantinopel
Dirk D. (CC BY-SA)

Kleiner vuurwapens – basies kanonne wat tot 15 kg (33 pd.) weeg en met die hand vasgehou word – word vanaf die 14de eeu HJ gebruik, en is waarskynlik deur die Arabiere bekend gestel. Akkurater vuurwapens wat balletjies, pyle of loodkoeëls skiet, word vanaf die 15de eeu HJ gebruik, en staan bekend as 'n “haakbus”. Nuwe weergawes van liggaamwapenrusting van metaal word selfs getoets deur sodanige wapens op kort afstand te skiet.

'n Inventaris in 1461 HJ van Caister Kasteel, Engeland dui op 'n knap versameling buskruitwapens van verskillende kaliber. Daar is vier agterlaaikanonne met agt kamers. Twee van die kanonne kan 15 cm (7 duim)-klipballe skiet, en die ander twee skiet 12 cm (5 duim)-klipballe. Daar is ook 'n slangkanon (die kleinste soort) wat met 'n 25 cm (10 duim)-klip gelaai is, sowel as 'n kleiner een wat 'n 15 cm-klip skiet. Daar is drie voëljagters (fowlers) ('n naam vir 'n kleiner soort kanon) wat 30 cm-klippe skiet, ses kleiner kanonne wat loodkoeëls skiet en sewe handvuurwapens.

Soos verwag kan word, word mure dikker en hoër gemaak as 'n reaksie op die bedreiging kan kanonne. Verdedigers kan natuurlik hul eie kanonne hê, sodat vensters in baie vestings ooreenkomstig aangepas word om 'n groter skootsvak te verskaf. Hierdie kanonpoorte het 'n ronde opening vir die kanon en 'n vertikale gleufvenster daarbo waardeur gemik word; derhalwe die algemene naam “sleutelgatvensters”. Indien 'n kasteel self kanonne het, word torings en mure soms ook laer gemaak om 'n beter vuurplatform te gee van waar die aanvallers bestook kan word. Dit is egter met 'n aanval wat kanonne die grootste uitwerking het aangesien oorlogvoering aggressiewer en dinamieser raak. In die 15de eeu HJ raak kanonne ook akkurater toe die voordeel daarvan ingesien word om lope met 'n ysterboor uit te boor om dit gladder te maak.

Vroeë kanonne het klipballe geskiet wat vir die doel gevorm is, maar vanaf die 15de eeu HJ skiet kanonne gietysterballe, en een van die mees dramatiese demonstrasies vir die gebruik daarvan is die beleg van Konstantinopel in 1453 deur die Ottoman-sultan Mehmed II (r. 1444-6 en 1451-81 HJ), wie se leër 62 kanonne ontplooi. Kanonne vorm ook 'n deurslaggewende faktor in die Franse oorwinning oor Engeland in die Honderdjarige Oorlog (1337-1453 HJ). Toe batterye groot kanonne wat balle van meer as 100 kg (220 pd.) in die 15de eeu meer algemeen gebruik begin word, kom die dae van statiese belegoorlogvoering effektief tot 'n einde aangesien geen vesting baie lank weerstand teen 'n bombardement van sulke kanonvuur kan bied nie. Daarbenewens, toe die vroeë struikelblokke van onakkuraatheid en stadige laaityd eers oorbrug word, beteken dit dat die ooglopende voordele van penetrasie sowel as die gebrek aan vaardigheid nodig vir die vuur van kanonne – vergeleke met tradisionele wapens soos die langboog – veroorsaak dat kanonne oorlogvoering heeltemal verander nes die middeleeuse tydperk tot 'n einde kom.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2018, May 28). Artillerie in middeleeuse Europa [Artillery in Medieval Europe]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1231/artillerie-in-middeleeuse-europa/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Artillerie in middeleeuse Europa." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 28, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1231/artillerie-in-middeleeuse-europa/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Artillerie in middeleeuse Europa." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 28 May 2018. Web. 07 Dec 2021.