Wêreldwye handel in die 13de eeu

Artikel

James Hancock
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 24 May 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Indonesiese, Spaans

Verstommende hoeveelhede speserye en sy is in die 13de eeu van die Verre-Ooste na Europa versend. Die presiese hoeveelhede is nie bekend nie maar die gewildheid van speserye in sowel kookkuns as die geneeskunde het tydens die Middeleeue ’n hoogtepunt in Europa bereik.

Trade Networks in the Middle Ages, c. 1200
Handelsnetwerke in die Middeleeue, ca. 1200
Simeon Netchev (CC BY-NC-SA)

Speserye en sy

Die welbekende deskundige oor middeleeuse hoëre kookkuns, Paul Freedman (2007, 50), vertel ons dat “speserye alomteenwoordig in middeleeuse gastronomie was” en dat ongeveer 75% van middeleeuse resepte speserye behels het. Geskiedkundige rekords is propvol verwysings na die oorvloedige gebruik van speserye deur die welgesteldes in middeleeuse Europa. Toe William I van Skotland (r. 1165-1214) in 1194 ’n besoek aan Richard I van Engeland (r. 1189-1199) afgelê het, is van die geskenke wat hy ontvang het, ’n daaglikse porsie kaneel van 4 pond (1 800 g) asook 2 pond (900 g) peper – beslis meer as wat hy in een dag kon verbruik het. Lamprei, ’n gewilde dis in ’n Engelse middeleeuse kasteel, is ruim met ’n peperagtige sous bedek. Daar is die storie dat koning Henry I van Engeland (r. 1100-1135) in 1135 omgekom het deur ’n enorme maaltyd peperbedekte lamprei te verorber, alhoewel voedselvergiftiging waarskynlik die skuldige was. ’n Sous wat in 1264 by die Fees van Sint Edward bedien is, is met 15 pond kaneel, 12½ pond komyn en 20 pond peper voorberei.

Verwyder Advertensies

Advertisement

ASIATIESE SPESERYE HET ’N VERNAME ROL IN DIE GENEESKUNDE VAN DIE MIDDELEEUE GESPEEL.

Asiatiese speserye het ook ’n vername rol in middeleeuse geneeskunde gespeel. Die lof van hulle geneeskundige en gesonde eienskappe is deur sowel geneeshere as die menigte, arm én ryk, besing. Inheemse plante is ook in die Europese mediese tekste geïnkorporeer maar pasiënte het steeds Asiatiese speserye verkies indien hulle dit kon bekostig. Die geneesmiddels wat in kruieboeke en mediese tekste van die Middeleeue uiteengesit word, bestaan bykans alles uit Asiatiese speserye. Die wydverspreide oortuiging was dat die speserye kragtiger geneesmiddels moes wees as hulle van ’n verafgeleë “paradys” af gekom het.

Teen die Middeleeue het sy uit die Ooste ook ’n sentrale rol in Europese aristokratiese lewens begin speel. Soos wat Wagner vertel:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Alles en almal waarmee dit in aanraking gekom het, het onmiddellik hoog aangeskrewe geraak. Sy is oor altare gedrapeer en in gordyne omskep, en het ruimtes binne ’n kerk of ’n paleis van mekaar geskei. Vanaf die sesde en die sewende eeu is beskermheiliges se relieke in Westelike Europa met sy omhul, daarin gebêre en in netjies afgewerkte metaalwerk en juweelbesette reliekskryne ten toon gestel … Sy se eienskappe van weelde, veelsydigheid en seldsaamheid het vir honderde jare die status daarvan as gesogte materiaal verewig. Die liggewende kenmerke en die sagtheid daarvan het immer diegene beïndruk wat dit gesien of gevoel het … As kommoditeit is sy soms waardevoller as goud beskou.

Handelsroetes

Die speserye en sy wat hulle weg na middeleeuse Europa gevind het, moes ’n ongelooflike afstand aflê. In die 13de eeu het daar ’n omvattende wêreldwye handelstelsel bestaan wat al die pad van die Chinese ooskus tot by Wes-Europa, oor sowel see as land, gestrek het. Die spil waarom alles gedraai het, was die landbrug tussen die westelike Mediterreense hawens, die oostelike afsetpunte na die Indiese Oseaan, en die Sentrale Asiatiese landroetes na China. Daar was drie vername paaie wat deur hierdie sentrale spil gekronkel het – twee wat deur die Arabiese wêreld beheer is en wat deur die Rooi See en die Persiese Golf geloop het, en die ander een deur die Bisantynse Ryk wat toegang tot die landroetes oor Asië gebied het.

Aan die oostekant van hierdie sentrale spil was die Indiese Oseaan waar Arabiese handelaars toegang beheer het tot Indië, sowel as die verhinduïseerde Malakka-seestraat wat bemiddelend tot China was. Die oorlandse handel na Konstantinopel het deur Mongoolse China, oor Persië, die Levant en Klein-Asië beweeg. Die primêre handelsroete tussen die Indiese Oseaan en die Middellandse See het van Bab al-Mandab aan die suidelike punt van die Rooi See geloop na Jedda, Mekka se seehawe, waar goedere in vaartuie vervoer is wat hulle weg noordwaarts teen die heersende winde gebaan het, of in karavane wat die pelgrimsroete van die Hijaz na bestemmings in Egipte en die Levant gevolg het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Medieval Spice Merchant
Middeleeuse speseryhandelaar
Lawrence OP (CC BY-NC-ND)

Die Persiese Golf-poort na Indiese Oseaan-handel was by Ormoes, wat lank reeds as kritieke skakel tussen die Persiese wêreld en die Indiese Oseaan gedien het. Tydens sy besoek aan Ormoes in 1272 het Marco Polo (66) geskryf,

En ek kan jou sê dat handelaars van alle dele van Indië per skip hier aandoen, en alle soorte speserye, waardevolle gesteentes en pêrels, sy en goudtekstielstowwe, olifanttande en talle ander produkte met hulle saambring. In hierdie stad verkoop hulle hierdie ware aan ander handelaars, wat dit dan regdeur die wêreld versprei, en op hulle beurt aan ander verkoop.

Kruisvaarderstate

Die Christene het deur middel van die Kruisvaarders eeue lank hardnekkig vasgeklou aan ’n vastrapplek in die oorwegend Moslemse Middel-Ooste. Ten spyte van konstante oorlogvoering het die Italiaanse handelaarstede steeds ’n aktiewe handel met baie stede in die Levant gehandhaaf. Die groter stede het aktiewe koopvaardysentrums geraak, met handelaars van Arabië, Irak, Bisantium, Noord-Afrika en Italië wat daar woonagtig was. Gespesialiseerde markte het opgeskiet waar plaaslike inwoners en buitelanders ’n wye verskeidenheid goedere – van sy tot basiese kosbenodighede, leerprodukte, tekstielware, pelse en ander vervaardigde goedere – kon koop. Vir toegang tot en vanaf die handelsentrums langs die oostelike Middellandse See het Joodse, Moslemse en Christen-handelaars verbasend vrylik deur vyandige lande beweeg.

The Near East in 1135 CE
Die Nabye-Ooste in 1135
MapMaster (CC BY-SA)

Die vername Moslemse kroniekskrywer Ibn Jubayr wat tydens die 12de eeu deur die Middel-Ooste gereis het, skryf die volgende:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Een van die verbasende dinge waaroor gepraat word, is dat alhoewel die twisvuur brand tussen hierdie twee partye, Moslem en Christen, kan twee van hulle leërs ontmoet en in slagorde opgestel wees, en tog sal Moslemse en Christen-reisigers ongehinderd tussendeur hulle kom en gaan. (Broadhurst, 300-301)

Indië

Indië was die middelpunt van globale handel. Op die Malabar- en Koromandelkus het kolonies handelaars van regoor die wêreld byeengekom om met katoen en sy, speserye en parfuum, sowel as goud, silwer en ivoor handel te dryf. Van Indië af het daar peper, kosbare gesteentes, juweliersware en katoentekstielware gekom. Indiese handelaars het die Indiese Oseaan ruim deurkruis op soek na goedere, en het eksotiese weelde-items van ’n wye verskeidenheid kulture teruggebring wat almal welvarend gemaak het.

KALIKOET WAS VERREWEG DIE BELANGRIKSTE ENTREPÔT VAN INDIË EN VIR EEUE LANK WAS DIT DIE PRIMÊRE BESTEMMING VIR ALLE INDIESE OSEAAN-HANDELAARS.

Van die belangrikste koopvaardystede was Hindoe-beheerde Kalikoet (hedendaagse Kozhikode), Kannanore (Kannur), Cochin, Kollam, Moslemse Goa en Khambhat of Goedjarat in die noordwestelike hoek van die Kathiawar-skiereiland. Khambhat was die tuiste van waarskynlik die wêreld se mees berese handelaars. Hulle het regoor die Indiese Oseaan nesgeskop, en van Aden tot Malakka geseil.

Kalikoet was verreweg Indië se belangrikste entrepôt, en dit was eeue lank ’n primêre bestemming van alle Indiese Oseaan-handelaars van Aden, Ormoes, Malakka en China. Dit het ook bekend geraak vir wat die Europese handelaars “kaliko-weefstof” genoem het, waarvan dit die naam “kaliko” verkry het. Kalikoet is deur ’n invloedryke Hindoe erfleier genaamd die Zamorin geregeer wat nóú met Moslemse handelaars saamgewerk het om handel te fasiliteer. Die ander vername Indiese speserystede aan die Malabar-kus (Kannanore, Cochin, Kollam) was ongelukkige feodale onderhoriges aan die Zamorin van Kalikoet, en het tribuut aan hom betaal. Die Zamorin van Kalikoet sou ’n formidabele teenstander wees toe Portugal later probeer het om Moslemse handel in die Indiese Oseaan te blokkeer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die vroeë Portugese kroniekskrywer Duarte Barbosa het oor Goa geskryf:

Die stad word deur More, respektabele manne en buitelanders en ryk handelaars bewoon; daar is baie vername nie-Joodse handelaars en ander here, bebouers, krygslui. Dit is ’n plek van grootse handel. Dit het ’n goeie hawe waarheen baie skepe van Mekka, Aden, Ormoes, Khambhat en Malabar stroom. Die stad is baie groot met goeie bouwerk en aantreklike strate omring deur mure en torings. (Fernandes, 284)

Indonesiese markte

Teen die 13de eeu was die stad Malakka (Melaka) aan die Malakka-seestraat op die Maleise Skiereiland een van die belangrikste wêreldhandelsentrums. Dit was die groot internasionale deurvoermark vir peper, neutmuskaat en naeltjies, waar die Ooste en die Weste ontmoet het. Die geskiedenis van die streek as handelsentrum het omstreeks 300 VHJ begin toe klein Hindoe-koninkryke onder die invloed van handelaars uit Indië op Java en Sumatra ontstaan het. In die vroeë eeue HJ het Boeddhiste-koninkryke by hulle aangesluit. Die magtige Boeddhiste-koninkryk Srivijaya het op Sumatra tot stand gekom en beheer geneem van die meeste van die Maleise Argipel totdat dit in 1290 deur die Hindoese Majapahit Ryk van Java verower is. Die Majapahit Ryk het so in mag toegeneem dat dit geweier het om tribuut aan China te betaal, en hulle was in staat om ’n mag te verslaan wat deur Kublai Khan (r. 1260-1294) van die Mongoolse Ryk, wat ook oor China geheers het, gestuur is.

Boeddhistiese Ceylon (hedendaagse Sri Lanka) was ’n belangrike plek om te vertoef vir handelaars onderweg van en na Malakka. Hier kon die wêreld se beste kaneel, edelstene, pêrels, ivoor, olifante, skilpaddoppe en tekstielware verkry word. Skepe van regoor die wêreld het by Ceylon aangedoen vir sowel inheemse produkte as ware wat van ander lande gebring is om van hier af verder uitgevoer te word. Die eilanders het ook hulle eie skepe na buitelandse hawens gestuur. Die belangrikste ingevoerde items was perde van Indië en Persië, asook goud-, silwer- en kopermuntstukke, en sy en keramiekware van China af. Daar was talle baaie en ankerplekke al met die kus van Ceylon langs versprei wat kalm hawens en fasiliteite vir skepe gebied het.

Whole and Ground Nutmeg
Heel en fyngemaalde neutmuskaat
Herusutimbul (CC BY-SA)

Op die rand van die Indonesiese argipel was die Molukke, of Spesery-eilande, die wêreld se enigste bron van naeltjies, neutmuskaat en foelie. Naeltjies is eksklusief op ’n paar klein, vulkaniese Maluku Eilande van Indonesië aangetref, terwyl die neutmuskaatboom inheems aan die beskutte valleie van die warm tropiese Banda Eilande is. Hierdie eilande is slegs deur handelaars van Java en China besoek. Arabiese en Goedjaratse seevaarders het op Indonesiese koopvaardy staatgemaak om speserye aan Malakka te lewer waar hulle dan daarvoor handelgedryf en dit oor die res van die Indiese Oseaan versprei het.

Chinese seeroetes

In die 12de eeu was China die mees gevorderde ekonomie in die wêreld, en het hulle die mees dinamiese mag in die Asiatiese handel uitgemaak. Die stad Hangzhou het 1 miljoen inwoners gehad, onder meer ’n groot handelaarsklas. Die Chinese het die Indiese Oseaan met vlote seevarende koopvaardyjonke – 30 m lank en 7,5 m breed, met ’n 120 ton-vrag en ’n bemanning van 60 – deurkruis. Hierdie skepe het by Indonesië, Ceylon en die weskus van Indië aangedoen. Onder die Suidelike Song Dinastie (1127-1279) het China ’n groot handelsoorskot geniet.

Terwyl China die wêreld se beste gehalte tekstielware, keramiek en metaalware uitgevoer het, het hulle ’n enger reeks produkte – die meeste vanaf Suidoos-Asië, sommiges van die Middel-Ooste – ingevoer, soos buitelandse hout, hars en speserye … Die invoer van reukware was uiters belangrik omdat alle sosiale vlakke dit verbruik het. (Hansen, 219)

Toe die hele China in 1279 deur die Mongole oorgeneem is, het die handel met Suidoostelike Asië aangehou floreer, met handel wat in ivoor, renosterhoring, kraanvoëlpluime, pêrels, koraal, visvangervere en skilpad- en seeskilpaddoppe gedryf is.

Mongoolse land-syroetes

Met die verloop van eeue het die hoeveelheid bedrywigheid met die Syroete langs na gelang van die politiek van die koninkryke waardeur dit geloop het, gedy en gedaal. Die opwagting van Djenghis Khan (1206-1227) en die Goue Horde het in die 13de eeu nuwe lewe in handel op die Syroetes van ouds geblaas. Ná die Mongoolse verowerings het eksotiese goedere soos sy, porselein en speserye vrylik met die Syroetes na Europa begin beweeg. Die totale lengte van die Syroete was omtrent 10 000 km, waarvan ongeveer 3 000 km binne Chinese gebied geval het.

The Campaigns & Empire of Genghis Khan
Die veldtogte en ryk van Djenghis Khan
Simeon Netchev (CC BY-NC-SA)

Handelsbedrywighede op die Syroete het nie net ’n oplewing onder die Mongole ervaar nie maar die uitbreiding daarvan het nuwe hoogtes bereik. Die Mongole was groot voorstanders van oop handel, en het dit moontlik gemaak dat produkte van China en Suidoos-Asië hul weg vrylik na Oos-Europa en die Midde-Ooste, en vice versa, gevind het. Marco Polo (1254-1324) se vader Niccolò en sy oom Maffeo het in 1260 op hul eerste reis ooswaarts vertrek, en Marco het in 1271 sy eie epiese reis aangepak. Om internasionale handel aan te moedig, is buitelandse handelaars dikwels belastingvrystellings en lenings toegestaan, en vrygeleide op die Syroete gewaarborg. Die Mongole het ook handel aktief aangemoedig deur militêre staanplekke langs die Syroete op te rig wat deur Mongoolse soldate gepatrolleer is en as tussenstasies en rusplekke vir reisigers diens gedoen het.

Europese handelsnetwerke

Die skakel van al die wêreldwye markte met Europa was deur Italië. Tydens die grootste deel van die middeleeuse tydperk het die Italiaanse stadstate Venesië, Genua en in ’n mindere mate ook Pisa, gewoeker om kommoditeite deur die sentrale spil vanaf die Asiatiese mark na Europa te skuif. As geaffilieerde van die Bisantynse Ryk het Venesië van die 10de tot die 12de eeu handel in die oostelike Mediterreense streek gedomineer. In die 13de eeu het Venesië se mag nóg toegeneem toe hulle hul ou vennoot tydens die Vierde Kruistog versaak en die besetting van Konstantinopel ondersteun het, en beheer van die meeste van die Bisantyne se Adriatiese hawens oorgeneem het. By hierdie beloning is ook Corfu in 1207 en Krete in 1209 bygevoeg. Dit het aan die Venesiërs ’n handelsnetwerk besorg wat van die Goue Horing van Konstantinopel tot by die vername hawens in Sirië en Egipte gestrek het, en aan hulle toegang verleen het tot al die speserye wat vanuit Suidoostelike Asië en Indië die Middel-Ooste binnegestroom het.

Venesië se ligging was perfek om handel met die markte van die Swartsee, die Levant en Egipte te beheer. Soos Krondl (44) beskryf:

Venesië is op die mees noordwestelike hoek van die Adriatiese See, die grootste golf in die Mediterreense See, geleë en net oorkant die Alpe van die Duitssprekende lande. Vanaf Venesië is dit min of meer ’n reguit vaart met die Adriatiese kus langs, al langs vasteland-Griekeland af, verby die eiland Krete en dan reguit af na Egipte. Hierdie reis is maklik die direkste pad tussen die spesery-emporia van die Ooste, en die silwermyne van die hart van Europa.

In die 12de eeu het nog ’n handelsmag in die oostelike Mediterreense See ontluik: die Kataloniese handelsnetwerk. Dit het Katalonië, Majorka en Valencia in noord-oostelike Spanje ingesluit, en was in Barcelona gesentreer. Die kundige Kataloniese handelaars het potensiële markte versigtig ontleed en die vervaardiging van sodanige landboukundige en ambagsprodukte aangemoedig waarvan aanvaarding in buitelandse markte die waarskynlikste was. Hulle het met koring, olie, heuning, wyn, Moslemslawe, wapens (swaarde en messe van uiters hoë gehalte) en Spaanse leer begin. Mettertyd het hulle saffraan, droëvrugte, koraal, wolstowwe, keramiek, bewerkte dierevelle, gom, kersvet en glasvoorwerpe by hulle aanbod gevoeg. Hulle handelsnetwerke het tot in Frankryk, Italië, Noord-Afrika, die Levant, en al langs die Atlantiese kus, insluitend Andalusië, Portugal, Engeland en Vlaandere ingesluit.

Late Medieval Land & Maritime Trade Routes
Laat middeleeuse en seehandelsroetes
Lampman (Public Domain)

In die 12de eeu het ’n belangrike verbond koopliede genaamd die Hansebond (Hansevereniging, of Hanse) ook in Europa ontstaan wat al die vername stede wat die Baltiese See en die Noordsee omring het, met mekaar verbind het. Die verbond het regdeur die 13de eeu algaande in mag toegeneem.

Die Hanse het uit bykans 200 stede bestaan wat in die binneland (langs riviere) of aan die kus geleë was. Dit het van Brugge en Gent in Vlaandere, en Londen in die weste tot by die Republiek van Novgorod in westelike Rusland en Tallinn aan die Golf van Finland in die ooste; van Bergen in die noorde, tot by middel Duitsland in die suide gestrek. [Hansa-bedrywighede het selfs] tot by Venesië gereik … waar Duitse handelaars gewoon en hulle goedere in pakhuise opgeberg het. (Liggio, 134)

Ten slotte

Handel en handelsverkeer in die middeleeuse wêreld het in so ’n mate ontwikkel dat selfs relatief klein gemeenskappe toegang gehad het tot weeklikse markte en, moontlik ’n dag se reis ver, groter maar minder gereelde markte waar die volle omvang van die tydperk se verbruikersgoedere uitgestal was om die koper en kleinhandelaar in die versoeking te lei. Soos wat die Middeleeue aangestap het, het baie oorlandse handelsroetes die noordwestelike Europese stede met die Italiaanse handelstate begin verbind. Eksotiese goedere is moeisaam met die Po- en Rhône-vallei na sentrale en noordelike Frankryk vervoer waar dit byeengebring is met dié wat suidwes van Vlaandere en die Noordsee vervoer is. Met verloop van tyd het die seehandelsroetes van die Noordsee heeltemal aangesluit by dié van die Mediterreense See.

Met die samevloei van hierdie handelsroetes in Frankryk, Engeland, Vlaandere en Duitsland het internasionale handelsmarkte in die 12de en 13de eeu al belangriker geraak, waarvan die bekendstes in die dorpe van Champagne in die noord-ooste van Frankryk gehou is. Hierheen het handelaars uit Noord-Europa pelse, wol en die speserye van die Verre-Ooste gebring. Goedere wat uit Italië versend is, is met karavane pakesels daarheen vervoer, en is by wyse van die Mont Cenis-pas, met die antieke roete genaamd die Via Francigena, oor die Alpe gekarwei. Dit het ’n maand geneem om die tog van Genua na die Franse markstede af te lê. In die 13de eeu was die wêreld as globale ekonomie heeltemal aan mekaar verbind. Enorme hoeveelhede goedere het deur al die wêreldryke, hetsy ter land of see, beweeg. Handel het essensieel ongehinderd deur landsgrense of etnisiteit plaasgevind.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Bibliografie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

James Hancock
James F. Hancock is ’n vryskutskrywer en emeritus professor aan Michigan Staatsuniversiteit. Sy spesiale belangstellings is die evolusie van gewasse en die geskiedenis van handel. Sy boeke sluit “Spices, scents and silk: catalysts of world trade” (CABI) en “Plantation crops, plunder and power: evolution and exploitation” (Routledge) in.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Hancock, J. (2022, May 24). Wêreldwye handel in die 13de eeu [Global Trade in the 13th Century]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1998/wereldwye-handel-in-die-13de-eeu/

Chicago-styl

Hancock, James. "Wêreldwye handel in die 13de eeu." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 24, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1998/wereldwye-handel-in-die-13de-eeu/.

MLA-styl

Hancock, James. "Wêreldwye handel in die 13de eeu." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 24 May 2022. Web. 03 Oct 2022.