Seerowerstrawwe in die Goue Eeu van Seerowery

Artikel

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 07 October 2021
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Turkse

Seerowers in die Goue Eeu van Seerowery (1690-1730) het ’n groot verskeidenheid verbeeldingryke strawwe uitgedeel asook ontvang. Slagoffers van seerowery moes marteling, geseling en vernederende seremonies verduur maar wanneer seerowers voor die gereg gebring is, is hulle gestraf met onder meer ’n lang tronkvonnis of dwangarbeid in die dodelike kondisies van Afrika-myne, of hulle is in die openbaar gehang.

Strawwe onder seerowers

Geseling

Die gebruik van ’n sweep om straf uit te deel, was ’n algemene praktyk op alle soorte skepe van die tydperk. Seerowers het ’n baie kleiner risiko geloop om sodanige behandeling te verduur aangesien ’n kaptein dit selde gewaag het om dieselfde metodes te gebruik vir ’n bemanning wat hulle in die eerste plek waarskynlik tot seerowery gewend het juis omdat hulle sulke wrede aspekte van die lewe ter see wou ontsnap. Gewoonlik is daar slegs op geseling as straf vir iemand besluit wanneer die hele bemanning, of minstens die meerderheid, dit eens was dat die man een van die skeepsartikels – die lys reëls wat hulle gesweer het om na te kom – oortree het. Op ’n seerowerskip was dit die kwartiermeester wat die geseling behartig het. ’n Oortreder is gegesel vir sulke misdrywe soos om ’n vrou aan boord te bring, ’n ander man te slaan, of wanneer hy nie sy wapens doeltreffend slaggereed gehou het nie.

Verwyder advertensies

Advertisement

Punished Pirate
Gestrafte seerower
Naughty Dog/PlayStation Studios (Copyright, fair use)

Wanneer ’n matroos gegesel is, is hy aan die mas of ’n roosterwerk vasgebind en op sy kaal rug met ’n kats afgeransel. Hierdie spesiale soort sweep het uit nege stringe tou bestaan waarvan elkeen ongeveer ’n kwartduim (± 6 mm) in deursnee en tot en met 2 voet (± 60 cm) lank was. Elkeen van die nege lengtes het drie of meer knope gehad om die sweep se byt nóg geniepsiger te maak – soms is knope bygevoeg vir ernstiger oortredings. Tydens die geseling het die matroos dikwels op ’n koeël gebyt sodat hy nie uitgeroep het en hom die smaad van sy medeskepelinge op die hals gehaal het nie. Indien hy wel weens die pyn uitgeroep het, het die bemanning hom daarna minagtend as ’n “nagtegaal” beskryf.

Kielhaling

TEN VOLLE DAARVAN BEWUS DAT AGTERLATING OP ’n VERLATE EILAND NET ERGE DORS EN UITHONGERING SOU MEEBRING, HET SOMMIGE SEEVAARDERS GEVRA OM EERDER ONMIDDELLIK GESKIET TE WORD.

Buiten die doodstraf self was kielhaling die ergste straf wat ’n matroos toegedien kon word, en selfs hier was sy kans om die beproewing te oorleef niks meer as 50:50 nie. Die straf het behels dat ’n persoon met ’n tou vasgebind en oorboord gegooi is en dan óf van een kant van die skip na die ander, óf met die hele lengte van die skip langs gesleep is. Al het die slagoffer nie verdrink nie, sou die horde eendmossels wat teen die romp van die skip aangepak het hom ernstig gesny en gewond het.

Verwyder advertensies

Advertisement

Agterlating

Dié seevaarders wat aan ’n ernstige misdryf soos muitery, diefstal of lafhartigheid skuldig was, se straf kon bloot ’n uitgestelde doodsvonnis wees. Die matroos is met niks buiten ’n vat water en ’n pistool op ’n afgeleë eiland agtergelaat; soms is sy klere ook van hom gestroop. ’n Alternatief hiervoor was om die persoon met slegs een roeispaan of geen roeispane nie in ’n klein bootjie op die oop see aan sy lot oor te laat. Ten volle daarvan bewus dat erge dors en uithongering hulle gewisse lot was, het sommige matrose gevra om eerder onmiddellik geskiet te word. Vir ander het die geskenk van ’n pistool hulle in staat gestel om alles te beëindig voordat die ontbering hulle tot raserny kon dryf. Die bekendste seevaarder wat hierdie straf ontvang het, is Alexander Selkirk (1676-1721) wat in 1704 op die Juan Fernández-eilande in die Stille Oseaan agtergelaat is. Dan was daar ook Edward Low wie se bemanning genoeg van sy sadistiese streke met sowel vriend as vyand gehad het. Die oorsprong van die Engelse woord maroon is cimarrón, die Spaanse term vir ’n ontsnapte slaaf wat “wild” of “ongetem” beteken.

Edward Low Cigarette Card
Edward Low-sigaretkaart
Metropolitan Museum of Art (Copyright)

Strawwe vir onskuldige gevangenes

Marteling

Alhoewel die meeste seerowers net in buit belanggestel het, was sommige kapteins besonder wreedaardig teenoor bemanning wat gevange geneem is, veral indien hulle gedink het dat die bemanning kosbaarhede êrens aan boord versteek het. Daar was ook die idee dat die marteling van ’n paar slagoffers die tyding onder die koopvaardy sou versprei sodat die bemanning tydens die volgende kaping ’n bietjie meer inskiklik sou wees.

Verwyder advertensies

Advertisement

Martelings – wat soms ewe eufemisties “seeroweroorredings” genoem is – het die volgende ingesluit: om geslaan of met die sweep bygedam te word, gesny te word of brandende vuurhoutjies wat tussen die vingers ingesteek is. ’n Gunstelingtegniek wat van die vroeëre boekaniers ontleen is, was om ’n stuk tou om ’n gevangene se kop vas te maak en dit al stywer te trek totdat die oë uitgepers is. ’n Straf wat in die Koninklike Vloot gebruik is, is deur sommige seerowers oorgeneem om gevangenes te maak praat, en dit was om hulle van die ranok af in die water te dompel. ’n Tou is om die middel en onderdeur die lies en arms van die slagoffer vasgebind, en dan is die slagoffer teen die ranok op gehys. Die tou is dan laat val sodat die slagoffer vlugtig in die see gestort het voordat hy weer gehys is, net om weer en weer laat val te word totdat hy praat.

EEN PORTUGESE KAPTEIN WAT SY BEURS OORBOORD GEGOOI HET, SE LIPPE IS AFGESNY, WAARNA DIT VOOR HOM VERBRAND IS.

Die Engelse seerower Charles Vane (1721 gehang) was besonder brutaal. Met Vane se verhoor het ooggetuies en vorige slagoffers van ’n swetterjoel martelings vertel. Seevaarders is geslaan, gesny en selfs gehang. Een slagoffer is aan die skip se boegspriet vasgebind en toe met brandende vuurhoutjies gemartel. Nog ’n berugte Engelse seerower was Henry Every (geb. 1653) wat in 1695 die Ganij-i-Sawai, ’n fortuinskip van die Mughaalse keiser, gekaap het. Baie van die gevange passasiers is gemartel om te verklap waar hulle kosbaarhede weggesteek is, waarna hulle onteer, doodgemaak en oorboord gegooi is.

Nog ’n sadistiese kaptein was die Wallieser Bartholomew Roberts, ook bekend as “Swart Bart” Roberts (ca. 1682-1722). Kaptein Roberts was uiters suksesvol om velerlei skepe te kaap maar het steeds onnodige martelings toegedien. Tydens een berugte episode in Oktober 1720 het Roberts sy manskappe gelas om die ore van ’n groep Nederlandse gevangenes af te sny; sommiges is gehang en hulle liggame vir teikenoefening gebruik. Met ’n ander geleentheid het Roberts die goewerneur van Martinique aan sy eie ranok gehang.

Verwyder advertensies

Advertisement

The Hanging of Stede Bonnet
Stede Bonnet word gehang.
Unknown Artist (Public Domain)

Die wreedste van alle seerowers was die Engelsman Edward Low wat van 1721 tot 1724 in die Karibiese See en die oostelike Atlantiese Oseaan bedrywig was. “Ned” Low het ’n hele rits weersinwekkende misdade opgestapel. In 1722 het hy ’n groep Portugese passasiers, onder meer twee monnike, opgekerf en gehang. ’n Kok op ’n Franse vaartuig is aan die mas vasgebind en die skip tot wrak verbrand. ’n Portugese kaptein wat sy beurs oorboord gegooi het, se lippe is afgesny, waarna dit voor hom verbrand is. ’n Visserman wat aan die kus van Nantucket gevang is, se ore is afgesny voordat hy doodgeskiet is. ’n Ander visserman is gedwing om sy eie ore te eet terwyl ’n kaptein wat aan die kus van Rhode-eiland gevange geneem is, se hart uitgesny is, waarna ’n ander gevangene gedwing is om dit te eet.

Eweneens het ’n kanonnier in die bemanning van die Engelse seerower Edmund Condent (1718-1720 bedrywig) na bewering een maal die hart van ’n Indiese gevangene gekook en geëet wat gedreig het om hulle seerowerskip op te blaas. Condent was nog ’n kaptein wat hom daarin behaag het om sy slagoffers te vermink, en het die neus en ore van verskeie Portugese gevangenes aan die kus van Brasilië afgesny.

Vernederings

Byna dieselfde as marteling was sommige van die “speletjies” wat seerowers vir hulle gevangenes uitgedink het. Een so ’n tydverdryf was “bloed en sweet” wat behels het dat ’n gevangene tussendeur ’n ry matrose moes hardloop wat die slagoffer dan met naalde bygedam het wanneer hy verby hardloop. Daarna is die slagoffer in ’n vat vol kokkerotte geprop en toegemaak. ’n Sagter alternatief daarvoor was om die slagoffer al om die hoofmas te laat hardloop. Die punt van ’n kortelas is gebruik om die slagoffer aan te spoor om aan te hou hardloop totdat hy van uitputting inmekaargesak het.

Verwyder advertensies

Advertisement

Oor die plank loop

Daar is nie baie bewyse dat seerowers tydens die Goue Eeu van Seerowery mense oor die plank laat loop het nie; dit wil sê, iemand te blinddoek en sy hande vas te bind en hom dan te dwing om met ’n plank langs te loop wat van die dek oor die see uitsteek. Die straf kom nietemin in baie fiktiewe seerowerstories voor, en sommige bronne maak daarop aanspraak dat Stede Bonnet (1718 gehang) daarmee vorendag gekom het as ’n manier om sy bemanning te vermaak, en van ongewenste passasiers ontslae te raak. Die idee vir hierdie ongewone manier van teregstelling is moontlik afkomstig van Silisiese seerowers uit die 1ste eeu VHJ wat volgens Plutargus (ca. 45-125 HJ) Romeinse gevangenes met ’n leer oor die water laat loop het. Nog ’n moontlike oorsaak is die gewoonte om matrose wat daarvan verdink is dat hulle dronk was, te dwing om in ’n reguit lyn te loop langs ’n plank wat op die dek neergelê is.

Walking the Plank by Howard Pyle
Oor die plank loop, deur Howard Pyle
Howard Pyle (Public Domain)

Strawwe vir gevange seerowers

Geseling en brandmerking

Tydens die Goue Eeu het die Britse Admiraalskap die Oos-Indiese Maatskappy vanaf 1683 die reg gegee om seerowers in die Indiese Oseaan te vervolg en te verhoor. Gevolglik het seerowers nou die risiko geloop om hulle verdiende loon te kry wáár hulle ook al verwoesting gesaai het. ’n Algemene straf was om op ’n enkele skip gegesel te word, of om tussen al die skepe in die hawe rondgestuur te word en op elkeen van hulle gegesel te word – ’n straf wat ook in die Koninklike Vloot gebruik is. In die Indiese Oseaan was die seerowers so talryk dat die letter P dikwels met ’n rooiwarm yster op die voorkop gebrandmerk is van dié wat gevang is. In hierdie geweste is doodsvonnisse voltrek deur die seerower aan die ranok te hang.

Tronkstraf

Vroeg in die Goue Eeu het sommige seerowers ’n kwytskelding ontvang, veral as hulle minder belangrike lede van die bemanning of baie jong mans was. Maar soos die tydperk aangestap en seerowery vererger het, het die owerhede baie strenger geraak. Oral was gevangenskap die ligste straf waarvan seerowers die risiko geloop het indien hulle ooit aangekeer is. Baie seerowers het gesterf terwyl hulle steeds verhoorafwagtend was, hetsy weens hulle wonde of weens die siektes wat algemeen in die tronke voorgekom het. Vir die meeste was ’n lang tronkvonnis ’n baie werklike moontlikheid indien hulle nie die hof daarvan kon oortuig dat hulle ’n onwillige lid van ’n seerowerbemanning was nie. Die verdediging moes deur die seerower waargeneem word – waarvan die meeste geheel en al ongeletter was – aangesien hulle nie regshulp toegelaat is nie. Koloniale tronke was besonder naar maar tronke in Engeland het nie veel beter daar uitgesien nie. Sommige tronkvonnisse het dwangarbeid behels, byvoorbeeld in die strafkolonies in Wes-Afrika waar gevangenes in die myne gewerk het en waar die kanse op oorlewing inderdaad skraal was.

Gehang

Die algemeenste manier om ’n aangekeerde seerower naby die einde van die Goue Eeu van Seerowery te straf, was om hom te hang, gewoonlik onmiddellik ná ’n verhoor. Hierdie teregstellings het in die openbaar plaasgevind en gewoonlik in ’n ligging waar verbygaande seevaarders van die daad getuie kon wees. In Londen het seerowers hul eie eksklusiewe plek vir teregstelling gehad, naamlik Teregstellingsdok in Wapping op die oewer van die Teems-rivier. ’n Paar seerowers is tipies saam gehang, veral toe die oorlog teen seerowery toegeneem het, en hele bemannings saam ter dood veroordeel is. Hierdie veroordeelde mans is van die tronk – gewoonlik Newgate of Marshalsea – af begelei, met ’n offisier aan die punt wat ’n silwer roeispaan gedra het; die roeispaan het die gesag van die Hoërhof van die Admiraalskap verteenwoordig.

Captain Kidd
Kaptein Kidd
Unknown Artist (Public Domain)

Die plek waar hulle gehang is, het verskeie punte van besondere belang behels. Die ligging naby die see was om aan te dui dat die misdaad deur seevaarders gepleeg is terwyl die presiese ligging by die laagwaterpunt was om te herinner dat die Admiraalskap verantwoordelik was om die vonnis te voltrek aangesien die area ánderkant die laagwater vir misdade was waarmee die burgerlike owerhede te kampe gehad het.

Die veroordeelde mans het op die platform van die primitiewe houtgalg gestaan terwyl ’n kapelaan ’n stukkie gepreek en ’n gebed vir die aanstons afgestorwenes opgestuur het. Die mans is dan toegelaat om hulle laaste woorde te spreek, en hierdie uitlatings is gewoonlik aangeteken en gedruk en onder ’n gretige publiek versprei. Die seerower is dan van die leer af gestamp waarmee hy opgeklim het, en hy het gewoonlik eerder doodgewurg as wat sy nek gebreek is. Sodra die seerower dood was, is die liggaam afgehaal en met paaltjies op die strand vasgepen of aan ’n houtpaal vasgebind, en vir drie getye daar gelos. Die oorskot is dan in ’n ongemerkte graf begrawe. Dit is die prosedure wat deur owerhede gevolg is wat vir teregstellings in die kolonies verantwoordelik was – ’n reg wat in 1701 toegestaan is. Die grootste groepteregstelling tydens die Goue Eeu het in 1722 by Cape Coast Kasteel in hedendaagse Ghana, Wes-Afrika plaasgevind. 52 van die gevange bemanningslede van Bartholomew Roberts is daar gehang.

Besonder berugte seerowers – gewoonlik die kapteins – is gehang en daarna is hulle karkas in ’n ysterhok gehang waar dit gelos is om te verrot. Kaptein Kidd (ca. 1645-1701), die Skotse kaper wat seerower geword het, is in 1701 met sy verhoor in Londen aan seerowery en moord skuldig bevind. Hy is gehang en sy liggaam met teer besmeer waarna dit in ’n hok langs die Teems-rivier opgehang is. Twee jaar daarna was die oorskot van Kidd nog sigbaar vir verbygaande skepe. Hierdie strafvorm is 20 jaar later steeds uitgedeel.

Die Engelse seerower John Rackham, ook bekend as Calico Jack, is op vier aanklagte van seerowery skuldig bevind en in November 1720 in Jamaika gehang. Sy lyk is ook as openbare afskrikmiddel in ’n hok opgehang, hierdie keer op Port Royal se ewe gepas benoemde Dooiemanseiland. ’n Jaar later het Charles Vane presies dieselfde behandeling ontvang.

Seerowers en die owerhede het beslis nie langs dieselfde vuur gesit nie en dit het seerowers nog meer aangespoor om desperaat te veg om te verhoed dat hulle aangekeer word. Swartbaard, ook bekend as Edward Teach, moes vyf keer geskiet en twintig hale met die swaard toegedien word voordat hy in November 1718 gesneuwel het. Luitenant Maynard, wat die berugte seerower aangekeer het, het Swartbaard se kop toe aan die boeg van sy skip vasgesteek om as waarskuwing vir ander te dien. Roberts het sy manne opdrag gegee om ter see met sy liggaam weg te doen om te voorkom dat hy in ’n hok beland; hierdie plig het hulle nagekom toe hy in Februarie 1718 in aksie gesterf het. Een ding was seker: Seerowers kon nie kla dat hulle nie geweet het watter verskriklike strawwe vir hulle gewag het wanneer hulle – soos wat met feitlik almal van hulle die geval was – uiteindelik voor die gereg gebring is nie.

Verwyder advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die outeur

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

noem dit werk

APA Styl

Cartwright, M. (2021, October 07). Seerowerstrawwe in die Goue Eeu van Seerowery [Pirate Punishments in the Golden Age of Piracy]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgespoor van https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1847/seerowerstrawwe-in-die-goue-eeu-van-seerowery/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Seerowerstrawwe in die Goue Eeu van Seerowery." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laaste gewysig October 07, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1847/seerowerstrawwe-in-die-goue-eeu-van-seerowery/.

MLA Styl

Cartwright, Mark. "Seerowerstrawwe in die Goue Eeu van Seerowery." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 07 Oct 2021. Web. 27 Nov 2022.