Swartbaard

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 19 August 2021
X
Ray Stevenson as Blackbeard (by Starz, Copyright, fair use)
Ray Stevenson as Swartbaard
Starz (Copyright, fair use)

Swartbaard (Blackbeard) (1718 gesterf), ook bekend as Edward Teach – waarskynlik ’n verdigte naam – was ’n berugte Engelse seerower wat tydens ’n verbasend kort loopbaan van net 15 maande in die Karibiese See en die Atlantiese Oseaan bedrywig was. Met sy lang, swart baard met linte vasgebind, brandende lonte onder sy hoed en tot die tande toe met pistole bewapen, was Swartbaard se naam, reputasie en voorkoms alles bereken om sy slagoffers met ontsettende angs te laat versteen.

Hoofsaaklik te danke aan ’n hoogs oordrewe en meestal fiktiewe kenskets deur die skrywer Charles Johnson/Daniel Defoe (1660-1731), het Swartbaard die kleurrykste van alle seerowers van die sogenaamde Goue Eeu van Seerowery geword. Hy word uitgebeeld as ’n man met geen sedes wat niks teenoor óf sy onskuldige slagoffers óf sy eie bemanning ontsien het nie, en as ’n seerower wat sy verdiende loon gekry het toe hy in aksie teen die Britse Koninklike Vloot gesterf het – maar eers nadat vyf pistoolskote en twintig hale van die swaard hom neergevel het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Queen Anne’s Revenge

Niks oor Teach se vroeë lewe is vir seker bekend nie behalwe dat hy in Bristol, Engeland gebore is en sy vroeë jare ter see deurgebring het deur Franse en Spaanse skepe tydens die Spaanse Suksessieoorlog (1701-1714) in Jamaikaanse waters te kaap. Edward Teach was waarskynlik ’n verdigte naam, moontlik aangeneem om ’n duister verlede weg te steek. Sy werklike naam kon dalk Edward Thatch (Thache) of Thatch Drummond gewees het, maar ook hierdie name kon moontlik skuilname gewees het.

TEACH HET CHARLESTON, SUID-CAROLINA TWEE WEKE LANK SUKSESVOL GEBLOKKEER, EN MINSTENS AGT SKEPE AANGEVAL.

Teach het vanaf September 1717 as kaptein onder die Britse seerower Benjamin Hornigold in die Bahamas diens gedoen. Soos dié van baie ander seerowers was die eiland New Providence hulle basis gewees. Die twee mans het elkeen bevel oor ’n skip gevoer en skepe in die Karibiese See en langs die kus van Noord-Amerika aangeval. Van die belangrikste skepe wat gekaap is, is die Concorde, ’n Franse skip onderweg na Martinique en propvol goud, munte, juwele en ander waardevolle goedere van handelsposte in Afrika. Teach het hierdie vaartuig in November 1717 naby Sint Vincent oorgeneem. Hy het dit as die Queen Anne’s Revenge herdoop, en daarmee was die driemasskip wat voorheen as slaafskip diens gedoen het, nou ’n seerowerskip. Met die 40 kanonne waarmee die skip nou uitgerus is, kon hy die vuurkrag van baie vlootskepe ewenaar, en hy is gebruik om skepe in die omgewing van Sint Vincent en Sint Kitts te kaap.

Verwyder Advertensies

Advertisement

The Queen Anne's Revenge
Die Queen Anne's Revenge
Qualiesin (CC BY-SA)

Teen vroeg 1718 was Teach se totale bemanning 300-400 man sterk. Te danke aan sy gestalte en swart baard wat met linte vasgebind is, was Teach beslis ’n imposante figuur, en hy het die respek van sy manskappe geniet. Getuies het aangeteken dat streng dissipline onder Teach se seerowerbemanning gehandhaaf is. Edward Teach – aldus legende, in elk geval – het ’n redelik grafiese weergawe van die Jolly Roger-vlag gehad, wat gehys is om seker te maak dat slagoffers onmiddellik oorgee. Op Teach se vlag hou ’n geraamte ’n uurglas in een hand vas, en in die ander hand ’n spies wat na ’n bloeiende hart wys. Diegene aan wie Teach se skip nader beweeg het, is deur die simbole herinner dat die uurglas besig was om vir hulle leeg te loop, en dat die dood die enigste uitweg was indien enige weerstand gebied sou word.

DIE QUEEN ANNE’S REVENGE EN EEN ANDER SKIP IS – MOONTLIK DOELBEWUS – DEUR TEACH OP ’n SANDBANK LAAT VASLOOP.

Ná nog ’n paar kapings het Teach na Noord-Carolina gevaar waar hy belowe het om met seerowery op te hou, en ’n kwytskelding van die goewerneur, Charles Eden, ontvang het. Baie beamptes op die ooskus van die Amerikaanse kolonies het seerowery oor die hoof gesien – óf omdat hulle self daarby betrokke was, óf omdat seerowerbuit dikwels goedkoper was as om goedere by regmatige handelaars te koop. Trouens, die aanloklikheid van maklike buit van swak bewapende handelskepe het daartoe gelei dat Teach nié seerowery prysgegee het nie en in Maart 1718 het hy met die Queen Anne’s Revenge na die Baai van Honduras gevaar. Daar kon hy daarin geslaag om die Revenge te buit van sy mede- Britse seerower Stede Bonnet wat later dieselfde jaar gehang is. Ná nog twee kapings was Teach nou in bevel van ’n vloot van vier skepe, en hy kon sy visier nou hoër stel om selfs groter pryse in te sluit; sy aanvalle op die koopvaartskepe langs die Amerikaanse kus het tot en met April voortgeduur. Teach se onderbevelhebber was Israel Hands, kaptein van die sloep Adventure.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die kus van Carolina

In Mei 1718 het Teach vir Charleston (ook bekend as Charles Town), Suid-Carolina twee weke lank suksesvol geblokkeer, en minstens agt skepe aangeval. Ná betaling van losgeld is gevangenes ongedeerd vrygelaat; die losgeld het medisyne ingesluit wat moontlik ’n noodsaaklikheid vir die behandeling van sifilis onder die bemanning was. Terwyl Swartbaard se vloot onderweg na Noord-Carolina die vlak waters van Beaufort-inham binnegevaar het, is die Queen Anne’s Revenge en een ander skip op ’n sandbank laat vasloop; dit is moontlik doelbewus gedoen om Teach se buitengewoon groot bemanning, wat vereis het om in die geplunderde buit te deel, bietjie af te skaal. Revenge is aan Bonnet terugbesorg maar Teach – nie vir die eerste maal nie – het al die buit in besit van die vloot oorgeneem en in die oorblywende sloep weggevaar. Die gestrande Queen Anne's Revenge het uiteindelik gesink maar dit is waarskynlik die wrak wat in 1996 in die area ontdek en sedertdien verken is. Die wrak het verskeie artefakte bevat wat dui op ’n sterk verbintenis met sowel ’n skip van die tydperk as Teach, waarvan die ongewone aantal kanonne wat gevind is die opvallendste is.

Blackbeard or Edward Teach
Swartbaard, oftewel Edward Teach
Unknown Artist (Public Domain)

Toe hy Bath Towne, Noord-Carolina bereik, het Teach nóg ’n kwytskelding van goewerneur Eden ontvang. Hy het sy gebuite vrag van die hand gesit en is selfs toegelaat om sy sloep te behou. Die seerower wat oënskynlik tot inkeer gekom het, is met die 16-jarige dogter van ’n plantasie-eienaar getroud en het hom op Ocracoke Eiland gaan vestig. Maar die seerower se verlede het hom weldra ingehaal en terwyl hy Philadelphia besoek het, is ’n bevel vir sy inhegtenisname uitgereik. Teach het hom weereens tot die see gewend en twee Franse skepe aan die kus van Bermuda gekaap, waarna hy met ’n nuttige vrag suiker en kakao na Bath Towne teruggekeer het. Nadat hy die goewerneur en beamptes met vate suiker omgekoop het, het ’n hof beslis dat Teach die vrag bloot van ’n verlate skip gered het en derhalwe is hy van alle aanklagte van seerowery vrygespreek. Teach het moontlik op die seerowerpad voortgehou omdat die goewerneur hom weens gereelde en aansienlike somme omkoopgeld toegelaat het om dit te doen.

Teach se dood

Anders as sy eweknie in die naburige Noord-Carolina, was die goewerneur van Virginia, Alexander Spotswood – soos baie ryk en invloedryke legitieme handelaars – uiters gretig om seerowery hok te slaan. Toe Teach se voormalige kwartiermeester oor sy kaptein se onwettige optrede van die verlede getuig het, is twee sloepe deur lede van die Britse Koninklike Vloot beman en gestuur om Teach voor die gereg te bring. Verder aangespoor deur die beloning van ’n 100 pond vir die aankeer van Teach, lewend of dood, het hierdie bemanning in November 1718 die seile gespan.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Teen hierdie tyd was Teach se bemanning by sy basis maar 20-25 sterk maar toe hy die aanvalsmag die vlak waters van Ocracoke-inham sien oorsteek, het hy aan boord van sy sloep gegaan en reggemaak om die aanval af te weer. Op 22 November het die Britse skepe op ’n sandbank vasgeloop en Teach, getrou aan sy verklaring dat hy nie enige genade sal toon óf verwag nie, het van die geleentheid gebruik gemaak om sy kanonne op die weerlose teikens te laat losbrand. Ná die eerste volle vlaag is die een skip onvaarbaar gelaat maar die ander vaartuig, onder aanvoering van luitenant Robert Maynard, het in die rigting van Teach se skip begin dryf. Maynard en die meeste van sy manne het tot op die laaste oomblik benededek weggekruip, en toe Teach se manne aan boord van die vaartuig kom, het die twee bemannings in ’n vlaag pistoolskote en swaardhale slaags geraak. Teach en Maynard het mekaar aangesig tot aangesig aangepak. Teach is geskiet en met ’n swaard in die nek gesteek maar die seerower het aangehou veg. Dit het vyf pistoolskote en twintig hale van die swaard geverg om Teach tot ’n val te bring; die finale hou wat hom onthoof het, is deur ’n Hooglander agter hom toegedien. ’n Plaaslike legende het ontstaan dat die seerower se koplose lyk drie maal gedryf het om die sloep wat sy ondergang teweeg gebring het. Soos aangeteken in sy logboek vir 3 Januarie 1719, het luitenant Maynard die onthoofde kop van Teach aan die boeg van sy skip vasgesteek, om as waarskuwing vir ander te dien:

Bietjie wind en mooi weer hierdie dag. Ek anker hier [Williamsburg] van N-Carolina af in die sloep Adventure. Edward Thache, voorheen meester (seerower) wie se kop ek onderaan die boegspriet van genoemde sloep gehang het ten einde dit aan die kolonie Virginië te lewer, en die ware en huisraad van genoemde seerower tot my bevelvoerder se beskikking te stel.

(Cordingly, 200)

Buiten vir een vryspraak en Israel Hands wat te danke aan sy nuttige getuienis teen korrupte Noord-Carolina-beamptes ’n koninklike kwytskelding ontvang het, is al Teach se manne wat gevange geneem is, gehang.

Blackbeard
Swartbaard
Benjamin Cole (Public Domain)

Vir so ’n berugte seerower het Teach eintlik maar min suksesse gehad. Sy loopbaan het net 15 maande geduur, en die skepe wat hy gebuit het, was nouliks vaartuie wat oorlopens toe met skatte gesprankel het. Teach se 23 gekaapte skepe was nietig vergeleke met die meer as 400 wat die Walliese seerower Swart Bart Roberts (ook bekend as Bartholomew Roberts, ca. 1682-1722) tydens sy arglistige loopbaan geskaak het. Die gesamentlike waarde van alledaagse goedere soos suiker, katoen en kakao wat ná Teach se dood by sy basis op Ocracoke Eiland gevind is, is op ’n skamele paar duisend pond bereken. Daar bestaan geen bewyse dat Teach ná sy kapings ’n fantastiese fortuin begrawe het nie. Verder is daar ook geen bewyse dat Teach enige van sy gevangenes gemartel of sleg behandel het nie, of dat hy buitengewoon gemeen teenoor sy bemanning was nie. Ná sy dood het Teach egter baie meer bereik as wat hy ooit lewend vermag het. Vlug het hy ’n legende geraak, die vergestalting van die bose, mal seerower wat ’n skrikbewind op die oop see gevoer het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die Swartbaard van Daniel Defoe

Slegs ’n paar jaar ná sy dood was Edward Teach, saam met ander seerowers, die onderwerp van ’n biografie in Daniel Defoe se gevierde werk General History of the Robberies and Murders of the Most Notorious Pyrates (Algemene geskiedenis van die rooftogte en moorde van die berugste seerowers) wat in die 1720's saamgestel is. Op die titelblad word ene kaptein Charles Johnson met die werk gekrediteer maar dit is moontlik ’n skuilnaam vir Defoe (alhoewel vakkundiges steeds oor die kwessie debatteer, en Johnson moontlik ’n werklike maar geheel en al onbekende kundige op die gebied van seerowers kon gewees het). Die boek is ’n mengsel van feit en fiksie – met geen aanduiding van waar die een met die ander versmelt nie – en was ’n groot treffer en definieer sedertdien hoe seerowers uitgebeeld word. In Defoe se werk word Teach in afgryslike besonderhede beskryf as ’n monster wat tot enige gruweldaad, van verkragting tot aaklige teregstellings, in staat was. Die outeur het beslis toegang tot amptelike geskrifte, rekords van verhore en kontemporêre joernalistieke verslae gehad, en baie stellings is feitelik bewys wanneer dit deur geskiedkundige rekords gestaaf is. Daar is egter ook tallose oordrywings en suiwer verdigsels, soos privaat gesprekke en uitlatings wat woordeliks herhaal word. Dit is dalk beduidend dat Defoe sowel suksesvolle joernalis as outeur was; hy het met ander woorde presies geweet hoe om feit en fiksie vir die maksimum letterkundige vrug te vervleg.

The Spanish Main and Caribbean Pirate Havens  c. 1670
Spaanse hawens op die Amerikaanse vasteland en seerowerhawens in die Karibiese See, ca. 1670
Simeon Netchev (CC BY-NC-SA)

Defoe se meesterlike kenskets van Teach/Swartbaard sluit die volgende onvergeetlike fisiese beskrywing in:

Kaptein Teach het die bynaam Swartbaard aangeneem weens daardie massiewe bos hare wat, soos ’n vreesaanjaende meteoor, sy hele gelaat bedek het en Amerika meer as enige komeet wat in ’n lang tyd daar verskyn het, die skrik op die lyf gejaag het.

Hierdie baard was swart en hy het dit toegelaat om tot ’n oordadige lengte te groei; wat die breedte betref, het dit tot by sy oë gestrek; hy was daaraan gewoond om dit met linte in klein stertjies vas te bind … en dit om sy ore te krul. Tydens aksie het hy ’n strop oor sy skouers gedra met drie paar pistole daarin wat soos bandeliere in holsters gehang het. Hy het brandende lonte onder sy hoed ingesteek wat weerskante van sy gesig te sien was en met sy oë wat van nature woes en wild voorgekom het, het alles saam ’n gedaante geskep sodat ’n mens se verbeelding nie ’n wraakgodin vanuit die hel kan optower wat meer angswekkend voorkom nie.

(Defoe/Johnson, 84-5)

Swartbaard se vermaak

Teenstrydig met alle bewyse beskryf Defoe vir Swartbaard as ’n regte monster met ’n sadistiese trek so breed soos die kielwater van sy skip. Hy het nie net die onskuldiges laat deurloop nie, maar sy eie bemanning het ook selde sy duiwelse vermaak ontkom. Tydens een geval het die onstabiele kaptein homself en van sy bemanning in die vragruim toegesluit en swawel gebrand totdat hulle byna versmoor het voordat die luike op die laaste nippertjie oopgegooi is.

Blackbeard's Fight to the Death
Swartbaard se geveg tot die dood
Jean Leon Gerome Ferris (Public Domain)

Swartbaard het een maal 15 bemanningslede op ’n dor stuk rots naby Tortola in die Britse Maagde-eilande agtergelaat, waarna seevaarders na die stuk rots as Dooiemanskis (Dead Man's Chest; vandag bekend as Dooiekiseiland [Dead Chest Island]) begin verwys het. Swartbaard het die manne met ’n trommel skatte gelos, en vir elkeen ’n kortelas en ’n bottel rum gegee. Die kaptein het gehoop dat die manne mekaar binnekort sal begin uitmoor in ’n poging om ’n groter deel van die buit vir elkeen te kan opeis maar toe hy ’n maand later na die dor stuk rots terugkeer, was hy ontnugter om al 15 die manne steeds lewend te vind.

In nog ’n “speletjie” het Swartbaard twee pistole getrek, die kers gedoof en Israel Hands onder die kajuittafel deur geskiet nadat die ander man tydens ’n kaartspel aan die slaap geraak het. Swartbaard het sy onderbevelhebber met die een koeël in die knie getref maar die ander een het gemis. Toe sy bemanning by hom wou weet waarom hy dit gedoen het, het die seerower geantwoord dat as hy nie af en toe een van hulle doodmaak nie, hulle sou vergeet wie hy is. (Defoe/Johnson, 84)

’n Geweldige seksdrang en tallose wellustige episodes word aan Swartbaard toegedig, sowel as 14 vroue wat hy die gewoonte gehad het om deur sy manne te laat onteer. Daarenteen het ’n goewerneur in Januarie 1718 opgemerk dat Teach na bewering ’n vrou en kinders in Londen het (aangehaal in Cordingly, 71). Ongeag die gaping tussen feit en fiksie is die beeld van Swartbaard die verliederlike seerowerkaptein soos wat Defoe hom uitgebeeld het in latere fiksie herhaal, onder andere in Robert Louis Stevenson se Master of Ballantrae wat in 1889 gepubliseer is. Teen die einde van die 19de eeu was die berugte seerower die onderwerp van James Cross se Blackbeard, or the Captive Princess, ’n gewilde Londense musiekopvoering. Teen die 20ste eeu, ten spyte daarvan dat hy as ’n opperskurk in die gewilde 1952-film Blackbeard the Pirate uitgebeeld is, het Blackbeard so belaglik geraak dat hy hoofsaaklik tot ’n koddige figuur in komediefilms soos Disney se Blackbeard's Ghost van 1968 beperk is.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2021, August 19). Swartbaard [Blackbeard]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-19978/swartbaard/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Swartbaard." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig August 19, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-19978/swartbaard/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Swartbaard." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 19 Aug 2021. Web. 26 May 2022.