Die Vikings in Ysland

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$890 / $3000

Artikel

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 17 January 2019

Oorspronklike teks in Engels: The Vikings in Iceland

Middeleeuse bronne oor die ontdekking van Ysland en die vestiging van mense daar verwys dikwels na die ontdekkers as “Vikings” maar tegnies gesproke was hulle nie. Die term “Viking” is slegs van toepassing op Skandinawiese plunderaars, en nie op Skandinawiërs oor die algemeen nie. Van die mans en vroue wat nedersettings in Ysland gevestig het, kon wel voorheen by Viking-plundery betrokke gewees het maar hulle het as boere na Ysland gekom om 'n nuwe lewe in 'n nuwe wêreld te begin.

Anders as ander streke wat deur die Vikings gekoloniseer is, het Ysland geen inheemse bevolking gehad nie. Toe die Vikings in 793 HJ op die abdy by Lindisfarne in Northumbria, Brittanje toegeslaan het of toe hulle later in Wessex, Mercia, Ierland en Skotland strooptogte uitgevoer het, het hulle te doen gekry met die mense wat reeds daar woonagtig was. In Ysland was daar egter niemand om te verower nie en geen kerke of abdye waar draagbare rykdom gebuit kon word nie. Die mense wat hulle in die land gaan vestig het, het aanvanklik van Noorweë (later van Orkney, die Shetland-eilande en Ierland) af gekom en is deur Noorweegse aristokrate van aansienlike welstand gelei wat hul eie skepe besit het, en wat ander mense kon oorhaal of gebied om saam met hulle te kom.

Verwyder advertensies

Advertisement

Moderne vakkundiges verdeel die vroeë geskiedenis van die Skandinawiërs in Ysland gewoonlik in drie tydperke:

  • Die tydperk van nedersetting, ca. 870-930 HJ;
  • Die tydperk van die gemenebes, 930-1200 HJ;
  • Die tydperk van die Sturlungs (of die Sturlung-era), 1200-1262 HJ.

Reconstructed Viking Village in Hofn, Iceland
Heropgerig Viking Village in Hofn, Ysland
adriana serra (CC BY-NC-SA)

Verwyder advertensies

Advertisement

Christendom het ca. 999/1000 HJ die oorhand in Ysland gekry en die Noorse geloof vervang maar dit is duidelik dat die meerderheid mense nie die nuwe geloof vrywillig omhels het nie. Dit is as't ware deur die Noorweegse koning Olaf Tryggvason (r. 995-1000 HJ) – wat Noorweë gedwing het om tot Christendom te bekeer – aan hulle opgedring, en deur die wetgewer Thorgeir Ljosvetningagodi (aktief ca. 985-1001 HJ) geadministreer. Volgens, onder andere, die vakkundige Robert Ferguson het die halfhartige aanvaarding van Christendom in ca. 999/1000 HJ die geweld en burgeroorlog aangevuur wat die tydperk van die Sturlungs gekenmerk het, en wat in 1262 HJ uiteindelik tot die einde van die gemenebes en tot Ysland se aanvaarding van Noorweegse heerskappy gelei het.

Die tydperk van nedersetting

Die vroegste bronne oor Yslandse geskiedenis is die Íslendingabók (“Boek van die Yslanders”, ca. 12de eeu HJ) en die Landnámabók (“Boek van die nedersettings”, ca. 13de eeu HJ). Volgens die Landnámabók was Naddodd die Viking (ca. 830 HJ) die eerste nedersetter in Ysland toe hy onderweg na die Faroëreilande van koers af gewaai is en Ysland ontdek het.

Verwyder advertensies

Advertisement

HERJOLF EN THOROLF HET DIE NUWE LAND GELOOF, EN THOROLF HET GESÊ DIS SO PRAGTIG DAT BOTTER VAN DIE GRASHALMS AF DRUP. HULLE VERSLAE HET VERDERE MIGRASIE VANAF NOORWEË NA YSLAND AANGEMOEDIG.

Hy is later deur Gardar die Sweed (ca. 860's HJ) – ook bekend as Garðarr Svavarsson – gevolg wat moontlik ook van koers af gewaai is. Hy het 'n nedersettinkie op die kus van Skjálfandi Baai (wat ooreenstem met die hedendaagse dorp Húsavík) in die noorde gestig. Gardar het die land “Gardar se eiland” herdoop en terug huis toe gevaar. Maar een van sy bemanningslede, 'n man genaamd Nattfari, sowel as 'n slaaf en skuldslavin het nie saam teruggekeer nie; na bewering het hierdie drie as die eerste permanente nedersetters in Skjálfandi Baai aangebly.

Die derde en bekendste Skandinawiese ontdekker van Ysland was Flóki Vilgerðarson (ca. 868 HJ) – ook bekend as Hrafna-Flóki – wat Ysland doelbewus gaan koloniseer het. Flóki het langer as die eerste twee ontdekkers gebly en het 'n gemeenskap op die Borgarfiord (Borgarfiörður, waarop die hedendaagse dorp Borgarnes geleë is) aan die weskus gestig.

Ys wat die fjord geblokkeer het, het Flóki verhoed om Borgarfiord te verlaat en hy moes noodgedwonge baie langer bly as wat hy aanvanklik beplan het. Voor sy vertrek het hy die plek “Ysland” gedoop en met sy terugkeer na Noorweë het hy vir almal vertel van die onherbergsame wêreld van sneeu en ys. Maar twee van sy bemanningslede – Herjolf en Thorolf – het Ysland se lof besing, met Thorolf wat so ver gegaan het om te sê die land is so pragtig dat botter van die grashalms af drup. Hulle verslae het verdere migrasie vanaf Noorweë na die nuwe land aangemoedig wat, ongeag Herjolf en Thorolf se vurige lof daarvoor, die naam behou het wat Flóki dit gegee het.

Verwyder advertensies

Advertisement

Ná Flóki se terugkeer het belangstelling in migrasie na Ysland met rasse skrede in Noorweë toegeneem. In die bronne, nie slegs die Íslendingabók en Landnámabók nie maar ook werke deur Christenskribas, word dit dikwels toegeskryf aan die “tirannie” van die Noorweegse koning Harald Fynhaar – ook bekend as Harald Blondehaar – r. 872-930 HJ). Presies watter vorm hierdie “tirannie” behels het, is onduidelik maar dit het iets te doen gehad met die toekenning van grond en die hoë belastings wat in Noorweë gehef is. 'n Nuwe land, waar 'n mens – sónder sodanige belastings – 'n plaas op 'n aardige lappie grond kon afpen, moes nogal aantreklik voorgekom het.

The Settlement of Iceland
Die Nedersetting van Ysland
Max Naylor (Public Domain)

Die Landnámabók vertel breedvoerig die verhaal van Ysland se eerste geskiedkundige nedersetter, Ingólfr Arnarson (ca. 874 HJ). Ingólfr en sy pleegbroer Hjörleifr was in Noorweë by 'n bloedvete betrokke, en het na Ysland gevaar. Na bewering het hulle Ierse monnike op die eiland teëgekom wat die plek toe verlaat het aangesien hulle nie saam met die heidene wou leef nie. Hjörleifr en sy geselskap is deur die slawe vermoor wat hulle vanaf Ierland saamgebring het, en Ingólfr het op die moordenaars jag gemaak en hulle uitgewis. Nadat sy pleegbroer gewreek is, het Ingólfr in 874 HJ die gemeenskap gestig wat die hedendaagse Reykjavik sou word.

Toe 'n permanente nedersetting eers wortel geskiet het, het ander koloniste binnekort begin aanland. Die Landnámabók verhaal hoe die mense ongeveer 927 HJ, nadat Ysland merendeels as nedersetting gevestig is, 'n man genaamd Ulfljot terug Noorweë toe gestuur het om vir Ysland 'n regskode op grond van Noorweegse wette saam te stel. Ulfljot het in 930 HJ teruggekeer en die regskode aan Ysland se Althing (die byeenkoms van vrye mans) oorhandig. Teen hierdie tyd was Ysland in 36 vorstedomme verdeel, en elkeen het 'n opperhoof gehad wat hulle by die byeenkoms verteenwoordig het om 'n vreedsame en harmoniese gemenebes te bewerkstellig.

Verwyder advertensies

Advertisement

Die tydperk van die gemenebes

Die vroeë era van die tydperk van die gemenebes (930-1030 HJ) staan ook bekend as die “tydperk van sagas” aangesien dit die tyd is waarin die meeste van die stories uit die vername Yslandse sagas afspeel. Hierdie stories is mondelings oorgedra tot en met die 12de en 13de eeu HJ toe dit neergepen is, en sluit stories in oor die vestiging van mense in Ysland (die Íslendingabók en Landnámabók), sowel as die bekende The Saga of the Volsungs, The Saga of Ragnar Lothbrok, die Prose Edda en die Poetic Edda wat latere generasies voorsien het van kennis oor Noorse gelowe en gebruike wat Christendom voorafgegaan het.

DIE OPPERHOOF VAN ELKE VORSTEDOM HET MET ELKE LENTE EN SOMER SAAM MET DIE ANDER BY DIE ALTHING VERGADER EN OOR WETTE EN ALLERLEI HANDELSWYSES, SOWEL GODSDIENSTIG AS SEKULÊR, GESTEM.

Hierdie mededelings beklemtoon die gelykmakende aspekte van die Noorse samelewing in die sin dat, alhoewel elke stam een opperhoof gehad het, besluite geneem is nadat adviseurs wat die soms uiteenlopende belange van die gemeenskap verteenwoordig het, geraadpleeg is. Al met die kus van Ysland langs was daar baie afsonderlike gemeenskappe wat as “kommunes” bekend gestaan het. In elke kommune het mense geleef deur hulle eie lappie grond te bewerk, vee te teel, vis te vang, te jag en handel te dryf.

Elke kommune is deur vyf mans gelei wat vir 'n termyn van een jaar verkies is. Een hiervan is as verteenwoordiger na die Althing gestuur om geskille te besleg en wette te reguleer. Vakkundiges Stefan Brink en Neil Price (574) wys daarop dat daar min twyfel bestaan dat die kommune die belangrikste sosiale instelling in Ysland tydens die Middeleeue was. Hierdie aanspraak word aanvaar aangesien elke kommune sy eie identiteit gehad het maar vrywillig met ander saamgewerk het ten opsigte van regsverwante kwessies ten einde gelykheid en harmonie tussen die gemeenskappe te verseker.

Die opperhoof van elke vorstedom is met elke lente en somer gestuur om saam met die ander opperhoofde by die Althing te vergader en oor wette en allerlei handelswyses, sowel godsdienstig as sekulêr, te stem. In 'n opmerking oor die belangrikheid van die reg in die Skandinawiese samelewing skryf vakkundige Kirsten Wolf:

Dat wette vir Skandinawiërs in die Viking-tydperk belangrik was, is ongetwyfeld. Die moderne Engelse woord law is 'n Angel-Saksiese ontlening aan die Oudnoorse log (wat 'dit wat bepaal of besleg is' beteken). Dit sal nogal vreemd wees as die Angel-Saksers so 'n woord aan 'n volk ontleen het wat nié 'n reputasie vir regsingesteldheid gehad het nie. (150)

Deur harmonie en balans onder die kommunes te handhaaf, het die Althing nie net die grondslag vir die reg gevorm nie maar ook vir kulturele ontwikkeling binne Ysland. Die Yslandse regering was 'n oligargie, 'n “unie van opperhoofde sonder 'n koning” (Wolf, 151). Die president van die Althing was die regspreker wat die wet uit sy kop geken en dit met die aanvang van elke samekoms voorgedra het. Die regspreker het 'n termyn van drie jaar gedien, waarna 'n nuwe een verkies is. Die wette in Ysland is tot en met ca. 1117 HJ mondelings oorgedra, voor dit neergepen is.

Die Althing het die wet geken en dit as mandaat toegepas maar het geen mag gehad om dit af te dwing nie. Sodra 'n oordeel gevel is, is dit aan die individu oorgelaat om toe te sien dat geregtigheid geskied. Die Althing kon wette rakende grondgeskille maak en ten gunste van een boer teen 'n ander beslis maar het oor geen mag beskik om te verseker dat die besluit gerespekteer word nie. Elke persoon was dus daarvoor verantwoordelik om die besluite van die Althing te handhaaf en sover vasgestel kon word, het mense dit wel gedoen. In Ysland is die Noorse tradisies van bloedvetes en die vergelding van 'n lewe met 'n lewe deur boetes vervang. Lyfstraf is deur die straf van regteloosmaking, of voëlvryverklaring vervang, ingevolge waarvan 'n persoon deur die gemeenskap verstoot is.

Logberg – Althing Meeting Place at Thingvellir, Iceland
Logberg — Althing Vergaderplek by Thingvellir, Ysland
Adam Fagen (CC BY-NC-SA)

Hierdie wette was gegrond op gemeenskaplike godsdienstige oortuiginge en presedente, soos vertolk deur die opperhoofde en die regspreker. Wolf skryf:

Hierdie opperhoofde het die titel godi (meervoud godar) gehad – 'n woord wat van die Oudnoorse god (wat 'god' beteken) afgelei is. Die titel dui dus aan dat die opperhoofde sowel godsdienstige as sekulêre funksies verrig het. (151)

Die vrede is bewaar solank as wat almal die regmatigheid van hierdie wette en die sakrale aard daarvan erken het, maar hierdie vrede is toenemend bedreig deur Christensendelinge wat uit Noorweë gestuur is.

Christendom

Volgens die Kristni Saga ('n mededeling uit die 13de eeu HJ oor die verchristeliking van Ysland) was die eerste twee Christensendelinge 'n Duitser genaamd Fredrik (ca. 981 HJ) en 'n Noorweër genaamd Thorvald die Ver-reisiger wat persoonlik deur Olaf Tryggvason (voor sy bestyging van die troon) gekies is. Thorvald is so genadeloos deur die Yslanders bespot en uitgetart dat hy twee van hulle doodgemaak het en na Noorweë moes terugvlug; Fredrik is saam met hom.

Nadat Olaf aan bewind gekom het, het hy nog 'n groep sendelinge onder leiding van ene Stefnir (ca. 997 HJ) gestuur. Toe Stefnir agtergekom het niemand word deur sy woorde bekeer nie, het hy Ysland geëvangeliseer deur tempels en sakrale heiligdomme te vernietig. In 'n opmerking oor die Yslanders se reaksie hierop, skryf vakkundige Robert Ferguson, “dit is nogal 'n aanduiding van hulle ontsteltenis oor Christendom se onverdraagsame aard dat, as 'n direkte reaksie op Stefnir se bedrywighede, die Yslanders hulle nou tot die reg gewend het om die fanatisme van die volgelinge van die nuwe geloof te ontmoedig” (300). Stefnir is voëlvry verklaar en moes die land verlaat.

Olaf se volgende Christenverteenwoordiger was Thangbrand (ca. 999 HJ) wat dieselfde pad as Thorvald gestap het toe hy bespot is, en twee van sy folteraars om die lewe gebring het. Hy is óók voëlvry verklaar en het na Noorweë teruggekeer. Olaf se reaksie op sy mislukking was beslaglegging op die eiendom van Yslanders in Noorweë en 'n dreigement om hulle te laat doodmaak of vermink. Twee Yslandse Christenopperhoofde, Gissur Teitsson en sy skoonseun, Hjalti Skeggjason, het hom andersins oortuig deur hom te beloof dat hulle sal slaag waar die ander misluk het. Om seker te maak dat hulle dit wel doen, het Olaf vier mense – almal verwant aan die vier magtigste Yslandse opperhoofde – gyselaar geneem.

Olaf Tryggvason
Olaf Tryggvason
Vegard Ottervig (CC BY-SA)

Ná hulle terugkeer het Gissur en Hjalti hulle by die ander by die Althing aangesluit waar dit vinnig duidelik geraak het dat nóg die Christene nóg die heidene gewillig was om toe te gee, en dat een of ander kompromie bereik moes word. Nadat hy 24 uur lank gemediteer het, het die wetgewer Thorgeir Ljosvetningagodi die uitspraak gelewer dat almal Christen moes word en gedoop moes word, maar dat heidene hul geloof steeds in hul privaat hoedanigheid kon beoefen.

Soos die Kristni Saga meedeel, is dit gedoen om eenheid te handhaaf aangesien die ywer van die Christene van so 'n aard was dat dit gedreig het om die land in twee te skeur, met heidense oortuiginge en wette wat oor die een helfte heers, en Christenideale oor die ander. Thorgeir het blykbaar gevoel dat bekering tot Christendom onvermydelik was in die lig van Olaf se vasberadenheid, maar 'n mens moet ook in ag neem hoe sy besluit beïnvloed is deur die mense wat Olaf gyselaar gehou het, en die moontlikheid dat hy deur een van die opperhoofde omgekoop is.

Wat ook al sy motivering was, die Yslanders het hulself aan sy gesag as regspreker onderwerp, en tot die nuwe geloof bekeer. Ferguson skryf:

Op 'n individuele vlak, as reisigers en handelaars, het bekering hulle moontlik die eenvoudige verleentheid gespaar om ouderwets in 'n moderne wêreld te wees – 'n spul takhare wat op die rand van die bekende wêreld aan verouderde idees vasklou. Polities het dit moontlik hul trotse onafhanklikheid behou deur die onmiddellike bedreiging van 'n inval deur Noorweë af te weer. (322)

Olaf Tryggvason het in 1000 HJ tot sterwe gekom, en in ca. 1025 HJ sluit die Althing van Ysland 'n verdrag met koning Olaf Haraldsson van Noorweë (ook bekend as St. Olaf, Olaf II – r. 1015-1028 HJ) waarmee hulle persoonlike regte en vryhede in Noorweë, en outonomie in Ysland verseker word. Christenmoraliteit was nou die onderliggende vorm vir die Yslandse reg en die kerk se mag het toegeneem, sodat dit uiters invloedryk met die ontwikkeling van nuwe wette geword het. Ysland se eerste geskrewe kerkwette dateer terug na 1097 HJ maar is waarskynlik lank daarvoor bekragtig en mondelings behou, soos wat nog altyd met wette die geval was.

Die tydperk van die Sturlungs

IN CA. 1220 HJ HET DIE NOORWEEGSE KONING HAAKON HAAKONSSON 'N VURIGE BELANGSTELLING IN BEHEER OOR YSLAND ONTWIKKEL, EN MET DIE DESTYDSE OPPERHOOF VAN DIE STURLUNGS, SNORRI STURLUSON BEGIN ONDERHANDEL.

Alhoewel die Althing steeds byeengeroep is, is die bedrywighede daarvan deur die biskop van Ysland beïnvloed wat vanuit die Skálholt-bisdom daaroor gepresideer het. Die eerste biskop was Ísleifur Gissurarson (1056-1080 HJ gedien) en ná hom het baie ander gevolg. Die kommunes het ook aangehou funksioneer soos wat voorheen die geval was, maar nou het hulle net Christengebruike en -tradisies gevolg pleks van dié van die Noorse geloof. Maar plaas daarvan dat 'n kommune deur vyf gekose mans gelei is, is hulle nou deur 'n enkele opperhoof gelei en hierdie opperhoofde het met verloop van tyd baie mag en rykdom opgehoop deur ander kommunes by hul eie in te lyf.

Al die mag het uiteindelik in die hande van ses clans of familiestamme beland, met die Sturlungs die magtigste onder hulle. In ca. 1220 HJ het die Noorweegse koning Haakon Haakonsson (ook bekend as “Haakon die Oue” en “Haakon IV” – r. 1217-1263 HJ) 'n vurige belangstelling in beheer oor Ysland ontwikkel, en met die destydse opperhoof van die Sturlungs, Snorri Sturluson (ca. 1179-1241 HJ) – die vername Yslandse miteskrywer en geskiedkundige – onderhandel. Snorri het ingestem om Haakon se leenman te raak en het plegtig onderneem om die ander opperhoofde onder Noorweegse invloed te bring, met Noorweegse soewereiniteit oor Ysland die uiteindelike doelwit.

Snorri het om welke rede ook al nooit enige poging aangewend om sy eed gestand te doen nie, en sy broerskind, Sturla Sighvatsson (1199-1238 HJ) het daarvan werk gemaak. Sturla het Snorri as opperhoof vervang en militêre veldtogte teen die ander familiestamme geloods; Snorri is terug na Noorweë verban. Sturla en sy vader, die digter Sighvatr Sturluson (ca. 1170-1238 HJ) het in 1238 HJ met die Ásbirningar- en Haukdælir-familiestam by die Slag van Örlygsstaðir slaags geraak waar hulle verslaan is en albei gesneuwel het. Gissur Thorvaldsson (1208-1268 HJ) van die Haukdælir-familiestam en Kolbeinn ungi Arnórsson (1208- 1245 HJ) van die Ásbirningar-familiestam was nou die twee magtigste opperhoofde in Ysland, en het die swakker familiestamme en hul kommunes beheer.

Prose Edda
Prosa Edda
Unknown (Public Domain)

Gissur het toe 'n leenman van koning Haakon Haakonsson van Noorweë geraak, en die ander opperhoofde oorgehaal om ook Noorweegse soewereiniteit te aanvaar. In 1241 HJ het Snorri Sturluson uit ballingskap teruggekeer en Gissur, gelas deur Haakon, het met 'n afdeling krygers die skrywer in sy huis gaan doodmaak. In ca. 1242 HJ het Snorri se broerskind Thordur kakali Sighvatsson (r. 1247-1250 HJ) vanaf Noorweë na Ysland teruggekeer om sy oom se dood, sowel as dié van sy vader en broer by Örlygsstaðir, te wreek. Die seeslag tussen Thordur en Kolbeinn ungi Arnórsson by Flóabardagi (Slag van die Golf) in 1244 HJ het onbeslis geëindig en by die Slag van Haugsnes in 1256 HJ het hy die magte van Kolbeinn se broer Brandur verslaan. Brandur het gesneuwel, en die mag van die Ásbirningar is gebreek.

Thordur kakali Sighvatsson het die magtigste opperhoof in Ysland geraak, en was ook 'n leenman van Haakon van Noorweë. Sowel Thordur as Gissur het 'n beroep op die koning gedoen om te kies wie vir hom oor Ysland sou heers; Haakon het Thordur gekies, en Gissur het na Noorweë teruggekeer. In 1250 HJ het Haakon egter van besluit verander en Thordur terug na Noorweë ontbied. Gissur is in 1252 HJ na Ysland teruggestuur om die opperhoofde aan te moedig om die bepalings te aanvaar van die ooreenkoms bekend as die “Ou Verbond” ingevolge waarvan Noorweegse soewereiniteit oor Ysland daargestel word; dit is 1262-1264 HJ finaal geformaliseer. Ysland sou tot 1944 HJ onder Noorweegse beheer bly.

Ten slotte

Die presiese oorsaak van die geweld van die tydperk van die Sturlungs is onbekend maar sommige vakkundiges doen aan die hand dat dit te doen gehad het met die gedwonge bekering van die Yslanders van hulle tradisionele oortuiginge tot 'n nuwe geloof. Ferguson skryf byvoorbeeld:

Hierdie hulpelose spiraalsgewyse afwenteling na barbarisme kon aangevuur gewees het deur die halfhartige versaking van een stel kulturele sedes en waardes, en die onvolmaakte en onoortuigde aanneming van 'n ander, baie andersoortige stel wat, mettertyd, tot 'n toestand van verwarde morele disoriëntasie gelei het, waarvan dit eenvoudig te moeilik was om te herstel. (323)

Hierdie gevolgtrekking is waarskynlik aangesien die Noorse samelewing onder die ou geloof om gelykheid gesentreer was, en alle getuienis dui daarop dat vroeë Ysland – voor 1000 HJ – hierdie standaard gevolg het. Dit is slegs ná die gedwonge aanvaarding van Christendom dat hierdie paradigma verander het en dit wil voorkom of dit deur 'n nuwe model aangemoedig is waar een man (die biskop) die oppergesag in sake rakende geloof en dus die wet geraak het.

Noorse politeïstiese oortuiginge het ruimte gelaat vir enige god wat waardig van aanbidding was – beelde en amulette wat Jesus Christus aangeroep het, is saam met dié van Thor se hamer vervaardig en gedra – en geen godheid is as beter as die ander beskou nie. Christendom se aandrang op 'n enkele God en een manier waarop Hy aanbid kan word, was so geheel en al teenstrydig met die Noorse kulturele etos as wat die geweld en wanbalans van die tydperk van die Sturlungs met Ysland se vroeëre dae was.

Verwyder advertensies

Advertensie

Over de vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Aanhaal hierdie werk

APA Styl

Mark, J. J. (2019, January 17). Die Vikings in Ysland [The Vikings in Iceland]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgespoor uit https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1310/die-vikings-in-ysland/

Chicago Styl

Mark, Joshua J.. "Die Vikings in Ysland." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig January 17, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1310/die-vikings-in-ysland/.

MLA Styl

Mark, Joshua J.. "Die Vikings in Ysland." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 17 Jan 2019. Web. 26 Nov 2021.