Tien legendariese Viking-vrouekrygers

Artikel

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 09 January 2019
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Turkse, Frans

In 2017 HJ het die argeoloog Charlotte Hedenstierna-Jonson, verbonde aan Uppsala Universiteit, die resultate van haar bestudering van ’n Viking-graf wat in die 1800's HJ in Birka, Swede ontdek is en wat sy en haar span besoek het, gepubliseer. Sy het aangevoer dat wat voorheen as die graf van ’n Viking-kryger beskou is eintlik dié van ’n vrou is – bevestig deur DNS-toetse – en dat dit bewys dat Viking-vrouekrygers tydens die Viking-tydperk (ca. 790-1100) bestaan het. Hedenstierna-Jonson se aansprake het egter vinnig begin ontrafel toe dit betwis word deur professor Judith Jesch wat nie net ’n deskundige oor Vikings is nie maar ook oor vroue in die Viking-tydperk. Sy het verskeie probleme uitgewys ten opsigte van die prosedures wat betrokke was en die gevolgtrekkings waartoe die span gekom het.

Hervor's Death
Hervor se dood
Peter Nicolai Arbo (1831-1892) (Public Domain)

Jesch se mening, wat ook dié van die meerderheid vakkundiges is, is dat daar geen Viking-vrouekrygers was nie aangesien dit teenstrydig met die Viking-etos sou wees. Alhoewel vroue gelyke regte met mans gedeel het (hulle kon grond besit, ’n egskeiding inisieer, as kerklui dien en hul eie besigheid bestuur), was hulle invloedsfeer hoofsaaklik huishoudelik. Vroue het na die huis, bejaarde familielede en die kinders omgesien, en dit is onwaarskynlik dat ’n versuim van hierdie verantwoordelikhede verdra sou word sodat hulle mans kon gaan help veg. Noorse literatuur en mitologie beeld egter ’n aantal vroue uit wat presies dit gedoen het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hierdie vroue word in óf die Yslandse sagas van die 12de en 13de eeu HJ – in die werk van Snorri Sturluson (1179-1241 HJ), ’n Yslandse miteskrywer wat vroeëre Noorse werke wat mondelings oorgedra is, neergepen en behou het – óf in die historiese en semihistoriese werke van ander skrywers soos die Deen Saxo Grammaticus (ca. 1160-1220 HJ) beskryf. Al hierdie mededelings dateer natuurlik van ná die Viking-tydperk en veral die sagas word as onbetroubaar beskou aangesien dit dikwels mistieke of towergebeurtenisse verhaal wat nie bevestig kan word nie. Tog reflekteer dit ’n Noorse bewondering vir die sterk vrou wat self sien kom klaar om te kry wat sy wil hê en te gaan waar dit haar behaag.

DIE BEKENDSTE SOORT STERFLIKE KRYGERVROU BEKEND UIT DIE SAGAS IS DIE SKILDVROU, ’N VROU WAT DIE WAPEN OPNEEM EN WAPENRUSTING AANGORD EN HAAR SAAM MET MANS IN DIE STRYD BEGEEF.

Skildvroue, Walkures en heldinne

Die bekendste soort sterflike krygervrou bekend uit die sagas is die skildvrou wat in die hiernamaals se geestesryk deur die Walkures weerspieël word. Na bewering is die skildvrou ’n vrou wat die wapen opgeneem en wapenrusting aangegord en haar saam met mans in die stryd begeef het. Die bekendste weergawe hiervan verskyn in Saxo Grammaticus se Gesta Danorum uit die vroeë 13de eeu HJ waar hy die Slag van Bråvalla (of Brávellir) (ca. 750 HJ, alhoewel die geskiedkundigheid hiervan al betwis is) beskryf, en hy aanvoer dat 300 skildvroue vir die Dene geveg het. Die Walkure was natuurlik die bonatuurlike vrouekrygers wat tydens ’n geveg die dooies uitgesoek, en hulle na Odin se saal in Walhalla gelei het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hierdie konsep van ’n sterk vrouekryger word verpersoonlik in die Sweedse legende Blendasägnen waarin die heldin Blenda van Småland (ca. 500 of ca. 750 HJ) haar land van ’n inval deur die Dene red deur die Deense krygers na ’n feesmaal uit te nooi, hulle dronk te maak en – saam met haar leër vroue – hulle almal in hul slaap van kant te maak. Hierdie storie is die eerste keer in die 17de eeu HJ gedruk alhoewel dit vermoedelik baie ouer is. Daar is geen manier om die geskiedkundigheid daarvan te staaf nie maar wat die beeld van die vrouekryger betref, is dit nie nodig nie. Of Blenda nou die Dene verslaan het al dan nie, is nie so belangrik soos die feit dat die legende bestaan nie, en dat dit gewild genoeg was om herhaal te word. Indien die legende inderdaad so oud is, het die Noorse kultuur vroue kennelik genoeg eerbied getoon om hulle tot dieselfde vlak as die vername helde te verhef.

Hierdie selfde paradigma kan in die Yslandse sagas en die mites van die Nore gesien word, en dit word in tien Noorse vrouefigure vergestalt:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • Skadi – godin van jag en ski
  • Freyja – godin van vrugbaarheid, liefde en toeval
  • Brynhild – die Walkure wat sterflik raak en haarself wreek
  • Lagertha – die triomfantlike skildvrou
  • Hervor – draer van die towerswaard Tyrfing
  • Freydis Eiríksdóttir – ontdekker, en beskermer van haar geselskap
  • Gudrid Thorbjarnardóttir – ontdekker in Noord-Amerika (Vinland)
  • Sigrid die Trotse – op haar eie geheers, haar vryers doodgemaak
  • Unn die Diepsinnige – nedersetting in Ysland gestig, haar eie vloot aangevoer
  • Olga van Kiëf – ryksbestuurder van Kiëfse Rus, wreek haar man se dood

Skadi & Njord
Skadi en Njord
Friedrich Wilhelm Heine (1845-1921) (Public Domain)

Skadi

Skadi is die dogter van die reus Thjazi wat deur die god Thor van Asgard om die lewe gebring is. Aangesien daar geen mans is wat haar vader kan wreek nie, neem Skadi “die helm en al die oorlogwapens op en gaan na Asgard om haar vader te wreek” (Lindow, 268). So verskyn sy ten volle gewapen voor die poort maar word tot bedaring gebring deur die Asgardiërs se aanbod dat sy van onder hulle haar eie man kan kies maar slegs deur na hulle voete te kyk. Sy kies een wat sy dink die aantreklike Baldr is maar dit is toe Njord, god van die see.

Skadi geniet die berge waar sy jag en ski terwyl Njord van sy donker, klam grot langs die water hou. Hulle probeer ’n kompromie aangaan waarvolgens elkeen vir nege dae op ’n slag in die ander se woning bly, maar Skadi kan dit nie uithou nie en verlaat Njord en gaan na haar bergtuiste. Sy is moontlik die moeder van twee van die belangrikste Noorse gode, Freyr en Freyja, maar geen melding word gemaak dat sy ’n rol in hulle grootmaak gespeel het nie. Nadat sy en Njord uitmekaar is, streef sy haar eie belangstellings na, onder meer ’n aantal verhoudings met Odin.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Freyja

Freyja is van die gewildste figure onder die Noorse panteon en is die godin van vrugbaarheid, toeval, liefde, wellus, die hiernamaals en beskerming. In haar strydwa wat deur katte getrek word, ry sy deur die hemele en gee vrylik aan die mensdom van alles wat sy het. As ’n vrugbaarheidsgodin word sy vir goeie oeste deur die Vikings aangeroep, sowel as vir sterk kinders en stabiele huwelike wat na bewering by haar seëning baat.

Freyja Amulet
Freyja-amulet
Gunnar Creutz (Public Domain)

Haar skakel met oorlogvoering en veldslae het te doen met haar ryk in die hiernamaals. Freyja voer gesag oor Fólkvangr (“Menseveld”), en na bewering versamel sy die helfte van die gesneuweldes op die slagveld vir haarself; die ander helfte word deur Odin vir Walhalla bymekaar gemaak. Fólkvangr word selde in Noorse literatuur genoem maar van die bietjie wat wel vermeld word, wil dit voorkom of Freya ook toekyk terwyl krygers mekaar in ’n ewige geveg die stryd aansê, of ten minste is daar ’n deel van Fólkvangr wat vir sodanige kragmetings voorbehou word.

Brynhild

Brynhild (ook na verwys as Brynhildr, Brunhild, Brunhilde of Brunhilda) is ’n Walkure wat, nadat sy die verkeerde held ondersteun in ’n kompetisie waaroor Odin toesig gehou het, sterflik gemaak word en aan die slaap in ’n kasteel, agter ’n muur van vuur gevangeskap opgelê word totdat ’n kampioen haar kan red. Die held Sigurd red haar, gee haar ’n ring en beloof om met haar te trou maar hy moet eers na die hof van die koning Gjuki gaan. Gjuki se vrou, ’n towenares, wil hê Sigurd moet met háár dogter Gudrun trou en gee vir Sigurd ’n drankie wat veroorsaak dat hy Brynhild vergeet.

Verwyder Advertensies

Advertisement

SAAM MET SIGURD ONDERWEG NA DIE HIERNAMAALS, BERISPE ’N VROUEREUS BRYNHILD OOR HAAR GEDRAG MAAR BRYNHILD TOON GEEN BEROU NIE: SY EN SIGURD GAAN NOU HUL LEWE SAAM MET MEKAAR DEURBRING, SOOS WAT HULLE BEDOEL IS OM TE DOEN.

Die towenares bewimpel ook dat Brynhild deur haar seun Gunnar gered word wat dan met haar sal trou, maar Gunnar kan nie die sirkel vuur oorsteek nie. Sigurd verander sy vorm en neem dié van Gunnar aan, red Brynhild en sy, oortuig dat Gunnar haar gered het, trou met hom. Tydens ’n argument met Gudrun vind Brynhild uit dat dit Sigurd is wat haar gered het maar haar toe versaak het, en sy sweer wraak teen almal. Sy vermoor Sigurd se jong seun en laat Sigurd toe in sy slaap vermoor. Toe sy lykstapel aan die brand gesteek word, spring sy daarin en sterf saam met hom. Saam met hom onderweg na die hiernamaals in Hel, kom sy ’n vrouereus teë wat haar oor haar gedrag berispe maar Brynhild toon geen berou nie, en sê sy en Sigurd gaan nou hul lewe saam met mekaar deurbring, soos wat hulle bedoel is om te doen. Volgens die sagas het hulle ten midde van al hierdie drama op een of ander manier ’n dogter gehad: Aslaug, een van die vroue van Ragnar Lothbrok.

Lagertha

Lagertha (ook bekend as Ladgerda) is net bekend uit hoofstuk IX van Saxo Grammaticus se Gesta Danorum (Geskiedenis van die Dene). Die legendariese held Ragnar Lothbrok kom na Noorweë om die dood van sy grootvader Siward en die vernedering van sy vroue en bloedverwante deur die toedoen van Frø, die Sweedse koning, te wreek. Hy word begroet deur ’n aantal vroue wat soos mans aangetrek is en wat vrywillig aanbied om hom te help en, soos Saxo (IX) skryf,

… onder hulle is Ladgerda, ’n vaardige vrouekryger wat, alhoewel sy ’n jongvrou is, die moed van ’n man het en met haar hare los oor haar skouers saam met die dapperstes in die voorste linie veg. Almal verwonder hulle oor haar ongeëwenaarde dade aangesien die haarlokke oor haar rug dit weggee dat sy ’n vrou is.

Ragnar is so deur haar beïndruk (hy ken selfs die oorwinning spesifiek aan haar toe) dat hy besluit om haar sy vrou te maak, maar Lagertha plaas ’n beer en ’n hond buite haar huis om teen hom te waak. Ragnar maak albei diere dood, trou met haar en hulle het twee dogters maar later, toe hy onthou hoe sy die beer en die hond aangehits het om hom aan te val, skei hy van haar en trou met ’n ander vrou, Thora. Niks verder is oor Lagertha bekend nie.

Katheryn Winnick as Lagertha
Katheryn Winnick as Lagertha
Bernard Walsh (Copyright, fair use)

Hervor

Hervor is die heldin in Hervarar saga ok Heiðreks uit die 13de eeu HJ. Dit is ook die naam van haar kleindogter, die dogter van haar seun Heidrek. Hervor se vader, Angantyr, het ’n towerswaard genaamd Tyrfing gehad maar het in ’n tweestryd gesterf, en die swaard is saam met hom begrawe. Hervor reis saam met haar bemanning na die eiland Samsø in die Kattegat-geweste waar Angantyr begrawe is, roep sy gees op en dring aan op die swaard. Haar vader se spook pleit by haar om haar onderneming te laat vaar maar sy sal nie ontsê word nie. Ten einde laas maak hy sy graf oop en gee haar die towerswaard.

Die swaard besorg die eienaar daarvan niks buiten moeilikheid nie en Hervor beleef ’n aantal avonture voordat sy tot rus kom en trou. Haar seun Heidrek erf die swaard, en dit besorg hom net soveel probleme soos vir sy moeder. Ná sy dood word die swaard vir sy dogter Hervor aangegee, en sy sterf op die ou einde in ’n geveg. Die indrukwekkendste deel van die saga is Hervor se trotsering van gebruik en haar versuim om by haar vader se graf toe te gee totdat sy gekry het waarvoor sy gekom het.

Freydis Eiríksdóttir

Na gelang van watter van die twee stories wat ’n mens oor haar lees, is Freydis Eiríksdóttir (ca. 970-1004 HJ) óf ’n vername vrouekryger óf ’n bose, sameswerende moordenares. Sy verskyn in Erik the Red’s Saga (waar sy die heldin is) en The Saga of the Greenlanders (waarin sy ’n booswig is). In Erik the Red’s Saga vergesel Freydis, dogter van Erik die Rooie, ’n geselskap na Vinland (Newfoundland, Noord-Amerika). Hulle word deur ’n groep boorlinge aangeval en die manne van die geselskap slaan op die vlug en los Freydis alleen. In hoofstuk 12 roep sy uit na hulle, “Dapper mans wat julle is, waarom hardloop julle weg vir sulke vrotsige kreature, wanneer dit vir my lyk of julle hulle soos vee kan afslag? Gee my tog net ’n wapen, ek dink ek kan beter as enigeen van julle veg.” Alhoewel sy ongesteld (moontlik swanger) en alleen is, gryp Freydis ’n swaard by ’n gestorwe kameraad en skeur haar bloes oop en hamer met die lem op haar borste en trotseer die vyand wat voor haar op die vlug slaan, en sodoende red sy haar geselskap.

Freydis Eiríksdóttir
Freydis Eiríksdóttir
Luc Van Braekel (CC BY)

In The Saga of the Greenlanders vergesel sy haar man, sy manskappe sowel as twee broers/besigheidsvennote na Vinland. Sy hou nie van die broers nie en voel hulle is te voorbarig; derhalwe versin sy ’n aanklagte teen hulle en vertel haar man dat hulle haar mishandel en geslaan het, en dat sy van hom sal skei indien hy nie die belediging vergeld nie. Haar man en sy manskappe maak die broers en hulle geselskap dood maar weier om die vroue om die lewe te bring, sodat Freydis self al die vroue met ’n byl doodkap. Hierdie tweede storie, wat later as die eerste een geskryf is, is waarskynlik ’n poging om die sterk vrouefiguur van die vroeëre saga te diskrediteer. Anders as die karakters hierbo bespreek wat duidelik van ’n meer mitologiese en legendariese aard is, bestaan daar ’n groter moontlikheid dat Freydis ’n werklike historiese persoon uitbeeld aangesien daar eenstemmigheid is dat hierdie twee sagas wat van Vinland melding maak, regte mense en gebeurtenisse in herinnering roep wat minstens gedeeltelik deur middel van mondelinge oorlewering behoue gebly het.

Gudrid Thorbjarnardóttir

Gudrid Thorbjarnardóttir (geb. ca. 970/980 HJ) is volgens sowel The Saga of the Greenlanders as Erik the Red's Saga een van die vroegste verkenners van Noord-Amerika. Sy is oorspronklik van Ysland maar reis saam met haar vader en Erik die Rooie om nedersettings in Groenland te gaan vestig. Haar man sterf in Groenland en kort daarna trou sy met Thorstein, die jonger broer van Leif Erikson en vergesel haar man en skoonbroer op hulle ekspedisie na Noord-Amerika waar sy Vinland saam met die ander in die geselskap verken.

Thorstein sterf daar en Gudrid keer terug na Groenland waar sy met ene Thorfinn Karlsefni trou; later keer sy saam met hom terug na Vinland om ’n permanente nedersetting te vestig. Hulle seun, Snorri Thorfinnsson, is die eerste Europese kind wat in Noord-Amerika gebore word. Nes Freydis, is die Gudrid van die sagas waarskynlik op ’n werklike geskiedkundige figuur gegrond.

Sigrid die Trotse

Sigrid die Trotse (ca. 927 tot ca. 1014 HJ) – ook bekend as Sigrid die Hooghartige, Sigríð Storråda of Sigrid Tostadottir – is ’n Sweedse koningin wat weier om volgens ander mense se reëls te leef. Sy trou met Erik die Triomfantlike, koning van Swede (r. ca. 970-995 HJ) en ná sy dood verkies sy om alleen te regeer. Sy word deur sowel Harald Grenske van Noorweë as Vissavald van die Kiëfse Rus die hof gemaak maar besef albei stel net in haar belang weens haar grond en rykdom. Sy nooi hulle uit na ’n partytjie waar, nadat hulle en hulle manskappe as gevolg van te veel drank aan die slaap raak, sy die deure van die saal met ’n balk versper en hulle laat doodbrand om enige toekomstige vryers te ontmoedig. Haar geskiedkundigheid word betwis en gevolglik is hierdie sappige storie moontlik niks meer as ’n legende nie.

Die berugte Olaf Tryggvason (r. 995-1000 HJ) wat die bevolking van Noorweë deur middel van marteling na Christendom bekeer het, vra na bewering ook om haar hand maar hy dring daarop aan dat sy eers na Christendom bekeer. Toe sy weier, klap hy haar in die openbaar, en Sigrid sweer wraak. Na bewering trou sy toe met Sweyn Vurkbaard weens sy konneksies en mag en bewimpel sy die Slag van Svolder (ca. 1000 HJ) waarin Olaf sneuwel.

Unn die Diepsinnige

Unn die Diepsinnige (9de eeu HJ – ook bekend as Aud die Diepsinnige en Unn of Aud Ketilsdóttir) – is die dogter van Ketil Platneus van Noorweë wat ná die opgang van Harald Blondehaar (r. 850-933 HJ) in Noorweë na Skotland gevlug het. Toe haar vader en haar seun Thorstein tot sterwe kom, begryp sy dat haar posisie in Skotland onseker is. Sy reis eers na die Orkney-eilande in die noorde, en toe na Ysland wat sy verken voordat sy haar daar vestig. Sy voer bevel oor ’n bemanning waarvan die manne so getrou aan haar is dat nie een van hulle ’n huwelikskontrak wil aangaan wat moontlik Unn se eiendom of mag in gedrang kan plaas nie.

DIT BLYK DUIDELIK DAT NOORSE KULTUUR GENOEG WAARDE AAN VROUE GEHEG HET OM VROUEGODHEDE IN HULLE PANTEON IN TE SLUIT, EN AAN HULLE DIESELFDE KRYGSVAARDIGHEDE TOE TE KEN AS WAT MANS TOEGELAAT IS.

Sy behartig letterlik tot en met haar sterwensdag haar familie en grond in suidelike Ysland. Op die dag wat haar kleinseun Olaf Feilan trou, hou sy toesig oor die voorbereidings en diens, en sonder haar daarna in haar slaapvertrek af, waar sy in haar slaap sterf.

Olga van Kiëf

Olga van Kiëf staan beter bekend as St. Olga (969 HJ gesterf) van Kiëfse Rus. Alhoewel dit beslis aanvaar word dat sy ’n werklike historiese figuur was, bevat die Russian Primary Chronicle (ca. 1113 HJ saamgestel) se verhaal van haar vroeë heerskappy as ryksbestuurder vir haar seun Sviatoslav (r. 945-972 HJ) ’n aantal mitiese/legendariese elemente sodat sy onder die legendariese Viking-vrouekrygers (Varangese) gereken word.

Olga is die vrou van Igor van Kiëf (r. 912-945 HJ) wat die seun van Rurik (r. 862-879 HJ) en die aangenome seun van Oleg die Profeet (r. 879-912 HJ) is. Igor se oordrewe hebsug lei tot sy sluipmoord aan die hand van die Drevliese stam (uit die vroeë oosterse Slawe). Daarna wil die Drevliërs hê dat Olga met hulle prins Mai trou om die geweste te konsolideer maar Olga stel net daarin belang om die dood van haar man te wreek.

Eers versoek sy afgesante van die Drevliërs om na haar te kom en mislei hulle om “as ereblyk” in ’n boot na haar woning gedra te word, en toe laat gooi sy hulle in ’n kuil en begrawe hulle lewend. Sy versoek toe dat die wysstes onder die Drevliërs na haar paleis kom en, nadat sy hulle nooi om voor aandete te bad, laat sy die badhuise aan die brand steek sodat hulle lewend verbrand. Daarna versoek sy die Drevliërs om ’n groot begrafnisfees ter ere van Igor voor te berei, gee almal daar kans om dronk te word, en laat haar soldate almal vermoor.

Haar finale wraaksdaad is om die Drevliërs in die stad Iskorosten, waar Igor om die lewe gebring is, in te jaag, en die stad toe te beleër. Toe sy agterkom dat sy die stad nie kan inneem nie, stel sy ’n maklike voorwaarde: Sy eis van elke huis drie duiwe en drie spreeus. Toe die voëls afgelewer word, gelas sy haar soldate om swael aan die kloue vas te maak en hulle vry te laat en toe die voëls na hulle nes in die stad terugkeer, steek hulle alles aan die brand. Die hele stad brand af en diegene wat oorleef, word gedood of as slawe verkoop maar Olga spaar ’n paar sodat hulle aan haar skatpligtig kan wees.

Olga of Kiev
Olga van Kiëf
Unknown (Public Domain)

Ten slotte

Al hierdie vroue, of hulle nou aktiewe krygers of sterk vroueheersers was, het die Viking-ideaal van onafhanklikheid en persoonlike krag vergestalt, al was hulle – grotendeels – geïdealiseerde vroue. Daar is geen bewys van werklike skildvroue nie. Judith Jesch het opgemerk dat Charlotte Hedenstierna-Jonson se vertolking van die krygergraf in Birka, Swede as dié van ’n vrouekryger simptomaties van die algemene fassinasie van die 21ste eeu HJ met Viking-vrouekrygers is. Sy merk die volgende op (Newitz, 1):

Ek het nog altyd gedink (en in ’n sekere mate is dit steeds die geval) dat die fassinasie met vrouekrygers, in sowel populêre kultuur as in akademiese diskoers, grootliks – waarskynlik te veel – deur hunkerings van die 20ste en 21ste eeu beïnvloed word.

Alhoewel dit inderdaad so kan wees, was daar in die verlede ’n ewe sterk fassinasie soos die werk van Saxo Grammaticus en die Noorse sagas getuig. Dit blyk duidelik te wees dat die Noorse kultuur genoeg waarde aan vroue geheg het om nie net vrouegodhede by hulle panteon in te sluit nie maar ook dieselfde krygsvaardighede en -vermoë aan hulle toe te ken ten einde hul eie lot te bepaal, soos wat mans toegelaat is.

Uiteraard is daar sterk vrouegodhede in die literatuur en mitologie van baie antieke beskawings. Die Grieke het hul Amasones en magtige godinne soos Athene gehad, en die Romeine haar eweknie, Minerva, sowel as ander godhede soos Fortuna, wat ’n persoon se goeie of slegte lot in die lewe bepaal het. Nietemin het werklike vroue in Griekeland en Rome nie dieselfde vlak outonomie as Noorse vroue geniet nie. Onder die oudste antieke beskawings wat vrouegodhede aanbid het, het slegs Egipte vroue se regte as gelyk met dié van mans erken.

Maar selfs ná die koms van die Christendom, wat daarvoor berug is dat dit vroue gelykheid herhaaldelik ontsê het, is vroue nie net waardeer nie maar konseptueel verhef tot ’n status wat hulle self moontlik nie sou bereik het nie. Die vrou wat die bier gebrou het, sou nooit ’n Freya of Lagertha gewees het nie maar die wete dat vroue so ’n hoë aansien kon geniet het, was waarskynlik ’n riem onder die hart.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2019, January 09). Tien legendariese Viking-vrouekrygers [Ten Legendary Female Viking Warriors]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1300/tien-legendariese-viking-vrouekrygers/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Tien legendariese Viking-vrouekrygers." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig January 09, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1300/tien-legendariese-viking-vrouekrygers/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Tien legendariese Viking-vrouekrygers." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 09 Jan 2019. Web. 16 Aug 2022.