Die Franse godsdiensoorloë

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 06 May 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans
The Sack of Lyon by Calvinists (by Unknown Artist, Public Domain)
Die plundering van Lyon deur Calviniste
Unknown Artist (Public Domain)

Die Franse godsdiensoorloë (1562-1598) was ’n reeks van agt konflikte tussen Protestantse en Katolieke faksies in Frankryk wat 36 jaar lank geduur het, en wat ten einde geloop het met die Protestante-koning Henry IV (r. 1589-1610) wat in die belang van vrede na Katolisisme bekeer het. Alhoewel Protestantse magte die finale veldslae gewen het, was dit Katolisisme wat geseëvier het, sodat Frankryk ’n oorheersend Katolieke nasie gebly het.

Die agt tydperke van die Franse godsdiensoorloë is:

  • 1ste Oorlog: 1562-1563
  • 2de Oorlog: 1567-1568
  • 3de Oorlog: 1568-1570
  • 4de Oorlog: 1572-1573
  • 5de Oorlog: 1574-1576
  • 6de Oorlog: 1576-1577
  • 7de Oorlog: 1579-1580
  • 8ste oorlog (Oorlog van die Drie Henrys): 1585-1589
  • Gewapende konflik het tot en met 1598 geduur, toe dit deur die Edik van Nantes beëindig is.

Spanning tussen Protestante en Katolieke het sedert 1534 opgelaai maar die godsdienstige en politieke situasie het vererger nadat Henry II (r. 1547-1559) aan ’n besering gesterf het. Sy seun, Francois II (Francis II, r. 1559-1560), wat op 15-jarige ouderdom as koning gekroon is, was met Mary, koningin van die Skotte (1542-1587) getroud wat die niggie van Francis, hertog van Guise (1519-1563) en sy broer Charles, kardinaal van Lorraine (1524-1574) was. Alhoewel Francis II oud genoeg was om op sy eie te regeer, het sy moeder, Catherine de Medici (1519-1589) die Guise-broers aangemoedig om beheer te neem aangesien Francis II onervare en sieklik was.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Huis Guise, toegewyde Katolieke, het toe die mag agter die troon uitgeoefen, en was die pogings van die Hugenote (Franse Protestante) – wat hulle visie in Frankryk bevorder het – vyandig gesind. In Maart 1560 het ’n groep Protestante vir Francis II probeer ontvoer om hom van die invloed van die Guise-broers te verlos. Die komplot, wat as die Amboise-sameswering bekend staan, het op die lappe gekom en almal wat daarvan verdink is dat hulle daarby betrokke was, sowel as nog ’n 1 000 ander Hugenote, is tereggestel. Ter vergelding daarvan het Hugenote die kerke van Katolieke begin vandaliseer, en oplaaiende spanning het in Maart 1562 tot die Slagting van Vassy gelei waartydens Katolieke nóg Protestante vermoor, en sodoende die eerste oorlog begin het.

PLAKKATE WAT DIE KATOLIEKE MISDIENS TEN STERKSTE AFGEKEUR HET, IS IN DIE OPENBAAR IN BLOIS, ORLÉANS, PARYS, ROUEN EN TOURS OPGESIT.

Tussendeur vyandelikhede, afgewissel deur tydperke van gewapende vrede, het die konflik tot en met 1598 voortgeduur toe koning Henry IV – wat besef het dat Frankryk nooit ’n Protestantse koning sou aanvaar nie – na Katolisisme bekeer het (na bewering, met die bekende uiting, “Parys is darem ’n misdiens werd.”). Sy Edik van Nantes, wat regte aan Protestante toegestaan het terwyl Katolieke soewereiniteit gehandhaaf is, het ’n einde aan die Franse godsdiensoorloë (wat ongeveer 4 miljoen lewens geëis het) gebring maar het nie werk gemaak van die onderliggende spanning wat regdeur die volgende eeu aangehou het om tot uitbarsting te kom nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Affêre met die Plakkate, en vervolging

Die Hervorming wat in 1517 deur Martin Luther (1482-1546) van stapel gestuur is, het teen 1521 in Frankryk posgevat maar is nie so entoesiasties ontvang soos wat die geval in die Germaanse gebiede van die Heilige Romeinse Ryk gewees het waar Luther en sy volgelinge werksaam was nie. Francois 1, ’n toegewyde Katoliek, het in 1515 koning geraak maar het – hoofsaaklik weens sy suster Marguerite de Navarre (1492-1549), wat die saak simpatiek gesind was en haar posisie as koningin van Navarre en haar invloed oor Francois 1 gebruik het om die Protestante te beskerm – hom daarvan weerhou om Protestantse aktiviste te vervolg. Ten einde die vrede te bewaar, het Marguerite ook ingegryp om spanning te ontlont deur as bemiddelaar tussen Protestante en Katolieke op te tree.

Statue of Francis I of France
Standbeeld van Francis I van Frankryk
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Spanning tussen die twee faksies was wel teenwoordig maar onder beheer, tot en met 17-18 Oktober 1534, toe plakkate wat die Katolieke misdiens ten sterkte afgekeur het in Blois, Orléans, Parys, Rouen en Tours in die openbaar opgesit is – met een wat selfs op die deur van Francis I se slaapkamer verskyn het. Alhoewel hierdie gebeurtenis, wat as die Affêre met die Plakkate bekend staan, tradisioneel aan die Protestantse Hervormer Antoine Marcourt toegeskryf word, glo sommige vakkundiges dat dit moontlik deur konserwatiewe Katolieke owerhede georganiseer is wat sat geraak het van Francois I se verdraagsaamheid van wat hulle as kettery beskou het, en wat hom wou dwing om op te tree.

Verwyder Advertensies

Advertisement

VERVOLGING HET DIE PROTESTANTE ONDERGROND GEDRYF WAAR DIT GEVESTIG GERAAK EN VERDER VELD GEWEN HET.

Dit is presies wat Francois nou gedoen het deur die vervolging van Protestante aan die gang te sit, en sy suster se pleidooie vir selfbeheersing te ignoreer. Baie Protestante, onder meer die Hervormer John Calvyn (1509-1564) het Frankryk in hierdie tyd verlaat maar diegene wat gebly het, is verbied om byeen te kom, te preek of om selfs hulle sienings terloops te bespreek. Vervolging onder Francois I het in 1545 uitgeloop op die Slagting van Merindol waartydens duisende van die kettersekte, die Waldensiërs, wat hervorming ondersteun het, afgemaai, en die oorlewendes gearresteer en verslaaf is.

Francois I is in 1547 dood en is deur sy seun Henry II opgevolg wat sy beleide voortgesit het. Daar is geen invloed uitgeoefen wat Henry teruggehou het nie, soos wat die geval van Marguerite de Navarre met Francois I gewees het, maar sy vervolging het die Protestantisme net ondergronds gedryf, waar dit gevestig geraak en verder ondersteuning verwerf het, selfs onder lede van die adelstand, soos Louis de Bourbon, prins van Conde (1530-1569) en Jeanne d’Albret (1528-1572), dogter van Marguerite de Navarre, en ná 1555 die koningin van Navarre.

Henry II is in 1559 dood weens ’n ongeluk tydens ’n ridderspele en sy seun Francois II het op 15-jarige ouderdom koning geraak maar aangesien hy onervare en dikwels siek was, het sy moeder, Catherine de Medici, die Guise-broers gevra om beheer te neem en leiding aan die jonge koning te verskaf. Francis en Charles van die Huis Guise was reeds by die koninklike hof betrokke aangesien hulle suster, Mary Guise (1515-1560) vroeër die huwelik tussen haar dogter, Mary, koningin van die Skotte, met Francois II gereël het. Die Guise-broers het gou die koning van ander aan die hof – onder andere Louis de Bourbon en die Admiraal van Frankryk, Gaspard II de Coligny (1519-1572) – geïsoleer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Portrait of Jeanne d’Albret
Portret van Jeanne d’Albret
School of François Clouet (Public Domain)

Die Amboise-sameswering en die Slagting van Vassy

Hierdie situasie het tot die Amboise-sameswering van 1560 gelei waartydens ’n groep Protestante beplan het om Francois II te ontvoer ten einde hom van die Guises se invloed te verwyder. Die komplot is ontdek en almal wat daarvan verdink is dat hulle daaraan deel gehad het, is gearresteer en tereggestel. Louis de Bourbon was een van hulle en was vir teregstelling bestem toe Francois II oorlede is. Louis se broer, Charles IX (r. 1560-1574) het die troon bestyg en sy moeder het direk beheer oor hom geneem en sodoende Huis Guise uitgesluit, en Louis de Bourbon laat vrylaat. Jeanne d’Albret het in Desember 1560 haarself in die openbaar ten gunste van die Hervorming uitgespreek en na Calvinisme bekeer, en in 1561 het Catherine de Medici haar Katolieke man Antoine de Bourbon (1518-1562) – broer van Louis – as Luitenant-Generaal van Frankryk aangestel.

Jeanne d’Albret het Katolisisme onwettig in Navarre verklaar terwyl haar man nou verantwoordelik was om die pruttende spanning tussen die tradisionele geloof van Frankryk en wat as die ketterbeweging van die Protestante beskou is, onder beheer te hou. Die spanning wat dit in hulle huwelik veroorsaak het, was ’n spieëlbeeld van wat in hierdie tyd oor die algemeen in die land aan die gang was, en wat in Maart 1562 in die Slagting van Vassy uitgeloop het. Francis, hertog van Guise, was onderweg na Parys en naby die dorpie Vassy toe hy klokke gehoor lui het op ’n tyd toe geen Katolieke misdiens gehou sou word nie. Hy het sy manne gestuur om op te breek wat hy as ’n Protestante-diens herken het, en toe hulle weerstand teëkom, het sy manne die mense begin afmaai, totdat minstens 50 Protestantse kerkgangers dood was. Hierdie gebeurtenis word as die begin van die Franse godsdiensoorloë beskou.

Die eerste drie oorloë, 1563-1570

In propagandaveldtogte wat die spanning verder aangevuur het, het albei faksies mekaar vir die slagting geblameer. Louis de Bourbon het in April 1562 vir Orléans in beslag geneem en dit as Protestante-stad verklaar, wat Hugenoteleiers elders aangespoor het om dieselfde te doen. Die eerste oorlog het vir bykans ’n jaar voortgewoed; Antoine de Bourbon is by Rouen gedood, en Francis, hertog van Guise, het in ’n sluipmoordaanval omgekom. Die oorlog is in Maart 1563 deur die Edik van Amboise beëindig wat deur Catherine de Medici bemiddel en deur Jeanne d’Albret ondersteun is; maar die onderliggende oorsake van die konflik is nie te berde gebring nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Van 1563 tot 1567 het albei faksies bewapen en mekaar vyandig gesind gebly, en slegs kragte gesnoer om die Engelse – wat deur die Hugenote genooi is om hulle te kom help – uit die hawe van Le Havre te verdryf. Die tweede oorlog het in 1567 uitgebreek weens Hugenote-vrese van Katolieke vergeldings teen hulle vir die eerste oorlog en alhoewel ’n vrede in Maart 1568 verklaar is, het dit nie baie lank gehou nie en het die derde oorlog daardie somer ’n aanvang geneem. Veldslae en allerlei afgryslikhede het reg deur 1569 voortgeduur, met baie mense aan albei kante wat omgekom het, onder meer Louis de Bourbon, prins van Conde, wat tereggestel is nadat hy in Maart 1569 by die Slag van Jarnac oorgegee het.

In die derde oorlog het Jeanne d’Albret, wat die eerste twee oorloë gehelp finansier het, die Hugenote-magte aktief as geestelike kopstuk, propagandis en finansier aangevoer. Sy het weereens die hulp van Protestantse koningin Elizabeth I van Engeland (r. 1558-1603) vir die saak gewerf en, met die hulp van admiraal De Coligny, het sy die stad La Rochelle in ’n Hugenote-vesting omskep. Nie een van die faksies kon die ander op beslissende wyse oorwin nie en die oorlog het tot en met Augustus 1570 voortgesleep.

St. Bartholomew Day Massacre
Bartolomeüsnag
François Dubois (Public Domain)

Die Vrede van Saint-Germain-en-Laye, wat deur D’Albret en Catherine de Medici bemiddel is, het in 1570 ’n einde aan die vyandelikhede gebring, en as teken van versoening tussen die twee faksies het die vroue ooreengekom dat hulle kinders – D’Albret se Protestantse seun Henry van Navarre (later koning Henry van Frankryk) (1553-1610) en De Medici se Katolieke dogter Margaret van Valois (1553-1615) – moes trou. Die troue is vir Augustus 1572 beplan maar D’Albret is in Junie 1572 aan natuurlike oorsake oorlede, en het nie geleef om dit te sien nie.

Bartolomeüsnag en die vierde oorlog: 1572-1573

In Augustus het die troue tussen Henry en Margaret ’n groot skare – Protestant sowel as Katoliek – na Parys gelok en die spanning het reeds hoog geloop toe admiraal De Coligny op 22 Augustus deur ’n onbekende aanvaller in die straat geskiet is. De Coligny was slegs gewond en is na sy woonkwartier gebring om versorg te word maar Henry I, hertog van Guise (1550-1588), seun van Francis, hertog van Guise, het hom uitgespreek ten gunste van ’n voorbehoedende aanval teen die Protestante, voordat dié weerwraak vir De Coligny kon neem.

Henry I se ondersteuners het op 24 Augustus by De Coligny se woonkwartier ingebreek, hom vermoor en sy liggaam by die venster uitgegooi en sodoende die slagting van Bartolomeüsnag ontketen wat vir die volgende vyf dae gewoed het, en elders maande lank geduur het, en tot die dood van duisende Protestante en die vierde oorlog gelei het. Hierdie oorlog is in 1573 met die Edik van Boulogne beëindig wat vryskelding aan Protestante toegestaan het vir vorige misdade teen die staat, maar hulle vryheid van godsdienstige uitdrukking ernstig ingeperk het.

Vyfde tot die sewende oorlog: 1574-1580

Charles IX se broer Henry, hertog van Anjou (die toekomstige Henry III van Frankryk [1551-1589]), is in 1573 as koning van Pole-Litaue verkies maar toe Charles IX in 1574 te sterwe gekom het, het Henry na Frankryk teruggekeer en is hy as koning gekroon. Teen daardie tyd het sy jonger broer, Francois, hertog van Anjou en Alençon (1555- 1584), hom in die geheim by die Hugenote geskaar en in 1575 het Francois die kragte van Henry I de Bourbon (1552-1588) – seun van Louis de Bourbon – en dié van Henry van Navarre in die suide gesnoer. Frankryk was nou verdeel tussen die Katoliek-beheerde gebiede in die noorde en die Protestante in die suide, met die Katolieke faksie wat deur die Pous in Rome en Phillip II van Spanje ondersteun is, en die Protestante wat hulle steun van Engeland, Germaanse Protestante en sommige Switserse kantons verkry het.

The Siege of La Rochelle, 1573
Die beleg van La Rochelle, 1573
Unknown Artist (Public Domain)

Die vyfde oorlog het ’n jaar geduur en is deur die Edik van Beaulieu beëindig wat godsdienstige regte aan die Protestante terugbesorg het maar die Katolieke vertoorn het, veral Henry I, hertog van Guise, wat gevoel het dat dit te veel toegewings aan “ketters” maak. Henry het die Katolieke Bond – ’n koalisie van invloedryke adellikes wat die ondersteuning van Phillip II van Spanje geniet het – gestig en in 1576 die sesde oorlog van stapel gestuur. Dié oorlog is beëindig deur die Verdrag van Bergerac (1577), ingevolge waarvan die Edik Van Beaulieu omgekeer is, en wat die Protestante weereens vervreem het.

Protestantse gegriefdheid, en albei faksies wat elk ander as ketters aangehou veroordeel het, het in 1579 die sewende oorlog begin. Vyandelikhede is in November 1580 met die Verdrag van Fleix beëindig wat deur Henry III van Frankryk en Francois, hertog van Anjou en Alençon bemiddel is. Kort daarna het Francois vir Frankryk op uitnodiging van die Nederlandse Protestante-leier Wilhelm die Swyger (1533-1584) verlaat om monarg van Nederland te raak en die bewind van Katolieke Spanje daar omver te werp. Francois het in 1582 in Nederland aangekom, is beheer oor beduidende gebiede gegee, maar hy wou meer hê en het derhalwe Antwerpen in 1583 ingeval. Sy troepe is in ’n hinderlaag gelei en afgemaai, en Francois het te skande na Frankryk teruggekeer waar hy in Junie 1584 oorlede is.

Oorlog van die Drie Henrys: 1585-1589

Henry III het geen seun gehad nie, en daarom het Francois volgende in aanmerking vir die troon gekom. Ná sy dood het hierdie eer Henry van Navarre toegekom, wat as Calvinis as onaanvaarbaar beskou is. Met die ondersteuning van Katolieke Spanje het Henry I de Guise en sy Katolieke Bond vir Henry III gedwing om Henry van Navarre se regmatige aanspraak as erfgenaam nietig te verklaar, en om in 1585 die edik uit te reik wat vereis het dat alle Hugenote terug na Katolisisme bekeer, of die land binne ses maande verlaat. Die Katolieke faksie het steeds die meeste gebiede in die noorde beheer, en die Protestante die suide.

Gewapende konflik het in 1585 uitgebreek maar in 1587 (wat soms as die aanvang van die agtste oorlog aangedui word) toegeneem en teen 1588 kon Henry I de Guise daarin slaag om Parys suksesvol teen Henry III te draai weens laasgenoemde se versuim om die Protestante te verslaan en Frankryk as verenigde Katolieke volk te verenig. Henry I, gewild onder die meerderheid Katolieke in Parys, het die gerug laat versprei dat Henry III hom probeer doodmaak het en in Mei 1588 (die Dag van die Barrikades) het Parysenaars in opstand gekom teen Henry III, en die strate van die stad versper om De Guise te beskerm. Henry III het na Blois gevlug en sy ma, Catherine de Medici, het om vrede met De Guise en die Katolieke Bond onderhandel.

Henry IV of France
Henry IV van Frankryk
Frans Pourbus the Younger (Public Domain)

In September 1588 het Henry III ’n ontmoeting by Blois versoek waar hy Henry I de Guise en sy oom, die kardinaal, in ’n sluipmoordaanval om die lewe laat bring het. Die Katolieke Bond is nou oorgeneem deur Charles I, hertog van Mayenne (1554-1611), jonger broer van Henry de Guise wat die koning as simpatiek tot die Protestante verketter het, en ’n beroep op sy teregstelling gedoen het. Henry III, met nêrens elders om hom te keer nie, het kragte met Henry van Navarre gesnoer wat vanuit die suide na Parys begin opruk het. In Julie 1589 het Henry III gesterf in ’n sluipmoordaanval deur ’n Dominikaanse monnik, Jacques Clement, wat die instruksies van die Katolieke Bond gevolg het. In sy sterwensuur het Henry III vir Henry van Navarre as sy opvolger benoem. Die Oorlog van die Drie Henrys was op ’n einde, met slegs een wat staande gebly het; maar gewapende konflik het voortgeduur.

Ten slotte

Henry van Navarre was nou wettig Henry IV van Frankryk maar het geen beheer oor die noordelike en oostelike deel van sy koninkryk uitgeoefen nie. Van 1589 tot 1593 het hy ’n reeks beslissende oorwinnings teen die magte van die Katolieke Bond behaal maar kon nie Parys oormeester nie wat swaar teen hom gefortifiseer was. Henry het besef dat Frankryk nooit ’n Protestantse monarg sou aanvaar nie, en het begryp dat hy die saak beter as koning kon bevorder as deur die slagting voort te sit, sodat hy in 1593 tot Katolisisme bekeer het, en in 1594 as koning gekroon is.

In 1598 het hy die Edik van Nantes uitgereik en daarmee die Franse godsdiensoorloë formeel beëindig deur godsdiensvryheid vir sowel Protestante as Katolieke te magtig, alhoewel Protestante daartoe beperk was om hulle geloof in beperkte streke en alles buite Parys te beoefen. Die Edik van Nantes het die openlike konflik tussen die faksies beëindig maar, nes al die ander verdrae en edikte sedert 1563, kon dit niks doen om mense se harte te verander nie, en die faksies het die vyandelikhede daarna op ’n stiller, persoonliker skaal voortgesit.

Henry IV is in 1610 deur ’n Katolieke fanatikus, wat gevoel het dat Henry die ware geloof verloën het, in ’n sluipmoordaanval om die lewe gebring, en godsdienstige spanning het regdeur die volgende eeu geduur. Die versuim van die twee faksies om ’n wedersydse verstandhouding te bereik, het daartoe bygedra dat Frankryk in 1635 betrokke geraak het by die Dertigjarige Oorlog (1618-1648), een van die vernietigendste konflikte in die Europese geskiedenis.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat is die Franse godsdiensoorloë?

Die Franse godsdiensoorloë (1562-1598) is agt konflikte wat tussen Protestantse en Katolieke faksies in Frankryk geveg is; Katolisisme het daarna die dominante godsdiens geraak.

Wie het die Franse godsdiensoorloë begin?

Die Franse godsdiensoorloë het in 1562 met die Slagting van Vassy begin toe Protestantse gemeentelede deur Katolieke vermoor is.

Wat het die Franse godsdiensoorloë beëindig?

Die Franse godsdiensoorloë is in 1593 beëindig toe Henry IV van Frankryk na Katolisisme bekeer het, en die Edik van Nantes in 1598 uitgereik het.

Hoeveel mense het in die Franse godsdiensoorloë omgekom?

Na beraming het soveel as 4 miljoen mense in die Franse godsdiensoorloë gesterf.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2022, May 06). Die Franse godsdiensoorloë [French Wars of Religion]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20775/die-franse-godsdiensoorloe/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Die Franse godsdiensoorloë." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 06, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20775/die-franse-godsdiensoorloe/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Die Franse godsdiensoorloë." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 06 May 2022. Web. 07 Dec 2022.