Opstand van die Kleinboere

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 23 January 2020

Oorspronklike teks in Engels: Peasants' Revolt

Richard II & the Peasants' Revolt (by Unknown Artist, Public Domain)
Richard II en die Opstand van die Kleinboere
Unknown Artist (Public Domain)

Die Opstand van die Kleinboere in Junie 1381, ook bekend as die Groot Opstand, was ’n merendeels onsuksesvolle volksopstand in Engeland. Die rebellie se leiers het Wat Tyler ingesluit, en hulle het aangedring op massiewe sosiale veranderinge, onder meer die verwydering van die kopbelasting, ’n einde aan die boperk op arbeidslone, herverspreiding van die Kerk se rykdom, en die algehele afskaffing van lyfeienskap.

Die opstand het in die suidooste van Engeland begin, en het van daar na Londen en elders versprei. Alhoewel die rebelle sosiale veranderinge wou hê, wou hulle nie koning Richard II (r. 1377-1399) van die troon verwyder nie. Die opstand het slegs vier weke geduur en is deur Richard onderdruk – eers deur onderhandeling en toe deur meedoënlose vervolging van die voorbokke. Die gevolge van die rebellie was dus beperk maar die kopbelasting is afgeskaf, beperkings op arbeidslone is nie streng afgedwing nie en kleinboere het met die tendens voortgegaan om hulle vryheid van lyfeienskap te koop, en onafhanklike boere te raak.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Oorsake van die opstand

Die Opstand van die Kleinboere was die berugste volksopstand van die Middeleeue en dit is veroorsaak deur ’n broeiende ontevredenheid in Engeland wat so ver as die middel van koning Edward III (1327-1377) se bewind, en die uitbreking van die Swart Dood in 1348 teruggestrek het. Dit was egter Edward se troonopvolger, Richard II, wat die chaos die hoof moes bied toe die wydverspreide ontevredenheid in volskaalse rebellie ontaard het.

Die hoofoorsake van die Opstand van die Kleinboere was die volgende:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • ’n nuwe kopbelasting wat ongeag kleinboere se rykdom op hulle almal toegepas is – die derde sodanige belasting sedert 1377;
  • die perk wat wetlik op lone ingestel is nadat arbeidskoste na aanleiding van die Swart Dood dramaties gestyg het;
  • gewetenlose landhere wat weer lyfeienes (villeins) van vry arbeiders probeer maak het om geld op lone te spaar;
  • ’n algemene gevoel van uitbuiting deur plaaslike owerhede tydens ’n tydperk van ekonomiese agteruitgang.

Die kopbelasting van drie silwermuntstukke (die ekwivalent van ’n paar dae se werk) was op almal ouer as 15 jaar van toepassing – met slegs bedelaars wat daarby uitgesluit was – en anders as ander belastings, is ’n persoon se vermoë om dit te kon betaal, glad nie in ag geneem nie. En om die ellende nog erger te maak, was hierdie derde kopbelasting drie maal hoër as die vorige twee. Vir die kleinboere was belastings niks vreemds nie. Edward III het tydens sy bewind 27 daarvan opgelê, hoofsaaklik om sy uiters duur militêre veldtogte teen die Franse tydens die Honderdjarige Oorlog (1337-1453) te finansier. Richard het insgelyks kontant benodig om die oorlog voort te sit met Frankryk, wie se skepe verwoesting in die Engelse Kanaal gesaai het; maar nou was mense ten einde laas keelvol. Daar was ook ander probleme.

March, Les Très Riches Heures
Maart, Les Très Riches Heures
Limbourg Brothers (Public Domain)

Die Swart Dood wat in 1348 toegeslaan het, het tot ’n tekort aan arbeid gelei; dit het veroorsaak dat arbeidskoste die hoogte in geskiet het, sodat baie lyfeienes nou betaling vir hulle arbeid kon vra. Edward III het wette ingestel wat ’n perk geplaas het op hoeveel ’n arbeider elke dag kon verdien, en daar was streng strawwe vir diegene wat dit nie nagekom het nie. Baie landhere het die probleem probeer omseil deur hulle arbeiders te dwing om weer lyfeienes te raak, en sodoende geld op hul lone te bespaar. Die idee dat ’n mens nie noodwendig gebore is om lewenslank die dienaar van ’n ander te wees nie, was egter moeilik om te smoor, en mense was baie bewus daarvan dat groot grondeienaars, prokureurs en beamptes in ’n stelsel saamgesweer het om die armes op hul plek te hou terwyl hulleself daarby gebaat het. Daar was selfs ’n rympie wat die ronde gedoen het wat die burgers se ontevredenheid dat hulle nie dieselfde as grondeienaars behandel is nie, verwoord het:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Toe Adam geploeg het en Eva moes spin,

wie was tóé die vors en vorstin?

Enersyds is Christenoortuiginge dus gebruik om die idee te ondersteun dat alle mense gelyk was, of minstens verdien het om met respek behandel te word; andersyds is die middeleeuse kerk as instelling ook verantwoordelik gehou vir baie van die euwels van die samelewing. Baie burgers het gevoel dat kerkbeamptes en -instellings – veral die groot abdye – nie baie tegemoetkomend was toe die Swart Dood toegeslaan het nie, en dat hulle net so roofsugtig soos enige ander soort grondbesitter te werk gegaan het om hulle belastings en tiendes in te vorder.

Die Swart Dood het 30-50% van die bevolking uitgewis waar dit uitgebreek het. Dit beteken sommige kleinboere was in staat om hulle eie lappie grond te koop en daarop te boer soos grondpryse drasties gedaal het en daar nie genoeg mense was om dit te bewerk nie. Hierdie kleinboere met grond is vryboere (yeomen) genoem. Boonop het die drastiese afname in die bevolking klein besighede en vakmanne hard geslaan soos wat die kliënte eenvoudig opgedroog het. Hierdie verwikkelinge kan moontlik verduidelik waarom die opstand in die meer welgestelde dele van die koninkryk – Oos-Anglië en Kent – uitgebreek het en waarom die verskynsel nie tot die platteland beperk was nie.

The Plague by Arnold Bocklin
Die Plaag deur Arnold Böcklin
Arnold Böcklin (Public Domain)

Geweld breek uit.

Die opstand het in Mei-Junie 1381 in die suidooste van Engeland begin waar koninklike belastinginspekteurs ondersoek ingestel het na waarom belastingopgawes verbasend laag was. Toe hierdie inspekteurs aandring dat die kopbelasting wat die Parlement in November 1380 goedgekeur het, betaal word, het hulle hul teen hewige teenkanting vasgeloop. Beamptes en sjerifs is ontvoer en vermoor. Bendes rebelle het die platteland te perd deurkruis, landgoedere aan die brand gesteek en hulle rekords vernietig – ’n duidelike aanduiding van die kleinboere se begeerte om die landheerlike stelsel omver te werp. Die openbare rekords by Maidstone, Rochester en Canterbury is alles in ligte laaie gelaat. Die voorbokke blyk meer welgestelde kleinboere te gewees het, en het plaaslike pastore sowel as dorpskonstabels onder hulle geledere ingesluit. Dit was nie ’n opstand van die heel armes nie maar van dié wat ’n kans gestaan het om iets te verloor. Die Kroon het soldate gestuur om die probleemareas uit te sorteer maar hulle was te min en baie is doodgemaak.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DAAR WAS VERAL TWEE LEIERS WAT NA VORE GETREE HET: WAT TYLER VAN MAIDSTONE EN DIE DEMAGOOGPRIESTER JOHN BALL.

Daar was veral twee leiers wat na vore getree het: Wat Tyler van Maidstone, moontlik ’n voormalige soldaat maar enige gewisse besonderhede ontbreek; en die demagoogpriester John Ball, wat groter gelykheid in die samelewing radikaal nagestreef het. Ball het weens sy ekstreme preke reeds ’n paar keer die binnekant van ’n tronk gesien. Die middeleeuse kroniekskrywer Jean Froissart (ca. 1337-1405) het aangeteken dat Ball gefrustreerd opgemerk het

[die here] is geklee in fluweel en kamlet uitgevoer met eekhoring- en hermelynpels, terwyl ons growwe materiaal moet aantrek. Hulle het wyn, speserye en die goeie brood; ons het rogbrood, skille en strooi, en ons drink water. Hulle het skuiling en gemak op hulle netjiese landgoedere, en ons het ontbering en geswoeg, die wind en die reën op die land. En van ons moet kom, van ons arbeid, die dinge wat hulle in weelde laat aanhou leef. (aangehaal in Gies, 198)

Gevolglik het die rusverstorings met leierskap, werklike griewe en ’n ideologiese raamwerk om hulle optrede te regverdig tot ’n volskaalse rebellie geëskaleer, met een doel voor oë: Konfronteer die koning en verander die stand van sake. Dit is egter belangrik om op te merk dat die rebelle nié die koning tot ’n val wou bring nie, en hulle lede het selfs ’n eed van getrouheid aan “koning Richard en die ware burgerstand” afgelê. Op 11 Junie het die rebelle na Londen opgeruk. Onderweg het hulle baie verwoesting gesaai en in Londen het ewe ontevrede stadsmense by hulle aangesluit, wat daarop dui dat die opstand nie bloot een van feodale arbeiders was nie. In Londen was daar lank reeds strawwe wedywering tussen die rykes en die armes, faksies van die kerk, middeleeuse gildes, plaaslike en buitelandse handelaars, en vakleerlinge en hul meesters, en al hierdie onenigheid sou deur die opstand aangevuur word. Volgens sommige kroniekskrywers was daar nou al meer as 60 000 rebelle, terwyl die koning se leër in Skotland was.

Die kleinboere se eise

Toe die menigte op 13 Junie hulle opwagting in Londen maak, het hulle aangehou plunder, buit en moor. Prokureurs, buitelanders en ondergeskikte beamptes van die Kroon was net ’n paar van die groepe wat onder skoot gekom het soos ou wrokke in kwaadwillige dade van wraaklus ontaard het. Gevangenes is vrygelaat terwyl dié wat daarvan verdink is dat hulle aan ’n misdaad skuldig was, deur volkshowe gehang is. ’n Skare het die Savoy Paleis afgebrand en enigiemand vermoor wat hulle wou.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Alhoewel koning Richard net 14 jaar oud was, het hy die veiligheid van die Londense Toring verlaat en dapper belowe om die leiers van die oproerigheid by Mile End, ’n veld aan die buitewyke van Londen, te ontmoet. Daar het Richard hulle eise aangehoor en goedsmoeds belowe om aan alles gehoor te gee, handveste ooreenkomstig uit te reik, en selfs vir Tyler toestemming te gee om geregtigheid te laat geskied teen enige persoon wat hy gereken het verdien om gestraf te word. Tyler het onmiddellik beveel dat die Londense Toring bestorm word, en hy het die gehate kanselier, aartsbiskop Simon van Sudbury, op Toringbult laat onthoof. Nóg ’n dag van plunder, moord en geweld het in die hoofstad gevolg. Intussen het tyding die koning bereik dat onluste so ver noord as York versprei het, en dat daar moeilikheid in die graafskappe Cambridgeshire, Herefordshire, Suffolk en Norfolk was, of voorsien is.

Om ’n einde aan die chaos te bring, het Richard weereens ’n beroep op die rebelleleiers gedoen om met hulle te vergader en hulle griewe nogmaals aan te hoor – hierdie slag op 15 Junie te Smithfield buite Londen. Hy het ook seker gemaak dat daar troepe byderhand was ingeval ’n geveg sou uitbreek.

Die deelnemers aan die Opstand van die Kleinboere het op die volgende veranderinge aangedring:

  • die algehele afskaffing van lyfeienskap;
  • ’n herroeping van arbeidswette wat ná die Swart Dood ingestel is en wat verhogings in lone beperk;
  • die reg vir almal om gratis vis te vang en te jag;
  • groter deelname van die kleinboere in die plaaslike regering;
  • die Kroon moes die enigste owerheid in die graafskappe wees, nie plaaslike here nie;
  • die herverspreiding van die Kerk se rykdom, veral van die groot abdye.

Vir die tydperk was hierdie eise openlik belaglik maar hulle was ten minste deels in die werklikheid gewortel. Lyfeienskap was reeds byna orals mee weggedoen, maar daar was hoekies in die land waar dit steeds beoefen is. Insgelyks is die herverspreiding van die Kerk se rykdom ’n idee waarvoor die teoloog John Wycliffe (ca. 1325-1384) voorspraak gemaak het; hy was een van die leiers van die beweging wie se volgelinge as “Lollarde” bekend geraak het. Dié beweging – waarvan die oorsprong van die naam moontlik in die Latyns vir “gebed” (of die neerhalende Nederlandse woord vir “mompel”) gesetel is – het beklemtoon dat enigiemand op sy of haar eie kon bid – ’n idee wat die monopolie van die Kerk en hulle aangesteldes as brug tussen die mensdom en God bedreig het. Wycliffe wou selfs hê dat mense die Bybel vir hulself moes kon lees; derhalwe het hy die Bybel uit Latyn in Engels vertaal, maar hy is verbied om sy werk in Engeland te laat publiseer.

Richard se troonopvolger, Henry IV (r. 1399-1413) was angstig om die status quo te behou en het die Lollarde vervolg totdat die beweging vir alle praktiese doeleindes verdwyn het. Nietemin was daar onder die beswaardes van die Opstand van die Kleinboere ’n sterk negatiewe ingesteldheid teenoor die geestelike stand aangesien hulle die Kerk nie net as ’n entiteit beskou het wat fondse weggerokkel het nie maar wat ook die Pous – ’n buitelander en ondersteuner van die groot vyand Frankryk – van fondse voorsien het. Laastens het daar ook ’n mate van waarheid gesteek in die idee dat die landhere meer uit hulle landgoedere ingevorder het as waarop hulle geregtig was, en daar was ’n gevoel dat die koning ’n rat voor die oë gedraai word, en swak deur sekere beamptes gedien word, byvoorbeeld die kanselier en hertogte soos John van Gaunt, hertog van Lancaster (1340-1399).

July, Les Tres Riches Heures
Julie, Les Très Riches Heures
Limbourg Brothers (Public Domain)

By Smithfield, nadat die eise gestel is, kon die situasie in iets baie leliks ontaard het toe William Walworth, die Londense burgemeester, vorentoe getree en Wat Tyler om die lewe gebring het, moontlik omdat hy gedink het Tyler was op die punt om die koning leed aan te doen. Tyler het in elk geval oneerbiedig teenoor die koning opgetree deur water op die grond voor die koning se voete te spoeg. Soos die menigte vorentoe gestu het, het Richard hom tussen hulle begewe en vrymoedig gesê,

Menere, sal julle jul koning dood? Ek is julle regmatige kaptein, en ek sal julle leier wees. Laat diegene wat my liefhet, my volg.

(aangehaal in Jones, N., 75)

Richard het toe die veelgebruikte taktiek ingespan om ’n horde oordadige beloftes te maak wat hy geen bedoeling gekoester het om na te kom nie, byvoorbeeld ’n koninklike kwytskelding vir al die betrokkenes. Hierdie beloftes was genoeg om nog onluste af te weer; die menigte het uiteengegaan en is deur die stad se milisie uit Londen uit vergesel.

Gevolge van die opstand

Richard het geheel en al meedoënloos opgetree en het verseker dat ongeveer 150 van die rebelle gehang is, so baie dat nuwe galge vir die doeleinde gebou moes word. Wat Tyler se kop is op die Londense Brug ten toon gestel. Hierna was daar nog geringe rebellie-opvlammings maar dié is genadeloos onderdruk en die voorbokke as verraaiers tereggestel. Soos die koning fors verklaar het: “Horiges is julle, en horiges sal julle bly.” Die hele affêre was moontlik die hoogtepunt van Richard se bewind want daarna het dit met hom afdraand begin gaan, en die koning wat eens bewonder is, het ’n groot teleurstelling geraak en sy dae met ’n kort inkerkering en ’n geheimsinnige dood geslyt.

Op die einde was daar wel sosiale veranderinge in Engeland, soos wat reeds voor die opstand die geval was. Die kopbelasting is afgeskaf, die perke op arbeiders se lone is nie streng toegepas nie en lyfeienes het aangehou om hul vryheid te koop. Beduidend genoeg is die wet en wettige rekords nou nie deur grondeienaars gebruik om ’n verpligting tot arbeid af te dwing nie maar om te bevestig dat arbeiders hulle vryheid regmatig gekoop het, en nou hulle grond aan hulle nakomelinge kon oordra.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2020, January 23). Opstand van die Kleinboere [Peasants' Revolt]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18757/opstand-van-die-kleinboere/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Opstand van die Kleinboere." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig January 23, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-18757/opstand-van-die-kleinboere/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Opstand van die Kleinboere." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 23 Jan 2020. Web. 15 Oct 2021.