Sint Patrick

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 06 September 2015
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Persiese, Portugees, Spaans
Saint Patrick (by Nheyob, CC BY-SA)
Saint Patrick
Nheyob (CC BY-SA)

Sint Patrick (5de eeu HJ) is die beskermheilige van Ierland en een van die suksesvolste Christen-sendelinge in die geskiedenis. Hy was ’n Romeinse burger van Brittanje – bekend as Patricius – wat op die ouderdom van 16 jaar deur seerowers gevange geneem, en as slaaf in Ierland verkoop is. Hy het terug na Brittanje ontsnap, is tot biskop gewy en het in ca. 432/433 HJ as sendeling na die land van sy gevangeskap teruggekeer. Hy word daarmee gekrediteer dat hy geletterdheid in Ierland uitgebrei het deur die monnikeordes wat hy gestig het, die Brehon-wette gehersien en -kodifiseer het, en die land tot Christendom bekeer het. Hy was nie die eerste Christen-sendeling in Ierland nie maar is die bekendste. Sy invloed op die wette en kultuur van Ierland was allemintig omdat hy ’n voorstander van die regte van vroue, die armes en slawe was terwyl hy met konings en adel beraadslaag het. Sy sterfdatum word op 17 Maart herdenk maar die jaar wat hy dood is, sowel as sy geboortejaar, is onbekend.

Vroeë lewe en gevangeskap

Niks is bekend oor Patrick se vroeë lewe nie buiten dit wat hy in sy Confession (Confessio) melding van maak. Hy skryf dat hy in Bannaven van Taberniae gebore is maar dié plek is nog nooit positief geïdentifiseer nie. Vakkundiges het al Dumbarton of Ravenglass in Brittanje, of streke in Bretagne, Skotland en Wallis aan die hand gedoen. Sy vader was ’n magistraat genaamd Calporn en volgens legende was sy moeder Conchessa, verwant aan die bekende Sint Martin van Tours (316-397 HJ). Toe Patrick 16 jaar oud was, is hy deur seerowers gevange geneem en as slaaf in Ierland verkoop. Sommige weergawes, soos dié van die skrywer Probus, noem twee vroue – Darerca en Lupida – wat saam met hom gevange geneem is en waarna as sy susters verwys word, maar Patrick maak geen melding van hulle nie, en Probus self twyfel of hulle bloedverwante was. Indien hulle wel bestaan het, beweer Probus dat hulle “susters” in die geloof was.

Verwyder Advertensies
Advertisement

In Ierland is Patrick aan ’n plaaslike opperhoof genaamd Miliue van Antrim (ook bekend as Miliucc) verkoop wat hom gestuur het om na die troppe skaap in die nabygeleë Braid Vallei om te sien. Hy het Miliue ses jaar lank gedien waartydens hy die skape dikwels byna naak in alle soorte weer versorg het. Skrywer Thomas Cahill (101-102) beskryf die omstandighede:

Die lewe van ’n skaapherderslaaf kon nie ’n gelukkige lewe gewees het nie. Losgeskeur uit die beskawing, het Patricius ’n man as beskermer gehad wat nie sy eie lewe hoog op prys gestel het nie, wat nog dié van enigiemand anders. Die werk van sodanige skaapherders was bitter afgesonder, en hulle het soms maande alleen in die heuwels deurgebring. Die ongereelde kontak met ander wat ’n mens normaalweg sou opsoek, kon sig eie probleme besorg het. Soos vele ander in onmoontlike omstandighede, het hy begin bid. Hy het nooit voorheen aandag aan die leer van sy geloof gegee nie: Hy vertel ons dat hy nie werklik in God geglo het nie en priesters as dwase beskou het. Maar nou was daar niemand na wie hy hom kon keer nie buiten die God van sy ouers.

Patrick se geloof in en vertroue op God het by die dag sterker geword. Hy skryf hoe “die liefde en vrees vir God sy hart meer en meer aangevuur het; my geloof het groter geword, my gees het versterk sodat ek deur die dag ’n honderd gebede opgesê het, en amper soveel deur die nag. Ek het voor dagbreek in die sneeu, in die ryp en die reën opgestaan, en tog is ek geen leed berokken nie, en het luiheid my nie aangetas nie. Want toe was die Gees van God warm binne my.” Hy het op hierdie manier voortgegaan tot die nag wat hy ’n boodskap in ’n droom ontvang het.

Verwyder Advertensies
Advertisement
IN IERLAND HET SINT PATRICK DIE LEWE EN TOEKOMS VERANDER VAN DIÉ MENSE WAARTUSSEN HY VOORHEEN AS SLAAF RONDBEWEEG HET.

’n Stem het met hom gepraat en gesê, “Jou honger word beloon. Jy gaan huis toe. Kyk, jou skip is gereed.” Patrick het onmiddellik seewaarts begin voetslaan en meer as 320 km as voortvlugtige slaaf na die kus – waarskynlik Wexford – afgelê. Hy het vir hom ’n oorvaart op ’n handelsvaartuig onderweg na Brittanje probeer bespreek maar is geweier. Hy vertel hoe hy om hulp gebid het en hoe die kaptein van die skip hom laat ontbied het om aan boord te kom. Drie dae later het hulle op die kus van Brittanje voet aan land gesit.

Patrick se inseëning en terugkeer

Dit is onbekend waar Patrick in Brittanje voet aan land gesit het maar hy beskryf hoe hy saam met die Ierse seevaarders in ’n land van verlatenheid ontskeep het. Dit het hulle twee weke geneem om ’n woestynagtige landskap oor te steek, waartydens Patrick hulle van verhongering gered het. Toe hulle hom daaroor gespot het dat sy geloof nie veel beteken om kos en water te vind nie, het hy hulle aangemoedig om te bid en op God te vertrou; kort daarna het ’n trop varke hulle opwagting gemaak om in hulle behoeftes te voorsien. Hy het verder saam met die seevaarders gereis totdat hulle ’n dorp bereik het van waar hy toe alleen verder gegaan het en uiteindelik sy huis bereik het waar sy ouers hom terug verwelkom het. Cahill (105) skryf, “Maar Patricius was nie meer ’n sorgelose Romeinse tiener nie. Fisiek en sielkundig verhard deur ervarings wat hy nie met ander kon deel nie en met ’n hopelose opvoedkundige agterstand, kon hy nie tot rus kom nie.” Maar hy het by sy ouers se huis gebly totdat nog ’n visioen in ’n droom hom genoop het om weg te gaan.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Hy het gedroom dat ’n man genaamd Victor wat hy in Ierland geken het, met briewe na hom toe kom:

En daar sien ek ’n visioen in die nag, ’n man wat uit die weste kom; sy naam is Victorious, en hy dra baie briewe saam met hom; hy gee my een om te lees en aan die begin daarvan is ’n stem vanuit Ierland. Ek dog toe dis die stem van die inwoners van Focluit Woud, wat aan die wessee grens; dis asof hulle met een stem uitroep en sê, ‘Kom na ons, heilige jongman, en kom wandel tussen ons.’ Hierdeur voel ek diep aangeraak, en kan nie meer lees nie. Toe word ek wakker.

Teen hulle besware, het Patrick sy familie agtergelaat en na Gallië gereis, waar hy ná jare se studie by Auxerre tot biskop gewy is. Hy kon in Gallië gebly het of na sy familie in Brittanje teruggekeer het maar Patrick was daarvan oortuig dat hy ’n sending gehad het onder die mense wat hy agtergelaat het, en daarom het hy sy weg terug na Ierland gebaan. Voordat hy vertrek het, het hy aan iemand by Auxere ’n sonde beken wat hy sedert sy jeug met hom saamgedra het. Die aard van hierdie sonde word nooit genoem nie maar die persoon aan wie hy bely het, het dit later aan die dag gebring en van Patrick vereis om homself te verdedig. Dit het tot sy bekende Confession gelei.

Met sy aankoms in Ierland is hy nouliks welkom geheet. Hy skryf hoe vyandig gesind die mense teenoor hom was toe hy (waarskynlik by Wicklow) voet aan land gesit het, sodat hy vinnig noordwaarts gereis het. Weens sy jare in gevangenskap het Patrick die taal van die Iere geken en – net so belangrik – was hy vertroud met hulle oortuiginge. Dit wil voorkom of hy ’n aanleg gehad het om die Christen-boodskap op so ’n manier oor te dra waarop die mense dit die beste verstaan en ontvang het. Baie is byvoorbeeld al geskryf oor die bekende episode waartydens Patrick die Drie-eenheid deur middel van ’n klawer verduidelik, en onder geskiedkundiges, vakkundiges en teoloë word dit steeds gedebatteer of die gebeurtenis werklik plaasgevind het. Of die episode werklik plaasgevind het, is nie so belangrik nie as wat die storie vertel van hoe Patrick te werk gegaan het om mense te bereik. Die konsep van die drievoudige godheid, ’n bonatuurlike wese verteenwoordig in drie aspekte, was welbekend in Ierland. Alhoewel daar eers in die 11de/12de eeu HJ oor hulle geskryf is, was die antieke godinne Eriu, Fodla en Banba eeue lank deur mondelinge tradisie bekend as die drie susters wat hulle naam aan Ierland gegee het. Trouens, hulle was drie aspekte van die gees van die land. Insgelyks is die godin Brigid as drie susters verteenwoordig waardeur die lewenskrag deur middel van genesing, kreatiwiteit en produktiwiteit beliggaam was. Die storie van Sint Patrick en die klawer weerspieël die manier waarop hy gebruik gemaak het van die geestelike en fisiese wêreld waarmee die Iere vertroud was om die evangelie in bekende terme te verduidelik.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Statue of St. Patrick, Hill of Tara
Standbeeld van St Patrick, Hill of Tara
Joshua J. Mark (CC BY-NC-SA)

Patrick se sending

Sint Patrick was nie die eerste sendeling in Ierland nie, en die land was ook nie ’n heidense woesteny toe hy aangeland het nie. Palladius was sowel die eerste Christen-sendeling in Ierland as die eerste biskop. Met Patrick se aankoms was daar reeds Christene in Ierland, en Christen-gemeenskappe was reeds goed gevestig. Patrick het nie soseer Christendom na die eiland gebring nie as wat hy dit gewild gemaak het en, volgens die legende, het hy sy sending swierig van stapel gestuur op ’n manier wat later een van die bekendste stories oor hom sou word.

Hy het óf in 432 of 433 HJ gearriveer en die koms van Christendom dramaties aangekondig. Die heidense fees Ostara sou gevier word en die Opperkoning van Tara het verorden dat geen vure in die land aangesteek mag word voordat die groot vreugdevuur op die Heuwel van Tara die feestyd ingelui het nie. Patrick en sy volgelinge het die Heuwel van Slane, reg oorkant Tara, geklim en hulle eie vreugdevuur aan die brand gesteek. Toe die koning die vlamme, in weerwil van sy verordening, gewaar, het hy soldate gebied om dit te blus en wie ook al betrokke was, te arresteer. Deur die gedig wat nou as Sint Patrick se Borsplaat (’n lorika – ’n Ierse gebed wat vir beskerming opgesê word – genaamd Faed Fiada of Roep van die Hert) te singpraat, kon Patrick en sy volgelinge daarin slaag om ongedeerd tussen die soldate deur te glip, asof hulle ’n trop herte was.

Hulle het Tara bereik waar Patrick die druïdes in ’n debat verslaan en die reg gewen het om voor die hof van die koning Laoghaire en sy koningin en die opperhoofde te preek. Die soldate wat gestuur is om Patrick te arresteer, het hulle opwagting gemaak en berig dat hulle nie Patrick se vuur kon blus nie. Die storie sluit af met baie van die koning se hof wat tot Christendom bekeer het en die koning – wat geweier het – wat Patrick genoeg gerespekteer het om hom vry te laat om met sy sendingwerk voort te gaan.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Slane Abbey
Slane Abbey
Fergal Jennings (CC BY-NC-SA)

Die teorie wat deur die vakkundige T.F. O'Rahilly aan die hand gedoen word, dat daar twee Sint Patricks was – Palladius die een en Patrick die ander een, met hulle stories wat gekombineer word – is onverdedigbaar aangesien Palladius se sending nooit die tipes stories en legendes soos dié van Patrick verwek het nie. Die argeologiese bewyse steun ook nie die tipe wydverspreide Christen-bekering tydens Palladius se sending soos wat met Patrick die geval was nie. Palladius het as verteenwoordiger van die Christen-kerk gekom om heidene te bekeer; Patrick het as ’n vriend van die mense gekom om hulle aan ’n Vriend bekend te stel wat hom in sy tyd van grootste nood gehelp het. Cahill (124) meld dat Patrick “[die Ierse mense se] heidense waardes van getrouheid, waagmoed en vrygewigheid in die Christen-ekwivalente van geloof, hoop en welwillendheid omgeskakel het. Maar alhoewel hierdie sonderlinge vertoon van deug vriende sou gemaak het, sou dit nie noodwendig mense tot bekering gebring het nie – of minstens nie onder sulke hardnekkige mense soos die Iere nie.” Sint Patrick het in sy sending geslaag deur die mense aan te raak met ’n diepliggende respek en liefde jeens hulle sowel as ’n kultuur wat hy omhels het. Cahill (115) skryf:

Met dié dat hy ’n Ier geword het, het Patrick sý wêreld met hulle s’n verenig, sy geloof met hulle lewe … Patrick het ’n manier gevind om tot in die dieptes van die Ierse psige te waad en die Ierse verbeelding te vermurwe en te transformeer, en dit sodoende mensliker en edeler te maak terwyl dit steeds eg Iers gehou is. Niks langer sou net doopwater die daadwerklike teken van ’n nuwe lewe in God wees nie. Nuwe lewe was oral in welige oorvloed, en God se hele skepping was goed.

Bell of St. Patrick, Ireland
Klok van St Patrick, Ierland
Osama Shukir Muhammed Amin (Copyright)

Later lewe en nalatenskap

Patrick het Christen-gemeenskappe regdeur Ierland gestig, waarvan die kerk in Armagh die vernaamste is. Armagh het die kerkhoofstad in Ierland geword en dit is waar Patrick sy Confession geskryf, die Brehon-wette gekodifiseer en uiteindelik afgetree het. Die Keltiese Kerk wat hy gestig het, soos dié van die sendeling Columba in Skotland ná hom, het op ’n paar maniere van die kerk in Rome verskil, waarvan die insluiting van vroue in die kerkhiërargie, die datering van Paasfees, kruinskering van monnike en die liturgie die belangrikste verskille was. Vakkundiges is verdeeld oor hoe noemenswaardig hierdie verskille werklik was en die meeste van hulle verwerp die aanspraak dat die Keltiese Kerk se visie baie van dié van die Rooms-Katolieke verskil het.

Hoe dit ook sy, tydens sy verblyf in Ierland het Sint Patrick die lewe en toekoms verander van dié mense waartussen hy voorheen as slaaf rondbeweeg het. Watter suksesse die vroeër sendelinge soos Palladius, Ailbe, Declan, Ibar en Ciaran ook al behaal het, het niemand kwessies soos geletterdheid, geestelikheid en die waardigheid van die individu bevorder soos wat Patrick dit gedoen het nie. Geskiedkundige Murray Pittock (76) siteer die 19de/20ste-eeuse HJ vakkundige Eoin MacNeill se siening dat die Iere “afstammelinge van ’n heidense, krygerbeskawing is wat, toe hulle na Christendom bekeer het, Ierland in ’n unieke eiland van heiligheid en leer omskep het” wat die Kelt en die Keltiese gemeenskap geherdefinieer het. Die kloosters wat hy gestig of aangemoedig het, het sentrums vir geletterdheid en leer geword, wyduitgestrekte universiteite verbind tot kennis wat met verloop van tyd die doel sou dien om ná die val van Rome die geskrewe rekord van die Westerse beskawing te versamel en te behou. Die Romeinse Ryk het Ierland nooit binnegeval nie en daarom is die land nie veel deur die val van die Ryk beïnvloed nie. In die Christen-kloosters van Ierland is die vername geskrewe werke van die verlede vir toekomstige generasies oorgeskryf en behou. Deur sy visie en sy sending het Patrick nie net Ierland nie maar ook die wêreld verander.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2015, September 06). Sint Patrick [Saint Patrick]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-13953/sint-patrick/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Sint Patrick." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig September 06, 2015. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-13953/sint-patrick/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Sint Patrick." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 06 Sep 2015. Web. 25 Apr 2024.