Samhain

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$900 / $3000

Definisie

Hillary Smith
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 28 September 2020

Oorspronklike teks in Engels: Samhain

Turnip Lantern (by Culture Vannin, Public Domain)
raap lantaarn
Culture Vannin (Public Domain)

Samhain (uitgespreek as “SOU-ien” of “SAH-whin”) is 'n fees wat halfpad tussen die herfsnagewening en die wintersonstilstand deur die antieke Kelte gevier is. Dit het om en by 31 Oktober teen skemer begin en het waarskynlik drie dae geduur. Samhain het die oorgang tussen die jaar se ligter en donker helfte aangedui en is deur al die antieke Keltiese gemeenskappe van Europa gevier, onder meer Ierland, Wallis en Skotland. Met die oortuiging van die antieke Kelte dat Samhain 'n liminale of drempeltydperk is wanneer die sluier tussen die menslike en geestesryk gelig word, beskou baie mense dit as die voorloper van die huidige vieringe op Allerheiligeaand (Halloween). Samhain is ook die moderne Ierse woord vir die maand November. In Ierland was Ward se Heuwel in Meath Graafskap die sakrale ligging van die Samhain-vuurfees, en die afgelope paar jaar trek mense op Allerheiligeaand daar saam om aan 'n eietydse Samhain-herlewing deel te neem.

Die heidense fees

Die antieke Kelte het die jaar in twee helftes verdeel, die ligter en die donker helfte, en het vier feeste gehou om die verandering van die seisoene aan te dui:

Verwyder Advertensies

Advertisement

  • Imbolc – halfpad tussen die wintersonstilstand en die lentenagewening
  • Beltane – halfpad tussen die lentenagewening en die somersonstilstand
  • Lughnasadh – halfpad tussen die somersonstilstand en die herfsnagewening
  • Samhain – halfpad tussen die herfsnagewening en die wintersonstilstand

Van hierdie vier sakrale tye was Samhain moontlik die betekenisvolste aangesien dit vermoedelik die Keltiese Nuwejaar verteenwoordig het. Vir die antieke Kelte het tyd in die donker begin, met elke 24-uurdag wat om skemer aanvang neem. Met die inlui van die donker helfte van die jaar, het Samhain die einde van een jaar en die begin van die volgende verteenwoordig.

SAMHAIN IS BESKOU AS 'N GUNSTIGE TYD VIR DIE DRUÏDES OM WAARSÊERY TE BEOEFEN AANGESIEN DIE VERBINTENIS MET DIE GEESTESWÊRELD STERKER AS GEWOONLIK WAS.

Met die oorsprong daarvan in die landelike kalender, het Samhain-vieringe 2 500 jaar gelede waarskynlik die aankoms van die Kelte in Ierland voorafgegaan. Dit was 'n tyd om voorbereiding vir die winter te tref: Gewasse is geoes en diere is in die weiveld aangekeer om óf geoffer te word óf vir die winter beskut en vir teelt gebruik te word. Feeste, oorvloedig met sowel kos as alkohol, is gehou om die oes te vier. Samhain was ook 'n sakrale tyd om bymekaar te kom en om belangrike sake af te handel, soos die inhuldiging van nuwe konings. Skulde is vereffen en meer gewigtige misdade is verhoor, met geregtigheid wat ooreenkomstig geskied.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Geoffrey Keating, Ierse historikus van die 17de eeu HJ skryf in sy seminale werk The history of Ireland dat alle vure aan die begin van die Samhain Fees geblus moes word. Die druïdes, die antieke Keltiese priesters, steek dan 'n nuwe vreugdevuur aan waarin die bene van die diere-offerandes gegooi word. (Dit is die oorsprong van die moderne woord bonfire, oftewel “bone-fire”.) By hierdie vuur steek die ander mense dan hul fakkels aan die brand, en dra die vlamme tuis om hulle eie hert aan te steek. Miskien is dit gepas dat die fees van Samhein vanuit ons moderne oogpunt deur groot geheimsinnigheid omhul word. Ons kan nie vir seker weet wat presies gebeur het nie maar geskiedskrywers glo dat die feestelikhede diereofferandes, gedans en die dra van kostuums wat van dierepelse en moontlik dierekoppe gemaak is, behels het.

Samhain is beskou as 'n gunstige tyd vir die druïdes om waarsêery te beoefen aangesien die verbintenis met die geesteswêreld sterker as gewoonlik was. Die lig van die sluier tussen die bonatuurlike en die fisiese wêreld het beteken dat Samhain ook as 'n gevaarlike tyd vir die antieke Kelte beskou is. Die Keltiese bonatuurlike wêreld word dikwels beskryf dat dit in oorleg met, eerder as geheel en al afsonderlik van, die mensewêreld bestaan het. Tydens Samhain het hierdie wêrelde ineengeloop, en deurgang daartussen was makliker. Geeste, sowel welwillend as kwaadwillig kon kragtiger uitwerkings op die mensewêreld teweeg bring.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Wheel of the Year
Wiel van die Jaar
Midnightblueowl (CC BY-SA)

Die konsep van liminaliteit, of “die wêreld tussenin”, was 'n integrale komponent van antieke Keltiese spiritualiteit en baie belangrike gebeurtenisse in Keltiese mitologie het in drempelruimtes plaasgevind, byvoorbeeld op die kuslyn of tydens drempeltye soos skemer of dagbreek. Samhain het nie bloot die verandering van somer na winter aangedui nie maar het 'n oorgangstydperk tússen die twee seisoene verteenwoordig. Samhain was dus sonder tyd, en het aan nóg somer nóg winter behoort. Die mensewêreld is nie meer deur die reëls van die fisiese wêreld gebind nie, en dit is moontlik weens hierdie rede dat Samhain ook as 'n tyd van vrede beskou is. Met die geesteswêreld so naby, was dit nie die tyd vir nietige mensetwiste nie.

Samhain in Keltiese mitologie

Dit is dalk geen verrassing nie dat baie belangrike bonatuurlike gebeure wat in Keltiese mitologie beskryf word, tydens Samhain plaasgevind het. Die Tweede Slag van Moytura (Cath Maige Tuired), 'n beslissende oomblik in Ierse mitologie, en een van die belangrikste oorblywende middeleeuse tekste oor die onderwerp, is tussen die geestelike wesens bekend as die Túatha Dé Danann en die Fomoire geveg en het na bewering tydens Samhain plaasgevind.

SÍDH-PORTALE HET EEN MAAL PER JAAR VIR DIE MÊNSEWÊRELD OOPGEGAAN, EN 'N MENS KON DIE VURE IN DIE BINNEKANT SIEN BRAND, SOWEL AS DIE SÍDH-MENSE WAT KOM EN GAAN.

Dit was ook alombekend dat die aos sí (uitgespreek as “IES SHIE”) in hierdie tyd vrylik van hulle bonatuurlike woonplek na die mensewêreld beweeg het. Die aos sí was towerwesens en is soms beskryf as feë, soms as Túatha Dé Danann wat ondergronds gedryf is, en soms as die pre-Keltiese inwoners van Ierland. Die aos sí, of “mense van die hol heuwels”, het in sídh-heuwels gewoon. Hierdie sídh (uitgespreek as “SHIE”) was antieke grafhope wat glo portale na die bonatuurlike wêreld was. Hierdie portale het een maal per jaar, tydens Samhain, vir die mensewêreld oopgegaan, en 'n mens kon die vure in die binnekant sien brand, sowel as die sídh-mense wat kom en gaan.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Dit is die geval in die verhaal van die voëlvryverklaarde Fionn mac Cumhaill, 'n gewilde legendariese figuur in middeleeuse Ierland. Terwyl Fionn poësie saam met Cethern, seun van Fintan bestudeer het, merk hy op hoe Cethern een maal 'n jaar tydens Samhain na een besonderse sídh-heuwel reis waar die fee Éle woon. Gerugte het die rondte gedoen dat sy die mooiste van al die feë op die hele eiland Ierland is. Sy was ook glad nie beïndruk deur die oorvloed mans wat by haar vlerksleep nie, en elke Samhain verloor baie hul lewe in hul dwase pogings om haar die hof te maak. Hierdie sterftes hinder Fionn en die volgende Samhain hou hy skuil in die vallei naby Éle se sídh-heuwel, en wag. In die duister sien hy die gloed van die sídh-heuwels soos die vuurlig by hul deure uitstraal. Volgens die legende slaag Fionn daarin om op hierdie noodlottige nag die dood van sy vriende te wreek en om die respek van die feë te wen.

Irish Hero Fionn mac Cumhaill Fights Aillen
Ierse held Fionn Mac Cumhaill Veg Aillen
Internet Archive Book Images (Public Domain)

Tydens Samhain kan mense na die sídh-mense reis, maar die sídh-wesens kan ook die fisiese wêreld betree. Na bewering het Aillen – 'n sídh-kryger – Tara, die geestelike middelpunt van Ierland en die setel van die Opperkonings nege jaar lank met elke Samhain vernietig. Hy word doodgemaak deur niemand anders nie as Fionn mac Cumhaill wat hom met 'n towerspies deurboor enkele oomblikke voordat Aillen deur die sídh-heuwel terug na die veiligheid van die bonatuurlike wêreld kan ontsnap.

Nog 'n legende vertel van 'n meisie genaamd Caer Ibormeith, wie se pa een van die Túatha Dé Danann is. Elke tweede Samhain verander Caer in 'n swaan. Die man wat haar die hof maak, Oenghus mac Oc, wil haar toegeneentheid verkry maar hy weet hy kan dit net tydens Samhain doen, en daarom wag hy vir die tyd van die jaar wanneer die reëls van die fisiese wêreld gebreek kan word en hy homself ook in 'n swaan kan verander. Alhoewel die geskrewe getuienis van baie van die Ierse mitologie net tot by die Middeleeue terugdateer en aangeteken is deur Christen-monnike wat moontlik met die betekenis gepeuter het, is die wortels van baie van hierdie legendes vermoedelik gesetel in pre-Keltiese Ierse spiritualiteit.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Ward se Heuwel en die Samhain Vuurfees

In Ierland het die antieke Kelte die Samhain Vuurfees by Ward se Heuwel – ook bekend as Tlachtga – gevier. Tlachtga was 'n magtige druïdin wat daar gesterf het nadat sy geboorte aan 'n drieling geskenk het. Geleë in die Boyne Vallei in Meath Graafskap, Ierland is Ward se Heuwel ongeveer 19 km (12 myl) van die Heuwel van Tara.

Ward se Heuwel het redelik min aandag gekry, vergeleke met sy meer bekende bure soos Newgrange. Byna 'n eeu gelede is 'n paar argeologiese studies van die terrein in die 1930's HJ gedoen maar dit is eers in 2014 HJ weer besoek toe uitgrawings onder leiding van dr. Stephen Davis van die Universiteitskollege Dublin 'n aanvang neem. Die span het ontdek dat Ward se Heuwel waarskynlik in drie afsonderlike fases gebou is, met die jongste wat uit die laat Bronstydperk, ongeveer 1200 VHJ, dateer, en die mees onlangse fase wat uit die vroeë middeleeuse tydperk, ongeveer 400 HJ, dateer. Argeoloë het bewyse van grootskaalse verbranding, sowel as fragmente van gebrande dierebene, op die terrein gevind. Sommige van die antieke terreine wat aan Ward se Heuwel grens, is veel ouer en bied leidrade tot heidense praktyke in Ierland wat die aankoms van die Kelte ongeveer 2 500 jaar gelede voorafgaan. Newgrange en die Heuwel van die Gyselaars dateer byvoorbeeld ongeveer 5 000 jaar terug. Nes die gang by Newgrange in lyn gestel is met die sonsopkoms van die wintersonstilstand wanneer die binnekamer en gang verlig word, net so is die Heuwel van die Gyselaars in lyn gestel met die sonsopkoms rondom Samhain. Dit doen aan die hand dat hierdie besonderse tyd van die jaar vir minstens 5 000 jaar lank 'n belangrike rol in antieke Ierse spiritualiteit gespeel het.

Mound of the Hostages, Hill of Tara
Heuwel van de Gijselaars, Heuwel van Tara
Joshua J. Mark (CC BY-NC-SA)

Van Samhain tot Allerheiligeaand

Toe Christendom Ierland in die 5de eeu HJ bereik het, het die Katolieke Kerk dit makliker gevind om die Kelte te bekeer deur sekere heidense feestelikhede by die Katolieke kalender te inkorporeer. In 'n poging om Samhain onder 'n kontekstueel soortgelyke Christen- heilige dag te ressorteer, is Allerheiligeaand geskep en aanvanklik op 13 Mei gehou. Allerheiligeaand is uiteindelik na 1 November geskuif – waarskynlik deels weens die Kelte se teësinnigheid om Samhain prys te gee. 2 November het toe Allersieledag geraak. Sommige mense sien dit as 'n poging om elemente van Samhain te inkorporeer wat Allerheiligeaand nie slaag om vas te vang nie. Teen die 14de eeu HJ het Allerheiligeaand 'n wydverspreide Katolieke heilige dag geraak en teen die 15de eeu HJ begin ons geskrifte sien wat feesvieringe beskryf wat meer ooreenstem met Allerheiligeaand soos ons dit vandag vier.

Tydens die 19de eeu HJ het baie Iere hulle weens die hongersnood in Amerika hervestig en hulle oortuigings en tradisies wat met Allerheiligeaand geassosieer word, met hulle saamgeneem. Een voorbeeld hiervan is die uitkerf van pampoenlanterns oftewel jack-o'-lanterns (alhoewel die Iere histories rape sou gebruik het!).

Ongeag hoeveel die hedendaagse Allerheiligeaand van die heidense vuurfees van Samhain blyk te verskil, wil dit voorkom of die gevoel van transformasie en die hunkering om die bonatuurlike deur middel van kostuums of op ander maniere op te roep, elke jaar met die flouer lig en koeler lug in die Noordelike Halfrond terugkeer. Hierdie sentimente oortref tyd en verbind moderne feesvieringe met Samhain, daardie drempeltydperk van transformasie wat duisende jare gelede sakraal was vir die heidene van die Keltiese wêreld, en moontlik ook vir diegene wat behoort het aan 'n selfs meer antieke wêreld daarvoor.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Hillary Smith
Hillary Smith holds master's degrees in Art History (University College Dublin) and Public Policy (UCLA). Interested in the nexus of art and policy, she is a believer in the soft power potential of cultural heritage to transform and connect our world.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Smith, H. (2020, September 28). Samhain [Samhain]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-19183/samhain/

Chicago-styl

Smith, Hillary. "Samhain." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig September 28, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-19183/samhain/.

MLA-styl

Smith, Hillary. "Samhain." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 28 Sep 2020. Web. 27 Nov 2021.