Die Dreyfus-skandaal, en die skeiding tussen kerke en die staat

Artikel

Stephen M Davis
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 16 June 2022
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans

Die Dreyfus-skandaal, of L’Affaire soos dit later bekend sou staan, het die mededingende magte gedemonstreer wat bedrywig was om óf die monargie en die Kerk weer in bewind te stel, óf om die onvervulde ideale van die 1789 Franse Revolusie te konsolideer en te bevorder. Hierdie gebeurtenis word beskou as die prikkel vir die beweging wat aanleiding gegee het tot die wet wat in 1905 kerke en die staat van mekaar geskei het.

Alfred Dreyfus Stripped of Rank
Alfred Dreyfus word van sy rang gestroop.
National Library of France (Public Domain)

Die skandaal het Frankryk in murg en been geskok, en het gelei tot wydverspreide herbetragting van die land se republikeinse waardes. Dit is dalk moeilik om die impak van L’Affaire meer as ’n eeu nadat dit afgespeel het, behoorlik te begryp, en tog verwys moderne geskiedkundiges steeds daarna as ’n vername bydrae om te illustreer hoe noodsaaklik die stigting van ’n sekulêre republiek is waarbinne vryheid, gelykheid en broederskap vir alle burgers – ongeag met of sonder geloofsoortuiging – in swang sal wees, waar sowel geloof as ongeloof beskerm sal word. L’Affaire “het op grond van antiklerikalisme ’n koalisie van alle voorvegters van die Republiek moontlik gemaak. Selfs nadat Dreyfus van alle blaam onthef is, het die skandaal die volk aangehou verdeel” (McManners, 1972:119).

Verwyder Advertensies
Advertisement

Klerikalisme en antiklerikalisme

KAPTEIN DREYFUS HET ONWETEND ’N PION GERAAK OM ALBEI KANTE IN DIE WEDYWERING OM DIE FRANSE REGERINGSVORM AAN TE WAKKER.

Die Dreyfus-skandaal word gekoppel aan die intensiewe stryd wat tussen Katolieke en republikeinse magte gewoed het nadat die Franse in 1870 ’n verpletterende nederlaag teen die Pruise gely het. Die militêre verlies, wat die anneksasie van Alsace-Moselle ingesluit het, het die nasionale trots ’n gevoelige slag toegedien, en het tot die lae moraal van die Franse militêre magte bygedra. Enersyds het die antiklerikale politieke linksgesindes die nederlaag aan die voortgesette invloed van die Kerk in hoëronderriginstellings toegeskryf, en andersyds het diegene wat die Kerk en die monargie ondersteun het, die nederlaag as ’n oordeel beskou oor ’n volk wat hulle rug op God en godgewilde koningskap gekeer het. Hierdie twee teenoorstaande magte het om oorheersing geworstel, en kaptein Dreyfus (1859-1935) het onwetend ’n pion geraak om albei kante in die wedywering om die Franse regeringsvorm aan te wakker. Dreyfus se arrestasie, verhoor, ballingskap, verontskuldiging en heraanstelling het die gaping tussen die politieke links- en regsgesindes vergroot.

Kaptein Dreyfus was ’n Jood van Alsace-Lorraine, ’n langbetwiste streek wat ná 1870 weer onder Pruisiese bewind beland het. Hy het ’n gerieflike sondebok geraak waarop die skuld vir Frankryk se roemlose nederlaag gepak kon word, en het die skeiding tussen ondersteuners van die Kerk en dié van ’n laïque (sekulêre) republiek blootgelê. Die insident het begin toe ’n geheime memorandum (bordereau) wat aan die Duitse militêre attaché in die Duitse ambassade in Parys gerig was, deur ’n skoonmaakster in ’n rommelmandjie ontdek is. Die bordereau was in Frans geskryf en het inligting oor verskillende aspekte van die Franse leër bevat: die opstelling van Franse troepe en artillerie, sowel as ’n bespreking van hoe om inligting oor ’n veldartillerie-gebruikshandleiding te bekom. Kaptein Dreyfus was ten tye van die ontdekking by ’n artillerie-eenheid ingedeel, en – deels omdat hy Joods was – is hy daarvan verdink dat hy die bordereau geskryf het. Hy is gearresteer en van verraad aangekla. Die saak het aanvanklik min belangstelling geprikkel maar is deur elemente van die anti-Semitiese pers aangevuur, onder meer die Katolieke publikasie La Croix, wat ’n beroep gedoen het dat Jode in Frankryk uit die land uitgeskop word (Begley, 2009:75).

Verwyder Advertensies
Advertisement

Zola en J’Accuse

Besonderhede oor die Dreyfus-skandaal het nie net die Franse publiek meegesleur nie maar het ook internasionaal weerklink. Die Franse romansier en dramaturg Émile Zola (1840-1902) het in 1898 sy bekende J’Accuse (Ek beskuldig) – ’n elegante dog striemende ope brief gerig aan die Franse president, Félix Faure – geskryf. Die brief is in die koerant L’Aurore ter verdediging van Dreyfus gepubliseer. Zola het die militêre hiërargie se valse beskuldiging van Dreyfus veroordeel, en die affêre as ’n struweling tussen vryheid en despotisme, die lig en die donker, uitgebeeld (Gildea, 105). Hy het die president eerbiedig en met dankbaarheid aangespreek om hom in te lig oor ’n aangeleentheid wat Zola gereken het die president se naam sou skend, naamlik “hierdie verfoeilike Dreyfus-skandaal” (cette abominable affaire Dreyfus).

Zola het die president oor die proses en veroordeling van Dreyfus ingelig. Hy het na die nietigheid van die aantyging (le néant de l’accusation) verwys, en die sameswering met al die elemente van ’n raaiselroman beskryf om die verbeelding van die publiek aan te gryp: medepligtigheid op die hoogste militêre vlakke, samesweerders wat skuil in die skadu’s, vervalste dokumente, anonieme briewe, geheimsinnige vroue, versinde bewyse, en tersluikse ontmoetings. Hy het die Franse teen diktatorskap gewaarsku. Hy het vertel dat kaptein Dreyfus met die medepligtigheid van die Kerk en militêre owerhede vir verraad veroordeel en voor ’n krygsraad gedaag is, in die openbaar in die verleentheid gestel en in die binnehof van die École Militaire van sy rang gestroop, en na Duiwelseiland verban is. Hy het onthul dat dit slegs was toe kolonel Sandherr gesterf het en deur kolonel Picquart (1854-1914) as intelligensiehoof vervang is, dat die waarheid uitgekom het dat kommandeur Esterhazy die werklike verraaier gewees het. Selfs tóé het die militêre owerhede, uit vrees dat die veroordeling van Esterhazy na ’n hersiening van Dreyfus se regsproses sou lei, verseg om die ondersoek te heropen. Picquart is op buitelandse sendings na Tunisië en ander plekke gestuur om sy indringende stem en pleidooi om Dreyfus van blaam te suiwer, tot stilswye te stem. Die generale staf kon nie hulle misdaad bely nie aangesien dit die militêre owerheid se reputasie sou skend – ’n militêre owerheid wat steeds onder die nederlaag van die Frans-Pruisiese Oorlog gesteier het. Openbare hoon en die verloor van aansien moes ten alle koste vermy word.

Verwyder Advertensies
Advertisement

J'Accuse
J'Accuse
Émile Zola (Public Domain)

Die veroordeling, vernedering en verbanning van Dreyfus het sy verdediging deur die republikeine van stapel gestuur. Toe Zola name begin noem, het hy weggetrek met luitenant-kolonel Du Paty de Clam, die geregtelike beampte van die skandaal, wat as skadelik – die toerekenvatbaarste in die affêre – geïdentifiseer is, en wat Dreyfus se vrou tot stilswye gedreig het. Zola het ander militêre offisiere soos Sandherr, Mercier, Boisdeffre en Gonse berispe omdat hulle regsfoute begaan het; omdat hulle medepligtiges was in wat hy as een van die eeu se boosste sameswerings beskou het; omdat hulle bewyse van Dreyfus se onskuld weerhou het; omdat hulle die misdaad uit Katolieke ywer gepleeg het; en vir hulle bevooroordeelde ondersoek. Weens drie grafoloë se ontleding van dokumente het hy hulle bedrog ten laste gelê, die Ministerie van Oorlog daarvan beskuldig dat hulle die pers misbruik het om openbare mening te beïnvloed, en die eerste krygsraad veroordeel omdat hulle geheime dokumente voorgelê het wat tot die onskuldigbevinding van die skuldige party gelei het. Hy het erken dat hy diegene wat hy beskuldig het nie persoonlik geken het nie, en nie uit haat gepraat het nie. Zola se enorme invloed het later tot Dreyfus se uiteindelike vryspraak gelei, en steun verskaf vir die rasionaal en die verdediging van die wet wat uiteindelik die Katolieke Kerk van die staat sou skei.

ZOLA HET L’AFFAIRE AS ’N MISDAAD BESKRYF WAT AGTER ANTI-SEMITISME SKUILGEHOU, EN PATRIOTISME UITGEBUIT HET.

Verskeie verwysings wat prominent in J’Accuse voorkom, demonstreer die vermoedelike godsdienstige invloed onderliggend aan die handelswyse waarmee daar tydens L’Affaire te werk gegaan is. Volgens Zola het generaal Boisdeffre (1838-1906), hoof van die generale staf, blykbaar vir sy klerikale beskouing geswig. Luitenant-kolonel du Paty de Clam (1853-1916) is daarvan beskuldig dat hy by spiritisme en okkultisme betrokke was, en dat hy met geesteswesens gekommunikeer het. Generaal Gonse en Mercier is ook daarvan verdink dat hulle voor hulle godsdienstige passie beswyk het, en Du Paty de Clam is verder ten laste gelê dat hy deel van ’n klerikale milieu was wat op “smerige Jode” (sales juifs) jaggemaak het – wat die tyd waarin hulle geleef het ’n oneer aangedoen het. Zola het L’Affaire as ’n misdaad beskryf wat agter anti-semitisme skuilgehou, en patriotisme uitgebuit het. Die skandaal is as ’n bedreiging beskou vir sowel die samelewing as die oorlewing van die republiek, waarin Zola gevrees het dat menseregte (droits de l’homme) tot niet kon gaan (Zola, 1898).

Vir sy moeite is Zola vir laster veroordeel, en moes hy een jaar lank selfballingskap in Engeland deurmaak. Maar soos die voorstanders en die teenstanders hulle onderskeie posisies nou afgepen het, was daar geen meer omdraai nie. Teenstanders van Dreyfus (oftewel antidreyfusards) het die ondersteuning van die Kerk en die weermag geniet, en was oortuig van die bestaan van ’n sindikaat waarin anti-Franse, Joodse, Protestantse en Vrymesselaarsmagte kragte gesnoer het. Voorstanders van Dreyfus (dreyfusards) is deur skrywers, kunstenaars en wetenskaplikes ondersteun, en hierdie radikale en vrye denkers het die bondgenootskap tussen die Kerk en die weermag ten seerste veroordeel. Daar was ’n al knaender aandrang om alle Jode uit Frankryk uit te skop. L'Affaire en die uiteindelike oplossing daarvan – onder meer ’n tweede verhoor in 1899 – het Frankryk geskok. Baie mense het gevoel dat, sedert dit antiklerikale mense en nie kerklui nie was wat ’n onskuldige man van Duiwelseiland gered het, daar afgelei kon word dat die Katolieke – wanneer die nood aan die man gekom het – voordeel bo waarheid, en orde bo geregtigheid geplaas het (McManners, 120). Hierdie siening het weliswaar die feit geïgnoreer dat sommige kerklui, al was hulle redelik min, Dreyfus ondersteun het, en dat kolonel Picquart self Katoliek was. Dit het egter die narratief gestook wat antiklerikale magte sou laat aanhou kragte meet met hulle klerikale teenstanders.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Medepligtigheid van die Katolieke Kerk

Pous Leo XIII (1810-1903) het Franse Katolieke voorheen aangemoedig om die republiek te ondersteun maar die effekte van die Dreyfus-saak het sy pogings meestal ongedaan gemaak (Walker, et al., 672). Hierdie beleid om Katolieke om die saak van ’n republiek te skaar, blyk ’n oomblik lank ’n gematigde republiek ’n kans te gegun het maar in 1898, ná die Dreyfus-skandaal, het baie republikeine hulle opnuut tot hulle antiklerikale sentimente verbind.

Soos net nóg ’n stuk versinsel, maar veel stroewer, het die ongelooflik lang-uitgerekte Dreyfus-skandaal wêreldwyd passie en vooroordeel aangewakker. In Frankryk het die string wandade – verraad, dwang, meineed, vervalsing, selfmoord en ooglopende ongeregtigheid – die skeur tussen die “twee Frankryke” herskep wat immer op kritieke oomblikke opgeduik het. (Barzun, 630)

Waldeck-Rousseau (1846-1904), wat in 1899 as eerste minister verkies is, het ’n politieke beslissing teen die Kerk gevel omdat hy gesien het hoe die kerklui politiek teen die republiek afgespeel het (McManners, 127). Met sy eerste verhoor in 1894 is Dreyfus se skuldigbevinding eenparig uitgespreek. Sedertdien het bewyse vir sy onskuld oorweldigend geraak, en toe Dreyfus in 1899 ’n tweede maal skuldig bevind is, het eenparigheid onder die regters ontbreek, en was daar versagtende omstandighede. Ná die tweede krygsraad is hy met die instemming van president Émile Loubet (1838-1929) vrygespreek. Die regering het hulle besluit om Dreyfus vry te spreek geregverdig op grond van sy gesondheid wat ná vyf jaar se ballingskap en gevangesetting op Duiwelseiland besig was om agteruit te gaan. Sowel Waldeck-Rousseau as Loubet is as verraaiers en vyande van die Kerk beskou. Dreyfus se ondersteuners het hulle stryd voortgesit vir sy volle rehabilitasie waarvoor die vryspraak nie voorsiening gemaak het nie, en in 1906 is hy ten einde laas in die leër heraangestel (1932: 39-40).

Alfred Dreyfus on Devil's Island
Alfred Dreyfus op Duiwelseiland
F. Hamel (Public Domain)

Die eerste stap teen die Kerk is in 1901 met die Wet op Verenigings geneem wat regeringsmagtiging vir godsdienstige onderrigordes (congrégations) vereis het. Weiering van magtiging sou tot sluiting en beslaglegging op eiendom lei, en het baie godsdienswerkers tot ballingskap genoop. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat die Kerk onder nog méér druk geplaas is. Émile Combes, wat Waldeck-Rousseau opgevolg het, het die wet met mening toegepas. Die parlement het die meeste van die versoeke om magtiging deur godsdienstige kongregasies afgekeur, en diplomatieke betrekkinge met die Vatikaan het daarweens gely. In die nadraai van die politieke chaos wat deur die Dreyfus-skandaal veroorsaak is, is daar in 1899 ’n beroep op René Waldeck-Rousseau gedoen om die regering as raadspresident aan te voer. In 1905 het ’n radikale republikeinse wetgewende gesag gedagtig aan hewige kritiek in La Croix en eensgesinde publikasies (wat kollektief as la bonne Presse gedoop is), uiteindelik vir die skeiding tussen kerke en die staat gestem (Brown, 218).

Verwyder Advertensies
Advertisement

Ten slotte

Dit is geen verrassing nie dat eeue se godsdienstige struwelinge baie sinisme en wantroue jeens godsdiens in Frankryk opgelewer het. Die Dreyfus-skandaal tydens die Derde Republiek het die konflik tussen klerikale/monargale en antiklerikale/republikeinse magte vergestalt. Die Skeidingswet het in 1905 die Napoleontiese Konkordaat van 1801, wat Katolisisme, Lutheranisme, Hervormde Protestantisme en later Judaïsme begunstig het, herroep. Die status wat ingevolge die Konkordaat deur die erkende godsdienstige belydenisse verwerf is, is nie aan ander belydenisse toegestaan nie, wat verdruk is omdat hulle onerkende belydenisse gewees het. Geskiedkundige Carluer doen aan die hand dat die vryheid wat deur Napoleon vergun is nie liberaal was nie; dit was bloot ’n manier om te regeer. Die eerste artikel van die Konkordaat het evangeliebediening in Frankryk aan alle buitelanders verbied, wat evangelistiese uitbreiding in die land erg gestriem het. Die Napoleontiese strafreg het alle moontlikheid van samekomste buiten amptelike godsdienstige belydenisse streng gereguleer.

Law of Separation of Churches and the State
Wet op die skeiding tussen kerke en die staat
National Archives of France (Public Domain)

Frankryk het ’n lang en delikate oorgang na godsdienstige vryheid ervaar, en hierdie uitmergelende stryd verduidelik die swak ontwikkeling van evangeliesgesindheid in Frankryk. Maar weens baie evangeliese leiers se ondersteuning vir kaptein Dreyfus tydens L’Affaire het evangeliesgesindes ’n nuutgevonde status verwerf, sodat evangeliekerke vaart gekry het, met evangelieveldtogte wat alom gehou is. Die Baptiste en onafhanklikes (libristes) was die aktiefste in die politiek, met verskeie invloedryke senators tot en met 1905. Klem is op moraliteit en ekonomiese geregtigheid geplaas, en daar was ’n ongekende toename in Protestantse evangelisering in Frankryk, met die Katolieke Kerk wat die Republiek as vyandiggesind beskou is. Weens die tydelike rusie met die Katolieke Kerk het die evangelie-Protestante op die kruin van die Republiek kleinskaals ruim by die tekort aan elites gebaat (Fath, 128-9). Die Dreyfus-skandaal bly een van die beduidendste gebeurtenisse in die Franse geskiedenis wat tot die skeiding tussen kerke en die staat gelei het, en tot die beginsel van godsdiens- en gewetensvryheid in Frankryk bygedra het.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Vrae & Antwoorde

Wat was die Dreyfus-skandaal?

Die Dreyfus-skandaal was ’n politieke skandaal in die 1890’s in Frankryk. Die insident het begin toe ’n geheime memorandum (“bordereau”), gerig aan die Duitse militêre attaché en wat Franse militêre geheime onthul het, in ’n rommelmandjie gevind is. Dreyfus, deels omdat hy Joods was, is verdink dat hy die memorandum geskryf het. Ten spyte van sy onskuld, is hy skuldig bevind.

Waarom was die Dreyfus-skandaal van belang?

Die Dreyfus-skandaal word beskou as die prikkel vir die beweging wat aanleiding gegee het tot die wet wat in 1905 kerke en die staat van mekaar geskei het.

Bibliografie

World History Encyclopedia is 'n Amazon-medewerker en verdien 'n kommissie op kwalifiserende boekaankope.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Stephen M Davis
Stephen M. Davis (PhD) is ’n ouderling by Grace Kerk in Philadelphia, Pennsylvania. Hy is die skrywer van verskeie boeke, onder meer “Rise of French Laïcité” en “The French Huguenots and Wars of Religion”.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Davis, S. M. (2022, June 16). Die Dreyfus-skandaal, en die skeiding tussen kerke en die staat [The Dreyfus Affair & the Separation of Church and State in France]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-2011/die-dreyfus-skandaal-en-die-skeiding-tussen-kerke/

Chicago-styl

Davis, Stephen M. "Die Dreyfus-skandaal, en die skeiding tussen kerke en die staat." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig June 16, 2022. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-2011/die-dreyfus-skandaal-en-die-skeiding-tussen-kerke/.

MLA-styl

Davis, Stephen M. "Die Dreyfus-skandaal, en die skeiding tussen kerke en die staat." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 16 Jun 2022. Web. 19 Apr 2024.