Hatsjépsoet

Vertaling Fondsinsameling

Om studente regoor die wêreld gratis oor die geskiedenis te kan leer, moet ons inhoud in baie verskillende tale verskaf. Skenk vandag en help ons om te vertaal sodat ons 'n werklike globale impak kan maak. Dankie!
$900 / $3000

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 19 October 2016

Oorspronklike teks in Engels: Hatshepsut

Hatshepsut (by Postdlf, GNU FDL)
Hatsjépsoet
Postdlf (GNU FDL)

Hatsjépsoet (r. 1479-1458 VHJ) was die eerste vroueheerser van antieke Egipte om as man met die volle gesag van ’n Farao te regeer. Haar naam beteken “voorste onder edelvroue” of “sy is eerste onder edele vroue”. Sy het haar bewind as ryksbestuurder van haar stiefseun Toetmosis III (r. 1458-1425 VHJ) begin wat haar later sou opvolg.

Soos wat in beeldhouwerke uitgebeeld word, het sy aanvanklik as ’n vrou geheers maar teen ongeveer die sewende jaar van haar bewind het sy verkies om in beeldhoukuns as ’n manlike Farao uitgebeeld te word alhoewel sy in haar inskripsies steeds na haarself as ’n vrou verwys het. Sy was die vyfde Farao van die 18de dinastie tydens die periode wat as die “Nuwe Koninkryk” (ca. 1470-ca. 1069 VHJ) bekend staan, en wat as een van die welvarendste tydperke en die era van die Egiptiese Ryk beskou word.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Alhoewel sy soms as die eerste, of enigste, vroueheerser van Egipte aangedui word, was daar vroue wat voor haar geheers het, byvoorbeeld Merneith (r. ca. 3000 VHJ) in die Vroeë Dinastiese Periode (waarskynlik as ryksbestuurder) en Sobeknefru (r. ca. 1807-1802 VHJ) in die Middelkoninkryk en Twosret (r. 1191-1190 VHJ) ná haar, nader aan die einde van die 19de Dinastie. Buiten Cleopatra VII (r. ca. 69-30 VHJ) is Hatsjépsoet ongetwyfeld die bekendste vroueheerser in antieke Egipte sowel as een van die suksesvolste monarge in die Egiptiese geskiedenis.

Hatshepsut (Artist's Impression)
Hatsjépsoet (kunstenaar se uitbeelding)
Mohawk Games (Copyright)

Geskiedkundige Marc van de Mieroop (172) verwoord die konvensionele beskouing van Hatsjépsoet wanneer hy opmerk hoe sy oor die algemeen een van die mees gevierde en kontroversiële vroue van die antieke wêreld geword het. Sy word gevier as ’n magtige vroueheerser wie se bewind uiters suksesvol was en dit is dan ook die rede vir die kontroversie: Ingevolge Egiptiese tradisie moes geen vrou in staat gewees het om die volle mag van Farao te aanvaar nie.

Verwyder Advertensies

Advertisement

HATSJÉPSOET HET OOR DIE ALGEMEEN EEN VAN DIE MEES GEVIERDE EN KONTROVERSIËLE VROUE VAN EGIPTE EN DIE ANTIEKE WÊRELD GERAAK (VAN DE MIEROOP).

Voorts is haar naam ná haar dood van al haar monumente geskrap wat aan die hand doen dat iemand – waarskynlik Toetmosis III – alle bewyse van haar bestaan uit die geskiedenis wou verwyder. Latere skribas maak geen melding van haar nie en daar is dikwels aangevoer dat haar vele tempels en monumente die werk van latere Farao’s is.

Haar bestaan het eers redelik onlangs in die geskiedenis aan die lig gekom toe die oriëntalis Jean-Francois Champollion (l. 1790-1832) – veral bekend vir die ontsyfering van die Rosettasteen – besef het dat hy nie hiërogliewe wat ’n vroueheerser aandui kon laat strook met beeldhoukuns wat duidelik ’n man uitbeeld nie. Hierdie hiërogliewe is in die binnevertrek van Hatsjépsoet se tempel by Deir el-Bahri gevind; alle openbare erkenning van haar is uitgewis.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Aangesien die Egiptenare geglo het die uitwissing van iemand se naam uit die geskiedenis belemmer die hiernamaals vir daardie persoon, word dit aanvaar dat wie ook al haar naam uit die openbare bewussyn verwyder het, haar geen leed ná haar afsterwe toegewens het nie, en dus haar naam in meer afgesonderde areas behou het. Dit is ook al aan die hand gedoen dat haar naam moontlik in plekke buite die openbare oog eenvoudig misgekyk is. Hatsjépsoet het per slot van rekening talle bouprojekte gehad en dit is beslis moontlik dat diegene verantwoordelik vir die uitwis van haar naam eenvoudig ’n paar plekke oorgeslaan het. Maar pogings om Hatsjépsoet uit heugenis uit te vee, was op die ou einde onsuksesvol aangesien sy vandag bekend staan as een van die vernaamste Farao’s van antieke Egipte.

Vroeë jare en opgang na mag

Hatsjépsoet was die dogter van Toetmosis I (r. 1520-1492 VHJ) by sy oppervrou Ahmosis. Toetmosis I het ook Toetmosis II by sy sekondêre vrou Moetnofret verwek. In ooreenstemming met Egiptiese koninklike tradisie is Toetmosis II een of ander tyd voor Hatsjépsoet se twintigste verjaardag met haar getroud. Tydens hierdie tydperk is Hatsjépsoet tot godsvrou van Amoen verhef. Naas die posisie van koningin was dit die hoogste eer wat ’n vrou in Egipte kon bereik en in werklikheid is veel meer mag aan haar verleen as wat die meeste koninginne ooit geken het.

Portrait of Queen Hatshepsut
Portret van koningin Hatsjépsoet
Rob Koopman (CC BY-SA)

Die posisie van godsvrou van Amoen by Thebes het as eretitel vir ’n vrou van die hoërklas begin wat die priester met sy pligte by die Groot Tempel van Amoen te Karnak bygestaan het. Die posisie word die eerste maal in die Middelkoninkryk (2040-1782 VHJ) genoem as eretitel wat aan ’n koning se vrou of dogter toegeken is. Teen die tyd van die Nuwe Koninkryk was ’n vrou met die titel “godsvrou van Amoen” magtig genoeg om beleide te kon voorskryf (alhoewel nie so magtig soos wat sy later in die Derde Intermediêre Tydperk sou raak nie).

Verwyder Advertensies

Advertisement

Amoen was die gewildste god by Thebes en sou mettertyd as die skeppergod en koning van die gode beskou word. In haar rol as hierdie god se vrou, sou Hatsjépsoet as sy konsort beskou gewees het, en sy feeste behartig het. Dit sou haar basies tot die status van hemelse wese verhef het aangesien dit haar rol sou wees om aan die begin van die feeste vir die god te sing en te dans om hom vir die skeppingsdaad te wek; deur direk met die god in wisselwerking te tree, sou sy ’n verhewe status aanvaar het. Besonderhede van die presiese pligte van godsvrou van Amoen is onduidelik maar daar is geen twyfel dat dit ’n uiters magtige amp was en dat dit later in Egipte se geskiedenis nog meer invloedryk sou word nie.

Hatsjépsoet en Toetmosis II het ’n dogter, Neferu-Ra gehad terwyl Toetmosis II ook ’n kind by sy mindere vrou Isis verwek het. Hierdie seun was Toetmosis III wat as sy vader se opvolger benoem is. Toetmosis II het gesterf terwyl Toetmosis III nog ’n kind was en derhalwe het Hatsjépsoet ryksbestuurder geraak en staatsaangeleenthede hanteer totdat hy mondig geword het. Maar in die sewende jaar van haar regentskap het sy die rolle gewissel en haarself as Farao van Egipte laat kroon. Sy het al die koninklike titels en name aangeneem wat sy met die gebruik van die vroulike grammatiese vorm laat ingrif het, maar het haarself as ’n manlike Farao laat uitbeeld. Van de Mieroop (172) skryf:

Waar sy in vroeër standbeelde en reliëfbeeldhoukuns as ’n vrou uitgebeeld is, het sy ná haar kroning in manlike gewaad verskyn en is sy meer en meer met ’n manlike liggaamsbou uitgebeeld. Haar borste is nie gewys nie en sy het met ’n tradisioneel manlike liggaamshouding gestaan, eerder as dié van ’n vrou. Sommige reliëfbeeldhoukuns is selfs aangepas om haar uitbeelding meer met dié van ’n man te laat ooreenstem.

Die beeldhoukuns het haar in al haar koninklike grootsheid in die voorgrond uitgebeeld, met Toetmosis III wat op ’n kleiner skaal agter of onder haar gewys is om sy laer status aan te dui. Sy het steeds na haar stiefseun as die koning verwys maar dit was bloot nominaal. Hatsjépsoet het duidelik gevoel sy het soveel reg soos enige man om oor Egipte te heers, en haar uitbeelding in kuns het dit beklemtoon. Geskiedkundiges Bob Brier en Hoyt Hobbs (30) merk die volgende hieroor op:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Haar manlike gewaad was nie bedoel om die burgers te flous dat hulle Farao ’n man was nie. Standbeelde het onomwonde ’n vrou uitgebeeld wie se geslag na aanleiding van haar naam – “Sy is eerste onder edele vroue” – in elk geval ooglopend vir enige Egiptenaar sou gewees het. Eerder as om haar vroulikheid te ontken, het sy verklaar dat sy ook ’n Farao was – ’n amp wat tradisioneel deur ’n man beklee is.

Hatsjépsoet het besef dat sy haar op ongekende terrein bevind en het vinnig stappe geneem om legitimiteit aan haar heerskappy te verleen. Indien haar posisie as Farao uitgedaag sou word, sou sy nie toelaat dat sy sommer net verdwyn nie.

Head of Hatshepsut
Kop van Hatsjépsoet
Osama Shukir Muhammed Amin (CC BY-NC-SA)

Hatsjépsoet se vroeë bewind

Hatsjépsoet het haar bewind begin deur haar dogter met Toetmosis III te laat trou en aan Neferu-Ra die posisie van godsvrou van Amoen toe te ken om sodoende haar posisie te beveilig. Al sou sy dus nou gedwing word om haar mag aan Toetmosis III af te staan, sou sy as sy stiefma en skoonma haar steeds in ’n sterk posisie bevind het, en verder sou haar dogter in een van die gesaghebbendste en magtigste posisies in die land gewees het.

Hierdie voorsorgmaatreëls was egter nie genoeg nie en sy het regmatigheid aan haar bewind verleen deur haarself nie bloot as Amoen se vrou in rituele voor te hou nie, maar as sy dogter. Sy het daarop aanspraak gemaak dat Amoen in die vorm van Toetmosis I aan haar moeder verskyn en haar verwek het, sodat sy dus ’n semigodin was. Haar inskripsie verhaal die nag van haar ontvangenis terwyl haar moeder in haar bed gelê het:

Hy (Amoen) – in die inkarnasie van sy Majesteit haar eggenoot (Toetmosis), koning van Bo- en Benede-Egipte – het haar slapend in die praal van haar paleis gevind. Sy het wakker geword van die hemelse reuk en na sy Majesteit gedraai. Hy het onmiddellik na haar gegaan, hy is deur haar aangewakker en hy het sy lus aan haar opgedring. Hy het haar toegelaat om hom in sy goddelike vorm te sien en toe hy voor haar verskyn, was sy verheug met die aanskouing van sy skoonheid. Sy liefde het haar liggaam na binne gegaan. Die paleis is met ’n hemelse aroma gevul (Van de Mieroop, 173).

Deur middel van reliëfbeeldhoukuns op openbare geboue wat Toetmosis I uitbeeld waar hy haar sy medeheerser maak, het sy haar legitimiteit verder gesementeer, en het sy daarop aanspraak gemaak dat Amoen vroeër ’n orakel gestuur het wat haar opgang na mag voorspel het, en haarself aan die uitsetting van die Hiksos 80 jaar vantevore gekoppel. Die Hiksos was ’n semitiese volk gewees wat hulself by Avaris in Benede-Egipte gevestig het en mettertyd genoeg mag ingepalm het om die streek te beheer.

Hulle is deur Ahmosis van Thebes (r. ca. 1570-1544 VHJ) verslaan en uit Egipte gedryf; Ahmosis het die tydperk van die Nuwe Koninkryk ingelui. Die latere Egiptiese geskiedskrywers het die Hiksos (waarna as Asiate verwys is) gereeld as gehate tiranne gekarakteriseer wat Egipte binnegeval, en tempels geplunder en altare ontheilig het. Alhoewel hierdie bewerings alles óf oordrywings óf onwaarhede was, was die herinnering aan die gehate Hiksos steeds ferm in Egiptiese heugenis gesetel, en Hatsjépsoet het dit ewe slim tot haar voordeel aangewend. Een van haar inskripsies lees:

Ek het herstel wat vernietig was. Ek het opgerig wat verpletter was sedert die Asiate in die Delta by Avaris was, toe die nomade onder hulle geledere dit wat wás, ten gronde gerig het. Hulle het sonder die god Ra geheers, en het tot en met sy Majesteit se tyd nie volgens goddelike dekreet geheers nie (Van de Mieroop, 145).

OM TRADISIE GESTAND TE DOEN, HET HATSJÉPSOET OPDRAG VIR BOUPROJEKTE GEGEE SOOS HAAR TEMPEL BY DEIR EL-BAHRI, EN MILITÊRE EKSPEDISIES UITGESTUUR.

Ten einde haar posisie nog verder te verstewig en haarself teen lasteraars te beskerm wat sou aanvoer dat ’n vrou nie waardig was om te heers nie, het sy haarself voorgehou as direkte opvolger van Ahmosis, wie se naam die mense steeds as hul groot bevryder gekoester het. Haar talryke inskripsies, monumente en tempels demonstreer almal hoe ongekend haar bewind was: Voor haar het geen vrou openlik oor die land as Farao geheers nie.

Farao Hatsjépsoet

Om tradisie gestand te doen, het Hatsjépsoet opdrag vir bouprojekte gegee – soos haar tempel by Deir el-Bahri – en militêre ekspedisies uitgestuur. Die presiese aard van die militêre veldtogte is onduidelik maar hulle het die streke Sirië en Nubië ten doel gehad.

Dit is moontlik dat die veldtogte bloot van stapel gestuur is om getrou te bly aan die tradisie van Farao as krygerkoning wat deur middel van verowering welvaart aan die land besorg, of moontlik was dit as ’n voortsetting van Toetmosis I se veldtogte in daardie streke beskou – wat verdere legitimiteit aan haar posisie verleen het – of dalk was die veldtogte ’n billike reaksie wat uitgelok is. Die Farao’s van die Nuwe Koninkryk, die tydperk van die ryk, het baie klem daarop geplaas om buffersones rondom die land te handhaaf ten einde ’n herhaling te voorkom van wat hulle as die “inval” deur die Hiksos beskou het.

Egyptian Soldiers
Egiptiese soldate
Σταύρος (CC BY)

Met al haar projekte, veldtogte en beleidsvormings het sy staatgemaak op die raad en ondersteuning van een van haar howelinge – ’n man genaamd Senenmoet wie se verhouding met die koningin steeds baie geheimsinnig is. Van de Mieroop merk op dat Senenmoet ’n man van onaansienlike geboorte was wat tot prominensie in die hof gestyg het. Verskeie standbeelde beeld hom uit waar hy prinses Neferu-Ra vashou wie se mentor en hofmeester hy voor Hatsjépsoet se troonsbestyging was. Hy was in beheer van al Hatsjépsoet se vernaamste projekte, onder meer haar bekende tempel by Deir el-Bahri.

Hatsjépsoet se grootste inspanning is in hierdie bouprojekte belê wat nie net haar naam verhef en die gode vereer het nie, maar ook werk aan haar mense verskaf het. Die omvang en grootte van Hatsjépsoet se konstruksies, sowel as die elegante skoonheid daarvan, getuig van ’n baie welvarende bewind. Nie een van hierdie projekte kon voltooi geword het as sy nie in beheer van ’n oorvloed hulpbronne was nie. Egiptoloog Betsy M. Bryan skryf:

As heerser het Hatsjépsoet bouprojekte ingewy wat dié van haar voorgangers verreweg oortref het. Die lys bouterreine waarby Toetmosis I en II betrokke was, is in Bo-Egipte uitgebrei om plekke in te sluit wat die Ahmosid-heersers gunstig gesind was: Veral Kom Ombo, Nekhen (Hierakonopolis) en Elkab, maar ook Armant en Elefantien. Geen bouterrein het egter meer aandag van Hatsjépsoet geniet as Thebes nie. Onder haar toesig het die tempel van Karnak weereens gegroei, met ’n aantal beamptes wat die konstruksiewerk gerig het. Met die land blykbaar in vrede tydens die grootste deel van die twintig jaar van haar bewind, was Hatsjépsoet in staat om die rykdom van sowel Egipte as Nubië se natuurlike hulpbronne te benut. Goud het van die oostelike woestyne en die suide ingestroom. Die kosbare steengroewe was operasioneel, bewerking van Bebel el-Silsila vir sandsteen is in alle erns begin, en sederhout is van die Levant en ebbehout van Afrika (moontlik via die koninkryk Punt) ingevoer. In die inskripsies van die koningin en haar beamptes is die monumente en die materiaal wat vir die maak daarvan gebruik is, taamlik breedvoerig gedetailleerd. Duidelik was Hatsjépsoet ingenome met die hoeveelheid en verskeidenheid weeldeware wat sy ter ere van Amoen kon bekom en skenk – in so ’n mate dat sy by Deir el-Bahri ’n toneel laat kerf het wat die hoeveelheid eksotiese ware uitbeeld wat van Punt gebring is (Shaw, 229-231).

Hatshepsut's Temple, Karnak
Hatsjépsoet se tempel, Karnak
Dennis Jarvis (CC BY-SA)

Hatsjépsoet se ekspedisie na Punt (hedendaagse Somalië) was in haar eie oë haar grootste prestasie. Punt was reeds sedert die Middelkoninkryk ’n handelsvennoot maar ekspedisies daarheen was duur en tydrowend. Dat Hatsjépsoet haar eie ekspedisie – veral een so oordadig – van stapel kon stuur, getuig van hoe welvarend haar bewind was. Die meegaande inskripsie van die reliëfuitbeelding van die ekspedisie, op die mure van haar tempel by Deir el-Bahri gegraveer, beskryf die luukse goedere in detail:

Die laai van die skepe met wonderlike ware uit die land Punt, asook allerlei heerlik welriekende soorte hout, hope mirrehars met vars mirrebome, met ebbehout en suiwer ivoor, met groengoud van Emu, met kaneelboomhout, khesiethout, met Ihmut-wierook, sonterwierook, oogkosmetiek, met ape en apies, honde, en met pelse van die suidelike panter. Sedert die begin is sodanige ware nog nooit vir enige koning gebring nie (Lewis, 116).

Haar tempel by Deir el-Bahri bly een van die indrukwekkendste en mees besoekte tempels in Egipte. Brier en Hobbs (30) merk op hoe die kuns wat onder haar gesag geskep is sag en delikaat was, en dat sy een van die elegantste tempels in Egipte teenaan die kranse buite die Vallei van die Konings gebou het. Haar tempel het op die oewer van die Nylrivier met ’n lang oploop van ’n binnehof vol bome en poeletjies na ’n terras gerys. Sommige van hierdie bome is al die pad van Punt versend en is die geskiedenis se eerste suksesvolle oorplanting van bome van een nasie na ’n ander.

Tot vandag toe kan die oorblyfsels van hierdie bome – versteende boomstompe – in die binnehof van die tempel gesien word. Die laer terras was met kolomme begrens en ’n oploop het na ’n tweede een gelei wat ewe indrukwekkend was. Die tempel is met beeldhoukuns, reliëfbeeldhouwerk en inskripsies versier, met haar grafkelder gekerf uit die kranse wat die agterkant van die gebou vorm. Hatsjépsoet is so deur Farao’s bewonder wat ná haar gekom het dat hulle al meer gekies het om naby daaraan begrawe te word en hierdie nekropolis het uiteindelik as die Vallei van die Konings bekend gestaan.

Temple of Hatshepsut, Aerial View
Tempel van Hatsjépsoet, lugaansig
N/A (CC BY)

Hatsjépsoet het op ’n groter skaal as enige Farao voor haar gebou en, buiten Ramesses II (1279-1213 VHJ), ook dié ná haar. Benewens die gedenknaalde, oftewel obelisks, wat sy elders laat oprig het, het sy ook twee by Karnak laat oprig, en opdrag vir bouprojekte landwyd gegee. Trouens, so omvangryk was haar bouprojekte dat min museums vandag wat Egiptiese kuns en artefakte ten toon stel, nié een of ander stuk het wat nié in opdrag van Hatsjépsoet geskep is nie.

Dood en verdwyning

Terwyl Hatsjépsoet die land regeer het, het Toetmosis III nie op sy louere gesit en toekyk nie. Sy het hom beheer van Egipte se leërs gegee en dit is aan die hand gedoen – hoofsaaklik deur Egiptoloog James Henry Breasted – dat hy haar bewind oorleef het deur homself as generaal nuttig vir haar te bewys, en deur min of meer uit haar pad te bly.

In ca. 1457 VHJ het Toetmosis III sy leërs aangevoer om ’n opstand van Kadesj te onderdruk (die bekende Slag van Megiddo) – ’n veldtog wat moontlik in opdrag van Hatsjépsoet plaasgevind het – en daarna verdwyn haar naam uit die geskiedkundige rekord. Toetmosis III het sy bewind tot by die dood van sy vader teruggedateer, en Hatsjépsoet se prestasies as Farao aan hom toegeskryf. Wanneer en hoe sy gesterf het, was tot onlangs onbekend. Egiptoloog Zahi Hawass voer aan dat hy in 2006 haar mummie in die Kaïro Museum se eiendom opgespoor het. ’n Ondersoek van daardie mummie toon aan dat sy in haar vyftigs weens ’n abses dood is nadat ’n tand getrek is.

Toetmosis III het later ’n bekende Farao geraak wat weens sy briljante militêre oorwinnings vandag as die “Napoleon van Antieke Egipte” bekend staan. Later in sy bewind het hy alle bewyse van sy stiefmoeder van monumente laat verwyder, en alle bewyse van haar bewind laat vernietig. Sowel Senenmoet as Neferu-Ra was albei lank reeds dood en dit wil voorkom of daar niemand aan die hof was wat die mag of die sinnigheid daaraan gehad het om hierdie beleid te verander nie.

Die rommel van sommige van hierdie werke is naby haar tempel by Deir el-Bahri gestort en uitgrawings het haar naam aan die lig gebring, tesame met die inskripsies binne die tempel wat Champollion so uit die veld geslaan het. Alhoewel daar deur die jare al baie teorieë was waarom Toetmosis III probeer het om Hatsjépsoet se naam uit die geskiedenis te wis, is die waarskynlikste rede dat haar bewind onkonvensioneel was en van tradisie afgewyk het.

Statue of King Thutmose III
Standbeeld van koning Toetmosis III
Osama Shukir Muhammed Amin (CC BY-NC-SA)

Die Farao se hoofverantwoordelikheid was onderhoud van ma’at (harmonie, balans) en ’n vrou in die posisie van ’n man sou as steurend tot die balans beskou gewees het. Die Farao het as rolmodel vir sy mense gedien en dit is moontlik dat Toetmosis III gevrees het ander vroue sou inspirasie uit Hatsjépsoet kon put en haar voorbeeld probeer navolg het, en sodoende van ’n tradisie afwyk wat volhou het dat mans oor Egipte moet heers en dat vroue slegs konsorts moes wees, soos dit aan die begin van tyd was toe die god Osiris met sy konsort Isis geheers het. Die antieke Egiptiese kultuur was in baie aspekte baie konserwatief en het geen waarde aan verandering van of wysiging aan tradisies geheg nie. ’n Vrouefarao, ongeag hoe suksesvol haar bewind was, het buite die aanvaarde begrip van die rol van die monargie geval, en daarom moes alle herinneringe aan daardie Farao uitgewis word.

Maar die Egiptiese oortuiging dat ’n mens lewe solank as wat jou naam onthou word, word in Hatsjépsoet vergestalt. Sy is vergeet soos wat die tydperk van die Nuwe Koninkryk voortgeduur het en het eeue lank vergete gebly. Toe haar naam in die 19de eeu deur Champollion en later in die 20ste eeu deur ander weer ontdek is, het sy algaande weer lewend geword en haar regmatige plek as een die grootste Farao’s in Egipte se geskiedenis ingeneem.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2016, October 19). Hatsjépsoet [Hatshepsut]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-743/hatsjepsoet/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Hatsjépsoet." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig October 19, 2016. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-743/hatsjepsoet/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Hatsjépsoet." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 19 Oct 2016. Web. 27 Nov 2021.