Die Buskruitverraad

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 29 April 2021
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Portugees, Spaans
Discovery of Guy Fawkes & the Gunpowder Plot (by Unknown Artist, Public Domain)
Ontdekking van Guy Fawkes en die Buskruitverraad
Unknown Artist (Public Domain)

Die Buskruitverraad van 1605 was ’n mislukte poging deur pro-Katolieke samesweerders om die Engelse parlement en koning James I van Engeland (r. 1603-1625) sowel as die hele adelstand saam met hom op 5 November op te blaas. Die verraad is ontdek toe een van die samesweerders ’n anonieme brief gestuur het om ’n familielid te waarsku wat in die parlement teenwoordig sou wees.

Guy Fawkes is op 4 November om middernag onder Westminster Paleis aangekeer voordat hy kans gehad het om die 35 vate buskruit aan te steek wat in die paleis se kelder weggesteek was. Tydens brutale marteling in die Londense Toring het Fawkes die name van sy medesamesweerders bekend gemaak, sowel as hulle plan om sulke wanorde te veroorsaak dat dit ’n staatsgreep moontlik sou maak deur magte wat die Katolieke saak gunstig gesind was. Die skuldige partye is aangekeer en ook gemartel, waarna hulle, Guy Fawkes inkluis, tereggestel is deur die grusame manier van gehang en gevierendeel te word – ’n lot bestem vir diegene skuldig aan verraad teen die Kroon. Vreugdevure is die nag van 5 November aan die brand gesteek om die mislukking van die sameswering te vier, en hierdie tradisie duur vandag nog voort op die datum wat as “Vreugdevuurnag” (Bonfire Night), “Guy Fawkes-nag” (Guy Fawkes Night) of “Vuurwerkenag” (Fireworks Night) bekend staan.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Katolisisme in Engeland

Elizabeth I van Engeland (r. 1558-1603) het die Protestantse geloof in haar koninkryk aangemoedig en hierdie beleid is deur haar opvolger James I van Engeland (r. 1567-1625) – wat ook James VI van Skotland was – voortgesit. James is as Protestant grootgemaak maar op 18 Augustus is ’n verdere slag toegedien aan die ekstreme Katolieke wat gehoop het om daardie geloof weer as die primêre geloof in Engeland in te stel. Op daardie dag is ’n vredesooreenkoms in Londen onderteken wat uiteindelik die oorlog tussen Engeland en Katolieke Spanje beëindig het. Die laaste strooi was ’n rits nuwe wette teen praktiserende Katolieke, of eerder die hernuwing van sodanige wetgewing wat tydens Elizabeth I se bewind van krag was. Beperkings op Katolieke het onder meer ’n verbod op die hou van die misdiens ingesluit, sowel as ’n verpligting om Anglikaanse nagmaaldienste by te woon, of om ’n heftige boete in die gesig te staar.

GUY FAWKES HET DIE VERHOOG VAN DIE GESKIEDENIS BETREE MET WAT MOONTLIK NET ’n KAMEEROL WAS, MAAR DIT WAS ’n ROL WAT BERUGTHEID SOU VERWERF WAT REEDS VIER EEUE DUUR.

’n Groep ekstremiste het nou besluit om een laaste slag alles in die stryd te werp in ’n poging om Engeland na die Katolieke geloof te laat terugkeer. Hulle plan was niks anders nie as ’n poging tot massamoord wat die monargie en die regering sou uitwis, waardeur ’n politieke vakuum geskep sou word wat pro-Katolieke magte dan kon uitbuit om die staat oor te neem. Die voorbok van die sameswering was sir Robert Catesby, ’n fel Katolieke edelman. ’n Groep samesweerders is versigtig bymekaar gemaak; die groep het bestaan uit Catesby, Christopher en John Wright, Robert en Thomas Winter (ook bekend as Wintour), Thomas Percy en Thomas Bates. Buiten sy dienskneg Bates was al hierdie mans familielede van Catesby. Twee fanatieke Jesuïtiese priesters – vader Garnet en vader Greenaway – is by die groep gevoeg ten einde aan die ongewone projek ’n ragfyn lagie steun van die kerk te verleen.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die plan was heel eenvoudig: Blaas die hele Engelse parlement op wanneer die koning die sessie op 5 November 1605 open. Die lede van die parlement sou teenwoordig wees, sowel as die here, regters, die koninklike raad en die koning self. Derhalwe is ’n allemintige hoeveelheid buskruit vereis, sowel as ’n bykomende lid tot die groep samesweerders – ’n geharde kanniedood- Katolieke huursoldaat om die lont aan die brand te steek. Guy Fawkes, wie se regte naam Guido Fawkes was, was die man en hy het die verhoog van die geskiedenis betree met wat moontlik net ’n kameerol was maar dit was ’n rol wat berugtheid sou verwerf wat reeds vier eeue duur en steeds geen einde ken nie.

The Gunpowder Plot Conspirators
Die Buskruitverraad-samesweerders
Unknown Artist (Public Domain)

Die kelder van die parlement

Die samesweerders moes op een of ander manier onder die parlementsgebou inkom en hulle buskruit daar vir die maksimum uitwerking plant. Hulle het eers ’n huisie beset en van daar af ’n tonnel na Westminster Paleis gegrawe maar die groep het binnekort agtergekom dat dit eintlik baie makliker was om onder Westminster Paleis te kom as wat hulle hul aanvanklik voorgestel het. Dit was moontlik om ’n leë steenkoolkelder diep onder in die gebou te huur, en dit is presies wat hulle gedoen het toe hulle ’n kelder reg onder die Lords se Kamer gehuur het. Binne hierdie kelder is 35 (of 36) vate buskruit gepak, en as ekstra voorsorgmaatreël is ’n massiewe hoop vuurmaakhout bo-op dit gestapel.

Verwyder Advertensies
Advertisement
NÁ MOEILIKE KINDERJARE VAN RYKSBESTUURDERS, SAMESWERINGS EN EEN ONTVOERING WAS DIE KONING ALTYD WAAKSAAM VIR ’N POGING OM HOM OM DIE LEWE TE BRING.

Ten tye van die gebeure was buskruit steeds ’n relatiewe nuwe wapen in Europa, en ’n deskundige is benodig wat geskikte lonte kon voorberei sodat die vate die grootste verwoesting moontlik kon saai. Met sy lang ervaring wat hy opgedoen het terwyl hy as huursoldaat vir die Spaanse leër in Nederland geveg het, was Guy Fawkes net die man vir die taak. Om seker te maak dat die ontploffing meer as bloot die gebruik van buskruit behels het, is honderde metaalstawe by die vate gevoeg wat deur die struktuur van die gebou sou kloof. Fawkes moes die buskruit oppas totdat die groot ontploffing sou plaasvind.

Die brief

Alles het vir die samesweerders volgens plan verloop totdat een onder hulle geledere, ene Francis Tresham – en moontlik een of twee van die ander – begin wonder het of dit moreel aanvaarbaar was om goeie Katolieke porture saam met al die ander op te blaas. Dit is byna ’n uitgemaakte saak dat dit Tresham was wat ’n anonieme brief aan sy swaer, die Katolieke heer Mounteagle, geskryf het. Dit was die handeling wat tot die ondergang van die hele operasie gelei het. Die brief, aan een van Mounteagle se diensknegte afgelewer vir die aandag van sy meester, was ’n kriptiese waarskuwing: “Hierdie Parlement sal ’n verskriklike slag toegedien word, en tog sal hulle nie sien wie hulle leed besorg het nie.” (Jones, 280)

James I of England by Mytens
James I van Engeland deur Mytens
Daniel Mytens (Public Domain)

Pleks daarvan om op die waarskuwing ag te slaan en homself te red, het Mounteagle die brief vir lord Robert Cecil gewys, wat dit op sy beurt weer vir koning James gewys het. Mounteagle het later ’n vrygewige pensioen vir sy optrede ontvang. Ná moeilike kinderjare van ryksbestuurders, sameswerings en een ontvoering, was die koning die heeltyd op sy hoede vir ’n poging om hom om die lewe te bring. Hy het dikwels spesiaal opgestopte klere gedra om hom teen ’n mesaanval te beskerm, en dit het dus nie veel oortuiging geverg dat die komplot werklik was en onmiddellike ondersoek genoodsaak het nie. Dit was steeds tien dae voordat die samesweerders beplan het om hul buskruit te laat ontplof maar die owerhede, ywerig om nie die voorbokke te laat ontsnap nie, het koelkop gebly en het tot 4 November gewag voordat hulle die paleis se kelder deursoek het. Die samesweerders het van die brief uitgevind maar Tresham het sy meedoeners probeer oortuig dat hy dit nie gestuur het nie. Soos hulle die dae na die 5de afgetel het en daar geen optrede deur die owerhede was nie, het die samesweerders geglo dat die brief óf verkeerd verstaan is óf as poets afgemaak is. Die samesweerders het Tresham en Fawkes toe met die buskruit agtergelaat en Londen verlaat om vir die opstand in die Middellande voor te berei wat hulle beplan het sodra die parlement eers vernietig is.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Die ontdekking

Op die middag van 4 November het die koning magtiging gegee dat die deursoek van die paleis se kelder mag begin. Die steenkoolkelder is genader en by die deur was ’n man met ’n lantern, Guy Fawkes. (Sy lantern is vandag in Oxford se Ashmolean Museum.) Op navraag wat hy daar doen, het Fawkes geantwoord dat sy naam John Johnson is (eintlik die dienskneg van die samesweerder Thomas Percy). Fawkes het die kelderdeur oopgesluit en die deursoekers ingelaat. Hulle het die hoop hout gesien maar nie die moeite gedoen om dit behoorlik te ondersoek nie, en na elders aanbeweeg. Toe hulle niks ontdek het nie, het die soekgeselskap aan die koning gerapporteer. Melding is van “John Johnson” en sy hoop hout gemaak en, toe daar op ’n beskrywing aangedring word, is Fawkes as “’n skunnige en desperate kêrel … ’n niksnuts” (Jones, 280) beskryf. Hiermee het James geensins genoeë geneem nie en hy het gelas dat nóg ’n soektog later die aand van stapel gestuur word, hierdie keer met ’n aantal soldate teenwoordig. Toe die steenkoolkelder om en by middernag van 4 November vir die tweede maal deursoek is, was Guy Fawkes steeds in die omtrek. Hy is weereens gevra om die kelder oop te sluit, en hierdie keer het die soekgeselskap diep onder die hoop hout rondgegrawe, en die vate buskruit ontdek. Fawkes is self deursoek en in sy sakke is ’n horlosie ontdek sowel as ’n brandtrae tou om as lont te dien, asook ’n tonteldoos waarmee hy die lont aan die brand kon steek; dit was voorwaar inkriminerende bewyse.

Marteling en die dood

Fawkes is vir ’n oudiënsie met die koning in Whitehall geneem waar hy erken het wat hy in die kelder met die buskruit gedoen het, alhoewel hy geweier het om die name van sy medesamesweerders te gee. Hy is toe na die Londense Toring geneem waar hy in ’n vertrekkie aangehou is en gewag het om verder ondervra te word. Hy sou binnekort kennis maak met die Toring se gevreesde luitenant, sir William Wade, ’n man met baie ervaring om inligting uit sy gevangenes te dwing deur enige manier wat hy goedgedink het. In hierdie geval het die koning vir Wade spesifiek toestemming gegee om marteling te gebruik deur met die geringer metodes te begin en met die folterbank te eindig. Vir Fawkes het tien dae van marteling gevolg – duidelik sigbaar uit ’n vergelyking van die samesweerder se handtekening voor en ná sy beproewing. Fawkes het geen berou getoon nie en gestel dat die verspreiding van Protestantisme “’n desperate kuur vir ’n desperate siekte” geverg het (Jones, 279). Fawkes is waarskynlik eers in kluisters geslaan wat sy beweging sou beperk het, waarna sy bene deur plate vergruis is, en moontlik moes hy ook duimskroewe verduur. Fawkes het hom waarskynlik steeds teen die marteling verset sodat hy op die folterbank uitgestrek is en sy ledemate stadig uitgerek en sy ligamente van die been af geskeur is.

Torture Rack, Tower of London
’n Folterbank, die Londense Toring
David Bjorgen (CC BY-SA)

Intussen het die koning ’n kommissie aangestel om die sameswering te ondersoek, uit te vind wie daar agter sit, en te reël dat hulle aangekeer word. Gelukkig vir die koning blyk die samesweerders aan praktiese intelligensie wat ’n gewapende opstand betref, te ontbreek het. Catesby het na Holbeche Huis in Staffordshire gereis waar hy buskruit vir sir Everard Digby afgelewer het wat beloof het om 50 gewapende manne vir die oorname van die regering te monster. Maar die buskruit het klam geraak en om dit uit te droog, het Catesby dit voor ’n vuur uitgepak. Die vuur het die buskruit aan die brand gesteek en die samesweerders erg gebrand; die Buskruitverraaiers het toe tóg hulle groot ontploffing gekry. Van die samesweerders het nou op die vlug geslaan terwyl dié wat agtergebly het op 8 November deur regeringsmagte oorweldig is. Tydens ’n wilde skietgeveg is baie van die skuldiges gedood, onder meer Catesby, terwyl ander ernstig gewond is. In ag genome dit wat sou volg, was dit die gelukkiges wie se lewe deur ’n musketbal beëindig is.

Verwyder Advertensies
Advertisement

Terug in die ingewande van die Londense Toring het Fawkes se weerstand ten einde laas ingegee, en hy het uiteindelik die name van die ander samesweerders bekend gemaak. Hulle is almal gevange geneem, insluitend die twee Jesuïtiese priesters, en net een, Hugh Owen, het uit Engeland ontsnap, en geregtigheid vrygespring. Almal is na die Toring geneem en soos Fawkes gemartel. Tresham is tydens sy beproewing oorlede maar vir die res het ’n erger lot gewag. Met dié dat die samesweerders hulle skuld bely het, is hulle eers in Januarie 1606 in Westminster Hal verhoor. Buiten Bates was nie een sonder berou oor hulle voorgenome misdaad nie. Die vonnis is gevel – die verskriklike straf bestem vir diegene wat aan verraad skuldig bevind is: om gehang en gevierendeel te word.

Die doodsvonnisse is oor twee dae op 30 November en 1 Desember voltrek. Elkeen is aan sy enkels deur ’n perd deur die strate van Londen gesleep. Daarna is elkeen gehang totdat hy binne ’n haarbreedte van die dood was. Steeds lewendig, is elke man van die skavot verwyder en gekastreer en sy binnegoed uit sy liggaam geryg, waarna hy onthoof is. Die laaste daad was om die liggaam in vier kwarte te sny. Sommige van die veroordeeldes het die laaste deel van die teregstelling probeer vryspring deur van die skavot te spring in ’n poging om hul nek te breek. Guy Fawkes kon juis daarin slaag om dit te doen maar sy lewelose liggaam het nietemin nie die volle vonnis vrygespring nie.

The White Tower, the Tower of London
Die Wit Toring, die Londense Toring
Frerk Meyer (CC BY-SA)

Nalatenskap

Die Buskruitverraad het misluk en anti-Katolieke en anti-papistiese gevoelens in Engeland aangehits. Soortgelyk aan die antikommunistiese sentimente in die VSA ná die Tweede Wêreldoorlog, het die sameswering verseker dat Protestante paranoïes oor Katolieke geraak het, en het dit Anglikaanse kerkleiers vasberade gemaak om daardie geloof te onderdruk. Skilderye wat die gebeurtenis sowel as die nederlaag van die Spaanse Armada uitbeeld, is in kerke gehang, en jaarlikse dankseggingsdienste is gehou.

Om die fnuiking van die komplot te vier, het die owerhede die burgers aangemoedig om vreugdevure op die aand van 5 November aan te steek en deur dit te doen, het hulle ’n tradisie begin wat tot vandag toe nog in Engeland en verskeie ander lande voortduur. Deser dae word vreugdevure elke 5 November aangesteek en vuurwerke geskiet, en die geleentheid staan as “Vreugdevuurnag” (Bonfire Night), “Guy Fawkes-nag” (Guy Fawkes Night) of “Vuurwerkenag” (Fireworks Night) bekend. Daar was ’n ou tradisie om ’n afbeeldsel van Guy Fawkes te maak en dit eenvoudig guy te noem. Kinders het dan hulle bes probeer en mense vir ’n skenking gevra deur hulle guy in die straat ten toon te stel of mense se huise te besoek en ’n pennie vir die guy te vra. Later die aand is die afbeeldsel dan op die vreugdevuur gegooi. Deesdae is hierdie tradisie nie meer algemeen nie maar Guy Fawkes leef op ander maniere voort, veral in ’n uitdrukking soos a tough guy, met verwysing na hoe lank hy in die Londense Toring teen die marteling uitgehou het. Meer onlangs het ’n masker wat soos Guy Fawkes lyk in gewildheid toegeneem en word dit deur sekere protes- en anti-establishmentgroepe gedra.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2021, April 29). Die Buskruitverraad [Gunpowder Plot]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-19742/die-buskruitverraad/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Buskruitverraad." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig April 29, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-19742/die-buskruitverraad/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Buskruitverraad." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 29 Apr 2021. Web. 17 Apr 2024.