Die Peloponnesiese Oorlog

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 02 May 2018
X
translations icon
Beskikbaar in ander tale: Engels, Griekse, Frans, Spaans
Greek Trireme [Artist's Impression] (by The Creative Assembly, Copyright)
Griekse trireem (kunstenaar se voorstelling)
The Creative Assembly (Copyright)

Die Peloponnesiese Oorlog tussen Athene en Sparta en hulle onderskeie bondgenote het in twee fases, van ca. 460-446 VHJ en van 431-404 VHJ, plaasgevind. Met veldslae wat sowel tuis as uitlandig geveg is, was hierdie lang en ingewikkelde oorlog uiters skadelik vir albei kante. Sparta, met finansiële ondersteuning van Persië, het uiteindelik geseëvier deur die Atheense vloot in 405 VHJ by Aigospotamoi te vernietig.

Oorsake van die oorlog

In die 5de eeu VHJ was Sparta en Athene die twee vernaamste moondhede in Griekeland en dalk was dit onvermydelik dat hulle invloedsfere sou oorvleuel en konflik veroorsaak. Sparta blyk veral verontrus te gewees het deur Athene se toenemende mag wat hulle in staat gestel het om – te danke aan die tribute van hulle bondgenote en afhanklikes – ’n al groter vloot skepe te bou. Sparta was ook agterdogtig van die Atheners se projek om hulle Lang Mure-fortifikasies te herbou wat hulle hawe Peiraius beskerm het, en verder was hulle besorg dat hulle versuim om op te tree die ander vername Griekse moondheid, Korinthe, sou noop om hulle by Athene te skaar.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Wat later as die Eerste Peloponnesiese Oorlog (ca. 460-446 VHJ) bekend sou staan, was minder intensief as die tweede een en is hoofsaaklik tussen Athene en Korinthe geveg, met Sparta wat van tyd tot tyd ingegryp het. Die oorlog is deur die dertigjarige vrede gevolg alhoewel vyandelikhede nooit heeltemal gestaak is nie en volskaalse oorlog weer vanaf 431 VHJ opgevlam het.

GRIEKSE BURGERS HET AANSIENLIK MEER BETROKKE BY OORLOGVOERING GERAAK, EN DIT WAS MOONTLIK DAT DIE HELE BURGERBEVOLKING VAN ’n STADSTAAT IN HULLE GEHEEL UITGEWIS KON WORD.

’n Brandpunt in die verhouding tussen Sparta en Athene was die geskil oor Potidea in 432 VHJ. Athene wou timmerhout en minerale van Thracië hê en het gevolglik daarop aangedring dat Potidea hulle fortifikasies verwyder. Die Potideërs het vir Sparta se beskerming gevra en die versekering van bystand ontvang. Athene het nietemin voortgegaan en Potidea beleër en kort daarna het hulle ook die Megariese Dekrete uitgereik. Hierdie verordeninge het Megara verhoed om enige hawe van Athene óf haar bondgenote te gebruik, sodat ’n handelsverbod basies teen Megara ingestel is. Sparta, van ouds af ’n bondgenoot van laasgenoemde, het Athene versoek om die dekree terug te trek aangesien dit Megara geheel en al afhanklik van Athene sou maak. Die Atheners is deur Perikles omgerokkel en het geweier maar die Spartane – moontlik omdat hulle onvoorbereid vir nog ’n lang konflik was – het versuim om formeel oorlog te verklaar. Vyandelikhede het egter elders uitgebreek toe Tebe vir Platea, ’n bondgenoot van Athene, aangeval het, en in 431 VHJ het die Peloponnesiese leër onder aanvoering van die Spartaanse koning Argidamos vir Attika binnegeval en meedoënloos geplunder. Die oorlog was weer op dreef.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Oorlogvoering in die Tweede Peloponnesiese Oorlog het meer gesofistikeerd en dodeliker geraak sodat die konvensies van oorlogvoering in duie gestort en aanleiding gegee het tot afgryslikhede wat voorheen ondenkbaar in Griekse oorlogvoering gewees het. Burgerlikes het baie meer betrokke by oorlogvoering geraak en dit was moontlik dat hele burgerbevolkings uitgewis kon word, soos wat by Mukalessos in Beotië gebeur het. Die verliese in die oorloë was dus aansienlik meer as enige vorige konflik in Griekeland se lang geskiedenis.

Map of the Peloponnesian Wars (431-404 BCE)
Kaart van die Peloponnesiese Oorlog (431-404 VHJ)
Evonne Stella De Roza (CC BY-NC-SA)

Athene en haar bondgenote

Ná afloop van die Persiese Oorloë van die vroeë 5de eeu VHJ het die Griekse stadstate of polisse (poleis) wedersyds beskermende bondgenootskappe met mekaar begin vorm. Baie state, vernaamlik dié van Ionië, het hulle by Athene geskaar en saam het hulle om en by 478 VHJ die Deliese Volkebond gestig. Toe die Volkebond op sy grootste was, het dit uit meer as 300 lede bestaan wat skatpligtig was aan Athene, die sterkste seemag in Griekeland. In ruil vir Atheense beskerming teen ’n vermeende bedreiging vanaf Persië en moontlik ook seerowers in die Middellandse See, is tribuut in die vorm van óf skepe óf geld betaal. Die Volkebond se skatkamer is op die sakrale eiland Delos in die Siklade geplaas.

Verwyder Advertensies

Advertisement

DIE PRAKTIESE GEVOLG VAN DIE DELIESE VOLKEBOND WAS DAT ATHENE SE VLOOT NOU ÉNIGE PLEK KON TOESLAAN.

Maar met die onderdrukking van Naxos het die Volkebond baie vinnig eerder met ’n Atheense ryk as met ’n versameling gelyke bondgenote begin ooreenstem – ’n stand van sake wat bevestig is toe die skatkamer in 454 VHJ na Athene verskuif is. Wat ook al die politiek was, die praktiese gevolg van die Volkebond het behels dat Athene se vloot énige plek kon toeslaan, veral nadat die mededingende seemag Aigina verower is; regdeur die oorlog het dit beduidende voorraadprobleme vir verskeie stede – veral Korinthe – veroorsaak.

Sparta en haar bondgenote

Die resultaat van die klipharde opleiding in Sparta, wat op sewejarige ouderdom begin en as agōgē bekend gestaan het, was ’n professionele hoplieteleër in staat tot groot dissipline en relatief gesofistikeerde krygsmaneuvers wat deur die hele Griekeland vrees ingeboesem het – ’n feit waarvan Sparta se opmerkbare gebrek aan fortifikasies vir die grootste deel van hulle geskiedenis moontlik voldoende bewys lewer.

Die regionale onstabiliteit in Griekeland in die laat 6de eeu VHJ het tot die stigting van die Peloponnesiese Volkebond (ca. 505-365 VHJ) gelei wat ’n samevoeging van Korinthe, Elis, Tegea en ander state – maar nooit Argos nie – was waar elke lid gesweer het om dieselfde vyande en bondgenote as Sparta te hê. Skatpligtigheid aan Sparta was nie noodsaaklik vir lidmaatskap aan die Volkebond nie maar eerder die verskaffing van troepe wat onder die bevel van Sparta sou staan. Die Volkebond sou Sparta toelaat om tot en met die 4de eeu VHJ hegemonie (dit wil sê militêre of staatkundige heerskappy) oor die Peloponnesos daar te stel en die geweste te domineer.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Greek Hoplites [Artist's Impression]
Griekse hopliete (kunstenaar se voorstelling)
The Creative Assembly (Copyright)

Vernuwings in oorlogvoering

Soos wat met alle groot konflikte die geval is, sou die Peloponnesiese Oorlog ook veranderinge en ontwikkelings in oorlogvoering meebring. Die swaarbewapende hopliete in die falanksformasie (linies digsaamgepakte hopliete wat mekaar met hulle skilde beskerm) het steeds die Griekse slagveld gedomineer maar tydens die Peloponnesiese Oorlog het die falanks wel dieper (meer rye manne) en breër (’n langer front) geword. Die oorheersing op die slagveld deur die hopliete is ook by wyse van gemengde troepe – hopliete, ligte infanterie en kavallerie – bedreig deur die ontplooiing van verbonde wapens, ’n taktiek wat al hoe meer wydverspreid voorgekom het.

Ander ontwikkelings in oorlogvoering het die volgende behels: ’n toename in die gebruik van slawe, huursoldate en buitelanders in Griekse leërs, beter logistiek wat leërs in staat gestel het om langer in die veld te bly, en meer aandag wat tydens die keuse van militêre leiers aan vaardighede en ervaring gegee is. Wapens het oor die algemeen nie ten opsigte van vroeëre konflikte ontwikkel nie alhoewel daar uitsonderings was, soos die primitiewe vlamwerpers wat in 424 VHJ teen die houtfortifikasies van Delon gebruik is.

Sparta se invalle van Attika

Met die een kant wat oorwegend ’n landgebaseerde leër was en die ander kant ’n vername seemoondheid, is dit dalk geen verrassing nie dat die oorlog met onbesliste oorwinnings en ondoeltreffende strooptogte dekades lank voortgeduur het. Vanaf 431 VHJ het Sparta se hoofstrategie behels om Atheense grond jaarliks aan te val en soveel moontlik skade aan te rig, soos om plase af te brand, en olyfbome en wingerde af te kap. Die werklike uitwerking hiervan op die Atheense ekonomie is egter onduidelik, veral wanneer in ag geneem word dat die stad altyd seelangs herbevoorraad kon word deur middel van die stad se hawe Peiraius wat deur die Lang Mure beskerm is. Moontlik was dit bloot ’n strategie waardeur die Spartane vir die Atheners van agter hulle fortifikasies wou uitlok om ope slag te lewer maar dit was ’n versoeking waarteen Athene, en veral Perikles, altyd vasgeskop het. Athene kon en hét teruggeslaan deur troepe per skip in Spartaanse gebied aan land te sit en soortgelyke skade aan te rig.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Greek Hoplite
Griekse hopliet
Johnny Shumate (Public Domain)

In 430 VHJ is Athene hard geslaan deur ’n vernietigende plaag (wat via Persië van Egipte af oorgedra is) en Sparta het selfs hulle jaarlikse inval uitgestel om kontak daarmee te vermy. Perikles is in dieselfde jaar ontsetel en Athene het om vrede gevra maar die versoek is deur Sparta geweier. Onder Kleon en Nikias het die Atheners egter in 429 VHJ ’n suksesvolle veldtog in die Korinthiese Golf geniet en die hoop op ’n vroeë Spartaanse oorwinning blyk toe hopeloos ambisieus te gewees het.

Beleëringe

INDIEN ’N STAD TEN EINDE LAAS NÁ ’N BELEËRING GEVAL HET, WAS DIE DOOD OF SLAWERNY GEWOONLIK DIE VERSLANE VERDEDIGERS SE VOORLAND.

Beleëringe was nóg ’n algemene kenmerk van die Peloponnesiese Oorlog. Dit was reeds in gebruik in Griekse oorlogvoering maar tydens die Peloponnesiese Oorlog het dit dramaties toegeneem, met 58 van ongeveer 100 beleëringe wat suksesvol vir die aanvallers was. Beleëringskuns het twee hoofstrategieë behels: Val die stad herhaaldelik aan totdat die verdedigers oorgee of ’n bres in die mure geslaan word; en omskansing, dit wil sê bou ’n muur rondom die stad en verhonger die inwoners totdat hulle oorgee. By laasgenoemde strategie was daar ook altyd die hoop dat verraad en onderlinge struwelinge die sekuriteit van die verdedigers in gedrang kon plaas. Die tweede strategie was baie duurder en meer tydrowend aangesien dit jare kon neem om sukses te behaal. Indien ’n stad ten einde laas geval het, was die dood of slawerny gewoonlik die verslane verdedigers se voorland.

Die volgende aksie in die oorlog was die beleg van Platea ca. 429-427 VHJ wat elemente van albei beleëringstrategieë bevat het. Eerstens het die Peloponnesiese magte aggressiewer taktieke gebruik deur die dorp met ’n houtpalissade te blokkeer en ’n grondoploop te bou om die integriteit van die mure te negeer. Die Plateërs het egter op hierdie bedreiging gereageer deur selfs hoër mure te bou. Toe het die Peloponnesiërs stormramme (embole) teen die mure gebruik maar die verdedigers het hulle weereens gekortwiek deur groot balke aan kettings te laat val om die stormramme te breek. Daarna het die aanvallers begin om wagtend in te grawe vir ’n lang beleg. Hierdie strategie was suksesvol aangesien uithongering die Plateërs uiteindelik gedwing het om oor te gee, alhoewel dit eers ná twee jaar gebeur het.

Piraeus & The Long Walls
Peiraius en die Lang Mure
Dept. of History, US Military Academy (CC BY-SA)

Die oorlog rammel voort

In 428 VHJ het Athene ’n opstand op Lesbos waarby Mutilene betrokke was, meedoënloos onderdruk en in 427 VHJ is die val van Platea gevolg deur ’n burgeroorlog op Kerkura (Corfu) sowel as ’n mislukte Atheense poging om Leontinoi in Sicilië te ondersteun. In 426 VHJ het Demostenos 40 trireme (wat eintlik onderweg na Sicilië was) in ’n veldtog teen Pulos aangevoer waar die Spartane wat Sfakteria beset het deur hulle verslaan is. In 424 VHJ het die Athene ’n ekspedisie teen Megara en Beotië van stapel gestuur maar dit was nóg ’n mislukking en het ’n groot nederlaag naby Delion ingesluit. Athene kon egter wel daarin slaag om die Spartaanse eiland Kutera oor te neem. Die Spartane het ook suksesse geniet. Hulle is nou deur Brasidas aangevoer en het vir die eerste maal van nie-Spartaanse hopliete gebruik gemaak, en het verskeie polisse in Attika, vernaamlik Amfipolis, verower, alhoewel Kleon én Brasidas gesneuwel het.

In 423/421 VHJ is ’n wapenstilstand verklaar en is daar op ’n 50-jarige vrede ooreengekom. Daar was territoriale toegewings aan albei kante maar die situasie het basies teruggekeer na wat dit voor die oorlog gewees het. Individuele bevelvoerders in die veld het egter geweier om stede oor te gee en ’n bondgenootskap is tussen Mantineia, Argos, Elis, Korinthe en die Galkidikiërs gesluit. In 420 het Sparta ’n bondgenootskap met Beotië aangegaan, en in daardie selfde jaar het die nuwe Atheense leier Alkibiades ’n alliansie tussen Athene, Argos, Elis en Mantineia bewerkstellig. Dit het voorgekom of albei kante hulle voorberei het om die oorlog van meet af te begin.

In 418 VHJ het die groot veldslag by Mantineia plaasgevind toe Sparta onder aanvoering van Agis II vir Argos en haar bondgenote verslaan het. Die oorlog het nou ’n brutaler karakter begin aanneem toe Sparta al die inwoners van Hisiai (417/416 VHJ) om die lewe gebring het, en Athene in dieselfde tydperk die inwoners van Melos tereggestel het.

Alcibiades
Alkibiades
Bija (CC BY)

Die Siciliese ekspedisie

In 415 VHJ was die Atheense generaal Alkibiades die meesterbrein agter die inval van Sicilië, die grootste operasie van die hele oorlog. Athene wou Siciliese timmerhout vir hulle vloot hê en die dekmantel vir die aanval was ’n versoek om hulp deur die klein polis Segesta wat beskerming teen Sirakuse gesoek het. Op die vooraand van hulle vertrek is Alkibiades egter by ernstige beskuldigings van goddeloosheid betrek en van sy bevel onthef. Hy het nie kans gesien vir wat hy gevoel het ’n bevooroordeelde verhoor sou wees nie en het na Sparta gevlug. Onder bevel van Nikias het die militêre operasie voortgegaan maar dit was ’n algehele ramp: ’n Ondoeltreffende beleg is deur die Spartaanse leër onder leiding van Glupos opgebreek, die Atheense vloot is uit die hawe van Surakuse verdryf en sowel Nikias as Demostenes is in 413 VHJ tereggestel.

DIE OORLOG IS TOE TEN EINDE LAAS DEUR SPARTA GEWEN – IRONIES GENOEG IN ’N SEESLAG.

Aigospotamoi en oorwinning

Maar Athene was nog nie verslaan nie en het die Peloponnesos van die see af aangehou aanval. Sparta het die raad van Alkibiades gevolg en ’n fort by Dekeleia gebou om die Attiese landbou makliker met jaarlikse aanvalle op Attiese plase te ontwrig. Agis het sy hoofkwartier by Dekeleia gevestig en afgesante van verskeie polisse – vernaamlik Khios en Miletos – ontvang wat die Deliese Volkebond wou verlaat. Persië het ook toenadering by Sparta gesoek en in ruil vir Sparta se erkenning van Persiese soewereiniteit in Klein-Asië, het hulle vir die Spartane geld aangebied waarmee hulle ’n vloot kon bou om Athene aan te veg.

Die oorlog is toe ten einde laas deur Sparta gewen – ironies genoeg in ’n seeslag. Ná ’n lang rits nederlae wat hulle teen die Atheners gely het en selfs nadat hulle onsuksesvol om vrede gevra het ná die nederlaag te see in 410 VHJ teen Alkibiades by Kuzikos, was Sparta in staat om met Persiese geld en timmerhout ’n massiewe vloot van 200 trireme te bou. Dit was met hierdie formidabele mag tot sy beskikking wat Lisander daarin kon slaag om in 405 VHJ by Aigospotamoi naby die Hellespont die Atheners finaal en totaal te verslaan. Een honderd en sewentig Atheense skepe is op die strand gebuit en minstens 3 000 Atheense gevangenes is tereggestel. Met die Atheners nie meer by magte om nog ’n vloot te beman nie, en met die Deliese Volkebond ontbind en Athene self onder beleg, het die Atheners geen keuse gehad nie as om om vrede te vra. Voorwaardes vir oorgawe het die volgende ingesluit: aftakeling van die Lang Mure, ’n verbod op die herbou van ’n vloot groter as 12 skepe, en skatpligtigheid aan Sparta wat nou uiteindelik deur almal as die dominante mag in Griekeland erken is.

Nadraai

Maar Sparta se posisie as die vernaamste stadstaat in Griekeland was van korte duur. Voortgesette Spartaanse ambisies in sentrale en noordelike Griekeland, Klein-Asië en Sicilië het die stad weereens by nog ’n uitgerekte konflik betrek: die Korinthiese Oorlog met Athene, Tebe, Korinthe en Persië wat van 396 tot 387 VHJ geduur het. Die uiteinde van die konflik was die “Koningsvrede” ingevolge waarvan Sparta haar ryk aan Persiese beheer oorgedra het alhoewel Sparta gelos is om Griekeland te domineer. Maar in die poging om Tebe te vermorsel, het Sparta die kritieke veldslag by Leuktra in 371 VHJ teen die briljante Tebiese generaal Epaminondas verloor. Dalk was Persië eintlik die werklike wenner van die Peloponnesiese Oorlog, of selfs Macedonië op die lang termyn want onder Philip II was Macedonië daartoe in staat om die verswakte en wedersyds agterdogtige Griekse stadstate binne te val en te vermorsel.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2018, May 02). Die Peloponnesiese Oorlog [Peloponnesian War]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-342/die-peloponnesiese-oorlog/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Die Peloponnesiese Oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig May 02, 2018. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-342/die-peloponnesiese-oorlog/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Die Peloponnesiese Oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 02 May 2018. Web. 09 Aug 2022.