Machu Picchu

Definisie

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 04 March 2014
Beskikbaar in ander tale: Engels, Frans, Spaans, Turkse
Luister na hierdie artikel
X
Druk artikel
Machu Picchu Panorama (by Richard Twigg, CC BY-NC-SA)
Panoramiese uitsig van Machu Picchu
Richard Twigg (CC BY-NC-SA)

Machu Picchu is ’n Inka-nedersetting wat in die Urubamba Vallei, noord van Cuzco in die Hoë Andes-gebergte van Peru geleë is. Die ligging, hoog bo die Urubamba Rivier, is al as ’n vesting, keiserlike toevlug en seremoniële gebied beskryf. Dit is ca. 1450 HJ deur Pachacuti Inca Yupanqui gestig, kon op die hoogtepunt daarvan ongeveer 1 000 inwoners huisves, en is as onder die mees sakrale van alle liggings vir die Inkas gereken. Ná die ineenstorting van die Inka-ryk is Machu Picchu ontruim en vergete agtergelaat, net om in 1911 deur die ontdekkingsreisiger Hiram Bingham herontdek te word. Machu Picchu word deur Unesco as ’n wêrelderfenisgebied gelys.

Doel

Machu Picchu (wat “ou heuwel” beteken) was ’n keiserlike landgoed wat in die middel 15de eeu HJ deur die Inka-heerser Pachacuti Inca Yupanqui gestig is, en aan wie dit behoort het. Eienaarskap van hierdie terrein is later aan Pachacuti se opvolgers oorgedra. Toe dit in 1911 deur Hiram Bingham herontdek is (alhoewel plaaslike inwoners in die vallei nog altyd van die terrein se bestaan bewus was) is daar beweer dat dit die laaste hoofstad van die Inkas was. Maar dit blyk toe onwaar te gewees het toe die werklike laaste hoofstad verder stroomaf in die Urubamba Vallei by Vilcabamba ontdek is.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Nog ’n hipotese rakende die terrein wat deur vroeë geskiedkundiges aan die hand gedoen is, is dat Machu Picchu ’n vesting was; en daar is aangevoer dat die sterk mure, groot torings en droë gragte hierdie teorie staaf. Die behoefte aan fortifisering het moontlik weens ’n reeks erge droogtes ontstaan wat mededinging om hulpbronne verhewig het. Dit sal ook verklaar waarom die terrein vir baie lank nie bewoon is nie aangesien ’n verbetering in die watersituasie die noodsaaklikheid vir sulke sitadelle sou laat afneem het. Maar weereens het verdere bestudering onthul dat die meeste van die argitektuur vir godsdienstige doeleindes ontwerp is, en dat die fortifikasies moontlik net die doel gedien het om te verseker dat net ’n paar gekose mense toegang tot hierdie gewyde terrein kon verkry. Ter verdere ondersteuning van hierdie vertolking is ’n pad ontdek wat die terrein met verskeie residensiële nedersettings al met die vallei langs verbind het. Die waarskynlikste doel van Machu Picchu was dus dié van sakrale terrein, moontlik gewy aan die songod Inti; en met die bykomende doel om die onlangs oormeesterde plaaslike bevolking te herinner aan die mag van Pachacuti en die Inka-ryk wat om die hoofstad Cuzco gesentreer was. Die terrein is deur die Inkas ontruim kort voordat Pizarro en die Spaanse conquistadors hulle opwagting gemaak het. Die invallers het egter nooit Machu Picchu bereik nie, en die terrein het vir nog 400 jaar onbekend aan die breër wêreld gebly.

Map of Machu Picchu
Kaart van Machu Picchu
Hobe / Holger Behr (Public Domain)

Materiaal en uitleg

Machu Picchu is ’n goeie voorbeeld van die Inkas se praktyk om argitektuur rondom die natuurlike terrein te laat vorm aanneem. Riwwe is op plato’s opgerig waarop daar gebou kon word, en hellings is deur middel van klipbolwerke in terrasse omskep. Verder is konstruksie op so ’n manier aangepak dat dit esteties met die omgewing saamgesmelt het. Die profiel van die Sakrale Klip boots byvoorbeeld een van die bergpieke daaragter na. Laastens is vensters en deuropenings dikwels doelbewus geposisioneer om die beste uitsig oor die omliggende berge vas te vang.

Verwyder Advertensies
Advertensie
KLIP WAS ’N MATERIAAL WAARVOOR DIE INKAS SPESIALE ONTSAG GEHAD HET. DIT IS SELFS AS LEWENDE STOF BESKOU.

Klip was ’n materiaal waarvoor die Inkas spesiale ontsag gekoester het. Klip is selfs as ’n lewende stof beskou en in Ketsjoea, die Inka-taal, word die woord daarvoor as “om te begin” vertaal. Klip is met groot vaardigheid gefatsoeneer en natuurlike klipdagsome is sodanig vorm gegee om verskillende doele te dien. Onder die Torreón (sterrewag) is byvoorbeeld ’n kamer uit ’n natuurlike spleet in die klip gekap en as tempel vir die songod Inti gebruik. Die Intihuatana-klip (“Teuelpaal van die Son”) – ook bekend as die intiwatana – wat op die hoogste punt van die gewyde kompleks geleë is, is met groot sorg in ’n toestel vir astronomiese waarnemings ingekerf, en het ’n tasbare skakel tussen die aarde en die hemel gevorm. Die uitgekapte klippilaar bo op die veelhoekige klipbasis is soos ’n sonwyser gebruik om die beweging van die son aan te teken, en tydens ’n sonstilstand het priesters die son simbolies by wyse van ’n tou aan die aarde vasgebind.

Die Machu Picchu-terrein bestaan uit twee duidelike areas: ’n sentrale kompleks met geboue wat na aan mekaar staan en rondom ’n sentrale plein gerangskik is, en ’n reeks westelike terrasse. Die strukture op die oostelike en suidelike kant was waarskynlik residensieel, en volg ’n patroon van enkelkamerwonings met ’n omslote patio. Die presiese funksie van die meeste van die geboue op die terrein is egter nie vir seker bekend nie. Baie van die geboue vertoon die vername klipkap- en messelaarvaardigheid van die Inkas. Die geboue bestaan uit graniet – een van die hardste soorte klip – wat plaaslik uitgekap en met groot presisie bewerk is, en daarna afgerond is toe dit in posisie was, om blokmure te lewer wat so goed ineen pas dat dit nie nodig was om mortel te gebruik nie. Die onreëlmatige lyne van die blokke skep ook ’n bevredigende estetiese effek en maak die strukture uiters weerstandig teen aardbewings.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Kallanka, Machu Picchu
Kallanka, Machu Picchu
Flickr User: Jerry L. (CC BY-NC-ND)

Argitektuur

Onder die indrukwekkendste strukture op die terrein – weens sowel die grootte daarvan as die ongewone messelwerk – is die D-vormige toring bekend as die Torreón, wat hierbo genoem word. Die enkele venster van die toring is op die Pleiades-sterre gerig soos wat hulle in die 15de eeu verskyn het, en verdere getuienis van die gebou se astronomiese doel word gelewer deur die teenwoordigheid van ’n klip wat uit die vloer uitsteek en wat moontlik gebruik is om die gang van die son op die Junie-somersonstilstand te karteer. Die Tempel van die Drie Vensters is nog ’n indrukwekkende voorbeeld van uitnemende klipwerk en is ook as ’n astronomiese waarnemingspos gebruik. Die talle administratiewe kallanka-geboue maak ook van baie netjiese klipblokke gebruik wat perfek inmekaar gemaak pas is. Hierdie geboue was ook met klippenne toegerus wat uit die gewels gesteek het en waaraan ’n grasdak vasgemaak kon word. Nog ’n tipe gebou is die tronkagtige strukture wat moontlik gebruik is om gevange adellikes op te sluit totdat losgeld betaal is. Die kompleks het ook ’n grotstruktuur gehad, sowel as ’n offerklipblok wat in die gedaante van ’n kondor gefatsoeneer is.

Water is aan die terrein voorsien deur middel van 14 natuurlike bronne waarvan die water by wyse van 16 kanale van gesnede klip versamel en herversprei is. Nog ’n vreemde kenmerk is die kliptrappe wat van Machu Picchu op na die klein toevlug Huayna Picchu (wat “jong heuwel” beteken) hoog bo op ’n rotsrif lei. ’n Paar grafte is by die terrein opgegrawe maar dit behoort tipies aan individue van ’n laer stand, soos administratiewe personeel, sodat daar ’n skaarste is aan grafte met artikels van hoë waarde. Verder is daar ook besonder baie vroulike oorskotte. Pottebakkeryvondste afkomstig van vier afsonderlike liggings, waaronder Chuma-swartware, het ’n paar leidrade ten opsigte van die daaglikse lewe by die terrein opgelewer.

Opgrawings en herkonstruksies gaan voort by Machu Picchu – nou ’n Unesco-wêrelderfenisgebied – en vanweë die status daarvan as een van die herkenbaarste en mees gefotografeerde antieke terreine van die wêreld en ongeag die afgeleë ligging, lok dit steeds toeriste van regoor die wêreld.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Verwyder Advertensies
Advertensie

Bibliografie

World History Encyclopedia is 'n Amazon-medewerker en verdien 'n kommissie op kwalifiserende boekaankope.

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2014, March 04). Machu Picchu [Machu Picchu]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11930/machu-picchu/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Machu Picchu." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 04, 2014. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-11930/machu-picchu/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Machu Picchu." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 04 Mar 2014. Web. 02 Dec 2024.