Oorsake van die Rose-oorlog

Artikel

Mark Cartwright
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 12 February 2020

Oorspronklike teks in Engels: Causes of the Wars of the Roses

Die Rose-oorlog (1455-1487) was ’n reeks dinastiese konflikte tussen die monargie en die adel van Engeland. Die “oorlog” was ’n reeks afwisselende, dikwels kleinskaalse, veldslae, teregstellings, moorde en mislukte komplotte soos die politieke klas van Engeland in twee groepe verbrokkel het en rondom twee takke van Edward III van Engeland (r. 1327-1377) se afstammelinge vorm aangeneem het: Huis York en Huis Lancaster. Alhoewel daar verskeie redes was waarom die oorlog vier dekades lank geduur het, was die hoofoorsake van die aanvanklike uitbreking gesetel in die onbevoegde bewind van Henry VI van Engeland (r. 1422-61 & 1470-71) sowel as die ambisie van Richard, hertog van York (geb. 1411) en daarna sy seun Edward (geb. 1442). Daarbenewens was daar ook bykomende motiewe soos die wedywering onder die adel vir rykdom, verskille oor die verhouding met Frankryk, die verarmde ekonomie, die beweerde misdade van Richard, hertog van Gloucester (geb. 1452) en laastens, die ambisie van Henry Tudor (geb. 1457) om koning te raak.

Geen rose sonder dorings nie

Die gewilde naam vir Engeland se 15de-eeuse dinastiese konflikte, die “Rose-oorlog” (War of the Roses), is eerste deur die romansier sir Walter Scott (1771-1832) geskep; dit was na aanleiding van die twee betrokke families se latere kentekens (waarvan nie een in werklikheid ten tye van die oorloë die voorkeurlivrei was nie): ’n wit roos vir York en ’n rooi roos vir Lancaster. Die verdeling was egter ’n bietjie ingewikkelder as bloot hierdie twee families aangesien elkeen bondgenote onder Engeland se ander adellike families gewerf het en twee breë groepe, die volgelinge van Lancaster en dié van York, sodoende geskep is. Na gelang van gunste, sterftes en geleenthede was die bondgenote van albei kante ook daartoe geneë om deur die loop van die oorlog bondgenootskappe te wissel.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Plucking the Red & White Roses
Plucking the Red & White Roses (Afpluk van die rooi en die wit roos)
Live Auctioneers (Public Domain)

Die oorlog was ook nie ’n onafgebroke konflik nie maar eerder ’n reeks veldslae, skermutselings, ’n paar geringe beleërings en verskeie dinastiese struwelinge wat 40 jaar lank afwisselend voortgeduur het. Trouens, die gebeure was so gefragmenteer dat dit moeilik is om ’n mens voor te stel dat die deelnemers ooit onder die indruk was dat hulle in ’n koherente reeks geskiedkundige gebeure geveg het wat ons vandag ewe gemaklik met ’n blom etiketteer.

’n PRESEDENT IS GESKEP DAT DIE STEEL VAN DIE ENGELSE TROON DEUR MIDDEL VAN OORLOG EN MOORD ’n AANVAARBARE STRATEGIE VIR ’n TOEKOMSTIGE KONING WAS.

Die presiese aard van die konflik kan dalk moeilik wees om te kategoriseer maar die prys van die kompetisie was duidelik vir almal om te sien: die onbetwiste reg om oor Engeland te heers. Ná die bewind van die Lancaster-koning Henry VI en die York-konings Edward VI (1462-70 en 1471-83) en Richard III (r. 1483-85) is die “oorlog” uiteindelik deur Henry Tudor van Huis Lancaster gewen, wat toe Henry VII van Engeland (r. 1485-1509) geraak het. Henry VII het die twee mededingende huise toe herenig deur in 1486 met Elizabeth van York, dogter van Edward IV te trou, en sodoende die nuwe Huis Tudor te skep. ’n Teken van Henry se sukses was dat sy seun, Henry VIII (r. 1509-1547) sonder enige gekrakeel koning geraak het en dat die drie monarge ná hom ook uit die Tudor-lyn gekom het in ’n tydperk van die Engelse geskiedenis wat as die Goue Era daarvan beskou word.

Verwyder Advertensies

Advertisement

’n Samevatting van die oorsake

Die veelvuldige aanvanklike oorsake van die Rose-oorlog, en die redes waarom dit voortgeduur het, kan kortliks soos volg saamgevat word:

  • die toenemende neiging om konings en hul jong erfgename te vermoor – ’n strategie wat in 1399 deur Henry Bolingbroke begin is;
  • Henry VI se onvermoë om te heers, en toe sy siekte;
  • algemene ontevredenheid op ’n plaaslike vlak met Henry VI se heerskappy, sowel as die ekonomiese ineenstorting van die tydperk;
  • verskille onder die adel oor hoe die oorlog met Frankryk gevoer moet word;
  • die verskynsel “basterfeodalisme” waarvolgens ryk grondbesitters in staat was om privaat leërs bestaande uit onderhoriges te besit, rykdom op te gaar en op ’n plaaslike vlak die mag van die Kroon te verminder;
  • in die afwesigheid van veldtogte in Frankryk, kon adel met privaat leërs ’n voordeel bo mededingers in Engeland behaal en met hulle afreken;
  • die ambisie van Richard, hertog van York, om koning te raak;
  • die ambisie van Edward van York om sy vader te wreek en koning te raak;
  • die ambisie van Richard, hertog van Gloucester en die moord op sy nefies; en
  • die ambisie van Henry Tudor om die Lancaster-lyn monarge weer in te stel.

Mag is reg

Een van die eerste oorsake van die Rose-oorlog was die presedent dat dit ’n aanvaarbare strategie vir ’n toekomstige koning was om die troon van Engeland deur middel van oorlog en moord te steel. Henry IV van Engeland (voorheen bekend as Henry Bolingbroke, r. 1399-1413), die eerste Lancaster-koning, het juis dit gedoen: Hy het die troon wederregtelik bekom en sy voorganger, Richard II (r. 1377-1399), vermoor. Konings was veronderstel om as monarg gebore te word en moes dus deur God gekies gewees het om te heers. Hulle was nie veronderstel om dit op die slagveld te steel nie. Natuurlik was daar ’n paar dinastiese haakplekkies langs die pad maar dit was nie sedert William die Veroweraar (r. 1066-1087) in 1066 dat enige koning sy troon verower het deur die huidige monarg om die lewe te bring nie. Nadat hierdie grens eers deur Henry IV oorgesteek is, moes al sy opvolgers op hulle hoede wees om seker te maak dat dieselfde lot hulle nie tref nie. Trouens, die troon het nou behoort aan wie ook al die sterkste leër en die meeste ondersteuning onder die baronne gehad het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Dunstable Swan Jewel
Dunstable Swaan-juweel
The British Museum (CC BY-NC-SA)

Benewens hierdie intriges aan die bopunt van die magspiramide, was die 15de eeu ook getuie van die opwagting van wat geskiedkundiges later “basterfeodalisme” sou doop. Hierdie verskynsel – ’n gedeeltelike verwording van middeleeuse feodalisme – het landgoedeienaars in staat gestel om hulle onderhoriges, wat honderde kon behels, in enige hoedanigheid wat hulle goedgedink het, op te kommandeer. Dit het militêre diens ingesluit. Sodanige onderhoriges het dikwels ’n kenteken, byvoorbeeld ’n wildevark, swaan of blom, gedra om hulle as die dienaars van ’n bepaalde heer te identifiseer. Gevolglik het plaaslike baronne baie invloedryk geraak, en hulle woord was dikwels wet. Lojaliteite is dus van die Kroon na die plaaslike baron verplaas. Daarbenewens kon hierdie baronne uiters ryk raak en die koning ooreenstemmend armer aangesien die baronne plaaslike inkomste teruggehou het en die koning hulle nie sonder die parlement se toestemming daarop kon belas nie. Die invloedrykste baronne – wat geskiedkundiges soms “oormagtig” noem – was dus in staat om baie van die funksies van die koninklike regering oor te neem, en het daardeur sowel die rol as die mag van die koning verder verswak. Sommige baronne het hulself waardig beskou om die volgende koning te raak, en hulle kon hierdie ambisie verwesenlik deur ’n bondgenootskap met eendersdenkende baronne aan te gaan wat gewillig was om iemand met ’n sweempie koninklike bloed in sy are te volg. Kortliks het 15de-eeuse Engeland ’n gulde geleentheid vir ambisieuse en meedoënlose opportuniste gebied.

Die swakte van Henry VI

HENRY VI WAS ONWYS GENOEG OM BY DISPUTE ONDER EDELLUI BETROKKE TE RAAK, EN DIT HET LOJALITEITE NET VERDER GEPOLARISEER.

Nog ’n vroeë probleem waarna ons die oorsprong van die Rose-oorlog kan terugspoor, is die vroeë dood van Henry V van Engeland (r. 1413-1422).Toe Henry in 1422 weens siekte oorlede is, het hy sy seun as erfgenaam nagelaat maar die jonge Henry VI was nog nie eers een jaar oud nie. Die het beteken dat ’n heersende raad oor Engeland geregeer het en dat twee ryksbestuurders, wat deur Henry V aangestel is, onderskeidelik oor Engeland en die Kroon se Franse gebiede geheers het: Humphrey, hertog van Gloucester ( 1390-1447) en John, hertog van Bedford (1389-1435). Albei was ’n oom van die babakoning Henry, met Henry se grootoom, Henry Beaufort, biskop van Winchester, ’n derde belangrike figuur tydens hierdie periode. So ’n situasie met gedeelde mag was ryp om uitgebuit te word deur enige baron wat gretig was om sy eie posisie ten koste van sy mededingers te bevorder.

Die koning – selfs nadat hy volwassenheid bereik het – was al te gretig om mense te behaag maar hy kon maklik gelei word deur wie ook al by hom gehoor gevind het. Henry was onwys genoeg om by dispute onder edellui betrokke te raak, en dit het lojaliteite net verder gepolariseer. Soos die Honderdjarige Oorlog (1337-1453) na ’n einde se kant toe begin staan het, het die Engelse baronne boonop oor die beleid in Frankryk verskil. Sommige was ten gunste van die direkte benadering wat Henry V geneem het om die Franse in veldslae die stryd aan te sê, ander het teen die enorme koste van so ’n strategie vasgeskop, terwyl ander heeltemal uit Frankryk wou onttrek. ’n Verdere gevolg van die gebrek aan militêre aktiwiteit in Frankryk was dat Engelse baronne hulle privaat leërs – dikwels uit milisie op hul landgoedere saamgestel – kon gebruik om hul eie belange tuis, pleks van dié van die Kroon oorsee, na te streef.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Family Tree of House Lancaster & York
Stamboom van Huis Lancaster en Huis York
Shakko (CC BY-SA)

In 1445 was die huwelik van Henry met Margaret van Anjou (1482 gesterf) – Charles VII se niggie – nóg ’n bron van ontevredenheid. Sommige strydlustige baronne het dit as kapitulasie beskou terwyl ander die gebrek aan ’n blywende vrede weens die huwelik betreur het. Koningin Margaret het na bewering ’n oormatige invloed op die koning gehad, en Henry het blykbaar glad nie in oorlogvoering belanggestel nie. Deur sy ondersteuning van ongewilde figure aan die hof – veral William de la Pole, die graaf van Suffolk – het die koning sommige baronne verder vervreem. Die rebellie in 1450 onder aanvoering van Jack Cade, waartydens burgers geprotesteer het teen hoë belasting, vermeende korrupsie aan die hof, ’n afwesigheid van geregtigheid op plaaslike vlak en die ekonomiese ineenstorting wat weens die Honderdjarige Oorlog met Frankryk tot ’n afname in handel gelei het, het sowel tuis as in die buiteland verdere fokus op Henry se wanbestuur geplaas. Die burgers het miskien nie ’n direkte invloed op die regering gehad nie maar die onmin het moontlik daardie adel wat gretig was om die regime omver te werp, nóg ’n verskoning buiten die bevordering van hul eie belange gegee.

Toe Henry VI in 1453 sy eerste episode kranksinnigheid ervaar het, het die magtige baronne rondom hom ’n geleentheid gesien om hul eie posisie aan die hof te verbeter, moontlik selfs om die troon oor te neem. Henry het sy siekte moontlik van sy oupa aan moederskant, Charles VI van Frankryk (r. 1422-1461), geërf, en die nederlaag van die Honderdjarige Oorlog was dalk die faktor gewees wat Henry se gees oor die rand gedryf het. Die resultaat van hierdie debakel was dat die Engelse Kroon al hulle gebied in Frankryk buiten Calais verloor het. Henry het so siek geraak dat hy nie kon beweeg of praat of enigiemand kon herken nie. Onder hierdie omstandighede het die koninkryk ’n ryksbestuurder benodig en in 1454 is Richard, hertog van York – destyds moontlik die magtigste en bekwaamste van die Engelse baronne – vir die rol gekies.

Die groot aanspraakmaker: Richard, hertog van York

Richard, hertog van York, was nou die Beskermheer van die Ryk, maar hy wou meer hê. Die hertog wou benoem word as erfgenaam van Henry VI, wat op daardie stadium geen kinders gehad het nie. Richard het wel ’n mate van aanspraak op die koninklike lyn gehad aangesien hy die agterkleinseun van Edward III van Engeland was, sowel as die nefie van die graaf van March wat op sy beurt weer daarop aanspraak gemaak het dat hy die erfgenaam van Richard II van Engeland (r. 1377-1399) was. Richard is ook deur sommige mense as verteenwoordigend van hervorming beskou, ’n man wat die korrupte regering van Henry VI kon uitsorteer, en Engeland se klaaglike ekonomiese en militêre lot kon herstel. Richard het ook die ondersteuning van invloedryke families soos die Nevilles van Middleham gehad wat op hulle beurt weer bondgenote in hul eie stryd teen die Percy-familie en ander gesoek het.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die probleem was dat Henry se vrou, koningin Margaret, Richard gehaat het. Boonop was daar ’n mededingende kandidaat wat ook gretig was om die volgende koning te raak: die graaf van Somerset wat ook ’n nakomeling van Edward III was, maar deur die koning se seun, John van Gaunt, vader van Henry IV van Engeland (r. 1399-1413), eerste heerser van Huis Lancaster. Hierdie twee manne het groot mededingers geraak en hulle veldslag by St. Albans op 22 Mei 1455, wat deur Richard gewen is, was die eerste veldslag van die Rose-oorlog.

Toe Richard, hertog van York op 30 Desember 1460 by die Slag van Wakefield teen ’n leër getrou aan Henry VI sneuwel, het dit voorgekom of die Rose-oorlog daar op ’n einde sou loop. Maar Edward, die hertog van York se seun, gesteun deur die invloedryke en uiters ryk Richard Neville, graaf van Warwick (1428-1471) is tot plaasvervanger van sy vader en van koning Henry bevorder. En toe Edward in Maart 1461 by die bloedige Slag van Towton – die grootste en langste veldslag in Engelse geskiedenis – seëvier, is dit presies wat gebeur het: Henry VI is onttroon terwyl Edward die eerste York-koning, Edward IV, geraak het.

Tronedans: Edward IV

Edward IV se bewind is kortstondig onderbreek toe sy ou bondgenoot, die graaf van Warwick, teen hom gedraai en sy naam as “koningmaker” gestand gedoen het deur Henry VI in 1470 in die amp van koning te herstel. Edward het egter die volgende jaar sy troon op die slagveld teruggewen en Henry in die Londense Toring laat vermoor. Die graaf van Warwick en Henry se enigste seun het in die stryd gesterf en koningin Margaret is in die tronk opgesluit. Dit het voorgekom of die York-huis die Rose-oorlog gewen het. Edward het sy oorwinning gekonsolideer deur alle oorblywende invloedryke Lancaster-volgelinge en enigiemand anders wat ontrou was, uit te suiwer. Die koning het geglo dat selfs sy eie broer George, hertog van Clarence (1449-1478), skuldig aan verraad was, en het hom vermoor. Edward se bewind was merendeels vreedsaam, en die veelbenodigde stabiliteit en afwesigheid van veldtogte in Frankryk het beteken dat die ekonomie ook herstel het.

Murder of the Princes in the Tower
Moord op die prinse in die Toring
Art UK (Public Domain)

Richard III: alleraakligste moord

Richard, hertog van Gloucester (1452 gebore) was die jonger broer van Edward IV. Richard het sy broer in verskeie gewigtige veldslae teen die Lancaster-huis bygestaan maar soos sy gelyknamige vader het sy ambisie na die grootste prys van almal gehunker. Richard was nie oortuig dat vrede met Frankryk die beste beleid was nie en kon moontlik met Edward oor laasgenoemde se behandeling van George, hertog van Clarence, verskil het. Nog ’n rede vir die verdeeldheid in die York-kamp was Edward se vrou, Elizabeth Woodville (1437-1492) wat na bewering teen George saamgesweer het en daaraan skuldig was dat sy haar eie familie bo ander begunstig het.

Richard se kans het gekom toe Edward in 1483 onverwags oorlede is, moontlik weens ’n beroerte. Die koning is deur sy seun Edward (1470 gebore) opgevolg maar hy was net 12 jaar oud. Weereens het die baronne rondom ’n jeugdige monarg geswerm, en om die oorhand geworstel. Die jong Edward V van Engeland het net vanaf April tot Junie geregeer, en het nooit eers kans gehad om gekroon te word nie. Edward en sy jonger broer Richard (1473 gebore) is in die Londense Toring opgesluit waar hulle as die “prinse in die Toring” bekend geraak het. Dit was egter nie Lancaster-samesweerders wat hulle daar ingekerker het nie maar hulle eie oom, die hertog van Gloucester. Richard is deur Edward IV as die Beskermheer van die Ryk benoem maar toe die twee prinse verdwyn het, is dit algemeen aanvaar dat Richard hulle vermoor het – ’n algemene aantyging wat deur latere Tudor-geskiedkundiges en William Shakespeare (1564-1616) omhels is. In 1483 het die hertog homself tot koning Richard III laat verklaar maar om die troon deur middel van so ’n verskriklike misdaad in te palm, het net moeilikheid uitgelok met selfs York-voorstanders wat deur die daad verontrus was. Die Lancaster-kamp, nou deur Henry Tudor aangevoer, was baie verswak maar steeds ’n bedreiging en hulle het hul kans gesien om die troon weer terug te gaps.

Die Rose verenig: Henry Tudor

Deur die onregmatige Beaufort-lyn wat van John van Gaunt, ’n seun van Edward III (r. 1327-1377) afgestam het, het ’n bietjie koninklike bloed wel deur Henry Tudor se are gevloei. Ongeag die wettig verklaring van die Beaufort-lyn in 1407 was dit nie veel van ’n koninklike konneksie nie maar nadat Henry VI geen oorlewende erfgenaam nagelaat het nie, was dit die beste waarmee die Lancaster-huis moes sien kom klaar. Henry Tudor het ’n bondgenootskap aangegaan met die vervreemde Woodvilles, sodanige invloedryke here soos die hertog van Buckingham wat nie gelukkig met Richard se uitdeel van landgoedere was nie, sowel as enigeen wat gretig was om te sien dat die koning kry wat hom toekom. Nog ’n belangrike bondgenoot was die nuwe koning oorkant die Kanaal, Charles VIII van Frankryk (r. 1483-1498).

In 1484 is Edward, seun en erfgenaam van Richard III, oorlede en weereens het die Lancaster-volgelinge ’n sprankie hoop bespeur. In Augustus 1485 het Henry Tudor met ’n leërmag Franse huursoldate by Milford Haven in suid-Wallis geland en opgeruk om Richard se leër op 22 Augustus 1485 by Bosworth-veld in Leicestershire die stryd aan te sê. Richard is deur sommige van sy belangrikste bondgenote versaak en die koning het omgekom toe hy Henry Tudor self onbesonne stormgeloop het. Die nuwe koning is op 30 Oktober 1485 as Henry VII van Engeland (r. 1485-1509) gekroon en alhoewel daar nog ’n paar geringe uitdagings was, het die Tudor-dinastie tot en met 1603 ononderbroke oor Engeland geheers.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Mark Cartwright
Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Cartwright, M. (2020, February 12). Oorsake van die Rose-oorlog [Causes of the Wars of the Roses]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1498/oorsake-van-die-rose-oorlog/

Chicago-styl

Cartwright, Mark. "Oorsake van die Rose-oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig February 12, 2020. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-1498/oorsake-van-die-rose-oorlog/.

MLA-styl

Cartwright, Mark. "Oorsake van die Rose-oorlog." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 12 Feb 2020. Web. 25 Oct 2021.