Marcus Aurelius: filosoofkeiser of filosoofkoning?

Artikel

Steven Umbrello
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 22 July 2015

Oorspronklike teks in Engels: Marcus Aurelius: Philosopher Emperor or Philosopher-King?

Medeskrywers: Steven Umbrello en Tina Forsee

Dit is baie algemeen om in sowel akademiese as meer nou verbonde stoïese sirkels te hoor dat daar na Marcus Aurelius (121-180 HJ) as die “filosoofkoning” verwys word. Dit is nie ’n idee wat eintlik vurig betwis word nie. Marcus Aurelius was beslis ’n merkwaardige individu. Hy is eers deur die keiser Hadrianus (76-138 HJ) aangeneem, en later deur Antoninus Pius (86-161 HJ). Marcus het onderrig by die beste leermeesters in retoriek, digkuns, Grieks, Latyn en natuurlik filosofie ontvang. Laasgenoemde is die vak wat hy die meeste gekoester het en dit was dan ook filosofie wat die grootste invloed op die jongman gehad het. Die 2de-eeuse Romeinse geskiedkundige Cassius Dio (155-235 HJ) het die volgende oor Marcus te sê gehad:

Behalwe dat hy oor al die ander deugde beskik het, het hy beter geheers as enige ander wat nog ooit in enige magsposisie was. Hy kon nou wel nie kordaatstukke aan die dag lê wat fisiese behendigheid behels het nie, en tog het hy sy liggaam ontwikkel van baie swak tot een wat tot groot uithoudingsvermoë in staat was … Hy het homself van alle oortredinge weerhou en het, hetsy uit vrye wil of onwillekeurig, niks verkeerd gedoen nie; maar die oortredinge van ander, veral dié van sy vrou, het hy verdra, en dit nóg ondersoek nóg gestraf. So lank as wat iemand enigiets goeds gedoen het, sou hy hom loof en hom gebruik vir die diens waarin hy uitgeblink het, maar aan die persoon se ander gedrag het hy geen aandag veroorloof nie; want hy het te kenne gegee dat dit vir iemand onmoontlik is om sodanige mense te skep wat jy graag wil hê, derhalwe is dit gepas om diegene wat reeds bestaan, in diens te neem vir welke diens ook al elkeen van hulle aan die Staat kan lewer. En dat sy hele gedrag nie aan skyn nie maar aan werklike voortreflikheid toe te skryf was, is duidelik; want alhoewel hy agt-en-vyftig jaar, tien maande en twee-en-twintig dae geleef het, waarvan hy ’n aansienlike tyd as assistent van die eerste Antoninus [Pius] deurgebring het, en self negentien jaar en elf dae lank keiser was, het hy van die begin tot die einde dieselfde gebly, en nie in die geringste verander nie. Hy was dus werklik ’n goeie man en van alle skyn ontdaan gewees. (Cassius Dio. Romeinse Geskiedenis 72. 34-35)

Marcus word veral onthou vir sy steedsbestaande teks wat vandag as Die meditasies (The meditations) bekend staan. Dit was die keiser se persoonlike joernaal waarin al sy innigste gedagtes neergepen is. In Die meditasies sien ons dat Marcus sy kennis oor stoïese filosofie gebruik het om sy gedrag te wysig; hy het as't ware toegepas wat ons vandag as kognitiewe-gedragsterapie ken. Die vastheid en grasie van sy karakter het vir hom respek onder sowel die hoër stand as die plebejers verwerf.

Verwyder Advertensies

Advertisement

MARCUS AURELIUS HET GEVOEL DAT HY ’n FUNDAMENTELE PLIG TEENOOR ANDER MENSE HET EN HET HOMSELF AS ’n WÊRELDSBURGER BESKOU, ’n KOSMOPOLIET IN DIE WARE SIN VAN DIE WOORD.

Marcus se doelwit was om die beste – die deugsaamste – persoon te word wat hy kon wees. Hy het homself en die wêreld waarin hy geleef het – onstuimig soos dit was – vanuit ’n kosmiese perspektief beskou. Omdat Marcus gevoel het dat hy ’n fundamentele plig teenoor ander mense het, het hy, soos Socrates, homself nie bloot as keiser van Rome of ’n Romeinse of Latynse burger beskou nie, maar eerder as ’n wêreldsburger, ’n kosmopoliet in die ware sin van die woord.

Marcus se stoïsisme was uniek. Anders as sy stoïese voorgangers, kan ons sien hoe die keiser in staat was om die ongelooflike probleme waarvoor hy te staan gekom het, die hoof te bied. Hy was ’n bekwaalde man wat konstante politieke intrige, oorlog op die grense en moeilike familiesake moes hanteer. Ten spyte van dit alles kon hy steeds daarin slaag om homself emosioneel te beheer, om op ’n ordelike en regverdige wyse te regeer, en om natuurlik sy eie deug te ontwikkel. Daarweens skryf Dio die volgende:

Verwyder Advertensies

Advertisement

Hy was egter nie so gelukkig as wat hy verdien het om te wees nie want hy was nie liggaamlik sterk nie en was regdeur sy hele bewind by ’n rits probleme betrokke. Maar so ver dit my aangaan, bewonder ek hom juis weens hierdie rede, dat hy ten midde die ongewone en buitengewone teëspoed sélf oorleef het, én die ryk bewaar het. (Cassius Dio. Romeinse Geskiedenis 72. 36)

Marcus Aurelius was keiser van die hele Rome, ’n koning vir honderdduisende mense, sowel as ’n filosoof. Hy was negentien jaar lank die filosoofkoning van Rome. Die vraag is egter of Marcus Aurelius slegs ’n filosoofkoning in die letterlikste sin van die begrip was, en of hy ’n filosoofkoning was soos wat Plato in sy magnum opus, Die Republiek beskryf? Wanneer mense Marcus die “filosoofkoning” noem, is dit moeilik om te onderskei na watter een van die twee filosofiese monarge hulle verwys. Hierdie artikel werp hopelik ’n bietjie lig op die verskil, en beskryf ook Marcus se filosofiese bewind akkuraat.

Roman Emperor Marcus Aurelius
Romeinse keiser Marcus Aurelius
Bibi Saint-Pol (Public Domain)

Die paradoks van die filosoofkoning

Skeptiese houdings jeens die deugde van filosofie het die afgelope twee duisend jaar nie veel verander nie. Aristophanes het Socrates gespot dat hy met sy kop te hoog in die wolke gestaan het, en Plato vertel die storie van Thales wat so versonke in sterrekyk was dat hy in ’n put geval het. Selfs tóé is filosowe as niks meer as ’n spul breedsprakige remskoene beskou wat nie eers weet hoe om hul eie skoenveters vas te maak nie. Of, om dan minder anachronisties te wees: Hulle was remskoene wat nie eers skoene, of sandale, gedra het nie, asof hulle met hulle armoede en hul gebrek aan materialistiese besorgdheid wou pronk.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Toe Plato daarop aangedring het die enigste manier waarop geregtigheid kan bestaan, is wanneer ’n filosoof koning raak, of andersom, was hy baie bewus van die publiek se negatiewe indruk van filosofie. Filosofie sal kinders leer dat dit in die haak is om hul ouers pak te gee. Filosofie sal mense leer dat dit in die haak is om moord te pleeg aangesien die waarheid relatief is. Filosofie sal die beoefenaars daarvan teen tradisionele godsdiens draai. Filosowe sal jou ’n hewige fooi laat betaal net om jou te leer hoe om die swakker argument die sterker een te laat verslaan. Filosofie sal van jou ’n nuttelose burger maak.

Die konsep van ’n filosoofkoning was destyds net so weersinwekkend soos wat dit vandag is. Filosoofkonings? Watter beter retoriese teelaarde vir tiranniese diktators soos Hitler en Stalin? Min mense neem die idee ernstig op. Selfs onder baie filosowe is die idee aanstootlik.

En tog was Plato nie besig om die spot te dryf nie. Dalk paradoksaal, vrymoedig, selfs vermetel, maar spot, dié het hy nie gedryf nie. Vir hom was die beoefening van filosofie iets gans anders van wat in sy tyd “filosofie” genoem is. Ons moet in gedagte hou dat die ware filosoof ’n ideaal is. Die persoon moet kennis van die goeie dra. In hierdie geval is daar geen feilbaarheid, geen menslike swakheid waarvan rekenskap gegee moet word nie. Indien so ’n persoon wel bestaan het, het Plato voorspel, sou niemand die filosoof se kundigheid erken het nie. Om ’n waarlik regverdige samelewing teweeg te bring, is bykans onmoontlik.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Die ware filosoof word gelyk gestel aan die kaptein van ’n skip wat deur sy bemanning as nuttelose sterrekyker beskou word. Dis ’n geskikte metafoor wat sinspeel op die storie van Thales. Plato hanteer die metafoor met doelbewuste dubbelpratery: Navigasie hang natuurlik van sterrekyk af alhoewel daar in die geval van die kaptein vermoedelik geen metafisiese navrae betrokke is nie. Hier sien ons sterrekyk as techne, vakkundigheid, ’n praktiese kuns. Die kaptein se kennis van die sterre is soos die dokter se kennis van gesondheid, of die rekenaarfoendi se kennis oor hoe om jou rekenaar van daardie virus te bevry. In sulke gevalle wend ons ons tot deskundiges vir hulp want ons wéét dat ons nie weet nie. In die skipmetafoor herken ons, die lesers, die dwaasheid van die bemanning om die kaptein se kennis te verwerp.

Die punt is dat Plato se ideale filosoofkoning ’n deskundige in staatsmanskap is wat in werklikheid weet hoe om geregtigheid teweeg te bring. Indien ons weet dat so ’n persoon bestaan, sal ons ons outomaties na hierdie filosoof wend wanneer ons hulp nodig het. Maar dis juis waar die haakplek lê. Ons weet nie. En hoe kan ons? Want elke geval moet aan sig eie meriete geoordeel word.

Daarin lê die paradoks van die filosoofkoning: Indien almal deskundiges in geregtigheid was, sou ons ’n filosoofkoning kon eien; maar dan sou ons nie een benodig het nie. Aangesien ons nie deskundiges is nie, hoe kan ons weet wie onder ons ’n filosoofkoning is? Sonder kennis van wat goed is (die goeie, volgens Plato), kan ons nie sê nie. Maak filosowe goeie heersers? Die beste wat ons kan doen, is om na die verlede te kyk en sydelings tot ’n benaderde slotsom te kom.

Verwyder Advertensies

Advertisement

Marcus Aurelius Equestrian Statue
Marcus Aurelius, perdestandbeeld
Mark Cartwright (CC BY-NC-SA)

Die bewys lê in sy mag.

Verraad, ’n plaag en oorlog – ten spyte van dit alles was Marcus in staat om die wilskrag te monster om die delikate balans van mag te beteuel en die ryk behoue te laat bly. Hy het die era in stand gehou wat as Rome se “Silwer Tydperk” bekend staan, en gedoen wat hy kon om die lewens van sy burgery so voorspoedig en stabiel moontlik te maak. Oor Marcus se karakter is daar gesê dat hy streng maar nie verhard, beskeie maar nie skugter, en ernstig maar nie stug was nie (Historia Augusta. 4. 5). Sy interaksie met mense van alle stande is soos volg beskryf:

Hy het werklik niks anders teenoor die mense opgetree as wat iemand in ’n vry staat sou optree nie. In al sy weë was hy merkwaardig getemperd deurdat hy mense van boosheid weerhou het en hulle aangespoor het om goed te doen; hy was vrygewig met sy beloning, toegeeflik met sy begenadiging, en sodoende het hy die slegte goed gemaak, en die goeie báie goed; hy het selfs die kritiek van nie min nie met selfbeheersing verdra. (Historia Augusta. 12. 1)

As stoïsyn het Marcus ’n onwrikbare pligsbesef teenoor diegene onder hom in die hiërargie gekoester; hy was ’n diensvaste man en sou alles doen wat nodig was om te sorg dat sy doel verwesenlik word. Toe die Germaanse stamme die grensbewoners begin aanval het, het Marcus – eerder as om die publiek se belasting te verhoog om die veldtog teen die stamme te befonds – al sy keiserlike besittings verkoop om vir die onderneming te betaal. Hy het so ’n daad nie bloot as nodig beskou nie, maar as een wat deur sy plig in so ’n posisie van rykdom en mag genoodsaak is.

Wat die uitdeel van straf in die regstelsel betref, het Marcus se filosofiese dissipline ook hier sy besluite gerig. Die Historia Augusta sê die volgende van Marcus:

Dit was normaal vir [Marcus] om alle misdade met ligter vonnisse te straf as wat oor die algemeen deur die wette opgelê is, maar soms, teenoor diegene wat ooglopend aan ’n ernstige oortreding skuldig was, was hy onversetlik … Voorts het hy hom nougeset by geregtigheid gehou, selfs in sy omgang met vyande wat gevange geneem is. Hy het tallose buitelanders op Romeinse grond laat vestig. Historia Augusta 24. 1)

Die keiser het sy hele lewe soos ’n ware filosoof geleef, hy het soos ’n filosoof gepraat en hy het soos ’n filosoof geheers.

Want so toegewyd was Marcus tot die stoïese filosofie wat hy van die allerbeste leermeesters geleer het en self van elke bron bekom het, dat sy eie onverstoorbaarheid so groot was dat hy sy gesigsuitdrukking – nie in vreugde óf in smart – ooit verander het nie. (Historia Augusta 16. 3)

Hy was vrygewig, toegeeflik en het baie van die moderne konsepte van die republikeinse gesindheid beliggaam terwyl hy terselfdertyd die hoogste setel van keiserlike mag beklee het.

’n Filosofiese demokrasie

Ons heg waarde aan demokrasie omdat ons die mag het om ’n tiran uit die kussings te lig. Demokrasie is realisties in terme van menslike evaluering: Daar sal soveel, indien nie meer nie, bedrieglike filosoofkonings wees as wat daar onbetroubare motorwerktuigkundiges is. Demokrasie stel ons in staat om hulle uit te daag, ander te waarsku, en hierdie indringers op hulle plek te sit. Vryheid van spraak is ’n uiters belangrike beskermingsmaatreël.

’n Demokratiese stelsel maak egter daarop staat dat ons almal weet wat vir ons goed is, dat die goeie deur ons kollektiewe kennis teweeg gebring kan word. Slegte dinge gaan wel gebeur maar verandering wink immer op die horison. “Verandering” is iets waardeur ons so bekoor geraak het maar dit is ’n politieke slagspreuk wat staat maak op veronderstelde algemene misnoeë en die aanname dat verandering ’n verbetering tot stand sal bring.

Maar is ons kollektief deskundiges op die gebied van deug en geregtigheid? Indien ons almal aan die stuur van die skip is, waarheen gaan dit dan? Die winde dryf eers in die een rigting, en dan in die ander. In ’n demokrasie is onderrig van die uiterste belang maar onderrig is self nóg ’n element wat deur die storm van menings toegetakel word. Die probleme van state, of van die mensdom self, sal geen einde ken nie totdat filosowe konings in hierdie wêreld raak, of totdat diegene wat ons tans “konings” en “heersers” noem werklik filosowe raak, en politieke mag en filosofie in dieselfde hande beland.

Demokrasie is ’n woord wat vandag ’n positiewe konnotasie het, en om goeie rede. Maar onderrig was nie bedoel om gedemokratiseer te word nie. ’n Filosofiese onderrig sal ons allermins leer hoe om leë retoriek van geldige argumente te onderskei, hoe om informele denkfoute te eien. Dit is nodig wanneer ons ons “kapteine” kies, en behoort by openbare onderrig ingesluit te word.

Marcus Aurelius Statue, Ny Carlsberg Glyptotek
Standbeeld van Marcus Aurelius, Ny Carlsberg Glyptotek
Carole Raddato (CC BY-SA)

Die seun wat ’n filosoof sou word

Marcus Aurelius was ’n ware kryger; hy het nie met sy lewe gedans nie, dit was eerder ’n konstante boksgeveg. Hy het sy bes gedoen om sy kop hoog te hou en dié rondom hom te inspireer om beter te raak as wat hulle was.

Selfs as seun het hy filosofie intensief bestudeer. Toe hy twaalf jaar oud was, het hy soos ’n filosoof aangetrek, en later ook die uithouvermoë van ’n filosoof omhels – hy het in ’n Griekse mantel gestudeer en op die grond geslaap. Met ’n bietjie gesukkel kon sy moeder hom egter oorreed om op ’n rusbank te slaap wat met dierepelse bedek was. (Historia Augusta. 2. 6. )

In sy laaste dae kan ons sien hoe selfs die leër, wat hy in die noorde ten stryde aangevoer het, gereageer het toe hulle hoor van sy siekte wat op die ou einde sy lewe sou neem: “Die leër, toe hulle hoor van sy siekte, het luid geween, want vir hom alleen was hulle lief.” (Historia Augusta. 28. 1) Selfs op sy sterfbed was Marcus onwrikbaar in sy uitleef van stoïese deug. Onaandoenlik ten opsigte van sy eie onvermydelike afsterwe, het hy aan die geliefdes wat hom toegekyk het, gesê, “Moenie vir mý huil nie maar dink eerder aan die siekte en die dood van soveel ander.” (Historia Augusta. 28. 1)

Die ryk het sinchronies saam met Marcus bestaan; dit het volhard vir so lank en so goed as wat hy het. Sy afsterwe het die einde van ’n era en die begin van die ryk se verval aangedui. Oor die dood van Marcus skryf Cassius Dio “ … ons geskiedenis versink nou van ’n koninkryk van goud tot een van yster en roes” (Cassius Dio, Romeinse Geskiedenis 72. 36).

En nou kom ons ten einde laas by die vraag wat aan die begin van hierdie artikel te berde gebring is: Was Marcus Aurelius die filosoofkoning van Plato?

Die konsep van Plato se Kallipolis en die filosoofkoning wat daaroor heers, is uiters genuanseer en vergestalt baie streng begrippe soos die harmoniëring van die vernaamste waardes “wysheid, moed, selfdissipline en moraliteit” (Plato, Die republiek 427e), sowel as kennis van die goeie. Marcus voldoen moontlik aan die beskrywing, of dalk nie. Marcus se lewe en bewind sou beslis vir Plato ’n vertroosting gewees het in die sin dat ’n filosoof inderdaad ’n koning kan wees, en dat sodanige heerser ’n filosofiese lewenstyl kan handhaaf, en sy staatsadministrasie daardie wysheid deelagtig kan maak. Marcus, alhoewel hy miskien nie die filosoofkoning van Plato se Kallipolis was nie, was steeds ’n filosoofkoning in die mees letterlike sin.

Die stoïese begrip van die wysgeer verskil natuurlik van die Platoniese begrip van die geharmonieerde siel, maar albei is dit eens dat die sleutel tot ’n regverdige samelewing ’n heerser is wat hulle onderskeie idees van geharmonieerde deug vergestalt. In sy magnum opus The Decline and Fall of the Roman Empire eien Edward Gibbon die grootsheid van die Antonynse heerskappy en verklaar:

Indien ’n beroep op iemand gedoen sou word om daardie tydperk van die geskiedenis van die wêreld te bepaal waartydens die kondisie van die mensdom die gelukkigste en voorspoedigste was, sou hy nie sonder huiwering nie daardie era noem wat vanaf die troonsbestyging van Nerva tot en met die afsterwe van Marcus Aurelius verloop het. Die verenigde bewinde van die vyf keisers van die era is moontlik die enigste tydperk in die geskiedenis waartydens die gelukkigheid van ’n gerekende volk die enkele doelwit van hulle regering was. Die vorme van die burgerlike bestuur is versigtig behou deur Nerva, Trajanus, Hadrianus en die twee Antonynse keisers, wat hulle in die beeld van vryheid verheug het, en hulle blymoedig as die aanspreeklike gesante van die wette beskou het. Sodanige prinse het die eer verdien om die republiek te herstel, indien die Romeine van hulle era maar net in staat was om ’n rasionele vryheid te geniet.” (Gibbon, 1909, p. 78)

Marcus was moontlik nie Plato se filosoofkoning nie maar hy was ongetwyfeld die filosoofkeiser.

Toevoegsel

Baie van die aanhalings wat gebruik word om die punte in hierdie artikel oor die lewe, bewind en karakter van Marcus Aurelius te regverdig, is geneem uit die antieke teks bekend as die Historia Augusta, daarvoor berug dat daar oor die betroubaarheid van baie dele daarvan gedebatteer word. Ongeag die geldigheid daarvan, stem baie van die tekste wat na sy lewe verwys – onder andere Cassius Dio – egter koherent ooreen met die karakter wat die Historia Augusta van Marcus Aurelius uitbeeld.

Verwyder Advertensies

Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Steven Umbrello
Steven Umbrello het klassieke werke en filosofie aan die Universiteit Toronto bestudeer. Sy primêre navorsingsbelangstelling wentel om die stoïese filosofie, transhumanisme en die etiek van ontluikende tegnologie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Umbrello, S. (2015, July 22). Marcus Aurelius: filosoofkeiser of filosoofkoning? [Marcus Aurelius: Philosopher Emperor or Philosopher-King?]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/2-817/marcus-aurelius-filosoofkeiser-of-filosoofkoning/

Chicago-styl

Umbrello, Steven. "Marcus Aurelius: filosoofkeiser of filosoofkoning?." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig July 22, 2015. https://www.worldhistory.org/trans/af/2-817/marcus-aurelius-filosoofkeiser-of-filosoofkoning/.

MLA-styl

Umbrello, Steven. "Marcus Aurelius: filosoofkeiser of filosoofkoning?." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 22 Jul 2015. Web. 21 Oct 2021.