---
title: Die Mongoolse Ryk
author: Mark Cartwright
translator: Eduan Naudé
source: https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17448/die-mongoolse-ryk/
format: machine-readable-alternate
license: Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike (https://creativecommons.org/licenses/by-nc-sa/4.0/)
updated: 2021-05-05
---

# Die Mongoolse Ryk

Auteurs deur [Mark Cartwright](https://www.worldhistory.org/user/markzcartwright/)_
Vertaal deur [Eduan Naudé](https://www.worldhistory.org/user/eduanhnaude)_

Ná die aanvanklike verowerings van Djenghis Khan (ook bekend as Chinggis, r. 1206-1227 HJ), stigter van die Mongoolse Ryk (1206-1368 HJ) het die Ryk uiteindelik vir Asië van die Swartsee tot by die Koreaanse skiereiland gedomineer. Djenghis Khan was die eerste Groot Khan of “universele heerser” van die Mongoolse volke. Djenghis het die ryk gesmee deur die nomadiese stamme van die Asiatiese steppe te verenig en ’n uiters doeltreffende leër te skep wat op vinnige, ligte en hoogs gekoördineerde kavallerie geskoei was. As kranige ruiters en boogskutters was die Mongole onstuitbaar en het hulle leërs in Iran, Rusland, Oos-Europa, China en baie ander plekke verslaan.

Die nasate van Djenghis het elkeen oor ’n deel van die ryk – die vier khanate – geheers waarvan die Mongoolse Yuan Dinastie in China (1271-1368 HJ), wat deur [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17878/kublai-khan/) (r. 1260-1279 HJ) gestig is, die magtigste was. Die Mongole het uiteindelik deel van die gesete samelewings geraak wat hulle so maklik oorweldig het en baie het van tradisionele sjamanisme na Tibettaanse Boeddhisme of Islam oorgeskakel. Dit was ’n algemene simptoom van die Mongole dat hulle nie net ’n deel van hulle kulturele identiteit verloor het nie maar dat hulle ook hulle wydberoemde militêre vaardigheid ingeboet het soos al vier die khanate voor skadelike dinastiese twiste en die leërs van hulle teenstanders geswig het. Alhoewel hulle nie daarvoor beroemd is dat hulle enige blywende argitektoniese wonders of politieke instellings geskep het nie, het die Mongole die beduidende bydrae tot die wêreldkultuur gelewer dat hulle die Westerse en Oosterse wêreld uiteindelik deur middel van uitgebreide handelsroetes, diplomatieke ambassades en deur die beweging van sendelinge en reisigers van Eurasië na die Verre Ooste verbind het.

### Swerwers van die steppe

Die Mongole was landelike swerwers van die Asiatiese steppe, veewagters van skape, bokke, perde, kamele en jakke. Hierdie stamme het ooreenkomstig die seisoene getrek en in tydelike kampe van ronde vilttente of joerte (*gers*) gewoon. Die klimaat van Mongolië is dikwels ongenaakbaar en is in die warm, duursame en praktiese klere weerspieël. Vilt gemaak van skaapwol en dierepelse was die algemeenste materiaal waarvan klere gemaak is wat merkwaardig dieselfde vir sowel mans as vroue was: haklose stewels, flodderige langbroeke, ’n lang baadjiemantel (*deel*) wat saam met ’n leergordel gedra is, en ’n spitshoed met oorflappe, terwyl onderklere van katoen of sy gemaak is.

[ ![Traditional Yurts](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/11224.jpg?v=1775565366) Tradisionele joerte Michael Chu (CC BY-NC-ND) ](https://www.worldhistory.org/image/11224/traditional-yurts/ "Traditional Yurts")Die Mongoolse dieet het hoofsaaklik ’n suiwelbasis gehad, met kaas, jogurt, botter en wrongel van gedroogde melk (*kurut*) wat die hoofbestanddele gevorm het. ’n Effens alkoholiese drankie genaamd *kumis* is van perdemelk gemaak en is dikwels in oormaat gedrink. Aangesien die kuddes te kosbaar as ’n volhoubare bron van melk, wol en selfs mis vir brandstof was, is vleis tipies deur middel van jag bekom terwyl wildevrugte en -groente bekom is terwyl daar vir kos gesoek is. Om voorraad vir die winter op te gaar en vleis vir spesiale feeste soos die ongereelde stamsamekomste te voorsien, is spesiale jagtogte georganiseer. ’n Strategie bekend as die *nerge* is met hierdie jagtogte gebruik waartydens ruiters ’n geweldige groot gebied van die steppe omring en die wild – enigiets van marmotte tot wolwe – na ’n al kleiner wordende gebied gedryf het waar hulle makliker deur berede boogskutters doodgemaak kon word. Die tegnieke, organisasie en dissipline van die *nerge* het goed vir die Mongole gedeug wanneer hulle oorlog gaan maak het. Die meeste van hierdie kenmerke van die daaglikse middeleeuse lewe in die Mongoolse wêreld word vandag steeds deur steppeswerwers regoor Asië voortgesit.

Alhoewel mans gewoonlik die jagwerk in ’n swerwersbestaan gedoen het en vroue kos gemaak het, was die verdeling van arbeid nie altyd so duidelik nie en albei geslagte kon dikwels die take van die ander verrig, onder meer boogskiet en perdry. Vroue het na die diere omgesien, die kampe opgeslaan en opgepak, die stam se waens bestuur, na die kinders omgesien, kos voorberei en gaste onthaal. Vroue het nogal meer regte as in die meeste ander kontemporêre Asiatiese kulture geniet, en kon sowel eiendom besit as dit erf. In die kort tydperke tussen die bewind van een Groot Kahn en ’n ander het verskeie vroue selfs as ryksbestuurder geheers. Nog ’n gebied van die Mongoolse bestaan waarby vroue aktief betrokke was, is geloof.

### Godsdienstige oortuiginge

Die Mongole se godsdiens het geen heilige tekste of besondere seremonies behels nie maar was eerder ’n mengsel van animisme, voorouerverering en sjamanisme. Volgens hulle het gevalle van die elemente vuur, grond en water, indrukwekkende geografiese liggings soos berge en natuurlike verskynsels soos storms oor geeste beskik. Na bewering het sjamane, wat sowel mans as vroue kon wees, oor die vermoë beskik om tydens ’n beswyming met hierdie geeste te kommunikeer, in hulle wêreld rond te reis, verlore siele op te spoor, en te vertel wat in die toekoms gaan gebeur.

Ander gelowe was ook onder die Mongole teenwoordig, veral Nestoriaanse Christendom, en vanaf die 14de eeu HJ het Tibettaanse Boeddhisme (Lamaïsme) se gewildheid veld gewen, moontlik weens die sjamanistiese elemente daaraan verbonde. In die westelike khanate is Islam ook ruim omhels. Maar bowenal was daar ’n wydverspreide geloof in die twee hoofgodhede: die aard- of moedergodin bekend as Etugen (Itugen) wat vrugbaarheid verteenwoordig het, sowel as Tengri (*Gok Monggke Tenggeri*), die “Blou Lug” of “Ewige Hemel”. Laasgenoemde godheid is as beskermergod beskou en deurslaggewend was die feit dat hy volgens die elite van die stamme aan die Mongoolse volk ’n hemelse reg gegee het om oor die hele wêreld te heers. Djenghis Khan en sy opvolgers het hierdie idee tot vernietigende uitvoer gebring deur byna die ganse kontinent van Asië te verower en die grootste ryk te skep wat die wêreld tot op daardie stadium nóg gesien het.

### Stigting deur Djenghis Khan

Die Mongoolse swerwerstamme, gewoond aan ’n harde lewe, was uiters mobiel van aard en is sedert kindsbeen opgelei om perd te ry en die pyl-en-boog te skiet. Hierdie eienskappe het van hulle uitstekende krygers gemaak en hulle in staat gestel om lang en komplekse veldtogte te deurstaan, ontsaglike groot gebiede in ’n baie kort tydsbestek te dek, en op slegs die absolute minimum aantal voorrade te oorleef. Selfs die rolle van vroue en hulle kampopslaan- en vervoertake het die Mongoolse leër gehelp aangesien hulle die noodsaaklike logistieke ondersteuning vir hul krygermans verskaf het. Djenghis Khan was moontlik die eerste Mongoolse leier wat besef het dat indien die verskillende stamme en familiestamme net verenig kon word, die Mongole die wêreld kon oormeester.

Djenghis, wat in ca. 1162 HJ as Temujin gebore is, het harde kinderjare van agterlating en armoede te bowe gekom en homself as vaardige militêre bevelvoerder vir Toghril, opperhoof van die Keraït-stam gevestig. Die wel en wee van Djenghis word in *Die geheime geskiedenis van die Mongole* vertel, ’n kroniek uit die 13de eeu HJ wat ons beste primêre bron van die vroeë ryk is. Oor ’n tydperk van ongeveer 10 jaar het Djenghis vanaf 1195 tot 1205 HJ ’n leier in eie reg geraak en sy domein stadig deur middel van ’n gewetenlose mengsel van diplomasie, oorlogvoering en terreur uitgebrei; vir baie krygers was dit dikwels ’n kwessie van by die jong leier aansluit of tereggestel word. Stamme soos die Tartare (’n naam wat middeleeuse westerlinge dikwels verkeerdelik op die Mongole self toegepas het), Keraïte, Naimans en Merkiede is almal onder beheer gebring. In 1206 HJ is Djenghis uiteindelik in ’n groot samekoms van alle stamleiers – ’n *kurultai –* formeel as die Groot Khan of “universele heerser” van die Mongole erken.

[ ![Map of the Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/img/r/p/500x600/11309.png?v=1776192665) Kaart van die Mongoolse Ryk Arienne King (CC BY-NC-SA) ](https://www.worldhistory.org/image/11309/map-of-the-mongol-empire/ "Map of the Mongol Empire")Die Khan het sy ryk verder probeer verenig deur daarop aan te dring dat die Mongoolse taal wat tot dusver net gepraat is, as geskrewe taal daargestel word deur die skrif van die Uighur Turke te gebruik en deur ’n blywende regskode, die *Yasa* bekend te stel. Kommunikasie is grotendeels bevorder deur die instelling van die *Yam*, ’n netwerk skofposte wat boodskappers kon gebruik om hul voorrade aan te vul soos wat hulle oor die lengte en breedte van die ryk gery het. Die ryk het reeds ernstige afmetings begin aanneem maar dit was op die punt om aansienlik groter te raak.

### Uitbreiding: Noordelike China en Persië

Mongoolse stamleiers het tradisioneel hulle magsposisie bereik en dan gehandhaaf deur hulle oorlogsbuit onder hulle getroue volgelinge te verdeel. Djenghis was geen uitsondering nie. Die Mongoolse leër was op ’n kern van 10 000 man – die khan se persoonlike garde, die *kesikten* – gebaseer. Lede van hierdie elite het ook sleutel- administratiewe posisies regoor die ryk beklee. Bykomende troepe is deur krygsplig onder die Mongoolse stamme en kontingente van bondgenote en verowerde gebiede bekom. Die hoofaanvalswapen was die ruiters van die ligte kavallerie wat uiters bedrewe met die skiet van die kragtige Mongoolse saamgestelde boog was. Die kragtigheid en stamina van Mongoolse perde was nog ’n bate. Voeg daarby die groot getalle waarin die rydiere beskikbaar was, sodat ’n ruiter tot 16 spaarperde tot sy beskikking kon hê, en dit beteken ’n leër kon enorme afstande teen ’n vinnige spoed aflê.

Djenghis se eerste teiken nadat hy Groot Kahn geraak het, was die Jin-staat (ook bekend as die Jurchen Jin Dinastie, 1115-1234 HJ) in noordelike China. Die spoed van die Mongoolse kavallerie en die terreurtaktieke in hulle hantering van verowerde stede het vrugte afgewerp, sodat die intern verbrokkelde Jin-staat gedwing is om na die suide terug te val. Die Tangut-staat Xi Xia (ook bekend as Hsi-Hsia, 1038-1227 HJ), ook in noordelike China en ook nie in staat om Djenghis se onmeedoënde opmars oor Oos-Asië te stuit nie, was dieselfde tyd ’n teiken. Die derde teiken in hierdie tydperk was die Song Dinastie, China (ook bekend as Sung, 960-1279 HJ). Ryker en magtiger as hulle buurstate, blyk die Song taaier te gewees het, ongeag daarvan dat Djenghis baie van hulle stede verwoes het; maar ook hulle tyd sou aanbreek. Teen 1219 HJ is selfs noordelike Korea aangeval soos Djenghis die hinderlike Khitan-stamme wat daarheen gevlug het, opgespoor en agtervolg het.

[ ![Bust of Genghis Khan](https://www.worldhistory.org/img/r/p/500x600/11220.jpg?v=1777375825) Borsbeeld van Djenghis Khan Jim Garamone (Public Domain) ](https://www.worldhistory.org/image/11220/bust-of-genghis-khan/ "Bust of Genghis Khan")Blykbaar daarop ingestel om sy titel as “universele heerser” te verdien, het Djenghis sy aandag nou na westelike Asië gekeer. Vanaf 1218 HJ is die Persiese Khwarazm Ryk aangeval. ’n Mongoolse leër van 100 000 man het ieder en elk uit die pad gevee en vername stede soos Bukhara en Samarkand verower. In 1221 HJ het die Mongole noordelike Afganistan binnegevaar, in 1222 HJ is ’n Russiese leër by Kalka verslaan en toe is die Kaspiese See geheel en al omring soos die leër huiswaarts gekeer het. Die Moslems van die streek het nou ’n nuwe titel vir Djenghis gehad: die “Vervloekte Een”. Stede is tot in hul fondamente ten gronde gerig, burgerlikes is afgemaai en selfs besproeiingstelsels is vernietig. Binne minder as twee dekades is die Asiatiese wêreld op sy kop gekeer. Djenghis Khan is op 18 Augustus 1227 HJ weens ’n onbekende siekte oorlede maar sy opvolgers sou seker maak dat die Mongoolse nuwe wêreldorde die skepper daarvan lank oorleef.

### Ogedei Khan val Europa aan.

Djenghis het verorden dat sy ryk onder sy vier seuns Jochi, Chagatai (Chaghadai), Tolui (Tului) en Ogedei (Ogodei) verdeel moes word, met elkeen wat die bewind oor ’n khanaat moes voer (alhoewel Jochi in 1227 HJ voor sy vader gesterf het). Ogedei het die nuwe Groot Kahn (r. 1229-1241 HJ) en dus heerser oor al die Mongole geraak. Die verenigde ryk sou tot en met 1260 HJ hou toe die vier khanate ten volle outonoom geraak het (sien hieronder).

Ogedei Khan het die Mongoolse staatsorganisasie verder gekonsolideer deur lede van die ryksgarde en ministers as streeksgoewerneurs (*daruqachi*) aan te stel, ’n sensus te hou en ’n behoorlike belastingstelsel – teenoor die blote beslaglegging op eiendom – in te stel. In 1235 HJ is ’n hoofstad, Karakorum (Qaraqorum), in Mongolië gekies. Die *Yam*-netwerk is uitgebrei, putte langs handelsroetes is beskerm en militêre beskerming is aan reisende handelaars verleen.

Wat verowering betref, het Ogedei eenvoudig aangegaan waar sy voorganger opgehou het en met die hulp van die begaafde generaal Subutai (ook bekend as Subeétei, 1176-1248 HJ) – bekend as een van die “Vier Jaghonde” van die khan – het hy in 1230-31 HJ ’n veldtog teen die Jin onderneem. Die Jin-hoofstad Kaifeng het in 1233 HJ geval, en die veldtog van 1234 HJ het die selfmoord van die Jin-keiser Aizong (r. 1224-1234 HJ) teweeg gebring, sowel as die algehele en finale induiestorting van die Jin-staat. Gedurende hierdie tydperk het Korea ook herhaaldelik onder plundertogte gebuk gegaan.

[ ![Mongol Warrior Reconstruction](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/11223.jpg?v=1776640410) Herkonstruksie van ’n Mongoolse kryger William Cho (CC BY-SA) ](https://www.worldhistory.org/image/11223/mongol-warrior-reconstruction/ "Mongol Warrior Reconstruction")Vanaf 1235 HJ het Subutai die veldtog in Sentraal-Asië gekoördineer en stede soos Tiflis (Tbilisi) ingeneem. Vanaf 1236 tot 1242 HJ het ’n leër van 150 000 man wat in vyf divisies verdeel is deur Kazakstan/Oezbekistan opgemars om Oos-Europa in die omgewing van die Volgarivier aan te val. Tydens veelvuldige veldtogte is seges teen die Bulgare, Russe, Pole en Hongare behaal. Met hul oënskynlike verskyning vanuit die niet het die Mongoolse kavallerie as die “ruiters van die Duiwel” begin bekend staan. Groot stede soos Kiëf (1240 HJ), Krakow (1241 HJ), Boeda en Pest (1241 HJ) is almal aangeval en geplunder. Dit wil voorkom of slegs Ogedei se dood in 1241 HJ Europa van verdere invalle gered het aangesien die Mongoolse leiers noodgedwonge na Karakorum moes terugkeer om ’n nuwe khan te verkies. Die volgende twee khans was Guyuk Khan (r. 1246-1248 HJ) en Mongke Khan (r. 1251-1259 HJ) met ryksbestuurders wat tussenin geheers het, maar dit was Kublai, kleinseun van Djenghis, wat die grootste ambisie aan die dag gelê het toe hy Mongoolse verowerings na ’n heeltemal nuwe vlak verhef het.

### Kublai Khan val China en Japan aan.

Kublai Khan het vanaf 1260 tot 1294 HJ geheers maar hy het reeds daarvoor ’n indruk gemaak toe hy saam met Mongke Khan ’n veldtog teen Song China gevoer het. Kublai moes met sy jonger broer Ariq Boke (1219-1266 HJ) om die posisie van Groot Kahn meeding maar Kublai het gewen en, alhoewel die ryk nou weliswaar in vier khanate verdeel was, het hy die gerusstelling gehad dat sy deel die rykste was. Kublai het hom in elk geval beywer vir ’n titel wat veel meer invloedryk was: dié van Chinese keiser. Gevolglik is die Song weereens aangeval maar hierdie keer het Kublai hom tot belegoorlogvoering gewend en – met kennis wat in westelike Asië bekom is – van meerderwaardige katapulte gebruik gemaak. Oor die volgende 11 jaar het stad ná stad geval en met die val van die hoofstad Lin’an op 28 Maart 1276 HJ het die Song Dinastie ook tot ’n val gekom. Op 19 Maart 1279 HJ is ’n groot seeslag by Yaishan naby hedendaagse Macao gewen – nog ’n geval van suksesvolle aanpassing in Mongoolse oorlogvoering – en daarmee is die heel laaste Song-weerstand vermorsel. Kublai het verslaan wat alle steppeswerwers voor hom maar net van gedroom het: die magtige en ontsaglike keiserryk China.

In 1271 HJ het Kublai homself as heerser oor China verklaar, en sy nuwe orde, die Yuan Dinastie – wat ”oorsprong” of ”middelpunt” beteken – uitgeroep. Daidu (Beijing) is die nuwe hoofstad gemaak, met Xanadu (Shangdu) in die noordooste wat die keiser se somertoevlugsoord geraak het. Kublai het homself as net so ’n bekwame administrateur as veroweraar bewys: Hy het sy enorme staat in 12 provinsies verdeel en deur middel van voordelige belastingheffing vir handelaars, die aanmoediging van papiergeld en die verbetering van pad- en kanaalnetwerke om die vervoer van goedere te bevorder, het hy handel gestimuleer. Maar Kublai was nie tevrede nie en in 1274 en 1281 HJ het hy ’n aanval op Japan geloods. Weens stoere plaaslike weerstand en verskriklike storms wat die Japannese *kamikaze* of “hemelse wind” gedoop het, het albei aanvalle die onderspit gedelf. Nie ontmoedig nie, het Kublai aanvalle in Suidoos-Asië geloods en Viëtnam (1257, 1281, 1286 HJ), Burma (1277, 1287 HJ) en Java (1292 HJ) binnegeval, maar al hierdie inkursies het slegs gemengde resultate behaal. Dit het voorgekom of die Mongoolse Ryk sy hoogtepunt bereik het en dat daar in die 13de eeu HJ nou slegs ’n verval sou wees.

[ ![Four Khanates of the Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/img/r/p/750x750/11439.png?v=1776640387) Die vier khanate van die Mongoolse Ryk Arienne King (CC BY-NC-SA) ](https://www.worldhistory.org/image/11439/four-khanates-of-the-mongol-empire/ "Four Khanates of the Mongol Empire")### Die khanate en verval

Terwyl die groot khans hulself op die oostelike deel van die Mongoolse Ryk toegespits het, het die sentrale en westelike dele hulle met hul eie sake bemoei. Die Goue Horde, gesentreer om die westelike Eurasiese steppe, is ongeveer 1227 HJ deur Batu Khan (1255 HJ gesterf), kleinseun van Djenghis, gestig. Dit het al die ander oorleef en het amptelik in 1480 HJ tot ’n einde gekom maar reeds vanaf die middel-14de eeu HJ het die Russe en Litauers ’n oplewing in die omgewing getoon. Die Ilkhanaat, om Persië gesentreer, is ongeveer 1260 HJ deur Hulegu (1265 HJ gesterf), nog ’n kleinseun van Djenghis, gestig. Dit is konstant deur die naburige Mammeluk-sultanaat (1261-1517 HJ) in die suidooste bedreig en het in 1335 HJ weens dinastiese dispute gedisintegreer. Die Chagatai-khanaat is deur Chagatai (1183-1242 HJ), tweede seun van Djenghis, gestig en het die egste Mongoolse staat gebly waar die swerwerswortels die moeilikste geblyk het om af te skud. Ook hier het dinastiese twiste dit in 1363 HJ tot ’n val gebring.

Al drie westelike khanate sou mekaar konstant in grensdispute die stryd aansê. Uiteindelik sou elkeen Islam as die staatsgodsdiens aanneem wat op sig beurt ook ’n twisappel onder die elite sou wees. Die gebiede van die Ilkhanaat en Chagatai-khanaat is uiteindelik deur Timur (Tamerlan), stigter van die Timurid Ryk (1370-1507 HJ) oorgeneem. Selfs Yuan China het voor die al te bekende burgeroorloë tussen mededingende groepe geswig en, met ’n swak ekonomie en geteister deur hongersnood en plaaslike rebellies, kon die Ming Dinastie in 1368 HJ daarin slaag om China oor te neem. Op die ou einde het die Mongole deel van die gesete samelewings geword wat hulle so maklik verower het sodat hulle net so vatbaar soos enige ander staat vir oorname geraak het deur diegene wat gewillig was om nuwe idees en tegnologie te omhels.

### Die Mongoolse nalatenskap

Die Mongole het nou nie juis enige kurator van ’n moderne museum hoofbrekens met hulle kunswerke besorg, of aanskoulike geboue agtergelaat nie maar hulle het wel op ander maniere vir ’n blywende nalatenskap gesorg. Hulle grootste invloed op die wêreldkultuur was moontlik om die eerste ernstige verbindings tussen die Ooste en die Weste te bewerkstellig. Die Mongoolse Ryk het oor een vyfde van die aardbol gestrek en hulle soldate is genoop om Teutoonse ridders aan die een punt die stryd aan te sê terwyl hulle aan die ander punt teen samoerai-krygers te staan gekom het, met nie een van die twee vyande wat die vaagste benul van die ander se bestaan gehad het nie. Tot dusver het die Chinese en die Europeërs mekaar se lande as ’n semi-mitiese plek vol monsters beskou. Soos ambassadeurs, sendelinge, handelaars en reisigers soos Marco Polo (1254-1324 HJ) aangemoedig is om vrylik oor die lengte en breedte van Asië te reis, het kontak toegeneem, en is idees en gelowe versprei. Buskruit, papier, drukwerk en die kompas het alles in Europa bekend geraak. Die Mongole het ook hulle kookkunsidees versprei, soos hulle *sulen* (*shulen*)-kragsopbredie wat tot vandag toe nog ’n gewilde gereg in die hele Asië is. Helaas, daar was ook minder voordelige gevolge, byvoorbeeld die Swart Dood (1347-1352 HJ) wat vanuit ’n afgeleë hoekie in China na die Swartsee en van daar na Venesië en die res van Europa versprei het. Maar in Mongolië word die era minsaam as ’n goue tydperk onthou en Djenghis Khan, wat dit alles begin het, word in die Mongoolse hoofstad Ulaanbatar steeds met gereelde seremonies vereer.

#### Editorial Review

This human-authored definition has been reviewed by our editorial team before publication to ensure accuracy, reliability and adherence to academic standards in accordance with our [editorial policy](https://www.worldhistory.org/static/editorial-policy/).

## Bibliografie

- [Broadbridge, A.F. *Women and the Making of the Mongol Empire.* Cambridge University Press, 2018.](https://www.worldhistory.org/books/1108441009/)
- [Buell, P.D. *Historical Dictionary of the Mongol World Empire.* Rowman & Littlefield Publishers, 2018.](https://www.worldhistory.org/books/1538111365/)
- [Ebrey, P.B. *Pre-Modern East Asia.* Cengage Learning, 2013.](https://www.worldhistory.org/books/1133606512/)
- [Lane, G. *Daily Life in the Mongol Empire.* Hackett Publishing Company, Inc., 2009.](https://www.worldhistory.org/books/0872209687/)
- [May, T. *The Mongol Empire.* Edinburgh University Press, 2018.](https://www.worldhistory.org/books/0748642366/)
- [Morgan, D. *The Mongols by David Morgan.* Wiley-Blackwell, 2019.](https://www.worldhistory.org/books/B01FGL17HW/)
- [Rossabi, M. *A History of China.* Wiley-Blackwell, 2013.](https://www.worldhistory.org/books/1577181131/)
- [Saunders, J.J. *The History of the Mongol Conquests.* University of Pennsylvania Press, 2001.](https://www.worldhistory.org/books/0812217667/)
- [Turnbull, S. *Genghis Khan & the Mongol Conquests 1190-1400.* Osprey Publishing, 2003.](https://www.worldhistory.org/books/1841765236/)
- [Turnbull, S. *Mongol Warrior 1200-1350.* Osprey Publishing, 2003.](https://www.worldhistory.org/books/184176583X/)
- [Turnbull, S. *The Mongols.* Osprey Publishing, 1980.](https://www.worldhistory.org/books/0850453720/)

## Oor die Skrywer

Mark is ’n geskiedskrywer wat in Italië gevestig is. Sy spesiale belangstellings sluit pottebakkerskuns, argitektuur en wêreldmitologie in, sowel as die ontdek van gemeenskaplike idees wat alle beskawings deel. Hy het ’n meestersgraad in Politieke Filosofie en is die Uitgewersdirekteur by WHE.

## Tydlyn

- **c. 1162 CE - 1227 CE**: Life of [Genghis Khan](https://www.worldhistory.org/Genghis_Khan/), founder of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1205 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the [Jurchen Jin state](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/) in northern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1205 CE - 1255 CE**: Life of the [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) military commander and grandson of [Genghis Khan](https://www.worldhistory.org/Genghis_Khan/), [Batu Khan](https://www.worldhistory.org/Batu_Khan/).
- **1206 CE**: A great [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) conference of tribal leaders (khuriltai) awards Temujin the title of [Genghis Khan](https://www.worldhistory.org/Genghis_Khan/) ('universal ruler').
- **1206 CE - 1227 CE**: Reign of [Genghis Khan](https://www.worldhistory.org/Genghis_Khan/) as the ruler of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1206 CE - 1368 CE**: The [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) rules in Central and East Asia.
- **1209 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the [Jurchen Jin state](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/) in northern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1209 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the Tangut state of Xi Xia.
- **1209 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the [Jurchen Jin state](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/) in northern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1211 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the [Jurchen Jin state](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/) in northern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1212 CE - 1215 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack Song [China](https://www.worldhistory.org/china/), sacking over 90 [cities](https://www.worldhistory.org/city/).
- **1214 CE**: The [Jurchen Jin state](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/) signs a short-lived peace treaty with the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) and is obliged to pay tribute.
- **1215 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the Tangut state of Xi Xia.
- **1215 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) sack Beijing.
- **1215 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the [Jurchen Jin state](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/) in northern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1218 CE - 1220 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the Khwarazm [Empire](https://www.worldhistory.org/empire/) in Central Asia.
- **1219 CE**: A [Goryeo](https://www.worldhistory.org/Goryeo/) army allies with the [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) to attack the [Khitan](https://www.worldhistory.org/Khitan/) in northern [Korea](https://www.worldhistory.org/Korea/).
- **1221 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack northern Afghanistan.
- **1223 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) defeat an army of the [Kievan Rus](https://www.worldhistory.org/Kievan_Rus/) at Kalka.
- **c. 1227 CE - 1242 CE**: Reign of Chagatai Khan, ruler of the [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) [Chagatai Khanate](https://www.worldhistory.org/Chagatai_Khanate/) named after him.
- **c. 1227 CE - 1363 CE**: The [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) [Chagatai Khanate](https://www.worldhistory.org/Chagatai_Khanate/) rules in Central Asia.
- **18 Aug 1227 CE**: [Death](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Death/) of [Genghis Khan](https://www.worldhistory.org/Genghis_Khan/) from illness.
- **1228 CE - 1240 CE**: Composition of [the Secret History of the Mongols](https://www.worldhistory.org/The_Secret_History_of_the_Mongols/).
- **1229 CE - 1241 CE**: Reign of [Ogedei Khan](https://www.worldhistory.org/Ogedei_Khan/) as the ruler of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1230 CE - 1231 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack the [Jurchen Jin State](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/).
- **1231 CE - 1232 CE**: [Ogedei Khan](https://www.worldhistory.org/Ogedei_Khan/) leads a [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) invasion into [Korea](https://www.worldhistory.org/Korea/).
- **1233 CE**: Kaifeng, capital of the [Jurchen Jin State](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/), falls after a lengthy siege by the [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1234 CE - 1236 CE**: [Ogedei Khan](https://www.worldhistory.org/Ogedei_Khan/) orders a census to be conducted for tax purposes across northern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **Feb 1234 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attack and [conquer](https://www.worldhistory.org/warfare/) the [Jurchen Jin State](https://www.worldhistory.org/Jurchen_Jin_Dynasty/) in northern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1235 CE**: [Ogedei Khan](https://www.worldhistory.org/Ogedei_Khan/) orders the construction of a new capital of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) at [Karakorum](https://www.worldhistory.org/Karakorum/), Mongolia.
- **1235 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) invade northern Iraq and western Asia
- **1235 CE - 1263 CE**: [Karakorum](https://www.worldhistory.org/Karakorum/) is capital of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1236 CE - 1242 CE**: Multiple [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) armies attack western Asia, Russia, Poland, and Hungary.
- **21 Dec 1237 CE**: The [city](https://www.worldhistory.org/city/) of Ryazan (Riazan) is besieged and captured by the [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1238 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) invade Azerbaijan, Georgia, and [Armenia](https://www.worldhistory.org/armenia/).
- **7 Feb 1238 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) capture the [city](https://www.worldhistory.org/city/) of Vladimir.
- **23 Mar 1238 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) capture the [city](https://www.worldhistory.org/city/) of Torshok.
- **1240 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) sack Halych.
- **6 Dec 1240 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) capture Kiev.
- **9 Apr 1241 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) defeat an army led by Henry the Pious, the Duke of Silesia, near Liegnitz (Legnica).
- **10 Apr 1241 CE - 11 Apr 1241 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) defeat an army led by Bela IV, king of Hungary, at the [Battle](https://www.worldhistory.org/disambiguation/battle/) of Mohi.
- **Dec 1241 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) capture Buda and Pest.
- **Dec 1241 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) capture the great [city](https://www.worldhistory.org/city/) of Gran (Esztergom) in Hungary.
- **11 Dec 1241 CE**: [Ogedei Khan](https://www.worldhistory.org/Ogedei_Khan/), ruler of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/), dies at the capital [Karakorum](https://www.worldhistory.org/Karakorum/).
- **1242 CE**: [Death](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Death/) of Chagatai, ruler of the [Chagatai Khanate](https://www.worldhistory.org/Chagatai_Khanate/).
- **1246 CE - 1248 CE**: Reign of Guyuk Khan as ruler of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1251 CE**: [Batu Khan](https://www.worldhistory.org/Batu_Khan/) and the Jochid-Toluid kurultai declare Mongke Great Khan of the [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1251 CE - 1259 CE**: Reign of [Mongke Khan](https://www.worldhistory.org/Mongke_Khan/), ruler of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1253 CE - 1255 CE**: The Franciscan missionary and chronicler William of Rubruck visits the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/), including the capital [Karakorum](https://www.worldhistory.org/Karakorum/).
- **1253 CE - 1260 CE**: A [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) army led by Hulegu invades [Persia](https://www.worldhistory.org/Persia/) and the Middle East.
- **1256 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) defeat the Ismailis (aka [the Assassins](https://www.worldhistory.org/The_Assassins/)) in [Persia](https://www.worldhistory.org/Persia/).
- **1257 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) invade Vietnam.
- **1257 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) [conquer](https://www.worldhistory.org/warfare/) the Dali kingdom in southern [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1258 CE**: An uprising restores the monarchy in [Korea](https://www.worldhistory.org/Korea/) and makes peace with the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1258 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) [conquer](https://www.worldhistory.org/warfare/) the [Abbasid Caliphate](https://www.worldhistory.org/Abbasid_Dynasty/). During this campaign there is the infamous sacking of Baghdad and murder of the caliph.
- **11 Aug 1259 CE**: [Death](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Death/) of [Mongke Khan](https://www.worldhistory.org/Mongke_Khan/), ruler of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **Dec 1259 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) besiege and capture Aleppo in [Syria](https://www.worldhistory.org/syria/).
- **1260 CE - 1264 CE**: [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/Kublai_Khan/) fights a civil [war](https://www.worldhistory.org/disambiguation/War/) with his brother Ariq Boke for control of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1260 CE - 1265 CE**: Hulegu rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1260 CE - 1294 CE**: Reign of [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/Kublai_Khan/), ruler of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1260 CE - 1335 CE**: The [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) rules in Iran and neighbouring territories.
- **1262 CE**: [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/Kublai_Khan/) captures [Karakorum](https://www.worldhistory.org/Karakorum/) after his rival nAriq Boke (1219-1266 CE) used it as his base.
- **1263 CE - 1273 CE**: [Xanadu](https://www.worldhistory.org/Xanadu/) is the capital of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1265 CE - 1282 CE**: Abaqa rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1268 CE**: [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/Kublai_Khan/) resumes the [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) attacks on [Song Dynasty](https://www.worldhistory.org/Song_Dynasty/) [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1270 CE**: Abaqa, ruler of the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/), defeats Baraq, ruler of the [Chagatai Khanate](https://www.worldhistory.org/Chagatai_Khanate/), at the [battle](https://www.worldhistory.org/disambiguation/battle/) of Herat.
- **1270 CE**: Part of northern [Korea](https://www.worldhistory.org/Korea/) is conquered by the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1271 CE**: The [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) signs a [trade](https://www.worldhistory.org/disambiguation/trade/) agreement with Venice.
- **1271 CE - 1368 CE**: The [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) [Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/), founded by [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/Kublai_Khan/), rules [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **1272 CE - 1301 CE**: The [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) leader Qaidu II dominates Central Asia and nominates khans to rule the [Chagatai Khanate](https://www.worldhistory.org/Chagatai_Khanate/).
- **1273 CE**: Abaqa, ruler of the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/), sacks the [city](https://www.worldhistory.org/city/) of Bukhara in the [Chagatai Khanate](https://www.worldhistory.org/Chagatai_Khanate/).
- **1273 CE**: Xiangyang falls into [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) hands.
- **1274 CE - 1364 CE**: [Xanadu](https://www.worldhistory.org/Xanadu/) is the summer capital of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/).
- **1275 CE - 1279 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) led by [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/Kublai_Khan/) attack and [conquer](https://www.worldhistory.org/warfare/) the last remnants of Song [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **c. 1275 CE - 1292 CE**: [Marco Polo](https://www.worldhistory.org/Marco_Polo/) serves [Kublai Khan](https://www.worldhistory.org/Kublai_Khan/) in [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) [Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/) [China](https://www.worldhistory.org/china/).
- **28 Mar 1276 CE**: Lin'an, the capital of the [Song Dynasty](https://www.worldhistory.org/Song_Dynasty/), is captured by a [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) army.
- **1277 CE**: The [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) defeats a Mamluk army in Lesser [Armenia](https://www.worldhistory.org/armenia/).
- **1277 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/)/[Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/) invade Burma.
- **19 Mar 1279 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/) complete their [conquest](https://www.worldhistory.org/warfare/) of [Song Dynasty](https://www.worldhistory.org/Song_Dynasty/) [China](https://www.worldhistory.org/china/) with victory at the naval [battle](https://www.worldhistory.org/disambiguation/battle/) at Yaishan.
- **1281 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/)/[Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/) [China](https://www.worldhistory.org/china/) invade Vietnam for a second time.
- **1282 CE - 1284 CE**: Ahmad Teguder rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1284 CE - 1291 CE**: Arghun rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1286 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/)/[Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/) [China](https://www.worldhistory.org/china/) re-invade Vietnam.
- **1287 CE**: The [Mongols](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/)/[Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/) [China](https://www.worldhistory.org/china/) re-invade Burma.
- **Dec 1288 CE**: The [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) agrees a [trade](https://www.worldhistory.org/disambiguation/trade/) deal with Genoa.
- **1291 CE - 1295 CE**: Gaikhatu rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1292 CE**: A [Mongol](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/)/[Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/) naval force attacks Java.
- **1295 CE**: Baidu rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1295 CE**: Ghazan, ruler of the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/), converts to [Islam](https://www.worldhistory.org/islam/).
- **1295 CE - 1304 CE**: Ghazan rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **Nov 1299 CE**: The [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) briefly captures Mamluk-controlled Aleppo and Damascus.
- **1303 CE**: The Mamluks defeat an [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) army in [Syria](https://www.worldhistory.org/syria/) at Marj al-Suffar.
- **1304 CE - 1316 CE**: Oljeitu rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1316 CE - 1335 CE**: [Abu](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Abu/) Said rules the [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/).
- **1322 CE**: The [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) and Mamluk Sultanate sign a peace treaty.
- **1335 CE**: The [Ilkhanate](https://www.worldhistory.org/Ilkhanate/) disintegrates into smaller states following dynastic disputes.
- **1347 CE - 1363 CE**: Tughlugh [Timur](https://www.worldhistory.org/Timur/) rules as the last Khan of the [Chagatai Khanate](https://www.worldhistory.org/Chagatai_Khanate/). Upon his [death](https://www.worldhistory.org/disambiguation/Death/), the state disintegrates.
- **1370 CE**: The last [Yuan Dynasty](https://www.worldhistory.org/Yuan_Dynasty/) emperor, Toghon Temur (r. 1333-1368 CE), dies at [Karakorum](https://www.worldhistory.org/Karakorum/).
- **1430 CE**: The [city](https://www.worldhistory.org/city/) of [Xanadu](https://www.worldhistory.org/Xanadu/), once the capital of the [Mongol Empire](https://www.worldhistory.org/Mongol_Empire/), is definitively abandoned.

## Eksterne skakels

- [The Legacy of Genghis Khan | Essay | The Metropolitan Museum of Art | Heilbrunn Timeline of Art History](https://www.metmuseum.org/toah/hd/khan1/hd_khan1.htm)
- [Genghis Khan and the Mongol Empire (video) | Khan Academy](https://www.khanacademy.org/humanities/world-history/medieval-times/the-mongols/v/genghis-khan-and-the-mongol-empire)

## Siteer hierdie werk

### APA
Cartwright, M. (2021, May 05). Die Mongoolse Ryk. (E. Naudé, Vertaler). *World History Encyclopedia*. <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17448/die-mongoolse-ryk/>
### Chicago
Cartwright, Mark. "Die Mongoolse Ryk." Vertaal deur Eduan Naudé. *World History Encyclopedia*, May 05, 2021. <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17448/die-mongoolse-ryk/>.
### MLA
Cartwright, Mark. "Die Mongoolse Ryk." Vertaal deur Eduan Naudé. *World History Encyclopedia*, 05 May 2021, <https://www.worldhistory.org/trans/af/1-17448/die-mongoolse-ryk/>.

## Lisensie en Auteursreg

Ingedien deur [Eduan Naudé](https://www.worldhistory.org/user/eduanhnaude/ "User Page: Eduan Naudé"), gepubliseer op 05 May 2021. Kontroleer asseblief die oorspronklike bron(ne) vir kopiereg-inligting. Let asseblief daarop dat die inhoud met skakels vanaf hierdie bladsy moontlik verskillende lisensiebepalings kan hê.

